Go Deep 30 Januarie 2022

 

PASSIONATE PEOPLE FINDING PURPOSE IN HIS PRESENCE

Neville Goodchild

Ontdek die waarde van sy teenwoordigheid!

 

Dag 1: Wanneer God opdaag

Ons het die afgelope week gekyk na mense wat passievol is oor God se wil in hul lewens en om God se wil na te jaag; sodat ons vervulling in ons eie en ook in die van ander se lewens kan beleef.

Soms glo ons en ons weet wie ons is, maar kry dit nog nie reg om dit uit te leef nie. Hierdie week staan ons stil by Presence.

Ons kom uit verskillende kerkomgewings. In sommige van hierdie omgewings het ons al gehoor mense praat van hoe hulle die teenwoordigheid van die Here beleef het in ’n diens, of dat die glorie van die Here geval het. Mense het ’n sekere manier van praat. Ons moet wel onsself afvra: “wat glo ons” en “waarmee is ons besig?” Net soos wanneer daar gepraat word oor die wapenrusting wat ons elke dag moet aantrek. Hoe trek ons dit aan? Miskien eerder, hoekom trek ons dit uit? Wat is die teologie waarmee ons besig is? Dikwels glo mense dat die glorie van God net kan manifesteer as die omgewing en alles binne die omgewing perfek reg is.

In die Ou Testament lees ons dat God in die tempel woon. Dit was tydelik gewees. Vandag leef ons in die nuwe testamentiese tyd, ons is nie meer in hierdie bedeling onder die wet nie. Ons moet die regte vrae begin vra omdat ons glo! In Christus is ons vry, in Christus heers ons! God daag nie meer op nie. HY IS REEDS!

Lees:

Rom. 9:26

Mediteer:

  • Voor Jesus Christus het God die tempel besoek en daar gemanifesteer. Waar is God nou?
  • Wat glo ek oor God se teenwoordigheid?
  • Watter realiteite tref my wanneer ek bewus word van God se teenwoordigheid? Wat is die vrae wat by my opkom? Voel ek veroordeel of geliefd?

Bid:

Here, somtyds voel U vêr van my af, of ek voel vêr van U af. Dankie, dat U die waarheid van u teenwoordigheid in my lewe kom vasmaak, sodat ek alle twyfel en denke wat nie met U belyn is nie, kan afskud, in Jesus se Naam. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek is ’n tempel van die Lewende God!

Aanbidding:

Here Again – Rheva Henry

 

Dag 2: Die Here is hier

Dit is belangrik dat ons die regte vrae vra.

Wat beteken Presence (teenwoordigheid) van die Here?

Hoekom beleef ons die Here tasbaar in ’n oomblik van worship (lofprysing en aanbidding) en dan later nie? Wat gebeur tussen die oomblik van aanbidding en wanneer ons huis toe ry, of Maandagoggend wat aanbreek? Waar is die Here dan? Verlaat die Here ons? Ons ervaar die Here wanneer ons bymekaarkom, maar dink dikwels dat die Here kom en dan weer vertrek. Waarheen vertrek Hy? As ons in hierdie oomblik die Here nie so tasbaar beleef nie, waar is Hy dan?

Gedurende die vorige bedeling was dit so dat die Here die tempel besoek het nádat die priesters ’n klomp rituele uitgevoer het. God het verskyn en dan weer die tempel verlaat. Ons lewe vandag nie meer onder daardie bedeling nie. Jesus het gekom en dit verander!

Ons ervaar wel sulke ongelooflike oomblikke, veral tydens aanbidding. Ons raak maklik verward en daarom is dit belangrik dat ons hieroor dink. Ons kom maklik op ’n plek waar ons dink dat dinge van Sondag alleenlik aan Sondag behoort; dat die Here dáár was. Hoekom dink ons dat ’n geleentheid so spesiaal is? Dit is omdat al die elemente tydens ’n diens belyn en bymekaarkom om vir ons geleentheid te gee om in aanbidding te kom. Wanneer al die dinge, wat gewoonlik ons aandag aftrek, uit die weg geruim word, dan raak ons bewus. Ons raak bewus van die Here en dit is makliker om uit die vlees uit te kom en in die Gees te beweeg.

Dan raak ek bewus dat God hier is, omdat Hy nog die hele tyd in my was!

Lees:

Rom. 9:26

Joh.17:3

Mediteer:

  • 'n Deel van my erfenis is God wat IS, en ek is sy tempel.
  • Waarvan word ek bewus wanneer ek die Here se teenwoordigheid tasbaar beleef?
  • Skep ek oomblikke vir myself om uit die vlees te kom en in die Gees te wees?

Bid:

Here, ek word stil in u teenwoordigheid en skuif alles rondom my opsy, sodat ek op U kan fokus. Ek raak nou bewus van U in my en om my.

Bonus: Spreek Lewe!

My realiteite verander in God se alomteenwoordigheid!

Aanbidding:

I Love Your Presence – Jenn Johnson

 

Dag 3: My realiteite

In God se teenwoordigheid word ek van twee realiteite bewus. Hierdie realiteite openbaar vir my baie. Eerstens, word ek bewus van sy teenwoordigheid en, tweedens, word ek bewus van myself in God se teenwoordigheid.

Wanneer ek bewus word van God se teenwoordigheid, ervaar ek óf dat God ’n veroordelende God, óf 'n liefdevolle Vader is. Wat ek in hierdie bewuswording glo, is belangrik. Glo ek dat Hy vir my of teen my is? As ek glo dat Hy teen my is, my verwerp of veroordeel, gaan hierdie bewustheid my aanbidding beperk. Hierdie beperking sal my in ’n konfrontasie plaas elke keer wanneer ek moet aanbid, want ek sal aanhou om minderwaardig te voel. Ek sal spanning beleef en voel ek moet myself nagaan om seker te maak ek is op die regte plek vir kerk. Ek voel God gaan my uitsorteer as ek opdaag. Wanneer ek bewus word van God se teenwoordigheid, word ek ook bewus van myself in sy teenwoordigheid. As ek beleef dat God ’n God is wat straf of veroordeel, sal ek aanhoudend daaraan dink of ek dit verdien of nie. My gedagtes sal bly fokus op wat het ek alles verkeerd of reg gedoen het. Hierdie belewenis gaan net oor myself. Het ek dit hierdie week gemaak of nie? As ek dit nie gemaak het nie, is die belewenis sleg. Hierdie gaan alles net oor myself.

Dit is nie veronderstel om oor myself te gaan nie, maar oor Jesus. As ek glo dat Hy my liefhet, sal ek vryheid beleef wanneer ek bewus is van sy teenwoordigheid. Wanneer ek besef dat Hy my onvoorwaardelik liefhet, sal ek ervaar dat God my liefhet as seun of dogter.

Dit gaan oor die plek wat ek in God se realiteit het. Ek het ’n plek, ’n posisie as seun of dogter by Hom.

Lees:

Rom. 9:26

Joh.17:3

Mediteer:

  • Waarvan raak ek eerste bewus in die teenwoordigheid van God?
  • Wat glo ek van hierdie God wat ek aanbid?
  • Wat beteken dit dat God my sien as sy seun of dogter?
  • Watter plek neem ’n seun of dogter in ’n ouerhuis in?

Bid:

Here, wat ’n ongelooflike verligting, dat ek in u teenwoordigheid kan kom sonder ’n skuldgevoel. U is nie ’n God wat veroordeel nie. In Jesus Christus is ek vrygekoop en geregtig! Ek kan na U toe hardloop, U aanbid, my hande opsteek in die lug en op my knieë voor U val, want U het my lief! Dankie, Pappa!

Bonus: Spreek Lewe!

Ek is nie ’n verlore seun of dogter nie; ek het die pad teruggevind!

Aanbidding:

Run to the Father – Cody Carnes

 

Dag 4: My waarde in sy teenwoordigheid

Volgens Rom. 9:26 is die teenwoordigheid van die Here die plek waar ek seun of dogter van die Lewende God genoem word.

Wanneer ek in my pa se huis instap, is ek sy seun of dogter. Ek is ook ’n man of vrou, ’n pa of ma, ’n werkgewer of werknemer, 'n deel van die publiek. Die oomblik wat ek in my pa se huis instap, word ek bewus van hierdie feit: dat ek sy seun of dogter is. By my pa is dít my identiteit.

Die verhaal van die verlore seun is nie wonderlik omdat hy verlore geraak het nie, maar omdat hy ’n roete terug vind na sy Vader. God is ’n God van tweede en derde kanse. Hierdie kanse beteken nie dat ek daarvan misbruik kan maak nie, maar dit vertel my van die posisie wat ek inneem in sy huis. Hy wil my intrek met sy goedheid, want deur sy goedheid aan my te bewys, sal die Here nasies nader trek na Homself! Hierdie plek waar God my het, is ’n plek waar my verlede nie langer ’n maatstaf en verwysing na my waarde is nie.

Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie. 2 Kor. 5:16

Die verlore seun staan onskuldig voor sy vader asof hy nooit weg was nie. Hy moes wel terugkeer om die omhelsing van sy vader te ervaar. Hy het nie teruggekeer na ’n pa wat hom wil straf nie, maar na ’n vader wat uitgekyk het vir hom en hom van vêr af sien aankom het en hom tegemoet gehardloop het!

Dit is wat dit beteken om in die teenwoordigheid van die Here te wees. Om nie ’n dienskneg sonder waarde te wees nie, maar volgens Hom ’n seun of dogter wat uit die genade en goedheid van ’n Hemelse Pa, LEEF!

Lees:

Rom. 9:26

Joh.17:3

2 Kor.5:16

Mediteer:

  • In my aardse pa se huis het ek nie altyd bekwaam of waardevol gevoel nie, maar deur Jesus Christus is ek altyd welkom en bekwaam by my Hemelse Pa.
  • My waarde hang nie van my verlede af nie, maar van wat God oor my sê en die waarde wat Hy aan my heg.
  • My Pa kyk die hele tyd uit vir my!
  • My identiteit lê in Christus se afgehandelde werk, sodat ek as seun of dogter van die lewende God kan heers!

Bid:

Vader, dankie dat U nog altyd uitkyk vir my. Dat U die hele tyd uitgekyk het vir wanneer ek terugkom na U toe. Dankie dat U my met oop arms ontvang en my omhels met hartlikheid. Dankie, dat U my verlede nie teen my hou nie en dat my verlede verby is. U sien my as u seun en dogter en U ontvang my soos ’n eregas. Dankie, dat ek welkom is in u huis, Here.

Bonus: Spreek Lewe!

Die teenwoordigheid van die Here is die plek, die realiteit waar ek genoem word seun of dogter van God!

Aanbidding:

Sons and Daughters – North Point Worship

 

Dag 5: Sy beeld

Wat is dit wat ons terugtrek na aanbidding toe? Hierdie lewe gaan nie net oor worship en kerk nie, maar om by die Vader te wees en die Vader te ken. Dit is om oorwinning en deurbrake te vier saam met my Pa! Dit is die plek waar ek deel in God se heerlikheid.

En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ’n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is. 2 Kor. 3.18.

Wanneer ek uitkom onder die wet van veroordeling en in die waarheid van Christus Jesus staan, in ’n nuwe lewe en met ’n doel, word die sluier gelig en ek kan die waarheid in die spieël sien. Wanneer ek in ’n spieël kyk, sien ek dan nie meer myself nie. Volgens 2 Kor 3:18 word die sluier gelig sodat, wanneer ek in die spieël kyk, ek die die heerlikheid van die Here sal aanskou. Dit beteken dat ek die heerlikheid van die Here in myself sien. Dit beteken dat hierdie plek waar ek staan, waar ek in die spieël kyk, die plek is waar ek myself nie meer raaksien nie, maar God se genade en God se beeld raaksien.

Hy verander my gedaante om aan Hom gelyk te word!

Lees:

Rom. 9:26

Joh.17:3

2 Kor.5:16

2 Kor.3:18

Mediteer:

  • Wat sien ek wanneer ek in ’n spieël kyk?
  • Hierdie plek waar God my sien as sy seun of dogter, is ’n plek waar die sluier (veroordeling) gelig word. God het my na sy beeld geskape en daarom kan ek in aanbidding voor Hom staan. Hierdie plek is die spieël waar ek ontdek hoe God dit sien en dat Hy my aktiveer as seun of dogter. Ek staan nie onder veroordeling nie, maar in sy genade.
  • Kan ek permanent in God se teenwoordigheid staan?

Bid:

Vader, U het my na u beeld geskape. Ek het so gesukkel om hierdie waarheid as die waarheid oor my lewe te ontvang. Dankie, dat U die sluier afhaal, sodat ek U kan ontdek: U wat binne-in my is en leef! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Die afbeelding van die keiser se kop op 'n muntstuk gee aan daardie muntstuk waarde: sy koopkrag. Net so is ek na die beeld van God geskape. Daarom ontdek ek God wanneer ek in die spieël kyk.

Aanbidding:

Sons & Daughters – Vineyard Worship