Go Deep 16 April 2023

’n Nuwe manier, ’n nuwe lewe!

Neville Goodchild

Godsdiens teenoor verhouding

 

Dag 1: Godsdiens verdien

Daar is ’n verskil tussen Godsdiens wat jou vashou en verhouding wat jou vrymaak.

In Deut.5:6-22 lees ons van die tien gebooie. God het kliptablette vir Moses op die berg gegee. Dit was die bepalings waarvolgens die volk moes leef om God te behaag en is deur God daarop ingegraveer. Dit was die voorskrifte en indien jy een van hierdie sou breek, het jy die hele wet gebreek. Baie van ons het hierdie gebooie geleer en kon dit goed voordra. Jy weet wat jy mag doen en wat jy nie mag doen nie. Dit is die ou manier van dinge doen.

Paulus verwys na ons sondige natuur wat ons dinge laat doen wat teen die Gees is (Gal. 5:17). Hy sê in Rom.7:15 dat ons nie verstaan hoekom ons hierdie dinge doen wat ons nie wil doen nie, maar dit wat ons wel wil doen, doen ons nie. Daar is ’n oorlog tussen ons sondige natuur en die dinge van die Gees.

Wanneer ons na die Ou Testamentiese-wette kyk en fokus op werke en selfpogings, hou ons aan om te probeer reg leef om God te behaag en by Hom uit te kom. Godsdiens is die pad van moet en moenie: Die dinge wat ons moet doen en nie mag doen nie, sodat God tevrede sal wees. Dit verg inspanning om te onderhou.

Jesus Christus het tot die dood toe nie sy eie lewe liefgehad nie. Hy het sy lewe geoffer. Deur Jesus Christus se dood en opstanding het die Here vir ons ’n nuwe manier gegee.

Lees:

Deut.5:6-22

Mediteer:

  • Wanneer jy weet wat jy mag en nie mag doen nie, help dit jou om reg te leef? Hou dit jou uit sonde?
  • Hoekom het God die tien gebooie gegee, as dit nie meer geldig is nie?
  • Wat wys die optredes in my lewe. Getuig my lewe van werke en pogings om God te behaag sodat Hy tevrede met my sal wees?
  • Wat wys Jesus se optredes vir ons oor godsdiens en wette?

Bid:

Here, kom breek die waarheid vir my oop oor Godsdiens en verhouding sodat ek waarlik vry kan wees. In Jesus se Naam. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek dien die Here my God met my hele hart, siel en verstand!

Aanbidding:

Evidence – Chris & Sandy

Dag 2: Jou keuse

Godsdiens is ons poging om by God uit te kom. Dit word gedryf deur werke en is gekoppel aan die wet.

Het jy al ooit gevoel jy is nie goed genoeg nie en sal ook nooit goed genoeg wees nie? Dink ’n bietjie hieroor na. As jy sê dat jy nie goed genoeg is nie, dan sê jy ook eintlik dat Jesus Christus se offer vir jou, nie goed genoeg is nie. In watter een glo jy:  aan Jesus Christus se verlossingswerk aan die kruis, of die wet? Een van hierdie twee dra méér gewig in jou lewe. Watter een is dit?

Godsdiens verwag straf. As jy bang is vir straf, dan beteken dit eintlik dat jy bang is vir God se oordeel en dat jy nog nie die vrymakende waarheid van Jesus Christus ontdek of ontvang het nie.

Godsdiens beteken nie dat jy gered is nie en daarom is mense wat op Godsdiens staatmaak onseker van hul redding en altyd op soek na iets nuut of beter.

Godsdiens se fokus is op wat mense doen, maar wanneer jy in 'n verhouding met God staan, is jou fokus op dit wat Hý doen.

God se begeerte is na jou hele hart. Hy is ’n jaloerse God (Deut. 5:9). Hy stel meer belang in jou as wat jy dink, as wat jy kan doen, offer, of bereik. Jy is sy Geliefde!

Al wat dit verg, is om vir Jesus Christus “Ja” te sê. As jy Hom as jou Verlosser en Saligmaker aanvaar, word jy ’n kind van die Allerhoogste.

Lees:

Deut. 5:6-22

Mediteer:

  • Hoe weet ek of Jesus Christus se offer vir my ook is?
  • Wat verwag God van my?
  • Glo ek in Jesus Christus se vrymakende waarhede, of in die wet?
  • Het ek Jesus al ontvang as my Verlosser en Saligmaker?

