Go Deep 25 Junie 2023

Op Hierdie Rots!

Neville Goodchild

Wat beteken dit as Jesus jou Rots is?

 

Dag 1: Innerlike Vrede

Ons navigeer deur die lewe en word soms oorweldig deur storms of besluite wat ons moet neem. Ons weet nie watter kant toe nie. Daar is dalk te veel opsies of ons weet nie wat die opsies is, of watter uitkoms dit sal lewer nie. Die belangrikste vir ons as gelowiges is om die Here betrokke te maak in hierdie omstandighede. Ons het nodig om sekerheid by Hom te kry. Hoe kan ons sekerheid kry te midde die onsekerheid?

“En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus” (Fil.4:7).

Wanneer ons die Here betrokke maak in ons besluite of krisisse, het ons nodig om God te vertrou vir die uitkoms. Daarmee saam weet ons dat ons Sy Gees ontvang het en dat Sý Gees ons in waarheid lei (Joh.16.13). Hy maak aan ons bekend en gee vir ons oortuiging in ons harte asook openbaring wat ons nodig het om aksie te neem. Dit is uit die innerlike oortuiging en vrede wat God se Gees vir ons gee, wat ons geaktiveer word om besluite te neem en te doen wat nodig is.

Ons kan vertrou dat die Gees van die Here in ons is en deur ons werk. Ons kan daarom Woord spreek oor ons situasies en sien hoe die Here dit verander. Om op die vaste Rots te staan en geanker te wees in Hom, beteken dat ek Hom raadpleeg en vertrou en dan uit die oortuiging van my hart optree omdat ek Sy Gees het!

Lees:

Fil.4:7

Rom.10:10

Joh.16:13

Jak.1:5-7

Ps.127:2

Mediteer:

  • Hoe weet ek of ek God se Gees het? As ek onseker is, moet ek met ’n Geestelike leier kontak maak https://lewendewoordbfn.co.za/kontak-ons
  • Wat beteken ’n innerlike wete en ’n vaste vertroue in my situasie?
  • Wat glo my hart?
  • As ons Hom wat in ons is nie vertrou nie en nie uit die innerlike oortuiging van Sy Gees wandel nie, sal ons rondslinger en altyd opsoek wees na antwoorde op ander plekke. Ons het nodig om te vertrou dat Sy Gees ons lei en dat ons in gehoorsaamheid beweeg.

Bid:

Jesus, dankie dat U heers in hemelse plekke en dat ek saam met U kan heers deur U Gees wat U vir my gegee het. Dankie, dat U vir my vrede gee wat alle verstand te bowe gaan en dat U Gees my in alles lei. U gee vir my alles wat ek nodig het om die regte besluite en aksies te neem. Dankie, Here! Amen

Bonus: Spreek Lewe!

God het my toegerus en geseën en bemagtig met alle gawes. Ek het alles wat ek nodig het om Goddelik te leef. Ek het die gesag om uit die oortuiging van my hart in my situasies hoop en lig in te spreek.

Aanbidding:

My Lighthouse – Rend Collective

Dag 2: Pétra

"Op hierdie rots sal Ek my gemeente bou!"

Jesus vra vir Sy dissipels (Mat.16:13): “Wie sê die mense dat Ek, die Seun van die mens, is?” Eers vra Hy hulle oor wat ander sê en dan word Hy ernstig en vra: “Maar julle, wie sê julle is Ek?”. Hulle moet mooi dink oor wat hulle self glo.

Jesus vra dit vir ons elkeen. “Wie sê jý is Ek”?

Dit is ’n gewigtige oomblik in ons lewens, hierdie oomblik waarin ons introspeksie doen en nie net praat oor dit wat ons geleer het nie, maar praat uit ’n oortuiging wat dieper gevestig lê binne ons.

Dit is egter ook nie net betekenisvol om te glo nie, want die duiwels glo ook en sidder! (Jak.2:17-19). Nie almal wat sê: “Here, Here!” sal hemel toe gaan nie (Mat.7:21). Die vraag is daarom nie net óf ons glo nie, maar wát ons glo om die effek van die Koninkryk in ons lewens te begin sien? Dit is nie net die Naam wat ek moet ken nie, maar die liefde, krag en die implikasies van ’n verhouding met Jesus Christus wat ek moet beleef. Redding is 'n uiters belangrike deel hiervan. Die oomblik wat ek my bekeer, red God my.

Jesus doen moeite om stil te staan by Petrus se antwoord. Petrus het Goddelike openbaring by Sy Hemelse Vader gekry! Dit is noemenswaardig. Ons kan vir jare lank vashaak by die wêreld se opinies, selfs kerkmense se opinies. Om ’n bonatuurlike openbaring en perspektief te kry by ons Hemelse Vader, dít is om geseënd te wees! 

Die Koninkryk van God gebeur in mense se lewens wat ’n persoonlike opinie het van Jesus Christus, nie ’n wêreldse opinie nie. Dít is ’n Goddelike openbaring! That is Blessed!

Die oomblik wat jy ’n Goddelike openbaring van Jesus ontvang en jou opinie van Jesus Christus is dat Hý joú Messias is, word jy geseënd en is jy besig om jou voete op ’n vaste rots te plaas. Openbaring beteken jy word belyn met Christus en dan ís jy geseënd!

Die Here bou Sy gemeente op die openbaring van Jesus Christus!

Lees:

Mat.16:13-18

Mediteer:

  • Wat gebeur in ’n gemeenskap wanneer Christene nie 'n openbaring van Jesus ontvang het nie?
  • Hoe beïnvloed my opinie van Jesus Christus my opinies oor ander sake en deelname in die gemeenskap, tussen gelowiges en nie-gelowiges?
  • Het ek al moeite gedoen om sélf uit te vind wie Jesus is, nie uit ander se opinies nie? Het ek al vir die Here gevra om Homself aan my te openbaar? Wat kan ek nog doen?
  • Kan ek die openbaring wat ek by God gekry het kommunikeer?
  • Met my mond belei ek wat my hart glo.

Bid:

Here Jesus, openbaar U Self aan my, sodat ek nie net kan weét met kennis nie, maar ’n diepe wete en openbaring kan hê van U. Dankie, dat ek kan vertrou dat U Uself te vinde stel aan dié wat U soek (Jer.29:13-14; Mat.7:8), want U is getrou aan U Woord (Ps.138.2-3). In Jesus se Naam vra ek dit. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Here U Is......

Aanbidding:

Yeshua – Jesus Image

Dag 3: Gevestig (Established)

Is Jesus the Christ the ultimate answer for you?

Petrus (Rots) wat eers Simon (Riet) was, kry ’n openbaring van Wie Jesus Christus is en hy wat wankelrig was, heen en weer geslinger, word standvastig met integriteit, rotsvas.

Dit is wat gebeur wanneer jy ontdek wie Jesus Christus is. ’n Mens kan na klomp preke luister en klomp opinies kry, maar dit bly maar slegs ander se opinies. Wanneer jy ’n diepe openbaring van die Christus kry, word jy op ’n rots gevestig; op dié Rots. Dit is wat die Rots doen, Hy anker jou. Jy as tempel, waar God woon, is soos ’n huis op ’n sterk onwankelbare Rots. Wanneer hierdie huis deur storms getreiter word, bly dit standvastig.

Mense het dikwels hierdie idee dat wanneer hulle gevestig word op die Rots, dat dinge makliker moet word met geen storms nie. Dit is egter nie wat gebeur nie. Dit is dieselfde storm wat woed teen die huis op die rots en die huis op die sand. Die Rots maak dat jy vas kan staan tydens die storms. Die rots gee nie mee soos die sand nie. Sand en rots is nie dieselfde nie. Om jou lewe op die Rots te bou, is die enigste manier om vas te bly staan in hierdie lewe.

Lees:

Mat.7:24-27

Ef.4:14

Mediteer:

  • Is Jesus the Christ the ultimate answer for you?
  • Hoe lyk dit wanneer Jesus jou Rots is?
  • Jesus sê vir Petrus, noudat jy hierdie openbaring het, kan Ek begin bou op jou openbaring!

Bid:

Here Jesus, dankie vir U liefde en U diepe openbaring. Dankie, dat U my nader trek sodat ek U elke dag beter kan leer ken. Dankie, dat ek nou gevestig is in U en standvastig kan leef, nie soos een wat heen en weer geslinger word nie, maar in liefde en waarheid in alle opsigte groei in U.

Bonus: Spreek Lewe!

Dit wat gebuig het en wankelrig was, is nou vervang met stabiliteit en ek is nou gevestig op die Rots.

Aanbidding:

Revelation Song – Phillips Craig & Dean

Dag 4: Beskermd

Op die Rots word jy beskerm. Dit is wanneer die storms van die lewe teen jou slaan, wat die Rots jou veilig hou.

