GENADE
Neville Goodchild
Genade en geregtigheid
Dag 1: Genade reeds ontvang
Ons het Sondag tydens die kerkdiens die amusante video gekyk van hondjies wat hulle eie sterte jaag. Ons lyk partymaal ook so: besig om iets na te jaag wat ons reeds het. Dit was snaaks in die geval van die hondjies, maar wanneer ons in ons eie lewens die genade probeer najaag wat ons eintlik reeds het, draai die storie tragies uit. Ons is dan altyd besig om God te vra vir iets wat ons reeds ontvang het. Vir seën, gesondheid, bevryding, voorspoed, ens. Ons beland in 'n posisie waar ons bakhand staan soos 'n bedelaar, terwyl ons eintlik 'n koningskind is.
Net omdat ons nie die seën, gesondheid, ens. reeds in die fisiese ervaar het nie, beteken dit nie dat ons dit nog nie ontvang het nie. In die geesdimensie is alle genade reeds op ons uitgestort. Ons het genade in 'n oomblik ontvang, alles op een slag, in een oomblik toe ons wedergebore is. Ons sonde is alles bedek en word ons nie toegereken nie. Dit is klaar. Reeds gedoen.
Hoekom glo ons dat God enige iets kan doen en gee, maar soms glo ons ook dat Hy dit nie reeds gedoen het nie? Ons sien soms genade as 'n eindbestemming, terwyl dit eintlik 'n afgehandelde saak is. Met die koms van Jesus Christus ontvang ons reeds genade wat God se krag in ons lewens volkome geaktiveer het tydens die hemelvaart, en dit word ten volle op ons uitgestort wanneer ons wedergebore word.
Aan die einde van die Mattheus-evangelie lees ons dat Jesus sy dissipels beveel het om dissipels van mense te maak en nuwe gelowiges te doop in die naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Wanneer bekering, die doop, handeoplegging en lidmaatskap van die kerk kort op mekaar volg, soos ons daarvan in Handelinge 2 lees, breek die krag van God binne 'n baie kort tyd na afloop van bekering los.
Paulus is so bewus van die noodsaaklikheid van hierdie kort opeenvolgende gebeure wat nodig is in bekeerlinge se lewens dat hy, tydens een van sy sendingreise aan Efese, pertinent aan hulle vra of hulle al die Heilige Gees ontvang het. Wanneer hulle “nee” antwoord, is sy volgende vraag dadelik wie hulle gedoop het. Paulus weet dat die regte vrae die regte antwoorde oplewer. Nadat hulle vir hom sê dat hulle met die doop van Johannes gedoop is, stuur hy hulle onmiddellik in die regte rigting en gee hulle opdrag om met die doop van Jesus Christus gedoop te word – wat hulle dan doen. Ná hierdie doop lê hy dadelik hande op vir die ontvangs van die Heilige Gees. Wanneer daar baie tyd en selfs jare tussen bekering, doop en handeoplegging verloop, vind daar dikwels onnodige trauma plaas.
Met die enkele gebeurtenis van Jesus se kruisiging, soos ons in Romeine 5 lees, het ons 'n oorvloed van genade en geregtigheid ontvang. Óf die dood heers, soos ons ou lewe voor bekering, doop en handeoplegging manifisteer, óf 'n oorvloed van genade en geregtigheid heers in ons nuwe lewe as nuwe skepsel.
Genade is die skakel na 'n lewe van geregtigheid en heerskappy. Dit lanseer jou in 'n lewe van geregtigheid in. Dit is iets wat sonder die kruis nie bereikbaar sou wees indien jy dit uit jou eie probeer bereik het nie.
Lees:
MATTHEUS 28:19
Mediteer:
-
Besef ek dat ek reeds alle genade ontvang het toe ek wedergebore is?
-
Verstaan ek dat dit 'n afgehandelde saak is? 'n Vertrekpunt en nie 'n eindbestemming nie?
Bid:
Here, help my om te besef dat ek reeds alle genade ontvang het en nie meer smekend daarvoor hoef te wees nie. Maak dit in my vas dat ek, a.g.v. die kruis, 'n oorvloed van genade ontvang het en kan leef met u genadewerk as 'n afgehandelde saak.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek het reeds alle genade deur wedergeboorte ontvang.
Aanbidding:
U GENADE'S VIR MY GENOEG – MARCEL ZIMMER
Dag 2: Identiteit van geregtigheid
Gister het ons gesien dat ons alle genade in een oomblik tydens wedergeboorte ontvang het. Volgens Romeine 5:17 het ons dan nie net 'n oorvloed van genade ontvang nie, maar ook 'n gawe van geregtigheid. Genade was net God se manier om geregtigheid in ons lewens te kom vestig.
Wanneer die woord geregtigheid direk vertaal word, beteken dit letterlik "identiteit". Ons identiteit behoort in die afghandelde werk van die kruis te wees, in die lewe ná bekering, doop en handeoplegging. Ons behoort ons identiteit te vind in 'n lewe nadat alle genade reeds onvang is.
Ons ontvang 'n geskenk van geregtigheid (lees ook identiteit): 'n identiteit van geesvervulde oorwinnaar. Ons het ons ooreenkomstige grondgebied ook so deur genade ontvang, en ons behoort nie weer daardie grondgebied prys te gee nie. Ons behoort nie genade te meet aan sigbare sonde in ons lewe nie. Daardie dinge is nie daar omdat ons nog nie die genade ontvang het nie, maar eerder omdat ons nie ons posisie van geregtigheid ingeneem het en volkome daarvolgens leef nie. Geregtigheid is weereens, soos genade, nie iets wat ons nog moet bereik nie. Ons sondes is reeds bedek deur die genade en ons kan nou net ons plek as geregtige opneem.
Daar is vandag in die Christenkultuur 'n neiging om pleitend voor die Vader te staan en Hom te probeer oortuig dat ons die moeite werd is. Dit is egter nie nodig nie. Jy kan ná wedergeboorte onmiddellik jou plek van geregtigheid inneem omdat God jou waarde lankal gedefinieer het en die hoogste prys vir jou betaal het. Wanneer ons nóú sondig, hoef ons dit bloot te bely en weer aan te beweeg. Ongelukkig raak baie Christene oorbewus van hulle sonde en wonder dan of genade ooit vir hulle genoeg kan wees. Ons moet vir eens en altyd klaarmaak met hierdie sondementaliteit, anders sal ons nie die lewe as oorwinnaars kan leef nie.
As ons nog nie oorwinning in ons lewens beleef nie, is dit nie omdat die Here nog nie iets vir ons gedoen het nie – dit is eerder ek en jy wat dit nie in ontvangs geneem het nie, en dan hou ons aan soek na iets wat ons reeds het.
Lees:
Mediteer:
-
Lewe ek in oorwinning of het ek nodig om my posisie as geregtige weer in te neem?
Bid:
Here, help my asseblief om in my posisie as geregtige vas te staan. Help my om nie soekend te wees na genade wat ek reeds ontvang het nie. Help my om in oorwinning te lewe. Vergewe my dat ek nie altyd my plek as kind by u tafel inneem nie. Help my om tot 'n diep besef te kom dat genade my reeds in 'n plek van geregtigheid in gelanseer het en dat ek kan lewe met dít as my fondasie wat klaar gelê is.
Bonus: Spreek Lewe!
My sonde is deur genade bedek, daarom kan ek in oorwinning as geregtigde lewe.
Aanbidding:
Dag 3: Kopskuif
As ons reflekteer oor waarna ons die afgelope paar dae gekyk het, kan ons onsself afvra: Wat moet ek ánders doen om te kan aanbeweeg vanaf 'n aanhoudende genadesoek na 'n lewe van geregtigheid? Die antwoord is: Net 'n kopskuif, want die res is reeds afgehandel.
Kom ons kyk 'n bietjie na die storie van die verlore seun as 'n voorbeeld. Die een dag sit hierdie seun nog tussen die varke en vergaan van die honger, en kort daarna sit hy aan sy pa se tafel en die vetgemaakte kalf word aan hom bedien as 'n feesmaal. Die verlore seun was in die varkhok nog steeds sy pa se kind, maar hy het gekies om in die varkhok te sit. Hy moes net opstaan en gaan aansit by sy pa se tafel. Sy selfpersepsie van waardigheid was heel moontlik nie baie goed terwyl hy in die varkhok gebly het nie. Hy moes duidelikheid kry oor wie hy is en werk aan sy selfbeeld. Hy moes onthou wat sy erfdeel was. Dit was nog altyd sy erfdeel, maar hy moes kies om dit te gaan opneem. Hy moes sy posisie verander. Hy moes onthou wie hy is. Hy gaan dan terug na sy pa se huis en hy kry onmiddellik toegang. Dit was ook nie voorwaardelike toegang nie.
Ons kan ook maar weer die gebed van Jabes gaan lees. Dit is 'n gebed van smeking. Ons hoef nie vanuit dieselfde posisie tot God te smeek nie; ons kan ons versoeke vanuit die troonkamer van God aan God rig. Ons hoef nie te smeek nie. Ons is ál die genade waardig wat reeds aan ons betoon is, omdat God dit voor die skepping so bepaal het. Ons is deur Christus skoongewas en opgerig in geregtigheid. Daarom kan ons nou vanuit hierdie posisie lewe. Ons behoort onsself nie as armsalig te sien nie, want dit is ons beslis nie wanneer God na ons kyk nie. Hy sien ons immers skoongewas deur die bloed van die Lam.
Ons het 'n baie hoë waarde wat nog voor die grondlegging van die aarde deur God bepaal is. Dit is tyd dat ons na onsself begin kyk soos God ons sien, ná die kruis. Om in hemelse plekke geposisioneer te wees,is nie 'n eindbestemming nie – dit behoort ons vertrekpunt te wees.
Lees:
Mediteer:
- Sien ek myself as 'n onwaardige wurm of vleklose koningskind?
-
Neem ek my posisie as koningskind in en handel ek volgensmy erfdeel? Of moet ek nog die kopskuif maak?
Bid:
Here, help my asseblief om myself te sien soos U my sien, sodat ek kan lewe as u skoongewasde kind. Help my om my denke te vernuwe, Here. Gee my 'n nuwe lus daarvoor om u woord te lees en, sodoende, die waarheid oor wie ek is ten volle te verstaan. Vergewe my dat ek soms minderwaardig voel. Help my om my werklike waarde te erken en besef. Help my om geanker te word in u waarheid.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek staan gereinig en sonder vlek voor God.
Aanbidding:
Dag 4: Nie meer honger of dors nie
Gister het ons gesien dat dit nodig is om vanuit 'n plek van oorwinning as 'n koningskind te leef. Dit is ongelukkig nie die realiteit vir almal van ons ná ons wedergebore is nie. Wanneer ons nie hierdie kopskuif maak nie, bly baie Christene in 'n desperate plek agter. Hopeloos, teneurgedruk, laagtepunt, kragteloos.
Wat bedoel ons eintlik as ons die woorde van die bekende liedjie sing: “Lord I am desperate for you?” Wat verklaar ons hiermee? Bedoel ons: “Here ek het U lief en soek U meer as enige iets anders?” Indien wel, dan is ons op die regte spoor.
As ons egter daarmee bedoel: “Here, ek is hopeloos in my omstandighede, en sien geen uitweg nie. Ek is angstig, maar ek probeer terugbaklei en net nie opgee nie.” Dan sit ons die pot mis.
Laasgenoemde is 'n “verlore” perspektief op die afgehandelde werk van Jesus. Desperaatheid is op pad daarheen om te ontdek dat die werk van Jesus Christus volledig en finaal was! Al gaan ons as gelowiges deur moeilike tye, word my posisie en geestelike realiteit nooit daardeur op die spel geplaas nie. Dit word my belydenis wanneer ek saam met God verklaar dat alles reeds waar is, afgehandel is en aan my behoort, omdat ek in Christus ingesluit is. Wanneer ek die waarheid bely, begin ek om saam met God te praat. Hierdie belydenis behoort teen my omstandighede te spreek wanneer my omstandighede in teenstelling met die waarheid is.
Wat beteken dit om honger te wees vir die Here? Om meer van God te verlang is reg, maar honger beteken gewoonlik seer, pyn, depressie en vervwerping. As dít is wat my honger na die Here beteken, is ek besig om iets te mis. Ek vertrou dan verkeerdelik dat ek die Here moet oortuig van hoe swaar ek kry en dat Hy dit miskien sal verander. Dit is egter die teenoorgestelde van God se woord.
Lees bietjie vandag se skrifgedeeltes. God sê dat as ons na Hom toe kom, sal Hy ons dors vir ewig les en ons sal nooit weer honger wees nie.
Ons moet God soek in alles wat ons doen, maar nie omdat ons nog nie ons genade ontvang het nie. Nee, eerder omdat ons sy Teenwoordigheid so geniet dat ons soveel as moontlik daarin wil wees. Ons moet egter van die waarheid en sy Teenwoordigheid bewus wees, want ons het dit reeds ontvang en ons kan daar vertoef. Ons hoef nie soos 'n bedelaar buite die deur te wag nie, en ons kan die troonkamer enige tyd binne gaan en ons toekoms saam met God uitleef.
Lees:
Mediteer:
-
Wat is my belydenis? Wat kom uit my mond uit? Is ek desperaat honger vir God, of praat ek saam met Hom die waarheid oor my afgehandelde realiteite?
Bid:
Here, vergewe my dat dit wat by my mond uitkom nie altyd in lyn is met u waarheid nie. Vergewe my dat ek soms hopeloos, terneergedruk en kragteloos voel. Here, help my asseblief om hierdie dinge af te lê en my belydenis in lyn met u woord te bring. Maak my asseblief van voor af bewus van wie ek werklik is en hoe my verhouding met U veronderstel is om ná my wedergeboorte te werk.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek hoef nooit weer dors te wees nie.
Aanbidding:
I Am Your Beloved - Jonathan David Helser, Melissa Helser
Dag 5: God is nie stil nie
Kom ons dink na oor die laaste vier dae se dagstukkies. Ons sien dat genade nie 'n bestemming is nie, maar God se manier is om ons in geregtigheid te vestig. Ons moet lewe vanuit 'n plek van heerskappy. God het beplan dat ons ná wedergeboorte a.g.v. genade in ons geregtigheid moet groei. Ons sien dat ons 'n kopskuif moet maak en ons denke bevry deur die waarheid te verkondig wat God ons in sy woord leer. Verder sien ons dat, wanneer belydenis so in lyn kom met wat God sê, ons dan saam met Hom leef.
Dan moet aan onsself vra, "Hoor ek Hom?" As ek beleef dat God stil is, is iets nie reg nie. God is nie stil van geaardheid nie en Hy is nie teruggetrokke nie. Hy het 'n opinie oor alles. In God se hart droom Hy oor geen oomblik waarvan jy nie deel is nie en God sê, “Ek sal alles volgens my behae laat werk.” So, as Hy stil is, beteken dit dalk ek nog steeds iewers vashaak.
Haak ek dalk nog by genade vas? Is my doelwit dalk nog steeds om bevryding te ervaar? Dis nie waar ek moet vashaak nie. Ek moet in my verhouding met God bely teenoor Hom, en dan gebeur bevryding vanself a.g.v. van my belydenis. Bely is uit die die woord homologos vertaal, wat "werk saam met God" beteken. Ek bely en groei in my geregtigheid vanuit die plek van heerskappy.
Ons dink soms dat ons deur die kruis en wedergeboorte terugebring word na ons verhouding met God soos dit was in die tuin van Eden, voor die sondeval. God het ons egter nog hoër uitgelig as voor die val van die mens. Die kruiswerk bedek die sonde, sodat ons ten spyte van die sonder heers. Die kruis doen dít wat ons nie kan nie. Ons kry deur genade die kans dat sonde nie die hooftema van ons lewens hoef te wees nie. Genade bevry. Die afwatering van genade laat ons vashaak a.g.v. sonde. As ons ná wedergeboorte sondig en ons bely dit, word ons bevry. Hy is getrou wanneer ons nie is nie en Hy was ons skoon. Ons word voortdurend skoongewas. Hy kyk na ons met ander oë as waarmee ons sien. Hy sien ons vlekkeloos. “Beauty is in die eye of the beholder.” God sien ons op 'n wonderlike manier, en Hy wil graag 'n lewende verhouding met ons hê.
Lees:
Mediteer:
-
Indien ons God lanklaas met ons hoor praat het, kan ons onself afvra: wat het hy die laaste maal vir ons gesê voor hy ‘stil geraak’ het? Is dit miskien dat Hy my iets gevra het wat ek nog moes doen?
Bid:
Here, dankie dat U ons nog hoër en nog nader aan U gebring het as wat Adam in die tuin van Eden was. Help my om hierdie voorreg te benut deur soveel tyd as wat ek kan saam met U deur te bring. Help my om bewus te raak van U in alles wat ek doen. Dankie vir die kruis. Dankie dat ek gereinig voor U kan staan en in 'n verhouding met U kan wees. Leer my, o Heer, om met U te praat.
Bonus: Spreek Lewe!
God wil 'n verhouding met my hê – ons kan gesels.
Aanbidding: