Go Deep 24 Maart 2024

SIMFONIE

Neville Goodchild

Beleef die krag van eenheid en ooreenkoms in jou belangrikste verhoudings!

 

Dag 1: JA en AMEN!

In hierdie kort reeks mediteer ons op die krag van eenheid. ‘n Huwelik is ‘n goeie beginpunt vir hierdie gesprek. God sê op verskeie plekke in die Woord dat eenheid (in ons huwelik, tussen gelowiges), geweldig belangrik is. Tog val ons dikwels vas op ‘n negatiewe of kritiese plek, en sukkel ons om iets te kry om oor saam te stem. Ons mis so maklik die krag wat daar is in eenheid vir verskeie redes. Is dit omdat ons nie kommunikeer nie, emosies het wat nie uitgesorteer word nie, of seergemaak voel? Is dit omdat ons ons harte verhard en net nie wíl saamstem nie?

Wanneer ons as twee saamstem, doen die Gees van die Here ‘n kragtige versoeningswerk. Daar waar daar twee “ja’s” is, oor die geringste ding; dit is waar God se seӫn en krag lê.

Hetsy dit in jou huwelik is, of in ‘n ander verhouding, wanneer jy sukkel met eenheid, soek na een ding waaroor julle kan ooreenkom. Hierdie same sein rondom ‘n eenvoudige ding, is ‘n kragtige vertrekpunt.

Dit geld nie net vir dié wat in die huwelik verbind is nie. Indien jy enkellopend is, is daar vir jou ook ‘n bevrydende en reddende gedagte.

“God and one man is the majority in every situation!” Rick Joyner

Selfs wanneer jy alleen is en alleen ‘n besluit moet neem, is God se Woord oor jou lewe “JA” (Ef.1:3-4)! God se gesindheid oor jou is “JA”.

“...Hy is die “ja” van God, die “ja” op al die beloftes van God. Daarom is dit ook deur Christus dat ons tot eer van God daarop “Amen” sê.” (2 Kor.1:19-20).

“...So sê die Amen, die geloofwaardige en ware getuie, Hy deur wie God alles geskep het:...” Op.3:14

Lees:

Ef.1:3-4

Mediteer:

  • Is daar enige plekke in my lewe (verhoudinge) waar daar onenigheid is?
  • Sukkel jy met eenheid in jou huwelik? Wat is een klein ding waaroor jy en jou eggenoot kan saamstem? Onthou, as jul hier kan begin en hieroor in gebed saamstem, is daar seӫn van die Here af. Die Gees van God sal julle vooruitgaan en daar sal nog aspekte wees waaroor jul kan begin saamstem. Begin by iets kleins.
  • Voel jy alleen? Onthou, Jesus is die Ja en die Amen op elkeen van God se beloftes oor jou lewe. Jy kan Hom vertrou! Jesus is die “Ja”! en die “Amen”!

Bid:

Jesus, U is ongelooflik. Dankie dat U die “Ja” is op elkeen van God se beloftes vir my lewe, en dat U ook die “Amen”, is die “Dit sal so wees”. Dankie vir hierdie bevestiging wat U vandag vir my gee, sodat ek nie hoef te twyfel en in ongemak hoef te leef nie, maar dat ek kan weet dat ek saam met U, kan begin stem. Dat U Woord waarby ek my skaar, die swaarste weeg in my lewe. Dankie dat U elkeen van my verhoudings seӫn, omdat my verhoudings vir U belangrik is. Ek bid vir eenheid in my verhoudings met my geliefdes en medegelowiges. In U Naam Jesus. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Waar daar eenheid is, rus God se seӫn! (Ps.133)

Aanbidding:

Yes and Amen – Pat Barrett

Dag 2: Drie Dubbeld

God het ‘n kragtige beginsel van seӫn daargestel. Waar mense dieselfde taal praat en saamstem oor wat hulle sê, is niks meer vir hulle onmoontlik nie. Ons sien dit eerstens in Genesis 11:6 waar die Here se: “Daar is hulle nou een volk en het almal een taal! En dit is net die begin van hulle onderneming: nou sal niks vir hulle meer onmoontlik wees van wat hulle van plan was om te doen nie”.

Waar twee of meer saamstem, ontvang ons God se seӫn. Hierdie is Sy beginsel. Waar ons harte ‘n ja en ‘n amen oor ons toekoms het, oor ons kinders, finansies en vennootskappe, dra ons inisiatief God se seӫn.

Dit is daarom van kardinale belang dat ons begin saamstem in ons huwelik. Wie van ons wil nie die Here se seӫn beleef nie? Die verbond wat God vir ons huwelik daargestel het, is die enigste verbond waar ons self besluit met wie ons trou, en God Homself dan daarna byvoeg. God vleg Homself soos ‘n drie dubbele tou as onlosmaaklik deel van ons huwelik. ‘n Drie dubbele tou breek nie maklik nie en God heilig hierdie huwelik wat ons kies (Pred.4:12).

Ons huwelik is ‘n voorbeeld van kerk. ‘n Man moet sy vrou liefhê soos Christus die kerk, en ‘n vrou moet haar man onderdanig wees soos sy die Here onderdanig is (Ef.5:21-25). Dit is God se wil. Om so te leef, uit eerbied vir Christus onderdanig aan mekaar, bring eenheid, gee eer aan God, eer in ons huwelik en ons beleef God se seӫn. Ons is nou saam in hierdie eenheid verbind, in ‘n heilige vennootskap waar ons saam seӫn ontvang en saam erf. Ons is nie meer alleen of individualisties nie. God seӫn ons saam.

1 Petrus 3:7 bevestig dat ons guns by die Here kry wanneer ons in eenheid is in ons huwelik. Hierdie beginsel is ‘n Goddelike beginsel.

Lees:

Heb.10:23

Mat.18:18

1 Pet.3:7

1 Joh.4:18

Mediteer:

  • God het Homself in my huwelik ingevleg toe ons twee mense was wat saamgestem het. Hoe kan ek weer ‘n “Ja” in my huwelik bring, as God se “Ja” reeds daar is?  
  • God eer my keuse in die verbond met my man/vrou. Wat God eer, mag geen mens verander nie. As ons dieselfde taal praat, en saamstem oor God se wil vir ons, is niks meer onmoontlik nie. Die twee “ja’s” is nou ook gebind in die hemel (volgens Mat.18:18).
  • Wonde opgedoen (soos in ‘n egskeiding) kan nie my waarde voor God of in mense se oӫ verminder nie. Ons dien ‘n God van genade, ‘n geneesheer wat kragtig wonde verbind en genees. Herstel en heling is beskikbaar vir die wat Hom soek. Jesus het 2000 jaar gelede alreeds vir my sonde gesterf en Hy hou dit nie teen my nie. Ek is vir Hom kosbaar.
  • Met watter ingesteldheid het ek nodig om te leef (volgens 1 Pet.3:7), sodat my gebede nie verhinder word nie?
  • Hoe is huwelik ‘n profesie van Jesus Christus wat weer terugkom om ons te kom haal?

Bid:

Vader, dankie dat U my huwelik seӫn, asook my kinders, finansies, gesondheid en ander verhoudinge. Dankie dat U my leer, dat ek my “Ja” by U “JA” kan byvoeg, omdat elke belofte wat U woord inhou, vir my beskore is. U het my lief. Help my asseblief om die “ja” te identifiseer sodat ek in eenheid kan kom met U en my eggenoot. Kom raak my gedagtes aan deur U Gees, sodat ek my verhoudinge sal begin sien soos wat U dit sien, en eer soos wat U dit eer. In Jesus se Naam. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Daar waar ons begin saamstem oor God se wil vir ons, is niks meer onmoontlik nie!

Aanbidding:

Because of Jesus – Charity Gayle

Dag 3: Maak jou vas

Let us hold fast the confession of our hope without wavering, for He who promised is faithful (Heb.10:23)

Hierdie term “hold fast”, is ‘n term wat uit skeepvaart kom. Wanneer jy op die dek van die skip staan en besig raak, kan jy maklik oorboord val as jou voete nie stewig staan nie, en veral as jy naby die kante beweeg. Die kaptein van die skip wat aan stuur is, sal vir sy manskappe skreeu: “hold fast!”, en hulle reageer hierop deur seker te maak dat hulle ‘n stewige staanplek het of vasgemaak is, en hulle skreeu terug “stay true!”. Die kaptein moet die koers volgens die kompas reg hou sodat hulle nie van koers af gaan nie. Al wat hulle moet doen is om vas te hou, seker te maak dat hulle ‘n stewige staanplek het en hulle sal die regte bestemming bereik. Aan die kante van die skip kan jy maklik afval. Dit is veiliger om na die middel toe te beweeg. Indien jy wel aan die kante moet werk, is daar ‘n tou waarmee jy jouself aan die skip kan vasmaak.

God is die stuurman van ons lewe. Hy hou die koers en ons het nodig om vas te hou aan Sy waarhede. Ons het nie nodig om hierdie waarhede ingewikkeld te maak deur op die kantlyne te staan nie. Reg in die middel is die veiligste plek. Dit is belangrik dat ons kyk na die plek waar ons staan.

