PASSIONATE PEOPLE FINDING PURPOSE IN HIS PRESENCE
Neville Goodchild
Genade onder druk
Dag 1: Dag se tema
As deel van ons huidge tema, Passionate People finding Purpose in His Presence, fokus ons tans op die Passionate People deel.
Ons, as die kerk, behoort passievol te wees ten opsigte van ander mense. Nie net teenoor mense in die kerk nie, maar teenoor alle mense. So, hoe tree passievolle mense teenoor ander mense op? Ons kyk, as voorbeeld, na hoe Jesus teenoor ander mense optree, want daar is tog sekerlik geen beter voorbeeld vir ons nie. Daar kan baie gesê word oor hoe Jesus mense behandel het, maar hierdie week lig ons graag een ding bo alle ander uit. Jesus het GENADE gehad vir mense. In tye wat die godsdienstige wêreld geen genade gehad het vir spesifieke mense nie, het Jesus uit sy pad uit gegaan om aan hulle genade te betoon.
Vandag kyk ons na 'n baie goeie voorbeeld van die genade wat Jesus aan mense betoon het, hierdie keer teenoor 'n vrou vir wie die skrifgeleerdes geen genade gehad het nie. Ons lees die verhaal van hierdie vrou in Johannes 8:1-11.
In hierdie gedeelte sien ons hoe die skrifgeleerdes 'n skuldige vrou voor Jesus bring, om te sien of hy met haar sal handel soos die voorskifte in die Torah aangedui het dat daar gedoen moet word. Hierdie wetlike voorskrifte, soos opgeskryf in Numeri 5, is ongenadig en veroordeelend en dit lees bietjie soos 'n riller. Dit is egter nie hoe Jesus optree nie. Hy wys 'n nuwe manier. Hy is die vervulling van die wet, Hy toon genade. Volgens die voorskifte in Numeri moet die priester die stof op die grond opneem as deel van die veroordeeling. Jesus neem egter die stof op en deel genade uit.
Al die skrifgeleerdes het as gevolg van Jesus se optrede tot inkeer gekom en besluit om weg te stap, want hulle het besef dat hulle nie sonder sonder sonde is nie. Net so is geen een van ons sonder sonde. Jesus het oneindige genade vir ons elkeen, en so behoort ons ook genade tebetoon teenoor mense. Ons behoort ook nie net genade te hê vir die “goeie” christene wat langs ons in die kerkbanke sit nie, maar ook die mense wat nog ongered en heeltemal die pad byster is. Almal verdien genade en ons, as mense in die kerk, behoort Jesus se voorbeeld te volg en ons medemens met dieselfde mate van genade te behandel.
Lees:
Numeri 5:17-28
Mediteer:
-
Hoe behandel ek mense? Spreek ek oordeel of genade?
Bid:
Here, help my om my perspektief te verander. Help my om te verander hoe ek na mense kyk en hulle behandel. Help my om dieselfde genade vir ander mense te ontdek wat Uself aan alle mense betoon.
Bonus: Spreek Lewe!
Jesus het die wet vervul en bring genade vir ALMAL!
Aanbidding:
Mercy - Elevation Worship & Maverick City
Dag 2: Jesus ontmoet my waar ek is
Vandag lees ons nog drie stories oor sondaars met wie Jesus interaksies het.
Die Samaritaanse vrou in Johannes 4 kom skep water by die put, in die middel van die dag (anders as die ander vroue wat dit reeds douvoordag in groepe doen om die son se hitte te vermy) omdat daar op haar neergekyk word as gevolg van haar leefstyl. Sy is uit die veld geslaan dat Jesus met haar gesels, want Jode praat as 'n reël nie met Samaritane nie, wat nog te sê van met 'n vrou alleen by ‘n put.
Die kreupel man, in Johannes 5, wat al 38 jaar lank by die bad van Bethesda lê, word deur Jesus spesiaal uitgesoek en genees op die Sabbat. Dit was natuurlik heel ongehoord volgens die wet en het die skrifgeleerdes baie erg ontstel.
In die derde verhaal roep Jesus vir Saggeus om uit die boom te klim, sodat Hy saam met hom kan gaan eet in sy huis. Weereens was mense geskok dat Jesus op so 'n manier omgaan met 'n sondaar.
In al hierdie gevalle, soos ook met die vrou in die tempel van wie ons gister gelees het, is dit vir Jesus oënskynlik belangriker om die persoon te bereik in hulle sondige toestand, net daar waar hulle hulself bevind, as om die wet te onderhou soos die skrifgeleerdes dink dit behoort gedoen te word.
Hy wag nie eers vir hierdie mense om hulleself te bekeer nie, hy toon aan hulle genade, ongeag van wat publiek daarvan sê. Hy ontmoet hulle op die vlak waar hulle hulself bevind, selfs al beteken dit dat sy aksies die wet en godsdienstige gebruike teengaan. Hy betoon genade eerder as om te veroordeel.
Elk van hierdie mense het as gevolg van God se genade aan Jesus begin glo en hom gevolg. Hulle is deur genade gered.
Lees:
Mediteer:
-
Jesus het 'n passie vir mense, Hy betoon aan hulle genade in hulle sondige toestand. Wat betoon ek aan mense? Deel ek oordeel of genade uit?
Bid:
Here, help my om verby mense se sondige toestand te kyk en hulle met genade te ontmoet waar hulle is, ongeag van die toestand en plek waarin hulle hulself mag bevind.
Bonus: Spreek Lewe!
Niemand is onbereikbaar nie. God se genade is genoeg en bring lewe.
Aanbidding:
Jesus, Friend of Sinners - Casting Crowns
Dag 3: Genade gee nie op nie
Die meeste van ons sal ons self seker nie sien soos ons die Fariseërs sien nie. Ons is tog nuwe testamentiese Christene en ons weet dat Jesus ons genadig is en dat ons aan ander mense genade moet betoon. Kom ons kyk bietjie na die voorbeeld wat vir ons gestel word en hoe vêr God se genade vir ons strek.
Ons oordeel nie net ander nie, maar ook soms onsself. Ons meet onself aan die mense rondom ons, sosiale beelde, watter dinge die meeste mense op spesifieke ouderdomme ‘behoort’ te bereik, en meer. Ons kyk selfs na die wet om te bepaal watter goeie Christen ons is, want ons dink enige goeie Christen behoort seker ten minste die tien gebooie te kan onderhou, as hul net probeer. Om te dink dat ons altyd alles sal regkry, is onrealisties. Selfs al kry ons baie dinge reg, of selfs die meeste daarvan, en ons groei in ons Christenskap, gaan daar steeds iets wees waarmee ons sukkel. Dit is juis hoekom Jesus vir ons kom sterf het.
Jesus het genade vir al ons tekortkominge en die goeie nuus is dat daardie genade nie op 'n dag sal opdroog net omdat ons vasgevang bly in sonde in 'n sekere area van ons lewe nie. In vandag se skrifgedeeltes is dit baie duidelik dat ons altyd nog 'n kans gegee word en dat God se genade nie opdroog of terrugetrek word nie.
Ons kan weer gaan kyk na die gedeeltes wat ons gister gelees het. Die Samaritaanse vrou het nie sommer net 'n voetvoutjie met een man op een geleendheid gemaak nie - sy het 'n sondige leefstyl gehandhaaf wat owerspel betref. Net so het Mattheus ook leefstylkeuses gemaak en gehandhaaf wat hom totaal en al verwerp gelaat het deur sy mede-Jode. Ons kan amper vir seker sê dat, na 38 jaar by die Bad van Bethesda, almal wat die man geken het, al op hom opgegee het, want anders sou hy nie steeds daar gelê het nie. Nie een van die mense in hierdie verhale wat ons gelees het was te vêr heen vir Jesus om moeite te doen om hulle te gaan haal daar waar hulle was nie. Sy genade ken geen einde nie.
Mag ons Jesus se voorbeeld volg en ook nooit opgee op mense nie, al neem dit hulle baie lank om op die regte pad te kom. Jesus gee nie op met ons nie, en ons mag ook nie opgee met ander nie, ongeag waarmee hulle sukkel.
Lees:
Mediteer:
-
Het ek nodig om iemand iewers meer genade te betoon?
-
Het ek nodig om myself meer genadig te wees?
Bid:
Here, help my om te begryp hoe diep en wyd U genade is. Help my om aan ander genade te betoon, soos Uself dit doen.
Bonus: Spreek Lewe!
Niemand is ‘beyond’ Jesus se genade nie.
Aanbidding:
Broken Vessels(Amazing Grace) - Hillsong
Dag 4: Genade word nie geroer deur die wet nie
Sovêr het ons gekyk na wat dit regtig beteken om passievolle mense te wees. Ons kyk na Jesus as voorbeeld en vra onsself af waaroor hy passievol is. Een van ons gevolgtrekkings is dat hy 'n passie vir alle mense het en dat ons ook daardie passie behoort uit te leef teenoor alle mense. As deel hiervan behoort ons mense genadig te wees, soos Jesus ook keer op keer genade aan mense betoon het.
Vandag gaan ons 'n bietjie dieper kyk na een van die eienskappe van genade. Ons lees weer die gedeelte van die vrou wat deur die Fariseërs na die tempel gebring is. As ons die storie lees, kan ons onsself goed voorstel wat 'n gedoente hierdie situasie moes teweegebring het; maar wat doen Jesus te midde van die rumoer? Hy is koel en kalm en laat homself nie aanjaag deur die beskuldigende krete van die Fariseërs nie. Hy neem sy tyd met wat hy doen op die vloer en bedien die vrou. Hy staan uiteindelik op, net om vir hulle te vra wie van hulle sonder sonde is en dan buk hy weer af. Alhoewel ons nie presies weet hoe lank Jesus so op die vloer was nie, kan ons aflei, gebaseer op die Griekse bronteks wat sê dat hy eventueel opgestaan het, dat dit 'n hele rukkie was. Dit, en natuurlik dat teen die tyd wat hy opgestaan het, al die Fariseërs hulself reeds verskoon het en die tempel verlaat het. Jesus gebruik al die tyd wat hy nodig het om genade te bedien, al skree die wet van die kant af, laat hy nie toe dat die druk wat op hom geplaas word 'n einde aan sy genade bring nie. Genade laat nie toe dat druk daarop geplaas word nie. Genade jaag veroordeling weg.
As gelowiges het almal van ons al 'n gesprek gehad oor 'n medemens wat ons erg frustreer omdat hulle net nie wil regkom nie, of net nie kan ophou met sonde nie, of dalk net nie groei in 'n sekere aspek van hulle lewens nie. Maar, genade raak nie gefrustreerd nie maar dit is lankmoedig. Genade word net onder druk geplaas waar dit nie heeltemal afstand gedoen het van wettisisme nie. Wettisisme onderdruk genade en lei tot frustrasie, spanning en moedeloosheid.
Ons moenie dink ons is beter as ander mense omdat ons iets regkry wat hulle nie regkry nie - ons frustrasie wys dan niks minder as veroordeling teenoor hulle nie. Die probleem lê soms eerder by ons persepsie van iemand as by die persoon self. Ons laat mense in die steek wanneer ons genade net vir 'n beperkte tyd gee. God het elke dag nuwe genade vir ons.
Lees:
Mediteer:
-
Is daar iewers in my lewe frustrasie, spanning en moedeloosheid teenoor mense wat aandui dat ek meer genade aan hulle moet betoon?
Bid:
Here, help my om elke dag nuwe genade te hê vir mense en ook vir myself, ongeag van hoe lank dit vir dinge neem om reg te kom. Help my om koel, kalm en lankmoedig te bly. Ruil my stres om vir my geloof daarin dat U besig is om te werk, al lyk dit nie altyd so nie. Verander my perspektief oor situasies om u werking raak te sien en te berus in die feit dat U volkome beheer oor ons almal se lewens het. Dankie dat u genade vir my nooit tot 'n einde kom nie en dat U altyd in beheer is.
Bonus: Spreek Lewe!
Die Here se genade is oneindig; dit is elke dag nuut.
Aanbidding:
One Thing Remains - Jesus Culture
Dag 5: Genade rol klippe uit die pad
Vandag lees ons Romeine 6:1-14 wat dit, onder andere, vir ons duidelik stel dat die feit dat ons genade ontvang het, nie beteken dat ons net kan voortgaan met sonde nie. Dit is so 'n kragtige stuk. Ons lees ook dat ons almal saam met Christus uit die graf uit opgestaan het. Jesus het die vrou in die tempel genade betoon en tog direk daarna ook vir haar gesê dat sy moet ophou sondig. Hy het aan haar genade betoon, terwyl die wet haar eerder sou stenig – maar hy het geweet dat sy sou verander.
Die duur graf waarin Jesus se liggaam neergelê is na sy kruisiging, is met 'n baie groot ronde klipskyf afgesluit, wat voor die ingang in 'n v-vormige sloot ingeskuif het. Die engele het daardie klip weggerol en Hy het opgestaan. Die klip het in hierdie geval ook 'n dieper betekenis. Die klip van die wet word in ons lewens ook deur hemelse wesens weggerol sodat ons 'n nuwe lewe kan begin wanneer ons gedoop word.
Dit laat ons ook dink aan die deel in Esegiël wat verwys na harte van klip wat met harte van vlees vervang sal word, en ook aan 2 Korintiers 3:3. Mag ons met mense handel met hierdie nuwe hart, gevul met God se gees en dít liewer uit te deel as die oordeel van die wet.
Interessant genoeg het daar by die bad van Bethesda vyf pilaargange van klip gestaan wat die vyf boeke van die Torah (o.a. die wet van Moses) verteenwoordig het. Jesus het gekom en aan die man daar genade bewys sodat hy nie meer daardie plek met sy klippilaargange en bygelowige waters nodig gehad het nie.
Genade het ál die mense in die bybelstories waaroor ons hierdie week gelees het kom soek toe hulle nog in sonde was. Jesus het eers 'n verhouding met hulle begin en hulle het opgehou sondig as gevolg van hulle verhouding met Jesus. Sy genade is eerstens verhouding, en dan verandering. Genade is eerstens heelmaak, en dan heiligmaak. Mag dit so wees dat ons mense ook só sal hanteer en nie iets anders van onsself verwag nie. Kom ons fokus op Jesus en ons verouding met Hom en leef saam sy genade uit.
Lees:
Mediteer:
-
Fokus ek in die eerste plek primêr op my verhouding met Jesus?
-
Verwag ek ook dat dit só sal wees in ander mense se lewens: dat heelmaak en verhouding met Jesus vóór verandering sal kom?
Bid:
Here, dankie dat ek saam met U uit die graf kon opstaan. Help my om ten volle getransformeer te word deur die genade wat U vir my het. Help my om ten volle oor te gee aan U en u genade te ontvang. Here, help my asseblief om, voor enige iets anders, te fokus op my verhouding met U en help my om ander mense ook te lei na 'n verhouding met U
Bonus: Spreek Lewe!
Die graf kon Jesus nie hou nie – hy het opgestaan, en ons saam met hom. Dit is genade aan my bewys, wat ons genadiglik aan ander kan bewys.
Aanbidding: