Go Deep 24 September 2023

THRONE-ROOM THOUGHTS

Neville Goodchild

In God se oë is ons ʼn sukses

 

Dag 1: Spreek Lewe oor jou lewe

In Esegiël 37 lees ons hoe God vir Esegiël ʼn visioen laat sien van ʼn vallei vol doodsbeendere, wat die gemoed of toestand van die volk op daardie stadium verteenwoordig. Op God se opdrag spreek Esegiël lewe uit op die beendere en ʼn groot weermag kom tot stand.  God gaan voort om ʼn belofte aan die volk te maak: “En Ek sal my Gees in julle gee, dat julle lewendig kan word; en ek sal julle vestig in jul land; en julle sal weet dat Ek, die Here, dit gespreek en gedoen het, spreek die Here.”

God het natuurlik hierdie belofte nagekom, soos wat Hy nog elke belofte aan ons nagekom het. Die volk is uit ballingskap gered daarna en in Juda gevestig. Die feit dat God het dit op ‘n spesifieke manier in die verlede bewaarheid hetm beteken dat Hy dit ook in die hede in nuwe situasies laat gebeur. Esegiël teken dus vir ons ‘n prentjie van ‘n aktiewe God wat op soewereine manier intree in hopelose situasies en deur sy Woord en Gees verandering bring.

Mag ons deur hierdie gedeelte in Esegiël geïnspireer word om só naby die Here te lewe, om só met Hom in gesprek te tree, dat ons inderdaad sal groei in ons onderskeiding van dié dinge wat God besig is om te doen, sodat ons ook die seën van God se teenwoordigheid kan ervaar. Die wete dat ons met Hom in die troonkamer sit, beteken dat ons ook LEWE kan spreek moor ons omstandighede, ons kinders se toekoms en in elke situasie waarin ons onsself bevind. Dis ons voorreg, want ons is uitgekies deur Hom wat alles gemaak het.

 

Lees:

Esegiël 37

Mediteer:

         Wat “spreek” ons in ons alledaagse lewe? Spreek ons die lewe wat God in dooie beendere blaas, of laat ons toe dat die omstandighede rondom ons ons sodanig beïnvloed dat ons Sy hand nie op ons skouers ervaar nie?

Bid:

Liewe Hemelse Vader,

Ons kom vandag voor U neer met 'n nederige hart, dankbaar vir die ongelooflike verantwoordelikheid wat U aan ons as ouers gegee het. Ons besef dat ons die geestelike beskermhere van ons kinders is, en ons kom voor U met die innige begeerte om U hulp, leiding, en genade te ontvang terwyl ons hierdie belangrike taak uitvoer.

Here, ons weet dat U ons kinders elkeen met 'n spesiale doel en roeping geskep het. Ons vra U om ons te help om hulle te help om hierdie doel te ontdek en te vervul. Gee ons die wysheid om hulle te lei en te ondersteun op hul lewenspad, en mag U Gees ons kinders lewe met lig en waarheid vervul.

Ons vra U om 'n beskermende hand oor ons kinders te hou, nie net fisies nie, maar ook geestelik. Help ons om 'n atmosfeer van liefde, vrede, en geloof in ons huis te skep, sodat hulle kan groei en bloei in 'n omgewing van spirituele groei. Mag hulle U liefde en genade ervaar en U as hul eie Hemelse Vader leer ken.

Mag ons 'n voorbeeld wees van U liefde en genade in hul lewens.

Dankie, Hemelse Vader, vir die voorreg om die geestelike beskermhere van ons kinders te wees. Mag ons hulle elke dag nader aan U bring en U glorie deur hulle lewens straal.

In die Naam van U geliefde Seun, Jesus Christus, bid ons. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

EK het die reg en die voorreg om LEWE in my en ander se lewens te spreek.

Aanbidding:

Speak Life - TobyMac

Dag 2: ʼn Lewe van Vrede in Christus

In Kolossense 3 word sekere kernbeginsels van die Christelike geloof en ʼn lewe in Christus uitgespel. As ons hierdie verse verstaan, sal ons ook makliker geestelike eienaarskap van die troonkamer van God kan aanneem.

Col. 3:1 (NIV) “Since, then, you have been raised with Christ, set your hearts on things above, where Christ is, seated at the right hand of God."

Ons kan identifiseer met Christus want ons is saam met Hom opgewek uit die dood van ons sondige lewens. Hierdie vers beklemtoon die intieme verhouding wat gelowiges met Christus het en die verandering wat Hy in ons lewens bewerk. Daar is ook ʼn opdrag: Fokus op die dinge daarbo, waar Christus is.

Wanneer ons herfokus op Jesus kan ons ons nie meer ophou met vrees, sonde en dinge van die wêreld nie, ons kan deur die krag van die Heilige Gees in ons nuwe lewe as Christene instap. Hierdie nuwe mens moet meer soos Jesus lyk as die sondige mense wat ons was. Wanneer ons op hierdie wêreld fokus word ons vrede gesteel. Jesaja 26:3 sê dat die Here ons in "volmaakte vrede" sal bewaar as ons ons gedagtes op Hom fokus en op Hom vertrou. Hierdie vrede reguleer ons gedagtes en draai ons oë weg van nietige dinge. Dit plaas eerder ons sekuriteit, ons vrede, in die goedheid en oppermag van Christus. Hoe meer ons na Christus kyk—hoe meer vertroud raak ons met ons almagtige, alomteenwoordige God—hoe meer sal ons Sy plan vir ons lewe vertrou. Hy is die moeite werd om te vertrou, en Hy is meer as bekwaam om ons in vrede te hou terwyl ons Hom eerste soek.

Lees:

Jesaja 26:3

Kol. 3

Mediteer:

       Die wete dat ons saam met Christus opgewek is, het geweldige implikasie vir al my vrese en sondes. Hoe dink jy daaroor?

Bid:

Liewe Here,

Ek dank U vir die vrede wat U in Christus aanbied. Laat U vrede wat alle verstand te bowe gaan, my hart en my gedagtes vervul. Help my om my vertroue volledig op U te stel en my lewe te rig volgens U wil. Mag ek elke dag in U vrede leef, wetende dat U oppermagtig is en dat U my beskerm en lei. In die naam van Jesus, Amen.

 

Bonus: Spreek Lewe!

Ek is opgewek uit die dood, saam met Jesus. Ek rig my oë en my gedagtes op dinge wat vir Hom saak maak.

Aanbidding:

Peace in Christ

Dag 3: Hoe God vir ons kyk

In die openingswoorde van Hebreërs 3 kry ons ʼn baie goeie idee van hoe God oor ons voel en na ons kyk. Om dit nog beter te verstaan, is dit dalk goed om na verskillende vertalings van Heb3:1 te kyk.

Afr. 1953: “DAAROM, heilige broeders, deelgenote van die hemelse roeping, let op die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis, Christus Jesus,”

Living Bible: “Therefore, dear brothers whom God has set apart for himself—you who are chosen for heaven—I want you to think now about this Jesus who is God’s Messenger and the High Priest of our faith.”

NIV: “Therefore, holy brothers and sisters, who share in the heavenly calling, fix your thoughts on Jesus, whom we acknowledge as our apostle and high priest.”

God sien vir jou en my as heilig, Hy het ons eenkant gesit vir homself, ons is uitgekies vir die hemel, ons deel in die hemelse roeping. Baie van ons voel waarskynlik nie heilig nie, ons laat toe dat ons sondigheid ons minderwaardig laat voel. Tog noem die skrywer van Hebreërs die gelowiges heilig. Waarom?

In God se oë is dit wat ons is. Heilig. Wanneer God na ons kyk, sien Hy nie ons eie sondes nie, maar die geregtigheid van Christus wat met sy kruisdood vir ons ingestaan het.

Dalk het jy al ervaar dat iemand hul kinders voortdurend prys asof hulle engeltjies is, maar jy voel dalk heel anders oor die bloedjies. Ouers het 'n neiging om hul kinders in die beste moontlike lig te sien.

Wanneer Christus na ons kyk, is dit soortgelyk. In ons geval vervang Hy ons sondes en beklee ons met Sy geregtigheid. Dink daaroor, God kyk na ons met liefde, verby al ons gebrekkighede. Dit gee ons die reg om in Sy troonkamer in te gaan, Hy wil ons daar hê.

 

Lees:

Hebreërs 3

Mediteer:

         Sienende dat God my as heilig eien, wat moet my daaglikse optrede wys?

Bid:

Heilige Vader, dankie dat U Gees my lewe rig en my insig gee in U wil en U beloftes. Dankie dat U my heilig ag. Help my om U geregtigheid en liefde te weerspieël in alles wat ek doen, en mag U my help om ander na U liefde en genade te lei.

Bonus: Spreek Lewe!

Die wêreld en sy probleme kan maar kom; in God se oë is ek heilig.

Aanbidding:

Holy – Matt Redman

Dag 4: Die dag toe die speelveld verander het

Die dag toe ʼn bebloede Jesus aan die kruis hang en sy laaste asem uitblaas, het die voorhangsel van die tempel geskeur (Matt. 27). Daarna het Hy die dood oorwin en opgestaan. Hierdie aksie het die speelveld vir ons as Christene vir altyd verander. Ons is nie meer onderworpe aan die wette van die Joodse volk nie en ons is welkom in God se teenwoordigheid (kyk na die stukkende voorhangsel). Ons is vry van wettisisme en veroordeling.

In Rom. 8:1 (Living Bible) staan daar: “So there is now no condemnation awaiting those who belong to Christ.” God hou nie rekord van ons sondes nie, ons hoef nie te vrees om eendag te moet verduidelik nie. ‘n “Throne Room Thought” om te onthou is om jouself weg te hou van teologie-omgewings en rituele waar veroordeling nog ʼn rol speel.

Romeine 8:29 (NIV):”And we know that in all things God works for the good of those who love him, who have been called according to his purpose.”

Bostaande teks hou ʼn opdrag in vir ons wat vir God lief is. Ons kan nie net in die wegspringblokke bly staan nie. Ons moet begin deelneem, inkoop en aanmeld vir sake wat deel is van God se doel. Die vertalings van ‘”purpose” in Afrikaans is doel, oogmerk, bedoeling, plan. God se visie, Sy oogmerke, Sy plan, Sy bedoelings moet ons lewe aandryf. As ons op ʼn plek is waar ons dalk voel dat ons lewe nie ʼn doel het nie, raak besig met die goed waarmee Jesus besig was. God begeer dat ons permanent op Jesus sal fokus.

 

Lees:

Romeine 8

Mediteer:

Hoe kan ek meer betrokke raak in God se plan?

Bid:

Liewe Jesus, dankie dat U vir ons gesterf het, dat U ingestaan het vir ons sonde en dat U ons vrygespreek het. Ons is vry. Help ons, rig ons om meer en meer in U te leef, ons fokus op U te hou ten spyte van wat rondom ons aangaan.

Bonus: Spreek Lewe!

Daar is niks wat ons van God se liefde weerhou nie

Aanbidding:

CeCe Winans – Goodness of God

Dag 5: Kyk net wat sê God oor jou

In Kol. 1:15-16 (NIV) staan daar:”The Son is the image of the invisible God, the firstborn over all creation. For in him all things were created: things in heaven and on earth, visible and invisible, whether thrones or powers or rulers or authorities; all things have been created through him and for him.

Die bostaande teks het direk betrekking op ons posisie in God se oë. Ons was in Hom gemaak, deur Hom gemaak en vir (tot) Hom gemaak. Dit beteken dat Christus ons prototipe is, daarom kan die produkte (ons) nie anders wees as ʼn sukses nie. God sien ons as ʼn sukses, ons kan ontspan oor ons lewensroete en toekoms, ons is ʼn sukses in Jesus.

Kol. 1:22 (NLT):”Yet now he has reconciled you to himself through the death of Christ in his physical body. As a result, he has brought you into his own presence, and you are holy and blameless as you stand before him without a single fault.”

God sê ons is heilig, blaamloos en sonder enige fout. Daar is verskeie sinonieme vir blaamloos: onskuldig, skuldeloos, sondeloos, skotvry, onbevlek, regverdig, onbedorwe. Is dit nie tyd dat ons hierdie vryspraak begin uitleef nie? As ons so begin leef, sal ons nooit weer sê: ”Ek is te sondig om ...” Daar is nie plek vir geestelike minderwaardigheid in God se troonkamer nie, nie omdat jy of ek so vreeslik oulik is nie, maar omdat God, die Skepper van alles en almal, so sê. Hy sê dit oor jou. Vat dit en lééf.

 

Lees:

Kolossense 1

Mediteer:

In watter aspekte van my lewe het ek nodig om eienaarskap te vat sodat ek ʼn beter voorbeeld van Jesus is vir ander?

Bid:

Vader God, leer ons wat u wil is en help ons om dit in alles wat ons doen te soek. Help ons om te lewe op ʼn manier wat U naam grootmaak. Dankie dat U ʼn intieme verhouding met ons wil hê, dat U ons al die krag gee om ʼn verskil in ander se lewens te maak. Aan U kom al die glorie en eer toe. Dankie vir die feit dat ons sonder skuldvlekke saam met U in die troonkamer kan wees.

Bonus: Spreek Lewe!

Ons is skuldloos, vlekkeloos, vrygespreek!

Aanbidding:

Jesus Culture - Freedom