Go Deep - 06 Maart 2022

 

Genade en Geregtigheid: Desperaat vir die Here

Neville Goodchild

 

Dag 1: Posisionering

Wanneer ons praat van die evangelie van Jesus, dan praat ons oor die baie goeie nuus wat vir die wêreld gegee is. Wat is hierdie baie goeie nuus? Jesus het gekom om ‘n werk af te handel wat ons nooit sou kon voltooi nie. Jesus het aan alles wat die wet vereis het, voldoen. Slegs Hy wat geen sonde geken het nie kon daaraan voldoen het, maar Hy het nie net daar gestop nie.

Wanneer daar sonde teenwoordig was in gelowiges se lewens het die wet vereis dat daar ‘n offer gebring moes word om die prys te betaal van die sonde. Jesus het vir ons die perfekte offer geword en aan die kruis gesterf om te betaal vir elke sonde wat nog ooit gedoen was of gedoen sou word. Met Sy laaste asem, het Hy gesê “Dit is volbring!”. In daardie woorde het Hy verklaar dat die wet se rol in ons lewens afgehandel is en dat ons ‘n nuwe realiteit het om in te lewe. In dit vind ons die baie goeie nuus, dat wanneer ons Jesus verklaar as ons verlosser en Sy genade ontvang, kan ons bevryding kry van al ons sondes en ‘n nuwe lewe begin leef met ‘n nuwe identiteit. Die genade wat ons onverdiend ontvang gee ook vir ons die geskenk van geregtigheid; die verandering van identiteit in ons lewens.

Dis belangrik om te verstaan dat genade nie net vergifnis gee nie, maar die geskenk van geregtigheid en die geleentheid om ‘n getransformeerde lewe te lei. Ons kan wel ons self gaan posisioneer op twee verskillende plekke waarvan ons in ons nuwe identiteit wandel in die een posisie, maar nog onder veroordeling en die perspektief van verdienste staan in die ander posisie.

Jy kan kies om in jou posisie van geregtigheid te staan en te glo dat Jesus vir jou hierdie nuwe identiteit gegee het en dat jy in Hom alles ontvang wat jy nodig het. In hierdie posisie word ons identiteit en geregtigheid nooit weer op die spel geplaas wanneer omstandighede sleg lyk of selfs ons eie kapasiteite nie goed genoeg voel nie. Of jy kan kies om in die posisie van genade te bly en nie verder te beweeg na geregtigheid toe nie. Wanneer ons doen, vind ons dat ons elke keer wat ons genade nodig het, al ons vrymoedigheid in ons verhouding met die Here en die uitleef van ons roeping verloor. Jesus het bedoel dat ons volle vrymoedigheid het om ALTYD na die troon van genade toe te gaan. Ons is gemaak om meer as oorwinnaars te wees in ons nuwe identiteit.

Lees:

2 Kor. 5:21

Joh. 19:28-30

Mediteer:

  • In wat se posisie staan jy?
  • Die Here het die perfekte plan uitedink om jou vry te maak van ‘n lewe wat nie vervullend is nie. Daardie werk het Jesus al klaar afgehandel. Sy enigste vereiste is dat jy in Hom glo en glo dat ongeag hoe jou omstandighede of kapasiteite lyk, jy het ‘n nuwe identiteit in Hom wat verklaar dat jy waardig is en aanvaarbaar is vir God.

Bid:

Here Jesus, dankie dat U weens u onvoorwaardelike liefde vir my gesterf het aan die kruis en die prys betaal het vir al die sonde in my lewe. U het ook vir my volle toegang na die Vader en die troon van genade gegee sodat ek sonder skaamte of skuld na die Vader toe kan gaan. Leer my om in my nuwe identiteit te lewe en alle gedagtes wat daarteen spreek, gevange te neem en aan U te gee. Ek prys u Heilige Naam, Here Jesus! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Meeste van wat ek nodig het, het Jesus al klaar by die kruis vir my kom gee. Ek kan vertrou in Hom en alles ontvang wat ek nodig het!

Aanbidding:

The Father’s House - Cory Asbury

 

Dag 2: Honger na die Here

Die Woord van God motiveer ons om konstant soekend te wees na meer van God. In Mattheus 6:33, leer Jesus vir Sy dissipels dat alles wat ons nodig het, gegee word wanneer ons eerste Sy koninkryk en geregtigheid soek. Selfs in die ou testament deur die profeet Jeremiah, ontvang ons die opdrag om die Here te soek met ons hele hart met die belofte dat ons Hom sal vind as ons só na Hom soek. Dit is hoe ons ‘n gesonde honger na die Here ontwikkel.

Daar is wel ‘n honger na die Here wat nie gesond is nie. Dit is ‘n tiepe desperaatheid wat die Here wil soek oor daar nie hoop is nie. Vader God se liefde beteken dat Hy altyd, selfs wanneer jy só na die Here toe gaan, jou sal ontmoet, vir jou sal voorsien en met Sy genade en liefde jou bedien. Maar dit was nooit Sy bedoeling dat ons elke keer in hopeloosheid na Hom toe moet gaan en buite ons posisie van geregtigheid vir Hom moet vra om ons weer genadig te wees nie.

Die geregtigheid wat Hy vir ons as geskenk gegee het, het ons kinders van God gemaak. As seuns en dogters kan ons vrymoedig van Hom af ontvang alles wat ons nodig het, of wanneer dit blyk dat ons nie ontvang wat ons nodig het nie, ‘n sterker geloof, want ons verstaan dat Hy ons lief het en as Sy geliefde kinders sien.

Waar ons baie keer honger na die Here vir die vervulling van ons behoeftes, was die gedagte dat ons sal honger na ‘n verdiepte verhouding met Hom waar ons meer van Sy karakter leer ken en Hom daarin sal aanbid. Jesus spreek dit aan in Johannes 6:35 waar Hy sê dat Hy die brood van die lewe is. Enige iemand wat na Hom toe kom sal nooit honger of dors kry nie. Wanneer ons in Jesus is met Sy geregtigheid wat ons lewens transformeer, dan vind ons dat Hy voorsien vir alles wat ons nodig het. Inteendeel, ons vind dat Hy klaar vir alles voorsien het aan die kruis.

Lees:

Eff. 3:11-12

Jer. 29:11-13

Mat. 6:33

Joh. 6:35

Mediteer:

  • Wat beteken dit vir jou om te honger na die Here?
  • Wat het Vader God al vir jou voorsien of gegee?
  • Wat voel jy het jy nou nodig van God af?
  • Jy het volle toegang en kan in totale vrymoedigheid na Vader God toe gaan om vir Hom te vra om vir jou te gee wat jy nodig het.
  • Vader God wil hê jy moet honger na Hom met ‘n honger wat meer van Hom wil sien en beleef en in ‘n dieper verhouding saam met Hom wil wandel. Hy staan gereed om vir jou baie nuwe aspekte van Homself te openbaar en jou deel te maak van Sy koninkryk planne!

Bid:

Vader God, ek bely dat ek soms na U toe kom in desperaatheid en dat wanneer ek doen, ek vergeet van die posisie as ‘n kind van God en dat U altyd vir my sorg. Verander my perspektief. Heilige Gees, kom versterk my geloof en laat ek meer vertrou in die goedheid van Vader God. Here Jesus, dankie dat U vir my die belofte gee dat wanneer ek na U toe kom, dat ek nooit sal honger of dors nie. U is heilig en waardig en U is alleen vervul my lewe. U maak my vol! Ek prys u Heilige Naam, Here Jesus! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

By Jesus sal ek nooit honger of dors kry nie! Ek ontvang alles wat ek ooit sal nodig hê van my God af!

Aanbidding:

Fullness - Elevation Worship

 

Dag 3: Fontein van lewende water

Daar is ‘n groot waarheid wat Jesus vir ons wil leer van ons lewens wanneer ons in die geregtigheid van Jesus leef. In Johannes 4 lees ons hoe Jesus aankom in Sigar, ‘n dorp in Samaria en gaan sit by die put van Jakob. Hier ontmoet Hy ‘n Samaritaanse vrou wat in die middel van die dag by die put wou gaan water skep het. In daardie kultuur was dit ongewoon om daardie tyd van die dag water te gaan skep, maar weens persoonlike seer, skaamte en skuld het sy na die put gegaan om haar dors te les sonder die teenwoordigheid van ander wat haar dalk sou oordeel.

Jesus begin met haar ‘n gesprek te voer en vra vir water, maar die vrou antwoord heelmoontlik met nog meer onvrymoedigheid as wat sy gehad het, want sy vra verbaas hoekom iemand wat ‘n Jood is met ‘n Samaritaanse vrou sal vra vir water. Jesus antwoord haar soos wat net Hy kan. Hy begin in spreek in die behoefte wat hierdie vrou na die put mee gekom het. Jesus gee vir haar ‘n beter bron van vervulling, naamlik die lewende water wat ‘n fontein van water sal word wat opspring tot in die ewige lewe.

Meer as dit, begin Jesus vir haar wys dat Hy haar ken. Hy openbaar dat Hy kennis het van haar verlede en die mans wat sy al gehad het, juis dit wat haar gediskwalifiseer laat voel het. Hierop begin sy reageer op die vrymoedigheid wat sy ervaar om sonder oordeel met Jesus te kan praat. Sy vra vir Jesus oor aanbidding en waar die regte plek is om te aanbid, by die berg of by die tempel in Jerusalem. Sy was vrymoedig genoeg om te vra hoe sy opreg kan begin aanbid.

Jesus kom wys vir ons ‘n nuwe realiteit oor aanbidding, dat daar nie ‘n regte of verkeerde plek is om te aanbid nie. Ook nie verkeerde metodes van aanbidding nie, maar eerder dat daar ‘n instelling is waarmee ons moet aanbid. Hy leer dat die ware aanbidders vir God sal aanbid in Gees en in waarheid. Hy verwys na aanbidders wat eerstens die genade van God ontvang het en die geestelike belewenis begin beleef het van die Here se teenwoordigheid wat vir hulle toeganklik geraak het. Dan ook aanbidders wat in die waarheid dat hulle aanvaarbaar is voor God en die geregtigheid van God genoem word, begin leef nadat hulle genade deur Jesus ontvang het. Hierdie Gees en waarheid instelling, laat ons toe om God opreg en waarlik te aanbid, want ons kan net soos ons is na Hom toe kom en Hom verheerlik en aanbid.

In hierdie oomblik ontmoet hierdie vrou haar redder, die Messías in lewende lywe! Haar reaksie hierop is om die genade wat Hy vir haar gedurende daardie hele gesprek gegee het, te ontvang. Sy gaan terug na die stad waarvan sy af kom met al die mense wat haar veroordeel het en in vrymoedigheid begin sy vir hulle vertel van Jesus wat sy ontmoet het. Toe sy begin lewe uit haar nuwe identiteit wat sy in Jesus gevind het, het die fontein van lewende water het uit haar uit begin vloei en nie net haar eie behoeftes vervul nie, maar ander gelei na die bron van ewige lewe toe.

Lees:

Joh. 4:1-42

Joh. 4:23-24 MSG

Mediteer:

  • Wie is jou bron? Is dit die mense om jou of selfs jou eie hart wat oordeel teen jou uitspreek, of is dit Jesus wat verklaar dat jy aanvaarbaar is voor God en ‘n geregtige genoem word?
  • Wat glo jy oor aanbidding? Is daar enige oortuigings wat jy het oor aanbidding wat sê dat jy op ‘n sekere manier moet aanbid of net by sekere plekke soos die kerk, mag aanbid?
  • Die “The Message” vertaling sê dat die aanbidders wat die Vader soek, is die wat eenvoudig en opreg hulleself is wanneer hulle die Vader aanbid. Daar is niks wat jy vooraf hoef te doen of reg te kry om die Vader te aanbid nie.

Bid:

Here Jesus, dankie dat U my altyd ontmoet met genade en liefde. Terwyl U alles wat ek al gedoen het of wat al in my lewe gebeur het, kom gee U vir my die geskenk van geregtigheid wat dit alles oorheers en ‘n nuwe identiteit vir my gee. Here, ek kom net soos ek is na U toe en ek aanbid U! U is waardig van alle lof, eer en aanbidding. U alleen verdien om verheerlik te word! U is die een wat is, wat was en wat sal kom. In U vind alles hulle begin en einde. Ek prys u Heilige Naam, Here Jesus! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

‘n Fontein van lewende water gaan uit my uit vloei om vir Jesus te verheerlik en mense se lewens te raak en vir hulle die bron van ewige lewe te wys!

Aanbidding:

Hallelujah Here Below - Elevation Worship

 

Dag 4: Oortuig deur liefde

Geregtigheid is vrymoedigheid om na die Vader te gaan en nie onwaardig te voel wanneer jy in Sy teenwoordigheid is nie. Dit laat ons ook toe om die Here met vrymoedigheid te aanbid. Met daardie selfde vrymoedigheid kan ons van God vra vir alles wat ons nodig het en ons kan genade by Hom gaan ontvang wanneer ons gesondig het. Geregtigheid moet wel ‘n innerlike oortuiging raak voordat ons kan begin om met vrymoedigheid te leef.

Soos kinders vrymoedig na hulle ouers te gaan om iets te vra, of saam met hulle tyd te spandeer, so ook is ons gemaak om verhouding met Vader God te beleef. Tog sien ons kinders wat in totale onvrymoedigheid leef en selfs ‘n vrees vir hulle ouers ontwikkel. Dit is tekens van ‘n gebrek aan liefde. Die enigste manier vir kinders om ‘n vrymoedigheid te ontwikkel teenoor hulle ouers is deur oortuig te word deur liefde dat hulle waardig is en die moeite werd is vir hulle ouers.

Vir ons om in geregtigheid en vrymoedigheid te lewe, het ons nodig om oortuig te word van Jesus se liefde. As ons in harte oortuig is dat Jesus ons oneindig lief het, dat Hy ons nooit sal verlaat of in die steek laat nie, dat Hy net die beste vir ons lewens voorberei, dan kan ons leef in die geregtigheid wat Jesus vir ons gegee het. Daar is niks wat jou kan skei van God se liefde nie. Liefde is die begin van jou nuwe lewe en jou nuwe identiteit. Soek en vra na die Here se liefde en dat Hy dit aan jou sal openbaar sodat die twyfel stil gemaak sal word. Net God se liefde kan jou oortuig dat jy die moeite werd is en dat jy waardig is vir Hom.

Lees:

Eff. 3:1-21

Eff. 1:3-6

Mediteer:

  • As jy dink aan Vader God, hoe beleef jy kyk Hy na jou as jy na Hom toe sou gaan?
  • Beleef jy veroordeling, skaamte, skuld, of seer?
  • Indien ja, vra vir Jesus om vir jou te kom wys hoe lief Hy jou het. Nooi Hom ook in om te begin genees in daardie areas waar trauma veroorsaak was.

Bid:

Vader God, U het my oneindig lief. Dankie dat U my nooit sal verlaat of in die steek laat nie. U maak alles nuut deur U liefde. Maak my nuut en kom help my om in my hart oortuig te raak van U liefde ongeag hoe my omstandighede lyk. Dankie dat ek in U liefde, vrymoedigheid kan hê om altyd na U toe te kom. Ek prys u Heilige Naam, Here Jesus! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek is kosbaar en eerbaar voor Vader God en ek is geliefd deur Hom! In Hom vind ek oorwinning oor alles!

Aanbidding:

Reckless Love - Cory Asbury

 

Dag 5: Liefde bevry

Die liefde wat Jesus vir ons gee wat ons oortuig van ons geregtigheid, het die krag om ons standpunt, vertrekpunt en eindpunt te verander. Hier is waarhede van wat die oortuiging van liefde in ons lewens doen:

  • Gelowiges wat oortuig is van die liefde waarin hulle staan, aanbid met vrymoedigheid. Die vrou by die put het vir Jesus begin vra oor aanbidding toe sy by Hom liefde, genade en aanvaarding gekry het. Die oortuiging van Jesus se liefde in ons harte laat ons vrylik aanbid en met Gees en waarheid.
  • Gelowiges wat oortuig is van God se liefde, beweeg in geloof sonder vrees vir veroordeling. Wanneer ons nie oortuig is van Jesus se liefde vir ons nie, dan is dit moeilik om geloofskeuses te maak oor ons bang is dat ons veroordeling van God af gaan kry as ons nie dit reg kry nie. As ons oortuig raak van Jesus se liefde dan kan ons geloofskeuses met vrymoedigheid maak sonder dat ons vrees ervaar oor of ons die regte keuse maak wat volgens God se perfekte wil is nie. Vader God beloon geloof en nie noodwendig die regte besluite nie (midst dit volgens Sy Woord is).
  • Gelowiges wat oortuig is van God se liefde, sien uit na die toekoms. Om in die liefde van Jesus te lewe beteken dat Hy altyd jou sal lei om Sy wil vir jou lewe te vervul en Sy wil is altyd die beste vir jou lewe. Jou verkeerde besluite kan nie jou weg vat van die Here se plan vir jou lewe wanneer jy jouself posisioneer in Sy liefde en geregtigheid nie.
  • ‘n Oortuiging van God se liefde vir jou, maak jou deel van Sy toekomsplanne. Vader God wil jou deelmaak van Sy planne wat verder as jou eie lewe strek, maar ook impak sal hê op Sy Koninkryk. Dit wat vir jou voorlê is die vervulling van God se Woord oor jou lewe en word ‘n bron van hoop instede van ‘n bron van bekommernis of vrees.

Die enigste manier om in geregtigheid te bly lewe is deur oortuig te raak van Jesus se liefde. Sy liefde is jou oorwinning!

Lees:

1 Joh. 4:16-19 TPT

Efe. 1:3-6

Mediteer:

  • Jesus vervang jou skuld, skaamte en seer met Sy liefde, genade en geregtigheid.
  • Het jy bekommernisse of vrese oor die toekoms? Bring dit na Jesus toe en laat Hy jou bedek met Sy liefde.
  • Vra vir Jesus om vir jou te sê wat Hy van jou dink en vra Hom om vir jou te wys wat Hy instoor het vir jou toekoms.

Bid:

Vader God, U het U enigste Seun gestuur om vir my te sterf en daardeur vir my liefde te wys wat geen mens ooit sal kan nie. In U liefde is ek heel en heilig gemaak voor U! Ek prys U daarvoor, want dit is ‘n geskenk wat ek nooit sou kon verdien nie. Dankie dat U ook nooit U liefde teenoor my verloor nie en dat U gekies het dat niks my sal skei van U liefde nie. Here Jesus, help my om oortuig te raak in my hart dat U my oneindig lief het. Ek prys u Heilige Naam, Here Jesus! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Niks kan my skei of verwyder van die Vader se liefde vir my nie!

Aanbidding:

Come As You Are - Crowder