Go Deep 20 Augustus 2023

THRONE-ROOM THOUGHTS

Neville Goodchild

’n Gewete vry van sondebewustheid!

 

Dag 1: Wat sien jy?

Ons perspektiewe bepaal hoeveel ons deelneem en waaraan ons deelneem. Ons wil dikwels onsself vergelyk met ander en wonder hoe hulle doen wat hulle doen. Dan wonder ons hoe hulle dit regkry om die guns en seën van God te ontvang en of dit dan net vir ander mense beskore is. Hoe kan hulle die Here met soveel oorgawe en blydskap dien? Wat het hulle wat ons nie het nie? Verkeerde vrae bring ons uit by die verkeerde antwoorde.

Daar is verkeerde maniere waarop ons dink en interpreteer en dit kan ons geestelike reis kelder of heeltemal versmoor. Dit gebeur dán dat mense begin sê dat Christenskap nie vir hulle werk nie. Wat uit plek uit is, is Goddelike perspektief. Om met wêreldse denke te meet en te leef, maak ons onbestendig (wankelrig, onstandvastig).

Ons het nodig om te ontdek hoe Jesus Christus dinge sien en Sy perspektiewe te kry, sodat ons belyn kan wees met Sy Koninkryk. Wanneer ons reg belyn is met standvastige geloofs perspektiewe, kan ons op die dinge fokus waarop dit neerkom.  

“As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie”. (Kol.3:1-2)

Lees:

Kol.3:1-2

Mediteer:

  • Hoe lyk jou perspektiewe? Is dit met Koninkryk belyn?
  • Het jy verkeerde perspektiewe wat jy na die Here toe moet bring?

Bid:

Here ek wil graag belyn wees met U Koninkryks perspektiewe. Help my om te sien waar my perspektief uit fokus is en belyn my met U, sodat ek kan fokus op die dinge daarbo. Ek wil op U fokus Here en U wil soek. In Jesus se Naam. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

In die Here se perspektief, kry ek perspektief!

Aanbidding:

First Things First – Consumed By Fire

Dag 2: Stabiel

Onbestendigheid in een area van ons lewe, sal eventueel deursyfer na onbestendigheid in al die areas van ons lewe. Soos ’n huis wat stelselmatig uitmekaarval. Later is al die kamers vervalle en die vloer, dak en mure ook. Veral as die fondasie nie reg is nie. Ons benodig standvastigheid. Hoe kry ons standvastigheid?

Ons het ’n liefdevolle Vader wat ons nader trek en ons red. Dan posisioneer Hy ons saam met Jesus. Dit is Vader se hart vir ons en Sy plan vir ons elkeen. As ek dit nie glo nie, sal ek nie daarvolgens leef nie. Dus is geloof in Jesus Christus so belangrik vir ’n vaste fondasie en stabiliteit. Sodra ons begin glo, begin ons ’n pad saam met Jesus stap en kry ons bonatuurlik dit wat Jesus Christus Self het, sodat ons dit kan uitdeel aan ander volgens Sy wil en plan.

Geloof in Jesus Christus gee ons die standvastigheid en sterkte om te bly staan teen die weerstand en aanslae. The righteous walk by faith. Dit is deur geloof in Jesus Christus wat ons standvastig staan.

In God se standvastigheid, word ons standvastig. Dit is deur ons verborgenheid in Jesus Christus, m.a.w. ons is toegemaak met Christus. Wanneer ons wedergebore is (bekeer, gedoop, vervul met die Heilige Gees), is ons gesetel saam met Jesus Christus waar Hy in hemelse plekke is. Dit is ons posisie: “ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus – uit genade is julle gered – en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus” (Ef.2:5-6). M.a.w. dit is die plek van waaruit ons leef. Hemelse plekke. Ons is in hierdie wêreld, maar nie van hierdie wêreld nie (Joh.15:19; Joh.17:16) en daarom is ons fokus anders as hierdie wêreld.

As jy in Christus is, saam met Hom, kan jy begin fokus op Koninkryk-dinge. Nie net indien jy in Christus is nie, maar ómdat jy in Christus is, kan jy begin fokus op die dinge waarop Christus fokus.

Lees:

Kol.3:1-2

Ef.2:5-6

Mediteer:

  • Wedergeboorte is nodig vir ons om ons posisie in hemelse plekke langs Christus in te neem. Hoekom is bekering, doop en vervulling met die Heilige Gees elkeen afsonderlik en as geheel belangrik? Wat gebeur tydens bekering, tydens doop en tydens vervulling van die Heilige Gees? Indien jy twyfel, kontak ’n kerk leier en woon ook die dissipelskapkursus by.
  • Hoe kan ek seker maak my geloofs perspektiewe is standvastig?
  • Wat beteken Sy dood en opstanding vir my in hierdie konteks?  “Pursue with diligence the consequence of your association in Christ. Relocate yourself mentally! His resurrection co-raised you to the same position of authority, seated in the strength of God’s right hand. Becoming affectionately acquainted with Throne Room thoughts will keep you from being distracted again by the earthly (soul-ruled) realm” Col.3:1-2
  • Hoe kan ek staande bly en dit beskerm wat die Here aan my gegee het?
  • Hoe herposisioneer ek my gedagtes?

Bid:

Here, ek wil graag standvastig, rotsvas op U bly staan. Gee vir my ’n groter gawe van geloof en openbaar vir my hierdie dieper waarheid van U Woord wat sê dat ek saam met U gesetel is in hemelse plekke. Kom breek die beperking wat ek plaas met my wêreldse denke en help my asseblief om hemels te begin fokus, sodat ek en my geliefdes U hemelse gedagtes kan begin beleef en dit ons nuwe realiteite word. In Jesus se Naam. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek staan vas in geloof.

Aanbidding:

Call On The Name – Cody Carnes

Dag 3: Gevolge van

“Pursue with diligence the consequence of your association in Christ’’.

Dit is eers wanneer ons besef dat ons onsself nie kan red nie, maar ’n redder nodig het en die verligting dat Jesus dié Redder is, dat ons tot bekering kom. God het al ons sonde se straf op Jesus uitgehaal. Jesus Christus het sonde vir ons geword. Dít is Goddelike liefde. Dat Hy Sy lewe vir ons neergelê het. Dit is ’n Vriénd! Wanneer ek Jesus Christus dan aanvaar as my Verlosser, die enigste Een wat my kan red en vrymaak, kan ek Hom aanneem as my Saligmaker, die Een wat my herstel in Heiligheid en Goddelike vrede. Dit is deur Jesus Christus wat ek God se Gees ontvang. Daarom wil ek klaarmaak met my verlede en Hom deur die doopwater volg. Ek wil dood wees vir my ou lewe en in ’n nuwe lewe opstaan in Christus.

Die vyand maak die gees mens seer deur die vlees vas te hou. Hy het ’n greep op die vlees. Dit is in die doop bad wat die vyand sy greep, sy vashou (stronghold), op ’n mens begin verloor. Selfs al sou jy sonde doen nadat jy gedoop is, is daar nie meer ’n stronghold op jou soos in die verlede nie. Jy is nou dood vir die sonde en die Here het nuwe lewe in jou gees ingeblaas. Dit is nou vir die eerste keer vir jou moontlik om na die Gees te begin leef en dinge van die Gees te begin verstaan. Soos jy groei hierin, word jy ’n effektiewe soldaat in die Koninkryk, want jy is toegerus met alles wat jy benodig in die Koninkryk van God.

“As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie”. (Kol.3:1-2)

Hierdie As, is die slotsom van dit wat waar is. Dit is die resultaat van hierdie realiteit dat jy in Christus is. Jy is saam met Christus opgewek en die resultaat daarvan is dat jy begin fokus op die dinge van God wat waarheid is.

“Pursue with diligence the consequence of your association in Christ. Relocate yourself mentally!”

Lees:

Kol.3:1-2

Rom.8:32-33

Heb.10:14-22

1Joh.4:16-19

Mediteer:

  • Risen with Christ, they were to set their affections on things above, where Christ sits at the right hand of God, and not on things on the earth. The two could not go together. To look (to have one’s motives) above and below at the same time, is impossible – Darby.
    • To combine the two is impossible!
    • Dit is nie moontlik om aardse gedagtes en hemelse gedagtes oor jouself te hê nie. Die twee loop nie hand aan hand nie.
  • Consequence – This is the result or effect of. The importance or relevance.
    • Wat is die gevolge van jou lewe in Christus? Wat beteken 'in Christus' prakties vir jou lewe?
  • Watter verkeerde gedagtes het jy nodig om te verruil vir God se opinie?

Bid:

Here dankie vir U ongelooflike plan van opoffering en versoening met U Self. U is liefde en U trek my die hele tyd in U liefde in. Ek het niks om te vrees nie, want U het my reeds met U Self versoen. In hierdie liefdes-offer van versoening is daar volmaaktheid en vryheid. Ek wil nie meer in twee geskeur wees en dubbele standaarde leef en dink nie. Dankie, dat ek nou my gedagtes kan vasvat en begin fokus op die waarheid in U liefde. U is standvastig in al U wee. Dankie, Here. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Die gevolge van Christus in my en ek in Christus is volmaak. Die gevolge is...

Aanbidding:

This is The Air I Breathe – Hillsong Worship

Dag 4: Hoër Gedagtes

As ek in Christus is, kán ek die dinge bedink wat daar bo is. Ek kán my gedagtes begin belyn met hoe God my sien en hoe God ander sien.

Throne-Room Thoughts: Dit is wanneer ek begin fokus op God se manier van dink.

"Soos die hemel hoër is as die aarde, so is My optrede verhewe bo julle optrede en My gedagtes bo julle gedagtes. Die reën en die sneeu kom uit die hemel uit en dit gaan nie daarheen terug nie, maar deurweek die aarde en laat die plante bot en vrugte dra, sodat daar saad is om te saai en brood om te eet. So sal die woord wat uit My mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het" (Jes.55:9-11).

Hierdeur sê die Here dat Sy gedagtes Goddelik is en dat ons ’n verwagting kan hê dat Hy Sy gedagtes aan ons bekend maak. Hy sê dat die seën wat Hy gee, nie verlore gaan nie, maar op ons neer reën, sodat daar goeie vrug, saad en brood is. Wat God sê, sál geskied want Hy ag Sy Woord hoog (Ps.138.2). In Jesus Christus, trek God nie Sy Woord terug nie. God laat dit geestelik reën oor ons elkeen. God laat dit oor ons reën en daar is gevolge!

Lees:

Kol.3:1-2

Jes.55:9-11

Mediteer:

  • Hoe sien God my?
  • Wat is die gevolge van God se seën oor my lewe?

Bid:

Here help my asseblief om my gedagtes te begin fokus op U gedagtes. Here gee vir my ’n dieper intimiteit met U sodat ek uit U Troonkamer kan begin leef. In Jesus se Naam. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Die Here se seën reën oor my lewe!

Aanbidding:

Worthy – John Wilds

Dag 5: Vlekkeloos

Indien sondeloosheid ’n voorwaarde sou wees om in God se plan ingesluit te word sou niemand dit kon maak nie, want niemand is sonder sonde nie. Daar is nie een nie (Spr.20:9; Pred.7:20; 1Joh.1:8; Rom.3:10-12). Selfs Jesus sou dit dan nie kon maak nie, want Hy het sonde vir ons geword (2Kor.5:21).

Wat Jesus Christus kom doen het, was om sonde van ons te skei (Ps.103:12). Dus, is ons nie meer sondaar nie, maar ons het ’n nuwe identiteit wat ons aanneem. In Christus, is ons nuut. In Christus is ons geregtig (Rom.5:18-19). Jesus Christus se bloed bedek ons verlede, ons hede en ons toekoms.

God het vir Homself ’n beloning bymekaargemaak. Elkeen wat tot redding kom is God se beloning. Hy het jou naam in Sy handpalm ingegraveer. Hy het ons gered en dit is ons storie. Met die wete dat Christus (die Lam) ons heeltemal toemaak met Sy bloed, kán ons nou uit Sy Troonkamer leef.

Lees:

Kol.3:1-2

Rom.12:2

Mediteer:

  • Kan sonde maak dat ek my seunskap verloor?
  • Beteken die feit dat Christus ons nuut gemaak het en ons vry is, dat ons dan mag doen wat ons wil? (Rom.6:1-2)
  • Bevry van sondebewustheid beteken nie dat daar nie sonde is nie, óf nie gevolge van sonde nie, óf dat ons nou maar kan leef net soos ons wil nie. Dit beteken wel dat God so effektief met sonde afgereken het, dat ons nie net vergewe is of vergifnis kán ontvang nie, maar dat ons gewete skoongemaak is van skuld en veroordeling.

Bid:

Here Jesus, U is die vlekkelose Lam wat geslag is, sodat ek vlekkeloos kan leef, sonder veroordeling en sonder skuldgevoel oor my verlede en dit wat ek nie regkry nie. Dankie, dat U genade op genade aan my bewys. Ek loof en prys U Naam, want U is God. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

In Jesus Christus is ek vry, vlekkeloos en nuut!

Aanbidding:

Every Beat – North Point InsideOut