Go Deep 16 Julie 2023

SETTLING FOR SECOND BEST?

Neville Goodchild

Ontvang jou vrymoedigheid en geloof vir God se toekomsplan!

 

Dag 1: Doxa (Opinie)

In ons gebrokenheid is dit maklik om op die negatiewe te fokus en om dit wat die wêreld sê of dit wat ander sê eerder te glo, as om God se opinie te huldig. Is dit omdat God se opinie nie vir ons waardevol is nie, of is dit omdat ons God se opinie nie ken nie? Ons sukkel om God se stem te hoor en dink dat Hy nie praat nie en nie hoor nie. Die afwesigheid van God se opinie in ons lewens, laat ons dink dat God nie ’n opinie het nie. Dan is ons maar tevrede met minder. Broken people settle for less.

Watter geestelike selfbeeld/persepsie huldig ek dan? Wat dink ek van myself en hoe posisioneer ek myself dan voor God indien enigsins? Dit is moeilik om te bid wanneer die gesprek eensydig is en my verhouding met God is een van stilswye. As ek dink ek moet ’n lys dinge voor God bring en dit afgehandel, aangaan met my lewe, totdat ek môre weer dieselfde lys, met ’n paar nuwe items by of ’n paar veranderinge net maar weer teen die plafon stuur. Niks verander werklik nie en ek ervaar nie deurbraak nie.

Dit is nie hoe ons die God van die Bybel ken nie. God het ’n opinie en God praat. Net omdat ek Hom nie hoor nie, beteken nie Hy praat nie. Net omdat daar nie klank uit my radio kom nie, beteken dit nie daar is nie ’n omroeper op die lug nie. God is geklee in heerlikheid - dit beteken dat Hy ’n opinie het. Hy het ’n Goddelike opinie en omdat ons na Sy Beeld geskape is, het ons as mens ook ’n opinie. Ons mag ’n opinie hê. Buite verhouding met God, sal my opinie van God sekerlik krities wees en gelaai met onsekerhede, maar in die Here, ken ek die Here en my opinies is uit die Here. Wanneer ek dan my opinie lewer is dit ’n verheerliking van God. My opinie oor Hom verheerlik Hom. Dit is worship. Net so, het God ’n opinie oor my en Sy opinie oor my is Sy heerlikheid oor my. Wanneer my lewe transformeer en Sy heerlikheid kan gesien word in my lewe, het Sy opinie oor my lewe waar geword en gewen. God se Woorde verander my. Sy persepsies verander my. Dit kom nie uit myself nie, maar van Hom af. Dit is Sy heerlikheid wat my verander!

Lees:

Mat.26:31-35

Mediteer:

  • Hoekom is dit vir Jesus net so belangrik om vir Sy dissipels te sê dat Hy hulle na die tyd in Galilea sal sien as wat dit is om hulle te waarsku dat hulle Hom gaan verloën/verlaat?
  • Om sondebewus te wees en te leef, kelder my geestelike groei en dit kos eventueel God se heerlikheid in my lewe. Hoe kan ek ontslae raak van my sondebewustheid?
  • Laat ek toe dat die teleurstelling tussen my en God my verhouding met God kos?
  • Laat ek toe dat God se plan met my lewe, Sy Koninkryk in en deur my lewe gekelder word omdat ek Hom teleurstel?
  • Wat is God se opinie oor my?

Bid:

Here U is ’n God wat hoor en ’n God wat praat. Ek wil graag U opinie, U heerlikheid oor my lewe huldig. Nie my eie nie, nie die wêreld s’n nie, maar U s’n Here. Ek word nou stil en stel my in om te hoor en te sien wat U sê....

Bonus: Spreek Lewe!

God het ’n opinie oor my en Sy opinie verander my!

Aanbidding:

When You Speak – VOUS Worship

Dag 2: First Impressions Last

Wanneer jy iemand vir die eerste keer ontmoet, kry jy ’n sekere persepsie van daardie persoon. Wanneer jy hul beter leer ken word jou persepsie bevestig of jy word verras. Soos wat tyd aanstap word jy dalk teleurgestel. Jy is miskien die een wat teleurstel. Wat doen dit dan aan jou verhouding met daardie persoon?

Nadat elke dissipel Jesus verlaat en verloën het en hulle in wanhoop wou vasval, kom die vroue van die graf af en getuig: “Hy het opgestaan uit die dode en gaan voor julle uit na Galilea. Daar sal julle Hom sien” (Mat.28:7). Jesus se antwoord op jou teleurstellings en dat jy teleurstel is: “Ek wag vir jou in Galilea”. Dit is omdat God weet wat gebeur wanneer jy deur teleurstelling, krisis, trauma, sonde en terugslae gaan; dat dit jou dis-posisioneer buite God se opinie. Jy blameer jouself en settle for second best. Jesus sê juis Hy gaan jou vooruit, Hy wag reeds aan die anderkant vir jou!

In Galilea sê Jesus vir Sy dissipels: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Gaan dan heen,...” (v.18-19). Jesus gee aan hierdie dissipels wat nou net terugslag beleef het, gesag. Vir elkeen wat dit nie gemaak het nie, hou Hy nie terug nie. Hy vertrou God se Koninkryk, Sy gesag aan hulle toe. Dit is hoe die evangelie werk. Die evangelie is die goeie nuus!

As God harte herstel, siekte genees, finansies en verhoudinge herstel, dan kan Hy sekerlik ook Sy oorspronklike plan met jou lewe herstel? Why do we want to settle for any less? Wat God jou ook al voor ontwerp het, wat jou lewensdoel ook al is.... God se oorspronklike plan, Sy eerste intensie, tel! Geloof is om weer daarin te begin glo!

Geloof in God se vergifnis is ook geloof in die herstel van Sy plan vir jou lewe!

Lees:

Mat.28:7-19

Mediteer:

  • Hoekom probeer die aanklaer die heeltyd jou verlede, skuld, sonde, trauma ens. oor jou hoof hou?
  • God is genadig deur Jesus Christus. Kan ek dan maar voortgaan en sê ek is ’n sondaar en bly ’n sondaar so ek leef maar soos ek leef? (Gal.3)
  • Wat beteken dit prakties om genade te misbruik?

Bid:

Jesus, hoe ongelooflik is U as die Woord wat mens geword het nie! U werke is onbeskryflik. U het alles wat ek gedink ek verloor het herstel in U Self en U bring my terug by God se oorspronklike plan vir my lewe. Dankie, dat U nie foute maak nie en dat U my nie aankla nie, maar losgekoop het met U kosbare bloed. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

God se opinie oor my lewe tel die meeste!

Aanbidding:

The God Who Stays – Matthew West

Let There Be Light – Hillsong Worship

Dag 3: Joy in the House!

Het jy al by die kerk ingestap en gewonder hoe ander só kan praise en worship? Het jy gewonder waaroor dit gaan en hoekom die mense so gelukkig lyk? Hoe kan hierdie mense soveel joy beleef? Sit hulle aan? Moet wees! In die verhaal van die verlore seun, kom die oudste broer by die huis aan en hy hoor dat daar iets binne die huis aangaan. Hy hoor die feesviering, maar verstaan dit nie. Hy verstaan nie die rede vir hierdie groot oproerigheid nie. Dit is nie deel van sy raamwerk nie en hy voel uitgesluit. Tog het hy grootgeword in hierdie huis.

Dit is juis wanneer die roekelose, onverantwoordelike seun terugkeer na sy Vader se huis, wat daar feesgevier word. Die jongste seun het ná al sy skandes gevoel dat hy dit nie verdien om in die huis van sy vader te wees nie. Daarom wou hy as dienskneg terugkom. Hy was nie vrymoedig nie. As gevolg van sy foute en opinie oor homself, het hy gedink hy is niks werd nie. He wanted to settle for less, for second best. Sy pa het hom egter vinnig reggehelp. Die pa sê dadelik dat ’n kleed, ’n ring en skoene gebring moet word en ’n vetgemaakte kalf geslag moet word vir die fees. Die pa herstel hom onmiddellik as seun in sy huis. Dit is ’n hoogtepunt in ’n persoon se geestelike lewe. Daar is rede vir 'n feesviering! Daar is ’n Vader met ’n ander opinie. God se opinie is anders as mense se opinies.

Mense wat praise en worship, is vrymoedig voor die Here. Waarom? Want hulle besef dat hulle herstel is in die Here, nie op grond van hul verdienste nie, maar op grond van die liefde van hul Vader (deur Jesus Christus). Dit is juis dié wat verlore was wat teruggekom het, waaroor daar feesgevier word.

Jou vrymoedigheid in lofprysing en aanbidding openbaar jou geestelike selfbeeld.

Lees:

Luk.15:25

Mediteer:

  • Is ek soos die oudste broer wat staan en kyk hoe ander feesvier?
  • Wat van my verlede kan God nie vergewe nie en nie herstel nie?
  • Hoekom gee die pa onmiddellik vir sy jongste ’n kleed, ring, skoene en vetgemaakte kalf met ’n feesviering?
  • Hoe lyk my vrymoedigheid voor God? Hoe aanbid ek?

Bid:

Here, dankie dat U my soos ’n eregas ontvang en my belaai met hartlikheid. Dat U liefde my verlede bedek en dat ek as ’n seun/dogter voor U kan staan met U heerlikheid wat oor my spoel. Dankie dat U opinie oor my asemrowend is en dat U droom oor my lewe. Dat U ’n goeie plan het vir my en dat my verlede U planne nie kan belemmer nie. Dankie, dat my teleurstellings U planne nie verander nie. U is goed, U is God. Ek vra dat U vir my vrymoedigheid gee voor U. Ek wil U dien met my hele hart, siel en verstand, met my hele wese. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek hef my hande op voor die Here in lofprysing. Ek lê plat op my maag voor die Here in aanbidding. My hart en mond sing vir die Here!

Aanbidding:

House of the Lord – Phil Wickham

Dag 4: Refleksie

Een van die maniere waarop die vyand ons vir jare lank besig en afgesonder hou is deur skuldgevoel en skaamte. Dit maak dat ons nie vrymoedig is voor die Here nie. Ons is sondaars en soos die verspieders, wat saam met Josua en Kaleb uitgegaan het, gesê het “ons lyk soos sprinkane in ons eie oë en in hulle oë”. Dit is wat sonde doen. Dit doen skade aan ons selfbeeld, aan ons self-persepsie. Ons voel nie waardig nie. Veral nie by ’n Heilige God nie. Dit is strategies van die vyand. Hy wil vir ons ’n wanbegrip gee van God se opinie oor ons.

Die Woord sê dat as jy sonde gedoen het en berou toon en jou sonde voor die Here bely, dan is Hy getrou en Hy sal jou ongeregtigheid vergewe (1Joh.1:9). As God dan ’n God is wat Sy Woord gestand doen en ek het berou oor my sonde en bely dit teenoor die Here, dan is die waarheid dat Hy my sonde van my verwyder so vêr soos die ooste van die weste (Ps.103:12) en Hy dink nie weer daaraan nie (Jes.43:25)! As dít waar is dan het ek mos nie nodig om oor en oor dieselfde smeekgebed te doen en God probeer oortuig dat Hy my moet vergewe nie? Dit is mos juis wat die kruiswerk so ongelooflik maak. Deur Jesus Christus is ek vry! God wys deur Jesus dat Hy wil deel met my verlede en ontslae raak daarvan. Hy het dit reeds besluit! Ek het nie nodig om die verlede vas te hou omdat ek skuldig voel nie. Ek het berou, dit voor Hom bely en God het my vergewe!

Ten spyte van die verlore seun se onvermoë om dit te maak in die lewe, kry die Vader dit reg om die seun 100% te herstel as seun in sy huis. Hy gee vir die seun ’n nuwe kleed (die kleed van geregtigheid), ’n ring (gesag) en skoene (seunskap). Die pa kry dit baie goed reg om dit wat die seun gebreek het op te tel en reg te maak. Die seun sien nie hoe die pa hom sien nie en weet nie hoe dinge gedoen word nie, maar die pa wys hom. Die pa oortuig sy seun: “in hierdie huis lýk jy so en doen ons dinge só”. Die seun bepaal dit nie. Die pa bepaal dit. Die seun kan dit nie self so reël nie. Die pa reël dit.

Die Here wil Sy oorspronklike plan met jou lewe herstel. Hy bepaal wie jy is en hoe dinge gedoen word. Hy het vir jou ’n kleed, ring en skoene aangetrek. Van nou af, leer jy by Hom wie jy is en hoe Hy jou gemaak het om te leef!

Lees:

1Joh.1:9

Ps.103:12

Luk.15:25

Mediteer:

  • Berou beteken dat jy jammer voel oor dit wat jy verkeerd gedoen het (Jy voel dit). Belydenis beteken dat jy vir die Here sê dat jy jammer is oor die dinge wat jy verkeerd gedoen het (Jy sê dit). Het jy al jou sonde vir die Here gegee?
  • Hoeveel keer het jy nodig om die Here om vergifnis te vra oor sonde in jou verlede?
  • Wat is die verskil tussen skuldbelydenis en vergifnis? Wie bely skuld en wie vergewe?
  • Wat bedoel Jesus met sewentig maal sewe (Mat.18:22)?
  • Jesus verwag dat ons ander vergewe. Sal Hy van ons verwag wat Hy Self nie bereid is om te doen nie?

Bid:

Here, ek wil klaarmaak met my verlede en alle skuldgevoel. Ek het berou oor _________. Ek bely dat ek _________ gedoen het en dat dit sonde is. Jammer, Here. Dankie, dat U vir my aan die kruis gesterf het en die vloek van die sonde namens my gedra het. Dankie, dat ek nou U vergifnis kan ontvang Vader op grond van die kruis werk. Dankie, dat U my ontvang as ’n seun/dogter in U huis en dat U my toekoms bepaal en dat dit ’n goeie een is. U gee vir my geregtigheid, gesag en maak my U kind. Ek is welkom in U huis. Dankie, Here. Ek loof U Heilige Naam. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

I am forgiven and restored

Aanbidding:

This is Our God – Hillsong Worship

Dag 5: Nuwe Prentjie

Ons dink maklik dat dit óns is wat bepaal hoe ons lyk en wat ons doen. Wanneer ons faal dan is ons teleurgesteld in onsself en voel ook ons het ander en vir God teleurgestel. God sê egter dat dit nie ons is wat die bepalende faktor is nie, maar dat Jesus se kruiswerk die bepalende faktor is. Ons onvermoë is nie ’n faktor nie. God is die bepalende faktor! Terwyl Jesus die grootste offer bring (the ultimate faithfulness), is die dissipels besig met hul onvermoë en ongetrouheid. Die storie van Golgota gaan ook oor die mens se onvermoë. Dit gee vir ons hoop, want selfs al máák ons dit nie, herstel God Sy plan met ons lewens wanneer ons Hom vra en vertrou. Vader sê: “hier is die kleed, dit is Mý kleed wat Ek vir jou aantrek. Jy lyk vir My soos My seun/dogter. Dít is hoe ons dinge in My huis doen. Jy lyk vir my reg in hierdie plek. Hier is vir jou gesag.” Vader bepaal dit en gee dit. Dit is God se boodskap vir dié wat êrens in hul lewe gefouteer en van die pad afgedwaal het en wat weer teruggekom het. Vader sê dat jy reg lyk vir ’n fees. Hy herstel die prentjie!

Die storie van die verlore seun wat teruggekom het in sy Vader se huis, gaan ook oor ’n oudste broer wat settle for second best. Hy staan terug en neem nie deel nie. Hy is trots op die dinge wat hy reg doen en self regkry. Hy staan en kyk met verwyte na die onregverdigheid van alles. Amper soos Marta wat Maria aankla by Jesus, omdat sy nie help met die werk nie. Hulle mis die punt!

Na Jesus se kruisiging gaan Hy na Galilea toe om die dissipels daar te ontvang. Hy verwyt hulle nie. Hy stel hulle nie af as dissipels nie. Hy trek nie sy besluite terug nie. Hy verwelkom hulle en gee vir hulle die sleutels van die Koninkryk om toe te sluit op aarde en in die hemel en om oop te sluit, sodat ander in die Koninkryk kan inkom. Hy gee gesag en ’n opdrag!

Ons kan die Here vra vir vrymoedigheid en vir geloof dat Hy Sy plan met ons lewens herstel. As Jesus die vermoë het om mense uit die dood te laat opstaan, het Hy die vermoë om Sy beste plan vir ons lewens te realiseer!

Lees:

Mat.26:31-35

Luk.15:25

Mediteer:

  • Wat doen Jesus ná die teleurstelling?
    • God se beloftes oor my lewe staan vas! Alle beloftes is Ja en Amen in Jesus!
  • Hoe kan ek seker maak dat my teleurstelling nie tussen my en God kom nie?
    • Jesus het my lief. Hy gaan nie toelaat dat ek verlies beleef omdat ek Hom verloën het nie.
  • Het ek vrymoedigheid om te vra?
  • Waarteen waarsku die Nuwe Testament, méér as teen sonde en foute?

Bid:

Here, gee vir hierdie broer/suster van my vrymoedigheid en geloof. Versterk sy/haar geloof vir die prentjie wat U vir hom/haar droom en maak dit vas as nuwe realiteite wat moontlik is in U. Vir U is alles moontlik! In Jesus se Naam. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek glo in God se vergifnis en in die herstel van Sy plan vir my lewe!

Aanbidding:

The Father’s House – Cory Asbury

Homecoming – Bethel Music