Go Deep 3 Maart 2024

FINDING PURPOSE!

Neville Goodchild

Hoe verstaan en vervul ek Sy wil vir my lewe?

 

Dag 1: Die Tafel

Wat hinder jou om by God se tafel aan te sit? Watter inhibisie of tekortkoming het jy wat maak dat jy nie met vrymoedigheid kan deelneem aan die tafel wat vir jou voorberei is nie?

In die Woord lees ons van God se ingesteldheid teenoor ons. Wanneer ons wedergebore is, dan kan ons by Sy tafel aansit en ‘n feesmaal geniet. Wedergeboorte gebeur wanneer ons ja sê vir Jesus se roepstem en Hom deur die doopwater volg. Ons word gevul met God se Heilige Gees en ‘n nuwe lewe begin. Die ou lewe is verby.

Dit beteken nie dat ons nie meer menslik is of soms foute maak nie, maar ons het nie nodig om skuldgevoelens te koester oor ons onvermoëns nie. Dit is juis deur die afgehandelde werk van Jesus Christus wat ons met vrymoedigheid by die tafel kan aansit en van die Brood van die ewige lewe kan ontvang.

Jesus sê: “Neem, eet; dit is my liggaam” (Mat.26:26). “Drink almal daaruit, want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes” (Mat.26:28). “My liggaam is die ware voedsel, en my bloed is die ware drank” (Joh.6:55). Jesus het vir elke mens gesterf. Elke mens het hierdie uitnodiging, om vergifnis van sondes te ontvang en ‘n oop uitnodiging na ‘n lewe saam met Christus.

Ons bely daarom die waarheid van wat Jesus Christus aan die kruis vir ons kom doen het. Deur Sy afgehandelde werk is ons nou skuld vry. Dit is nie iets wat ons poog of ná streef om te bereik nie. Ons is reeds vrygekoop deur Sy kosbare bloed, reeds ingesluit in die feesmaal op grond van Sy werk. Nou kan ons by die tafel aansit en deel hê aan die brood en die wyn, want ons is gekwalifiseer, nie op grond van ons eie werke nie, maar op grond van die geregtigheid van Jesus Christus, waarin ons deel het. Ons kan op grond van Sý getrouheid en Sý bloed wat gegiet is, hierdie brood en wyn gebruik vir herstel van ons verhouding met Vader, ons verhoudinge met mekaar, ons gesondheid, en ons voorsiening.

Lees:

Op.3:20

Ps.23:5

Rom.5:11

Luk.14:15-24

Mediteer:

  • Wat weerhou jou van die Here? Gebruik nagmaal en vra die Here vir herstel.
  • Is daar ‘n leuen of ‘n aanklagte wat jou vrymoedigheid steel? Waar kom hierdie vandaan? Gee dit vir die Here.
  • As daar enige iets uit plek is in jou lewe, gebruik nagmaal en vertrou die Here vir Sy afgehandelde werk.

Bid:

Vader, dankie dat ek met vrymoedigheid kan deel hê aan die tafel wat U vir my voorberei het. Ek vat dit wat U sê as waarheid. Dat Jesus vir my sonde gesterf het en verklaar het dat ek nou vry is deur Sy offer. Dankie dat ek net kan aansit en dat ek dit nie hoef te verdien nie. Dankie vir U getrouheid en U liefde en genade wat my tot by hierdie tafel gebring het. Ek gee vandag al die skuldgevoel, aanklagtes en onvrymoedigheid vir U en ek neem U woorde, U waarheid aan as die waarheid vir my. Dankie Here. Ek loof U Naam! Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Deur die afgehandelde werk van Christus deel ek in versoening met Vader God, met my medemense, in voorsiening van Hom af en in genesing in Hom. Hy is my krag en my sterkte!

Aanbidding:

The Table – Chris Tomlin

Dag 2: Op pad

Ons visie is “Passionate People Finding Purpose in His Presence”. Die afgelope paar weke fokus ons op die “Finding Purpose” gedeelte. Dit het ons laat dink oor die plek waar ons onsself tans bevind en wat God se wil vir ons lewens is. Dikwels sukkel ons om te verstaan waar ons betrokke moet wees, waar om te begin en hoe om in aksie oor te gaan.

Wanneer jy stories hoor van die groot dinge wat die Here doen in ander se lewens, en jy onseker oor jou huidige situasie is, is dit nie noodwendig so maklik om te weet watter rigting om in te slaan en waar om veranderinge aan te bring nie. Ons maak ‘n fout om ons stories te wil vergelyk. Die vyand gebruik dit ook as ‘n manier om ons te diskwalifiseer. Byvoorbeeld, wanneer iemand vertel van die duidelike stem waarmee God gepraat en hul geroep het, teenoor jou ervaring om nie ‘n duidelike stem te hoor nie, maar te reageer op ‘n uitnodiging tydens ‘n erediens. Ons moet versigtig wees om daardie een ervaring van ‘n persoon te probeer veralgemeen en te dink dat ons dieselfde ervaring moet hê soos ‘n Samuel as jong kind. Jou storie is uniek en hoe jou storielyn inmekaar geweef is, is baie spesiaal. Jy besef dit dalk net nog nie. Miskien is jou storie vol seer en jy sukkel om sin te maak van dit alles. Gee kans, die Here gaan in tyd vir jou die meesterstuk openbaar waarvan ons op aarde maar ‘n klein deeltjie ontdek.

Die grootste verandering het gebeur die dag toe jy “Ja” gesê het om jou lewe vir die Here te gee. Van daardie dag af het alles begin verander. Hierdie verandering kan beduidend oor ‘n tydperk gemeet word en ons moet nie in die oomblik vaskyk nie. Van daardie dag af is die Here besig met jou om jou bewus te maak van sekere dinge. Jy leer waarheid en wonder sekere dinge. Hierdie bewuswording en prikkeling is die Here wat besig is met jou en jy moet dit nie gering ag nie. Ondersoek dit. Spandeer tyd hierin en tyd in die Woord om te wete te kom wat die wil van die Here is. Die Here is besig om jou aandag en hart te vestig op die areas en dinge volgens jou ‘design’ en ‘purpose’. Jy het nie nodig om op ander plekke te gaan soek na dinge wat buite die reis is waarmee die Here met jou besig is nie. Maak die meeste van dit wat die Here vandag vir jou gee en waarin Hy ‘n pad met jou stap.

Die pad is dikwels eenvoudig en ons wil dit oor kompliseer omdat ons nie verstaan nie, nie weet nie, onseker is, en nie God se wil soek in ‘n saak nie. Vandag is deel van jou reis. Dit is nie jou eindbestemming nie. Raak betrokke in die plekke wat die Here al lank met jou mee besig is, en gee kans vir groei en ontwikkeling, sodat die Here jou kan gebruik in die areas wat volgens Sy wil bepaal is. Dan kan jy groter impak begin maak op die plekke wat Hy bestem. Hierdie is nie ‘n eindbestemming nie, maar ‘n reis!

 Lees:

1 Kor. 7:20

Jes.30:21

Mediteer:

  • Hoe lyk jou huidige situasie? Kan jy God se Hand in jou pad sien tot waar jy nou is?
  • Skryf neer wat die vrae en gedagtes is waarmee die Here met jou besig is.
  • Wat is die impak wat jy maak?
  • Watter impak maak die Here deur jou?

Bid:

Vader dankie dat U my nadergetrek het aan U bors, en dat ek kan weet dat U vir my ‘n doel het in hierdie lewe. Dankie dat ek die pad waarop ek nou is kan stap met die vertroue dat U my sal help om op die regte pad te bly en om die regte koers in te slaan wanneer dit moet verander. Ek vra dat U my asseblief mooi sal wys watter veranderinge nodig is, en ook waar ek moet volhard op die pad. Vader, maak my oë en gedagtes oop vir die dinge waarmee U besig is, sodat ek op hierdie reis kan aansluit by dit wat U doen. Dankie dat U my nooit in die steek sal laat nie, want U is ‘n goeie Pa. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Die Here wil met my praat, en wil Sy wil aan my bekend maak. Ek maak tyd om te wete te kom wat die wil van die Here is!

Aanbidding:

Whatever Your Plan is – Josie Buchanan

Dag 3: Diensbaarheid

‘n Fundamentele groot deel van roeping uitleef is deur middel van diensbaarheid. Leierskap gaan nie oor ‘n platform waarop jy opgelig word nie, maar oor diensbaarheid teenoor jou medemens. Jesus het self vir ons die voorbeeld gestel: “As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was” (Joh.13:14).

Om diensbaar te wees is deel van die reis. Dit is nie die eindbestemming nie, maar ‘n belangrike deel van karaktervorming. Alle bediening vloei uit diensbaarheid. Roeping en bedienings-werk is dieselfde. Wanneer jy jou rol en funksie deur middel van dienswerk in die samelewing uitleef, begin jy jou doel al hoe meer uitleef en beleef jy vervulling.

Ons “destiny” is in Christus. Wanneer ons volhard in geloof, deur in gehoorsaamheid mekaar te dien, word ons volmaak voorgestel in Jesus Christus. Ons is nie volmaak op grond van ons foutloosheid nie, maar volmaak op grond van die geregtigheid wat ons het in Jesus Christus. Om Sy geregtigheid te wees beteken dat ons in die regte stand voor God staan (in right standing with Him). Ons is skuld vry met ‘n skoon gewete op grond van dit wat Jesus Christus reggekry het. Dit is wie ons is, dit is ons identiteit, dit is ons roeping! Jesus se droom is dat ons in Sy volle heerlikheid sal leef.

Lees:

Rom.12:1-2

Rom.1:17

Rom.3:22

Mediteer:

  • Dienswerk lei tot bediening. Is jy iewers betrokke en diensbaar?
  • Watter dienswerk doen jy? In watter area kan jy diensbaar word?
  • Therefore, [continue to] accept and welcome one another, just as Christ has accepted and welcomed us to the glory of [our great] God. (Rom.15:7)
  • Through Him we also have access by faith into this [remarkable state of] grace in which we [firmly and safely and securely] stand. Let us rejoice in our hope and the confident assurance of [experiencing and enjoying] the glory of [our great] God [the manifestation of His excellence and power] (Rom.5:2).

Bid:

Jesus U het die perfekte voorbeeld van diensbare Leier vir my kom wys. Help my om diensbaar te wees vir U en almal om my soos wat U diensbaar is. Dankie dat ek kan weet dat ek U geregtigheid is en met ‘n skoon gewete voor Vader kan staan. Wys my asseblief die plekke waar ek betrokke kan wees om U te behaag, want alles wat ek doen wil ek vir U eer doen. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

The Glory of God is man fully alive! This is my destiny!

Aanbidding:

The Servant King

Dag 4: Doelgerig

Van die oomblik af wat ek Jesus Christus ontvang het, leer ek en ontdek ek myself in Hom. Dit is hoe ek in die wil van God begin leef, ‘n lewe in vervulling en in die roeping en doel wat God vir my lewe bedoel het.

“EK vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer — dit is julle redelike godsdiens” (Rom.12:1).

My liggaam is my lewe. Dit is om my lewe hier op aarde in oorgawe te leef en om die seisoen wat Hy vir my gee nie te mis nie, maar as ‘n lewende offer vir Hom te leef. Dit is om myself bereidwillig te verklaar, sodat Hy deur my kan werk en ek elke geleentheid gryp wat Hy vir my gee. Elke dag is so ‘n geleentheid. Ek is so ‘n geleentheid oral waar ek gaan. My bestaan is die Koninkryk se geleentheid!

“En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is” (Rom.12:2).

Dit is om toe te laat dat God se Gees my gedagtes kom vernuwe, sodat ek nie saam met die wêreld meegesleur word nie. Sodat ek konstant volgens Sy wil leef. Dit is wat vervulling in die Here bring, wat verhoudings herstel en my lewe effektief begin maak. Dan begin my lewe bewys wat God se perfekte wil is.

“For Christians, the most foundational part of our vocation is to follow Christ and base our lives on His teaching. We are to be the presence of Christ in the world! This is our primary calling. Your second calling, then, is personalised, describing what a life based on Christ looks like for you - depending on your personality, strengths, interests, opportunities, the current time and place you live in, the context of your family, relationships, community, society, and of course your work.  You are blessed when you stay on course, walking steadily on the road revealed by God. You're blessed when you follow his directions, doing your best to find him” (Dr Stephanie Shackleford).

Lees:

Rom.12:1-2

Mediteer:

  • Hoe is my lewe ‘n geleentheid vir die Here?
  • Hoe is ek effektief om God se wil vir my lewe uit te leef?
  • Jesus se voorbeeld van geloof en vashou aan die beloftes van God: But he did not doubt or waver in unbelief concerning the promise of God, but he grew strong and empowered by faith, giving glory to God (Rom.4:20). Waaroor praat die Here met jou vir jou lewe?

Bid:

Dankie Vader dat U my geseën het met spesifieke kapasiteite om ‘n bydrae te kan lewer in U Koninkryk. Dankie dat U my wil gebruik. Help my asseblief om doelgerig te lewe en U die heeltyd voor oë te hou. Kom vernuwe my denke en help my asseblief om U wil te soek in elke opsig. In Jesus se Naam. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

God se wil in my lewe is welgevallig, spesifiek vir my vir nou. My lewe is ‘n geleentheid vir die Koninkryk van God!

Aanbidding:

Because of Jesus – Charity Gayle

Dag 5: Go For It!

“You’re blessed when you stay on course,

walking steadily on the road revealed by God.

You’re blessed when you follow His directions,

doing your best to find Him” (Ps.119:1-2 MSG)

“Nou dat jy weet dat daar 'n roeping op jou lewe is, en dat jou roeping nie 'n geheim is nie, maar 'n dieper insig is in God se wil vir jou lewe, is jy gereed om vorentoe te beweeg! Miskien ontdek jy nog God se unieke plan. Miskien is jy besig om jou indrukke van Sy wil en jou ontwerp bymekaar uit te bring om jou lewe aan te wend vir maksimum impak! Waar jy ook al is in hierdie proses, die belangrikste is om vorentoe te beweeg en tot aksie te kom met wat jy beleef Hy vir jou sê (of openbaar oor jou roeping).

VRA Hom om jou te lei in Sy roeping/plan/wil vir jou lewe. Doen dit daagliks! Vra mense om jou wat hulle beleef en verstaan, en kry dieper insig!

LUISTER vir Sy leiding. Berei jouself voor om Sy stem te hoor. Maak seker jy's gereeld op 'n plek waar jy kan hoor: soms in stilte, of in aanbidding, maar maak seker jy luister.

DOEN wat jy ervaar jy moet doen! Jou roeping kan slegs vervul en uitgeleef word as jy jouself gaan toewy aan gehoorsaamheid! God is gereeld besig om ons aandag te kry deur ons harte, ons gedagte, en deur mense om ons. Ons verantwoordelikheid is om te reageer! Meer as alles, luister na en vertrou die Heilige Gees in jou! As jy oorgegee is aan God se wil, sal jy weet wat om te doen!

As jy twyfel, gaan terug na STAP 1 toe: VRA Hom, Hy ís getrou en sál jou antwoord! Al weet jy nog nie presies hoé om God se roeping op jou lewe te definieer, of presies wat Sy wil is, of hoe jou roeping eendag 'n verskil gaan maak nie - moenie dat dit jou weerhou daarvan om vandag te begin deelneem aan Sy wil vir jou lewe nie! Jaag ná wat jy nou verstaan! Moenie wag tot jy die begin van die einde kan uitmaak, en dan besluit wat jy gaan doen nie. Jy sal heel moontlik aan die einde van jou lewe die groter prentjie van God se roeping beter begin verstaan! Intussen is daar baie wat jy kan doen! God is besig om 'n laaang storie met jou lewe te skryf... die beste tyd om in te stap in daardie verhaal in, is nou!” – Neville Goodchild

Lees:

Ps.119:1-2

Mediteer:

  • Het jy al die Here in soveel woorde gevra wat sy doel vir jou lewe is?
  • Het jy al stil geword om te luister wat Hy vir jou wil sê?
  • Waaroor praat die Here met jou, wat druk Hy op jou hart?
  • Wat maak jou opgewonde in hierdie lewe?
  • Watter stap kan jy neem om te begin deelneem in die area waarin die Here met jou besig is?

Bid:

Vader dankie vir die spesifieke roeping wat U op my lewe het, en dat U my uniek gemaak het vir hierdie doel. Ek wil graag deelneem en ontdek hoe kosbaar U planne vir my lewe is. Help my asseblief om die regte stappe te neem, om oor te gaan in aksie en nie bang te wees vir die foute nie. Ek plaas my vertroue in U. Hier is ek Here...

Bonus: Spreek Lewe!

Ek vra God vir Sy wil, ek luister en Hy openbaar Sy wil aan my. Ek is gehoorsaam en gaan oor in aksie en ek begin vrug sien in my en ander om my se lewens!

Aanbidding:

Send Me – Jenn Johnson ft. Chris Quilala