THRONE-ROOM THOUGHTS
Neville Goodchild
Ek moet sien wat Hy sien om in Sy rus in te gaan!
Dag 1: Wat Hy Sien
Ons is besig met ’n reeks oor gedagtes - Throne-Room Thoughts. Besef ons hoe belangrik dit is om ons gedagtes te vernuwe en gehoorsaam te maak aan Christus?
Hierdie wêreld het baie uitgangspunte. Sukses word onder andere toegeskryf aan positiewe denke. Think happy thoughts! Positiewe denke het ’n uitwerking op ’n mens se emosionele belewenis, maar dit is egter nie dié deurslaggewende faktor in jou geloofslewe nie. Dit is verseker nie ’n kaartjie na die ewige lewe nie.
Miskien redeneer jy dat gelowiges positief moet wees. Die Woord sê tog, wees bly. Om geloof te hê, het ’n element van positiwiteit in, maar om werklik effektiewe geloof uit te leef het ons nodig om by God se gedagtes uit te kom.
- Om te sien wat God sien
- Om te dink soos God oor hierdie saak
- Waarmee is God hier besig?
- Wat sê God hieroor?
My denke het 'n enorme effek op my aksies. Wat ek wéét bepaal my optrede en as ek kan begin weet (dink) soos Hý, dan leef ek vry! Is dit egter God se wil dat ons moet dink soos Hy?
Ons ondersoek God se wil en ontleed Sy aksies: God het die voorhangsel van die Allerheiligste juis geskeur om die versoening tussen God en die mens duidelik te maak. Deur Jesus Christus se kruiswerk, het Hy die skeiding tussen ons en Hom finaal verwyder. Ons mag nou ingaan in God se troonkamer en het nou vrye toegang tot God. Hoe kragtig is die bloed van Jesus Christus nie – om toegang te gee tot Vader self! Ons is versoen met God, deur God.
Wanneer Jesus aan die kruis hang, deurboor vir ons oortredinge, treur die menigtes. Hoe voel God? Treur Hy? Is dit moontlik dat Christus se sterwe Sy wil was en dat Hy opgewonde was en steeds is?
God is opgewonde oor die onmoontlike wat moontlik geword het...Versoening met Sy mense!
Sy gedagtes rondom my is vreugde, omdat ek in Sy Teenwoordigheid kan wees. Hy het dit vir my moontlik gemaak met Sy krag!
Lees:
Mediteer:
- As ons dink soos Hy, sal ons praat soos Hy. Wat beperk my om te dink soos Hy?
- Die Woord “bely” in Grieks is die woord Homologio:
- Homo (dieselfde as) Logo’s (Woord). Om te bely beteken om dieselfde te sê as wat God oor my sê.
- God sê dat ons nou geregtig is, Sy Bruid, Sy Beloning!
- Wat beperk met om te sê wat God oor my sê?
- God vergelyk ons as Kerk met hoe ’n man sy vrou lief het. Die man behandel sy bruid deur haar te was met ’n waterbad van woorde wat haar die heeltyd reinig. Hoe méér hy oor haar spreek hoe méér word sy gereinig. Laat jy toe dat God oor jou Spreek? Soek jy Sy Woorde?
- Jy is perfek in die oë van God en Sy konstante Woorde oor jou, heilig jou deurlopend.
- Ware verandering in ons gebeur deur God se Gees!
Bid:
Here, wat ’n ongelooflike realiteit dat ek deur U kruis en opstanding versoen kan wees met U Vader God. Dankie, dat ek nou direk in U Troonkamer kan kom en in verhouding met U staan; dat U gedagtes goed is oor my. Dat U tevrede is met my. U was my konstant met U Woorde wat my Heilig maak. Here ek vra dat U my hierdie week help om waarheid oor my verhouding met U vas te maak en dat my identiteit in U gevestig sal wees. Kom maak al die krake in my mondering toe Here. In Jesus se Naam. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Jesus se offer aan die kruis is volmaak. Ek is nou met God versoen en Hy verheug Hom oor my.
Aanbidding:
What I See – Elevation Worship
Dag 2: Perfek deur Hom
Hoe meer Hy oor haar spreek, hoe meer word dit wat Hy oor haar spreek waar en hoe reiner word Sy Bruid! Die kerk is die Bruid. Ons is die Bruid!
Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees (Ef.5:25-27).
Die kerk is nie sonder sonde en gebrek nie. As ons ons skaar by dit wat die vyand oor ons sê en uitwys, sal ons ook soos Jakob sê: "Ek is 'n wurm". Maar ons het hierdie sekuriteit dat Hý ons reinig. God sien ons dus reeds as perfek, volmaak en die moeite werd.
Ons leef nie meer in die tyd van straf nie. Jesus het juis hierdie straf op Homself geneem en ons kom reinig sodat ons heilig en sonder gebrek voor God staan. Ons moet ons skaar by dit wat Hy nou in hierdie nuwe dispensasie sê en ophou vashou aan die dinge van die verlede. Die reëls van die verlede is vervang met God se nuwe reëling. Jesus is dit!
Dus, omdat ons dit nou besef, kan ons die dinge begin soek wat daarbo is (Kol.3:1). Die gedagtes wat by God geld, is waarop ons nou begin fokus. To have the mind of Christ!
Ons versoening in Jesus Christus is God se beloning. Dit is Sy trofee. Ons is Sy trofee. Elke individu wat deur Jesus Christus versoen is met God, is Vader se beloning.
“God has been made rich because of YOU!”
Lees:
Mediteer:
- Om bewus te wees van my sonde en tekortkominge, herstel nie my verhouding met God nie. Inteendeel, dit laat my in skuld en skaamte probeer weghardloop. Dit is daarom so belangrik om die volmaakte werk van Jesus Christus te ontvang. Besef, Jesus se bloed het krag en maak jou vry van jou verlede. Vandag is ’n nuwe dag! God sien jou nuut!
- Deur Jesus Christus word jy erken en perfek verklaar vir God. Nou is jy in die proses van Heiligmaking!
- Geniet hierdie rusplek waarin God jou gebring het!
Bid:
Here Jesus, dankie vir die ongelooflike offer wat U Self gebring het sodat ek in verhouding met Vader God kan leef. Daar is krag in U afgehandelde werk aan die kruis. Dankie, dat U Woorde oor my spreek wat my konstant heilig maak en dat U opgewonde is Vader, oor mý as U beloning. Dit is vir my wonderlik om te dink dat U my sien as volmaak in Jesus Christus en dat daar nou geen veroordeling vir my is nie. U is Heilig en waardig en U lig my op in U Heiligheid in. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
U het dit alles gedoen Jesus. Ek kon myself nie red nie. U het my gered en nou is ek vry!
Aanbidding:
Holy Forever – Chris Tomlin feat Jenn & Brian Johnson
Dag 3: Sabbat
Wat is hierdie rus waarin ons wil ingaan? Daar is verwarring onder Christene tussen die Sabbat en die rus van die Here waarvan ons lees in Hebreërs. Daar is Christene wat hulle wil skaar by die Joodse tradisies en feeste; en onseker is oor die dinge waarop dit werklik neerkom. Kol.2 vermaan ons om valse leringe te onderhou, soos nuwemaan en Sabbat. Wat is hierdie rus dan waarvan gepraat word, as God dan self gerus het op die sewende dag?
“Want Hy het êrens van die sewende dag van al sy werke gerus; en nou hier weer: Hulle sal in my rus nie ingaan nie. Terwyl dit dan so is dat sommige daar ingaan en diegene aan wie die evangelie eers verkondig is, deur ongehoorsaamheid nie ingegaan het nie, bepaal Hy weer ’n sekere dag, naamlik vandag, as Hy soveel later deur Dawid spreek, soos gesê is: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie” (Heb.4:4-7).
Wanneer ons kyk na Genesis 1, sien ons dat God op die sewende dag rus van Sy werke. Deur elke dag se skepping deur, sê God dat dit wat Hy gemaak het goed is. Na die skepping van die mens, op die sesde dag, sê God (wat volmaak is), dit was baie goed (Gen.1:31). God is tevrede met Sy skeppingswerk en Hy rus van Sy werk (Gen.2:3).
Hierdie rus, is nie omdat Hy moeg gewerk is nie. God is nie soos die mens wat nodig het om te slaap en te rus nie. God se rus is ’n tevredenheid wanneer Hy kyk na Sy skepping. Hy sien iets raak wat baie belangrik is. Hy het Sy begeerte vervul om ons te skape en Hy is tevrede. Hy rus.
Ons het nodig om ons te skaar by dit wat God raaksien wanneer Hy na ons, Sy Skepping, kyk. Hy sê dit is baie goed. Met ander woorde, volmaak.
Lees:
Mediteer:
- Die Jode vier die Sabbat vanaf Vrydagaand tot Saterdagaand. Jesus Christus is gekruisig op die Vrydag. Hy het met die krag van die Gees van God, opgestaan uit die dood op die Sondag. Al die Sabbats-vieringe dui op Jesus Christus se dood. Dit verklaar nie dat Hy lewe nie. Dit is waarom ons as Nuwe-Testamentiese kerk nie op Vrydag of Saterdag die Sabbat vier nie. Ons vier nie Jesus se dood nie, maar Sy opstanding wanneer ons op ’n Sondag bymekaarkom; op die eerste dag van die week.
- Op die Sabbat mag die Jode niks doen nie. Die Jode het hierdie wette (the Ministry of Death) en reëls nog nie neergelê nie. Jesus het die wette kom vervang met die nuwe wet van liefde (Joh.13:34)!
- Om te rus wil ons sien wat God sien. Dit was baie goed!
Bid:
Vader, dit is so vrymakend om te besef dat U tevrede is en my sien as baie goed. Dankie, dat U my oë en gedagtes oopmaak om te besef dat U wil hê dat ek in U rus moet wees. Dankie, dat U my leer wat U ware rus is. In Jesus se Naam. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
In God se rus, is Hy tevrede met my!
Aanbidding:
Dag 4: Rus
Om in God se rus in te gaan, moet my gedagte patroon begin aansluit by God s’n.
"Laat ons dan vrees dat, terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog standhou, dit nie miskien sal blyk dat iemand van julle agtergebly het nie" (Heb.4:1).
Hoe lyk dit wanneer iemand agter bly?
Dit is wanneer my gedagte patroon nie ingeskakel is by God s’n nie. As ek nie oortuig is van dit waarvan God oortuig is nie, sal my aksies en my kommunikasie dit wys. Ek sal met werke en baie pogings probeer om God te oortuig dat ek die moeite werd is. Ek sal op verskeie maniere probeer om God se arm te draai sodat Hy goed sal wees vir my. Ek sal God op 'n manier probeer beïnvloed.
Daar is iets wat ons van God se Skeppingswerk moet verstaan. Ons moet die uitnodiging verstaan. God rus op die sewende dag van Sy Skeppingswerk en ons kan Hom daarin volg. In God se perfekte plan en in Sy rus, het ons klaargemaak met ons eie dinge, ons eie werke en self pogings en daarom kan ons ook rus in Hom.
Ons Nuwe-Testamentiese lewe word ’n Sabbatsrus. Dit is ’n lewe wat oortuig is van God se waarheid. Ons kan deur wedergeboorte uit Sy Troonkamer leef. Om te glo wat God oor ons glo, bring ons in Sy rus.
"Want ons wat geglo het, gaan die rus in..."(Heb.4:3)
Lees:
Mediteer:
- Wat keer my om my eie werke en self pogings neer te lê en in God se rus in te gaan?
- Hoe kan ek geloof kry om in die rus in te gaan?
Bid:
Vader ek bely dat ek so dikwels op my eie insigte staatmaak en besig is met self-pogings, om myself te bewys. U sien my waardevol en ag my hoog. Ek lê nou elke werk en poging neer om U te behaag en ek tel U rus op, U sagte juk en ligte las. Dankie dat U die gordyn geskeur het, sodat ek nou uit U Troonkamer kan leef! Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Ek glo in dit wat God glo en daarom het ek rus.
Aanbidding:
Throne Room Song – Charity Gayle
Dag 5: Vandag!
“bepaal Hy weer ’n sekere dag, naamlik vandag, as Hy soveel later deur Dawid spreek, soos gesê is: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie. Want as Josua aan hulle rus gegee het, sou Hy nie van ’n ander dag daarná spreek nie. Daar bly dus ’n Sabbatsrus oor vir die volk van God; want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne” (Heb.4:7-10).
Hierdie volk van God het in die wildernis gesterf. Hulle het gesterf omdat hulle nie geglo het wat God oor hulle sê en vir hulle in stoor het nie. Hulle het moeg geraak en ophou glo en hoop. Hulle het hulle harte verhard teen God se Woorde oor hulle.
Joshua het die volk die beloofde land ingeneem en tog was dit nie die rus waarna God verwys het nie. Dit was nie genoeg nie.
Om op die regte plek in jou lewe te wees, besig met dit wat God vir jou beplan het, bring jou nog nie in die Sabbatsrus nie. God praat van ’n ander volledige rus. Ons het nodig om in hierdie ander rus in te kom waarvan God praat, sodat ons nie soos die volk in die wildernis sterf nie.
Ons het nodig dat God se Woorde ons sny, elke gedagte en intensie van die hart, tot diep daar waar murg en been, siel en gees geskei word. Ons het nodig om te begin glo wat God oor ons sê. Ons leef uit Sy rus wanneer ons oortuig is van die waarheid van God. Hy sê: Dit is baie goed, volmaak goed.
Kom ons maak vandag klaar met Godsdiens en werke. Ons is Sy Bruid, perfek verklaar. Hy gee vir ons goeie nuus. Hy kwalifiseer ons, want Hy kies ons! Vandag!
Lees:
Mediteer:
- Werke, twyfel en vrees kan my nie in Sy rus bring nie. Wat bring my in Sy rus?
Bid:
Vader, U jubel en juig oor my. Ek is U geliefde, U beminde bruid. Dankie, vir soveel beloftes oor my lewe wat in vervulling kom, omdat wat U sê die swaarste weeg in my lewe. Ek glo wat U sê en wat U beloof. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
God rus omdat Hy oortuig is van my!
Aanbidding: