THRONE-ROOM THOUGHTS
Neville Goodchild
Ons is alreeds volmaak verklaar!

Dag 1: Die implikasie en impak van ‘n watergraf
Joh. 3:1-5 Die implikasie van die doop as 'n watergraf van die ou self vind 'n dieper betekenis in die gedagtes wat die apostel Paulus in Kolossense 3 uitbeeld. Paulus nooi die gelowiges uit om hulself geestelik te verplaas na die troonkamer van God, om hul fokus en begeertes te rig op die dinge van bo, waar Christus is. Hierdie oorgang van die ou lewe na die nuwe lewe in Christus word simbolies uitgebeeld deur die doop as 'n watergraf.
Rom. 6:4 (NIV). “We were therefore buried with him through baptism into death in order that, just as Christ was raised from the dead through the glory of the Father, we too may live a new life.”
Ons het ‘n nuwe lewe, ons moet dit net besef. Dit is asof die skille van ‘n vorige lewe vir altyd afval en in die water agter ons bly. Die opstaan uit die water van die doop is ook ‘n opstanding uit die dood van die ou self. As gelowiges herleef ons in 'n nuwe gesindheid en 'n nuwe houding teenoor God en medemens en ons kyk nie heeltyd terug na ons sonde nie. Die implikasie van die doop as 'n watergraf van die ou self lê dus daarin dat dit 'n radikale transformasie en oorgang verteenwoordig. Dit is 'n simboliese daad van die begrafnis van die ou self en 'n geestelike hergeboorte tot 'n nuwe identiteit in Christus. Hierdie nuwe identiteit beteken dat jy deel van God word en in Sy troonkamer is. Dit is jou geboortereg.
Lees:
Mediteer:
- Hoe hanteer jy skuldgevoelens (sondegevoelens)?
- Is dalk in ‘n omgewing waar jy gereeld aan jou sonde herinner word en wat doen jy daaraan?
Bid:
Here, ek wil graag leer hoe om die krag wat u vir my gegee het positief in my lewe en tot eer van U koninkryk te gebruik. Herinner my dat ek nie in my ou graf van sonde hoef te krap nie, ek is vrygemaak, kwytgeskeld, gered, heilig in U oë.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek is heilig. Ja, selfs ek, is heilig in Jesus Christus.
Aanbidding:
Forever be praised – John Wilds

Dag 2: Verplaas jou gedagtes
Soms laat ons toe dat ons vleeslike ervarings, ons verlede, ons sondebewustheid en skaamte ons verhinder om die volle seën van ‘n lewe in die troonkamer saam met Jesus te ervaar. Dis asof ons ingestel is op die “ek is skuldig” gevoel en alles deur ‘n bril van skuldgevoelens bekyk. Ons fokus is verkeerd. Dit is glad nie wat God vir ons beplan nie en dit verhinder ons om die effekte van die koninkryk te sien.
Rom. 8:32 (NIV): “He who did not spare his own Son, but gave him up for us all—how will he not also, along with him, graciously give us all things?”
Kom ons dink mooi oor die bostaande vers. God het sy Seun vir ons gegee. Sy Seun. Die mees waardevolle geskenk wat Hy kon gee. Hoe op aarde sal Hy nie ook alles anders gee nie? Hoekom sal Hy ons besig hou met skuldgevoelens as Hy ons klaar gered het? In Rom. 8:33 lees ons dat God ons regverdig maak. Dit is belangrik om dit te verstaan.
Hy beskuldig ons nie. Niks kan ons van die liefde van God losmaak nie.
Ons is uitverkorenes, ten volle gered, volmaak verklaar en lewenslank op ‘n reis van groeiende heiligwording. Ons hoef nie rond te hang tussen skuldgevoelens nie, ons moet ons gedagtes verskuif en vreugdevol en vrymoedig leef in die besef dat ons alreeds vry is van die aanklag van sonde.
Lees:
Mediteer:
- Ondersoek, ontdek en bespreek die gevolge van jou wedergeboorte en die feit dat jy in die troonkamer welkom is.
Bid:
Dankie Vader, dat U my volmaak verklaar het, dat niemand my weer kan aankla nie. Dankie dat ek my plek in U troonkamer met selfvertroue kan inneem. “All my life You have been faithful, all my life You’ve been so so good. I will sing of the Goodness of God.”
Bonus: Spreek Lewe!
Ek is volmaak verklaar, daarom kan ek my sondebewustheid en skuldgevoelens afgooi.
Aanbidding:

Dag 3: Die realiteit van Jesus se kruisdood en opstanding
Een van die maniere hoe ons ons fokus weg kan skuif van geestelike minderwaardigheid en begin om te konsentreer op die feit dat ons reeds volmaak is, is om te vas. Eetgewoontes het ‘n bepaalde ritme wat soms die vleeslike ‘n vashou gee oor die gees. Deur te vas skuif ons met opset ons fokus na die geestelike en kan ons die gevolge van Jesus se kruisdood intens ervaar. Dit gee ons die geleentheid om doelbewus op troonkamergedagtes soos die onderstaande te fokus.
In Hebreërs 10:14 (NLV) staan daar:” Deur sy een offer het Hy al sy mense vir altyd volmaak geheilig.” ‘n Mens wil dit eintlik afbreek om dit beter te laat insink.
Wie het ‘n finale offer gebring? God het Sy Seun geoffer.
Vir wie se onthalwe is die offer gebring? Vir al Sy mense – dis ons.
Wat is die terme van hierdie offer? Dit geld vir altyd en ons is volmaak geheilig.
Hierdie offer staan reëlreg teenoor die gebruike in die Ou Testament (Moses se wette) om ‘n dier se bloed te offer. Wanneer die mense ‘n offer gebring het, is die sonde vergewe, maar die bewustheid van sonde is nie weggevat nie. Die persoon was nog steeds geklassifiseer as ‘n sondaar. (lees ook Heb. 9:9-10) Hierteenoor word wedergeborenes nooit sondaars genoem in die Nuwe Testament nie. Wanneer Paulus byvoorbeeld met die Korintiërs praat, noem hy hulle heiliges, ten spyte van hulle sondes.
Jesus se kruisdood het ons heiligmaking tot gevolg. Ons is reeds vry van sonde verklaar, niemand kan ons meer aankla nie.
Lees:
Mediteer:
- As niemand ons van sonde meer kan aankla nie, is dit nie tyd dat ons ophou om onsself aan te kla nie?
- Sou jy bereid wees om ‘n dag lank te vas? Hoe sou jy dit aanpak?
Bid:
Vader, dankie vir U offer wat my vrygemaak het. Dankie dat die fokus nie meer op my sondebestaan is nie, maar op my redding. Dankie dat U nie vingerwysend op ons sonde fokus nie, maar dat U hand oop is en ons naderwink na U troonkamer.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek is heilig, want God sê so.
Aanbidding:
Goodness of God – Jenn Johnson

Dag 4: Oorwinning
Ons is wedergebore, gedoop en het die ou self in die water agtergelaat. Die gevolg hiervan is dat ons volmaak is, heilig is en dat ons gesag het in Christus Jesus. Ons volmaaktheid is nie ‘n eindbestemming nie, ons is reeds gekroon daarmee. Dink hieroor: ons wegspringblokke is geanker in volmaaktheid. Ons begin ons geestelike reis as vrygemaakte wedergeborenes wat in die troonkamer van Jesus sit. Ons lewensreis is ‘n pad van progressiewe heiligwording.
1 Kor. 15:57 (NIV): “But thanks be to God! He gives us the victory through our Lord Jesus Christ.”
Die feit dat ons die oorwinning deur Jesus Christus se kruisdood ontvang het, gee ons die gesag om met vrymoedigheid en oortuiging te bid. Ons hoef nie te pieperig te pleit nie. Die naam van Jesus is bo alle name. Daarom kan ons met gesag, oorgawe en vrymoedigheid bid.
Die feit dat ons nog steeds sonde doen, beteken nie dat hierdie gesag van ons weggeneem word nie. God het goed geweet dat ons nog steeds sal sondig op aarde, maar het ten spyte daarvan Sy Seun gestuur om te sterf namens ons. Hy het ons volmaak verklaar wel wetend dat ons nog sal sondig. Dit beteken nie dat ons maar net kan aangaan en doelbewus sonde pleeg nie (Rom. 6:1). Ons geestelike reis is ‘n opwaartse kurwe van sukses, sonde diskwalifiseer ons nie. Jesus het ons gekwalifiseer.
Lees:
Mediteer:
- In watter aspekte van my lewe kan ek met meer gesag in Jesus Christus leef?
- My sonde kan my nie meer aankla nie, maar ek het ‘n verantwoordelikheid om myself met troonkamergedagtes besig te hou.
Bid:
Hemelse Vader, Ek dank U dat ek volmaak is in Christus Jesus. U genade het my aangeraak en my verander na Sy beeld. Mag ek elke dag hierdie waarheid omhels en nie deur twyfel of vrees laat afwyk nie. Laat my lewe 'n weerspieëling wees van die heerlikheid van U genade en die werk van Christus aan die kruis. Help my om te leef met die sekerheid dat my identiteit in Hom is, en om Sy liefde en genade met ander te deel. In die naam van Jesus bid ek, Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek kan met gesag bid, want ek sit saam met Jesus in die troonkamer van God.
Aanbidding:
That’s the Power – Hillsong Worship

Dag 5: ‘n Troonkamer-openbaring
Wat beteken Jesus se offerande en die feit dat Hy ons volmaak verklaar het vir ons wat daagliks nog hier op aarde ‘n bestaan moet voer? Eerstens gee dit ons die geleentheid om ‘n intieme verhouding met God in Sy troonkamer te hê.
Die uitdrukking:“Ek is volmaak,” is nie ‘n hoogmoedige uiting nie, maar die erkenning van ‘n geestelike realiteit, ‘n troonkamer-gedagte. Sonde diskwalifiseer ons nie, want ons word nie meer beoordeel deur ons eie verdienste nie, maar deur die geregtigheid van Christus. Ons hoef ons nie besig te hou met voortdurende skuldgevoelens nie, want daar is geen veroordeling vir diegene wat in Christus is nie. God roep ons nie op om in die verlede van sonde vas te steek nie, maar Hy lei ons na 'n nuwe toekoms van genade en herstel.
As ons tyd spandeer deur te fokus op die waarheid van God se genade en ons identiteit in Christus, sal ons lewens van nature in die rigting van verheffing, vryheid en vreugde beweeg. Ons kan die invloed van negatiewe gedagtes en skuldgevoelens verwerp en eerder konsentreer op die wonderlike werk wat Jesus in ons doen. Ons kan met verwagting vooruitkyk, wetende dat ons deur die krag van die Gees voortdurend meer en meer gelyk aan Christus word.
Lees:
Mediteer:
- Daar is baie stukkende mense, selfs wedergeborenes, wat nie die realiteit besef dat hulle reeds as volmaak verklaar is nie. Wat kan ons doen om hulle daarvan bewus te maak?
- Is daar nog gedagtes in my lewe wat op die negatiewe fokus? Hoe verander ek dit?
Bid:
Vader, leer my hoe om my gedagtes op U te rig sodat ek ontslae kan raak van die negatiewe dinge wat my weghou van troonkamerervarings. Ek wil meer tyd met U spandeer, ek wil nader aan U kom en ek wil U vrede ervaar in elke aspek van my lewe. Help my om hierdie waarheid te omhels en nie in vrees en twyfel te verval nie.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek is ‘n wedergeborene, my ou lewe lê in ‘n watergraf en ek is volmaak verklaar deur my Herder.
Aanbidding: