Die Weg, die Waarheid en die Lewe
Eugene du Randt
Jesus kom wys nie net vir ons die weg nie, Hy ís die Weg ... en soveel meer beloftes van Wie Hy vir ons is!
Dag 1: Hoe is jou hart?
“Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My” – Jesus Christus (Joh.14:1).
Jesus verduidelik aan sy dissipels dat hulle harte nie moet seer en ongelukkig wees omdat Hy weggaan nie, want dit is vir ’n goeie rede en vir die regte rede dat Hy weggaan. Hulle verstaan nie wat Hy bedoel nie.
Selfs al verstaan ons nie hoekom dinge gebeur soos dit gebeur nie, moet ons kyk na wat in ons harte aangaan. Dit wat in jou hart aangaan het ’n baie groot impak op hoe jy lewe. Dit bepaal jou woorde en, of jy dit besef of nie, bepaal dit jou aksies. Dit is daarom so belangrik om jou hart te belyn met die Here. Jy dink dinge gebeur maar net en loop maar net ’n koers, maar daar is dinge in jou hart wat die keuses bepaal wat jy uitoefen. Daarvoor kan God nie blameer word nie.
“Wees versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe” (Spr.4:23).
Lees:
Mediteer:
- Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand en jou naaste soos jouself. (Luk. 10:27)
- Kan jy sê jy dien die Here, maar jou hart is eintlik vol ander dinge? (1Joh. 5:21)
- Dit waaraan jy jou hart oorgee, sal uitvloei in jou woorde en in jou dade. Dit beïnvloed jou hele lewe! (Spr.4:23)
Bid:
Here, ek wil my hele hart, siel en liggaam aan U oorgee en U liefhê soos U liefgehê moet word. Dankie, dat U my eerste liefhet en dat ek u liefde net terug kan uitleef na U en almal om my. Ek wil ’n rein hart voor U hê Here. Dankie, dat U besig is om my te suiwer. In Jesus se Naam. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Ek kies Jesus met my hele hart!
Aanbidding:
What a Beautiful Name – Hillsong Worship
Dag 2: Een manier om God te behaag
Ons kan nie die Here behaag deur ons werke nie. Dit help nie ons gooi geld of goeie werke na ander toe om beter Christene te wees nie. Dit behaag God nie. God soek jou hart, Hy soek jou geloof in Hom, in sy Seun! Hy het sy Seun gegee sodat ons die weg, die waarheid en die lewe kan hê!
“Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My” – Jesus Christus (Joh.14:1).
Jesus vra die vraag of Hy nog geloof op aarde sal vind wanneer Hy terugkom (Luk.18:8). Paulus sê dat ons onsself moet ondersoek om te kyk of ons nog in die geloof lewe (2Kor.13:5).
Dink na oor dit wat jy glo. As jy onseker is oor wat jy glo, kyk na jou denke en kyk na jou askies. “For as he thinks in his heart, so is he [in behavior—one who manipulates]” (Prov. 23:7). Jou geloof word geken aan jou denke en jou aksies. Wat sê jou aksies van dit wat jy glo? Wat verklap jou woorde?
Lees:
Mediteer:
- Glo ek werklik in God die Vader, Jesus Christus en die Heilige Gees? Waaroor is ek onseker?
- Geloof kom deur die verkondiging van die Woord (of die aanhoor van die Woord van God). Maak die Woord vas in jou hart, praat die Woord, laat dit oor jou lippe kom, sodat jou ore die Woord kan hoor en jy tot geloof kan kom en jou gesin en familie, jou geliefdes tot geloof kan kom!
- Een van die belangrikste dinge wat jy met jou lewe kan doen, is om iemand na Jesus toe te lei. Jy hoef net jou mond oop te maak en te sê wat die Here in jou eie lewe kom doen het. Sodoende bring dit geloof vir die persoon wat jou getuienis hoor en baan dit die weg sodat hulle ook tot inkeer kan kom.
- Geloof kom deur Jesus: Hand.3:16
Bid:
Jesus, ek glo dat U die Seun van God is en dat U vir my sondes gesterf het sodat ek versoen kan wees met God. Dankie, Jesus. Ek ontvang U as Woord nou en glo dat dit waar is vir my en vir ander. Dankie, vir hierdie groot geskenk dat ek nou kan weet dat ek die ewige lewe het, op grond van dit wat U afgehandel het aan die kruis en in die graf. U het opgestaan uit die dood en U lewe. U leef! Halleluja! Nou kan ek ook in oorwinning in oorvloed saam met U lewe. Dankie, Jesus! Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?” “Ja, Here,” sê sy vir Hom, “ek glo vas dat U die Christus is, die Seun van God, die Een wat na die wêreld toe moes kom.”
Aanbidding:
I Believe – Jonathan David Helser, Melissa Helser
Dag 3: Die Weg
Wonder jy of jy hemel toe gaan? Beleef jy onsekerheid hieroor? Hoe kan jy seker wees?
Jesus antwoord hom: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh.14:14).
Net soos ons ’n padkaart en of ’n GPS gebruik om ’n sekere eindbestemming te bereik, stel Jesus Homself voor as die weg, die regte roete, die énigste opsie. Deur hierdie skrif en die feit dat God sy Woord hoog ag het ons sekerheid dat as ons in Jesus glo, Hom ken, Hom volg, Hom vertrou, op sy pad (uitgewerkte roete) wandel, ons nie hoef bekommerd te wees oor die eindbestemming nie. Hy is die enigste roete na die ewigheid toe. Ons kan vrede en sekerheid hê hieroor.
Hierdie roete is nie noodwendig maklik en gesaai met net lekker dinge nie, maar daar is kosbare hemelse skatte op hierdie roete wat ons vir niks op aarde wil verruil nie. Alhoewel daar onsekerhede is, plaas ons al ons vertroue in die Here en weet dat Hy op hierdie roete in al ons behoeftes voorsien.
Saam met die sekerheid oor die ewigheid het Jesus ons ook aan hemelse realiteite kom voorstel. Hy het vir ons gewys dat ons nie net hoef te wag vir eendag nie, maar dat ons nou alreeds van hierdie hemelse realiteite kan beleef. Hy het gewys hoe ons die waarhede van God se Koninkryk en heerskappy kan uitleef. Alles wat Jesus doen, is wat Hy die Vader sien doen (Joh. 5:19). Alles wat Hy gedoen het, was in Vader se Wil.
As jy Vader wil leer ken en verstaan, leer ken Jesus (Joh.14:7) deur sy Woord en laat toe dat hierdie Woord (Logos), Openbaring (Rhema) word in jou lewe.
Die Here wil hê dat ons vandag moet lewe, vandag sy Teenwoordigheid ervaar, sy stem hoor, in 'n verhouding met Hom staan en sy Pad en Weg uitleef!
Lees:
Mediteer:
- Hoe weet ek of ek Jesus het?
- Glo in Hom. Bely dat Hy God se Seun is wat vir jou gesterf het en dat jy jouself nie kan red nie, maar dat Hy jou gered het deur sy kruisiging en ook deur op te staan uit die dood!
- Jesus sê: “Hallo! Kyk na Mý!”.
- Jesus verduidelik:
- Ek is die Weg.
- Jou eindbestemming is verseker omdat Ek die Weg is.
- Ek is in die Vader en die Vader in My.
- Jy het die Vader gesien omdat jy My sien en ken.
- Glo al is dit net oor die werke wat Ek doen.
Bid:
Jesus, U is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad. Dankie dat U Uself aan my openbaar, sodat ek U kan ken en nou alreeds u Koninkryk op aarde kan beleef en uitleef soos U voorbeeld vir my wys, deur getuienisse. Ek loof en prys u Naam Jesus. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Jesus is my Enigste Weg om vir altyd in vrede te leef!
Aanbidding:
Take You At Your Word – Cody Carnes, Benjamin William Hastings
Dag 4: Die Waarheid
Ons is dikwels bang vir die waarheid en wil wegkruip daarvoor. Dit is nie maklik om die waarheid te erken nie, veral as dit sleg op jouself reflekteer. Dit is sleg om jou sonde te erken. Dink bietjie aan jou verkeerde dade as kind. Het dit nie soos ’n swaar las om jou skouers gehang, sodat jy gevoel het of jy wil wegkruip of weghardloop daarvan nie?
Terwyl die verkeerdhede verborge bly en nie aan die lig kom nie, dra jy swaar daaraan. Die las word groter en groter soos wat tyd aanstap en jy probeer vergeet, maar die skuldgevoel bly knaag. Die oomblik wat dit aan die lig kom, is dit so bevrydend. Jy voel verlig. Die waarheid is uit, jy kan asem haal!
Het jy al ooit verkeerd gedoen en die waarheid het uitgekom, maar jy het nie die regverdige straf daarvoor ontvang nie? Het jy al skotvry daarvan afgekom? Dit is amper te goed om waar te wees! Dit is wat Jesus kom doen het vir ons!
Jesus dra nie net ons skuld aan die kruis sodat ons nie daarvoor hoef te betaal nie, maar hy stel sonde aan die kaak. Hy bring dit aan die lig, sodat ons in vryheid kan leef! Dit is waarom Jak. 5:16 só belangrik is. Daar kom vryheid wanneer ons ons sonde bely, want dan verloor die sonde sy houvas en krag. Belydenis bring bevryding.
Kyk maar na Dawid se voorbeeld. Hy het baie dinge verkeerd gedoen. Hy het saam met sy best man se vrou geslaap en hierdie vriend toe laat doodmaak, oor sy eie skuldgevoel en sonde! Daarna het hy opreg berou gehad en teruggedraai na God. Hierdie bekering en ook die vertroue wat hy weer in God geplaas het, het sy lewe gered.
Wanneer God na ons kyk, sien Hy nie ons foute en sonde nie. Hy kyk of ons Jesus kies. Jesus is die waarheid vir ons lewe. Wat Jesus sê is die hoogste gesag en tel die meeste gewig. Hy is Waarheid Self. In Jesus is daar geen valsheid en geen skaduwee nie. Daar is geen onsekerheid nie.
Ons is so veilig in Hom, want in Hom is daar sekerheid. Hy is seker oor hoe Hy voel. Hy is seker oor hoe Hy oor óns voel! Hy is uitgesorteer in sy gedagtes oor ons! Ons beleef dikwels soveel onsekerhede in ons verhoudinge met mekaar en besef nie dat ons, as gevolg hiervan, onsekerheid ervaar in ons verhouding met die Here nie. God weet hoe Hy oor ons voel. Hy jubel en juig oor ons (Sef. 3:17)!
Maak hierdie waarheid nie ook jou hart só bly en lig nie?
Lees:
Mediteer:
- Jesus het nie net waarheid kom deel nie, Hy is die Waarheid. Dit is waar jy kan sê in Joh. 8:32 dat die Waarheid wat jy ken nie ’n wat is nie ... Maar die Waarheid is ’n wie! Dit is Jesus self!
- Daar is niks vals in Hom nie
- Daar is niks misleidend in Hom nie
- Daar is niks onseker in Hom nie
- He is the truth – the only measure of righteousness, not self-righteousness. Baie keer wil ons ons eie goed self uitsorteer, met self-pogings en self-redding. Maar, die Here kom en red ons as ons ons eie pogings neerlê en glo in die Redder. Hy kyk na ons en sien ons nie as sondig nie. Hy het ’n duur prys vir ons betaal. Sy eie lewe. Vader kyk na ons en sien Jesus.
- Halwe waarhede is maar so goed soos ’n leuen.
- “Daar staan niks tussen my en die Here nie, daarom slaap ek lekker”- Tannie Krista
- Hoe wys my denke en dade dat Jesus waarheid is?
- Begin ander seën met die waarheid van die Here. Begin oor hulle spreek.
