Go Deep 21 April 2024

God is altyd groter as…

Eugene du Randt

Daarom leef ons in oorwinning

 

Dag 1: Die Waarheid maak ons vry

Die goeie nuus is dat God is altyd groter as…..

Ons weet elkeen waarmee ons ‘n stryd het. Daar is daardie ding, daardie situasie, daardie omstandighede, daardie iets, wat maak dat jy jou vrede en jou fokus verloor. “That sin that so easily ensnares us.” Ons stry daarteen, veg dit en probeer dit oorkom. Ons kom partykeer by ‘n punt wat ons dink dat ons sal dit nooit oorkom nie.

Ons sien in Ef. 6:12 dat ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.

Die stryd is toe nie teen jou man of jou vrou nie, nie teen jou ouers nie, nie teen jou rebelse tiener nie, nie teen jou werkgewer nie, nie teen daardie persoon wat jou so folter nie.

Die vyand spesialiseer daarin om verhoudinge te versuur en om mense se gedagtes en aksies besig te hou en af te lei van die ware probleem. Dit is nodig dat ons in God se teenwoordigheid ko men stil word. Ons moet agter die kap van die byl kom. God is die een wat vir ons wysheid gee en waarheid openbaar.

Joh. 4:23-24 “Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom sò aanbid.

24) God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.”

Ons het altyd wysheid nodig en daarom is dit nodig dat ons God gedurig aanbid. Ons het wysheid nodig in alles elke oomblik van elke dag. Wanneer ons in gees en waarheid aanbid vlug die vyand en kom die vrede van die Here oor ons.

LEES:

Ef. 6:12

Joh. 4:23-24

Mediteer:

  • Kon jy die sin vir jouself voltooi? Wat is jou stryd?
  • Is daar dalk mense met wie jy ‘n stryd aanhet?
  • Bring dit voor Vader en vra die Heilige Gees om dit vir jou oop te breek, om vir jou die geestelike realiteit of werklike vyand te openbaar.
  • Vra Vader om ook in elke dag se stryd met jou gesondheid, finansies,emosionele gesondheid ens te wys hoe om die stryd te stry. Onthou Vader is saam met ons en Hy belowe ook in Sy woord dat Hy ons nooit sal verlaat of op ons eie sal los nie.

Bid:

Dankie Vader vir U oorwinning wat U reeds oor die vyand behaal het. Vader help my asb om nie mense my stryd of vyand te maak nie maar help my om agter die kap van die byl te kom. Help my om te othou dat ons stryd ‘n geestelike stryd is en nie vlees nie.

Spreek Lewe!

Ek is meer as ‘n oorwinnaar deur Christus wat in my woon.

My God is groter as………!!

Aanbidding:

Jesus Loves Me: Souvenirs Music

How Great Thou Art / The Glory of His Presence: Jesus Image

Dag 2: Jesus is my rots

Stelling 1: Jy kan op die Here wag en sterk wees. Psalm 27

Dawid het ‘n lewe gelei waar hy gedurig in oorlog situasies was en waar hy telkemale doodsgevaar in die oë gestaar het. Wanneer hy hierdie Psalm skryf, gee Hy al die eer aan God wat hom uitgered het en Dawid bely dat hy sy vertroue op God alleen plaas om hom krag te gee en hom te red. Hy roem nie op sy eie kragte en insigte nie. Hy dink nie dat dit die goeie weermag van die Israeliete is wat hom help om die oorloë te wen en om van sy vyande te ontsnap nie. God is sy standvastige rots en hy vra God om hom genadig te wees, dat hy sy hele lewe lank in God se huis mag bly en God mag dien. Hy vertrou dat God hom uit enige gevaar sal red en hom sal versorg. Hy vind sy krag in God.

Ons probeer baie keer om goed in ons eie krag en volgens ons eie insigte te doen. Dan is ons omkant gevang as ons moedeloos en moeg aan die anderkant uitkom. Dit is beter om op God te vertrou vir ons krag, sterkte en voorsiening soos Dawid gedoen het.

God is die rots waarop ons staan as ons "rock bottom” geslaan het.

Hy gee ons die kragtige wapens van gebed, die Woord en lofprysing en aanbidding. Laat God toe om jou wysheid en krag te gee om sterk te staan in die stryd, met finansies, om vrede en liefde in ons lewe te hê, om op te staan in die oggend, vir gesondheid, om depressie te oorkom en die werk van die vyand teen te werk.

Stelling 2: Jy kan vas staan, want die Here is jou Rots. Psalm 18:3-4

Partykeer is dit moeilik om nie toe te laat dat ons emosies ons meesleur in die hitte van die oomblik nie. Vrees, woede, hartstog, verwerping, eensaamheid, moedeloosheid. Ons kan so maklik die verkeerde keuses maak as ons fondasie nie op die rots van Christus gevestig is nie.

In Psalm 18:3-4 sien ons dat Jesus is ons rots; standvastig; ons skuilplek; skild; horing van my heil en ons Redder. ‘Roep die Here aan en word verlos van die vyand.’

Psalm 91:2 en Psalm 121:1-2, “Waar sal my hulp vandaan kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.”

“The joy of the Lord is my strength”. Ons moet daarna streef om die vreugde van die Here ons deel te maak. Dit is ‘n standvastige blydskap oor die goedheid van die Here wat vas is en nooit verander nie. Sy goedheid en trou duur tot in ewigheid en Hy het gekies om aan ons genade en barmhartigheid te bewys en om ons oorvloedig te seën, daarom kan ons elke dag in die vreugde van die Here lewe. Dit gee ons standvastigheid as die storms van die lewe ons tref.

Lees:

Psalm 27

Psalm 18:3-4

Psalm 91:2

Psalm 121:1-2

Mediteer:

  • As jy nou stil raak en eerlik met jouself is, is God jou rots waarop jy met alles in jou vertrou of probeer jy uit jouself, met jou eie krag en eie insigte, jou uitdagings oorkom?
  • Indien jy nou “rock bottom” is in een of ander stryd, besef dat Jesus die rots kan wees waarop jy staan. Gee jou uitdaging vir God en nooi Jesus om jou vaste rots te wees.
  • Beleef jy nog die vreugde van God soos jy dit beleef het toe jy pas jou lewe vir Hom gegee het? Indien nie, wil jy nie weer erns maak met jou stiltetyd nie en spesifiek konsentreer op n diepe dankbaarheid vir Sy genade en barmhartigheid en lofprysing nie?

 Bid:

Jesus ek verklaar vandag weer dat U my rots en veilige vesting is, help my om met my hele lewe op U te vertrou en om nie staat te maak op my eie verstand en krag nie. Heilige Gees wil U my weer terug lei na ‘n plek van ware vreugde in U ten spyte van wat my omstandighede is, Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

The joy of the Lord in my strength!!!

Aanbidding:

Rent Collective – Joy of the Lord

Dag 3: ‘Expanded expectation’

Stelling 3: Ons kan ons vlak van verwagting verhoog, want God wil wonderwerke in en deur ons doen.

Job 37:5 - AMP “God thunders marvelously with His voice, He does great things which we cannot comprehend.”

God wil groot en wonderlike dinge doen. Ons het nodig om ons beperkte verwagting van waarmee God besig is en wat Hy vir ons beplan, wat Hy deur ons wil doen, in heroorweging te neem. As ons net na die skepping en alles om ons kyk, sal ons besef dat daar is soveel meer. Hoe wonderlik is die eenvoudige goed soos om asem te haal, om te kan dink, om te kan lewe en te kan voortplant? Dieselfde God wat alles so volmaak geskape het, het die mens gekies om te heers en om Sy liggaam op aarde te wees.

Mag ons bid dat die Here ons manier van dink verander. Ons drome en bedieninge is deel van God se plan vir ons. Bring dit na God en glo dat daar is niks wat vir God onmoontlik is nie, solank as wat dit volgens God se wil is nie.

Wees daar waar God besig is om te werk. Bel mense, reik uit na mense, wees betrokke en gehoorsaam daar waar God jou wil gebruik. Gaan in elke situasie in met die vaste wete en verwagting dat jy nie alleen is nie en dat God groot goed beplan vir Sy koningkryk.

Daar gaan teenkanting wees sodra ons in geloof en met verwagting leef. Daarom is dit belangrik om stil te wees en te weet dat God is, “Ek Is”. Ons moet nie toelaat dat die goed wat om ons aangaan ons fokus afhaal nie of ons bang maak nie. Geloof werk nie op wat ons sien en voel nie, maar op wie God is en ons geloof in Sy onwankelbare karakter en heiligheid.

Psalm 46:10 NIV “Be still, and know that I am God; I will be exalted among the nations, I will be exalted in the earth.”

Lees:

Job 37:5

Ps. 46:10

Mediteer

  • Is jy in ooreenstemming met God se prentjie vir jou lewe? Hoe lyk jou idee van wat God in en deur jou wil doen?
  • Hoe lyk jou verwagting vir die toekoms? Verwag jy dat Vader deur Sy Gees groot dinge wil doen vir Sy koningkryk?
  • Vader se plan met jou lewe is groter as jou eie planne. Sal jy Hom vertrou vir dit, al lyk dit nie op hierdie stadium so nie?

Bid: 

Vader wil U asb vir my die geloof gee wat ek nodig het om in die “meer as” en “groter as” vir my lewe, in te stap. Dankie Vader vir U plan en roeping op my lewe. Help my om dit raak te sien en om ook my beperkende gedagtes uit die pad te kry. Help my om toe te laat dat U, Heilige Gees, U wonderbaarlike plan in en deur my, sal doen. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

God is wonderbaarlik en Hy doen groot goed!!!!

Aanbidding:

Made for More – Bethel Music, Josh Baldwin, featuring Jenn Johnson

Dag 4: Glo God is altyd getrou

Stelling 4: Groter is Hy wat in ons is as hy wat in die wêreld is 1 Joh. 4:4-6

4) “Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is.

5) Hulle is uit die wêreld; daarom praat hulle uit die wêreld, en die wêreld luister na hulle.

6) Ons is uit God; Hy wat God ken, luister na ons; hy wat nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Hieruit ken ons die Gees van waarheid en die gees van die dwaling.”

Die vyand se plan is om ons te isoleer. Die natuurlike reaksie van iemand wat seerkry is om hul self af te sonder en mure om hulle hart te bou, om te probeer keer dat hulle weer kan seerkry. Die hartseer is dat ons nie sukselvol is met die benadering nie, want ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die bose magte in die lug. Al wat gebeur is dat ons verhoudings, gesondheid en menseverhoudinge skade ly. Wanneer ons ons afsonder kan ons nie ons bediening uitleef en die mense bedien nie.

Dit is belangrik om dan hierdie waarheid te onthou, dat God het oorwin en dat Hy is groter as die vyand. Ons is aan die wenkant en God sal ons nooit vergeet, verlaat of in die steek laat nie. Skuif die fokus na die oorwinning en vertrou die Here om jou te lei met die Gees van waarheid, seer te genees, jou te beskerm en die krag te gee.

Stelling 5: Meer as oorwinnaars in Christus: Rom. 8:37

“Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars in God wat ons liefgehad het.”

Ons is meer as oorwinnaars!!! Dit voel nie altyd so nie en ons twyfel baie keer of ons nou regtig aan die wenkant is. Die oorwinning is nie iets waaroor ons kan twyfel nie, want dit staan vas vir ewig. Dit is belangrik dat ons woord kry en dit gereeld bely om ons gedagtes te belyn met die waarheid. Ons kan net in oorwinning leef as ons dit glo.

Lees:

1 Joh. 4:4-6

Rom. 8:37

Mediteer:

  • Maak jou oë toe vir ‘n oomblik en vra vir Heilige Gees om aan jou te openbaar as daar enige plekke is waar jy jouself geïsoleer het en mure opgerig het om mense of dalk iemand spesifiek uit te hou?
  • God is ook groter as hierdie diep emosionele seer en Hy kan jou lei om van hierdie seer genees te word.
  • Indien jy geïsoleer en alleen is en jy weet nie hoe om daaruit te kom nie, is jy welkom om ‘n leier by Lewende Woord te skakel by 0608354778. Neem vrymoedigheid en reik uit. Al is dit moeilik, neem asseblief vrymoedigheid. God is altyd getrou en ons is liggaam van Christus. Twee is altyd beter as een.
  • Onthou; ons God is groter as………. En deur Hom is ons meer as oorwinnaars.

