Go Deep 17 Maart 2024

Simfonie

Neville Goodchild

Die krag van eenheid

 

 

Dag 1: Oop arms en geen veroordeling nie.

Sondag. Kerktyd. Ons begin met lofprysing. “Jesus, Koning Jesus.” Later: “Ek wil naby aan U wees.” Mense aanbid verskillend, dis goed so. ʼn Klomp mense het gekies om gedoop te word. Jong mense. Ouer mense. Hulle almal lyk opgewonde daaroor. Dit maak nie saak waar jy vandaan kom nie. Dit is mense wat ʼn keuse gemaak het om God te soek, om te kies om Sy Gees in hul lewens toe te laat. Hulle het geleer dat God ʼn pad met mense wil stap.

Die res van ons is besig met lofprysing. Van ons voel om met hande omhoog na God te roep, ander verkies om net hulle stemme te gebruik. Dis goed so. Sommige het al diep spore deur die lewe gestap, maar hulle staan in aanbidding saam met jong kinders wat vroeg al in ʼn posisie geplaas is om goeie keuses te maak. Almal gelyk. Dit maak nie saak waarvandaan jy kom nie, dit is belangrik waarheen jy oppad is.

Tussen die sang en die doop ervaar ons ʼn gevoel van eenheid. Hier is iets groter as ons aan die werk. Daar is geen twyfel dat ons in die Plek van die Here is nie.

God sê in die boek van Jeremia dat Hy nie wegkruip vir ons nie, Hy is beskikbaar. Ons moet Hom net soek. Dis nie Wegkruipertjie nie. Inteendeel, Hy wil ʼn pad met ons stap, ʼn verhouding met ons bou en ons laat floreer. Kom ons soek Hom intensioneel.

 

LEES:

Matt. 11:28-29 

Mediteer

Soek jy na God met jou hele hart of is kerk net ʼn ritueel wat weekliks van die lys afgetik moet word?

 Bid:

Vader God, ek wil naby aan U wees, so naby aan U wees.

Amen.

 

Spreek Lewe!

ʼn Verhouding met God is nie one-way trafic nie. Hy soek ons uit, kom ons juig daaroor.

Aanbidding:

Lion and the Lamb - Leeland

Dag 2: Die gawe van eenheid.

Die agtergrond vóór en die gebeure wat in Genesis 11 beskryf word, is propvol gepak met inligting wat die hedendaagse gelowige absoluut moet weet. Kort na die groot vloed waar Noag en sy seuns die ark gebou het, lees ons dat God ʼn opdrag aan hulle gee:

Gen. 9:1 “En God het Noag en sy seuns geseën en aan hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde.”

In Gen. 11:1 lees ons dat al die mense dieselfde taal praat en dieselfde opinies en ingesteldheid het. Hulle gaan bly dan ook almal saam in Sínear en besluit saam om ʼn stad te bou met bakstene wat hulle maak. Hulle gaan verder en begin om ʼn toring te bou wat hulle glo hulle aansien sal verhoog en met ʼn duidelike intensie om nie “oor die aarde verstrooid te raak nie”.

Dan lees ons dat die Here moeite doen om hierdie doenery te kom besigtig en Hy maak ʼn belangrike stelling.

Gen. 11:6  ”Daar is hulle nou een volk en het almal een taal! En dit is net die begin van hulle onderneming: nou sal niks vir hulle meer onmoontlik wees van wat hulle van plan is om te doen nie.”

God beskryf die krag van eenheid, die gawe wat Hyself aan ons gegee het. Wanneer mense in eenheid is, is die potensiaal oneindig. In die geval van Babel, is hierdie gawe vir die verkeerde doel aangewend en God stop hulle poging in ʼn oomblik.

Wat beteken dit vandag vir jou en my? Mattheus 18:19-20 gee die antwoord beter as wat enige mens kan doen.

 

LEES:

Gen. 11

 

Mediteer

Het jy al die krag van eenheid in jou lewe ervaar?

Hoe kan ek bydra om eenheid in my huis te bou?

 Bid:

Vader, ons bid vir ons kerk, ons werksplekke, ons skole en ons gemeenskappe. Help ons om die lig te wees in elke plek waar U ons geplaas het. Gee ons die wysheid om met liefde om te gaan met die mense wat oor ons pad kom. Help ons om bouers van eenheid te wees. Dankie dat U ons seën met hierdie wonderlike gawe. Help ons om dit altyd tot U voordeel aan te wend. Amen.

 

Spreek Lewe!

Ek is ʼn opbouer, nie ʼn afbreker nie.

Aanbidding:

Psalm 133 (Unity) – Tom Mottershead

 

 

Dag 3: Jy kort net twee mense wat begin saamstem...

Die woord “Simfonie” laat ʼn mens soms dink aan groot orkeste, strykende viole en strelende klanke wat jou ore vul terwyl die dirigent alles bymekaar laat vloei met flink hand en armbewegings. ʼn Simfonie impliseer iets moois, iets kompleks, iets wat die luisteraar in sy of haar stoel laat terugsak en net die oomblik en die vrede wat dit bring, ervaar.

God is duidelik dat net twee mense wat saamstem en saamwerk in 'n verhouding wonderlike musiek kan maak. Dit is in die grondslag van God se plan vir ons; gesinne en families, waar sinergie ons vorentoe vat en ʼn gebrek daaraan ons terughou. Jesus is baie ernstig in Matt. 18:18-20. Hy benadruk dat hierdie woorde van homself af kom. “I assure you.” “Again I say to you ...”

Hy wil direk inspraak in huishoudings hê en Hy is ernstig daaroor. Die God van Vrede wil die gawe van eenheid in ons lewens implementeer, want Hyself weet wat die krag van twee mense is wat in eenheid opereer.

As ons dan so seker is oor die krag van eenheid, hoekom sukkel so baie mense om die simfonie te ervaar? Satan is die breker van vrede en vooruitgang. Hy is nie ʼn skepper nie, hy is ʼn afbreker van alles wat goed is. Hy verstaan die krag van eenheid en hy wil dit ten alle koste verhoed.

Ons onderskat die krag van eenheid al het ons so baie voorbeelde daarvan in die Bybel. Een so ʼn voorbeeld is Josef. Sy broers verkoop hom en daar vanaf loop dinge verkeerd. Droogte. Dors. Hongersnood. Maar God het ʼn plan en uiteindelik is daar versoening en Josef keer terug huis toe met sy broers om sy pa te gaan groet. Die droogte is gebreek. (Lees gerus Gen. 37 tot 55 om weer te onthou hoe fantasties God is).

Ons het droogtes in ons verhoudings en God is duidelik daaroor dat Hy ʼn droogtebreker is. Hy versoek ons keer op keer om die minste te wees, om toe te gee, om verhoudings te bou eerder as om mense af te breek. Hy is duidelik daaroor. Ons kort net twee mense wat dieselfde “taal” praat en in Sy wil leef. Net twee.

 

LEES:

Fillipense 2

Mediteer

Is daar dalk ʼn verhouding wat ek verwoes het omdat ek nie wou toegee nie?

Wat kan ek NOU doen om ʼn spesifieke verhouding wat my pla te verbeter?

 Bid:

Vader, ons dankbaar vir die gawe van eenheid. Help ons om dit te benut tot ons families se voordeel, in U guns en deel van U orkes. Ons is so dankbaar dat U ons voorspoed en ons verhoudings op U agenda het. Dankie vir elke stukkie genade wat ons van U ontvang. Ons verdien niks, maar U stel alles beskikbaar. Amen.

 

Spreek Lewe!

Ek is 'n bouer van verhoudings

Aanbidding:

This is Amazing Grace– Juanita du Plessis

Dag 4: Onstuitbaar

God hou van vrede. Lees hierdie ongelooflike woorde in Ef. 4:32-32 (NIV):

“Get rid of all bitterness, rage and anger, brawling and slander, along with every form of malice.  Be kind and compassionate to one another, forgiving each other, just as in Christ God forgave you.”

Bostaande is ʼn resep vir harmonie, ʼn simfonie van lekkerte waar daar nie bitterheid, haat, kwaad of lelik is nie. Verhoudings waar mense mekaar met deernis en liefde hanteer is tog soveel lekkerder as die teenoorgestelde.

Soms kan dit voel asof daar mure tussen ons en ons geliefdes opgerig is. Miskien is dit ʼn kind wat maar net nie tot die volle potensiaal ontwikkel wat ons as ouers in hom of haar sien nie, dalk is dit ʼn paartjie wat net eenvoudig voel asof daar ʼn aspek in hulle lewe is wat net nie groei nie. Dit kan finansies wees. Dit kan beroep- of besigheidsgewys wees. Dit kan hulle eie verhouding wees.

Soms is die skanse tussen mense oor jare opgebou en lyk dit of dit moeilik gaan wees om af te breek, maar dit is nie. Net twee goed moet gebeur. Ons moet iets kry om oor saam te stem en ons moet toelaat vir grys gebiede in ons verhoudings. Verhoudings is nie net swart en wit reëls en regulasies nie. As ons begin toegewings maak en bereid word om ons eie wil op die agtergrond te stel, begin ons al meer in die belofte van Matt. 18 beweeg. God is duidelik. Stem saam oor iets wat in Sy wil is, bid daaroor en Hy sal dit volbring.

Daar is niks wat ons kan droom wat ons nie kan bereik nie. As ons saam werk vir die glorie van die Koninkryk en ons kom saam en leun op God se Woord,wanneer daar eenheid is, in ons familie, in ons besigheid en in ons skool – dis onstuitbaar.

 

“As for me and my household, we will serve the Lord” (Joshua 24:15).

 

 LEES:

Matt. 18:21-32

Mediteer

Is daar iemand in jou lewe by wie jy moet uitkom sodat julle saam kan bid en beplan?

 Bid:

Vader, U seën ons met oneindige liefde. Help ons om dieselfde met die mense om ons te doen. Amen.

 

Spreek Lewe!

Ek en my huis dien die Vader.

Aanbidding:

For me and my house – Here Be Lions

Dag 5: Die Familiegimnasium

Hier is iets om oor te dink. Families is soos ʼn gimnasium waar God liefde ʼn ernstige “workout” gee. Dis soms harde werk om bes te gee ter wille van liefde en vrede, maar dit bou aan die eenheid van die gesin of huwelik. Wanneer gesinne ʼn grondvaste missie het wat vasgepleister is in God se liefde, is dit maklik om ter wille van eenheid en die uitkomste van die missie terug te staan en in liefde te handel. Dit raak maklik om iets op te gee ter wille van hierdie missie.

Ons kinders se toekoms wag om te hoor waaroor ons saamstem. In Spreuke 6:2 word hierdie woorde beaam. Ons moet insae hê in ons kinders se toekoms, dis ons plig. Almal van ons is meer geneë om saam te werk aan ʼn toekomsplan as ons daaroor saamstem, kinders ook. Kinders is ʼn wonderlike gawe, direk van God (Psalm 127:3-5).

Die teenoorgestelde van eenheid is natuurlik Babelse verwarring. Waar alles moontlik is in eenheid, word elke droom onmoontlik wanneer ons gediskonnekteer is van mekaar. Sonder ʼn missie word die probleme tussen mense die missie en skuif die fokus op dit wat verkeerd loop in die verhouding.

Eenheid. Unity. Kom ons oefen die liefdesspiere in die familiegimnasium. Kom ons bid saam oor dieselfde goed, dieselfde missie en oor dieselfde waardes. Dis ʼn gawe, direk van God af. Gryp dit aan.

 

 LEES:

Ef. 3:14-21

Mediteer

Waaroor kan ons saamstem?

 Bid:

Vader, ons bid dat U die Heilige Gees se vrugte van liefde in my sal oprig ter wille van my gesin, die mense met wie ek werk en ook in ons gemeente. Dankie vir die gawe van eenheid. Ons loof U heilige naam. Amen.

Spreek Lewe!

My fokus is eenheid en my gimnasium is my familie.

Aanbidding:

I’ve Witnessed it– Melodie Malone