Bid:
Jesus, U is die waarheid en in U is daar geen valsheid nie. Dankie, dat U deurlopend en deur u Gees vir my u waarhede leer en openbaar sodat ek ’n lewe in oorvloed kan leef. Help my asseblief waar daar nog onwaarhede in my lewe, my gedagtes en hart skuil en bring dit aan die lig, sodat ek waarlik vry kan wees. In Jesus se Naam vra ek dit. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Ek ken die waarheid, want ek is deur die Heilige Gees gesalf en erken dat Jesus werklik die Christus is! (1 Joh. 2:20,22)
Aanbidding:

Dag 5: Die Lewe
Jesus het vir hom gesê: “Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie” (Joh.14:6).
God het sy asem in die mens geblaas. Ons is geestelike wesens. Ons is liggaam, siel en gees en na God se Beeld geskape.
Ons almal het egter nog nie God se Gees ontvang nie, want die Woord is duidelik hieroor!
Die brood wat God gee, is Hý wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee (Joh. 6:33). “Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe” (51). “Dit verseker Ek julle: As julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie die lewe in julle nie” (53). “Dit is die Gees wat iemand lewend maak; die mens self kan dit nie doen nie. Wat Ek vir julle gesê het, kom van die Gees en gee lewe” (63).
Jesus verduidelik dat ons slegs deur Hóm kan lewe. Dit is net dié wat Jesus Christus aangeneem het wat die reg het om kinders van God genoem te word. Dit is net dié wat Jesus Christus aangeneem het wat God se Gees ontvang en nuwe skepsels word (Rom. 8:10). Dit is slegs Jesus wat lewe gee!
Die oomblik wat jy jou hart vir die Here gee, begin jou ewige lewe. Hierdie lewe begin nou reeds, dit is nie net eendag vêr van nou af nie. Dit is nou nie meer ek wat lewe nie, maar Hy (Gal.2:20), deur Hom lewe ek, beweeg ek, bestaan ek ‘ek stam van Hom af’ (Han.17:28). Selfs om te lewe is Christus en om te sterwe, is vir my wins (Fil.1:21), want dan wen ek in Christus en leef in die ewigheid saam met Hom.
Hy het my geroep om saam met Hom in ’n eenheid (fellowship) met Hom te wees. Hy is nie meer vêr van my af nie (Joh.14:15-16). Deur Jesus Christus het ek God se Gees ontvang, daarom leef ek nou in 'n verhouding met God en openbaar Hy Homself aan my (1Joh.5:20).
Lees:
Mediteer:
- Wys my denke en aksies dat ek werklik glo dat Jesus die Weg, die Waarheid en die Lewe is?
- Wat beteken dit dat om te lewe is Christus en om te sterwe is vir my wins? Is dit my oortuiging wat ek daagliks uitleef?
- Jesus gee vir ons oorvloedige lewe (Joh.10:10).
- Jesus gee vir ons wat ons self nie kon verdien nie.
- As lewe het ons ’n dubbele belofte en seën. Ons kan elke dag lewe in Hom en ons het ’n ewige lewe. Wanneer die dood kom, is dit nie ’n finale einde nie, maar net ’n aflê van die liggaam.
- Omdat Jesus lewe gee, kan ek vandag sê:
- Here, ek draai my rug op afdraaipaaie en kortpaaie (shortcuts) - die pad wat die mens kies. Ek kies Jesus as my Weg.
- Here, ek kom weg van opinies, menslike idees, valsheid en leuens en ek kies Jesus as Waarheid, sy Woord, sy Lewende Woord.
- Here, ek kom weg van enigiets wat met dood te doen het en ek kies woorde, gedagtes, optrede en ’n leefstyl gedryf deur Jesus se Lewe.
- Not my way, God’s Way
- Not my opinions, God’s Truth
- Not my effort, God’s Life
- Jesus is die lewe binne my (2Kor.12:9-10).
Bid:
Here Jesus, U het vir my gesterf sodat ek kan lewe. Dankie, vir u Gees wat lewe gee, lewendmakend Gees! Ek loof U vir u lewe in en deur my en dat ek kan fokus op U as die weg, U as die waarheid en op U as lewe. Amen!
Bonus: Spreek Lewe!
Ek glo in Jesus en daarom lewe ek, van nou af, vir altyd (1 Joh 5:11-12; Joh.11:25)!
Aanbidding: