Go Deep 23 April 2023

Walking in faith and courage

Neville Goodchild

Baie sal sê jy kan nie, daar is Een wat sê jy kan in alles!

 

Dag 1: ‘n Herinnering

Hierdie lewe op aarde is vol uitdagings. Die vyand se grootste missie is nie om ons net te demotiveer of te verhinder nie, sy planne en wapens is gevorm om ons te elimineer. Die geestelike uitdrukking hiervan is om ons geloof te verloor. Dit is ‘n geestelike dood wat hy wil veroorsaak. HetUitdagende omstandighede voel baie keer effektief beplan om ons swakste plekke te teiken. In sulke tye begin ons gedagtes neig na “ek gaan dit nie maak nie”, “hier gebeur dit alweer”, “kan ek nie net verby hierdie kom nie”, of selfs “die Here is besig om my te straf.”

Wanneer ons hiermee gekonfronteer word, moet ons onself herinner aan die werk wat die Here al in ons lewens gedoen het. Ons is gered en nuutgemaak deur Jesus. Hy het ons uitverkies en deel gemaak van God se familie. Ons is nou deur Hom aangeneem as kinders van God. Deur die herinneringe van waar God ons gered het, oomblike wat ons kan onthou of doelbewus gaan merk as oomblike van oorwinning, kan ons begin om hierdie aanvalle van die vyand te verweer en te weerstaan.

“Iemand wat hierdie dinge nie sy eie gemaak het nie, is kortsigtig; nog erger, hy is blind en het vergeet dat hy van sy vroeëre sondes gereinig is. Daarom, broers, moet julle julle des te meer daarvoor beywer om deur julle lewe te bewys dat God julle geroep en verkies het. As julle hierdie dinge doen, sal julle nooit struikel nie. En dan sal daar vir julle vrye en feestelike toegang wees tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus. Om hierdie rede sal ek julle altyd aan hierdie dinge herinner, al weet julle dit en al staan julle reeds vas in die waarheid wat aan julle bekend gemaak is.” - 2 Petrus 1:9-12.

Die sleutel om nie te struikel nie is om jouself te herinner aan die redding wat Jesus vir jou gebring het en dat God jou gekies en geroep het. Elke keer wat die vyand kom en vir jou probeer sê dat jy dit nie gaan maak nie, kan jy hom daaraan herinner dat hy die vorige keer nie suksesvol was nie en dat hy hierdie keer ook nie sal wees nie.

Lees:

2 Pet. 1:9-12

Mediteer:

  • Hoe het jou redding gelyk? Kan jy dit onthou? Vertel vir jouself die storie daarvan en onthou God se goedheid deur daardie gebeurtenis.
  • Wat is die spesifieke area waar jy die grootste uitdagings beleef? Dit kan ‘n goeie aanduiding wees van ‘n swakplek wat die vyand probeer teiken in jou lewe.
  • Die Heilige Gees is vir ons ‘n Raadsman. Hy is gereed om jou te help om jou lewe te stuur wanneer jy met hierdie uitdagings gekonfronteer word.

Bid:

Vader God, dankie dat U my gered het! Dit is die beste geskenk wat ek kon ontvang. Dit is vir my ‘n baken van oorwinning en van hoop. Ek loof U, Here Jesus dat U vir my u lewe gegee het. Heilige Gees, wys vir my waar die vyand doelgerig my probeer aanval. Herinner my aan dit was Jesus en Vader God vir my gesê, gedoen, en gewys het. Leer my hoe om dit te gebruik om die aanvalle te weerstaan. Ek prys u Heilige Naam, Here Jesus! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Jesus het my gered van al my sonde, seer, skuld en skaamte. Hy sal my weer red!

Aanbidding:

Do It Again – Elevation Worship

 

Dag 2: Gemak

In alles waarin ‘n mens kan groei, is daar altyd ‘n punt wat mens kan bereik waar jy selfversekerd raak in dit. Dit is aan een kant goed, want dit maak dit maklikker om in vrymoedigheid in daardie gebied te funksioneer. Die gevaar is dat jou groei op daardie plek sal stop. Om op die plek te kom in ons geestelike groei waar ons sê, “ek is nou OK” is nie ‘n goeie plek nie, dit is ‘n gevaarlike plek. Om te aanvaar of te verklaar dat ons nou genoeg gegroei het, gaan lei na agteruitgang in stede van stabiliteit.

Jesus het bedoel dat ons groei na plekke toe waar die verantwoordelikheid vir ons te groot is, waar ons nie op ons gemak weens ons kennis of bevoegdheid kan staatmaak nie, maar moet vertrou op die krag van die Heilige Gees wat in en deur ons werk om dit wat te groot is, vir ons te kan bereik. Hierdeur kom die groei in ons geloof. Dit veroorsaak ook die ontwikkeling van ‘n goddelike karakter wat begin by nederigheid. Nederigheid sê dat dit die Here is wat ons guns en goedheid gee en dat ons nie uit onsself hierdie lewe kan laat werk nie, maar dat ons afhanklik is van sy inspraak en hulp.

Die hoër plekke waarheen die Here ons wil neem gaan vra dat ons uit ons gemak uitbeweeg en Hom vertrou vir groter dinge. Ons erkenning dat ons afhanklik is van Hom is die sleutel vir geestelike groei. In die middel van daardie ongemaklike groei leer ons om meer in die gees te wandel en die volheid van die Heilige Gees toe te laat in ons lewens.

Lees:

Jak. 1:2-4

Hab. 3:19 AMP

Fil. 1:6 AMP

Mediteer:

  • Is daar areas in jou lewe waar jy kan erken dat jy in ‘n gemak vasgevang is?
  • In wat se areas van jou lewe wys die Here vir jou uit waarin jy moet groei?
  • Is daar aspekte van lewe waar jy die las van verantwoordelikheid voel? Dit is hier waar die Heilige Gees wil werk om jou te vorm en jou karakter te ontwikkel.

Bid:

Vader God, dankie dat U al vir my so baie geleenthede gegee het om te groei. Ek vra dat U my sal lei uit die gemak uit en in nuwe plekke waar ek meer leer om in U te vertrou en my geloof te versterk. Heilige Gees, kom lei my in hierdie areas en wys vir my wat U wil hê ek moet leer. Dankie dat U getrou is oor my lewe en my groei! Ek prys u Heilige Naam, Here Jesus. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Die goed wat die Here in my begin het, sal aanhou groei en vermeerder tot die dag wat Jesus terug kom!

Aanbidding:

Oceans (Where Feet May Fail) – Hillsong UNITED

Dag 3: Julle behoort aan God

Daar is verskillende stemme wat ons hoor elke dag. Jou eie stem, die stemme van jou familie en vriende, die stemme van mense om jou, soos jou kollegas, die stem van die vyand en mense wat probeer om jou onder te kry, en die stem van die Heilige Gees. Dis belangrik om bekend te wees met die stem van die Heilige Gees, maar ook om jouself konstant te herinner aan die woorde wat Hy vir jou sê, want baie van dit wat jy gaan hoor elke dag gaan probeer om jou af te takel.

Om uit jou gemak uit te beweeg en in nuwe seisoene waar jou geloof getoets word te begin wandel kan baie uitdagend wees. Daarom is die stem van die Een wat bepaal het wie jy is en wie jy gaan word, deurslaggewend wanneer jy met hierdie uitdagings gekonfronteer word. Die woorde wat Hy vir jou gee is die wapens wat jy gebruik om valse woord oor jou lewe te beveg en te oorwin.

“Julle behoort aan God, liewe kinders, en het die vals profete klaar oorwin omdat Hy wat in julle is, groter is as die duiwel, wat in die wêreld is.” – 1 Johannes 4:4. Jy behoort aan God. Jy is sy kind. Jou waarde is bepaal deur die feit dat jy aan God behoort. Oor jy doen is die vyand se aanvalle teen jou belemmer van jou Vader is besig om vir jou op te staan en vir jou te veg.

Lees:

1 Joh. 4:4

Jes. 55:11

Mediteer:

  • Wat is die mees onlangse woord wat jy van God af gehoor het oor wat Hy van jou sê? Vat daardie woord en begin vir jouself daagliks herinner van die woord wat jou Vader vir jou gegee het.
  • Indien jy nog nie woord gehoor het nie, vra vir die Heilige Gees om vir jou woord te gee.
  • Wat se aanklagtes van woorde ervaar jy gereeld in jou lewe? Vra dat Jesus vir jou sy waarheid deel om daardie aanklagtes meer te verweer.

Bid:

Vader God, dankie dat ek aan U behoort. Ek is bly dat ek U kind genoem kan word! Ek weet dat U met my wil praat en kommunikeer. Heilige Gees, gee vir my woord om die aanklagtes en uitdagings te navigeer. Dankie Jesus dat U getrou oor my lewe spreek, my opbou en my bemoedig. Ek prys u Heilige Naam! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Die Woord van ons God sal NOOIT ledig terugkeer sonder om te doen dit waarvoor dit uitgestuur was nie!

Aanbidding:

Spirit Lead Me – Influence Music & Michael Ketterer

 

Dag 4: Is die weg reg?

Sekere paaie moet nie gestap word nie. Die Koning van Israel (in 2 Konings 6) was in ‘n oorlog teen die Arameërs. In daardie tyd was Israel nie bekend vir hulle militêre mag nie. Hulle mag was vir seker nie op dieselfde vlak as die Arameërs s'n nie, want die Arameërs was een van die mees gevreesde magte van daardie tyd. Wat die Israeliete wel gehad het, was ‘n profeet. Elisa het die Israeliete deur die insig en leiding van die Heilige Gees gelei om nie een keer deur die Arameërs in ‘n lokval gevang te word nie.

Het jy al gesien hoe jou vyande gefrustreerd raak deur die feit dat hulle niks aan jou kan doen nie? Het jy al in gespreke beland waar vyandige mense jou probeer slegpraat, maar almal met wie jy ‘n goeie verhouding het, staan vir jou op en weerspreek daardie slegte woorde. Die Arameërs se koning kon niks uitrig teen die planne waarmee vorendag gekom is nie. Dit het hom so gefrustreer dat hy begin het om agterdogtig te raak oor sy eie raadgewers.

Die Koning van Israel hoef hierdie insig en leiding van die Heilige Gees nie net eenkeer of twee keer toepas nie. Hy moes op sy hoede wees op daardie plekke waaroor die Heilige Gees gewaarsku en aan hom uitgewys het. Daar is plekke in ons lewens waaroor die Heilige Gees ons wil waarsku sodat ons nie daarheen sal gaan nie. Op daardie plekke is ons nie veronderstel om te veg nie. Vader God het bepaal dat dit die gevegte is wat Hy sal veg. Ons oorwinning is nie in dit wat ons kan uitrig nie. Dit word nie gevind in ‘n formule of ‘n leefstyl nie. Ons oorwinning is ‘n Man met die naam Jesus! Hy is die Een wat veg en oorwin namens ons op die plekke wat die Heilige Gees vir ons wys dat dit nie vir ons bedoel is nie en waarvoor ons versigtig moet wees.

Lees:

2 Kon. 6:8-10

Mediteer:

  • Na watter plekke moet jy nie gaan nie? Dit kan verwys na verhoudings met mense wat jou geloof belemmer, sosiale media wat veroosaak dat jy jouself vergelyk met ander se lewens, of selfs sondige of slegte gewoontes wat jou verhinder om te groei in jou verhouding met God.
  • Watter gevegte moet jy begin oorgee aan God?
  • Die Heilige Gees is gereed om jou te lei, maar jy moet Hom innooi en outoriteit gee om jou lewe te kan stuur en lei.

Bid:

Vader God, U weet vir watter gevegte ek nie gemaak is om te veg nie. Ek wil dit aan U oorgee. Heilige Gees, ek vra ook dat U my weglei van die lokvalle wat vir my gestel word, sodat ek die oorwinning wat God vir my gee, sal kan sien. Dankie, dat U deel is van my lewe! Ek prys u Heilige Naam, Jesus! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

My oorwinning is ‘n Man! ‘n Man wat gevul is met die diepste liefde vir my en vir my teen my vyande sal veg!

Aanbidding:

Daar Is ‘n Naam – Retief Burger

ë

Dag 5: Oorwinning

Hoe gereeld het jy al gehoor “Jesus is die antwoord!” Hoe gereeld glo jy dit? Ons raak vinnig vasgevang in die alledaagse uitdagings wat ons beleef en, alhoewel ons kennis het van Jesus wat die antwoord vir alles is, leef ons baie keer asof onsself die antwoord moet wees. Ons oorwining oor alles is in Jesus, veral die gevegte wat ons nie gemaak is om te veg nie. Daar is sekere verantwoordelikhede wat alleenlik aan Jesus behoort om aan te voldoen of te oorwin.

  • Die geveg om jouself te bewys aan ander mense. Ons merk die reaksies oor ons lewens op van mense rondom ons, en baie keer voel ons dalk dat hulle met veroordelende oë na ons kyk. Dit kan in die vlees veroorsaak dat ons reaggeer met die wil om vir hulle te bewys wie ons is. Die Woord sê dat ons nie moet bekommer oor wat ons sal sê nie, want die Heilige Gees sal vir ons die woorde gee (Mat. 10:19-20).
  • Die stryd om te probeer om op te maak vir jou verlede. Jesus is die Een wat jou verlede kom herstel. Al wat jy moet doen, is om te glo dat Hy vergifnis vir jou kom gee het, en deur genade vir jou die geregtigheid van God kom maak het (2 Kor. 5:21).
  • Die geveg om in jou gemaksone te bly. Die Here het ons nie geroep vir gemak nie. Hy beplan groei vir ons en die stryd om in ons gemaksone te bly. sal jou vermoei. Vader God het bedoel dat ons sal laat groei na nuwer en hoër hoogtes wat nuwe verantwoordelikhede en uitdagings bevat (Hab. 3:19).

Dit is alles gevegte waarvoor ons nie gemaak is nie. Jesus sal vir ons veg. Ons sal wel gevegte teëkom wat Jesus saam met ons sal veg, en waar Vader God ook vir ons leer om in geloof op te staan en die outoriteit wat Jesus vir ons gegee het, te gebruik. Dis tyd om ons energie te gebruik vir die regte gevegte!

Lees:

Mat. 10:19-20 AMP

2 Kor. 5:21 NIV

Hab. 3:19 AMP

Mediteer:

  • Is jy besig om enige van die bogenoemde gevegte te veg wat nie joune is om te veg nie?
  • Met watter ander stryd worstel jy nog wat jy voel die Here vir jou vra om aan Hom oor te gee?
  • Wat is die grootste geveg wat jy nou saam met die Here moet veg?

Bid:

Vader God, lei my weg van die gevegte waarvoor ek nie gemaak is nie en wys vir my waar ek moet fokus op dit wat waavoor ek geroep is. Heilige Gees, U lei my in alles en ek is dankbaar dat U my getrou in die regte rigting stuur. Ek prys u Heilige Naam, Jesus! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Jesus veg vir ons in alles wat buite ons beheer is!

Aanbidding:

See a Victory – Elevation Worship