Terwýl Dawid hierdie vir die Here sê sit hy binne ’n rotswand, omring deur rots. Hy het gevlug vir sy lewe en is besig om weg te kruip, want Saul en sy manskappe wil hom om die lewe bring. Tog sê hy dat hy veilig is:

"En hy het gesê: Ek het U hartlik lief, Here, my sterkte. Die Here is my rots en my bergvesting en my redder; My God, my rots by wie ek skuil; my skild en die horing van my heil, my rotsvesting. Ek roep die Here aan wat lofwaardig is en van my vyande word ek verlos" (Ps.18:2-4).

Terwyl Dawid wegkruip, getuig hy van vrede, omdat God hom beskerm. Hy verklaar dit. Dit is juis in hierdie onvoorspelbare van die lewe wat hy hierdie woorde skryf. Dít is om te weet wie Jesus is. Hy skryf nie dat hy swaar kry en verlore is nie, maar hy verklaar “Here U is my sterkte en ek word van my vyande verlos".

Hierdie is ’n blywende realiteit. Op hierdie Rots, bly ek staande en word ek verlos. Ek is veilig. 

Dit verander nie!

Lees:

Ps.18:1-4

Mediteer:

  • Hoe beskerm die Rots jou?
  • Hoe kan Dawid verklaar dat God sy rots is en dat hy van sy vyande verlos is, as hy nie weet wat die toekoms inhou nie?
  • Waarom sê Joël 3:15: “Let the weak say I am strong”. Wat beteken dit?

Bid:

Here, ek is sterk omdat U sterk is. Ek is veilig omdat U my Rots is. U is Beskerming. U is Veilige Vesting. Amen!

Bonus: Spreek Lewe!

Op hierdie Rots is ek veilig! Dit verander nie!

Aanbidding:

You Are My Hiding Place - Joslin

Dag 5: Vorentoe

Die Woord sê dat as jy standvastig is op die Rots, dan beleef jy groei en vooruitgang. Jy beweeg vorentoe want Jesus bou op hierdie rots, op hierdie openbaring van Wie Hy is in jou lewe. Dit is waarom dit so belangrik is om op die Rots geanker te wees. Die sekuriteit wat daar is in die Rots bring vooruitgang en sukses. Ons meet dit nie in wêreldse terme nie, maar die wêreld kan duidelik die Here se seën op jou lewe sien.

“having been deeply rooted [in Him] and now being continually built up in Him and [becoming increasingly more] established in your faith, just as you were taught, and overflowing in it with gratitude” (Col2.7).

Daar is geen beter geskenk om vir jou kinders en geliefdes te gee nie. Maak seker dat Jesus die Rots is, want Hy gee standvastigheid, beskerming en vooruitgang. Jesus sê: “Op hierdie rots bou Ek”!

Lees:

Mat.16:13-18

Kol.2:7

Mediteer:

  • Wanneer ek stabiel is op die Rots, is daar vooruitgang in my lewe.
  • Daar is sekere dissiplines in my lewe wat ek kán handhaaf om stabiliteit te bou en ook by my kinders te kweek, sodat ons vorentoe kan gaan. Watter verandering (al is dit klein) kan ek maak om sekuriteit op die Rots te bou?
  • Hoekom is Sondae se kerkbywoning ’n anker in standvastige lewens?
  • Die Gees van die Here woon in my en daarom kan ek my innerlike oortuiging vertrou om die regte besluite te neem. Ek is gesetel saam met Jesus Christus in hemelse plekke. Wanneer ek besluite moet neem, raadpleeg ek die Here vir Sy vrede wat my verstand te bowe gaan, want ek staan op Hom as Rots. Dit aktiveer my geloof en God beloon my geloof.
  • Wat beteken dit prakties vir my dat die Woord sê Hy gee vir Sy geliefdes in hulle slaap?
  • Op watter manier leef ek hierdie lewe? Wat is my opinie, optrede, gesindheid/ingesteldheid? Beweeg dit my vorentoe op die vaste Rots?

Bid:

Here dankie vir U standvastigheid en dat ek vorentoe kan beweeg in hierdie lewe. Kom openbaar vir my wat hierdie vorentoe beweeg alles insluit vir my. In Jesus se Naam. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

God het my toegerus en bemagtig en geseën met alle gawes wat ek nodig het om Goddelik te leef. Ek het die gesag (in Christus) om uit die oortuiging van my hart in situasies in te spreek, hoop en lig in te spreek. Ek staan op die Rots en beweeg vorentoe.

Aanbidding:

Build My Life – Pat Barrett

Worthy - Elevation Worship