Kyk af na jou voete en dink oor jou keuses en optrede. Hoe lyk jou deelname? Voed jy jou gees met die regte dinge? Neem jy deel aan gebed en aanbidding (worship)? Spandeer jy tyd in die Woord of soek jy eerder op die kantlyne?  

Kyk na jou voete, hou vas! Die Kaptein sal sorg vir dat jy die regte bestemming bereik!

Lees:

Heb.10:23

Ps.40:3-6

Mediteer:

  • Hoe maak jy jouself vas, sodat jy stewige staanplek het in die lewe?
  • Waaraan maak jy jouself vas?
  • Wat doen jy om seker te maak dat jy die Kaptein hoor en volg?

Bid:

Vader U is die Kaptein van my lewe en ek is op ‘n wonderlike reis saam met U. Dankie dat U my by die regte bestemming uitbring, en dat ek die reis kan geniet saam met U. U waarhede en U liefde, U Woord, is die lig op my pad en U is my vaste fondasie. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek kies om op ‘n veilige en stewige plek te staan, sodat my voete vastrapplek het!

Aanbidding:

Dieper – Midpoint Worship

Dag 4: ‘n Missie met ‘n Visie

God het vir ons die ewige lewe in stoor. Hy gee vir ons ‘n visie van eendag. Jesus gaan ons kom haal en ons saam met Hom in die ewige lewe inneem! ‘n Huwelik is ‘n verteenwoordiging hiervan. Tradisioneel het die bruidegom sy bruid uit haar woning gaan haal en haar saam met hom geneem na hul nuwe woning, saam. Elke keer wat ons in eenheid in ons huwelik kom, verteenwoordig ons Jesus Christus wat ons kom haal.

God het ‘n aftrede plan vir ons, en omdat ons huwelik ‘n voorbeeld is van kerk en kerk ‘n voorbeeld van huwelik, het ons ook ‘n aftrede plan nodig vir ons huwelik. Dieselfde beginsels vir ‘n ouderling en diaken in die kerk geld vir ‘n man en ‘n vrou in ‘n huwelik (Ef.5; 1Pet.3).

“Where there is no vision, the people perish” Prov. 29:18

...“Where there is no vision, the marriage perish”...

Waar mense jou huwelik sien, verkondig jy “Look at us, He who promised is faithful!” (Heb.10:23). Het jou huwelik ‘n visie? Is daar nog ‘n “Ja”?

“Dit verseker Ek julle: Wat julle ook al op aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat julle ook al op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly. Verder verseker Ek julle: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry, want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by julle” (Mat.18:18-20).

As ons in ons huwelik saamstem, is Hy daar!; As ons kinders bykom is Hy daar!

Lees:

Mat.18:18-20

Prov.29:18

Heb.10:23

Ef.5:22-33

1 Pet.3:1-7

Mediteer:

  • Is daar ‘n eindbestemming prentjie vir my lewe wat my opgewonde maak? Is daar ‘n missie waaraan ek kan deelneem, want daar is ‘n visie wat ek kan volg?
  • Is daar ‘n eindbestemming prentjie vir my huwelik? Is daar ‘n missie waaraan ek kan deelneem, want daar is ‘n visie vir my huwelik?
  • Wanneer instrumente in ‘n orkes ingestem word, word hulle gewoonlik volgens een instrument se middel C ingestem. Met verloop van tyd kan die instrumente ontstem word en dit is daarom belangrik om elke keer die instrumente in te stem. Soos instrumente ingestem word om die regte klank te maak, so moet ons ook seker maak dat ons ingestem is by ons eggenote. Die lewe bring ontwrigting en ons het van tyd tot tyd nodig om ‘n “ja” te kry. Twee “Ja’s”, het die potensiaal om ‘n simfonie te maak.

Bid:

Vader dankie dat U my leer dat my huwelik Jesus se wederkoms en U getrouheid profiteer. Gee ons as egpaar en gesin asseblief ‘n visie vir die toekoms sodat ons ‘n missie het vir hierdie lewe. Dankie dat U my opgewonde maak oor die lewe hierna en dat ek kan weet dat hierdie lewe wat U vir my gegee het kort is en ek die beste daarvan kan maak. U gee ‘n absolute “Ja” vir my lewe en ek skaar myself by U wil en U Woord. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

God het vir my ‘n visie en ek leef ‘n lewe in oorvloed met doel!

Aanbidding:

Bride of Christ – Worship Mob

Dag 5: Sumphoneo

Ons as gelowiges is in ‘n simfonie met God wanneer ons saamstem met dit wat Hy spreek. Daar is ‘n harmonie en eenheid.

