Go Deep 23 Januarie 2022

PASSIONATE PEOPLE FINDING PURPOSE IN HIS PRESENCE

Neville Goodchild

MY PASSIE VIR SY WIL!

 

Dag 1: Passievol

Ons het verlede week gekyk na Purpose in His Presence. Dit wat ek in my hande het, is goed genoeg vir God om mee te werk. In God se teenwoordigheid word my volle waarde bekend, want by God is alles volmaak. By Hom kan dit wat ek het, eksponensieel vermeerder.

Hierdie week kyk ons na Passionate People! Baie mense wonder waarom ons nie net een kerk wêreldwyd het nie. Waarom is alle kerke nie dieselfde nie? Waarom verskil die uitgangspunte en prioriteite?  Selfs wanneer ons kyk na die Ou Testament, sien ons dat daar twaalf stamme was wat sekere verskille gehad het in die manier hoe hul geleef het. Hierdie was ’n profetiese uitdrukking van die breë spektrum waardes wat in die Koninkryk van die Here vervat is. Daar is ongelooflike gawes wat die Heilige Gees uitdeel en ons sien dat mense wat weet wat hulle glo en dieselfde gawes deel, bymekaar versamel.

Dit is hoekom ons moet weet wat ons vier.

Ons vier lewensverandering!

Ons vier lewens wat konstant deur God verander word!

Lees:

Ps.139:14-18

Mediteer:

  • Beleef jy vervulling van die Heilige Gees in jou lewe?
  • Watter waardes van Lewende Woord is vir jou belangrik?
  • Watter lewensverandering vier jy in jou lewe en in jou gesin se lewe?

Bid:

Here, kom gee my ’n passie vir u waardes, vir u wil in my lewe en vir u prioriteite. In Jesus se Naam. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Dit gaan goed met elkeen wat die Here dien en sy wil doen. Die vrug van jou arbeid sal jy geniet, gelukkig en voorspoedig sal jy wees.

Aanbidding:

Die Seën – Riana Nel, Retief Burger

 

Dag 2: Passionate People - Sê Ja!

Ons God is ’n verhoudings-God. Ons weet Hy werk deur mense en met mense wat “ja” sê. Daarom bid ons dat mense die deur vir Hom sal oopmaak. Baie mense is bang om “ja” te sê, want hulle is bang dat God iets van hulle sal verwag wat hulle regtig nie wil doen nie. Ons Here skop nie deure af of forseer jou in ’n hoek in nie. Wanneer jy “ja” sê en Hom toelaat, maak jy die deur oop sodat sy heerlikheid in jou lewe kan losbreek. God is bereid om baie vêr agter jou aan te loop as jy eers ingestem het. Hy sal jou nooit los as jy “ja” gesê het nie, want Hy is getrou oor jou. God se genade sal jou nooit los nie.

Baie mense het nog nie “ja” gesê vir God se werk om te begin nie. Dit is hoekom ons bid vir hul redding wat lei na wedergeboorte. Ons bid vir ’n bekeringsoomblik wat sal lei na gehoorsaamheid deur die doopwater en dan bid ons vir vervulling van die Heilige Gees.

Wanneer jy die Heilige Gees ontvang, dan kom die ware jy, soos wat God jou gemaak het na vore. Ons gawes is elkeen uniek. Wanneer ons weet wat ons doel en gawes is, dan kom ons bymekaar en leef ons Goddelike passie uit.  Elkeen met sy spesiale roeping en doel en elkeen met sy unieke uitdrukking.

We are passionate people finding purpose in His presence!

Lees:

Ps.139:14-18

Mediteer:

  • Het jy al “ja” gesê vir die Here?
  • Ons glo in bekering, om Christus daarna deur die doopwaters te volg en dan die vervulling van die Heilige Gees. Dit is ons passie om te sien dat mense ja-sê vir Jesus.
  • Dit is ons passie om te sien dat mense hul unieke gawes ontdek en daarin begin wandel.

Bid:

Here Jesus, ek sê ja vir U. Ek maak die deur oop sodat U kan inkom. Ek sê ja vir u heerlikheid om in my lewe te kom. Ek wil my hart vir U gee, U deur die doopwater volg, vervulling van u Heilige Gees beleef. Ek wil leer wat dit is om U passievol volg, in die unieke gawes te wandel wat U vir my gee en ook die lewensverandering van ander se lewens begin vier. Wys my u passie Here. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat ’n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus (Fil1.6).

Aanbidding:

I Say Yes – Kim Walker-Smith

 

Dag 3: Soveel meer

Ons wil graag ’n passie vir God se wil en sy doel vir ons lewens ontwikkel. Dit beteken dat my wil by sy wil aansluit. Hy is die Een wat waarde toevoeg bo dit wat ons kan bid of dink.

Die doel van die profetiese omgewing is juis om hierdie doel en waardes van God vir ons lewens te openbaar. Dit is nie om ’n las te plaas nie, maar om te ontdek wat God se wil is en om daarvolgens sy wil na te streef. Hoe meer ek sy doel en wil nastreef, hoe meer bring God transformasie in mý wil sodat ek kan werk volgens sy doel vir my.

Dawid ontdek en skryf ook in Psalm 139: “Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed. My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde. U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.”

Daar is ’n oomblik waarin Dawid besef hoe dankbaar hy is vir sy lewe en dat dit ’n wonder is. Tydens die oomblik van konsepsie was God daar betrokke. Dit maak nie saak in watter omstandighede jy verwek is en watter realiteite jy moes deurwerk nie. God het jou gesien, hy was betrokke en het jou kunstig aanmekaar geweef. Jou DNS-formering is uniek en daar is ’n doel met jou lewe. Jy het ’n byrae om te lewer en saam met God, in sy wil, is dit ’n fenominale bydrae. Dit is iets wat die vyand wil beperk en daarom moet ons op God se wil fokus, ’n passie vir sy doel vind, sodat ons kan loskom van die beperkinge van die vyand.

Lees:

Ps.139:14-18

Mediteer:

  • Watter gedagtes het jy oor jou lewe? As God se gedagtes oor jou soveel meer is, wat beperk jou?
  • Daar is min gelowiges wat leef met ’n passie vir die wil van die Here. Raak stil en vra die Here om in jou in te spreek wat sy wil en passie vir jou is.

Bid:

Here, ek wil al my eie idees kom neerlê voor U en vra dat U kom inspreek in my gees en U waarheid oor my lewe kom vasmaak. Ek wil U wil met ywer en passie nastreef en ek stel myself nou beskikbaar vir U om u werk in en deur my te kom doen. U gedagtes is vêr bo my eie gedagtes. Here, praat met my...

Bonus: Spreek Lewe!

Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God! Hoe geweldig is hulle volle som nie! (Ps.139:17)

Aanbidding:

I Am Your Beloved – Jonathan David Helser, Melissa Helser

 

Dag 4: Jou passie beïnvloed ander

Wanneer ons Lukas 2 lees, sien ons dat Jesus as kind presies geweet het wat sy Vader se wil is. Niemand het Hom gesê nie. Sy ouers vra Hom juis hoekom hy so met hulle gemaak het. Sy antwoord was: “Waarom het u na My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die huis van my Vader moet wees nie?”

Jesus word alleen gelos en word gevind presies waar sy passie is. Hy is besig met dit wat sy Vader se wil is.

Nogtans eer Jesus sy ouers en die Woord wys spesifiek daarop: “Hy het toe saam met hulle na Nasaret toe teruggegaan en Hy was aan hulle onderdanig”. Jesus respekteer sy verhoudings!

“En Jesus het verstandelik en liggaamlik gegroei en in guns by God en die mense toegeneem”.

Ons sien dat Jesus sy passie uitleef, sy verhoudings respekteer en dat Hy groei. Sy gesag en outoriteit het toegeneem. Dit het alles gebeur toe Hy Hom begin besig hou met die dinge van sy Vader. Op 12 jarige ouderdom het Jesus reeds die tekens begin wys van God se roeping in sy lewe. Toe Jesus ontdek wat God se wil is en daarvolgens begin lewe, het sy passie vir Hom doel gegee en Hy het invloed begin uitoefen op die gemeenskap rondom Hom.

Lees:

Luk.2:42-52

Ps.139:14-18

Mediteer:

  • As jy vir twee weke kans het om te doen wat jy wil, waar sal mense jou vind? Waarmee sal jy besig wees?
  • Wat is God se gedagtes oor jou lewe?
  • Watter tipe invloed het jy in ander mense se lewens?

Bid:

Here, ek bring my eie wil voor U, om die knie te buig voor u wil. Ek gee my siel oor om sy knie te buig voor U. Laat my passie u passie wees. Ek kies om van vandag af doelbewus u wil vir my lewe na te jaag. In Jesus se Naam.

Bonus: Spreek Lewe!

Ons vind Jesus presies daar waar ons onsself moet vind. Passie vir die wil van die Here beteken dat ek doelbewus sy wil najaag!

Aanbidding:

You are the Lord – Passion

 

Dag 5: Vind, volg en vervul

In die verlede, met al die gevolge van die oorlog, was daar min geleenthede en ’n groot agterstand. Die kuns van die lewe in daardie tyd was om nuwe geleenthede aan te gryp. Om “ja” te sê vir geleenthede. Vandag is daar ’n massa geleenthede en die uitdaging vir hierdie generasie is om te leer om op die regte tyd "nee" te sê. Daar is soveel geleenthede en ons het alles tot ons beskikking. Ons wil ywerig die Here dien, maar ons moet weet wat die Here se wil is, sodat ons op die regte tyd “ja” kan sê vir die regte dinge en “nee” vir dit wat Hy nie vir ons beplan het nie.

Daar is baie sensasie en ons stryd is teen ongehoorsaamheid. Die oomblik toe Jesus in sy passie begin beweeg, het Hy ’n rede gekry nee te sê vir ongehoorsaamheid. Ons moet leer hoe om ’n passie vir God se doel te ontwikkel sodat ons onsself nie in ’n warboel bevind en God se wil vir ons lewens misloop nie. Om God se wil te vind, is profeties. Om God se wil te volg, is gehoorsaamheid. Om God se wil te vervul, is ’n geestelike beloning.

God se wil vir my lewe bring vervulling!

Lees:

Luk.2:42-52

Ps.139:14-18

Mediteer:

  • Wat beteken dit om ’n passie te hê vir God se wil?
  • Hoe kan ek die ongehoorsaamheid in my eie lewe hanteer?
  • Wat moet ek doen om God se wil vind?
  • Hoe kan ek God se wil volg?
  • Hoe sal ek van nou af God se wil vir my lewe vervul?

Bid:

Here, sal U asseblief vir my profeties wys wat u wil is vir my lewe en my help om in gehoorsaamheid u wil te volg met passie. Dankie, dat ek ’n geesgevulde lewe kan lei as 'n beloning vir my passie en gehoorsaamheid aan u wil. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Hier vind, volg en vervul ons God se wil!

Aanbidding:

Where You Go I Go – Bethel Church