Die graf is leeg
Neville Goodchild
Hy het waarlik opgestaan

Dag 1: Die Man op die middelste kruis
Goeie Vrydag. Vroegoggend. Vriendelike mense groet jou by die kerk se ingange. Gesinne, vars gestort en hier om te kom aanbid. Mense staan in groepe rond en gesels met mekaar. Ons glimlag en groet. Dis ʼn groot dag, hierdie. Goeie Vrydag. Die offer wat ons ewigheid verseker het.
Op die kruis het Hy gehang. Vooraf is Hy geslaan, is ʼn kroon van dorings op Sy hoof vasgedruk en moes Hy sy kruis dra tot by Golgota. Nou druk hulle lang spykers deur Sy gewrigte, deur sy twee voete wat bo-op mekaar vas is. Iemand druk ʼn spies in Sy sy. Hy het al so baie gebloei dat dit wat uit Hom vloei meer soos water lyk. Ons Jesus. Dink aan die pyn, die vernedering, maar meer nog, die feit dat Hy geweet het dat Hy onskuldig is. Ten spyte van hierdie ongelooflike marteling maak Hy nog tyd vir die dief op die kruis langs Hom en verseker hom dat hy saam in die Paradys sal wees. Sy hart het net mooi liefde vir gebrokenes. Dís die karakter van die God wat ons dien. Dapper gaan Hy die dood tegemoet. Vir ons. Vir almal van ons.
Dan, wanneer iemand vir Hom suur wyn gee om te drink, blaas Hy Sy asem finaal uit. Joh. 19:30. Mission accomplished. Die Held van Golgota, die Middelste Man aan die Kruis, moes sterf, moes ons sonde op Hom neem sodat ons nie verlore sal gaan nie. Die wonderlike wete is natuurlik dat Hy die dood oorwin het en dat ons oor die leë graf kan vier. Kom ons juig daaroor in dankbaarheid en prys Sy heilige Naam.
Sondagoggend. Dis weer so. Vriendelike mense. Ons juig. Hy het opgestaan!
LEES:
Mediteer
Wat gaan deur jou gedagtes wanneer jy aan die kruis dink?
Wat beteken die realiteit van ʼn leë graf vir jou?
Bid:
Vader, dankie dat U U seun vir ons gegee het. Dankie, Jesus vir U dapperheid en U offer. Dankie vir U voorbeeld om ten spyte van die pyn en lyding nog tyd te maak vir ʼn ander wat U nodig het. Ons sal U altyd loof en prys daarvoor. Amen.
Spreek Lewe!
Ek is gered, ek is voorwaar gered. Jesus het dit volbring aan die kruis op Golgota.
Aanbidding:
Sunday is Coming– Phil Wickam

Dag 2: Die klip is nie meer voor die graf se opening nie
Ons lees in Lukas 24 dat Maria en van die ander vroue die Sondagoggend na die graf is, maar dat dit leeg is. Die steen wat voor die opening was, is eenkant toe gerol. Hierdie waarneming het ʼn baie belangrike betekenis. Die klip is ʼn simbool van die wet van Moses. Die klip (wet) wat poog om Jesus terug te hou, is uit die pad gerol. Jesus het die dood oorwin en sodoende die wet as’t ware agtertoe geskuif om plek te maak vir genade en waarheid. Deur Sy genade is ons gered, niks anders kan ons red nie.
Dink ook hieroor. Maria moes vir seker deur geweldige emosies en selfs angs gaan terwyl hulle op pad is na die graf toe. Sy verwag ʼn stukkende liggaam, maar kry ʼn oop graf. Hulle moes baie verskrik en geskok gewees het. Boonop lees ons dat hulle bang is vir die engele wat dan aan hulle verskyn. En een van hierdie engele vra vir hulle waarom hulle die Lewende soek by die dooies en gaan dan verder om hulle te herinner aan Jesus self wat Sy eie dood voorspel het. Hierdie engele lê verder klem op die kontras tussen die lewe en die dood. Hy, Jesus, is nie meer in die graf nie. Ons lees dan dat die vroue die graf net daar los en gaan om die ander hiervan te vertel. Hulle het na Jesus gesoek op die verkeerde plek ...
Ons lewens is direk geïmpliseer deur die kruis en die leë graf. Sy bloed maak ons vry, daar is nie iets wat ons diskwalifiseer om vry te wees nie. Die feit dat Jesus die dood oorwin het namens ons, beteken dat ons ook oorwinnaars is.
LEES:
Mediteer
Soek ons na Jesus op die regte plekke?
Bid:
Jesus, dankie dat U gekom het om ons te red, dat U die dood en sonde oorwin het namens ons, dat U intree vir ons by die Vader. Ons glo dat daar ʼn leë graf was, ons glo dat U opgestaan het. Ons loof en prys U wonderlike naam vir altyd en ewig. Amen.
Spreek Lewe!
Daar is ʼn leë graf wat jou en my direk betrek by Sy genade.
Aanbidding:
Praise – Brandon Lake, Chris Brown & Chandler Moore

Dag 3: Ons is deel van die kruis en die graf
Die gebeure wat op daardie Vrydag afgespeel het, het ʼn direkte impak op ons. Met Jesus se bloed het Hy voorsiening gemaak dat ons vergewe is. Ons is vrygespreek van alles wat ons al gedoen het en dit wat ons nog gaan doen. Vryspraak sonder voorwaarde. Dit beteken dat ons nie elke keer wanneer ons sondig eers moet tyd maak om vergifnis te vra voordat ons vergewe is nie, dis klaar gedoen. Dit beteken ook nie dat ons bloot kan aangaan soos ons wil nie, ons lewens moet ʼn getuienis van God se genade wees.
In Romeine 6:4 staan daar dat ons deur die doop saam met Jesus begrawe is en ook saam met hom opgestaan het in ʼn nuwe lewe waar sonde ons nie kan bereik of veroordeel nie. Wanneer ons gedoop word, staan ons letterlik op uit ʼn watergraf en laat ons ou lewe agter. Nou wandel ons saam met Jesus. Jesus leef die lewe wat Hy leef vir God (Rom 6:10) en so moet ons ook doen.
Jesus het ʼn leë graf agtergelaat. Hy was nie meer daar toe Maria en die ander vroue Hom gaan soek het nie. Net so moet ons ook nie lewe soek in plekke van die dood nie. Ons lewens moet inspireer en getuig van Sy liefde en genade.
LEES:
Mediteer
Is my lewe ʼn getuienis van God se liefde?
Bid:
Vader, U het U seun vir ons geoffer. Hy het die dood oorwin en opgestaan sodat ons ook kan opstaan. Hy leef die lewe wat Hy leef vir God. Help ons om hierdie voorbeeld te volg. Dankie dat U ons betrek het by die kruis en die graf. Ons loof en prys U wonderlike naam vir altyd en ewig. Amen.
Spreek Lewe!
Ons is deel van die opstanding van Jesus.
Aanbidding:
Praise You anywhere – Brandon Lake

Dag 4: He has risen
In Matt. 28 kry ons dieselfde weergawe van die oop graf as wat Lukas gegee het. Ons lees weer dat Maria en van die ander vroue dadelik gaan om te gaan vertel van Jesus se opstanding uit die dood. Ons kry egter meer inligting in verse 11-15 waar die priesters ʼn komplot smee om die leuen te verkondig dat Jesus nooit opgestaan het nie, maar dat sy lyk gesteel is. Hierdie leuen word tot vandag toe geglo deur baie mense en is ʼn waarskuwing aan ons van hoe een leuen oor baie jare ʼn impak kan hê op ander se redding.
Die primêre boodskap van die kruisdood van Jesus en Sy opstanding drie dae later kom eintlik op die volgende neer:
He has risen
So have we
Now arise!
Dag 3 se dagstuk verduidelik dat ons direk by die kruis en die opstanding betrek is. As dit dan waar is, as ons wedergebore en gedoop is, beteken dit dat ons die ou juk van sonde afgegooi het en saam met Jesus uit die sondedood opgestaan het. Dit bring ʼn nuwe, maar wonderlike verantwoordelikheid vir al ons gelowiges. Ons kan en ons móét getuig, want ʼn stilte oor ons lewens pas nie by die leë graf nie. Net soos 'n jong saailing se kop deur die grond moet druk om die lig te aanskou, so kan ons ons kop omhoog hou want ons stap saam met die Lig.
Efesiërs 5:14 praat hieroor: ” Daarom sê Hy: Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn.” Kom ons maak dit ons missie om skaamteloos en aanhouded te getuig van die leë graf en ons nuwe lewe in Jesus.
LEES:
Mediteer
In watter areas van my lewe kan ek meer en dalk beter getuienis lewer?
Bid:
Vader, ons wil opstaan en sterk staan en vir U staan. Help ons en lei ons om in liefde te getuig, nie uit hoogmoed nie. Ons wil “arise”. Vir U koninkryk. Dankie vir alles wat U al vir ons gedoen het en nog gaan doen. Amen.
Spreek Lewe!
I have risen.
Aanbidding:
Arise – Guillaeme and Rene Worship

Dag 5: Wees aspris
Die woord, “aspris”, het gewoonlik ʼn negatiewe konnotasie. Iemand wat aspris is, doen sekere goed met ʼn spesifieke doel en intensie. Ons moet aspris getuienis lewer van ons nuwe lewe. Met ons wedergeboorte lewer ons vir die eerste keer getuienis en dan met die doop los ons die graf agter ons en word vervul met die Heilige Gees. Nou is ons op ʼn nuwe plek en ons leef intensioneel en effektief om God se werk voort te sit. Aspris. Intensioneel. Effektief.
Aspris Christene staan op vir dinge soos die waarheid. Aspris wees hoef nie konfronterend te wees nie, in hierdie verband is aspris Christene mense wat standvastig in hulle beginsels is en nie daarvan sal afwyk nie. Hulle liefde is ook aspris. Ons staan op vir wat reg is, of dit nou by die werk, by die huis of op die sportveld is.
Die waarheid dat ons deel was van die kruis en die graf is en dat die vyand nie vir Jesus kon oorwin nie, beteken dat ons deur Sy genade ook nie deur satan agter ʼn grafsteen gehou kan word nie.
Hier is ʼn pragtige vertaling van Matt. 5:14-16 uit “The Message”. Die oproep is duidelik. Ons moet ons lig laat skyn, waar ons ook al is. Arise. Shine.
LEES:
Mediteer
Skyn my lig elke dag so helder soos wat dit kan?
Bid:
Vader, ek is reg om my lig te laat skyn. Ek gaan vir seker nie onder ʼn emmer bly staan nie. Gee my die moed om van U goedheid te getuig. O Heilige Gees, gee my die regte woorde sodat ek ʼn verskil aan ander kan maak en hulle nie sal afstoot nie, maar nader aan U toe trek. Amen.
Spreek Lewe!
Ek is aspris lief vir mense.
Aanbidding:
Light of the World– Lauren Daigle