Sumphoneo (Greek): sum – together; phoneo – voice/say. Dit is om saam met God te stem en om te sê wat Hy sê. Ook in ons huwelik en in ons kerk, om saam met medegelowiges te stem oor God se wil en plan.

Ons het wel dikwels in ‘n seisoen ‘n vraag oor hoe ons die pad saam met ongelowige familie en vriende moet stap. God het ons nie gemaak om saam met ongelowiges aan dieselfde juk te trek nie. Geregtigheid kan nie buig na ongeregtigheid om plek te maak nie. Waarheen sal geregtigheid dan buig? ‘n Gelowige kan nie saamstem met ‘n ongelowige nie. Wie sal skuif? Wie sal hulle belyn? Maar indien ‘n ongelowige die knie buig en opgetrek word na die gelowige, dan is daar genade vir die ongelowige (2 Kor.6:14).

Lig kan nie sy knie buig vir die duisternis nie. Tot waar moet lig se oortuigings geskuif word om in lyn te kom met duisternis. Daar is wel ‘n nuwe realiteit wat aanbreek wanneer duisternis begin saamstem met lig. Dan buig duisternis die knie en word belyn met die lig.

God het ons ook nie gemaak om alleen te wees of alleen aan ‘n juk te trek nie (Pred.4:7). Hy het ons gemaak vir verhouding, vir eenheid met Hom en eenheid met ander gelowiges. Daar is vrug en beloning wanneer twee saamstap.

Moet nie jou “ja” aanpas om in lyn te kom met onwaarheid en ongeregtigheid nie. Moet nie in ‘n vennootskap betrokke raak waar jy moet buig om aan te pas by duisternis of ongeregtigheid nie. Maar as jy gelowig is en jou eggenoot is nie, en daar is ‘n ooreenkoms dat julle in vrede sal saamleef, is die skrif baie duidelik dat jy jou eggenoot nie moet verstoot nie, want jou liefde, regverdigheid, jou genade en lankmoedigheid kan sy/haar siel red vir die Koninkryk van lig! Daar is krag in saamstem en ‘n moontlikheid van simfonie wat losbreek in julle lewe!

Therefore if there is any encouragement and comfort in Christ [as there certainly is in abundance], if there is any consolation of love, if there is any fellowship [that we share] in the Spirit, if [there is] and [great depth of] affection and compassion, make my joy complete by being of the same mind, having the same love [toward one another], knit together in spirit, intent on one purpose [and living a life that reflects your faith and spreads the gospel – the good news regarding salvation through faith in Christ]. Do nothing from selfishness or empty conceit [through factional motives, or strife], but with [an attitude of] humility [being neither arrogant nor self-righteous], regard others as more important than yourselves. Do not merely look out for your own personal interests, but also for the interest of others (Phil.2:1-4).  

Lees:

Pred.4:7-9;12

Amos 3:3

2 Kor.6:14

Mat.12:25

Phil.2:1-4

Mediteer:

  • Jesus spreek mense se gedagtes aan waar daar dubbelsinnigheid is deur te waarsku dat ‘n koninkryk/stad/huis wat in homself verdeeld is nie staande kan bly nie (Mat.12:25). Soek ‘n “ja” in jou huwelik en vennootskappe.
  • Volgens Amos 3:3 kan twee mense nie saam met mekaar wandel tensy hulle albei ‘n “ja” gegee het daarvoor nie. Mense beland nie sommer net op ‘n pad saam nie. Jou huwelik het begin met twee “ja’s”. Om saam te wandel beteken dat ons saamstem oor iets. Daarom is daar Goddelike potensiaal. Waaroor stem julle saam?
  • Vergeefse moeite volgens Pred.3:7, is wanneer daar net een is wat aan ‘n juk trek. Daar is niemand om saam te stem nie, niemand om saam te glo nie, hy werk homself moeg, daar is net een “ja”, maar geen vervulling in die lewe nie. Ons is nie gemaak om alleen aan ‘n juk te trek nie.

Bid:

Vader dankie dat U Uself in my verhoudinge met medegelowiges bind, en dat U wil eenheid en ooreenstemming is. Vader ek bid dat my verhoudinge soos ‘n simfonie sal wees op U maat en klank en dat my lewe ‘n getuienis sal wees van Jesus Christus. Help my asseblief om nie te buig volgens ongeloof en onwaarheid nie, maar volgens U geregtigheid en waarheid in liefde. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

My lewe is belyn met God se lig en waarheid en ander kan daarom ook ingestel word om deel te word van hierdie simfonie!

Aanbidding:

For the One – Brian & Jenn Johnson