Saam met al die Here se heilige mense!
Neville Goodchild
Ons
Dag 1: Twee leefstyle: die oue en die nuwe
God se Woord is waar. Sy Woord het lewegewende krag en kan red. Sy Woord is 'n swaard wat gebruik kan word om die vyand se aanslag te weerstaan. Dit is noodsaaklik dat ons moet weet wat God se plan is met sy Woord wat vir ons gegee is sodat ons vandag daarvolgens kan lewe. God se Woord bestaan uit beide die Ou Testament en die Nuwe Testament. Alhoewel die Ou Testament vir ons baie reëls voorstel, is die sisteem wat deur die wet ontwikkel is deur 'n sisteem met 'n nuwe realiteit vervang.
In die Ou Testament was sonde die kerngedagte van 'n mens se lewe. Jy was onheilig, onwaardig, en sondig. Indien jy nie aan al die reëls voldoen het nie, sou jy gediskwalifiseer word om God se guns en goedheid te ontvang. Alhoewel die Isrealiete probeer het, was daar nie een mens onder hulle wat ooit kon kwalifiseer nie, behalwe Jesus. Niemand kon vir God sien en bly leef nie.
Die Nuwe Testament bring 'n hele nuwe gedagte: Dat jy nie gekwalifiseer word deur dit wat jy doen nie, maar deur dit wat Jesus doen. Dit lei ons na 'n nuwe waarheid waarvolgens jy nie sal kan bly leef indien jy nie vir God sien nie. Ons moet die Lam van God aanskou, want Hy is die perfekte uitbeelding van God die Vader. Jy kan vrymoedig na die Here toe gaan en oor alles met Hom kommunikeer sonder vrees dat jy veroordeel en onwaardig in sy teenwordigheid sal wees.
Selfs Ou Testamentiese aanbidding het vereis dat jy eers 'n offer moes bring en aan verskeie vereistes moes voldoen voordat jy gereed was om te mag aanbid. Deur Jesus is ons genooi die Here ten alle tye te mag aanbid wanneer ons gereed is en daarna voel: Wanneer dit goed of sleg gaan, of wanneer ons skuldig of skaam voel. Daarin sal ons die Vader leer sien en vrymoedigheid ontdek om die Here te ontmoet waar ons is, want wanneer ons vir God sien, sal ons begin lewe.
Lees:
Mediteer:
- Hoe vrymoeidg voel jy om voor die Here te kom?
- Watter gedagtes oor jou eie waarde voor die Here verhinder jou om Hom te volg of te soek?
- Volgens watter oortuigings tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament lewe jy?
Bid:
Jesus, U het my lewe kom red. Daardeur is ek heel en heilig gemaak voor Vader God. Help my om ook herinner te word aan die sondes wat U vergewe het en waarvan U my gered het. Wys vir my meer van Uself, want as ek U nie sien nie, sal ek nie meer kan bly leef nie. Dankie Jesus. Ek prys u Heilige Naam, Jesus! Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Daar is niks meer wat tussen my en God kan staan nie. Ek kan enige oomblik na God toe gaan en God aanskou en ontmoet!
Aanbidding:
Holy Is The Lord - Chris Tomlin
Dag 2: Aan mekaar
In die huwelik kan jy kennis neem van liefde. Jy verstaan en jy weet daar is liefde en jy kan dit van tyd tot tyd sien. Óf jy kan liefde beleef wat kennis en verstand oortref. Dit is soortgelyk aan die verskil tussen die Ou en die Nuwe Testament. Daar is ook 'n Ou of Nuwe Testamentiese huwelik. In die Ou Testament kon jy kennis neem van God se liefde in tye wanneer 'n mens gevoel het jy het uiteindelik genoeg gedoen om God te behaag. Nadat Jesus aarde toe gekom het, beleef jy die liefde wat al jou verstand te bowe gaan, want waarom sal God liefhê wanneer ons nie verdien om liefgehê te word nie?
As ons huwelike 'n voorbeeld is van hoe Jesus en die Kerk teenoor mekaar optree, dan behoort ons in ons huwelike ook hierdie liefde wat ons verstand te bowe gaan, uit te leef. Daar is waarhede opgesluit in God se Woord oor ons liefde teenoor mekaar in die huwelik. Die Here wys vir ons eers hoe dit lyk in die Kerk. In Efésiërs 5:14-21 sê die Here dat ons moet ontwaak en uit die dode opstaan en Christus se lig in ons lewens ontvang. Verder lees ons dat wanneer ons in hierdie lig wandel, vervul met die Heilige Gees, ons onder mekaar psalms en lofgesange sal sing. Dit is nie 'n gebeurtenis wat ons noodwendig in die huwelik sien nie, maar dit verwys spesifiek na die Kerk.
Uiteindelik wil die Here vir ons wys dat, terwyl ons God die Vader altyd in die Naam van Jesus vir alles dank, ons ook aan mekaar onderdanig moet wees in die vrees van God. Die waarheid wat hierin opgesluit is, is dat daar nie uitgesondere mense is wat onderdanig moet wees aan ander mense, terwyl die ander mense nie daardie opdrag hoef uit te voer nie. Inteendeel, Jesus se opdrag is dat almal aan mekaar onderdanig sal wees, net soos Jesus wat sy dissipels se voete gewas het en vir ons geleer het dat die Koning van die heelal gekom het om te dien en nie bedien te word nie. Ons opdrag is om aan mekaar onderdanig te wees deur mekaar te dien en om eerste na die beste vir ander mense te soek en hulle bo jouself te plaas.
Lees:
Mediteer:
- Hoe beleef jy nou die liefde van die Here in jou lewe?
- Vra vir die Here om vir jou te wys watter leuens jy oor sy liefde vir jou glo.
- Hoe is jy besig om ander mense om jou te dien?
- Volgens die Ou Testament kon jy dit uitdeel wat aan jou gedoen is - 'n oog vir 'n oog. Die Nuwe Testament nooi jou egter uit om aan ander mense te doen volgens dit wat jy aan jouself gedoen wil hê. Indien jy die goeie vir jou eie lewe soek, begin deur dinge op te offer en die goeie in ander mense se lewens in te bring.
Bid:
Vader God, dankie dat U vir my lief is. Die liefde wat U het is nie voorwaardelik nie, maar dit is onverdiend en onvoorwaardelik. U liefde red my lewe en dit bring lig in my duister omstandighede. Jesus, leer my om daardie selfde liefde te vat na ander mense, om soos U te kan dien en ook lig in ander mense se lewens in te bring. In Jesus se Naam, amen!
Bonus: Spreek Lewe!
Jesus gee vir my liefde wat ek nie kan verstaan nie. Ek het dit nie verdien nie en sal ook nooit kan verdien nie, maar dit het my lewe gered en ek is nuut gemaak deur sy liefde!
Aanbidding:
Dag 3: Die rede hoekom ons kan
Always giving thanks to God the Father for all things, in the name of our Lord Jesus Christ; being subject to one another out of reverence for Christ. Efésiërs 5:20-21 AMP.
Om aan mekaar onderdanig te wees, kan 'n uitdaging wees. Ons vlees is altyd geneig om eerste ons eie beswil te soek en daarom kan dit moeilik wees om onderdanigheid te toon teenoor die mense om ons. Dalk wonder jy hoe jy dit dan gaan regkry. Paulus, deur die openbaring wat die Heilige Gees vir hom gegee het, leer vir ons dat die rede waarom ons onderdanig aan mekaar kan wees, is omdat ons eerbiedig teenoor Jesus is.
Waaruit ontwikkel ons eerbied vir Jesus? Ons word herinner aan ons redding en al die sondes wat Jesus in ons lewens vergewe het. Sonder Hom sou ons nie gered kon word nie. Hy het met onvoorwaardelike liefde na ons gekyk en ons nie veroordeel nie. Hy het sy lewe kom opoffer sodat ons kan lewe. Dit is juis diegene wat die meeste vergiffenis ontvang het wat Hom die meeste sal liefhê.
Indien ons hierdie opdrag van die Here wil uitvoer, moet ons onself herinner aan die liefde van God en alles wat Hy vir ons kom doen het. Deur gefokus te wees op Jesus se liefde vir ons en te besef hoe baie Hy vir ons opgeoffer het, sal ons dit wat Jesus vir ons gedoen het ook vir ander mense kan opoffer en begin om dieselfde dinge vir hulle te doen.
Lees:
Mediteer:
- Waarvan het God jou vergewe?
- Watter skuldgevoelens hou jy nog teen jouself?
- Jesus staan gereed om jou te vergewe vir alles wat jy van Hom vra, maar jy moet aan Hom bely en vir Hom om daardie genesing- en reddingswerk te kom doen.
Bid:
Jesus, U het u eie lewe vir my gegee! Dankie dat U my sondes vergewe en dat U my nuutmaak en heelmaak. Heilige Gees, werk in my hart om altyd eerbiedig te wees teenoor Jesus. Leer my om ook ander mense lief te hê met dieselfde liefde wat U vir my het. In Jesus se Naam, amen!
Bonus: Spreek Lewe!
Jesus het my van al my sondes gered en my heilig en heel gemaak voor die Vader!
Aanbidding:
Dag 4: Begrip vir mans
Ons sou nie geweet het hoe die vrou teenoor haar man moet optree sonder die vers in Efésiërs wat eers praat oor die Kerk nie. Die opdrag is dat ons aan mekaar onderdanig moet wees. Waar Efésiërs 5:22 sê dat vrouens aan hulle mans onderdanig moet wees aan die Here, is die kerngedagte van die teks nie dat vrouens onderdanig moet wees nie, maar dat almal aan die Here onderdanig moet wees. Mans wat hulle huwelike wil beskerm, sal dan soos Jesus onderdanigheid toon aan hulle vrouens deur hulle te dien, soos wat Jesus sy Kerk hanteer het toe Hy sy lewe neergelê het.
Jesus se opdrag aan mans is om hulle vrouens lief te hê soos Jesus die Kerk liefhet en sy lewe vir Haar gegee het. Sterk, gesonde, en formidabele mans is mans wat dien. So sag soos wat Jesus was met mense wat seer gehad het, net so sterk was Hy wanneer Hy alles opgeoffer het vir ander mense. Ons sien in die Woord dat waar mense Jesus se lewe in gedrang gebring het, Hy gevlug het. Wanneer ander mense se lewens egter op die spel was, het Hy sy man gestaan en nie eers weggekyk nie.
Alhoewel dit dalk “bybels” mag klink om te sê dat vrouens aan hulle mans onderdanig moet wees, lewe ons nie net volgens wat in die Bybel staan nie, maar ons lewe soos Jesus lewe. Die Ou Testament wat hierdie minderwaardigheid teenoor vrouens gevestig het, is verby. Die nuwe waarheid is dat ons mede-erfgename in Jesus is en dat diegene wat Jesus dien, Hom net saam kan dien. Indien jy God se seën oor jou lewe wil sien losbreek, moet jou motief wees om die Here saam te soek en vir jou vrou altyd beter dinge te soek as vir jouself.
Lees:
Mediteer:
Hoe kan jy jou vrou dien op 'n manier wat haar geliefd sal laat voel?
Waar is jy dalk besig om te verwag dat jou vrou onderdanig moet wees terwyl jy nie kies om haar te dien nie?
Petrus sê in 1 Petrus 3:7 dat indien mans nie verstandig saam met hulle vrouens leef nie, hulle gebede nie verhoor sal word nie. Is daar 'n versoening tussen jou en jou vrou wat moet gebeur?
Indien jy enkellopend is, is die uitnodiging om die gees van die huwelik onder die Kerk te beskerm. Vra die Here om vir jou wysheid en insig te gee oor hoe jy mense om jou kan help om in hulle huwelike te floreer.
Bid:
Jesus, ek kan net liefhê omdat U my liefhet. Dankie dat U u lewe vir my opgeoffer het! Help my om ook soos U my lewensmaat te dien en onderdanigheid te toon deur die herinnering van die goeie werk wat U vir my gedoen het. Dankie Jesus dat U so betroubaar is. In Jesus se Naam, amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Saam maak God die sluise van die hemele oor ons oop. Ons kan sy volle guns en goedheid ontvang en ten volle sien hoe Hy ons liefhet.
Aanbidding:
There Was Jesus – Zach Williams & Dolly Parton
Dag 5: Saamwees, saam geseënd
Wanneer ons nie verstandig met mekaar in die huwelik kan saamleef nie, sal God nie ons gebede verhoor nie. Indien ons egter as 'n eenheid saamleef en saamstem, sal God opdrag gee om ons te seën. Vader God het in die begin vir Adam gemaak, maar Hy het geweet dat Adam 'n maat sou nodig hê. Dit was toe reeds duidelik dat God nie bedoel het dat ons alleen of op ons eie moes wees nie, maar dat daar iemand aan ons sy sou wees om mee saam te lewe en en saam te wen.
Ons kan nooit op ons eie wen nie. As ons dink dat die huwelik ons moet bevoordeel terwyl die ander persoon daardeur benadeel word, het ons vergeet wie God is. Hy is jou hemelse Vader en Hy het jou innig lief, maar Hy is ook jou lewensmaat se hemelse Vader en het hulle ook verskriklik lief. Net soos 'n aardse vader sal Hy nie toelaat dat ons daardie persoon benadeel sodat ons ons eie sin kan kry nie. God sal nie luister na ons geroep indien ons nie ons lewensmaats eer en saam met hulle voor die Here kom nie.
Hierdie opdrag word aan getroudes gegee en ook aan alle ander mense. Beskerm die gees van die huwelik onder julle. Beskerm die bymekaarkoms en die “saamwees” onder julle, want twee is beter as een en 'n driedubbele tou kan nie maklik gebreek word nie. Waar ons saam is en mekaar bemoedig, opbeur en in 'n eenheid staan, sal die Here ons antwoord. Binne so 'n omgewing word antwoorde gegee, wonderwerke gebeur en deure word geopen.
Lees:
Mediteer:
- Is daar verhoudings in jou lewe waarin jy jou eie voordeel soek ten koste van die ander persoon?
- Hoe kan jy met die mense om jou saamwerk om God se Koninkryk te sien kom?
- Is jy ingeskakel by 'n huisselgroep wat jou ondersteun en saam met wie jy die lewensreis kan deel? Indien nie, kry inligting oor ons selgroepe op die Living Word Bloemfontein-toepassing.
Bid:
Vader God, ek kan nie hierdie lewe alleen deurmaak nie. Bring mense oor my pad wat my kan versterk en met wie ek kan saamreis. Vervul my lewe met U liefde sodat ek dit ook met hulle kan deel. Beskerm ons huwelike en vestig U karaktereienskappe in ons sodat ons onderdanig en diensbaar aan mekaar sal wees. In Jesus se Naam, amen!
Bonus: Spreek Lewe!
Wanneer ons besorg is oor die mense rondom ons en vir hulle die beste soek, wen ons ook wanneer hulle wen. Ewe skielik wen ons baie meer as wat ons ooit vantevore kon!
Aanbidding: