![]()
FINDING PURPOSE
Neville Goodchild
Nagmaal - vir almal - 'n onmoeting met Jesus
Dag 1: Nagmaal is vir almal
In ons kerk; ʼn babadogtertjie loop vreesloos met haar dummy in die mond met haar ma agterna in die gang tussen die mense wat afwagtend vir die lering wag. Haar treë is stamperig, want die bene is nog nie heeltemal ontwikkel om die aarde aan te vat nie.
Dis ʼn groot wit tent waarin hulle sit, tydelik opgestel terwyl verbeteringe aan die “regte” tent aangebring word. Oorkant sit ʼn oom in ʼn netjiese blou blokkieshemp langs ʼn jong man met meer tattoeërmerke op sy arms as die graanvlokkies in jou bord op ʼn Maandagoggend voor werk. ʼn Ma luister met haar een oor digby ʼn kleuter se mond en knik soos wat hy iets vir haar verduidelik of vra. Twee oudgetroudes hou mekaar se hande vas en glimlag terwyl hul oë boodskappe vir mekaar stuur in hul eie liefdestaal.
Dis kerk.
Ons hou Nagmaal. Almal is welkom, niemand word uitgesluit nie.
Die brood is ʼn uitnodiging na die tafel. Jesus se uitnodigning. Kom sit aan saam met My. Ek sal voorsien in jou aardse behoeftes, Ek sal jou versorg en Ek sal jou help om te versoen met die mense waarmee jy op hierdie stadium sukkel.
Die wyn, Sy bloed, is die teken dat ons plek in die ewigheid geboek is. Skoon gewas, sonder sonde. Rein.
Mense, gewone mense, staan en bid in groepe saam terwyl hul ʼn ongewone God loof en prys vir Sy genade. Hul breek brood vir mekaar, hul bid vir mekaar en hulle deel hul liefde vir mekaar in Sy teenwoordigheid.
Hulle sing. “This is our God, this is who He is, He loves us ...”
In hierdie tent waarin sommige van die sye oopgehou is sodat die wind kan help verkoel, staan mense van alle ouderdomme en agtergronde en prys die Here vir Sy liefde, Sy genade en Sy omgee. Dit maak nie saak wie jy is nie, dit maak nie saak wie jy ken nie, dit maak net saak dat Jesus jou God is en dat almal van ons genooi is om aan Sy tafel te sit. Ons vorige sondes maak nie saak nie, ons verlede maak nie saak nie, Jesus gee net om vir ons, nie ons verlede nie.
Nagmaal is die begin van ons geestelike reis. Dis hier waar ons ʼn kans kry om in gesprek met ons Vader te tree. Jesus soek ons by die tafel. Kom. Sit aan.
LEES:
Mediteer:
- Wat is jou houding oor die Nagmaal, tradisie of “meeting place?”
Bid:
Jesus, hoe kan ek ooit my opregte dankbaarheid vir U offer aan die kruis betoon? Ek sak op my knieë om U te aanbid in absolute verwondering. Dankie, Jesus.
Spreek Lewe!
Jesus gee nie om oor my verlede nie, Hy het my toekoms in gedagte.
Aanbidding:
The blood of Jesus speaks for me – Travis Cottrell
Dag 2: God weet hoe om met ons te werk
2 Pet. 1:10: “Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie.”
In Grieks beteken die woord “beywer” om moeite te doen, hard te werk. Hier word ons dus opgeroep om moeite te doen om die roeping wat God vir ons lewens het op te neem, verstaan en uit te voer. Ons roeping het betrekking tot wat God te sê het oor ons lewens. Die wonderlike aspek hiervan is dat God ons ken, Hy weet hoe om met ons te werk, Hy weet presies wanneer Hy die gewaarwording moet skep van wat ons roeping werklik is.
Ons roeping het nie net te doen met ons beroepskeuses nie, dit geld ook vir ons verhoudings, ons kinders se grootmaak, hoe ons aan sport deelneem, elke aspek van ons lewe. Dit waarmee ons onsself vandag besig hou het ewigheidswaarde; dit het ʼn rimpeleffek vir altyd. Moet dit nooit onderskat nie.
Om te weet wat jou roeping is, moet jy met die Roeper in kontak wees. God se troonkamer is oop vir ons, daar is plek by Hom aan Sy tafel, Hy wag vir ons. Maak kontak vandag nog. Gereelde kontak met Vader God verseker dat ons nie struikel nie.
LEES:
Mediteer:
- Is jy bereid om dit wat jy najaag te meet aan die vrugte wat dit oplewer?
Bid:
Vader, dankie dat U my uitverkies het en dat U genoeg potensiaal in my sien dat U my roep om in U koninkryk te werk. Help my sodat ek in my roepingsbaan sal bly en nie struikel nie. Amen.
Spreek Lewe!
God ken ons intiem, Hy weet hoe om met ons te werk. Ons kan net antwoord op sy roepstem.
Aanbidding:
I speak Jesus – Integrity Music

Dag 3: Geroep en Uitverkies
Lees weer 2 Pet. 1:10, hierdie keer in Engels. Die Roeper het ons geroep èn uitverkies. Beide hierdie terme is vervleg in ons lewensdoel en ons redding wat klaar beskik is die dag toe ons God as ons Redder aangeneem het.
Wat bedoel Petrus dan wanneer hy sê dat ons seker moet maak van ons verkiesing en roeping? Ons is dan klaar gered?
Petrus motiveer ons om moeite te doen om God se onbreekbare reddingsbeloftes in ons harte vas te lê. Hy wil hê dat die manier hoe ons ons redding verstaan moet baseer op die onveranderende waarheid van God se Woord. Wanneer ons geanker is in ʼn verhouding met die Roeper, sal ons nie begin twyfel oor ons redding of oor God se Woord nie. Ons roeping en ons uitverkiesing is integraal deel van ons redding en ons bevestig dit in ons lewens deur meer en meer soos Christus te wees, deur Hom meer en meer te vertrou vir Sy genade en in alle dinge.
Ons is gered deur geloof. Kom ons bevestig ons roeping en uitverkiesing deur in waarheid te leef en die onveranderbare Woord van God te vertrou sodat die vrugte van ons doen en late tot Sy eer is. Hoe beter ons die Woord ken, hoe meer sal ons dit vertrou. Die Roeper wag vir ons om meer en meer kontak te maak.
LEES:
Mediteer:
Jesus het die werk klaar gedoen op die kruis om ons te red. Twyfel jy soms hieroor? Wat kan jy daaraan doen?
Bid:
Hemelse Vader, dankie dat ek niks uit my eie kan doen om gered te word behalwe om te glo dat U vir ons sondes gesterf het. Dankie dat nou dat ek gered is, niks my uit U hand kan ruk nie. Help my om ʼn lewe te lei wat spreek van my redding, tot U eer. Dankie dat my roeping en uitverkiesing die grootste realiteit in my lewe is. In Jesus naam, Amen.
Spreek Lewe!
Ons plek is klaar gereed gemaak deur Vader God, kom ons loof Hom.
Aanbidding:
Song of My Salvation – Canyon Hills Worship

Dag 4: Bereik Groot Hoogtes Vanuit God se Liefde
Rom. 5:1 (Amplified):” Therefore, since we have been justified [that is, acquitted of sin, declared blameless before God] by faith, [let us grasp the fact that] we have peace with God [and the joy of reconciliation with Him] through our Lord Jesus Christ (the Messiah, the Anointed).
Bostaande vers het groot impak. Ons is vrygemaak en ons is in vrede met God. As ons verder lees in Romeine 5:5-6:” en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is. Want toe ons nog swak was, het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterwe.”
Dit is volbring. Hy het gesterf vir ons, ons is vrygemaak en ons is in vrede met God. Sy liefde is in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees.
Wat maak ons nou met hierdie wete en hoe pas dit in by ons roeping?
Ons is toegerus om Sy wil te doen (Heb.13:21-22). In Rom. 12 lees ons dat ons almal verskillende gawes ontvang het. God verwag van ons om daarmee te woeker. Die Woord sê uitdruklik dat ons moeite moet doen met ons gawes. God is nie hard op ons nie, maar Hy het ʼn verwagting dat ons Sy koninkryk uitbou. Ons talente en gawes is God se belegging in ons. Hoe ons daarmee woeker, is getuienis van ons geloof.
LEES:
Mediteer:
- Watter gawes het jy wat jy in Sy Koninkryk gebruik?
- Is daar talente wat jy nog ʼn bietjie wegsteek uit vrees?
Bid:
Vader, ons is U ewig dankbaar dat U U liefde in ons harte gestort het, sodat ons selfs al hier op aarde meer en meer soos Christus kan optree. Help ons om ons gawes maksimaal tot U eer aan te wend. In Jesus naam, Amen
Spreek Lewe!
God se liefde is ook in my hart, ek kan elke dag daarvan tap.
Aanbidding:
Unending love – Hillsong

Dag 5: God is nie ʼn stil God nie
2 Kor. 5:16-17 “Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie. Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.”
In die New Living Translation (NLT) staan daar dat ons nie mense meer evalueer vanuit ʼn menslike oogpunt nie, enigiemand wat aan Christus behoort is ʼn nuwe mens. Dit beteken ook dat ons gebrokenheid nie meer bestaan nie.
Die hoogtes wat ons bereik op ons roepingspad hang van die Here af. God wag vir ons op die hoër hoogtes. As ons met die Roeper tyd spandeer, sal ons die antwoorde kry op die vrae wat ons dalk nog mag hê oor ons roeping. God swyg nie, Hy bestaan nie in stilte nie. Hy sal ook nie swyg oor jou toekoms nie. Hy wag vir die geleentheid om sy opinie te lewer oor jou en jou kinders se lewensrigting. Maak tyd om die Roeper se stem te hoor.
LEES:
Mediteer:
- Praat jy met jou kinders oor hul roeping?
- Vertel jy vir ander wat jou roeping is?
Bid:
Vader, U het ons gered en ons opgeroep om heilig te lewe, om hoër hoogtes te bereik in U naam. Ons wil U loof en prys en U naam eer op elke terrein van ons lewens. Amen.
Spreek Lewe!
Ek is gered, niks kan my stop nie.
Aanbidding:
Psalm 23 – Phil Wickham