Go Deep 20 November 2022

ONS

Neville Goodchild

Verstaan en wees deel van wat God met “ONS SAAM” wil doen

 

Dag 1: Vir ewig

Dit is só belangrik dat ons die Woord van die Here verstaan in ons omstandighede en in hierdie tyd waarin ons leef.

“God het elke ding gemaak dat dit pas in 'n bepaalde tyd, maar Hy het ook aan die mens 'n besef gegee van die onbepaalde tyd. Tog kan die mens die werk van God van begin tot einde nie begryp nie” (Pred.3:11 AFR83).

God het ewigheidswaarde in ons harte geplaas, sodat ons altyd op soek sal wees daarna. Hy wil hê dat ons in die ewigheid saam met Hom sal wees en dat ons daarna sal hunker. God wil ons elkeen red en dit is God se hart. Dit motiveer ons en inspireer ons om die redding van elke siel te prioritiseer. God gee lewe en ons eer en respekteer elke lewe.

Tog kan ons nie alles van begin tot einde verstaan nie.

Die voorbeeld wat ons het van hierdie ewigheid, is die huwelik. Die huwelik is die voorbeeld van die eenheid wat daar is tussen Jesus Christus en sy bruid (die kerk). Die huwelik is ’n profesie van toekomstige dinge. Die huwelik profiteer dat Jesus Christus ons kom haal en dat ons as bruid ’n bruilof saam met Hom sal vier. Dan sal ons ook in ’n oomblik alles verstaan.

Lees:

Pred.3:11 AFR53

1 Pet.3:7

Ef.5:22-33

Mediteer:

  • Wat sê die Woord nou eintlik vir ons oor die ewigheid?
  • As redding en ewigheid vir God belangrik is, hoe kan ek die redding van siele prioritiseer?
  • As God lewe gee en ja sê vir lewe, wat is my bydrae om lewe te kies, nie net vir myself nie, maar ook vir ander?
  • As God se wil vir my huwelik is, hoe moet ek my gedagtes, woorde en aksies belyn met God se huweliksplan vir my lewe? Hoe lyk die huwelik volgens die Woord?
  • As God se wil vir my nie huwelik is nie, hoe moet ek my gedagtes, woorde en aksies belyn met God se plan vir my lewe? Hoe lyk ’n ongetroude leefwyse volgens die Woord?
  • Hoe kan ek prakties ander huwelike respekteer en oppas?
  • Hoe verteenwoordig die huwelik die Koninkryk?

Bid:

Here, dankie dat U die ewigheid in my hart ingestort het, sodat ek U kan soek en U kan vind. Heilige Gees, ek vra dat U my kom transformeer en my belyn sodat ek my lewe kan wy aan U soos dit U behaag. Help my asseblief om te sien wat uit plek is in my lewe. Ek kies vandag om huwelike te begin respekteer op grond van die ongelooflike instelling wat U gegee het. Dankie, dat ek kan weet dat die huwelik deur U ingestel is en ’n profesie is van wat sal gebeur wanneer U ons kom haal Jesus Christus. Dankie, dat U huwelik gegee het om die eenheid wat daar is tussen Christus en die kerk te reflekteer. Dankie ook, dat U die huwelik seën en dat U u Bruid seën. Ek bekeer my hart en dit wat uit lyn is met u wil en u waarheid. In Jesus se Naam, Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek leef in eenheid met my man/vrou/as liggaam van Christus en daarom rus God se seën op my! (Where there is unity, God commands His blessing!)

Aanbidding:

Bride of Christ full song - Worshipmob

Dag 2: Los 99

Ons ervaar dikwels teleurstellings in ons lewens en hierdie teleurstellings het gewoonlik te doen met ons verhoudings met mekaar. Ons wil blaam plaas en verkeerdhede uitwys. Ons wil dikwels God se perspektief en werke koppel aan ons eie begrip van reg en verkeerd, en ons koppel godsdiens ook vinnig daaraan. Ons wil dink ons is reg en die ander mense is verkeerd en daarom kies God ons kant.

Dit is waar, God haat sonde.

God haat sonde, nie die sondaar nie. God is lief vir alle mense. Hy is so genadig oor ons dat Hy kies om dit wat verkeerd is in ons lewens mis te kyk. Hy fokus nie daarop nie. God se fokus is eerder om dit wat krom is, reguit te maak.

Ons het só nodig om stil te staan en te vra vir Goddelike perspektief.

Daar twee verskillende kampe in die lewe. Daar is die kamp van die ongereddes en die kamp van die gereddes.

God skaar Hom aan die kant van die ongereddes! Hy sal die 99 los vir die 1 wat verlore is!

Lees:

Is.42:3

Mat.12:20

Mediteer:

  • In watter kamp is ek?
  • As ek in die kamp van gereddes is en God se belange is by die ongereddes, hoe kan ek my by God se wil en plan skaar?
  • Wat beteken dit vir ONS, uit ’n Goddelike perspektief, as hierdie volgende sin van toepassing is op God se Koninkryk en doel: “You can’t get there, until we both get there?”

Bid:

Here, dankie dat U bereid is om die nege-en-negentig te los vir die een verlorene. Ek was verlore, maar nou is ek gevind en kan leer van u Koninkrykbeginsels. Belyn asseblief my hart met u liefde en u waarheid. Ek wil myself skaar by U en by u bruid en elkeen wat nog moet inkom. Help my asseblief om onvoorwaardelike liefde uit te leef, die liefde wat daar is in Jesus Christus. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek sal daar kom, want ek sal saam met die Liggaam van Christus my beywer om God se Koninkryk uit te brei sodat elkeen wat nog verlore is, kan inkom!

Aanbidding:

Reckless Love – Cory Asbury

Dag 3: Betroubare liefde

Ons almal kan vertel van ’n liefdesteleurstelling. Ons elkeen weet hoe dit voel en dat dit moeilik is om daarna aan te beweeg. In die midde van hierdie teleurstelling worstel ons dikwels met God en hoe Hy sekere dinge toelaat. Ons wil Hom blameer vir die teleurstelling en selfs ophou om Hom te aanbid. Ons wil dan boonop bevraagteken of Hy werklik bestaan en werklik goed is.

Wanneer ons deur 'n liefdesteleurstelling gewerk het, begin ons weer nuwe hoop kry dat ware liefde wel bestaan. Dit is ongelooflik dat die mensdom aanhou om teleurstelling in liefde te beleef, maar nog nooit ophou glo het in liefde nie! Mense hou aan glo in liefde en hou aan glo dat dit wat hulle in die verlede beleef het, nie ware liefde was nie. Hulle hou aan glo dat hulle ware liefde sal vind as hulle aanhou daarna soek. Tog word God aanhoudend bevraagteken.

In verhoudings ontdek ons dat dit nie maklik is nie. Verhoudings het uitdagings en dit is dikwels soveel makliker om slegs na God te soek en om Hom alleen te aanbid en te dien. Ons wil God ervaar in die natuur, maar die natuur is nie na God se Beeld geskep nie.

Die méns is na God se Beeld geskep. Ons sal God ervaar wanneer ons bymekaarkom. Kerk werk nie wanneer elkeen in isolasie leef nie. Liefde kan nie in isolasie begryp word nie. Wanneer ons saamkom, ontdek ons hoe wyd, lank, diep en hoog die liefde is wat daar in Christus is!

“Sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel en gegrond is, en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God.” (Ef.3:17-19)

Die sleutel lê hier in SAAM! In die SAAM kan ons vervul word tot al die volheid van God.

Lees:

Ef. 3:14-21

Spr.18:22

1 Pet. 3:7

Ef.5:22-33

Mediteer:

  • Waarom hou ons aan glo in iets wat ons soveel keer teleurgestel het, maar ons wil nie glo in God en dat Hy goed is nie, al kan niemand bewys dat Hy al ooit iemand teleurgestel het nie?
  • Het jy al ooit gedink, “As God ’n God van liefde was, sou Hy ...?” Dit klink amper soos die stem in die tuin van Eden, “Het God regtig gesê dat jy van geen...” en die stem in die woestyn, “As jy waarlik die Seun van God is...” Het jy al gebid oor hierdie gedagtes en gevra dat die Here vir jou die volle prentjie van hierdie leuen en Wie Hy is, sal openbaar? Wat sê die Woord (Jesus) oor God?
  • Mense hou aan glo dat hulle ware liefde sal vind as hulle aanhou daarna soek. Is dit ’n waarde van liefde wat God in die hart van die mens geplaas het? Om ware liefde te vind, is om God te vind, want God is liefde. Is dit nie eintlik wat God wil hê nie: Dat ons ware liefde, Hom, sal ontdek? Watter rol speel Kerk in hierdie vraag?
  • Liefde kan nie in isolasie begryp of uitgeleef word nie. Wanneer ons bymekaarkom ontdek ons hoe wyd, lank, diep en  hoog die liefde van Christus is. Filled to the measure of the fullness of God!
  • Die Bruidegom het sy Bruid lief en lê sy lewe neer vir Haar. Dit is waarom daar so ’n groot verborgenheid opgesluit is in die huwelik. Die huwelik is ’n openbaring van Christus! Die huwelik is ’n voorbeeld van die kerk van Jesus Christus!
  • God stort sy guns en goedkeuring uit op die huwelik, want die huwelik getuig van SAAM – die huwelik ís Kerk!

Bid:

Here, vandag ontdek ek dat daar ’n verborgenheid opgesluit is in die huwelik en dat huwelik ’n refleksie is van u verhouding met ons. Dat U gekies het om die diepte, hoogte, breedte en lengte van u liefde te wys deur ons saamstap. Help my om ander mense om my lief te hê soos wat U die Kerk lief het deur u lewe neer te lê. Ek wil graag meer van u liefde ervaar en leer en besef nou dat dit deur die gemeenskap van gelowiges gebeur. Dankie, dat U my help om lief te hê omdat U my eerste liefhet. In Jesus se Naam. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek ontdek saam met ander gelowiges die diepte, breedte, lengte en hoogte die ware liefde van Christus.

Aanbidding:

How Deep Is The Love – Hillsong Young & Free

Dag 4: Wat is die belangrikste?

In Markus 12 lees ons hoe die skrifgeleerdes vir Jesus gevra het wat die heel belangrikste is. Jesus bevestig dat God eerste is, maar Hy stel dan liefde vir jou naaste gelyk aan liefde vir God.

Jesus wys ons dat ons bedoel is vir mekaar, bedoel is vir 'n verhouding en dat liefde vir God, sonder mense, gevaarlik is. Hy sê dat 'n verhouding en liefde vir mekaar só belangrik is dat Hy dit gelykstel aan liefde vir God. As ons mekaar nie liefhet nie, kan ons nie sê dat ons God liefhet nie. Die Woord is duidelik daaroor dat as jy sê jy het God lief maar jy haat jou broer, dan is jy ’n leuenaar (1 Joh.4:20).

Ons kan telkens terugkom na Jesus se voorbeeld, asook die huwelik as 'n voorbeeld van liefde en eenheid. Ons huwelik kan nie werk sonder ons eggenoot nie. As 'n individu kan jy nie jou huwelik laat werk nie. Dit vereis die saam om die verhouding te laat slaag.

Net soos Adam vir Eva benodig het en Eva geskape is omdat Adam ’n leemte ervaar het, het Christus die Kerk nodig en het ons as Kerk mekaar nodig om die liggaam van Christus te vorm. Een persoon kan dit nie alleen doen nie. Een mens alleen kan nie liefde ervaar nie, want daar is niemand om dit mee te deel nie.

As 'n individu kan jy God soek en vind, maar jy kan God nie volledig beleef sonder die res van die Liggaam nie. Liefde word in 'n verhouding ontdek. Moenie ander dinge probeer doen as al bogenoemde nog nie in plek is nie.

Lees:

1 Pet.3:7

Ef.5:22-33

Spr.18:22

Mar.12:28-31

1 Joh.4:20

Mediteer:

  • As ek sê dat ek die Here liefhet maar ek haat my broer, dan is ek ’n leuenaar. Hoe kan ek ander mense liefhê?
  • Wie is my naaste?
  • Hoe sê Jesus in (Joh.13:35) sal ander mense weet dat ek sy dissipel is?

Bid:

Here, help my asseblief om my naaste lief te hê soos wat U my en die Kerk liefhet. U het só lief dat U u eie lewe nie hoog geag het nie, maar dit neergelê het vir ons. Dankie, daarvoor Jesus. Ek besef dat ek myself moet neerlê en asook elke selfsugtige begeerte van my. Ek weet dat ek U nie kan dien as ek nie elke mens om my liefhet nie. Ek vra dat U my hart, my oë en my ore sal verander om lief te hê, te dien en te sien soos U sien, te hoor wat U sê. Help my om u perspektief oor U mense en U geliefdes na te volg. In U Naam Jesus, Amen

Bonus: Spreek Lewe!

God is liefde en omdat ek my naaste liefhet, word ander mense oortuig van God se liefde.

Aanbidding:

Send Me – Jenn Johnson feat. Chris Quilala

Dag 5: SAAM

Ons verhouding met mekaar dra ’n massiewe boodskap uit, veral wat ons huwelike aanbetref. Volgens Ef. 5:32-33 is daar ’n groot verborgenheid opgesluit in die huwelik. Dit is nie ’n maklike konsep nie. Ons moet verstaan hoe die huwelik gemaak is om te werk. Dan sal ons die verhouding tussen Christus en sy Bruid beter kan begryp. Die huwelik herinner ons aan die eenheid tussen Jesus en sy Bruid en dat Hy Haar weer gaan kom haal. Jesus kom! Hy het weggegaan om ’n plek vir ons voor te berei en Hy sien uit en verlang daarna om ons te kom haal en om weer saam met ons die brood te breek en wyn te drink.

Jesus verduidelik hoe belangrik dit is dat ons ons naaste moet liefhê (naas God).

Hy waarsku: “Wees versigtig, jy is op 'n gevaarlike pad.”

  • Julle roem daarop dat julle die Here dien, maar julle haat mense.
  • Julle roem daarop dat julle die Woord ken, maar julle haat julle naaste
  • Julle roem daarop dat julle die gebooie onderhou, maar julle is hier om mense dood te maak.

“Julle is op 'n gevaarlike pad."

Wie is jou naaste? Jy kan redeneer daaroor, maar Jesus steek niks weg nie. Jou naaste is die persone naaste aan jou. Dit is die mense wat deur die loop van die dag, week en maand naby jou beweeg. Dit is dié wat sien hoe jy leef, hoor wat jy sê en jou liefde of liefdeloosheid beleef.

God is eerste, ja, maar sonder mense is jy in gevaar. Kyk maar na die gevaar waarin Adam verkeer het. Selfs voor die sondeval  het God al gesê dat dit nie goed is vir die mens om alleen te wees nie. Hy maak ’n helper, Eva. Eva is die perfekte antwoord vir Adam se verlange.

Die Kerk is die perfekte antwoord op die verlange wat Jesus Christus het. Die antwoord lê in ONS.

Ons moet mekaar op so ’n manier liefhê dat enige iemand wat in die wêreld is, wat ’n behoefte het om gered te word, sal besef... As die wêreld by ons instap is die ONS (Eva, Bruid, Kerk), presies die regte voorskrif van my Skepper. Dan sal die wêreld besef: “Hy is die outeur van my verlossing.

Lees:

1 Pet.3:7

Ef. 5:22-33

Spr.18:22

Mar.12:28-31

Mediteer:

  • God se wil is dat ons in 'n verhouding met mekaar, saam, en in ons huwelike sal sien hoe sy Koninkryk en beginsels werk. Volgens 1 Pet.3:7 is ons saam mede-erfgename en nie alleen nie. Ons is gemaak om dit wat Hy vir ons voorberei, saam in te neem. Waar begin ons?
    • Respekteer huwelike as die instelling wat God eer en wat getuig van Jesus Christus en sy Bruid, dat Hy weer kom!
    • Leer om my naaste lief te hê op ’n manier wat toeganklik en inklusief is, sodat almal wat luister sal hoor en elkeen wat sien sal getuig dat Jesus die outeur van my verlossing is.
  • Ek kán God alleen beleef en dit is ’n wonderlike belewenis, maar slegs ek en die Here is nie wat God vir my wil gee nie. God weet beter as dit. God se plan sluit my en Hom en die mense rondom my in. Adam en Eva sáám, word die redding van die wêreld (wat op ’n slegte plek beland het). As Eva nie bygekom het om aan haar man onderdanig te wees en hom te help nie, sou Adam verlore gewees het. Ons as Kerk is die helper wat onsself aan Jesus onderwerp.
  • Jesus was gewillig om te sterf vir Kerk. God se taal is nie ons taal nie, maar dit is die taal van die Kerk. God praat deur die Kerk. Deur die kerk is God besig om ’n gesprek te voer met alles en almal wat smag na verandering.
  • Wanneer daar eenheid is, geloof en waarheidsliefde, dan is dit fantasties, want dit verkry, volgens Spr.18:22God se guns en goedkeuring. Wanneer dit reg gebeur, met die regte beginsels, stort God sy seën en goedkeuring uit oor ons lewens.
  • Net God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees word Helper genoem, en Eva. God weet dat wanneer dit bygevoeg word, is daar redding. Dit is God se plan vir redding.
  • Die Kerk is vir Christus geskep om daardie leemte te vul. Die Bruid ondersteun die Bruidegom in sy taak. Tot watter mate ondersteun ek Christus?

Bid:

Here, U het my gemaak om in 'n verhouding met ander mense te wees, om U liefde uit te leef en die diepte van U in my verhoudings te beleef. Ek is jammer dat ek dit anders maak as wat U dit bedoel het en dat ek U daardeur heeltemal misloop. Dankie, vir hierdie Woord en vir U as Woord wat my lewe transformeer, sodat ander mense kan sien en kan getuig: "U is die outeur van my verlossing!" Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Op my eie moet ek verduidelik en verstaan word, maar SAAM is ons onkeerbaar!

Aanbidding:

Where You Go I Go – Brian Johnson