Go Deep 25 February 2024


FINDING PURPOSE

Neville Goodchild

Wie is ek?

  

Dag 1: Nie nét genooides nie

Sondagoggend, ons kerk is ʼn miernes net voor ons begin met lofprysing en aanbidding. Mense kom nader om hul plekke op te soek by Sy tafel. Die voorsangleiers se vingers gly oor kitaarsnare, hul gesigte is vriendelik, hulle nooi ons uit om op te staan en deel te neem. Ons kry die geleentheid om ons kindskap hardop uit te sing.

“I am a child of God.”

Wanneer God ons terugnooi na die tafel, los Hy ons nie net so nie. Hy rus ons weer en weer toe om Sy koninkryk te bou, Hy breek ons gebrokenheid sodat ons weer kan skitter met energie en toewyding om Sy plan vir ons te voldoen.

Dink weer hieroor; Ons is kinders van God. Hierdie feit gee ons die gesag om enige uitdaging aan te vat, die vrymoedigheid om Sy naam in elke hoekie in die heelal te noem en die uitnemendheid om alles wat ons doen tot Sy eer te doen.

LEES:

Gal. 3:26

 

 Mediteer

Het jy al regtig besef dat jy Sy kind is? Wat beteken dit vir jou in hierdie wêreld?

 

 Bid:

Vader, dankie dat ek met absolute sekerheid en selfvertroue kan weet dat U my gekies het, dat U hand op my skouer is en dat ek met vrymoedigheid U koninkryk kan help bou, want my bloedlyn begin by U. Amen,

 

Spreek Lewe!

God se kinders mag die lewe aangryp.

Aanbidding:

Made for Heaven - Cain

Dag 2: Om jou doel uit te leef

Paulus se skrywe in Romeine 1:1 laat geen twyfel dat hy ʼn uitstekende voorbeeld is van iemand wat weet wat sy roeping is nie: “PAULUS, 'n dienskneg van Jesus Christus, 'n geroepe apostel, afgesonder tot die evangelie van God.”

Paulus is onbeskaamd en selfversekerd dat hy God se dienskneg is. Hy bevestig sy roeping en dat sy werk is om die evangelie te verkondig. Hy weet dat hy deur God aangestel is om hierdie werk te doen.

Dit is maklik om te dink dat ons doel net in ons beroep verweef is, maar dit is nie. Ons moet in alle vlakke van ons lewe die Koninkryk bou.

Om jou doel te probeer vind moet jou nie angstig maak nie. In Psalm 23:2-3 staan daar: “He leads me beside still waters. He restores my soul. He leads me in paths of righteousness for his name’s sake.”

Ons mag dalk soms onseker wees, maar God is honderd persent seker oor ons. Hy gee die stabiliteit wat ons nodig het, ons kan net volg.

 

LEES:

1 Pet. 1:10-16

 Mediteer

Is daar genoeg getuienis dat jy jou geestelike doel uitleef?

In watter aspekte van jou lewe moet jy aanpassings maak?

 

 Bid:

Vader, help my om die geestelike doel wat U vir my lewe het ten volle te bereik. Gee my asseblief die wysheid om dit te doen, die nederigheid om altyd mooi en met liefde met U mense om te gaan en die deursettingsvermoë om te staan vir wat reg is. Dankie dat U vooruit stap en ek net kan volg. Amen.

 

Spreek Lewe!

God is oor niks onseker nie

Aanbidding:

I believe – Phil Wickham

Dag 3: Skaapwagter tot koning

God was nog nooit onbewus van ons lewe nie, Hy was betrokke in ons verlede, Hy het al planne vir ons gehad voordat ons gebore is. Baie van ons voel soms minderwaardig en mag selfs dink dat ons nie waardig is om die Koninkryk uit te bou nie.

Dawid was maar net ʼn skaapwagter, maar hy was ʼn skaapwagter wat God geken het. In 1 Sam. 17:34-37 kom sy onverskrokke geloof sterk na vore wanneer hy vir Saul vertel hoe God hom nog altyd beskerm het. Hy is nie skaam om dit aan die huidige koning te vertel nie. Die feit dat daar waarskynlik ʼn groep vername mense rondom die koning was, sit hom nie af nie. Hierdie gebeure waar ʼn jong skaapwagter sy roeping vasmaak, beïnvloed die toekoms van ʼn menigte mense. Hy word later koning van Israel en skrywer van soveel pragtige Psalms, ʼn man met insig in God se werk wat ten spyte van sy eie foute nog steeds verstaan het hoe vergifnis regtig werk.

God gee nie om oor wie jy nou is nie. Hy gee om oor wie jy gaan word, oor wie jy wil word, maar meer nog, oor wie jy kán word. Hy het al lankal die potensiaal in ons gesien, al wat ons moet doen is om dit vas te maak, te bid en te sien hoe Hy groei bring in ons lewens.

 

LEES:

1 Pet.2:9

 Mediteer

Skaapwagter, is jy bereid om op te staan vir wat reg is?

 

Bid:

Vader, vandag bid ons in dakbaarheid dat U uself met ons intiem besig hou, al van ons eerste dae af. Gee ons die onverskrokkenheid om op te staan vir wat reg is in U oë. Lei ons kinders en ons families om hulle roepings vas te maak in U. Heilig is U naam.

Amen.

 

Spreek Lewe!

God sien potensiaal in my, Halleluja.

Aanbidding:

Don’t stop Praying– Matthew West

Dag 4: Die geheim wat nie ʼn geheim is nie.

In Hand. 20:22 lees ons dat Paulus teruggaan Jerusalem toe, ten spyte van die feit dat daar slegte dinge op sy pad lê. Die feit dat daar moontlik dinge kan skeefloop is minder belangrik vir hom.

“En kyk, ek gaan nou gebind deur die Gees na Jerusalem; en watter dinge my daar sal oorkom, weet ek nie.”

Paulus is deeglik bewus dat God hom nie iets sal laat oorkom wat hy nie kan hanteer nie. Dit gee hom die selfvertroue om in God se diens te bly. Hy weet hierdie goed ook omdat hy ʼn diepe verhouding met God het en weet dat hy op Hom kan vertrou. Dis die geheim wat nie ʼn geheim is nie. Verhouding skep vertroue.

Dawid het ook ervaar hoe God voorsiening maak dat hy sy roeping sal vervul. Dit is regtig die moeite werd om die hele 1 Kron. 12 te lees om te sien hoe God mense van verskillende hoeke en kante en met verskillende eienskappe na hom toe stuur sodat hulle hom kan help. Teen hierdie tyd het Dawid sekerlik al besef dat hy nie meer ʼn skaapwagter is nie; dat hierdie invloei van mense na hom toe deel is van sy roeping. En hét hy nie hierdie leierskapkleed aangetrek nie!

Ons is nie almal in die skoene van ʼn skaapwagterkoning of ʼn onverskrokke evangelis op pad na Jerusalem toe nie, dalk is dit wat ons doen glad nie “glamorous” nie, maar ons is met ʼn doel geplant waar ons is. Dieselfde feite geld vandag vir ons: ons moet ʼn verhouding met God aanknoop sodat ons die vertroue kan hê om in Sy plan vir ons lewe te loop. Hy sal die geleenthede skep vir ons om te groei in Sy Koninkryk.

 

LEES:

Hand. 20

 Mediteer

Was daar al tye wat God die regte mense op die regte tyd in jou pad gebring het? Dank God sommer nou daarvoor.

 

 Bid:

Vader, U bring die regte mense op die regte tyd oor ons pad. U besorgdheid met ons lewens is onverstaanbaar, maar ons is dankbaar dat ons U ken en U kan aanbid. Gee ons asseblief die dapperheid om altyd en in enige situasie U koninkryk te eer. Dankie vir ons families en vriende, dankie dat U ons so seën.

Amen.

 

Spreek Lewe!

Ek is dalk nie ʼn koning met ʼn goue kroon nie, maar ek is ʼn koning in Sy Koninkryk.

Aanbidding:

Brave – Nichole Nordeman

 

Dag 5: Jy, jou roeping, jou gawes en ander mense.

Die Bybel is baie duidelik daaroor dat ons geestelike gawes tot ander mense se voordeel moet lei en die kerk moet bou (1 Pet. 4:10, Ef. 4:11-16). Ons doel is om onsself uit te leef waar ons onsself bevind en om te fokus dat ons ander mense help. Op ons eie stagneer ons, maar wanneer ons in ons roeping inbeweeg het ons energie en fokus.

Om jou roeping te vind moet jy weet wie jy is (Dag 1), weet waar jy geplaas is en jy moet bewus wees van wat in die wêreld om jou aangaan. Ons het in Dag 4 gelees oor die verskillende groepe wat na Dawid gegaan het om hom te ondersteun in sy roeping. 1 Kron. 12:32 noem van die seuns van Issaskar wat “kundige insig wat die tye betref” wat ook gaan help het. God het ʼn spesifieke plan met hierdie manne gehad en hulle spesifieke ervaring aangewend om Sy plan te volbring.

God wil ons laat verstaan en laat weet wie ons is, ons moet net vra. Daar waar hy ons geplaas het, is waar ons begin om ons geestelike gesag uit te oefen. As dit Sy plan is om ons werksomgewing en leefwyse te verander soos wat Dawid uiteindelik van skaapwagter tot koning gegroei het, sal dit gebeur. Maar in die hier en nou, is ons taak om met liefde die koninkryk te bou waar ons is. Ons kan bid vir die wysheid om ook presies te weet hoe ons onsself met God se plan moet belyn.

 

LEES:

Fillipense 2:1-4

 Mediteer

Wat kan ek nóú doen met al hierdie inligting wat ek het oor my roeping en God se teenwoordigheid in my lewe?.

 Bid:

Vader, gee ons asseblief die insig om ons te belyn met U plan, tot U eer en tot die voorspoed van ander mense. Dankie, Vader, dat U moeite doen om ons identiteit duidelik te maak. Help ons om selfs waar ons nou is, U koninkryk te bou.

Amen.

 

Spreek Lewe!

God gee ons die wysheid en geestelike gesag om invloedryk in hierdie tye te wees.

Aanbidding:

Long live the King– Influence Music