Go Deep 12 Februarie 2023

Wat as jy geweet het?

Neville Goodchild

Dag 1: Weet jy Jesus is die antwoord?

Jesus ontmoet die Samaritaanse vrou by die put buite die dorpie Sigar. Dit is 'n ongewone tyd van die dag om water by die put te kom skep, want dit is op die hitte van die dag. Die Samaritaanse vrou kom skep water wanneer daar niemand by die put is nie, want sy is nie lus om ander mense se afkeur en oordeel oor haar lewe en keuses, raak te loop nie. Dit maak seer om te hoor wat hulle sê en om die kyke in hulle oë te sien.  Sy hou haar besig met haar daaglikse roetine.

Jesus weet dat hiedie vrou vasgevang is in 'n herhalende siklus van gebrokenheid. Daar is gebroke verhoudings. Daar is 'n swak reputasie. Daar is kulturele en sosiale klasse. Daar is verwerping en isolasie. Daar is minderwaardigheid. Die vrou aanvaar dit as haar lot en al soek sy 'n verandering. Sy soek genesing en herstel, maar sy het geen idee hoe en waar nie. Jesus is die antwoord. Hy staan voor haar, maar sy herken nie die gawe, die geskenk, die uitkoms en die redding wat voor haar staan nie.

“Jesus antwoord en sê vir haar: As jy die gawe van God geken het en geweet het wie Hy is wat vir jou sê:’Gee vir my water om te drink, sou jy Hom gevra het en Hy sou vir jou die lewende water gegee het.” Joh.4:10 Afr. 53.

Jesus kom en ontmoet ons daar op die plek van ons herhaalde siklus van gebrokenheid, waarin ons partykeer so vasgevang is. Ons bly vashou aan ons manier van dinge hanteer en ons oplossings. Ons sien nie die lig nie. Jesus het gekom juis om ons te red. Wanneer ons besef dat Jesus die antwoord is, sal ons op die regte plek begin soek na uitkoms en antwoorde.

Lees:

Joh. 4:10-14

Mediteer:

  • Raak vir 'n oomblik stil, sluit jou oë en dink aan jou gebrokenheid.
  • Daar is dalk baie dinge in jou verlede waarvan jy verlos is en waaroor jy baie dankbaar is. Dink aan al daardie dinge en dank Vader vir jou verlossing of oorwinning.
  • Dink ook na oor die moontlikheid van 1 of 2 sake of bindings of gewoontes of sondes waarmee jy nou al vir 10, 20, 30 jaar of langer sukkel om te oorwin. Is daar so iets?
  • Dink aan al die pogings wat jy al aangewend het van jou kant af om los te kom, maar dit bly 'n herhalende siklus van mislukking en skaamte en weer probeer.
  • Hou jou oë toe en sien voor jou Jesus, soos daardie vrou by die put Jesus voor haar gesien staan het. Praat nog 'n keer met Jesus oor daardie ding.
  • Besef weer vandag dat dit steeds net Jesus is wat die antwoord het op daardie probleem.
  • Vra Jesus om weer die gawe wat Hy in sy hand het aan jou te openbaar. Vra Hom weer vir daardie lewende water, om die pad na oorwinning te wys.
  • Miskien sê jy dat jy al so baie keer probeer het en eenvoudig nie weet nie: Dan wil ek jou aanbeveel om met iemand by die kerk kontak te maak om jou te help.

Bid:

Vader, ek kom vandag weer na U toe met hierdie een ding waarmee ek nou al vir jare om dieselfde berg stap. Ek het al alles probeer om oorwinning te kry maar val elke keer weer terug in dieselfde siklus. Dankie Jesus dat U die enigste antwoord is. Wil U my weer kom voorstel aan Uself met die gawe van oorwinning en die gawe van lewende water wat net U kan gee.

Spreek Lewe!

My oorwinning is in Jesus en in sy krag waarmee Hy gretig gereed staan om aan my te openbaar.. 

Aanbidding:

Woman at the well – Olivia Lane (Official Music Video)

Dag 2: Jesus maak gesond

Die vrou by die put het nooit gedink dat die Messias, Jesus Christus, die Seun van God, haar daar gaan ontmoet nie. Nog meer as dit. Hy kom in die gestalte van 'n Joodse man. Hy ken haar hele storie. Nogtans beleef sy liefde en aanvaarding. Sy beleef hoe die liefde van God die Vader, die volmaakte liefde, in Jesus gestalte kry. Sy beleef dat sy kan kom net soos sy is. Mure van kultuur, oordeel, godsdiens, skaamte en straf word afgebreek. Sy word vrygemaak van haar skuldelas en skaamte. Haar beker loop oor, want sy het 'n persoonlike ontmoeting met haar Verlosser gehad. Jesus kom en sê vir haar dat daar hoop en redding vir haar is.

By die bad van Betesda was 'n man wat agt en dertig jaar aan 'n siekte gely het. Die man het by die bad gelê met die hoop dat iemand hom sal help om in die water te kom. Jesus ontmoet hom daardie dag by die bad. Jesus vra hom of hy gesond wil word en die man verstaan verkeerd. Hy dink dat Jesus sy hulp aanbied om hom in die bad te sit as dit roer, want hy het geglo dat 'n engel die water roer en dat die persoon wat eerste in die water kan kom, genees sal word. Jesus sê vir hom dat hy moet opstaan, sy goed optel en loop. Hy het dadelik gesond geword. Na 38 jaar van siekte is hy genees.

Jesus het gekom vir ons emosionele en liggaamlike gebrokenheid. Hy wil ons aanraak en Hy wil ons gesond maak. Hy is en het alles wat ons benodig om volkome genesing en bevryding te beleef. In ons gedagtes is daar beperkinge op wat ons van God kan vra en wat God vir ons wil en kan doen. Ons het baie vooropgestelde idees. Wat ons egter moet begryp, is dat ons met hoop, verwagting en vrymoedigheid na die Here kan kom, want Hy is waar ons nood is enHy wil ons red.

Lees:

Joh. 4:10-14

Joh. 5:1-9

Mediteer:

  • Besef jy dat Jesus steeds die enigste antwoord op jou probleem is? Ja, selfs daardie een waarmee jy al 10, 20 of 30 jaar lank om dieselfde berg loop?
  • Wat dink moet eers gebeur voor Jesus jou help? Wat is die uitgewerkte idee in jou kop van hoe die proses behoort te verloop voordat Jesus my sal aanraak?
  • Miskien dink jy dat jy dalk meer moet Bybellees of langer stiltetyd hou, of dat jy meer by die kerk moet werk, of dat jy seker eers meer moet gee, voordat Jesus jou sal help.
  • Dink 'n bietjie mooi na oor dit: Wat is jou “bygeloof” oor wat jy eers moet doen voordat Jesus jou sal help?
  • Sien nou weer die twee verhale wat ons behandel het voor jou afspeel. Jesus het altwee kere sy antwoord aangebied sonder dat enige een van die twee eers iets moes doen om dit te kon ontvang.
  • Dink jy nie Jesus kan dit ook vir jou doen nie?
  • Al wat hulle moes “doen” was om te sê: “Ja Here, gee vir my wat ek nodig het."

Bid:

Vader, kom help my om los te kom van my vooropgestelde idees en selfpogings om u wonderwerk in my lewe te ontvang. Vader, vandag sê ek: “Ja Here, gee vir my wat ek nodig het om genees/verlos/bevry te word”. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Jesus is die Weg, die Waarheid en die Lewe. Jesus breek die siklus van gebrokenheid in my lewe.

Aanbidding:

Woman at the well – Olivia Lane (Official Music Video)

Jesus heals at the pool (The Chosen Scene)

Dag 3: Plek van verwarring

Die Samaritaanse vrou het in 'n dorpie gebly met die naam Sigar. Die woord beteken letterlik om nie nugter te dink nie; om verward en deurmekaar te wees; dronkenskap; mixed consciousness; state of mind that is confused.

Die vrou by die put het deurgaans in haar lewe gebrokenheid beleef en verkeerde besluite geneem. Sy het dit wat ander van haar dink en sê ter harte geneem. Sy was skaam en het skuldig gevoel. Sy het aangepas en 'n plan gemaak om haar situasie te hanteer en met die seer saam te leef. Haar enigste positiewe waarde kry sy van die put wat deur haar voorvader Jakob gegrawe is en wat deur hom, sy seuns en hulle vee gebruik is.

Elke mens se keuses is baie nou saamgeweef met jou verlede, herkoms, kultuur en hoe jy die lewe sien. 'n Mens se gedagtes bepaal jou hele lewe. Die mens sal in sy siklus van gebrokenheid altyd weer teruggaan na die pad wat hy gewoond is om te loop. 'n Manier om by te bly (cope).

Die verlamde man by die bad van Betesda moes ook geweet het dat dit waaraan hy vasgehou het en sy hoop op gebou het, iets onwerkliks was. Hy het langs die bad gesit, sonder iemand om hom in die bad te sit. Dit is heeltemal 'n patetiese prentjie. Dit is amper maar om iets te doen net vir ingeval, al is dit hoe onwaarskynlik.

Ons kan maklik na hierdie mense kyk en vir hulle raad hê, maar as ons stil raak en eerlik is met onsself, het elkeen van ons ook ons siekte, emosionele seer, verslawing of versoeking waarvoor ons telke male swig. Ons het ook ons eie onwaarskynlike half- gebakte planne om dit te hanteer. In ander gevalle hanteer ons dit net gladnie en laat maar Gods water oor Gods akker loop.

Dit is duidelik dat ons planne ons nie kan red nie. Dit kan ons nie verlos nie. Jesus het gekom dat ons lewe en oorvloed kan hê.  Ons het Jesus nodig: sy Woord, aanraking, wysheid en die kragtige werking van die Heilige Gees.

Jy sal weet wat daardie iets in jou lewe is waarvoor jy Jesus benodig.

Lees:

Joh. 4:10-14

Joh. 5:1-9

Mediteer:

  • Het jy ook al in jou lewe verkeerde besluite geneem agv jou gebrokenheid of selfs in jou toestand van verwarring?
  • Dink 'n bietjie na oor die verloop van jou lewe en die paaie wat jy geloop het agv jou seer of verwarring.
  • Glo jy dat Jesus hierdie ver verdwaalde lewe kan vat en herskep met heling en 'n nuwe doel?
  • Besef jy dat jou eie pogings en planne tot dusver nie gewerk het om jou te herstel en vrede te gee nie?
  • Die enigste antwoord is om, soos hierdie twee mense in hierdie verhale, Jesus te erken en alles aan Hom oor te gee.
  • Dink na oor die skrif wat sê; He turn ashes to beauty en “Hy laat alles ten goede meewerk vir die wat Hom liefhet.”
  • Vader kan ook jou lewe herstel en al jou verkeerde besluite ten goede laat meewerk. 

Bid:                                                                       

Vader, ek besef dat ek baie foute en verkeerde besluite gemaak het weens my posisie van verwarring. Ek vra u vergifnis waar ek fouteer het. Dankie vir hoe u met mense werk wie se lewens nie meer sin maak nie. U genees en herstel elkeen wat na U toe kom en vra. Vader, wil U ook vir my van daardie lewende water gee sodat ek u krag en herstel kan beleef. Jesus, ek erken U wat voor my staan as die Seun van God en ek aanvaar u uitnodiging. Wil U my aanraak en gee wat ek benodig vir my herstel, genesing en vernuwing. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Jes 61:3 “... die dag waarop Hy vir die in Sion wat treur, eer gee in plaas van smart, vreugde in plaas van droefheid, blydskap in plaas van hartseer...”

Aanbidding:

Matthew West – Miracle Time (Official Lyric Video)

Dag 4: Identifiseer jou plek en siklus van gebrokenheid

Jesus staan vandag by jou stil. Hy sê vir jou: “As jy die gawe van God geken het en geweet het wie Hy is wat vir jou sê: ‘Gee vir my water om te drink’, sou jy hom gevra het en Hy sou vir jou die lewende water gegee het.” Joh. 4:10, Afr.53.

Word 'n bietjie stil en dink aan jou eie siklus van gebrokenheid. Daardie iets waaroor jy sê daar kan niks aan verander word nie. Ek het dit al vir die Here gegee. Ek het geen manier om dit te los of uit dit uit te kom nie. Daardie iets wat jy maar aanvaar en verdra, omdat dit jou verlam van moedeloosheid. Daardie iets wat jy draaie om loop, omdat jy konflik wil vermy. Daardie ding waaraan jy elke keer toegee en wat jou gedagtes en lewe verswelg. Daardie emosies wat buite beheer raak (vrees, angs, aggressie, jaloesie, haat, bitterheid). Daardie pilletjie, bottel of soet dingetjie wat  jy net moet hê. Daardie siekte wat jou lewe steel.

Dink oor hoeveel jaar van jou lewe deur hierdie gebrokenheid gesteel is. Dink aan hoe effektief die planne was wat jy gemaak het om dit te hanteer. Daar is niks goddelik aan die planne wat die mens uit homself probeer maak om homself te red nie. Alles bied dalk 'n tydelike oplossing. Aan die einde is jy maar net weer waar jy elke keer opeindig. Verslaan, moedeloos, in skuld en vol skaamte.

Kyk nou na Jesus en wat Hy vir jou wil gee. Stop jou eie planne en die dinge wat jy dink jy kan doen. Jesus wil jou vrymaak. Hy is die gawe en die Seun van God. Hy het alles betaal en ons vrygekoop van elke houvas wat sonde en die vyand op ons kan hê. Besef vandag dat jy dit alleen nie sal regkry nie. Wees bereid om dit vir Jesus te gee en te begin met 'n journey van vrymaking. Moenie jou plan aan die Here probeer verkoop nie. Hy is die een wat reeds oorwin het en daardie oorwinning vir jou wil gee. Die vraag is, sal jy jou pakkie gaan los by Jesus? Sal jy bereid wees om dag vir dag, week vir week, maand vir maand en jaar vir jaar, die pad van vrymaking saam met Jesus te stap? Party dinge se verlossing kom dadelik, maar ander is 'n lang proses. Die belangrikste is om jou eie plan te los en God se plan te volg.

Lees:

Joh. 4:10-14

Joh. 5:1-9

Mediteer:

  • Jy sal net alles vir Jesus oorgee as jy regtig glo dat Hy vir jou 'n uitkoms sal gee en dat God 'n goeie 'nader is wat vir jou 'n goeie plan het. Wat glo jy? Glo jy dat Jesus jou emosies wil genees soos die vrou by die put? Glo jy dat Jesus jou van verwarde gedagtes wil verlos en van siekte en krankheid? Vertrou jy God genoeg om van die aardse ankers te los en aan God vas te hou?

Bid:

Vader, ek is jammer dat ek elke keer op my eie kragte en insigte wil staatmaak. Ek is so jammer dat ek gedink het dat ek U nie kan vertrou  nie. Help my om verby my eie planne en vals hoop te kyk. Help my om my vertroue in U te plaas en te glo dat U my enigste Hoop en Anker is. Here ek gee aan U hierdie doring in my vlees. Ek bid Vader dat U my sensitief sal maak vir die stem van die Heilige Gees en dat ek U leiding sal volg. Ek onderwerp my aan U plan vir my en glo en vertrou in U. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek glo in God die Vader, in Jesus Christus Sy seun en die Heilige Gees. Ek glo dat God ‘n goeie God is en dat Hy 'n Anker en Vesting is vir die wat gebroke van liggaam en gees is.

Aanbidding:

Casting Crowns – Jesus at a distance (Official Lyric Video)

Dag 5: Jesus is HIER en NOU

 "Toe Jesus hom sien lê, terwyl Hy geweet het dat hy al ‘n lang tyd siek was, sê Hy vir hom: 'Wil jy gesond word?'"

 "Jesus sê vir hom: “Staan op, neem jou bed op en loop."

 "En dadelik het die man gesond geword en sy bed opgeneem en geloop."(Joh. 5:6,8,9; Afr. 53)

Ongeag of jy vandag geestelik verlam voel en of jy in jou fisiese liggaam verlam is nie. Jesus vra vandag vir jou wat dit is wat jy wil hê. Hy is nie ‘iewers’ waar Hy baie besig is met ander mense nie. Hy is alomteenwoordig. Hy is hier en nou. Hy vra vir jou.

Dadelik is daar iets wat die man by die bad keer. My omstandighede is anders, Here. Jy verstaan nie mooi nie, Here. Ek het al alles probeer. Ek sit nog my laaste hoop in hierdie ongelooflike plan. Ek sit en wag hier dat dinge moet beter word. Ek sit en wag hier dat iets moet verander en dat daar 'n uitkoms moet kom.

Jesus sê vir jou: “Ek is hier. Ek het vir jou 'n gawe. Ek het al die outoriteit en ek het dit vir jou gegee. Staan op, neem jou bed op en loop.”

Ons het die Helper, die Heilige Gees. Wees vandag gehoorsaam aan hierdie stem van Jesus. Ontvang krag as die Heilige Gees oor jou kom. Hou op om passief te kyk hoe die lewe gebeur. Luister na die stem van die Here vandag en aanvaar die lewende water.

Is dit onmoontlik dat iemand wat 38 jaar siek was en lam was ewe skielik kan gesond word, sy goed kan vat en kan loop? Jesus het dit gedoen. Soveel kere sien ons die wonderwerke wat Jesus gedoen het. Lasarus het uit die dood uit opgestaan. Onder ons is daar getuienisse van wonderwerke wat Jesus gedoen het. Jou probleem of seer is nie te groot om te verander nie. Aanvaar vandag die lewende water en die leiding van die Heilige Gees. Luister na die stem van die Here Jesus. Hy staan nou stil by jou. As jy sy stem hoor, glo en staan op, neem jou bed op en loop.

Lees:                

Joh. 4:10-14

Joh. 5:1-9

Mediteer:

  • Maak tyd om regtig stil te word en bid met 'n verwagting en in geloof tot die Here. Die Heilige Gees sal jou lei. Raak ontslae van aanstoot, jou eie idees en van die leuen dat Jesus nie weet wat jou omstandighede is nie. Dit is goed dat jy al alles probeer het en kon sien alleen kan jy dit nie doen nie. Daar is geen aanval of veroordeling in hierdie oefening nie. Gister was gister en vandag is vandag. Die verandering kan nou begin.
  • Wanneer jy die stem van die Here hoor, neem die eerste tree in geloof. Maak jou oop vir die leiding en kragtige werking van die Heilige Gees in jou lewe. Verwag 'n verandering.
  • Soms is dit net ons ingesteldheid wat moet verander. Onlangs het ek geworstel met iets en ek het die Here gevra wanneer sal daar dan 'n verandering kom. In die paar dae terwyl ek die Here gesoek het, het ek op verskeie maniere dieselfde antwoord gekry. Die Here het gesê dat Hy my nie nou uit die situasie gaan haal nie, maar dat ek Hom moet vertrou. Ek was baie hartseer, omdat dit nie was wat ek wou gehoor het nie. Nadat ek oor my teleurstelling gekom het dat MY plan nie nou gaan gebeur nie, het ek alles vir die Here gegee. Ek gee nou elke dag die situasie aan die Here en vertrou Hom. Die las en spanning het van my afgeval.
  • Jou situasie is uniek. Jesus is by jou. Soek by Hom die antwoord en los jou eie planne. Dit wat God vir jou het sal altyd beter wees en meer vervullend, al voel dit nie moontlik nie.

 Bid:

Dankie Vader dat U verlossing en redding vir ons gegee het in u seun Jesus Christus. Dankie Jesus dat U nou hier is en elke dag in elke omstandigheid. Dankie dat U vir ons 'n beter plan het. Dankie vir U Heilige Gees wat kragtig in en deur my werk. Ek vertrou op U alleen en nie op my eie planne en insigte nie. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Jesus Christus is hier en nou. Ek vertrou op God drie-enig. Ek is vir altyd veilig en op die beste plek in God se hande. God is liefde en 'n goeie Vader wat alles ten goede laat meewerk vir die wat Hom liefhet.

Aanbidding:

Way Maker – Leeland (Official Life Video)