In Christus
Eugene du Randt
Ons lewe vanuit dit wat Jesus in ons kom deponeer het en ons is lewend in Hom
Dag 1: Soekend
Ons God is ’n God van oorvloed en seën. Ons sien dat waar Hy is, vergaan niks nie. Waar die Here se teenwoordigheid is, is daar lewe!
Wat beteken dit vir ons om in Christus te wees?
Ons het hierdie afgelope tyd die storie van die verlore seuns herontdek. Ons het ontdek dat dit nie net die een seun is wat verlore was en gevind is nie, maar dat die oudste seun buite staan terwyl die feesmaal binne plaasvind. Hy is nie in sy vader se teenwoordigheid nie. Dikwels tree ons soos die oudste op. Ons wil werke verrig om ons redding te verdien. Ons is prestasie gedrewe; kompeterend en vergelyk onsself met ander. Ons wil ons identiteit so maklik vind in dit wat ons doen, bereik of het.
Die Here is egter eerste geïnteresseerd in jou as individu; Sonder al die fieterjasies en beperkinge wat ons so dikwels op onsself en ander plaas. God stel belang in jou, in jou hart, jou gedagtes en jou doen en late. Hy stel belang in verhouding met jou. Hy wil graag deel wees in elke aspek van jou lewe en wil jou wys hoe om in waarheid en liefde, in oorvloed te leef. Ons het nodig om vir Jesus te kies.
Jou ware identiteit kan nie in hierdie wêreld gevind word nie. Dit is slegs in Jesus Christus waar jy kan ontdek wie jy is en die volle potensiaal van wie God jou gemaak het om te wees, uitleef.
Lees:
Mediteer:
- Volgens Joh.14:6 kan ons slegs by Vader wees deur Jesus Christus. Het ek Jesus Christus al aangeneem as my Verlosser en Saligmaker? Kan ek ’n spesifieke dag/oomblik onthou wat ek erns gemaak het hiermee? Indien nie, maak ’n afspraak met ’n kerk leier.
- Wie is ek in Christus?
- Wat is my ingesteldheid, hoe leef en praat ek, in Christus?
Bid:
Here Jesus, ek kies om U te volg, elke dag van my lewe. Dankie, dat U gekom het om vir my ’n lewe in oorvloed te gee. Ek glo, hoop en vertrou U vir die lewenspad en weet dat al is daar storms, dat U my daardeur dra. U is my anker en my vaste hoop. Dankie, dat U ’n God is wat vryheid gee en my losmaak van die beperkinge van hierdie wêreld. Dankie, dat U my leer wat dit beteken om in U te wees. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek het gekom om vir julle ’n lewe te gee in oorvloed! (Joh.10.10)
Aanbidding:
In Christ Alone - Adrienne Liesching
Dag 2: Lewend en Nuut
Het jy jouself al mooigemaak en moeite gedoen met jou voorkoms? Miskien is dit vir jou ’n daaglikse roetine. Jy leef gesond, is fiks, jou hare is netjies, jy het geskeer en jy trek mooi aan. Hoe voel jy wanneer jy moeite doen? Miskien het jy al vir ’n ‘makeover’ gegaan en sommer goed gevoel oor die verandering. Miskien het jy al vir ’n periode van tyd min slaap ingekry as gevolg van omstandighede en dan, met ’n goeie nag se rus agter die rug, voel jy sommer weer soos ’n nuwe mens. Dink vir ’n oomblik aan hierdie lekker gevoel. Hoe voel jy wanneer die winter verby is en daar is nuwe lewe wat uitkom?
God maak alles nuut. God bring verandering. Wanneer God betrokke is, is daar altyd nuwe lewe!
Die verandering wat God bring, wanneer ons Christus vind, is ’n diep verandering binne ons. Dit wat dood was het lewendig geword (Ef.2:5). Dit is wat gebeur wanneer God se Gees in ons kom woon. Dit is amper soos ’n ‘makeover', diep binne jou. Die verandering is oombliklik. Ons het ’n nuwe lewe en ontdek dat ons dinge anders begin verstaan en anders leef as vantevore. God skep nuwe lewe binne ons. Dan begin ons hierdie nuwe lewe na buite uitleef (2Kor.5:17).
Hierdie verandering wat gebeur is vas. Jy is nie meer wie jy was nie. Jy is nou nuut in Christus. Die vyand probeer ons vrymoedigheid steel, sodat ons nie verstaan dat ons nuut is in Christus nie. Hy wil ons die heeltyd terugneem na ons ou self (soos ’n hond wat terugkeer na sy braaksel). Maar nou word ons nie meer geken na ons ou sondige natuur nie. Dit beteken jy is elke dag nuut, elke dag met nuwe genade en elke dag is gister, iets van die verlede. Jy is nie net vergewe nie, maar getransformeer om aan Christus gelyk te wees.
Jy is nie meer dood nie, maar lewend deur God se Gees. Jy is nou geregtig in die Here. Dit beteken dat jy met vrymoedigheid voor God kan staan en ’n verhouding met Hom kan hê, vir altyd!
Lees:
Mediteer:
- Die Here het die vermoë om dit wat die vyand wil doen, óm te draai tot jou voordeel. Jy het ’n storie, ’n getuienis.
- Kan jy die dag onthou wat jy gered is? Was jy op daardie dag die beste weergawe van jouself? Die Here red ons wanneer ons op ’n slegte plek is. Soos Paulus wat oppad was om Christene te vervolg. Hy was nie op daardie stadium ’n apostel wat Heilig gelewe het nie. Hy was die laaste persoon wat dit verdien het om gered te word. Hy was op sy slegste. Ons het nie nodig om onsself of ander te diskwalifiseer op grond van ons werke nie. Jou sonde skrik Jesus Christus nie af nie. Jesus soek ons juis daar waar ons verlore is. In Jesus Christus, is ons lewend gemaak en geregtig op grond van Sy groot genade! Ons word nou geken aan die nuwe Gees wat ons lewend gemaak het, net soos Christus lewend is!
- Daar is dissiplines wat ons handhaaf om hierdie nuwe lewe vas te maak. Dit bly ’n daaglikse keuse. Ons het nodig om te volhard in hierdie nuwe lewe wat ons ontvang het. Net soos oefening wat jou liggaamlik fiks maak, het jy nodig om geestelik fiks te word en te bly.
- Het jy al geluister na liedere soos ‘Amazing Grace’ en ‘I Have Decided’? Ken jy die storie van die skrywer? Die ongelooflike liedere wat ons sing is nie geskryf op hoogtepunte van die lewe nie, maar juis tydens die ergste storms. Wat sing jy, of sê jy wanneer jy deur storms gaan? Spreek jy lewe in jou situasie in? Ons woorde dra krag. Die woorde wat ons kies om te spreek oor ons eie lewens, bring óf lewe óf dood. Watter woorde kies jy om te spreek?
Bid:
Here, dankie dat ek lewe het in U en dat U my nuut gemaak het. Dankie, dat U niks bo-oor my kop hou waaroor ek bekommerd hoef te wees, dat ek nie goed genoeg is, of nie goed genoeg slaag nie. U het die voluit van U Gees vir my gegee sodat ek hierdie lewe in U kan leef soos die nuwe mens wie U my gemaak het om te wees. In Jesus se Naam, Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Ek is ’n nuwe Skepsel in Chrisus. Ek lewe!
Aanbidding:
Great Are You Lord – All Sons & Daughters
I Have Decided – Elevation Worship
Dag 3: Wat Kort?
Het jy met beperkinge grootgeword? ’n Hele string moet en moenies, kan nie en soveel wat jou vashou? Voel jy of jy met beperkinge leef? Watter beperkinge, of dinge wat vashou, het Jesus jou nié van vrygemaak nie? Hy sê dat ons vry is en volkome in Hom. Watter dele van ons lewens sluit Hy uit en tel nie?
‘Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood’ (Rom.8:2).
In Christus is ons vry van die wet. Ons is vry van elke beperking wat hierdie wêreld op ons wil plaas; elke menslike poging; sonde en dood het geen meer houvas op ons nie. In Christus is ons vry. Dit sluit alles van ons lewe in. In Christus, is daar niks waarvan ons nie vry is nie!
‘en julle het die volheid in Hom wat die Hoof is van alle owerheid en mag’ (Kol.2:10)
Omdat die volheid van God in Jesus Christus is en ons is nou in Christus, deel ons in hierdie volheid. Wat beteken vol? Geheel en al gevul; versadig; kan nie nog nie; heeltemal; volkome; volledig; barstensvol, boordensvol, stampvol, propvol. Daar is nie nog plek nie.
Wanneer ons in Christus is, is ons Volkome in Christus met die volheid van Hom wat in ons leef. Ons is toegemaak en geklee in Hom!
‘soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees’ (Ef.1:4)
Vry, volkome, heilig, sonder gebrek en in Liefde. Maak hierdie vas in jou hart vandag. Dit is wie jy is in Christus!
Lees:
Mediteer:
Wat beteken hierdie prakties vir my:
- In Christus is ek vry
- In Christus is ek volkome
- In Christus is ek uitverkies
- In Christus is ek Heilig
- In Christus is ek in liefde
Bid:
Here, dankie dat U Woord nie net woorde is nie, maar waarheid. Help my om U waarhede te glo en vas te maak soos ’n gordel om my. In Jesus se Naam. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Die oomblik toe Jesus my skuldlas aan die kruis gedra het, die sleutels van die dood geneem het en opgestaan het uit die Gees van God, satan oorwin, het ek saam met Hom losgebreek uit alle beperkinge. Ek is vry!
Aanbidding:
No Longer Slaves – Jonathan and Melissa Helser
Dag 4: Oorvloed, Geregtig, Gees!
Voordat ek Jesus Christus aangeneem het, het ek soms Bybel gelees en soms kerk liedjies gesing. Daar was mooi oomblikke, maar ek het nie verstaan waaroor dit gaan nie. Ek het wel verstaan dat ek vir God moet dien en vrees en ontsag vir Hom moes hê. Ek het verstaan dat dit gaan oor om reg te lewe en dat ek die regte dinge moes doen, sodat ek darem ook in die hemel kon kom...dit is wat ek geleer het. Ek het probeer om dinge reg te doen en te verander, maar ek kon nie. Wat ek nie verstaan het nie, was waarop dit werklik neerkom. Ek het nie verstaan dat dit eintlik eenvoudig is nie.
Tot die dag wat Jesus my nader getrek het aan Hom, in Sy liefde. Ek kon daardie dag oorgee in Jesus Christus. Daardie dag het alles verander. Toe begin ek besef dat Hy my eintlik nog altyd nader getrek het. Ek het net nie gehoor of gesien nie. Ek is verlei deur die wêreld en my fokus was weggedraai van die Waarheid (Jesus). Ek het net daar alles van my en my verlede oorgegee aan Hom en ‘Ja’ gesê om Hom te aanvaar as die Enigste Een wat my werklik kan red. Ek kon myself nie red nie. My pogings het vér te kort geskied.
Daarna is ek gedoop en die oomblik toe ek gevul is met God se Gees, kon ek veranderinge in my lewe begin sien. Die dinge wat vroeër vir my onmoontlik was, het moontlik geword. Ek kon die Woord lees en dit het begin sin maak. Ek het ervaar hoe dat die Woord lewendig is en my voed. Ek kon vreugde en liefde ervaar, wat voorheen altyd te kort geskied het. Hiérdie vreugde en liefde het my volgemaak! Ek kon nee sê vir die verkeerde en my nee was nee. My ja/nee en my optrede was nie meer wankelrig, swyend en op die ou end oorgee of opgee nie. Hierdie kon net gebeur deur God se Gees. Dit was maar net die begin.
Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is (1Joh.4:4).
Die wêreld is behep met die duiwel. Dit is maklik om meegesleur te word, veral as jy nie weet wie jy is in Christus nie...en Wie Hý is ín jou nie! Dit is dieselfde Gees in my, met dieselfde krag, wat Jesus uit die dood laat opstaan het. Hierdie krag van God is onbeperk. My fokus moet skuif vanaf die vyand en sonde, na die Here. Hy sê dan: "nie deur krag of geweld nie, maar deur My Gees" (Sag.4:6).
Dit is Hý, ín mý!
Saam met Sy Gees, het ons in Jesus Christus oorvloedige genade en die gawe van geregtigheid (Rom.5:17). Ons staan volmaak in God se Teenwoordigheid, oor Wié Jesus is. Ons is seuns en dogters van die Lewende God, nuut, vry en sterk in Sy Gees op grond van Sý genade en Sý geregtigheid!
Lees:
Mediteer:
- Wie verdien God se genade?
- Kan jy getuig dat jy ’n mede-erfgenaam is? Hoekom?
- God red jou só vêr, dat jy gebruik kan word vir Sy Koninkryk, vir Sy eer. Kyk maar na Paulus. Hy het hoeveel Christene doodgemaak. En tog het Hy twee-derdes van die Nuwe Testament geskryf. Dit is net die Here wat dit doen en wanneer ons onsself bereidwillig verklaar om deur Hom gebruik te word, dan doen Hy ongelooflike dinge.
- Die Here het planne om ons lief te hê en voor te trek. Hy bekragtig ons, sodat ons gewillig in Sy diens kan staan, en goeie vrug kan dra.
- Het jy God se Gees? As jy twyfel maak ’n afspraak met ’n kerk leier.
Bid:
Jesus, dankie dat ek voor Vader kan staan en weet ek is geregtig (in right standing with Him), oor die ongelooflike geskenk wat U vir my gegee het. Dankie, vir U Gees wat kragtig deur my werk om U Koninkryk uit te brei en al die eer aan U te bring deur my lewe. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Ek leef nie meer na my vlees, maar na God se Gees!
Aanbidding:
By Your Spirit – Influence Music & Kim Walker-Smith
Dag 5: Alles in Christus
Het jy al ervaar hoe dit voel as iemand agter jou staan en jou aanmoedig om iets te bereik, wat jy onseker is of dit moontlik is? Dit is lekker om te weet dat iemand in jou glo. Of het jy ’n lewenslange struggle met mense wat nie in jou glo nie en die slegste van jou verwag of sê? Of net geen verwagting het nie? Wat van die verwagtinge en denke wat jy van jouself het?
Wanneer Paulus sê “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee” (Fil.4:13), praat hy nie só omdat hy op ’n suksesvolle plek is nie. Hy sê dit nie omdat daar belangrike mense in sy lewe is wat hom ondersteun nie. Hy sê dit omdat hy weet wie Christus is, wie hy in Christus is en wie Christus in hóm is! Hy weet enige iets en alles is moontlik want Christus is die Koning van die onmoontlike. Paulus beleef uiterste uitdagings waar hy geboei sit in die tronk, ná verskriklike marteling. Ten spyte van al hierdie storms wat hy deurwerk, bly hy geanker in Christus. Hy weet waarvan hy praat en hierdie groot worsteling word deel van sy getuienis.
As Paulus homself bly blameer het oor al die goeie mense wat hy doodgemaak het; of as hy geluister het na die aanklagtes van dié wat hom geken het en almal wat bang was vir hom; of as hy toegelaat het dat die vyand hom kasty oor sy verlede; dan het hy nie in God se doel vir sy lewe geleef nie. Hy skryf juis omdat hy self hiervan kan getuig, dat ons nou dood is vir sonde, maar vir God lewe omdat ons een is met Christus Jesus (Rom.6:11).
Nadat Petrus vir Jesus verloën het en Jesus hom by die viswaters moes gaan haal en terugbring, word hy genees en herstel in Christus. Soveel so dat hy getuig en skryf: “Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees” (1Pet.2:24). Ons word heeltemal herstel en genees in Christus. Hierdie genesing is volkome en ons het nie nodig om onsself te bewys nie. In Christus is die heling volmaak.
Lees:
Mediteer:
- Wat is jou denke oor jouself
- Wie is Christus vir jou
- Hoe lyk die storms in jou lewe en hoe hanteer jy hierdie storms?
- Die Here kan jou moeilike omstandighede verander sodat dit deel word van jou getuienis van die goedheid van die Here!
- Jesus is met elke tree daar saam met jou. Hy moedig jou aan en versterk jou om te volhard. Hy tree Self vir jou in en gee vir jou Sy Gees sodat jy kán! He is your biggest fan!
- Begin die Woord van die Here spreek oor jou lewe.
Bid:
Here, dankie dat ek in staat is tot alles in hierdie lewe wat U vir my gee, want U sal my nooit in die steek laat nie. U het my lief met U eie lewe en U sorg vir my met U krag. U voorsien in elke opsig. Ek kan getuig van U goedheid al beleef ek storms in my lewe. U weet alles en sien alles. Dankie dat ek nie genesing en voorsiening hoef te verdien nie, maar dat U dit gee omdat U my lief het. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Ek is tot alles in staat deur Jesus Christus wat my krag gee!
Aanbidding: