MINDSETS: Hoe om te begin dink soos God
Neville Goodchild
My experience plus God’s presence is enough!
My ervaring plus God se teenwoordigheid is genoeg!
Dag 1: Die geveg
Wat veroorsaak paniek of angs in jou lewe? Ken jy dalk die simptome van angs, en is jy so bewus van die teenwoordigheid van probleme in jou lewe? Miskien sukkel jy om mooi te identifiseer wat presies die angs veroorsaak. Die oomblik wanneer jy bewus raak van angs wat inkruip, is jy nie meer direk bewus van wat dit veroorsaak (ge-trigger) het nie.
Die amigdala is die naam van 'n klein gedeelte aan die onderkant van jou brein. Hierdie gedeelte word geprogrammeer op grond van jou traumatiese en emosionele belewenisse. Dit is die deel in jou brein wat jou aktiveer om in sekere situasie te veg of te vlug. Vorige traumatiese en emosionele gebeurtenisse word as sulks in hierdie gedeelte van jou brein geprogrammeer. Wanneer jy dan in jou huidige omstandighede weer dieselfde gebeurtenisse ervaar, sien, hoor, ruik of daaraan vat, aktiveer dit hierdie gedeelte van jou brein om jou te waarsku. So kry jy waarskuwings wat jou herinner aan vorige ervaarde pyn of trauma, en dit maak jou gereed om te veg of te vlug.
Die prefrontale korteks is 'n ander breinggedeelte waar jou realistiese denke plaasvind. Hierdie gedeelte maak jou bewus van jou realiteite.
Die prefrontale korteks (wat jou op realiteite wys) en die amigdala (wat jou herinner aan die verlede en dat jy moet baklei om jouself te beskerm) verkeer die hele tyd met mekaar in ’n interne stryd. Wat is in die middel? Dit is die breinstof, die dinge wat elke dag in jou lewe gebeur, en dit sluit die volgende in: jou werk, verhoudinge, dit wat jy moet doen en onthou, dit wat vir jou kosbaar is. Hierdie vorm die slagveld in die battles of the mind. Die een gedeelte sê vir jou: bly weg, oppas, moenie vertrou nie, moenie gee nie! Die ander gedeelte sê vir jou: dit is okei, almal doen dit, jy kan dit maar doen, dit is veilig!
Wat is jou oorkoepelende gedagtes? Dié een wat die sterkte is, sal wen en jou lewe bepaal.
Lees:
Mediteer:
- Wat is die trauma/pyn wat in jou gedagtewêreld op jou huidige realiteite inbraak maak?
- Kan jy hierdie pyn vir die Here gee en Hom vertrou om ’n herprogrammering van jou gedagtes te doen?
- Vra die Here om vir jou te wys hoe Hy hierdie deel van jou lewe sien.
Bid:
Here, dankie vir u waarheid en u perspektiewe wat my kom vrymaak van die geveg in my gedagtewêreld. Ek kom gee my verlede, my herinneringe, trauma en pyn vir U, in ruil vir u realiteite. Ek kom stel my huidige perspektiewe en realiteite oop vir inspraak. In Jesus se Naam. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Dit is hierdie deel van jou brein waarna God toegang wil hê. Hy wil inspraak lewer op die slagveld van jou gedagtewêreld.
Aanbidding:
Dag 2: Veertig dae in ruil vir een dag
Ons lees in 1 Kon. 18 van die geweldige bonatuurlike oorwinning wat die profeet Elía deurgemaak het. Hy, een man, het ’n magtige oorwinning deur God bereik toe hy op sy eie al die 850 profete van Baäl met sy swaard gedood het. Toe Isébel daarvan hoor, was sy op Elía se spoor. Hy het gevlug vir sy lewe. Terwyl Elía vlug, kom hy op ’n plek waar hy vir God sê, “Dit is genoeg, neem nou my siel weg, Here, want ek is nie beter as my vaders nie”. Na so ’n hewige oorwinning kom Elía op ’n plek in sy lewe waar hy sê:
- Ek is moeg.
Hoe vinnig kan ’n mens val vanaf ’n vurige plek van oorwinning tot by ’n plek van depressie/neerslagtigheid? ’n Mens wat nie aandag gee aan sy eie gesondheid nie, is kwesbaar vir emosionele ineenstortings. Elía kon doodeenvoudig nie nog slegte nuus hanteer nie. Die feit dat daar gesoek word na hom, laat hom tuimel vanaf die grootste oorwinning na ’n plek van depressie. Dit gebeur in ’n oomblik.
- Ek het nie meer waarde nie.
Elia sê hy verstaan nie meer hoekom hy lewe nie, omdat hy nie beter as sy vaders is nie. Hy sê eintlik hier iets oor selfwaarde, want hy sê sy vaders (wat reeds oorlede is) is op ’n beter plek as hy.
Daar is iets in hierdie gedeelte oor die progressiewe val van ’n mens wat ons moet verstaan. Hy het veertig dae en veertig nagte lank geloop tot by die berg van God, Horeb. Dit neem Elía een dag tot by die besembos van selfbejammering, maar 40 dae tot by die berg van Horeb, waar hy vernuwing by God kry. Wanneer jy op ’n plek van selfbejammering beland, waar jy in ’n oomblik besluit dat jy nie meer verder wil nie, volg daar ’n baie lang nadraai om weer tot op ’n plek van herstel te kom.
Jou negatiewe denke beïnvloed jou vermoë om God te sien in jou omstandighede en beïnvloed ook jou pad na herstel.
Lees:
Mediteer:
- Is daar iets waaroor jy jouself jammer kry?
- Wat is jou gesprek met God of met jouself, jou gedagtegang oor hierdie aspek van jou lewe?
- Wat is God se perspektief oor hierdie saak/sake?
Bid:
Here, hierdie selfbejammering oor (noem dit) kom gee ek vir U. Sal U asseblief u waarheid en u perspektief hieroor vir my kom openbaar? In Jesus se Naam.
Bonus: Spreek Lewe!
Wanneer ons in ’n plek van bejammering verval, laat ons nie plek vir God se Gees om te kom werk nie.
Aanbidding:
Where You Go I Go – Brian Johnson and Lindsey Strand
Dag 3: Hy is hier!
Elía kom by Horeb aan: die berg van God. Die Here vra vir Elía wat hy daar maak – nie omdat die Here nié weet nie. Hy weet goed en Hy wil ’n saak aan Elía stel.
''En Hy sê, 'Gaan uit en staan op die berg voor die aangesig van die HERE.' En kyk, die HERE het verbygegaan, terwyl ‘n groot en sterk wind die berge skeur en die rotse verbreek voor die HERE uit; in die wind was die Here nie. En ná die wind ‘n aardbewing; in die aardbewing was die Here nie. En ná die aardbewing ‘n vuur; in die vuur was die Here nie." (1 Kon.19:11-13)
Elía is moeg geveg en hy is besig om vir sy lewe te vlug. Hy is alleen en uitgebrand. Op hierdie plek waar Elía homself in 'n veg-en-vlug-toestand in isolasie bevind, speel groot tonele van mag voor hom af. Tonele waarteen ’n mens klein, hulpeloos en nietig staan. Ons wil dikwels groot aksies van God af sien om Hom te ervaar in ons tye van stryd.
"En ná die vuur die gesuis van 'n sagte koelte. En toe Elía dit hoor, het hy sy gelaat met sy mantel toegedraai en uitgegaan en by die ingang van die spelonk gaan staan. En daar kom 'n stem na hom wat sê, 'Wat maak jy hier, Elía?'" (1 Kon.19:11-13)
Dit is hier waar Elía besef: God is hier. Hy bedek homself omdat God hier is, in die sagte gesuis van ’n koelte. God skreeu nie, Hy fluister in die sagte koelte. Dit is maklik om kennis te neem van groot gebeure, maar wat verg dit om te kan hoor wanneer God vir ons fluister? Wat moet jy doen om Sy stem te hoor?
Dit verg die bewustheid dat God baie naby is. Dit is om te wéét: God is hier!
Lees:
Mediteer:
- Die bewustheid van probleme is die onbewustheid van God.
- Die bewustheid van God is ’n rede vir oorwinning!
- God se teenwoordigheid help ons om te aanbid in tye van angstigheid.
- Wanneer raak jy stil om te luister?
Bid:
Here U is hier, naby my, by my. Praat Here, ek luister...
Bonus: Spreek Lewe!
Dit is ironies dat Elía beteken “Elohim is my Yahweh” – Die Almagtige God is my Here!
Aanbidding:
Mention of Your Name – Brian & Jenn Johnson
Dag 4: Mind of Christ
Die wêreld sê, “Mind over matter”. Dit is menslike pogings om uitkomste te bestuur. ’n Poging om nugtere denke te laat seëvier! ’n Edel gedagte in die omgewing van gedagtes. Jou gedagtewêreld sal jou altyd beperk tot jou eie vermoëns en jou bind aan al die gevolge van jou self-pogings, tot tyd en wyl die Heilige Gees sy woning vind op die grondgebied waar alle geestelike oorlog gevoer word. Die Gees van God soek toegang tot die grondgebied waar jou gedagtes gevangene geneem kan word en aan die gedagte van God gehoorsaam gemaak kan word!