Bid:

Dankie Vader dat U groter is as enige uitdaging of seer. Dankie dat u my kan genees en ook al my verhoudings kan herstel. Vader begin by my en genees my van seer uit vorige verhoudings. Help my om mense wat my baie seer gemaak het te kan vergewe en help my om die skanse wat ek opgerig het om myself weg te hou van mense weer af te breek. Dankie Vader dat  ek in elke gebied van my lewe meer as ‘n oorwinnaar kan wees en dankie dat U groter is as my grootste uitdaging.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek het die bediening van versoening en ek sal sover dit van my afhang in vrede leef met alle mense.

Aanbidding:

Charity Gale – I Believe

Dag 5: Altyd by ons

Stelling 6: Ons is geseënd om ‘n seën te wees Deut. 28:1-14

Die skrifgedeelte is so ‘n wonderlike belofte. Ons moet egter die belofte in besit neem, deur gehoorsaam te wees, God alleen te aanbid en Sy wil alleen te soek.

'Geseënd sal jy wees in die stad, en geseënd sal jy wees in die veld. Geseënd sal wees die vrug van jou liggaam en die vrugte van jou land en die vrug van jou vee, die aanteel van jou beeste en die aanteel van jou kleinvee. Geseënd sal jy wees by jou ingang, en geseënd sal jy wees by jou uitgang. Geseënd sal wees jou mandjie en jou bakskottel. Die Here sal maak dat jou vyande wat teen jou opstaan, voor jou verslaan word; op een pad sal hulle teen jou uittrek en op sewe paaie voor jou uit vlug. Die Here sal die seën oor jou gebied in jou skure en in alles waar jy jou hand aan slaan; en Hy sal jou seën in die land wat die Here jou God jou sal gee. Die Here sal jou vir Hom as heilige volk bevestig soos Hy jou dit gesweer het, as jy die gebooie van die Here jou God hou en in sy weë wandel. En al hierdie seëninge sal oor jou kom en jou inhaal as jy luister na die stem van die Here jou God. '

DEUTERONÓMIUM 28:2-9

Stelling 7: Die Here belowe dat Hy altyd saam met ons sal wees Matt. 28:20

“En kyk, Ek is by julle al die dae, tot die voleinding van die wêreld. Amen.”

Sodra ons twee of meer is, het ons meer moed om te doen wat ons graag wil of moet doen. Hoe wonderlik is dit nie, dat ons as kinders van God nooit alleen staan nie. Die Here bevestig so baie keer dat Hy is altyd by ons. Dan sê Hy ook dat ons moenie bang wees nie.

Jes. 41:10,13

“10) Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met My reddende regterhand.

13) Want Ek, die Here jou God, gryp jou regterhand aan, Ek wil jou sê: wees nie bevrees nie. Ek help jou.”

Lees:                

Deut.28:1-14

Matt. 28:20

Jes. 41:10, 13

Mediteer:

  • Neem Deut 28:1-14 en maak dit persoonlik. Skryf dit oor in die eerste persoon deur “jy” te vervang met met jou eie naam. Maak ‘n punt daarvan om dit op gereelde basis te bely.
  • Voel jy soms alleen, onthou Vader se belofte in Jes 41:10,13 dat Hy altyd by jou is.
  • Kan ek hierdie beloftes vir my neem? Ja!! Die woord sê ook dat God is nie ‘n aannemer van persoon nie, m.a.w. Hy sien alle mense voor Hom as gelyk en trek niemand voor nie.

Bid:

Vader , baie dankie vir U wonderlike beloftes van seën en nabyheid in U woord. Wil U deur U Heilige Gees my gedurig herriner aan U beloftes, Vader help my ook asb dat ek my lewe so in Christus sal leef, dat ek ontvanklik kan wees vir U beloftes.

Bonus: Spreek Lewe!

Daar is geen plek op aarde of in my gemoed waar ek myself sal kan bevind waar God nie ook is nie,

Aanbidding:

Casting Crowns – No Hurt (Official music video)