Bid:

Here, ek ontvang U vandag as my Here, my Verlosser en Saligmaker. Ek bely dat ek ’n sondaar is en myself nie kan red nie. Dankie dat U aan die kruis gesterf het, sodat ek vry kan kom van die bande van sonde. Ek vra dat U nou die Here van my lewe sal wees en my sal help om in u weg te wandel. Kom gee vir my méér geloof in U, Jesus Christus. Maak my standvastig in U, sodat ek vry kan leef. In Jesus se Naam. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek aanbid ’n Lewende, Almagtige God en Vader en sy Seun Jesus Christus. Ek is losgekoop deur Jesus se bloed en daarom vry van die wet wat my soos ’n slaaf gemaak het. Dit is in die verlede. Nou is ek vry.

Aanbidding:

I Am Your Beloved - Bethel

Dag 3: Het jy dit?

Die tien gebooie is volmaak, maar ons leef nie meer uit vrees vir oordeel nie. Ons is vry in en deur Jesus Christus, wat beteken daar is nou geen veroordeling meer wat wag nie (Rom. 8:1). Daar is ’n beloning wat wag. Dit is net vir dié wat Jesus Christus ontken, vir wie daar veroordeling wag. Ons wat Christus ontvang het, het ’n nuwe lewe en sien uit na ’n heerlikheid waarin ons nou reeds deel het!

Dinge het nou verander. God het deur sy Gees die wet van liefde op ons harte gegraveer. Omdat ons hierdie Goddelike liefde uitleef, hoef ons nie meer bekommerd te wees oor wettisisme nie. Ons fokus het geskuif. Ons fokus is nou op God se wil, deur sy Gees (Heb. 12:1-2). Ons doen dinge nie meer omdat ons moet of nie mag nie, maar ons is betrokke daar waar die Here deur ons werk.

Daar is wel iets wat God behaag:

Dit is Geloof!

Lees:

Rom. 8:1-10

Heb.12:1-2

Mediteer:

  • Hoekom het God die Tien Gebooie gegee as dit nie meer geldig is nie? (Rom. 7:6-13; Rom. 'n 5:19-21)
  • Hoe weet ek of Jesus Christus se offer vir my ook is? (Joh.1:12; Rom.10:9-13)
  • In 'n verhouding met God
    • wil ek betrokke wees waar Hy betrokke is
    • is ek losgemaak en vry
    • word ek deur Hom geken en aanvaar
    • fokus ek op Jesus Christus
    • word ek deur geloof gedryf na die goeie werke waarmee Hy besig is
  • Wat is geloof?

Bid:

Halleluja, U is mý Koning! Jesus, my hart behoort aan U en ek is waardig om God se kind genoem te word. My waarde lê in my verhouding met U en wat U oor my sê. Ek glo Here. Ek glo. Wat U sê is waar en ek vat dit vir my. In Jesus se Naam. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek is vry, omdat ek in Jesus Christus deel het aan God se Koninkryk. Ek leef omdat ek nou God se Gees ontvang wat my ’n kind van die Allerhoogste maak. Ek het deel in Hom en daarom het ek deel in sy heerlikheid! (Rom. 8:12-17)

Aanbidding:

You Say – Lauren Daigle

Dag 4: Geloof in onsigbare dinge

Wat is geloof? Sigbare dinge het nie ontstaan uit dit wat ons sien nie. God het die sigbare geskep uit onsigbare dinge, uit niks uit nie. “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie”; “As ’n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon” (Heb.1:1-2,6). As jy dus God wil behaag, glo in Hom, vertrou in Hom (Joh.14:1).

Dit beteken nie dat ons verstaan hoekom dinge gebeur soos dit gebeur dit nie. Ons het egter ’n vaste wete dat Hy alles ten goede laat meewerk vir elkeen wat Hom lief het (Rom. 8:28).

Faith is believing BEFORE, what will only make sense AFTER - Steven Furtick

Die Here kyk nie na jou godsdiens nie, Hy kyk na jou hart. Jy sal God sien as jy rein van hart is (Mat. 5:8). Uit jou hart kom jou woorde en optredes. As jy jou woorde en optredes wil verander, bring dan jou hart voor die Here en vra Hom om jou te genees. Vergewe dié wat verkeerd teenoor jou opgetree het. Maak jou hart skoon voor die Here (Spr. 4:23). Glo in Hom en sien hoe lewende water uit jou binneste vloei (Joh.7:38).

Jesus Christus het vir die gebrokenes gesterf. Om in 'n verhouding met God te staan, beteken dat jy “Ja” sê wanneer Hy ’n poging aanwend om na jou toe uit te reik.

You need to stretch out and take his Hand!

Lees:

Heb.12:1-2

Rom. 8:1-10

Joh. 7:38

Mat. 5:8

Mediteer:

  • Hoe lyk my verhouding met Jesus?
  • Wat hou my terug daarvan om in volle oorgawe in Christus te lewe?
  • Is daar enige leuens wat ek glo?
  • Is daar enige iets in my hart wat ek voor die Here moet skoonmaak?

Bid:

Here, dankie dat U my by die naam geroep het en sê: “Jy is myne”. Dankie, dat my naam in u handpalm ingegraveer is en dat niks my van u liefde kan skei nie. U is lankmoedig, vol liefde en trou. U vul my tot oorlopens toe met u liefde en ek kan liefde uitleef na ander, omdat U my geloof versterk en strome van lewende water uit my begin vloei. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

God is Good, Always and Always God is Good! I can never out-give God!

Aanbidding:

Give Me Faith – Elevation Worship

Heart & Flesh – Leeland & Taya

Dag 5: 'n Nuwe hart

Miskien ken jy iemand of was jy al op so ’n plek waar jy gesê het “As dit is hoe ’n Christen lyk, wil ek nie een wees nie”. Die wêreld kyk na Christene en bepaal of hulle God wil ken en Jesus wil aanneem, op grond van hoe Christene optree. Ons weet as Christene dat ons elkeen uit die wêreld uitkom. Dat ons die wêreld afskud en ons nuwe lewe optel en dat dit nie altyd maklik is nie. Ons maak soms foute. Die wêreld kyk na hoe ons Jesus verteenwoordig. Die wêreld kyk of ons dade en ons woorde ooreenstem. Die wêreld kan ook gou sien wanneer ons nie opreg is nie.

Godsdiens vra dat ons eers iets doen voordat daar vergifnis is. Jesus het Homself vir ons gegee toe ons nog sondaars was. Voordat ons nog geweet het dat ons gaan sonde doen, het God reeds vir ons voorsien. Jesus is die Weg, die Waarheid en die Lewe (Joh.14:6). In 'n verhouding met Jesus Christus het ons nou nie net ’n nuwe wet nie, maar dit is ook deur God se Gees moontlik om te verander om Jesus opreg te reflekteer. God het sy wet van liefde op ons harte geskryf. Noudat ons hierdie nuwe wet van liefde op ons harte het, kan ons God se liefde uitleef na mekaar. Liefde is die vervulling van die wet. Wanneer ons God se liefde het en uitleef, dan staan ons nie onder die wet nie. Ons is ook nie bekommerd dat ons die wet sal oortree nie. In God se liefde is ons volmaak en leef ons Heilig.

Wanneer ander mense na ons kyk en hulle ons liefde vir mekaar sien, dan weet hulle ons is Jesus se dissipels (Joh.13:35). Dit is moontlik deur God se Gees en sigbaar deur ons leefstyl! (Gal.5:22).

Lees:

Joh.14:6

Joh.13:35

Gal.5:22

Mediteer:

  • Hoe kan ek seker wees oor God se liefde vir my?
  • Hoe kan ek dit regkry om God se liefde uit te leef?
  • Death was proof that Jesus was fully human, resurrection is proof that He is God

Bid:

Vader, U het my só lief dat U u Enigste Seun gegee het om in my plek die straf te neem. Dankie, dat ek ook nou kan deel hê aan u Koninkryk en in 'n verhouding met U kan staan. Ek glo dit as die waarheid omdat U u Woord hoog ag, so hoog soos Uself! Ek neem dit as die waarheid oor my lewe. Dit is nou vir my moontlik om uit u Gees te leef en goeie vrug en liefde uit te leef, in Jesus se Naam. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Die Here gee vir my ’n nuwe hart en gees, sy Gees! (Eseg.11:19;36:26)

Aanbidding:

Have My Heart – Elevation Worship