GENADE EN GEREGTIGHEID
Eugene du Randt
Genade word in oorvloed vir ons gegee, sodat ons dit kan gee sonder om terug te hou!
Dag 1: Goeie nuus word nie stil gehou nie
Baie van ons het grootgeword in ’n kerkomgewing waar daar gestaan het, “Stilte...Kerk”. Kinders moes hulself inhou en mag nie uitbundig gewees het nie. Sommige van ons dink nou nog so oor kerk. Ons moet stil en stemmig wees. Wat gebeur wanneer ons goeie nuus met kinders deel? Hulle is uitbundig, spontaan en joviaal. Die opgewondenheid is aansteeklik!
Dit is tyd dat ons as getuies opstaan en die goeie boodskap met opgewondenheid en passie deel! Dit is nodig dat ons die genade wat ons ontvang het nie terughou nie, maar uitdeel. Hierdie is die genadeboodskap. Genade hou nie terug nie. Genade gee en gee en gee.
Ons as mense was en sal altyd aan die ontvangskant van genade wees. Genade stel ons in staat om in die Here se krag op te tree en om in sy vrede te lewe. Ons het dit nodig. Genade beteken nie dat daar nie storms gaan wees nie, maar wanneer die uitdagings kom, gee Christus my krag om dinge te oorkom. Dit is hoekom Jesus self rustig in die boot kon lê en slaap terwyl hulle op ’n stormagtige see was. Die Here se goedheid en teenwoordigheid (sy genade) in my lewe is kragtig en gee vir my vrede in die middel van storms.
Tydens hierdie storms wil ons dikwels ons eie planne maak en by ander mense raad kry. Maar nou het ons God se Gees ontvang. Ons het deur genade God se krag en vrede ontvang. Ons kan daarom by Hom hoor wat Hy oor ons situasie sê. Ons het nie meer nodig om self planne te maak, of om rond te kyk na antwoorde elders nie. Ons hoef nie meer weg te kruip vir die aanslae van die wêreld nie. Ons kan ons kop optel en die Here loof en prys in ons omstandighede. Dit is Hy wat omstandighede verander en ons ’n rede gee om die goeie boodskap, die goeie nuus van Christus, te versprei.
Wanneer ons in ons stormagtige omstandighede God se genade ontvang, word dit onmoontlik om hierdie goeie nuus nie met ander mense te wil deel nie. Soos ons genade ontvang, word genade uitgegee. Genade hou nooit terug nie.
Lees:
Mediteer:
- Wat het genade in my lewe kom doen?
- Op watter manier sal ek ’n goeie boodskap van krag en vrede wil ontvang?
- Ek kan dalk nie verhoed dat ’n voël oor my kop vlieg nie, maar ek kan wel verhoed dat die voël ’n nes maak in my kop. Wanneer ek in aanbidding kom, word ek met die Gees vervul en kan die vlees nie 'n oorhand kry nie. Dit word dan makliker om die regte dinge te doen.
- Nou het ek God se Gees en kan ek self by die Here hoor wat Hy oor my storms sê. Dit is wel goed om broos te wees en vir ander gelowiges te vra om saam te bid oor my omstandighede. Kyk na Koning Josafat se voorbeeld in 2 Kron. 20.
Bid:
Here, ek wil stil word te midde van die storms in my lewe om by U te kom skuil en te hoor wat U oor my omstandighede sê. Dankie dat U vir my oorvloedige genade het en gee, en dat ek uit u krag kan begin leef. Dankie, dat ek ook bo-op hierdie krag uit u genade u vrede kan ontvang, sodat ek te midde van storms rustig kan bly. U gee vir my so oorvloedig baie genade en U hou genade nie terug nie. Dankie daarvoor. My lewe sal ’n kragtige getuienis wees van u goedheid en ek sal U loof en prys al die dae van my lewe. Laat my lewe ’n offer wees wat vir U aanneemlik is. Dankie vir verandering wat U bring en genade op genade wat ek ook na ander mense kan begin uitdeel. In Jesus se Naam. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
By genade het ek hoop gekry, en krag ontvang, en het ek Jesus Christus gekry en Hy is die Prins van Vrede. Ek kan nou in vrede lewe!
Aanbidding:
By the Grace of God – Bethel Music & Brian Johnson
Dag 2: ’n Genade wat gee, sonder om terug te hou
Hoe dikwels beperk ons die Here deur ons ongeloof? God se genade en barmhartigheid hou nooit op nie. Dit is elke môre nuut en God is getrou. Wat beteken dit vir my lewe en ook vir ander mense rondom my? Dit beteken dat daar nie beperkinge by God lê nie en dat Hy die genade oor my lewe nie wil beperk nie.
Wanneer ons kyk na Jesus se voorbeeld, sien ons dat hy nie deur die omgewing verander is nie. Hy het nie rondgeval volgens die nuus van die tye nie. Ons sien dat Jésus die atmosfeer bepaal het. Hy het die atmosfeer bepaal net soos ’n termostaat die hitte van water bepaal. Wanneer Jesus instap, kan lammes loop, dowes hoor en blindes sien.
Dit is tyd dat ons ophou om na ander mense se opinies te gryp en dat ons begin om te luister na wat Jesus oor ’n saak sê. Die Woord kan in ’n oomblik jou omstandighede verander. Dit is tyd dat ons nie net hoorders van die Woord word nie, maar doéners. Dit is tyd om betrokke te raak by dit waarmee die Here besig is!
Lees:
Mediteer:
- Hoe beperk ek die Here in my lewe?
- Hoeveel keer per maand, per week of per dag gryp ek na die wêreld se opinies oor my omstandighede?
- Hoeveel keer maak ek op Google staat vir antwoorde?
- Hoeveel keer raak ek stil om by die Here te hoor wat sý wil oor ’n saak is?
Bid:
Here, dit is tyd vir my om stil te word en te weet U is die Here. Ek wil nie langer u goedheid en u barmhartigheid in my lewe inperk nie. Maak u sluise in my lewe oop Here. Ek is gereed om op U te vertrou, want U is getrou. U is my deel en daarom sal ek op U hoop. Dit is ook tyd dat ek begin verklaar wat U sê, betrokke raak op die plekke waar U betrokke is en besig te raak met die dinge waarmee U besig is. Here, dankie dat U my u opinie wys wanneer ek stil is in U. In Jesus se Naam. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Ons het ’n God wat na ons toe hardloop in ons swakheid. Ons dien ’n God wat my swakste en moeilikste gemors kan omkeer in die grootste getuienis!
Aanbidding:
Dag 3: Dit wat jy het
Om te poog om dinge te doen wat die Here behaag, is dieselfde soos ’n hond wat sy eie stert probeer vang. Hy probeer iets vang wat reeds syne is. Ons kan God nie behaag deur dinge so te doen om daardeur sy behae te probeer verdien nie. Dit is die goeie nuus van genade: dat dit nie verdien kan word nie. Dit is ’n geskenk en dit is reeds oorvloediglik gegee. Dit gaan nie oor hoeveel ons in hierdie lewe regkry of nie regkry nie. Die enigste manier waarop ons die Here kan behaag, is deur ons geloof in Jesus. Dit is net geloof wat God behaag.
In Christus is jy
- Reeds vergewe;
- Reeds herstel in jou verhouding met God, in jou identiteit, in wie jy is;
- Reeds geregtig.
God kyk na ons deur die oë van Jesus. Wanneer Hy na ons kyk, sien Hy nie die dinge raak wat ons verkeerd gedoen het nie. Hy sien Jesus raak.
Omdat ons uit hierdie posisie in Christus leef, kan ons nie net aan die ontvangskant van genade bly nie. Ons sal stagneer as ons net aan hierdie ontvangskant bly. Dit is belangrik om uit hierdie posisie, waar ons soveel genade ontvang het, onsself te posisioneer om genade te begin gee.
Om genade vir mense te gee, is om iets te gee wat jy nie verdien het nie, wat jy nie besit nie en wat jy nie kan stilhou nie. Genade is iets wat jy of ander mense nie kan verdien nie.
Lees:
Mediteer:
- Genade is nie aan jou gegee om net vir jouself te hou nie.
- Om genade te gee, is om iets te gee wat iemand anders nie verdien nie.
- Daar is iemand in jou lewe wat genade nodig het. Dit is iemand wat nie die Bybel lees nie en jóú lewe is die enigste refleksie van Christus wat hy of sy sal teëkom.
- Wie in jou lewe kort genade wat hul nie verdien nie?
Bid:
Here, dankie vir U oorvloedige genade aan my gegee om aan almal om my uit te deel. U genade word nie uit verdienste gegee nie en daarom kan ek ook verniet genade aan ander mense bewys. Dankie dat U na my kyk en Christus sien. Here, ek wil graag die geur van Christus en die beeld van Christus na almal om my uitleef. Dankie dat U my bekwaam maak en dat ek nie uit my eie krag hoef te presteer nie. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
"Genade wat ontvang word, bring lewe. Genade wat gegee word, bring hoop." – Eugene du Randt
Aanbidding:
Oh Lord You’re Beautiful – Jesus Culture
Dag 4: Genade voor die begin!
Genade het Jesus kom gee en bewys het Hy uitgespreek. Jesus het mense vrygemaak van werke. Daar is geen werke wat bygelas kan word om die Here méér lief te maak vir my nie. Net die afgehandelde werk van Jesus Christus kan dit doen.
Ons sien hierdie genade is die fondasie waarop die evangelie – die goeie nuus – gebou is. Daar was reeds voor die begin van tyd ’n Goddelike genadeplan.
“Dit is God wat ons verlos en gekies het om ’n toegewyde lewe te lei. Hy het dit gedoen, nie omdat ons dit verdien het nie, maar omdat dit sy plan was lank voor die begin van die wêreld, naamlik om Sy genade aan ons te bewys deur Christus Jesus.” (II Tim. 1:9 NLV)
Lees:
Mediteer:
- Drie voorbeelde uit die Ou Testament van God se genade:
- But Noah found grace in the eyes of the Lord (Gen. 6:8).
- Ragab die prostituut, wat God se redding beleef het.
- Dawid, wat ten spyte van sonde, leuens, owerspel en moord, deur God raakgesien is vir sy hart. Die Here noem hom “’n Man na my eie hart”.
- Genade bring krag sodat ons sekere dinge nie meer doen nie, maar deur die gees in stede van deur die vlees gelei word.
- Genade bring transformasie in my liggaam, siel en gees. Dit verander my van binne en buite.
Bid:
Vader, dankie dat U reeds van die begin af (nog voor die begin van die wêreld) beplan het om U genade aan my te betoon en om my te red, te beskerm en te herstel. Dankie vir hierdie ongelooflike geskenk wat ek nie verdien nie. Dankie dat U besig is met ’n groot transformasiewerk in my lewe, en ook deur my lewe in ander mense se lewens.
Bonus: Spreek Lewe!
Wanneer jy eers beleef het wat genade in jou lewe kom doen het, naamlik die redding, die beskerming, die herstel, die nuwe lewe, die geskenk wat nie verdien was nie, dan kan jy nie anders as om genade te betoon nie.
Aanbidding:
Dag 5: My posisie - Geregtigheid
Die wet was ’n selfpoging tot redding, vergifnis en geregtigheid (eiegeregtigheid). Dit bring ons by vleeslike pogings om te probeer om beter te doen en onsself voortdurend met ander mense te vergelyk. Om 'n klomp dinge te probeer reg doen en dan te dink ek is okei, want my sonde is darem nie so erg soos daardie persoon s’n nie. Hierdie pogings lei nie een tot die ewige lewe nie. Waarin roem ons dan? Watter wet moet ons beoefen om goed genoeg te wees? Elke selfpoging val onder die wet en die wet lei na die dood. Maar, nou het ons deur Christus die kleed van geregtigheid ontvang. Jesus het Homself tot die dood toe verneder en tot die dood toe liefgehad, sodat ons kan opstaan en lewe. God se woorde oor ons is nou, “Jy is my seun, my dogter”. Dit is slegs deur die wet van geloof wat ons God se woning betree. Jesus Christus het die werk reeds afgehandel. Dit is deur sy goedheid, sy liefde en sy vrede dat ons goedheid, vrede en liefde ontvang. Geregtigheid is om op die regte voet voor God te staan, en hierdie geregtigheid ontvang ons slegs deur te glo in Jesus en dit wat Hy aan die kruis vir ons afgehandel het. Hierdie geregtigheid word openbaar gemaak deur ons nuwe lewe. Dit is om voor God te staan asof ons sondeloos en vlekkeloos is, want op grond van die Lam is ons sonder sonde!
Lees:
Mediteer:
- Die openbaarmaking van die geregtigheid van God gebeur in my en jou, sodat God gesien kan word as die Een wat reg handel en ons elkeen wat in Christus glo, regverdig maak!
- Geregtigheid is ons stand in Christus. Dit is ons posisie in Hom.
- Geregtigheid maak my nie beter as ander mense nie, dit maak van my 'n persoon wat die waarheid vat en leef.
- As ek in iets kan roem, is dit in my swakheid, want wanneer ek swak is, is Hy sterk!
- Hoe moet ons te werk gaan met genade?
- Verstaan dit, en ontvang dit.
- Wees 'n kanaal wat dit uitgee.
- Sonder genade kan ek nie in die oorvloedige lewe van Jesus inbeweeg en in sy geregtigheid wandel nie.
- Genade bekragtig, en geregtigheid bevestig!
Bid:
Here, wat 'n ongelooflike geskenk dat U my deur u genade bekragtig en dat ek nou in geregtigheid vlekkeloos staan. Ek kan nou u genade uitleef en u wil uitleef want U is die Een wat my bekwaam maak om dit te doen waarvoor U my geroep het. Dankie vir u groot geskenk en dat U gekies het om my deel te maak van u groot eindtydplan. Ek verheerlik u Naam, want U is groot, U is waardig, U is Heilig, en ek het U lief. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
God has given us ALL in Christ Jesus!
Aanbidding: