Go Deep 16 Oktober 2022

Die kerk op ‘n missie

Melton van der Merwe

Dag 1: ‘n Wins vir die Koninkryk

Openbaring is vir baie mense moeilik om te verstaan. Ons gaan vandag kyk na drie hoofpunte wat ons uit die boek kry:

  • Jesus gaan weer kom. Daar gaan ‘n wederkoms wees.
  • In die tussentyd het die Here vir ons ‘n missie gegee om te voltooi.
  • Daar is sperdatum vir ons missie om afgehandel te word.

Ons missie is om hel te plunder en om die hemel te bevolk. Aangesien ons tyd beperk is moet ons intensioneel wees en fokus op die werk wat die Here vir ons gegee het om te doen. 

In die gelykenis van die ponde verloop die storie so: Daar was ‘n persoon wat belangrik was as gevolg van sy afkoms. Hy het weggegaan om sy koningskap te gaan ontvang. Voordat hy weggegaan het, het hy aan tien van sy diensknegte elk ‘n pond gegee om mee wins te maak terwyl hy weg is. Toe hy teruggekom het, het hy rekenskap van hulle geëis oor hoe hulle sy geld gebruik het en watter wins hulle gemaak het. (Luk.19:12-15)

Hierdie klink baie na ons storie. Jesus het na die hemel gegaan om vir ons ‘n blyplek voor te berei. Totdat hy weer terugkom, het Hy aan ons ‘n opdrag gegee om na al die nasies te gaan en die mense Sy dissipels te maak en hulle te doop in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees.

Ons doelwit is dus om mense wat nie gered is nie, bloot te stel aan die evangelie en saam met die Heilige Gees te werk, sodat meer mense Jesus sal aanneem en sal oorgaan van die hel na die Koningkryk van God.

Die beloning is dat daar mense in die Koningkryk van God sal wees as gevolg van die werk wat Hy met Sy Heilige Gees deur ons in ander se lewens gedoen het. Dit is die wins van die Koninkryk van God – siele wat gered is. 

Lees:

Luk. 19:12-15

Hand. 17:1-17

Mediteer:

  • Dink daaraan dat Jesus se laaste woorde voor Hy opgevaar het, was dat Sy volgelinge moet gaan dissipels maak van alle nasies reg oor die wêreld.
  • Elke gelowige is ingesluit by hierdie laaste groot opdrag.
  • Baie mense is bekommerd oor dat die wêreld tot ‘n einde gaan kom. Die feit is egter dat baie miljoene mense voor daai tyd self tot ‘n einde gaan kom, sonder wedergeboorte.
  • Die kerk se missie is om hierdie laaste opdrag uit te voer. Is jy deel van hierdie missie?
  • Jy kan ook deel wees van hierdie missie, net daar waar jy is.

Bid:

Dankie Vader dat ek ook kan deel wees van U groot opdrag. Vader ek stel myself vandag beskikbaar as ‘n deelnemer in U koninkryk. Vader wil U deur U Heilige Gees vir my wys waar en hoe ek moet deelneem aan die uitbreiding van U koninkryk. Vader gee my ‘n hart vir mense wat U nodig het en maak my oë oop om daagliks raak te sien wat U wil hê ek moet raaksien. Amen.

Spreek Lewe!

Ek is n wedergebore kind van God wat op ‘n missie is saam met my gemeente om mense in die koninkryk van God in te bring.

Aanbidding:

Arise (Official music video) – Gillaume & Rene Worship

Dag 2: God seën die werk van ons hande

Moses het opdrag gekry om die Tempel van God te bou. Dit is duidelik dat dit ‘n verskriklike groot projek was en Moses kon dit nie alleen doen nie. Moses het nie die vaardighede gehad om die Tempel volgens God se spesifikasies te bou nie. Daar was ‘n man uit die stam van Juda met die naam van Besalieël wat baie vaardighede gehad het.

Eksodus 39:43 “En Moses het die hele werk bekyk – en hulle het dit gemaak soos die Here beveel het, so het hulle dit gemaak. Toe het Moses hulle geseën.”

Elkeen van ons het ons eie vaardighede, talente, gawes en persoonlikheid. Die Heilige Gees sal ons lei en ons toerus, om ons deel by te dra aan die werk van die Here. Moses het die opdrag gekry om die Tempel te bou, maar God het Besalieël en baie ander mans en vroue, wat toegerus was met die nodige vaardighede, gebruik om die missie te voltooi. Daar is ‘n deel van God se missie wat vir elkeen van ons bedoel is. Dit wat ons met ons hande doen en bydra uit ons menswees, is aanbidding en bring eer aan God. Dit verheerlik God en bring Sy voorskrifte en plan tot werklikheid. Daar rus seën op die werk van ons hande en op ons funksionering op aarde. Ons moet ons dus beskikbaar stel om saam met die liggaam van Christus, die Koninkryk te bou volgens God se spesifikasies. God het ons nie geroep om alleen Sy werk te doen nie, maar Hy roep ons as ‘n liggaam.

Lees:

Eksodus 37 tot 39

Mediteer:

  • Dink vandag bietjie aan die talente en gawes wat die Here vir jou gegee het. Die vyand wil altyd graag hê dat ons moet glo dat daar tog niks is wat ons kan bydra tot die werk van die Here nie en wil graag hê ons moet minderwaardig wees en nie sien wat die Here vir ons gegee het nie.
  • Raak ‘n bietjie stil en vra dat die Heilige Gees vir jou sal openbaar wat God vir jou gegee het, wat jy kan bydra tot die missie om die Koninkryk te bou. Dalk is dit geduld om met ou mense en gestremde kinders te werk; vriendelikheid; kunstigheid of iets wat ons met ons hande kan doen; bemoediging; vertroosting vir mense wat smart beleef. Miskien kan jy mooi sing of musiek maak. Jy kan geseënd wees met tegniese vaardigheid of meganiese vaardigheid wat by die funksionering van die kerk kan bydra.
  • Kom in voeling met God se missie. Vra die Here om jou te belyn met Sy plan vir jou en dit wat jy moet doen.
  • Neem ‘n besluit om betrokke te raak en by te dra waar die Heilige Gees jou lei.
  • Moenie liggeraak wees nie. Onthou net dat elke instelling het sekere riglyne waarvolgens dit funksioneer. Jy sal moet aanpasbaar wees en elke verandering verg skaafwerk om in ritme te kom. Mense word partykeer ontmoedig, omdat hulle in hulle gedagtes ‘n verwagting skep en wanneer alles nie verloop soos hulle gedink het nie, kry hulle seer en onttrek. Dit is ‘n manier waarop die vyand mense neutraliseer.
  • Onthou dat dit wat ons bydra deel is van aanbidding en dat God daardeur verheerlik word. Dit is nie persoonlik nie. Dit is deel van ‘n groter werk wat God verheerlik en God se seën aktiveer in jou lewe.

Bid:

Onse Vader wat in die Hemel is, laat U Naam geheilig word. Laat U Koninkryk kom. Laat U wil geskied in die Hemel, net so ook op die aarde. Vader, dankie dat ek weet dat ek is geskep na U gelykenis om U hande en voete op aarde te wees. Ek bid Here dat hierdie dag ‘n gawe aan U sal wees en dat U my sal lei deur U Heilige Gees. Vernuwe my gedagtes en skep in my ‘n rein hart Here wat U verheerlik. Maak my bewus van dit waarmee U besig is om my en waar U wil hê ek moet betrokke wees. Laat my funksionering vandag vir U glorie bring. Ek bid Here dat U my sal lei en die werk van my hande sal seën. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

In Christus is ek toegerus met alles wat ek nodig het om God se wil te doen, om my werk te doen in die kerk se missie en God te verheerlik. Ek meld aan Here.

Aanbidding:

Lord I give you my heart – Hillsong – Song of Praise and Worship

Dag 3: Kom ons werk saam

Eph.4:15-16 (Amp) “But speaking the truth in love [in all things-both in speech and our lives expressing His truth], let us grow up in all things into Him [following His example] who is the Head - Christ. 16) From Him the whole body [the church, in all its various parts], joined and knitted firmly together by what every joint supplies, when each part is working properly, causes the body to grow and mature, building itself up in [unselfish] love.

God het ons lief met Sy perfekte liefde. Hy wil elke mens versoen met Hom in Christus. Christus is die hoof van die liggaam. Die liggaam is die kerk en verteenwoordig Christus in die wêreld. Ons moet dus so leef dat die wêreld Christus in ons kan sien en na God getrek word.

Die eerste ding wat ons moet besef is dat die kerk is nie ‘n gebou nie, maar elkeen van ons wat kinders van God is, verteenwoordig die kerk. Ons moet liefdevol die waarheid in Christus uitleef waar ons elke dag is. Mense wat nog na God toe moet kom, gaan nie elke Sondag na ‘n kerk toe nie, maar ons kom elke dag met mense in aanraking. Waar ons dus ookal gaan moet ons God se liefde uitleef.

Tweedens moet ons besef dat Christus is die hoof, die leierskap van die kerk. Ons moet ingestel wees op die stem van die Heilige Gees te hoor en Koninkryk georïeenteerd wees. Ons kan dus nie op onsself ingestel wees nie. Christus het in die tyd wat Hy op die aarde was vir ons gewys wat dit is om tot die dood toe gehoorsaam te wees en die bruid (die kerk, die Koninkryk) eerste te stel. Dit is ons doel op aarde.

Derdens het God nie bedoel dat ons elkeen soos ‘n eiland op ons eie moet funksioneer nie. Hy het elkeen van ons toegerus met spesifieke talente, gawes, ‘n unieke persoonlikheid en die Heilige Gees. Hy het in Sy alwysheid ons afhanklik gemaak van mekaar in die liggaam van Christus. Die Woord gebruik die prentjie van die liggaam so dat die oog kan nie hoor nie en die oor kan nie praat nie. Elkeen van ons het ‘n rol om te vervul.

Wanneer iemand ‘n orgaan oorplanting ondergaan is die grootste bekommernis of die persoon se liggaam die nuwe orgaan gaan aanvaar of verwerp. Die orgaan is lewensbelangrik vir die liggaam om te oorleef, maar omdat die liggaam nie die orgaan ken nie en dit vir hom vreemd is, is daar die gevaar dat die liggaam die orgaan kan verwerp. Dit is baie keer moeilik vir mense wat in die liggaam van Christus is om ander mense wat anders as hulle lyk, dink, aantrek, praat en doen te aanvaar. Dit is ook die grootste gevaar in die liggaam van Christus dat mense oor hulle verskille verdeeldheid veroorsaak in die liggaam. Die Woord sê dat ons is ‘many parts’, maar ons is een liggaam. Ons moet fokus daarop om Christus in ander mense te waardeer en hulle andersheid te omarm. Daar is mense wat beter deur daardie persoon bereik kan word as deur my, aangesien daardie persoon beter met daardie persoon gaan identifiseer as met my. Ons het mekaar nodig.  

Lees:

Matt.28:19

Hand. 1:8

Eph. 4:15-16 (Amp)

Mediteer:

  • Jy is uniek met unieke persoonlikheid, talente, belangstellings, gawes en ook ‘n unieke wêreld waar jy funksioneer. Daar is niemand soos jy nie en niemand het dieselfde invloedsfeer as jy nie.
  • Dink bietjie aan jou daaglikse leefwêreld, waar jy werk, ontspan of sport beoefen en dink bietjie aan al die mense in daardie plekke.
  • Is al hierdie gesigte gered en kom hulle in kontak met die Woord en goeie nuus van Jesus?
  • Mense in jou leefwêreld sien jou, hou jou dop en leer om jou te ken op grond van jou optrede.
  • Dink jy jou manier van lewe sal mense op die langduur nader trek na God toe?
  • Dink daaraan dat jy die enigste Bybel is wat baie mense in jou leefwêreld ooit sal lees.

 

Bid:

Vader, maak my oë oop vir die mense in my leefwêreld. Help my om die vrug van die Gees uit te leef, sodat mense U in my kan sien. Vader ek maak myself beskikbaar, sodat U deur my die mense in my leefwêreld kan bereik. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek is ‘n wedergebôre kind van God wat saam met ander kinders van U op ‘n missie is om mense aan U bekend te stel.

Aanbidding:

CAIN – The Commission (Official Music Video) 

Dag 4: Wees ‘n dissipel

Dissipelskap is ons missie as die liggaam van Christus. Ons moet eers self leer om dissipels te wees voordat ons dissipels van ander mense kan maak. Jesus se dissipels het Hom drie jaar gevolg en gesien wat Jesus doen.

Buiten die voorbeeld van Jesus het ons ‘n hart vir verlore mense nodig. Ons moet mekaar liefhê. 1 Kor.13 beskryf hoe ‘n dissipel van God se liefde lyk.

Die effektiewe funksionering van die liggaam van Christus hou direk verband met die effektiewe funksionering van die kinders van die Here. Elkeen van ons moet ons fokus op Christus hou en ons moet ywerig wees om meer en meer te leer en te groei na die beeld van Christus.

Ons moet 'n passie hê vir verlore siele en mense wat genesing nodig het, soos wat Jesus Sy lewe gewy het aan die verlore wêreld.

Lees:

1 Kor. 13

Mediteer:

  • Sien jy jouself as ‘n dissipel van Jesus? Dit is meer as om net tot bekering te kom.
  • ‘n Dissipel volg en leer om net soos sy/haar leermeester te wees.
  • Jy is ook geroep om nie net ‘n dissipel te wees nie maar ook om ander mense dissipels te maak van Jesus.
  • Leef jy liefde uit daar waar jy gaan? Die Woord sê dat die wêreld sal die liefde van Vader sien as ons mekaar liefhet.
  • Jy het dalk al baie keer skuldig gevoel omdat jy nie vir honderde mense fisies van Jesus vertel het nie of omdat jy nie voor baie mense kan praat en op so manier mense van Jesus vertel het nie.
  • Fisiese woorde is nie die enigste manier om die evangelie te deel nie. Deur liefde op ‘n daaglikse basis konstant te leef in jou leefwêreld is ook ‘n kragtige manier om Vader aan mense bekend te stel.

Bid:

Vader, ek bely dat ek nie altyd U liefde uitleef teenoor alle mense nie, vergewe my daarvaar in Jesus se naam. Vader wil U my ‘n hart gee vir verlore mense, maar ook my hart verander in ‘n hart wat oorloop van U liefde sodat mense U kan vind in ‘n oorvloed van liefde. Heilige Gees kom vul my met liefde en verander my hart. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

God is liefde. Die sterkste krag wat bestaan is liefde. Ek is gevul met die Heilige Gees wat Vader se liefde in my vestig en deur wie ek die vrug van liefde kan dra wat mense se lewens kragtig kan aanraak.

Aanbidding:

Red Rocks Worship – Love Changes Everything

 Dag 5: Fokus op jou stukkie muur

Nehemia het bewus geword van die feit dat Jerusalem vir dekades al in puin lê. Sy hele wese beleef die gewig van die gewaarwording dat hierdie realiteit is so ver verwyder van waar dit moet wees. Nehemia nader tot God en hy weet met ‘n sekerheid dat God wil hê dat Jerusalem herbou moet word.

Ek is seker dat Nehemia moes gedink het dat die verwoesting is so groot en die taak om Jerusalem te herbou is so groot en oorweldigend. Hy moes by homself gedink het: “Hoe gaan ek dit regkry om Jerusalem te herbou?” “Waar begin ‘n mens met so ‘n groot taak.” “Gaan ek ‘n duik kan maak om die verwoesting om te keer en om die taak suksesvol af te handel.”

Net so wanneer ons na die verval in die wêreld om ons kyk kan ons maklik oorweldig word. Dit is so ‘n verskriklike groot taak. Gaan dit wat ek kan doen ooit ‘n verskil kan maak. Ons sien die gebrokenheid van die mense in die wêreld. Ons sien hoe siekte en vrees verwoesting gesaai het en hoe mense verlore is sonder die Here.

Ons sien dat die eerste gedeelte van die werk, om die stukkende muur van Jerusalem te herstel, verdeel word in kleiner gedeeltes. Families en ambagsmanne kry elkeen ‘n gedeelte van die muur om te herstel. Hulle word aangeval en hulle beleef baie teenstand om die muur te herbou, maar God is met hulle en elkeen fokus net op sy deel van die muur. Die muur is in ‘n rekordtyd van 52 dae herbou.

Elkeen van ons het ‘n “stukkie muur” waarop ons moet fokus. Dit is ons leefwêreld en invloedsfeer. Ons gaan vier “C’s” gebruik om dit op te deel en maklik te kan onthou:

  • C – Circle of influence (familie, huwelik, werk en vriende)
  • C – Community
  • C – Church
  • C – City

Indien jy vandag dink dat jy weet nie waar en hoe jy betrokke moet raak nie, is daar ‘n paar goed waar jy kan begin. Dit sal in die wil van die Here wees en daarvandaan sal die Here vir jou wys wat Hy verder van jou verwag. As jy besluit om uit te reik na mense wat oud is, honger is, siek is, kinders in nood en hawelose mense sal jy verseker besig wees met jou “stukkie muur”.

Lees:

Matt.25

Neh.3-6

Mediteer:

  • In Nehemia 2 tot 6 sien ons hoe die vyande van Israel teen die werk van die Here ‘op-gang’. Mense met invloed en aansien wat nie wil hê dat enige iets goeds moet met die Israeliete gebeur nie, gaan uit hulle pad uit om die opbou van die stad Jerusalem te stop. Ek verseker jou vandag dat indien jy gaan begin fokus op jou ‘stukkie muur’ gaan jy teenstand kry.
  • Gaan maak ‘n lys van al die verskillende maniere wat die vyand probeer het om vir Israel en Nehemia te stop om die werk te doen.
  • Gaan skryf dan langs elke aanval van die vyand wat Nehemia gedoen het as reaksie op die aanval.
  • Ons sien duidelik dat die vyand het probeer om verdeeldheid te bring, vrees te veroorsaak en twyfel of hulle dit gaan regkry. Die aanvalle was ook in die fisiese behoeftes van die werkers en hulle veiligheid.
  • Voordat Nehemia begin het met die taak het hy voor God gehuil, gevas en gebid. Sy afhanklikheid van God en bewustheid van wie God is, het gemaak dat die aanvalle van die vyand nie sy hart kon raak en sy fokus kon skuif nie.
  • Raak stil en vra vir God om jou ‘n las te gee vir jou “stukkie muur”. Verootmoedig jou nou voor God en kom onder die bewustheid van wie God is. Bid dat die Here jou deur Sy inwonende Heilige Gees sal lei. As jy gelei word om te vas en te bid, doen dit.
  • Indien daar een persoon is wat nie sy “stukkie muur” bou nie, is die hele stad op risiko om ingeval te word. Geen werk in die Koninkryk of enige ander plek het nog ooit gebeur deur net daaroor te dink nie. Meld aan.

Bid:

Vader ek dank U dat U ‘n Almagtige God is en dat daar niks is om te vrees in hierdie wêreld of in die wêreld wat kom nie. U heers hier deur ons. Maak my intens bewus van waar U my wil gebruik. Vergewe my vir elke keer wat ek na die stem van die vyand geluister het en voortydig opgehou het met die werk wat U besig was om deur my te doen. Help my Here om sensitief te wees vir die leiding van die Heilige Gees. Openbaar die strategieë van die vyand en wys U my die weg dat ek daarlangs kan loop. Laat U wil en werk op aarde vervul word wat U deur my wil doen. Dankie dat U my elke keer weer ‘n kans gee Here. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek is ‘n kind van God en ‘n dissipel in die Koninkryk van God. Ek sal geen onheil vrees nie, want U is met my. U gaan voor my uit en ek sal suksesvol wees, want U seën die werk van my hande en U bou die muur en beskerm die stad.

Aanbidding:

King of my heart – Bethel Music