THRONE ROOM THOUGHTS
Eugene du Randt
In die teenwoordigheid van die Koning

Dag 1: God se voordeurmatjie sê “WELKOM”.
In Mattheüs 27:51 lees ons dat die voorhangsel van die Joodse tempel van bo tot onder geskeur het tydens Jesus se kruisdood. Hierdie swaar gordyn het die Israeliete van God geskei en slegs die hoëpriester kon een maal per jaar daardeur gaan om offers aan God te bring.
Maar met Sy gebroke lyf wat stukkend gemartel is, skeur Jesus met Sy dood namens ons die skeiding tussen ons en God vir altyd oop. Ons is nou welkom, ingenooi. Ons is nie outsiders nie, ons is deel van die groep (span). Ons hoef nie te wonder of ons gekies gaan word nie, ons is klaar gekies. God kies om met ons ʼn verhouding te hê en wanneer ons Sy uitnodiging aanvaar, is ons welkom waar ook al ons onsself bevind, hetsy skool, werk, besigheid, sportveld of partytjies. Ons kan enige tyd, enige plek Sy naam roep en Hy sal by ons wees.
Daar is nog iets: God is onbeweeglik, ons Rots. Dit beteken dat ás dit voel of ons ver van Hom is, is dit moontlik omdat ons nie alles wat ons van Hom weghou (ons gedagtes oor ons sonde) uitsorteer het nie. Jesus het klaar vir ons sonde gesterf, ons hoef nie daaroor te tob nie, dit hoef nie ons skaam te maak nie. Ons is nie meer in die Tuin van Eden nie, ons is geklee in Sy liefde. Dis oukei, ons is welkom. As God ʼn voordeurmatjie gehad het, sou dit “WELKOM” sê.
Lees:
Mediteer:
Hoe groot rol speel gebed om my verhouding met God te versterk?
Bid:
Mag ons 'n voorbeeld wees van U liefde en genade in hul lewens.
Dankie, Hemelse Vader, vir die voorreg om die geestelike beskermhere van ons kinders te wees. Mag ons hulle elke dag nader aan U bring en U glorie deur hulle lewens straal.
In die Naam van U geliefde Seun, Jesus Christus, bid ons. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
EK het die reg en die voorreg om LEWE in my en ander se lewens te spreek.
Aanbidding:
No Outsiders - Rend Collective

Dag 2: Om in Christus te wees
Paulus gebruik die woorde “in Christus” of sinonieme daarvan 33 keer in Efesiërs en ʼn allemintige 169 keer in die Nuwe Testament (John A. Mackay, God’s Order (New York: Macmillan, 1953), p. 97.). Wie ons is, ons identiteit, bepaal hoe ons optree. Ons identiteit in Christus affekteer alles, ons is nie alleenstaande mense nie. Ons is gered as gevolg van Jesus se offerande, Sy kruisdood.
Hierdie begrip het kragtige gevolge. Iemand wat in Christus is, is ʼn nuwe mens, radikaal getransformeer, vir altyd.
2 Cor. 5:17 “This means that anyone who belongs to Christ has become a new person. The old life is gone; a new life has begun!”
Om in Christus te wees, beteken ook dat ons Sy verteenwoordigers is. In Christus is die realiteit wat ons by Christus plaas en dit definieer wie ons is en wat ons rol is as die gemeenskap van die koninkryk van Jesus Christus. Dis nie ʼn sware plig nie, eerder is dit ʼn wonderlike verantwoordelikheid wat ons met gemak kan aanpak, want ons is nie alleen nie.
Lees:
Mediteer:
Waar kan ek en jy ons rolle as ambassadeurs van Christus sterker laat geld?
Bid:
Liewe Jesus, dankie dat ek in U kan bestaan, dat U na my kyk en dat ek met trots ʼn ambassadeur van U koninkryk kan wees. Lei my deur U Gees, Vader, ek kan niks op my eie regkry nie. Ek is dankbaar daarvoor, want ek wil nie alleen wees nie. Dankie dat U my toelaat in U troonkamer, dat U moeite met my doen en dat U my lewe radikaal getransformeer het deurdat U Seun vir ons sondes boete gedoen het.
Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Ek is ʼn trotse ambassadeur in Jesus Christus vir Sy koninkryk.
Aanbidding:
In Christ Alone – Adrienne Liesching

Dag 3: Jesus, Skansbreker
Matteus, Markus en Lukas rapporteer dat die voorhangsel van die tempel geskeur het met Jesus se dood (Matt. 27:51, Markus 15:38, Lukas 23:45). Op daardie oomblik demonstreer Hy dramaties dat Sy opoffering, die bloed wat uit sy lyf loop, ons sondes vir altyd vergewe. Nou is die Heiligste van die Heilige plek oop vir almal, Jode en nie-Jode. Hy breek dus die skanse af tussen ons en God self wanneer dit gebeur.
In Joh. 14:6 (NIV) staan daar: “Jesus answered, I am the way and the truth and the life. No one comes to the Father except through me.”
Die geskeurde voorhangsel het 'n simbool geword van die genade, barmhartigheid en nabyheid van God vir almal wat in Jesus glo. Dit het 'n nuwe era van verlossing en versoening ingelui waarin ons nie meer van God afgeskei is nie, maar in gemeenskap met Hom kan leef deur geloof in Jesus Christus.
Dit beteken ook dat ons daagliks, die hele tyd, met Jesus in gesprek kan tree. Ons hoef nie mooi woorde of fantastiese gebede te opper nie, soms is dit net genoeg om te sê: ”Help my, Jesus,” of “Dankie, Jesus”. Ons kan dít doen omdat Hy die skanse afgebreek het, van daardie dag tot Hy weer kom.
Lees:
Mediteer:
Hoe kan ander mense hul verhouding met Jesus verbeter? En ekself?
Bid:
Liewe Jesus, dankie dat U al die skanse tussen my en U afgebreek het en dat u met my ʼn verhouding wil hê. Leer my. Lei my. Beskerm my. Gebruik my. Ek is ʼn gewillige dienskneg in U koninkryk.
Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Die skanse is afgebreek, ons kan deurstap!
Aanbidding:
Tear Through the Veil – Decibel Worship

Dag 4: Vry. Vrymoedig. Vergewe.
Jesus se teenwoordigheid maak ons vry van die juk van sonde, want deur Sy se offerande is ons vrygespreek en nuutgemaak in Hom. Hierdie vryheid is 'n bron van groot vreugde en dankbaarheid vir ons almal wat glo,
In Jesus se teenwoordigheid het ons ook 'n vrymoedigheid om na Hom toe te gaan in gebed en aanbidding. Ons hoef nie skaam te wees of onsself te verberg nie, want ons weet dat Hy ons liefhet en ons aanvaar net soos ons is. Ons kan met vrymoedigheid nader aan die troon van genade kom om hulp te ontvang in tye van nood, om ons harte met Hom te deel, en om Hom te loof en prys vir Sy onverdiende goedheid. Hierdie vrymoedigheid om nader aan God te kom is 'n groot voorreg en 'n teken van die intieme verhouding wat Hy met ons deel.
In Jesus se teenwoordigheid word ons vergewe van ons ongeregtighede. Hy is die offerlam wat ons sondes wegneem en ons skuld voor God verwyder. Ons kan met 'n skoon gewete en 'n dankbare hart voor God staan, omdat ons weet dat ons geregtigheid nie op ons eie verdienstes berus nie, maar op Christus se volmaakte offer. Dit is 'n wonderlike uiting van God se liefde en genade teenoor ons as sy kinders.
Lees:
Joh. 14:27, Heb. 10:19, Hand. 2:38
Mediteer:
Jesus het my ten volle vergewe vir al my sondes. Hoe moet ek optree teenoor mense wat my kwaad aandoen?
Bid:
Liewe Jesus, dankie dat ek vrygemaak is deur U bloed, dat ek vrymoedig kan wees om U te nader en dat ek vergewe is vir al my sondes. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Gooi jou arms in die lug en juig: “Ek is vry!”
Aanbidding:

Dag 5: ʼn Verhouding met Jesus
Ons lewe in ʼn wêreld waar baie mense probeer om mekaar te beïndruk met hulle prestasies, hulle besittings en hoe hulle lyk, om net ʼn paar goed te noem. Hulle mag dit dalk met mekaar regkry, maar nie met Jesus nie. Hy stel nie in ons vermoëns belang nie, net in ons bereidwilligheid om in Sy koninkryk te dien. Dit beteken nie dat Hy nie omgee vir ons of nie van ons hou nie, inteendeel, Hy het gesterf aan die kruis vir ons. Dit sê presies hoe Hy oor ons voel.
As ek Jesus dus nie hoef te beïndruk met hoe oulik ek is nie, kan ek eintlik heel gemaklik raak en fokus om ʼn verhouding met Hom te hê. Ons doen dit onder andere deur te bid, die Woord te bestudeer en lofprysing te doen. Jesus self het Hom afgesonder om te kommunikeer met Sy Vader (bid) by verskeie geleenthede waarvan ons lees in die Bybel. ʼn Goeie voorbeeld hiervan is in Johannes 17 opgeneem en is die leesstuk vir vandag.
As die Prins van prinse moeite gedoen het om ʼn verhouding met God te hê, hoeveel te meer moet ons nie ook daardie moeite doen nie?
Daar is soveel voordele daaraan verbonde om ʼn verhouding met Jesus te hê. Hy voorsien in al ons behoeftes, maar meer nog, Hy het ons gered en Hy wil tyd met ons spandeer.
Lees:
Mediteer:
Maak ek genoeg tyd om stil te raak? Wat is belangriker as om met Jesus tyd te spandeer?
Bid:
Vader God, ons is dankbaar vir u teenwoordigheid in ons lewens. Dankie dat ons nie bekommerd hoef te wees oor hoe goed of talentvol ons is nie, ons kan net onsself wees voor U. Dit is ʼn ongelooflike bevrydende gevoel. Baie dankie vir al u genade en liefde. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Ek is vry om net myself te wees wanneer ek bid.
Aanbidding:
More than Able – Chandler Moore & Tiffany Hudson