Go Deep 26 Maart 2023

Jou water is wyn

Neville Goodchild

Dag 1: Jesus se eerste wonderwerk

Jesus en sy dissipels was by dieselfde bruilof as Jesus se moeder, Maria. Daar gebeuiets wat 'n skande op die bruid en die bruidegom sou bring toe die wyn vir die bruilof opraak. Jesus se moeder het Hom van die probleem vertel en Hy wou nog protesteer. Maria sê vir die diensknegte om presies te doen wat Jesus ookal vir hulle vra om te doen.

Die Jode het baie reinigingseremonies gehad. Hulle moes na afloop van 'n reis en voor 'n ete hulle hande, voete en soms ook hulle gesigte en lywe was. Hiervoor was daar by die bruilof ses waterkanne van klip met 'n kapasiteit van 90 tot 100 liter elk beskikbaar. Jesus vra die dienaarsknegte om die die klipkanne tot bo met water te vul. Hier sien ons, soos in so baie ander gevalle, die simboliek van oorvloedigheid: genoeg en die meeste wat dit kan wees. Dit dui op die volheid van Jesus se seën. Jesus vra die diensknegte om van die wyn uit die kanne aan die hoofdienaar te gee om te proe. Vers 9: "En toe die hoofdienaar die water proe wat wyn geword het – en hy het nie geweet waarvandaan dit was nie, maar die dienaars wat die water geskep het, het geweet – roep die hoofdienaar die bruidegom (10) en sê vir hom: Elke mens sit eers die goeie wyn op en wanneer hulle goed gedrink het, dan die slegste; maar u het die goeie wyn tot nou toe bewaar."

Die geestelike betekenis hiervan is dat ons, voordat Jesus Christus gekom het en vir ons sonde gesterf het, op ons eie en met ons eie pogings probeer het om los te kom van sonde. In die Ou Testament lees ons baie van water. Daar was die water wat uit die klip in die woestyn gekom het. Daar was 'n geval by Mara van bitter water wat in soet water verander is. Die water in die kanne by die bruilof was 'n teken van die Ou Testament, voor Jesus se koms. Ons sien ook dat ses kanne gebruik is. Ses is die nommer van die mens en dui verder op selfpoging, vleeslikheid en onvolmaaktheid. Die wyn wat eers water was, dui op Jesus Christus, ons Verlosser. Dit nie net water nie, maar dit is goeie wyn. Dit neem die skande van die bruidegom en sy gesin weg. Dit is die nuwe bedeling wat beter is as die vorige bedeling. Jesus is volmaak en Hy maak dit wat onvolmaak is volmaak in Hom.

Ons neem deel aan die beste bedeling. Jesus Christus neem ons onvolmaakte eie pogings, en in Hom word ons skande weggeneem, ons eer en waardigheid word herstel en daar is oorvloed, voorsiening en versorging.

Lees:

Joh. 2:1-12

Mediteer:

  • Raak vir oomblik stil en besin oor jou lewe. Hoeveel van jou lewe bestaan uit selfpogings om God, ander mense of die kerk te probeer oortuig dat jy goed genoeg is?
  • Paulus skryf in 2 Kor. 12 dat hy sou kon roem oor die dinge wat hy in sy Christenskap kon bereik het, maar sê onmiddelik dat hy dit nie sal kan doen nie, want hy het 'n doring in die vlees. Dit is iets wat hom, sonder Jesus se verlossingswerk, sal diskwalifiseer. Paulus weet ook dat hy uit selfpoging en goeie werke niks is nie.
  • Is jy bereid om jou water (eie pogings, selfgeregtigheid, jou onvolmaakte poging om goed te wees) vir Jesus te gee sodat Hy 'n wonderwerk in jou lewe kan doen en jou water in wyn (volmaakte afgehandelde werk aan die kruis, waarby jy uit jou eie niks kan byvoeg nie) kan verander.

