Go Deep 13 Augustus 2023

Throne Room Thoughts

Neville Goodchild

Leef sonder inperkings en beperkings

 

Dag 1: Leef die lewe wat God vir jou bestem

Ons vind onsself daagliks in verskeie omgewings; skool, werk, sport, gesin, verhoudings ensovoorts. Soms laat ons toe dat die aardsheid van ons bestaan ons aandag aftrek van ons roeping in God. Sommige van ons het vasgesteek in die verlede. Ons sien konstant uit na iets anders as waar ons tans onsself bevind. Dalk geniet jy nie jou werk nie, dalk loop jou verhouding skeef, dalk vergelyk jy jouself die heeltyd met ander en wens jy kan hulle lewens lei, dalk spring jy van kerk na kerk omdat daar altyd iets is wat jou pla. Hierdie dinge gebeur wanneer ons nie die uitnodiging van God deur Sy evangelie aanvaar nie en dit beperk ons dat ons nie die lewe leef wat God vir ons bestem het nie.

Kol. 3:1 sê: “As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit.”

Die rede hoekom Jesus op die troon langs Sy Vader sit, is omdat Hy reeds Sy werk op aarde voltooi het. Hy het sonde oorwin sodat ons die ewige lewe kan ontvang. Die blote feit dat Hy dit gedoen het, beteken dat ons welkom is in die troonkamer en dat ons fokus op die dinge van Christus moet wees sodat die lewe kan leef wat God vir ons bestem het. Voluit. Vir Christus.

Lees:

Kol. 3

Mediteer:

  • Watter omgewings in my lewe perk my in sodat ek nie my verhouding met Christus ten volle uitleef nie?
  • Wat is die dinge van Christus wat ek moet soek, soos wat dit in Kolossense 3:1 staan?

Bid:

Here Jesus, help ons om U deurlopend die dinge te kies wat ‘n lewe saam met U vir ons inhou en sodat ons aandag nie afgelei sal word deur wêreldse goed nie.  Help ons om dit wat ons in U het uit te leef. Help om ons lewens te skoei, nie deur ons omstandighede of ander se opinies nie, maar deur Christus, ons hoop in lewe en dood. Laat ons lewens U liefde, waarheid en empatie reflekteer. In Jesus naam, amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ons het gesterf vir sonde en het opgestaan in ‘n lewe saam met Hom.

Aanbidding:

God is on the throne - WTK

 

Dag 2: ‘n Reis van geestelike transformasie

Transformasie is nie altyd ‘n lekker woord in die Suid-Afrikaanse of wêreldkonteks nie, maar op geestelike vlak hou dit net positiewe dinge vir ons in. Die skrifgedeelte in Kolossense 3:1-3 nooi ons uit om ons perspektief en prioriteite te herbesin en ons lewe te veranker in die ewige dinge van God. Hierdie reis van geestelike transformasie of metamorfose is gegrond in die feit dat ons wedergebore is: ons moes tot bekering kom, het die geskenk van vergifnis ontvang, en is daarna gedoop. Saamwerkend bring hierdie konsepte ons nader na God toe en laat ons 'n vervulde lewe op aarde leef terwyl ons ons oë op die ewigheid hou.

Die wedergeboorte is die beginpunt van ons geestelike reis. Ons word saam met Christus opgewek en ons lewe neem 'n nuwe rigting aan. Hierdie herlewing gee aan ons die vermoë om die dinge van bo te soek en ons harte te rig op die ewige waardes van die Gees. Ons verstaan dat ons roeping nie beperk is tot hierdie wêreld nie, maar dat ons 'n dieper betekenis en doel het om na te streef.

Bekering is 'n voortdurende proses van heiligmaking waarin ons ons harte en denke verander. Dit behels 'n dag-tot-dag oorgawe van onsself aan God se wil en 'n afstand neem van aardse sonde en verleidings. Ons word herinner aan die belangrikheid van ons daaglikse lewenswyse, want dit beïnvloed ons verhouding met God en ons medemense.

Vergifnis is 'n kragtige gawe wat ons ontvang van God deur ons geloof in Christus. Ons leer om onsself en ander te vergewe en dit maak ons harte gereed om die dinge van bo te soek en 'n lewe van liefde en genade te leef.

Die doop is 'n simboliese daad wat ons verbind met die dood en opstanding van Christus. Dit is 'n openbare getuienis van ons geloof en 'n verklaring dat ons 'n nuwe lewe in Hom begin het. Deur die doop word ons geassosieer met Christus se dood aan die kruis en sy oorwinning oor die dood, en dit verbind ons aan 'n lewe van navolging en getuienis op aarde. Ons put uit hierdie daad van gehoorsaamheid en toewyding die krag om ons lewe volgens die waardes van die koninkryk te leef.

Ons word uitgenooi om ons fokus te verskuif van die aardse en verganklike na die ewige dinge van God.

Lees:

Ef. 2:6-8

Mediteer:

  • Watter impak het die woorde dat ons uit genade gered is, op ons lewe? Beleef jy hierdie geskenk van God daagliks?

Bid:

Dankie, Hemelse Vader, dat U my lewe aanraak en verander deur die krag van u Gees. Mag ek elke dag 'n stap nader aan U kom en my lewe wy aan die dinge wat waarlik saak maak. Ek bid dit alles deur die naam van u geliefde Seun, Jesus Christus.

Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek is nie sommer net nie, ek kan in die troonkamer van Jesus kom, want Hy nooi my uit.

Aanbidding:

Goodness of God – Jenn Johnson

Awesome God – Michael W. Smith

Dag 3: ‘n Nuwe Testamentiese Bediening

Om ‘n wedergeborene te wees, maak ons deel van God se wêreld en kan ons die troonkamer binnegaan om in ‘n verhouding met Hom te leef. Soms gebeur dit egter dat ons terugval. Ons raak dalk weer vatbaar vir die spesifieke sondes waarmee ons altyd so gesukkel het. Dalk hoor ons ‘n lering wat direk uit die wette van die . Ou Testament kom en laat dit ons afdwaal.

In Kolossense 3:1-3 en Romeine 5:17 word die Nuwe Testamentiese lewe in Christus beklemtoon. Hierdie lewe word gekenmerk deur 'n geestelike transformasie en 'n nuwe fokus op die dinge van die Gees. Christene wat saam met Christus opgewek is, word genooi om die dinge van bo te soek en om sin te skep vir die ewige waardes en geestelike realiteite. Hierdie lewe word deur die genade van God en die geregtigheid van Christus moontlik gemaak, en dit lei tot die oorwinning van die dood en 'n heersende lewe in Christus (Romeine 5:17).

Die Wet van Moses, soos bespreek in die Bybel, word in die Nuwe Testament soms as die "ministry of death" beskryf. Hierdie verwysing dui daarop dat die mens bloot nie in staat is om die tien gebooie presies na te kom nie en gevolglik moet sterf soos wat die Wet dit wil hê. Die Nuwe Verbond wat deur Christus se koms en offer op die kruis ingewy is, het 'n radikale transformasie gebring. Die genade en geregtigheid van Christus stel mense in staat om deur geloof in Hom 'n nuwe lewe te ontvang, waarin die sonde nie net blootgelê en veroordeel word nie, maar waarin dit ook vergewe en oorwin word. Hierdie nuwe lewe lei tot 'n intieme verhouding met God en 'n hoopvolle toekoms van ewige lewe.

Lees:

2 Kor. 3

 

Mediteer:

  • Watter dinge in jou eie lewe verhinder jou soms om te voel dat jy werd is om in God se troonkamer te staan? Bid jy daaroor?

Bid:

Ek verbly my in my nuwe lewe saam met U, o God. Dankie dat U die onmoontlike moontlik gemaak het, sodat ek kan leef. Dankie dat U voorsien en dat U seun vir ons kon sterf en sodoende die las van ons sonde op Homself geneem het.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek is radikaal getransformeer deur Jesus Christus wat vir my sonde gesterf het.

Aanbidding:

The Change in me – Casting Crowns

Dag 4: Herposisioneer jou gedagtes

In ons gejaagde lewens, omring deur die geraas van die wêreld, word ons dikwels in 'n stroom van gedagtes en emosies meegesleur. Ons soek na sukses, vervulling en betekenis, maar ons raak maklik vasgevang in verkeerde denkpatrone. In die middel van hierdie uitdagings kom die Skrif in Romeine 12:2 met 'n kragtige aansporing: "En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is."

Hierdie vers nooi ons uit om ons denke te herposisioneer, om 'n nuwe perspektief aan te neem en ons lewe vanuit 'n geestelike invalshoek te benader. Dit verg 'n aktiewe betrokkenheid van ons kant, 'n bewuste keuse om ons gedagtes te verander en ons denke te vernuwe. Hier is 'n paar gedagtes om ons te help hierdie beginsel in ons lewens toe te pas:

Ons moet krities kyk na die idees en denke wat ons beïnvloed en seker maak dat hulle in ooreenstemming is met God se wil. Ons moet bereid wees om ons denke te ondersoek, ons vooroordele uit te daag en onsself oop te stel vir die leiding van die Heilige Gees. Deur hierdie reis van geestelike transformasie, kan ons 'n lewe ervaar wat vervul is met die vreugde van God se teenwoordigheid en 'n lewe wat die goeie en volmaakte wil van God weerspieël.

Lees:

Jesaja:55:8-12

Kol. 3:23-24

Mediteer:

  • Is daar enige beperkende gedagtes wat jy kan identifiseer? Hoe beïnvloed dit jou gedrag?
  • Hoe kan ‘n nuwe denkwyse jou help om God se wil beter te verstaan en te volg?

Bid:

Vader, ek kom nederig voor U met my hart en my gedagtes. Ek erken dat my denke soms beïnvloed word deur die wêreld om my, deur negatiewe patrone en deur die druk om aan die norme van die wêreld te voldoen.

Vandag bid ek vir U genade om my denke te herposisioneer volgens U wil. Lei my, Vader, om U invloed bo die invloed van die wêreld te stel.

Dankie vir die belofte van 'n nuwe lewe deur die krag van U genade. Mag ek elke dag stappe neem om my denke te verbeter, my houding te verander en my lewe in ooreenstemming met U wil te rig.

In die naam van Jesus bid ek,

Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek het die krag om denke te verander van Jesus ontvang, ek moet dit net gebruik.

Aanbidding:

Whatever Your plan is – Josie Buchanan

Leanna Crawford – How can you not

Dag 5: Affectionally acquainted with Throne Room Thoughts

Francois du Toit vertaal die eerste deel van Kol. 3:1 as volg:

“Pursue with diligence the consequence of your co-inclusion in Christ. ...”

Die woord “diligence” beteken om moeite te doen, ywerig te wees, noukeurig met die inligting te werk gaan. Hierdie oproep van Paulus moet nie ligweg opgevat word nie. Dit is 'n herinnering aan die erns en diepte van die uitnodiging wat ons in Christus ontvang. Hy onthul die wonderlike waarheid dat ons nie net buitestaanders is wat toevallig 'n verhouding met Christus het nie, maar dat ons inniglik "ingesluit" is in sy verlossingswerk. Dit is asof ons op 'n geestelike manier saamgesnoer is met Christus, deel van sy goddelike span, en deelhebbers aan sy dood en opstanding.

Ons as gelowiges kry 'n nuwe identiteit in Christus. Sy identiteit word ons identiteit. Dit is nie net 'n oppervlakkige oefening nie, maar 'n diepgaande erkenning van ons geestelike verbintenis met Hom. Dit beteken dat ons sy lewe in ons leef, sy liefde in ons straal, en sy geregtigheid ons s’n word. Ons kan dit nie slegs as 'n teoretiese konsep beskou nie, maar dit met groot erns en ywer deurleef.

Die troonkamer van ons gedagtes word 'n plek van innige gemeenskap met die Skepper, 'n ruimte waar ons bewustelik besef dat ons in Christus ingesluit is en deel het aan sy volmaaktheid. Hier kan ons nie net die veranderende krag van sy liefde en genade ervaar nie, maar ons kan ook die implikasies daarvan in ons daaglikse lewens begin deurdring. Ons kan met vrymoedigheid sy geregtigheid aantrek en in ons interaksies met die wêreld die impak van ons assosiasie in Christus uitdruk.

Lees:

Efesiërs 2:1-10

Mediteer:

  • Hoeveel erns maak jy met die inligting wat hierbo gegee is? Spandeer jy genoeg tyd om in die troonkamer uit te kom?

Bid:

Vader, ek kom nederig na U met 'n hart vol dankbaarheid en verwondering oor die onuitspreeklike waarheid van ons assosiasie met U. Dankie dat U ons nie net as buitestaanders beskou nie, maar dat ons deel het aan die grootse werk van u Seun, Jesus Christus.

Here, ek vra dat U my hart met 'n dieper begrip van hierdie waarheid vul. Help my om nie net dit te besef nie, maar om dit met ywer en erns te omhels. Laat my gedagtes 'n troonkamer van aanbidding en refleksie wees, waar ek bewustelik besef dat ek in Christus ingesluit is.

Laat my lewe 'n getuienis wees van hierdie innige gemeenskap. Laat my optrede, my woorde en my dade die gevolge van my mede-insluiting in Christus uitdruk. Mag ek ‘n refleksie wees van Sy liefde, genade en geregtigheid in hierdie wêreld.

Heilige Gees, lei my elke dag om die waarheid van hierdie verbintenis diep te beleef. Mag U my inspireer om my geloof in praktyk om te skakel en Christus se lewe deur my uit te straal.

Ek gee myself oor aan U, Vader, en vra dat U my help om hierdie waarheid te beliggaam in elke aspek van my lewe. In die kosbare Naam van Jesus bid ek,

Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek is werklikwaar deel van Jesus se span.

Aanbidding:

Throne Room Song – Charity Gayle