Die Gees van God wil toegang kry tot daardie plek in jou brein tussen die Amigdala en die prefrontale korteks, sodat jy Rhema by die Here kan ontvang. Dit is hier waar die Gees van God wil werk. Wie toegang kry (God of die vyand) bepaal wat jy sien, hoor en verklaar. Jou ore, oë en mond is die poorte, en dié een wat jy toelaat om oor jou gedagtewêreld te heers, sal alles oorheers wat jy sien, hoor en ervaar. As die Heilige Gees nie toegang kry nie, dan word jy gevange gehou tussen jou trauma en pyn (jou veg-en-vlug-reaksies), en jou realiteite. Die Here wil vir jou Rhema Woord gee: ’n openbaring tussen jou reaksies en rasionele denke. Dit is hoekom dit so uiters belangrik is om jou gedagtes gehoorsaam te maak aan Christus!
Lees:
Mediteer:
- Jou eie gedagtes sal jou altyd beperk tot jou eie vermoëns en jou bind aan al die onvermydelike gevolge van jou self-pogings.
- Waaraan stel jy jou oë, ore en mond bloot?
- Wat moet jy doen sodat God se Gees toegang tot jou gedagtewêreld kan kry, sodat jy Rhema kan ontvang?
Bid:
Here, ek stel my verlede en my realiteite oop vir u Heilige Gees. Ek nooi U om openbaringe aan my bekend te maak. Ek is bewus van u teenwoordigheid. U het die vermoë om oorwinning te gee in elke area van my lewe, insluitend die poorte van my gedagtewêreld en die slagveld van my gedagtewêreld, waar die vyand probeer verwoes. Dankie, Jesus vir u bloed wat gevloei het sodat ek my gedagtes tot U kan rig en dit aan U gehoorsaam te maak. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Bewustheid van God bring oorwinning in elke area my lewe!
Aanbidding:
Dag 5: Wees bewus
Wanneer ons vergeet van God, vergeet ons om met God te praat. As ons nie fokus op sy teenwoordigheid nie, dwaal ons gedagtes af en ons lewens volg vinnig dieselfde rigting!
Dit is tyd dat ons God se teenwoordigheid beoefen! Ons moet onsself en mekaar daaraan herinner dat God hier is, sodat ons aanhoudend sal bid.
Terwyl Paulus gemartel en geboei in die tronk is, is sy woorde: "Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: verbly julle! Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby. Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus" (Fil. 4:4-7).
Hoe is dit moontlik dat iemand wat so gemartel is en in boeie staan, steeds kan sê, “Wees bly en wees vriendelik?"
Ons moet weet waarna ons op soek is hier onder in die spelonk of bo-op die berg. Die Here vra, “Wat soek jy hier?” Loop jy die risiko dat ander vir jou voorsê hoe jy jou geloof moet uitoefen? Wat maak jy hier?
Leer jouself. Word bewus van God. Verbly jou in Hom. Hy is naby. Practice his Presence!
Die beginsel wat hier geld, is: Die Here is naby! Beoefen sy teenwoordigheid!
Lees:
Mediteer:
- As ons op ’n plek is waar ons onsself probeer red en waar ons lewens deur ons trauma bepaal word, het God nog nie gekom nie.
- Terwyl ons bewus bly van ons probleme, bly ons onbewus van God.
- Nagmaal is ’n goeie herinnering aan God se teenwoordigheid.
- Maak jou behoeftes aan God bekend.
- Dit gaan nie oor die hoeveelheid tyd wat jy in afsondering verkeer en besig is met God se woord of om te bid nie. Dit gaan daaroor dat jy God deel moet maak van elke asemteug wat jy neem. Hy is so naby aan jou as wat jou fokus op Hom is!
Bid:
Here, ek wil met alles wat in my is, u Naam prys. U is hier, U is by my, U is naby. U teenwoordigheid seën my en herstel vrede in my gemoed. Ek word stil en weet, U is die HERE.
Bonus: Spreek Lewe!
As ons fokus op God se teenwoordigheid, belyn ons ons gedagtes met Hom en ons lewe volgens sy wil!
Aanbidding:
In Christ Alone my hope is found – Adrienne Liesching and Geoff Moore