Bid:

Dankie Vader, vir die bloed van Jesus wat gesimboliseer word deur die wyn. Dankie Vader, dat Jesus se werk 'n volledige afgehandelde werk is. Vader, ek kom bely my eie pogings om goed te wees, of om U te probeer beïndruk. Ek besef dit is water wat my nooit geestelik kon was nie. Ek kom ruil nou my water, my eie pogings, in vir u wyn, u afgehandelde werk.

Spreek Lewe!

Deur in Christus te wees, is ek skoon en vry van my verlede en onvolmaakte pogings. 

Aanbidding:

Nuwe wyn – Louis Brittz

Dag 2: Jesus Christus is die kosbare skat (treasure)

However, we possess this precious treasure (the divine Light of the Gospel) in (frail human) vessels of earth, that the grandeur and exceeding greatness of the power may be shown to be from God and not from ourselves. 2 Cor.4:7 (Amp. Everyday life Version)

In hierdie skrifgedeelte word dit so mooi beskryf. Ons het ‘n kosbare skat binne in ons. Die kosbare skat is die redding en evangelie in Jesus Christus. Ons is nie waardig om hierdie skat te hê nie en ons kan nie daarop aanspraak maak nie. Ons is nie eers geskik om hierdie kosbare skat te kan hê nie, maar die Een wat alles verander, is Jesus Christus, ons Verlosser.

Net soos die klipkanne geskik was vir water en die reinigingsprosesse, maar nie geskik was vir wyn nie, so is die mens ook. Uit ons eie en in ons menslike toestand is ons pogings om redding vir onsself te bewerk, of selfs om iets te kan verdien, soos vuil lappe. Ons kan niks goed uit onsself doen nie. Alles wat goed is, kom van God af.

Ons besef dat redding net van God af kom en dat Hy, ons Abba Vader, die beste vir laaste gehou het. Ons is soos ou wynsakke wat nie nuwe wyn kan bevat nie, want ons het hard geword en die nuwe wyn sal ons laat oopbars.  Nuwe wynsakke is nodig (Matt. 9). Jesus maak alles nuut en Hy maak ons nuut.

In Jesus Christus verander ons water in wyn. Daar waar Jesus Christus redding bring, verander hy die waarde van wie ons is. Hy maak ons, menslike klipkanne, geskik en waardig om die kosbare skat van redding tot oorlopens toe te hê. Hy vul ons met die goeie wyn en Hy maak ons nuut. Hy neem ons skande en sonde weg en Hy vernuwe ons gees. Hy bring ons voor die Vader.

Jesus word ook nie deur ons menslikheid (ons vuil water) bedreig nie. Dit is die manier waarop ons werk met en dink oor geld, drank en seks. Hy kom juis en hanteer hierdie dinge waarmee ons in ons menslike natuur sukkel. Hy kom verander ons verhouding met hierdie dinge deur ons lewens in sy liefde te transformeer en ons vry te maak.

Daar is mense wat beledig voel omdat Jesus wyn gemaak het as deel van sy eerste wonderwerk. Die mense wat die bruilof bygewoon het, het al die beskikbare wyn opgebruik. 'n Mens moet besef dat die waarde van die simboliese gebruik van wyn verder gaan as net ons menslike gebroke siening daaroor. Jesus het ook tydens die instelling van die nagmaal aan sy dissipels gesê dat Hy daarna uitsien met om met sy wederkoms die tekens van die nagmaal (wyn en brood) saam met hulle te gebruik.

Net soos die hoofdienaar die bruidegom roep nadat hy die water geproe het wat in wyn verander is, bring die Heilige Gees ons na Jesus toe nadat ons gered is. Ons water het verander in die goeie wyn. Wanneer ons gered word, vind 'n transformasie in ons plaas deur Jesus Christus.

Lees:

Joh. 2:1-12

2 Kor 4:7-11

Matt. 9:17

Mediteer:

  • Besef jy dat geen mens op aarde deur sy eie geregtigheid, eie pogings, goeie lewe of dade vir God kan behaag nie? Geen mens kan sy eie redding bewerk nie.
  • Jy dink dalk dat jy regtig te vuil is weens jou sonde en verlede en dat daar geen manier is dat jy vergewe kan word nie.
  • Miskien dink jy dat jy darem regtig nie so sondig is nie en dat jy eintlik 'n oulike Christen is wat baie goeie dinge doen en jy dink dat jy maklik daarin sal kan slaag om Hemel toe te gaan.
  • Die feit is dat ons almal gelyk voor Vader is en dat ons almal sondig en ver van God af is. Albei die genoemde voorbeelde is gelyk voor God en nie een van die twee het die vermoë om hom/haarself te red nie. Selfs nie die persoon wat baie oulik is nie.
  • Selfpoging word voorgestel deur die beeld van water in die Ou Testament. Die water kon die Jode van buite reinig, maar dit kon nie hulle sonde wegwas nie.
  • Sonder bloed is daar geen vergewing van sondes nie. Die wyn is die teken van Jesus se bloed en dit is die enigste roete na vergifnis van sonde.
  • Wil jy jou water inruil by Jesus vir sy wyn? Dis die enigste plek waar die persoon wat glo hy is te sondig, en die ander persoon wat glo hy kwalifiseer deur sy eie poging, gelyk is. Albei besef dat hulle slegs deur Jesus se afgehandelde werk gered kan word.

Bid:

Jesus, hier is my vuil water van selfpoging en selfgeregtigheid en ook my hele verlede van sonde en pyn. Gee vir my u wyn. Ek aanvaar u wyn wat U gratis aan my gee. Vader, verander vir eens en altyd my water in wyn. Ek gee myself, selfpoging, verlede en my hele wese vir U.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek sug 'n sug van verligting, want my beker loop oor van Jesus se wyn in my, ek is vry van die las van skuld en selfpoging.

Aanbidding:

Danie Botha - Nuwe wyn

Dag 3: Principle to person

Dit waarop ons fokus om ons rigting te bepaal en ons lewe te rig is die eerste plek waar water in wyn verander in ons lewe en die bloed van Jesus transformeer.

Ek onthou toe ek die Otter-staproete gedoen het en ek wou na die tyd vir mense daarvan vertel. Ek kon nie dit wat ek beleef het, verwoord nie. Ander mense kon nie my belewenis ervaar deur na my storie te luister nie.

Die transformasie van principle driven to person driven (vanaf beginsel-gedrewe na persoon-gedrewe) is dieselfde. Ná jou redding verander jou fokus. Dit is egter 'n proses om los te kom van die Wet en reëls. Dit is om godsdienstige sienings en Bybel-kopkennis te verander na hartkennis. Ons fokus moet skuif na die persoon van Jesus Christus.

By ons redding ontvang ons die Heilige Gees en al die kinders van die Here sal kan getuig dat, nadat ons die Heilige Gees ontvang het, ons met vreugde kon lewe, die Bybel lees en bid. Dit wat net woorde was voordat ons die Heilige Gees gehad het, het lewendig geword. Dit is asof die Heilige Gees die bril is wat ons opsit om Jesus Christus ons Verlosser te kan sien. Maar dit is meer as net om te kan sien. Ons kan Hom beleef en die Woord transformeer ons hart van klip na 'n hart van vlees. Ons begin om op Jesus en die Waarheid te fokus wat elke dag meer deel van ons word. Ons fokus verskuif vanaf die wet (dooie godsdiens- beoefening) na die persoon van Jesus Christus; vanaf reëls na 'n verhouding met die lewende God.

Enige iets wat tussen ons en Jesus staan of wat ons wegvat van Jesus af, is water wat nog in wyn moet verander.

Lees:

Joh. 15:26

Mediteer:

  • Die lewe is partykeer so gejaag dat ons maklik in godsdiens-beoefening verval. 'n Verhouding neem tyd. Dit verg dat ons selfondersoek doen en die Heilige Gees toelaat om ons te wys waar daar nog “water” in ons lewe is wat na “wyn” moet verander.
  • ‘n Goeie verhouding kan alleenlik bestaan as ons die verhouding na waarde ag en die ander persoon se behoeftes en begeertes vóór ons eie stel. In vandag se lewe is alles selfgerig. Verhoudings gaan baie keer oor dit wat ek uit die verhouding kan kry en nie oor dit wat ek kan belê om die verhouding die beste verhouding te maak wat dit kan wees nie. In ons verhouding met die Here moet ons die Heilige Gees innooi en ons moet die Here ruimte en tyd gee om, in die eerste plek, goed te identifiseer wat ons fokus wegvat van Jesus af en, in die tweede plek, om ons te verander – ons water in wyn te verander.
  • Raak vandag stil en nooi die Heilige Gees is. Gaan met 'n verwagting om Jesus te ontmoet en om sy liefdevolle teenwoordigheid te beleef. Laat die Heilige Gees vir Jesus meer en meer aan jou openbaar. Hoe meer jy Jesus leer ken, hoe meer leer jy God die Vader ken. Jesus Christus openbaar altyd die Vader aan ons. In God se teenwoordigheid sal ons water altyd in wyn verander.

 

Bid: 

Vader, ek smag daarna om elke deel van myself neer te lê. Ek bely dat ek my laat meesleur deur die lewe en my tyd in u teenwoordigheid misloop en soms minag. Vergewe my. U Heilige Gees is so welkom. Maak u Woord en rigting aan my bekend deur die Heilige Gees en lei my. Verander my hart en gedagtes sodat ek sal fokus op Jesus Christus, my Verlosser. Leer my meer en meer van u wil en rigting in my lewe  en vernuwe my denke. Ek het U lief.  Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Jesus Christus, U alleen is die Lig, die Weg en die Waarheid. Op U alleen vertrou ek en rig ek my gedagtes.

Aanbidding:

Let Your Glory Fill This House – Jonathan Stockstill

Dag 4: Worries into worship

Die laaste ding waarvoor 'n mens lus is wanneer jy besig om jou oor dinge te te bekommer, is om lofprysing en aanbidding te doen. Dit is egter die tweede manier waarop Jesus ons lewens transformeer. Sodra ons begin met lofprysing, verskuif ons fokus weg vanaf die probleem waaroor ons top en bekommer na die Probleemoplosser toe. Dit sal ons deur die moeilikste tye in ons lewens dra.

 Worries (water)  >  Worship (wyn)

Wanneer ons bekommernisse in ons gedagtes maal, moet ons dit identifiseer dat ons besig is om ons te bekommer en ons moet ons bekommernisse doelgerig vir die Here gee en met lofpryssing begin. Dan sal ons beleef hoe ons probleme al kleiner word en dat God al groter word.

In die Bybel sien ons dat koning Dawid baie keer met doodsbenoudheid en groot bekommernisse 'n psalm begin en dit dan afsluit waar hy God die Vader loof en prys en sy grootheid besing.

Paulus en Silas is geslaan en in die tronk gegooi. Geboei, in haglike omstandighede en met seer en stukkende lywe het hulle gekies om met lofprysing te begin. Daarna het die deure van die tronk oopgegaan en hulle boeie het afgeval.

Lees:

Hand 16:19-40

Mediteer:

  • Raak vir 'n oomblik stil en dink wat jou reaksie sou wees as jy in Paulus en Silas se plek was.
  • Wat is jou default (verstek) waarheen jy gaan as jou bekommernisse baie raak? Gaan jy oor in 'n toestand van stres, of kan jy rustig bly en Vader ten volle vertrou?
  • Wil jy nie vandag saam met my 'n besluit neem om doelbewus die manier te verander waarop jy tans bekommernisse hanteer nie?
  • Bedink vir jouself 'n aksieplan van hoe jy in die toekoms kan maak as jou bekommernisse jou oorweldig.
  • Hoe gaan jy lofprysing gebruik as 'n manier om jou fokus vanaf jou bekommernisse na Vader toe te verskuif?

Bid:

Vader, ek bely voor U my onvermoë om U in moeilike tye te loof en prys. Vader, wil U my deur u Heilige Gees help om in tye van bekommernis te kan oorgaan in spontane lofprysing. Heilige Gees, help my om my besluit van vandag te onthou. Ek kies om U te loof en te prys al die dae van my lewe, in die goeie en die slegte tye. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek trek die kleed van lofprysing aan om die gees van swaarmoedigheid teen te staan.

Aanbidding:

Zach Williams – Old Church Choir (Official Lyric Video)

Dag 5: Transformeer vrees na liefde

“Daar is geen vrees in liefde nie, maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees het nie volmaak geword in die liefde nie.” 1 Joh. 4:18

Die Vader is volmaakte liefde. Die Woord sê ware liefde is nie dit wat ons vir God het nie, maar dit wat Hy vir ons bewys het. Hy het sy enigste Seun, Jesus Christus, gegee om na die wêreld te kom en die Vader se liefde vir ons te openbaar. Hy het sy Seun gegee sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

Volmaakte liefde red ons van sonde en bevry ons van straf. Volmaakte liefde is vir ons 'n plek van volkome aanvaarding van wie ons is. Dit verwag nie straf nie. Dit verwag versorging, beskerming, voorsiening, vergifnis, herstel, genesing. Volmaakte liefde kan ons net in die teenwoordigheid van God beleef.

Wanneer ons Jesus Christus aanneem as ons Verlosser en Saligmaker, word hierdie volmaakte Liefde ons deel. Ons vrees vir die ewige straf – water – word vervang met God se volmaakte liefde – wyn.

 

Lees:                

Joh. 4: 18

2 Tim. 1:7

1 Kor. 13

Mediteer:

  • Vrees en liefde kan nooit in dieselfde plek bestaan nie. As ons in Vader se liefde is, het ons geen vrees nie maar vrede. Vrede en vrees kan ook nooit in dieselfde plek bestaan nie.
  • As jy vrees of angs ervaar, m.a.w as jy toegelaat het dat dit deel van jou lewe geword het, kan jy nie vrede of Vader se liefde beleef nie. Dink hieroor: Net een van dié twee kan op enige gegewe tyd jou deel wees.
  • Jesus het 'n baie duur prys betaal met Sy lewe en bloed (wyn) wat gevloei het om ons vry te koop van God se straf (water). Dit het vir die volle straf betaal sodat ons in die teenwoordigheid van Vader se liefde kan leef.
  • Alle vrese, nie net die mens se vrees vir straf nie, maar ook jou elke dag se vrees oor jou toekoms, jou finansies, die ekonomie, jou gesondheid of jou kinders se toekoms kan alles bedek word met Vader se liefde.
  • Hoe? Deur geloof in Vader se absolute liefde vir jou, dat Hy jou nooit alleen sal laat nie en dat niks in hierdie wêreld jou ooit kan skei van Sy liefde nie. Dan kan ons saam met Dawid in Ps. 23 getuig; “Al gaan ek deur ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie”.
  • Vrees = eie poging (water) moet ek uitsorteer vs. liefde/vrede = Vader se werk (wyn). Vader het reeds die werk gedoen.

 

Bid:

Vader, ek kom bely my vrese voor U  en my geloof in my eie pogings. Ek gee vandag my beheer, my geloof in myself om my uitdagings te oorkom (water) oor aan U. Ek glo en bely dat U my Vaderis wat my ongelooflik lief het en wat my nooit alleen sal los nie. Vade. wil U vir my die geloof gee wat ek nodig het om alles oor te gee aan U en om net op u te vertrou vir elke deel van my lewe. Vader, help my om in totaliteit in u liefde te wees, sodat ek u vrede kan beleef onder elke omstandigheid. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Waar daar liefde is, is daar geen vrees nie, maar die vrede wat alle verstand te bowe gaan.

Aanbidding:

No Longer Slaves(Official Lyric Video)-Jonathan David and Melissa Helser – We will not be shaken