KIES JOU FREKWENSIE
Neville Goodchild
Vrymoedigheid

Dag 1: Die Begin
Die ontwikkeling van tale het begin by die behoefte aan die terugkeer na intimiteit met God, wat die mensdom verloor het met die sondeval. ’n Baba skree vir die eerste keer by geboorte, wat ’n suksesvolle skeiding van sy/haar ma aankondig, maar dit is ook ’n kreet wat sê ek wil terugkeer na daardie veilige omgewing. So is kommunikasie die behoefte om terug te keer na die oorspronklike plek soos God dit vir ons bedoel het. Ons lees meer van hierdie oorspronklike verhouding en heerskappy in Efesiërs 1-3.
God se oorspronklike gedagte vir ons is ’n volkome instandhouding in liefde, heel en heilig! Om Shalom te beleef! Dit is: wholeness in every aspect of life! Adam en Eva is geskape met ’n missie en ’n mandaat om as beeld en gelykenis van God, suksesvol op aarde te heers. Ons het ’n Goddelike natuur, wat beide hemels (Goddelike) en aards (natuur) is. As ons suksesvol op aarde leef, in die vrede van die Here en heilig, is ons besig met heerskappy. Om Shalom in elke aspek van ons lewe te ervaar, is heerskappy. Ons kan volkome wees in elke aspek van ons lewe hier op aarde (1 Tes.5:23).
Elke manier van kommunikasie is ’n poging om by hierdie volle heerskappy uit te kom. Wanneer ons kommunikasie nie reg gebruik nie, sukkel ons met die gevolge daarvan. Ons leer dat jou tong mag het oor lewe en dood. Jou tong kan jou weghou van die lewe van vrede en heiligheid. Jou mond loop oor waarvan jou hart vol is. Jou hart loop oor van dit wat jy glo.
Geloof kom deur die verkondiging van die Woord (dit wat jou ore hoor). Hierdie Woord gaan lê in jou hart. Jou hart is vol van hierdie Woord en dit loop dan oor uit jou mond uit. Dit wat jou mond bely het, mag oor lewe en dood, sal jy sien gebeur. Jou oë sal dit begin sien.
Lees:
Mediteer:
- As geloof kom deur die verkondiging van die Woord (dit wat jy hoor), waarna luister jy? Wat glo jy? Vul jy jou hart met die regte goed?
- "Jou lewe beweeg in die rigting van jou sterkste gedagtes" – Craig Groeschel. Wat is jou sterkste gedagtes? Waaroor praat jy? Waaroor is jy vinnig kwaad of ongelukkig?
- Jou mond loop oor waarvan jou hart vol is. Waarvan is jou hart vol? Dit wat in jou hart is, is wat jy glo.
- Geloof begin deur na die regte goed te luister.
Bid:
Here, vandag gee ek my ore vir U en ook dit wat ek glo. Ek vra dat U my ore salf met U woorde, maar ek neem my ook voor om deur middel van u hulp en die krag wat U my gee, my ore nie uit te leen aan die verkeerde woorde en nuus nie, maar aan dit wat U sê. Dit wat u waarheid is. Ek kies om te glo in u Woord, u beloftes en u getrouheid oor u Woord, asook u Woord oor my lewe. In Jesus se Naam. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek glo daarin wat God sê en daarom roep ek die dinge wat ek nog nie sien nie. Ek bely dit konstant met my mond.
Aanbidding:
Too good to not believe – Brandon Lake & Dante Bowe

Dag 2: Frekwensie van gebed
Wonder jy soms wanneer jy na ander mense kyk hoekom hulle gebede beantwoord word en nie joune nie? Dit is uitdagend om te vra maar niks te sien of te ontvang nie. Ons wil dikwels dinge koppel aan iets soos beantwoorde gebed, beter gebed, stortvloed woorde, beter sing, dit wat ek na God toe kan bring, beter skrif en die presiese woorde van die skrif. Is dit hoekom ander mense ontvang en nie ek nie?
Jesus dui egter vir ons die waarheid aan. Jesus was die perfekte offer wat gebring is en daarom is geen verdere offers nodig nie. Hy is geweeg en swaar genoeg bevind. Daarom het Jesus en God beide gesê dat die werk afgehandel is. Daar is niks ekstra nodig nie. Dit beteken dat wanneer ek na my Vader toe kom, wil Hy hê dat ek moet weet dat ek genoeg is. Dit gaan nie oor enige offer of werk wat ek in my hande het nie. Ek kan niks byvoeg om sy “Ja” en “Amen” te kry nie. Jesus IS die “Ja,” en die “Amen”. Ek is goedgekeur, my lewe is goedgekeur en daar is ’n toekoms, ’n verwagting wat die Almagtige bekendmaak! Hy wil my seën. Hy wil vir my ’n hoop gee, ’n standvastigheid en ’n lewe in oorvloed.
Lees:
Mediteer:
- Wat is die verskil tussen mense wat vra en ontvang, en mense wat vra en dikwels nie ontvang nie? Is daar ’n verskil?
- As elke belofte van God waar is en Jesus die "Ja" en die "Amen" is, wat keer my om hemel op aarde uit te leef?
- Die Gees van kommunikasie bring waarheid in my gees en hierdie waarheid resoneer in my wanneer dit God se waarheid is. Wanneer hierdie waarheid my lewe tref, aktiveer dit my, dit help my om deel te neem aan God se planne vir my lewe, dit beïnvloed my posisie en hoe ek my energie spandeer. My fokus word belyn met God se plan en ek is gewillig en bereidwillig. My woorde word belyn met God se woorde. Dit is om in geloof te wandel!
Bid:
Vader, dankie dat ek met vrymoedigheid na U toe kan kom; dat ek nie die regte woorde nodig het, of enige offers nie, omdat U my ontvang net soos ek is, deur Jesus Christus. Dankie, dat ek niks hoef by te las by die afgehandelde werk van Jesus nie. Vader, U hoor my wanneer ek praat. Ek wil graag my behoeftes aan U bekendmaak. Ek besef ook dat U u wil aan my wil bekendmaak. Ek besef dat U my somtyds antwoord, maar ek luister nie of is nie ingestel om te hoor nie. Ek luister nou om te hoor wat u wil is. Ek gee my wil en wese oor aan U om te wete te kom wat u wil is. In Jesus se Naam, Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek praat met God en Hy praat met my. Ek leef in sy Teenwoordigheid en is goedgekeur by Hom. Ek kan met God praat en Hy luister. Sy ore is oop vir my!
Aanbidding:

Dag 3: Wat jy het
Petrus en Johannes loop verby ’n kreupel man en genees hom (Hand. 3). Die mense rondom hulle is verwonderd, maar die priesters, die hoofman van die tempel en die Sadduseërs was almal baie ontevrede met hierdie twee se woorde en dade. Daarom het Petrus gereed gemaak om aan hulle te verduidelik en te bevestig hoekom hierdie man genees is, ten spyte daarvan dat hy van geboorte af so gebreklik was. Hoekom kon nie een van die kerkmense iets aan hierdie man se gebrek gedoen het nie, maar toe Petrus en Johannes verbyloop, was daar genesing?
"En toe hulle die vrymoedigheid van Petrus en Johannes sien en verstaan dat hulle ongeleerde en eenvoudige manne was, was hulle verwonderd en het hulle as metgeselle van Jesus herken. En omdat hulle die man wat genees was, by hulle sien staan, kon hulle niks daarteen sê nie." (Hand.4:13-14).
Petrus en Johannes het nie net genoeg geloof gehad nie, maar ook die vrymoedigheid. Vrymoedigheid verander die wêreld, dit bring God se Koninkryk in mense se lewens in en bring getuienisse in families se lewens in. Petrus en Johannes leef dit uit wat Jesus ons leer om te bid: Laat dit wees soos in die hemel, so ook op aarde. Hierdie twee apostels leef reeds Koninkryk op aarde. Op grond van die vrymoedigheid wat Petrus en Johannes gehad het, kon hulle optree uit God se intimiteit.
Johannes, die dissipel van liefde, het geweet dat Jesus hom liefhet. Hy het intimiteit met Jesus gehad, reeds vanaf voor die kruisiging. Daarom kon Johannes baie vinniger uit daardie intimiteit met Jesus leef as wat Petrus dit kon doen. Petrus was onseker oor waar hy met Jesus gestaan het. Jesus het hom hierin herstel (Joh. 21:17), in verhouding herstel en daarna kon Petrus met vrymoedigheid leef.
Vrymoedigheid is die een faktor wat opmerkbaar teenwoordig is in die lewens van gelowiges wat vra en ontvang!
Lees:
Mediteer:
- Die Fariseërs en skrifgeleerdes was opgelei en hoogsgeleerd, maar hul het nie die geloof en vrymoedigheid gehad van Petrus en Johannes nie. Hulle kon in 40 jaar nie die dinge doen wat hierdie twee dissipels in een oomblik reggekry het nie. Hulle het na hierdie twee verwys as idiotes (Grieks) – die grondwoord vir idioot. Tog word hulle opmerkings in die kiem gesmoor, want hulle moes toekyk hoe hierdie idiotes, ten spyte van hul skande en diskwalifikasies, doeltreffend in die geeswêreld was.
- Hoe verkry ’n mens vrymoedigheid?
- Hoe leef ’n mens met vrymoedigheid?
Bid:
Here Jesus, dankie dat U my geloof in U standvastig maak en dat ek met vrymoedigheid kan leef met die wete dat U doen wat U sê. U is getrou aan u Woord, ’n waarmaker van u woord. Dankie, vir u lewe in my, u lig deur my, en my vrymoedigheid in U. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Ek leef uit intimiteit met die Vader, deur Jesus Christus, en daarom is ek vrymoedig!
Aanbidding:
Who You Say I Am - Hillsong Worship

Dag 4: Gebed met krag
Waarvoor vra die apostels in Hand. 4:29-31 wanneer hulle lewens bedreig word? Soebat hulle? Vra hul vir beskerming? Bestraf hul die vyand?
Hulle praat met vrymoedigheid met die Here en vra vir een ding: Vrymoedigheid om die Woord te verkondig.
Vrymoedigheid krap die vyand om!
Wanneer jy begin bid met geloof en vrymoedigheid, moet die geeswêreld daarvan kennis neem en reageer op dit wat jy spreek. Daar waar jy met vrymoedigheid bid, word die vyand omgekrap want jy is juis besig om ’n bedreiging vir die vyand te word. Vrymoedigheid krap die vyand om en meng in daar waar die vyand besig is. Daar is altyd ’n geestelike reaksie wanneer jy met vrymoedigheid begin bid. Gevaarlike geestelike gebiede vereis gevaarlike gebede. Wanneer jy met vrymoedigheid begin bid en met vrymoedigheid jou geloof begin toepas en verklaar, aktiveer jy die geeswêreld. Jy hoef nie bang te wees om vrymoedigheid te hê nie. Vrymoedigheid wys dat jou geloof prakties en toepaslik geword het en dat die vyand van jou moet kennis neem!
Vrymoedigheid aktiveer God in jou omstandighede!
"En toe hulle gebid het, is die plek geskud waar hulle saam was, en hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek" (Hand.4:31)
Wanneer jy met vrymoedigheid bid, word die hemelse realiteite die realiteite op aarde. Die bonatuurlike is dan die normaal. Die vyand word ongemaklik oor jou vrymoedigheid, omdat jy God betrokke maak in jou omstandighede. Wanneer God betrokke raak, geskied dinge op aarde, soos in die hemel!
Vrymoedigheid is deel van die verskil tussen iemand wat bid en vra, en iemand wat bid en ontvang!
Lees:
Mediteer:
- Hoe verbaas is mense oor jou vrymoedigheid?
- Boldness (moed) is nie ’n persoonlikheidstipe nie, dit is ’n vrymoedigheid. Bid, die Gees kom oor jou en jy begin met vrymoedigheid preek!
- Wat gebeur wanneer jy met geloof en vrymoedigheid bid?
- Waar die Woord met vrymoedigheid verkondig word, sal wonders en tekens volg!
Bid:
Here, ek vra dat U vir my vrymoedigheid gee in my omstandighede vandag. Dat ek met vrymoedigheid sal Woord gee aan almal om my en dat u hemelse realiteite my nuwe normaal sal wees. In Jesus se Naam. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Ek vra die Here met vrymoedigheid en Hy word deel van my omstandighede. God se Koninkryk en sy Hemelse realiteite is deel van my lewe en dit is normaal.
Aanbidding:
God of the Impossible – Lincoln Brewster

Dag 5: Wat sluit jy oop?
Die apostels is in die tronk gestop oor die woord wat hul verkondig het. ’n Engel van die Here het die tronk se deure oopgemaak gedurende die nag en hul uitgebring en ’n boodskap aan hulle oorgedra: “Gaan verkondig die volle boodskap van hierdie nuwe lewe” (Hand.5:17-42). Het jy al verdrukking beleef, met ’n oortuiging daarna dat jy met méer passie, ywer en deursettingsvermoë die Here sal dien en doen wat Hy vra?
Vrymoedigheid gaan altyd met geloof gepaard!
Vrymoedigheid bevestig altyd geloof. Jy kan doen wat jy moet, want jy weet God is met jou, aan jou kant en jy vertrou Hom en glo in wat Hy sê.
Vrymoedigheid posisioneer jou in die middel van jou grondgebied!
Paulus vertel ons van die wapenrusting (Ef.6:10) omdat hy wil hê dat ons moet besef dat die wapenrusting ons vrymoedig maak. ’n Soldaat het vrymoedigheid wanneer hy in sy volle mondering is. In die Here is jy kragtig, sterk en as jy jou mond oopmaak (met die Woord as swaard). Dan spreek jy soos wat jy moet spreek, met vrymoedigheid, sodat jy kan hou wat aan jou behoort. Die vyand kan dit dan nie in die hande kry nie, omdat jy weerstand bied teen onheil!
Lees:
Mediteer:
- Hoe word jou vrymoedigheid beïnvloed deur jou persepsie van God?
- Hoe kry ’n mens geloof?
- Hoe kan vrymoedigheid ’n invloed hê op die grondgebied wat jy besit? Wat gebeur met jou grondgebied wanneer jy onvrymoedig is?
Bid:
Here, dankie dat U ’n Lewende God is wat ’n lewende verhouding met my wil hê. Ek kom nou in vrymoedigheid nader aan U omdat U my sien as geliefd, genoeg en U het ’n welbehae in my. Ek glo dat U Woord betroubaar is, dat U betroubaar is en daarom kan ek in vrymoedigheid U waarheid vat as waarheid oor my lewe en dit uitleef. Dankie, dat ek daarom ook die werke van die vyand kan teenstaan en nie hoef terug te deins vir enige aanslae nie. In U lê my krag en sterkte. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
In geloof neem ek die grondgebied wat God my gegee het terug en verklaar God se waarheid, goedheid en liefde oor my lewe, my omstandighede en my geliefdes s’n.
Aanbidding: