LEWE IN DIE GEES
Eugene du Randt
Ons is nie geroep om net te lewe nie. Die Here wil hê dat ons ’n oorwinningslewe moet leef, in die Gees!
Dag 1: Leef volgens God se terme
Ons moet weet dat daar ’n stryd is in hierdie lewe. Hierdie stryd is egter nie teen die mense om my nie. Dit is nie teen my eggenoot, vriende, familie of kollegas nie. Hierdie stryd is tussen goed en kwaad, lig en duisternis, gees en vlees.
Hoe kan ek hierdie stryd wen?
With the arrival of Jesus, the Messiah, that fateful dilemma is resolved. Those who enter into Christ’s being-here-for-us no longer have to live under a continuous, low-lying black cloud. A new power is in operation. The Spirit of life in Christ, like a strong wind, has magnificently cleared the air, freeing you from a fated lifetime of brutal tyranny at the hands of sin and death (Rom. 8:1-2 MSG).
Hoe wonderlik is hierdie boodskap nie. Dat ons deur Jesus Christus vrygemaak is van ’n leeftyd van wreedheid en onderdrukking! Jesus Christus het die lug skoongemaak! Jesus Christus het reeds die oorwinning behaal. HY HET REEDS GEWEN. A new power is in operation.
Die vyand het nie meer seggenskap oor my lewe as ek hom nie toelaat nie. Wanneer ek my heeltemal na Jesus Christus bekeer, bedek Hy my verlede en is Hy in my toekoms! Ek staan nie meer onder veroordeling nie. Jesus het kom wegneem wat ek verdien en vir my kom gee wat ek nie verdien nie. En daarom kán ek nou lewe in die Gees!
Lees:
Mediteer:
- Hoe kan ek hierdie stryd tussen gees en vlees wen? Slegs volgens God se terme. Wat is God se terme?
- As ek terugkyk na my verlede, kan ek nie anders as om die Here te aanbid vir dit wat Hy gedoen het nie. Hy het my uit die vuur geruk. Dit is ons elkeen se storie. Dit is wat redding doen. Wanneer ek my wil na God bekeer, berou het oor my sonde en dit bely en besef dat Jesus al my skuld op Homself geneem het, red Hy my. Jesus red my van die ewige verderf van sonde, skuld en skaamte. God vergewe my en sy vergifnis deur Jesus Christus is vrymakend! Jesus Christus versoen my met God en daarom kan ek nie anders as om bly te wees in die Here nie. Dit is hier waar ek ’n nuwe identiteit kry en my lewe verander. Nou het ek ’n storie van redding en van nuwe lewe en hierdie nuwe lewe is my getuienis.
- Dit is tyd dat ons probeer uitvind wat die Here sê oor ons finansies, huwelik, besigheid en familie. In elke area van ons lewens, het ons nodig om die Here te raadpleeg en insig en wysheid te kry. Kom terug na die Woord, kom terug na gebed en hoor wat die Here sê oor jou lewe!
- Jesus het die lug skoongemaak en staan gereed om te help, ons op te lig, te seën, te ondersteun, te motiveer en vir ons te sê: “Dit is waarvoor Ek jou geskape en geroep het”. As alles reeds gedoen is, wat verhinder dat ek hierdie waarheid aanvaar vir my lewe?
Bid:
Jesus, vandag gee ek my probleme en my verlede vir U. Hier is dit. Ek bely dat ek hierdie sonde (bely dit teenoor die Here) gedoen het. Here ek is jammer. Ek kan myself nie red nie. Dankie dat U as Offerlam gekruisig is en my sonde op U geneem het, sodat ek met God versoen kan wees en ’n nuwe lewe kan leef. Vry en in oorwinning! Ek loof en prys U Naam hiervoor. Ek nooi U nou om deel te wees van my lewe. Ek nooi U om in my toekoms te wees en my te genees en te belyn met Vader God se hart en wil vir my lewe. U is nou my Koning, my Redder, my Verlosser, my Saligmaker. U is waardig om aanbid te word. Halleluja en Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie (Rom. 8:1).
Aanbidding:
I Am Not My Own – Keith & Kristyn Getty, Skye Peterson
Dag 2: Met mening!
Volgens die Ou Testament het die mens alles in sy menslike poging probeer om reg te leef en die wette te onderhou. Miskien kan ons redeneer dat die mens nie werklik alles probeer het nie, want ons sien hoe hulle keer op keer net faal in hierdie oefening. Die wet het die mens onder ’n vergrootglas kom plaas. Later het die mense nog wette en reëls bygesit om seker te maak dat die wette wat deur God daargestel is, nie gebreek word nie. Verder het die mens net al hoe méér onder die wet gestruikel, ondergedompel en verdrink. Daar moes herhaaldelike offers gebring word vir al die sonde, want hul kon deur self-pogings dit nie regkry om heilig te leef nie. Alhoewel die wet van God gegeld het en reg was vir die tydperk soos God dit bepaal het, kon die mens homself nie uit sy penarie red deur die wet te probeer onderhou nie.
God went for the jugular when he sent his own Son. He didn’t deal with the problem as something remote and unimportant. In his Son, Jesus, he personally took on the Human condition, entered the disordered mess of struggling humanity in order to set it right once and for all. The law code, weakened as it always was by fractured human nature, could never have done that (Rom. 8:3-4 MSG).
To go for the jugular: be aggressive or unrestrained in making an attack.
Die jugular vein is die hoofslagaar tussen die kop en die hart. As dit getref en beskadig word, is dit die doodskoot. God het ons probleem nie van vêr af hanteer nie. Hy het die gemors Self kom uitsorteer. Hy het die probleem met mening en intensie kom uitsorteer. Die wet kon dit nie regkry nie, maar Jesus kon. Jesus het jou grootste oorlog op Homself te neem. Hy het gesê: “Ek sal dit vir jou uitsorteer”.
Hy het jou menslikheid op Homself geneem.
Lees:
Mediteer:
- Vier dinge waarvan die Here ons bevry het:
- Veroordeling
- Wet
- Lewe in die vlees
- Vyandskap teen God en mense
- Hoe weet ek of ek bevry is? Jesus sê vir Nikodemus, die Hoë Priester wat veronderstel was om die mense te leer: Daar is net een manier. Jy moet wedergebore word. Dit beteken:
- Ek kom tot bekering – hierdie is ’n ware berou. Jou sonde kan nie vergewe word sonder ware berou (spyt) nie. Here, ek is jammer vir wat ek gedoen het.
- Ek word gedoop – nadat jy jou bekeer het, moet jy saam met Jesus Christus in die doopwater sterf. Jy gaan onder die water in saam met Hom in sy graf en kom uit die water saam met Hom in ’n nuwe lewe, soos wat Hy opgestaan het uit die dood. Hierdie is die wil van God.
- Ek word vervul deur God se Gees – God stort sy Heilige Gees uit oor elkeen wat hul bekeer en laat doop.
- Wanneer jy vervul word met God se Gees, word die Logoswoord (dit wat jy lees) die Rhemawoord (’n diepe openbaring) van God se hart.
Bid:
Here, soos U met mening en intensie my probleem kom hanteer het op aarde, wil ek nou met mening en intensie my lewe belyn met u hart. Dankie, dat U alles reeds in plek gesit het sodat ek nou net in u arms kan inloop en begin groei in u Gees. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Jesus Christus het my bevry en nou kan ek vry leef, vry van wette en veroordeling en nie meer na my vlees nie! God is nie kwaad vir my nie!
Aanbidding:
There’s Nothing That Our God Can’t Do – Passion Music
Dag 3: Aan die Lig gekom
The law always ended up being used as a Band-Aid on sin instead of a deep healing of it. And now what the law code asked for but we couldn’t deliver is accomplished as we, instead of redoubling our own efforts, simply embrace what the Spirit is doing in us (Rom.8:3 MSG).
Wanneer ’n pleister te lank op ’n wond bly, is dit nie goed nie want die wond kan dan nie gesond word nie. Dit is wat die wet gedoen het. Dit was soos ’n pleister op ’n wond wat net begin sweer het. Hierdie wet het vereis dat ons moes werk vir ons redding, maar dit het nie die wond oopgemaak sodat dit gesond kon word nie. ‘n Wond moet oop wees en lug kry. Dit is wat Jesus kom doen het en nou het ons nie meer nodig om te werk vir ons redding nie. Dit is reeds afgehandel en ons kan nou net die Gees omhels! Ons kan nou net toelaat dat die Gees ons vooruitgaan en lei in waarheid!
Ons leef in ’n stryd van vlees teen Gees. Daar is dikwels dinge wat ons kniehalter sodat ons nie ’n geesvervulde lewe leef nie, maar vashaak. Ons sukkel om vooruit te gaan. Daar is moeilike dinge in ons lewens en hierdie dinge moet aan die lig kom. Die Here wil ons wonde genees, maar solank dit toegeplak is, kan ons Hom nie toelaat om sy Lig daarop te skyn nie. Dit is waarom Jak. 5:16 sê dat ons ons sondes hartlik teenoor mekaar moet bely. Wanneer hierdie dinge aan die lig kom, is dit in die ope en word dit nie meer in die duisternis toegehou waar dit kan sweer nie. Dan het die vyand nie meer ’n vatkans nie.
Dit is dan wanneer ons diep genesing kan kry. Wanneer ons dinge na die Here toe bring en as ’n liggaam (saam met ander gelowiges) bid en dit vir die Here gee; wanneer ons sê ons kan nie self nie, ons selfpogings is nie suksesvol nie, maar ons vertrou U, Here, want ons weet dat U kan. Wanneer ons toelaat dat God sy Lig op ons seer en sonde skyn, bring Hy genesing en verkwikking vir ons liggaam, siel en gees.
Lees:
Mediteer:
- Watter areas van my lewe het nog pleisters op? Wil ek in oorwinning van hierdie areas staan? Is daar iemand wat ek kan nader om saam met my te bid hieroor?
- Daar is nou geen meer veroordeling vir my nie. Ek hoef nie terug te val onder die wet nie. Die enigste wet wat ek moet nakom, is om ander lief te hê soos Christus my liefhet.
- Vergifnis speel so ’n groot rol in my genesing. Dit is God se wil dat ek vergewe. Vergifnis bly ’n keuse. Ek hoef nie so te voel nie, ek kies dit. Wie moet ek vergewe?
- Ek is nie meer in vyandskap teen God nie, maar in geregtigheid. God kyk na my soos wat Hy na Jesus kyk omdat ek Jesus aangeneem het.
- Die Here bring herstel, nie net sodat ek gesond kan wees nie, maar ook sodat ander mense om my gesond kan word.
- Wat beteken dit as ons sê die Here is nie ’n aannemer van persoon nie?
- Wat sal mense se reaksie wees as hul my storie van verandering hoor? Die storie van waar ek nou is, ten spyte van waarvandaan ek kom?
- Ons elkeen het ’n storie van redding. Dit is in hierdie reddingsverhaal waarin ons ’n verandering van identiteit beleef en vind dat ons nie net in regte stand met God is nie, maar dat ons naby Hom is en Hom in die oë kan kyk, omdat Hy ons opgelig het na Hom toe, om ’n Pa-seun, Pa-dogter verhouding met Hom te hê.
Bid:
Here, kom skyn u Lig op my wonde en sonde sodat ek gesond kan word. Help my om met die regte persoon te gesels. Ek wil getuig van u goedheid en guns. Ek wil getuig van die verandering wat U in my lewe bring. Dankie, dat U reeds die weg gebaan het en dat ek nie nodig het om pleisters op te plak nie. Ek kan in u Lig begin leef! Halleluja!
Bonus: Spreek Lewe!
Nou kan ek ’n Geesvervulde lewe begin leef!
Aanbidding:
Let There Be Light – Hillsong Worship
Dag 4: God se Vaderhart
...simply embrace what the Spirit is doing in us (Rom.8:3 MSG).
Het jy al ooit ’n droom oor jou eie lewe of miskien oor jou kind se lewe gehad? ’n Droom van ‘eendag wil ek...’? Wat is daardie droom? Wat was daardie droom?
Wanneer ek terugkyk, onthou ek ’n spesifieke droom wat ek gehad het om die wêreld te sien. Op daardie stadium was ek maar 16 jaar oud. Die Here het in my laat twintigs (selfs al het ek ’n wêreldse sondaarslewe geleef en nie hierdie droom eers onthou nie), deure oopgemaak en omstandighede teweeggebring sodat ek die wêreld vol kon reis. Ek kon dinge sien en ervaar wat min mense van kan getuig. Die Here se goedheid ken geen perke nie. Selfs al was hierdie en ander drome baie wêrelds, het die Here herhaaldelik my hartsbegeertes in vervulling gebring.
Daar is ook dinge wat Hy nie toegelaat het nie, verkeerde dinge wat Hy wel in sy wysheid toegelaat het, dinge wat nie in plek geval het nie en groot teleurstellings. Ek weet, ek kan getuig dat Hy van beter geweet het. Waar sou ek vandag gewees het as Hy dit toegelaat het of nie toegelaat het nie? Hy het my hart pursue en ek het “ja” gesê.
Ek wil graag vir my kinders die beste gee wat hierdie wêreld vir hulle kan bied. Maar ek sê nie vir alles ja nie. Soms weet ek, net omdat iets lekker is, beteken dit nie dit is goed vir hulle nie. Hulle is veilig by my. Ek kyk uit vir hulle en wil die beste vir hulle hê.
As ek weet hoe om vir my kind te sorg, hoeveel te meer weet my Hemelse Vader nie hoe om vir my te sorg nie en vir my sy Gees te gee nie (Luk.11:13).
My Vader weet wat om vir my te gee en hoe om vir my te gee. Hy kan in die toekoms sien en Hy het sy beste plan vir my lewe op sy Vaderhart. Hy het my gemaak, ’n lewe gegee en sy Seun gegee sodat ek in 'n verhouding met Hom kan staan. Hy het sy Gees gegee as waarborg dat ek nou in Hom kan wees soos Jesus in Hom is.
Die Heilige Gees nooi ons (He beckons us) na die hart van die Vader. Hy nooi ons na ’n lewe in oorvloed. Ons kan hierdie lewe kies. Al wat ons hoef te doen, is om ja te sê vir Jesus, en God se Gees toe te laat om die res te doen. Al wat ons hoef te doen, is om Hom te nooi om deel te wees van elke oomblik van elke dag. Ons draai na Hom en vra Hom. Hy wil nie spesiale woorde hê nie, net my hart.
Hy nooi ons uit om nie in die vlees te wandel, te stoei en baklei nie, maar om in die Gees te wandel. Wanneer die Here deur sy Gees werk, gebeur daar nuwe en mooi dinge in ons lewens waarop ons nie op kan roem nie.
Dit is die veiligste plek om uit te leef. Uit sy Gees, uit sy Vaderhart!
Lees:
Mediteer:
- As God se Gees, wat dieselfde Gees is waarmee Jesus Christus uit die dood uit opgestaan het, nou in my is, watter beperkinge is daar in my lewe en waarom?
Bid:
Here, dankie dat U vir my ’n geesvervulde lewe beloof en ook wil gee. Here, U ken my lewensverhaal. U weet waar ek vandaan kom. Ek maak vandag hierdie belofte wat U in u Woord gee vas dat hierdie oorvloedlewe vir my ook beskore is, omdat U nie sekere mense uitkies nie, maar elkeen wat Jesus Christus aanneem die reg gee om kinders van God genoem te word. Al beteken dit nie dat alles altyd reg loop nie, of uitwerk nie, of dat daar trauma in my lewe is, kies ek om U te volg en uit u Gees te begin leef. In Jesus se Naam. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Deur God se Gees het ek nou ’n nuwe lewe, ’n lewe in oorvloed, ’n oorwinning oor selfpoging, selfregverdiging, ’n oorwinning om nie in die vlees te lewe nie, maar in die Gees.
Aanbidding:
Abba – Jonathan and Melissa Helser
Dag 5: ’n Fluister
Is jy ook dikwels op soek na ‘wow’ geestelike belewenisse? Ek luister na ander se verstommende stories en dit is ongelooflik wat die Here doen. Maar ek kan nie help om te wonder hoekom ek nie ook so ’n fantastiese storie het nie. Is ek dan nie goed genoeg of geestelik genoeg om hierdie belewenisse te hê nie? Wat moet ek doen om ook so te kan getuig? Ek probeer uitvind wat ek verkeerd doen, wat ek méér kan doen, of anders kan doen. Hoe moet ek die Here meer behaag, of myself bewys? Ek lees en leer en praat met mense en soek op plekke. Daar is konferensies en kampe en ek soek daar. Dan is die ervaring so wonderlik en ek is op ’n geestelike hoogtepunt, maar ’n rukkie later, of selfs Maandagoggend, is ek maar weer net so terneergedruk. Wat moet ek doen om die Here voortdurend so te ervaar? Waar het ek verkeerd gedraai?
Met al die inligting beskikbaar en tegnologie wat ons aan soveel blootstel, besef ons nie dat hierdie belewenisse slegs op een plek begin nie. Die Woord sê: “My volk gaan onder omdat hulle nie aan My toegewy is nie” (Hos.4:6). Hoekom ken ons nie die Here nie en hoekom besef ons dit nie? Omdat ons dikwels op soek is na ánder dinge. Ons is op soek na die ‘wow', die ‘ongelooflik’, die ‘brandende bos’ en ‘op water loop’ ervaringe. Ons wil hardloop van een ervaring na ’n ander en dit moet groter en beter as die vorige wees. Ons is nie tevrede met God se stil en sagte stem nie (1 Kon.19:11-13).
Dit is uiters belangrik dat ons sy stem leer ken. Dit is nie ’n harde oorverdowende, slaan jou oor die kop ervaring nie. Dit is ’n innerlike wete, besef, leer en bewuswording. Dit kom nie uit myself nie, maar uit die Here. Hy is deel van my en daarom is dit soms verwarrend, want dit kan amper soos ekself voel of klink: Maar dit is nie, want ek ken myself en my verlede. Die ou ek sou nié so opgetree het of hierdie oortuiging gehad het nie. Hy trek my uit my gemaksone uit en laat my toe om te groei in Hom, wanneer ek Hom begin vertrou. Hoe doen Hy dit? Saggies, geduldig en vol liefde.
Dit is juis wanneer ons gehoorsaam is in God se stil sagte stem, wat ons ’n dieper geestelike gewaarwording en belewenis ontdek.
Lees:
Mediteer:
- Jesus is die begin van my geeslewe. Ek hoef nie vêr te soek na elke ander geestelike belewenis nie. Jesus sal vir my openbaar en lei waar en hoe, deur sy Gees. Ek kan net begin fokus daarop om Hom te ken en te dien.
- Wysheid begin by die dien van die Here.
- Nou kan ek ’n oorvloedige geesvervulde lewe leef! Dit is nie deur my eie werke nie, maar deur sy Gees, sy krag en sy liefde. Dit is nie altyd maklik of eenvoudig nie, maar ek kan getuig van sy vrede en dat Hy deur my na ander uitreik om hulle te genees. Hy genees my, sodat Hy ander om my ook kan genees. Dit is sy wil dat sy Koninkryk, sy Heerlikheid en sy Gees hier op aarde bekend sal wees. Nie net eendag in die Hemel nie, maar nou reeds!
- Wanneer die Here in ons lewens werk deur sy Heilige Gees, herstel Hy lewens, gedagtes word vernuwe en harte word genees. Jou verlede word deel van jou getuienis. Jou hede begin sin maak. Jou toekoms word iets waarna jy uitsien, want God begin sy doel, planne, gedagtes en drome met jou deel.
Bid:
Here, dankie dat ek u stem kan leer ken omdat u Uself aan my openbaar en dat u Uself te vinde stel vir my omdat ek U soek. Help my om te fokus op U, Jesus, want U is die begin en einde. Ek kies U. U is my Koning en U tree vir my in. U Gees lei my in alle waarheid. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Ek begin om God se stem te leer ken en in gehoorsaamheid in die Gees te wandel.
Aanbidding: