GO DEEP 2 APRIL 2023

In die beproewing van die geloof

Neville Goodchild

Dag 1: Kyk anders na beproewing

In elkeen van ons se lewens is daar tye van beproewing, toetse, uitdagings, teleurstellings, verlies en terugslae. Gewoonlik vang hierdie goed ons onkant en is ons nie voorbereid daarop nie. Dit neem ons gedagtes en emosies in beslag en sluk ons baie keer heeltemal in.

Die goeie nuus vir wedergebore kinders van die Here is dat ons die Heilige Gees ontvang het en God het vir ons die Woord gegee, wat die Waarheid is.

Ongelukkig is ons baie keer nog seer en gebroke. Ons het die Woord en die Heilige Gees wat die Woord vir ons oopbreek en dinge vir ons in koningkrykperspektief vir kan bring., Omdat ons egter nog stukkend is, sien ons die beproewinge deur die oë van die sekulêre wêreld. Ons denkpatrone is nog nie vernuwe nie en ons het nog nie in die volmaakte liefde van God inbeweeg nie. Ons dink nog goed soos: “Ek kry nie reg om hierdie sonde te oorkom nie en nou straf die Here my met die siekte.” “Ek is nie op dieselfde vlak van ‘heilige lewe’ soos ander kerkmense nie en daarom sukkel ek met my finansies en help die Here my nie.” “Ek het ‘n roekelose lewe gely en nou verwag ek die Here moet my kinders red en hulle moet anders wees, maar ek moet maar dieselfde van hulle verwag, omdat my lewe nie reg was nie.” Hierdie is natuurlik alles leuens. Ons dink baie keer ons moet maar eers deur hierdie moeilike goed sukkel en dan sal ons weer tyd maak vir God en by God uitkom as ons aan die anderkant van die situasie kom. Ander kere verstaan ons nie dat soos God in die goeie tye die lig op ons pad is en ons in sy hand hou, net so, indien nie meer nie, is Hy met ons en hou ons in sy hand in die tye van beproewing.

2) Consider it nothing but joy, my brothers and sisters, whenever you fall into various trials. 3) Be assured that the testing of your faith [through experience] produces endurance [leading to spiritual maturity and inner peace]. 4) And let endurance have its perfect result and do a thorough work, so that you may be perfect and completely developed [in your faith], lacking in nothing. James 1:2-4 (Amp.)

Hierdie skrif kan vir ons selfs aanstoot gee in 'n tyd van beproewing. Hoe kan die Here verwag dat ons vreugde moet vind in hierdie tyd van verlies, hartseer, tekort of emosioenele stryd? Hoe kan ons werklike ongeveinsde blydskap beleef te midde van hierdie dinge?

Liewe kind van God, daar is 'n groter prentjie. Ons is in 'n onvolmaakte wêreld waar die beproewinge en teenstand ook ons deel is. God het ons egter toegerus met alles wat ons nodig het om elke belewenis en ervaring in ons lewe na die goeie te verander, en te inkorporeer vir die volheid wat God vir ons beplan het. In hierdie tye moet ek besef dat God my volmaak liefhet. Glo in Hom om jou deur te dra. Spandeer tyd in sy teenwoordigheid en laat Hy jou optredes en emosies rig. Sy vrede is ons deel as ons in geloof toelaat dat Hy ons deur die Heilige Gees bedien. Die Heilige Gees vat die Woord en help ons om anders na ons beproewinge te kyk. 

Lees:

Jak.1:2-4

Mediteer:

 

  • Dink bietjie na oor hoe jy reageer op die beproewinge van die lewe?
  • Beleef jy beproewinge en verlies en moeilike tye as iets wat God oor jou pad bring om jou te straf of iets te leer?
  • Hoe vergelyk jou reaksie op beproewinge, moeilike tye of verlies teenoor dit wat Jakobus vir ons voorstel in Jak. 1?

Bid:

Vader, ek besef dat ek die uitdagings van die lewe nie altyd goed hanteer het nie. Baie keer het ek beleef dat die beproewinge God se manier was om my te straf of om vir my 'n les te leer. Dankie Vader, dat ek nou met nuwe oë na my uitdagings, beproewinge en selfs verliese kan kyk. Dankie dat ek nou kan weet dat die lewe gebeur met alle mense, maar dat ek as wedergebore kind van U kan toelaat dat U dit gebruik om my geestelik te laat groei en om my geloof te versterk en om my te leer om in alle omstandighede te volhard in my geloof in U. Amen.

Spreek Lewe!

Dit wat vir my na 'n verlies lyk, kan Vader omskakel in 'n reuse geestelike wins, want volgens Rom 8:28 laat U alles ten goede meewerk vir die wat U liefhet. 

Aanbidding:

Phil Wickham – This is our God (Official music video)

Dag 2: Die saad moet in die grond val

Ons almal kan onthou hoe ons op skool 'n boontjiepit moes vat en dit in 'n piering in klam watte sit om te ontkiem. Almal se ervaring was nie dieselfde nie. Party van ons het vergeet om die watte klam te hou en als het uitgedroog na 'n paar dae. Ander het weer die arme projek verdrink. Dan was daar die groenvingers. Hulle was die kinders wat die stappe presies uitgevoer het en ons almal kon uit hulle projek sien wat eintlik moes gebeur het.

Eers het die boontjiesaad sy mooi kleur begin verloor. By die groeipunt het 'n plantjie begin vorm. Dit het veroorsaak dat die saadjie in die middel begin oopbreek het en die wortels het na die eenkant toe begin groei. Die boontjiesaad het al kleiner geraak en die blaartjie van die nuwe plantjie het al hoe groter in die doppie van die boontjie gegroei. Die blare van die nuwe boontjieplant het die doppie van die boontjiepit, die saad, afgestoot en daar het niks sigbaar oorgebly van die oorspronklike saad nie. Wat wel gebeur het, was dat ons toe 'n splinternuwe boontjieplant gehad het, wat ons in die grond kon plant. Na verloop van 'n paar weke kon ons sien hoe die plantjie groei en op die ou einde 'n oes van 'n hele klompie nuwe boontjiesade opgelewer het.

Die saad moes in die grond val en tot niet gaan om nuwe lewe te kon voortbring sodat daar 'n oes kon wees. Sade wat in die laai lê kan mooi lyk en behou die belofte dat hulle 'n oes kan lewer, maar solank as wat daardie saad nie in die grond val nie, gaan daar geen groei of verandering wees nie.

Ek weet nie of enige een van julle onlangs geval het nie. Ek hoop nie so nie. Ons elkeen het egter 'n herrinnering van hoe ons al in ons lewe geval het. Dit is nie 'n goeie ervaring nie. Dit is altyd onverwags en gaan met pyn en ongemak gepaard. Baie keer ook met vernedering en dit is 'n ontnugtering. Die natuurwet van swaartekrag is nie onderhandelbaar nie en is op elkeen van ons van toepassing.

Ons lewe is soos 'n handvol boontjiepitte. Ons belewenis van die eerste gedeelte waar die boontjiepit in die grond val en tot niet gaan om plek te maak vir groei, 'n nuwe plant en die groter potensiaal van 'n oes, is meestal 'n ontnugtering en beproewing. Dit is onvermydelik dat ons daardeur moet gaan. Elkeen wat aan die lewe op die aarde deelneem, gaan daardeur.

Wanneer ons die oes aan die einde van die proses sien en kyk na die pad wat ons geloop het om daar uit te kom, sien ons dat ons gegroei het en dat ons potensiaal vir groei eksponensieël vermeerder het. Ons besef dat ons nou op 'n baie beter plek is na die ervaring en ons wil nie weer teruggaan na ons toestand of die plek waar ons was voor die groei plaasgevind het nie.

Die gebeurtenis of beproewing is onvermydelik vir enige mens wat op aarde is. Die verskil vir kinders van die Here is dat God saam met ons daardeur gaan, elke tree van die pad. God versorg ons met sy Heilig Gees en Woord. Hy versterk ons en gee ons krag. Hy gee ons vrede wat alle verstand te bowe gaan. Hy gebruik die onvermydelike om ons te laat groei van babas in die geloof na mense wat geestelik volwasse is. Ons kry dan ook die geleentheid om die vreugde van 'n oes te beleef. Die oes in die koningkryk van God kan so baie dinge wees.

Die skrifgedeelte moedig ons dus nie aan om beproewinge, ontnugtering en seer te soek en dan voor te gee dat ons opgewonde daaroor is nie. Dit herrinner ons daaraan dat aan die einde van die belewenis daar 'n oes is en ons op 'n beter plek sal wees as voor dit. Daarom sê Jakobus dat ons opgewonde kan wees en jubbel en juig, al gaan ons deur die moeilikste goed in die lewe. Ons wandel met God leer ons dat alles ten goede meewerk vir diegene wat Hom liefhet en in sy raadsplan geroep is.

Jesus Christus stel vir ons die voorbeeld en Hy is gehoorsaam tot die dood. Die oes van sy lewe is so kosbaar. Die redding van elke mens op aarde word moontlik gemaak, die ewige lewe, oorwinning oor die bose en heerskappy op aarde.

Dit begin alles by die saad wat in die grond val.

Lees:

Rom. 8:28

Joh. 12:24-26

Jak.1:2-4

Mediteer:

  • Dink bietjie na oor jou lewe, dink oor die moeilikse tye, die seer tye en die tye van verlies. Wat was jou grootste beproewing as kind van God?
  • As jy nou terugkyk, kan jy die groei wat jy daardeur beleef het herken?
  • Dink jy dit is realisties vir enige iemand om te dink dat hy/sy nooit deur moeilke tye of beproewinge sal gaan nie, ook wedergebore kinders van God? Dink bietjie aan Paulus se lewe.
  • Sou jy, as jy terug kyk oor die jare, jou groei en geestelike oes wou teruggee en weer die omstandighede wil terug hê soos dit was?
  • Neem 'n oomblik en en kyk na jou huidige beproewing, krisis of tekort en sien dit as 'n boontjie wat in die grond van jou lewe geval het. Probeer die geestelike groei visualiseer wat hieruit kan kom, hoe my geloof kan groei, my tydsbesteding aangepas word, my waardes en my prioriteite aangepas word, wat alles na geestelike groei sal lei.

 

Bid:

Vader, dankie vir die moontlikheid van groei, vir die kans om dinge wat in my lewe stagneer aan die groei te kry. Vader ,ek besef nou dat om werklik te kan groei, ek by tye deur beproewinge sal moet gaan. Help my om met nuwe oë na die beproewinge in my lewe te kyk, maar help my ook om dit, deur u Gees, met 'n goeie gesindheid deur te gaan met my oë op U gerig.

Bonus: Spreek Lewe!

Alles wat oor my pad kom, sal ten goede meewerk vir my lewe, om uit te kom waar Vader my wil hê, omdat ek Hom liefhet.

Aanbidding:

Casting Crowns – Desert Road (Official Music Video

Dag 3: Geloof volhard tot aan die einde

Consider it a sheer gift, friends, when tears and challenges come at you from all sides. You know that under pressure, your faith life is forced into the open and shows its true colors. So, don’t try to get out of anything prematurely. Let it do its work so you become mature and well-developed, not deficient in any way.’(Message translation) James 1:2-4

Hierdie vertaling van ons skrifgedeelte verwoord dit baie mooi. Ons dien 'n God wat baie lief is vir ons. Hy kies om ons Vader genoem te word en het alles in plek gestel sodat wanneer ons Jesus Christus aanneem, ons kinders van God genoem kan word. Hierdie almagtige en alomteenwoordige Vader van ons weet reeds wat ons nodig het voordat ons hom vra. Hy weet wat ons missie is en watter opleiding en ondervindings ons benodig om suksesvol te wees in dit wat ons moet doen. Hy weet hoe om alles wat die vyand en die wêreld na ons kan toe gooi om te draai en te gebruik as deel van ons geestelike groei en die ontwikkeling van ons karakter. Die belangrikste is egter dat dit ons geloof sterker laat word terwyl ons deur elke moeilike omstandighede gaan in geloof en vertroue op God wat ons deur dit alles dra.

Kyk na die prentjie van die skoenlapper of mot hier bo. Daar is verskillende stadiums van ontwikkeling en groei waardeur dit moet gaan voor dit volwassenheid en die laaste stadium kan bereik. Elke stadium het 'n spesifieke tydverloop en proses wat moet plaasvind. Nie een van die stadiums kan oorgeslaan word of kortgeknip word nie, want dan sal die skoenlapper/mot doodgaan en nie volwassenheid bereik nie. Die skoenlapper/mot weet nie wat die prosesse en die tyd is nie. Hy gee hom oor en is deel van die proses en wanneer die skoenlapper/mot uiteindelik uit die kokon kom, kan ons sien dat alles die moeite werd was.

Ons sien 'n dowwe beeld en net 'n klein gedeelte van die volledige prentjie. Ons liggame sê baie keer vir ons dit is die einde en dat ons nie verder kan nie. Die vyand is ook nog aan die eenkant en sal alles in sy vermoë doen sodat ons moet moed opgee en nie die volheid moet beleef van wat God in ons tot stand wil bring nie.

So baie keer klim kinders van die Here kort voor die wonderwerk of uitkoms uit die wedstryd uit. Hulle mis dan wat God vir hulle beplan het. Die vyand maak 'n deur oop wat ons weglei van God se plan af en ons kies dit, want ons voel ons kan nie langer wag nie.

Daar is prosesse wat afgehandel moet word, verhoudings wat gebou moet word, karakter wat moet ontwikkel en mense en planne wat in plek moet kom. God ken die tyd en die plek. Glo in Hom en volhard in gebed. Die Heilige Gees wat God ons gegee het as ‘' Helper, se krag is tot ons beskikking. Dit is dieselfde krag waarmee Jesus Christus uit die dood opgewek is. Ons besef nie aldag wat God ons alles gegee het nie en wil moed opgee.

Die vyand weet presies wie ons is en wat God in ons belê het en sal mense en omstandighede gebruik om ons te laat koers verander voor ons oorwinning gekom het en die volheid van God se seën in ons lewe gestalte kon vind.

Net soos ‘n baba die volle termyn moet ontwikkel voor hy gebore word om te kan oorleef, net so moet ons die volle termyn in geloof die pad stap sodat ons alles kan ontvang wat God vir ons wil gee. Volhard in geloof en stap die pad tot aan die einde in 'n verhouding met God sodat jy alles, die volle wins, kan ontvang wat ons hemelse Vader vir jou beplan het. Omdat jy dit nie sien nie beteken dit nie dat dit nie daar is nie. Laat die vrede van God jou lei.

 

Lees:

1 Kor. 13:12

Jak. 1:2-4

Heb. 12:1-3

Mediteer:

  • Wat beleef jy deur jou beproewing? Wil jy net hê dit moet verbygaan en word jy kwaad, moedeloos, geïrriteerd, negatief en selfs depressief?
  • Waarin stel Vader meer in belang? Dat jy ten alle tye alles sal hê soos jy dit in gemak wil hê, of dink jy Hy stel meer in jou karraktervorming belang?
  • Dink jy daar is 'n beter manier om tydens jou beproewing te wag, glo, volhard, stiltetyd te hou, in vrede te bly, kalm en gelowig  en naby aan Jesus te bly om saam met Hom deur die Heilige Gees te groei tot nuwe hoogtes in jou karakter en geloof?

 

Bid: 

Vader, dit is nie lekker om deur beproewings, moeilike tye en veral verlies te gaan nie. Ek wil altyd so vining moontlik daaruit kom en bely ook dat ek dit nie altyd goed hanteer nie. Vader, wil U my asb. deur u Gees help en leer om my beproewings, uitdagings en verliese nader aan U te hanteer met u kalmte en vrede. Help my om te fokus op die groeipunt en u plan en stem in daardie tye. Vader, help my om my vreugde en blydskap te behou en om te volhard in my geloof tot die einde toe. Vader, leer my om beproewinge te hanteer deur 'n totale nuwe uitkyk daarop te hê. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Alles waardeur ek gaan, gebruik Vader om my te laat groei om al meer te word wat Hy wil hê ek moet wees.

Aanbidding:

Prys die Heer – Oasis Gemeente (Official Music Video)

Dag 4: Waar is Jesus in jou storm?

Ek kan my in hierdie prentjie indink: Die dissipels en Jesus is saam in die boot en daar begin 'n storm opkom oor die see. Die dissipels is meestal ervare vissermanne en het grootgeword op die see. Hulle kan sien hierdie storm is nie sommer iets wat gaan verbywaai nie. Dit is 'n ernstige storm. Hulle begin om alles te doen wat hulle dink nodig is om te oorleef en om hulleself en die boot te red. Party skep dalk water uit die boot. Ander is dalk besig met die seile en toue. Ander is dalk al besig om items oorboord te gooi. Iewers kom iemand tot homself en besef hulle gaan nie die storm beleef sonder op skipbreuk te ly nie. Hy onthou Jesus is ook op die boot. Hy kyk om hom rond, maar sien nie vir Jesus nie. Hy begin na Jesus soek en hulle kry Hom waar Hy slaap. Hulle maak hom wakker en is vies omdat Hy lê en slaap en nie besef wat aangaan nie. Hulle vertel Hom van die slegte storm en dat die boot waarskynlik gaan sink. Toe vra hulle Hom om te kom help en hulle te red, anders gaan Hy en hulle almal saam met die boot vergaan.

(26) "En Hy sê vir hulle: 'Waarom is julle bang, kleingelowiges?' Toe staan Hy op en bestraf die winde en die see, en daar het 'n groot stilte gekom. (27) En die manne het hulle verwonder en gesê: Wat vir 'n man is Hy, dat selfs die winde en die see Hom gehoorsaam is?'"

As ons sien wat Jesus sien, kan ons sit waar Jesus sit. Jesus weet watter outoriteit daar aan hom gegee is. Hy weet dat daar 'n roeping op sy lewe is. Hy weet dat God die Vader in beheer van sy lewe is. Hy weet dat Hy aan die ander kant van die storm gaan uitkom, want die plan wat God vir sy lewe het, moet nog afgehandel word. Ons sien ook in die evangelies dat Jesus homself baie keer afgesonder en gebid het. Partykeer deur die nag. Jesus was in voeling met dit waarmee God die Vader besig was.

Die dissipels was veronderstel om ten minste te weet dat Jesus saam met hulle in die boot was. Hulle kon dus rustig wees, want 'n storm sal nie God se plan ontspoor nie.

Ons kan ook weet dat as ons kinders van God is, beteken dit Jesus is in ons boot. God het 'n plan vir ons lewe en dit wat gebeu, kan beïnvloed word deur ons omstandighede, beproewinge en ons verliese. Ons lewens is egter in God se hande en as ons gehoorsaam is en glo, bepaal alleenlik God die uitkoms van ons lewens. Daarin kan ons rustigheid vind.

Jesus sien 'n prentjie vir ons lewens wat Hy weet goed vir ons is. Hy weet wat pas by ons sterkpunte, ons persoonlikhede, en die belangrikste, waar ons ons volle potensiaal kan bereik vir onsself maar ook vir die Koninkryk.  Hy sien ook reeds die karaktereienskappe wat ons nog moet ontwikkel. As ons hierdie prentjie kan sien wat Jesus sien, kan ons saam met hom deur ons storms rustig wees en daarop fokus om deur die storm geestelik en in karrakter te groei om nader te kom aan hierdie prenjie wat Jesus vir ons het.

Lees:

Mat. 8:23-27

Mediteer:

  • Raak 'n bietjie stil en sien 'n prentjie van die huidige storm in jou lewe. Miskien voel jy ook soos die dissipels: Jy is bang en weet nie hoe jy die storm gaan oorleef nie. Waar is Jesus in hierdie prentjie van jou? As Hy nie daar is nie, wil jy Hom nie vandag in jou storm innooi nie?
  • Wat weet jy van die prentjie wat God van jou lewe het? Waar dink jy sien God jou met betrekking tot jou roeping, jou karakter, jou beroep, jou deelname aan sy koninkryk en jou geloof?
  • Dink jy 'n deel van God se prentjie van jou lewe is dat jy moet groei in jou geloof, dat jy moet leer om te volhard, dat jy moet sterker raak in jou geloof, dat jy meer afhanklik van Hom moet word en dat jy sal groei in jou outoriteit?
  • Dink jy enige van bogemelde is moontlik as alles altyd net goed gaan en daar geen storms in ons lewens is nie?
  • Dink jy dit is vir jou moontlik om op te hou fokus op die storm en jou fokus te verskuif na Jesus, met die moontlikheid om deur die storm te groei?

Bid:

Ek bely voor U Vader dat ek in my storms soveel kere my fokus van U afhaal  en my laat oorweldig deur die storms. Wil U my help deur u Gees om my fokus op U en u moontlikhede van groei te vestig. Help my om te sien wat U sien, sodat ek saam met U kan sit waar U sit, in u rus. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

No pain, no gain. Deur en ná die seer en pyn van my lewe is daar altyd die belofte van herstel en groei na hoër plekke in Jesus.

Aanbidding:

Wees U My Toevlug (Official Lyric Video) – Oasis Gemeente

Dag 5: Loop saam met Jesus oor jou beproewing

Tydens 'n storm op die see, net 'n entjie vanaf die boot waarop die dissipels was, het Jesus Christus op die see geloop.  Die dissipels was reeds verskrik oor die storm en nou was daar boonop 'n gedaante wat op die see loop. Hulle het eers gedink dit is  'n spook. Gelukkig het Petrus vir Jesus herken en gevra of hy ook op die water na Jesus toe kon loop. Petrus het Jesus te volle vertrou - nie net Jesus se vermoë om Self op die water te loop nie, maar ook dat Hy Petrus tydens die storm veilig op die water sou kon laat loop.

Ek het nog nooit iemand op water sien loop nie. Dit moes nogal skrikwekkend gewees het om so iets in die nag tydens 'n storm te kon sien. Vir die dissipels het hul redding het gekom in 'n vorm wat hulle nie te wagte was nie. Dit het gelyk soos ‘n spook. Iets wat by die storm gevoeg is om hulle einde te bewerk. In plaas daarvan was dit Jesus Christus, hulle Verlosser.

Dit dui op die verskil tussen mense wat onder die wet is en diegene wat onder die genade leef. Mense wat onder die wet leef, herken nie die redding en oorwinning nie. Hulle sien vir Jesus, wat veronderstel is om hulle Redder te wees, eerder as 'n spook aan wat hulle agtervolg. Hulle verwag straf en sien nie die Verlosser wat oorwinning bring nie. Hulle sien liewer 'n spook. Dit is soos wanneer mense dinge kwytraak soos dat 'n siekte hulle tref omdat die Here hulle wil straf. Hulle dink ook dat 'n gebied deur droogte geteister word omdat God die mense daar wil dwing om tot bekering te kom.

Nee! Jesus loop in storms oor die probleme en beproewings en ons kan saam met Jesus oor daardie probleme en beproewings loop. Ons moet, soos Petrus, ons volle vertroue op Jesus Christus plaas en uit ons "veilige" boot klim. Ons moet Jesus Christus vertrou en ons oë op Hom alleen fokus. Die storm is te groot vir ons alleen en ons kan nie op ons eie die beproewings en die moeilikhede van die wêreld oorkom nie. Selfs as ons begin twyfel, is die groot troos dat ons by Jesus Christus veilig is. Net soos Hy Petrus se hand gegryp het en hom gered het toe hy begin twyfel het wou sink, net so sal Jesus ons red.

Die wet is 'n leuen wat nie verlossing bring nie en wil ons moedeloos maak. Jesus Christus is ons Antwoord en in Hom het ons oorwinning en saam met Hom kan ons oor ons beproewings loop. Die Heilige Gees is ons Helper in ons swakheid. As ons bid tot God en ons weet nie wat om te bid nie, bid die Heilige Gees met onuitspreeklike versugtinge vir ons by die Vader. Ons kan dus in tye van nood  fokus op die Here Jesus en bid tot God die Vader. Jesus sal ons ontmoet in ons storm en ons help om daar deur te kom. Ons moet biddend bly en op Jesus vertrou en glo dat die Heilige Gees ons met elke tree sal lei.

Lees:                

Rom. 6:26-28

Matt. 14:22-36

Mediteer:

  • Sien jy jou beproewinge, moeilike tye of verliese as 'n straf van God af?
  • Wat beteken dit vir jou dat Jesus bo-oor jou storm loop?
  • Dink jy dat elke storm in jou lewe elke keer dadelik opgelos gaan word sodra jy dit aanspreek in Jesus se Naam, of as jy bid, of selfs as jy vas?
  • Dink jy dat jy vroegtydig uit jou storm moet probeer kom deur met al jou energie daarop te fokus om uit die storm te kom?
  • Dink jy nie dat Jesus ons soms nooi om saam met Hom die volle tyd van die beproewing deur te gaan om veel meer uit dit te kry as om net die beproewing deur te maak en so gou moontlik weer normaal te kan aangaan met ons lewens nie?
  • Vader stel veel meer in jou groei en geestelike ontwikkeling belang as in jou gemak.

 

Bid:

Vader, help my om vrede te maak met die feit dat die lewe nie net altyd maanskyn en rose gaan wees nie. Help my deur die Gees om met U oë na my lewe en my beproewinge te kyk. Help my dat ek daardeur nog nader aan U sal bly om saam met U te heers oor my beproewings, om te groei in my geloof en om te leer om te volhard onder alle omstandighede. Vader, leer my om U nie as my vyand te sien as ek deur beproewinge gaan nie, maar dat U daar is vir my, dat U my krag, my voorsiening en my sterkte is, asook my liefdevolle Vader wat elke tree saam met met deur die beproewings gaan. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ps. 23:4 "Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In U hande is ek veilig.”

Aanbidding:

The Ancor Holds (Official Lyric Video) - Ray Boltz