Go Deep 14 April 2024

IN SIMFONIE MET GOD

Neville Goodchild

Die voordele van ‘n vriendskap met God!

 

Dag 1: ‘n Geseënde Band

Hoe begin ons ‘n vriendskap met God en hoe gaan ons oor in ‘n intieme verhouding met Hom? In hierdie reeks leer ons dat daar krag is in eenheid, in ooreenkoms, in saamstem. Waar daar eenheid is, is God se seën! Dit is ook waarom daar so ‘n groot aanslag op huwelike is.

Huwelik profeteer Jesus Christus. Dit profiteer dat Jesus Christus ons weer kom haal; dit getuig van Sy getrouheid. Dit is waarom Ef.5 sê dat ‘n man sy vrou moet lief hê soos Christus die kerk lief het, en ‘n vrou haar man met eerbied moet betoon. Huwelik is ‘n refleksie van Christus se verhouding met Sy Bruid (die kerk).

Ons het ‘n verantwoordelikheid om hierdie instelling waarmee God ons toevertrou, te beskerm. Selfs wanneer ons nie getroud is nie, respekteer ons ander huwelike.

Daar is groot uitdagings in huwelike waar die een eggenoot die Here dien en die ander een nie. Dit veroorsaak konflik en oneenheid en word dan ook die fokus en maatstaf vir ‘n gebroke huwelik. Dit is egter nie wat God se wil is nie.

God ag die huwelik as eenheid so hoog, dat Sy Gees selfs die kleinste aspekte van ‘n huwelik bewoon (Mal.2:15). Dit is vir God só belangrik dat ons die huwelik eer soos Hy, dat ‘n gelowige en ongelowige getroud mag wees en so bly. “In die samelewing moet elkeen bly in die omstandighede waarin hy was toe God hom geroep het” (1Kor.7:20).

Eenheid in ‘n huwelik is God se wil en dat jy jou huwelik eer en respekteer ten spyte van ‘n eggenoot se ongeloof. God het ons tog die bediening van versoening gegee toe ons tot geloof gekom het (2Kor.5:18). As ‘n man en vrou in vrede in ‘n huwelik kan bly, al is daar een gelowige en een nie gelowige, dan bewoon God se Gees daardie huwelik! Huwelik is vir God een van die belangrikste ooreenkomste. God voeg Homself by in ‘n huwelik waar daar saamgestem word oor daardie huwelik. Daar waar daar eenheid is, is daar ‘n atmosfeer waar God se wil kan geskied, en God maak erns met die kinders van daardie huwelik. Dus, het so ‘n huwelik steeds ‘n doel in God se Hand. Hy kyk uit vir Sy nageslag, Sy kinders!

“And here’s a second offense: You fill the place of worship with your whining and snivelling because you don’t get what you want from God. Do you know why? Simple. Because God was there as a witness when you spoke your marriage vows to your young bride, and now you’ve broken those vows, broken the faith-bond with your vowed companion, your covenant wife. God, not you, made marriage. His Spirit inhabits even the smallest details of marriage. And what does he want from marriage? Children of God, that’s what. So guard the spirit of marriage within you. Don’t cheat on your spouse” (Mal.2:13-15 MSG).

Lees:

1 Kor. 7:10-20

Mal.2:13-16

2Kor.5:18

Ef.5

Mediteer:

  • Kan jy die dinge lys waaroor jy en jou eggenoot saamstem? Maak tyd om saam te soek na iets om oor saam te stem.
  • Wanneer ons vas is dit nie gerieflik nie. Dit is ongemaklik en jou vlees wil rebelleer. Wat wel gebeur in hierdie tydperk is dat God se Gees in jou begin opstaan en heers oor jou vlees. Dit is ‘n proses van heiligmaking. Dit is so in ‘n huwelik ook, waar jy jouself neerlê vir jou eggenoot. Dit is nie gerieflik nie. Dit is ‘n proses van heiligmaking – voorbereiding soos ‘n bruid wat deur ‘n reinigings-proses gaan.
  • What if God did not have your happiness in mind, but your holiness?
  • My huwelik profiteer – Jesus kom weer!

Bid:

Here, sal U my asseblief help om die Gees van huwelik te beskerm en ander huwelike asook my eie te eer en respekteer soos wat dit U behaag. Ek wil graag vrede en eenheid in my huwelik ervaar. Wys my asseblief waar ek myself meer kan neerlê vir my eggenoot en vir U, en help my asseblief om U waarheid te sien en te ken, en veral U liefde, sodat ek nie teen U rebelleer nie. In Jesus se Naam. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek eer huwelike volgens God se instelling en God seën my en my huwelik met Sy betrokkenheid!

Aanbidding:

Dear God – Cory Asbury Live

Dag 2: Belyn

Job is op ‘n baie slegte plek in sy lewe. Sy vriende gee vir hom raad. “Sluit tog vriendskap met Hom, sodat jy vrede kan hê; daardeur sal goeie dinge oor jou kom” (Job 22:21). “Now yield and submit yourself to Him [agree with God and be conformed to His will] and be at peace”(Job 22:21).

Wanneer ons Job 1 lees sien ons dat Job ‘n man van integriteit en geregtigheid was. Toe die bitterste, die slegste met hom gebeur het, het hy steeds nie teen God gesondig nie, maar God bly dien. Hy word daarom gesien as God se vriend. Dit is juis oor hierdie goeie vriendskap wat die vyand Job se lojaliteit so erg toets. Die vyand het alles uit Job se lewe weggeneem (behalwe om sy lewe self te neem – Job 1:12). Sy lewensomstandighede het hom mismoedig, maar in dit alles bly soek Job na God se waarheid. Hy vra na dit wat God oor sy lewe sê. Hy sondig nie teenoor God nie (Job 1:22).

Dit is in Job 22:21-30 waar ons die waarde lees van saamstem met God. Dit is belangrik om jou hart te ondersoek (vers 22) en seker te maak dat jy oorloop van Hom, sodat jy genoeg het en vol is, selfs wanneer die aardse dinge faal.

Om by God aan te sluit en saam met Hom te begin stem oor wat Hy oor jou lewe sê gee vir jou vrede en jy beleef vooruitgang (vers 21). Jy word gebou (vers 23). Jy verlustig jou in Hom (vers 24). Hy verhoor jou gebede (vers 25). Dit wat jy besluit is suksesvol (vers 26). Hy neem die depressie weg (vers 27). Jy word gered selfs al is jy skuldig (vers 28).

Dit is wat gebeur wanneer jy saamstem met God oor jou lewe en Sy planne vir jou lewe; wanneer jy begin aansluit by die Here en iets soek om oor saam te stem. Jy het nodig om Sy perspektiewe te kry vir elke area van jou lewe waar jy nog nie Sy wil sien nie.

Lees:

Job 22:21-30

Mediteer:

  • Soek ek God se realiteit, Sy waarheid in elke area van my lewe? God se waarheid en Sy Woord is altyd in ooreenstemming. Hy weerspreek Homself nie.
  • Stem ek saam met God oor wat Hy oor my lewe sê? Om saam te stem met die Here skakel om in aksie. Dan begin ek progressief deelneem volgens my oortuiging en Sy lig uit te leef in omstandighede.

Bid:

Vader, ek het U inspraak en wysheid nodig in my omstandighede. Sal U vir my openbaringskennis gee oor hierdie moeilike situasie in my lewe? Ek het U wysheid en wil nodig en soek met my hele hart daarna. Praat met my Here, ek luister....

Bonus: Spreek Lewe!

My bydrae is om in te skakel by wat God sê, saam te stem, en Sy lig te begin uitleef!

Aanbidding:

Protector – Kim Walker-Smith

Dag 3: Waarheid en Vrede

Hoe kry ek die areas van my lewe wat nie in ooreenstemming is met dit wat God sê nie, in God se wil? Waar begin ek?

Twee dinge is van uiterste belang. Dit is God se waarheid en God se vrede. Om God se waarheid en vrede in en oor my omstandighede te kry beteken dat ek stil moet word by Hom. My binnekamer is die perfekte plek. Daar waar ek myself kan wees voor Hom, net soos ek is. Hy ken my en elke gedagte van my, selfs nog voordat dit oor my lippe kom. Dit is ook hier waar ek die vrede van God beleef en waar Hy openbaring vir my gee oor my krisisse.

Maak ek tyd hiervoor en is ek oop vir Sy inspraak? Dit is juis in hierdie tyd met God wat ek inspraak van Hom af kry en my krisis situasies kan oorkom. “Alles wat uit God gebore is, oorwin hierdie wêreld” (1 Joh.5:4). Daarom moet ek my vrede voor God alleen meet. Nie voor ander nie. Hy is my ware Noord; die kompasnaald wat ware Noord aanwys. Daarom moet ek seker maak dat die atmosfeer reg is en dat ek reg kan hoor. My vrede meter werk die beste voor die Here. Dit is hier waar ek bid vir en oor geleenthede wat Hy vir my moontlik maak. Ek begin saamstem met Hom volgens Sy waarheid en ek begin staatmaak op Sy Woord en die vrede wat Hy vir my gee. Hy is standvastig en betroubaar.

Om te begin saamstem met dit wat God vir my openbaar, skakel ook om in aksie. Ek begin leef volgens dit wat Hy sê, Sy waarheid en Sy opinie. Deur só te begin leef, het ek ook invloed waar ek beweeg. Ek het ‘n opinie om te lewer en beïnvloed ander om my, volgens God se waarheid. Hy gee vir my die vermoë om Sy lig uit te leef en Koninkryk in ander se lewens te begin bring.

Lees:

Mat.16:15-19

1 Joh.5:4

Mediteer:

  • Waar kan ek God se waarheid kry?
  • Hoe kan ek God se vrede kry?
  • Bid ek vir geleenthede waar ek die Here se wil kan uitleef en verklaar? Begin bid vir en oor geleenthede. Begin saamstem met God oor die geleenthede wat Hy gee.
  • As ek die lig uitleef, kan ek nie onder ‘n maatemmer wegkruip nie.
  • Ek is ‘n influencer. Wat/wie leef ek uit?

Bid:

Vader, dankie dat U nie waarheid en vrede vir my wegsteek nie, maar my help om U te vind in my omstandighede. U is betroubaar en regverdig en U handel volgens U Woord. Dankie Jesus dat U die wet kom vervul het sodat ek in U genade kan leef volgens U wil en liefde. U is nie meer net naby nie, maar U is nou in my en U Gees is die krag waaruit ek nou leef. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek soek en leer ken God se waarheid en vrede in elke area van my lewe!

Aanbidding:

Trust in God – Elevation Worship

Dag 4: Woord wat lewe gee

Die Jode, insluitend die dissipels was onder die indruk dat Jesus daar was om die regering omver te werp, sodat hulle verligting kon kry vir die Romeinse oppressie waaronder hulle gely het. Almal het gewag vir die Messias wat hulle sou verlos! Daar was dus baie redenasies onder mense, Jode en nie-Jode, oor wie Jesus is en wat presies Hy sou doen.

In Mat.16:15-16 lees ons waar Jesus vir Sy dissipels vra: “Maar julle, wie sê julle is Ek?”. Simon Petrus antwoord: “U is die Christus, die Seun van die Lewende God.”

Op daardie oomblik wat iemand (Simon Petrus) saam met God begin stem en waarheid verklaar, kondig God ‘n nuwe kritiese oomblik aan. Kairos-tyd het aangebreek. Dit is tyd vir kerk bou.

Die oomblik toe Petrus waarheid verklaar, staan Jesus gereed om openbaring te gee: “Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie” (Mat.16:18).

Petrus se roeping word vasgemaak, Hy leer wie hy is, en ontvang Profetiese Woord. Met alles wat Petrus verkeerd gedoen het – Hy bestraf Jesus toe Jesus Sy dood profiteer (Mat.16:22-23); Hy kap ‘n dienskneg se oor af (Joh.18:10); Hy verloën Jesus drie maal (Mat.26:69-75) – is daar steeds omtrent drieduisend siele gered toe Petrus die eerste keer opstaan en die goeie boodskap van Jesus Christus verkondig (Han.2:41)!

God doen groot dinge in Sy Koninkryk en deur ons lewens wanneer ons saam met Hom begin stem. Jesus leer ons bid: “laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Mat.6:10). God se wil geskied reeds in die hemel. Volgens Gen.1:28 het God ons gemaak om op aarde te heers. Ons het outoriteit in God om op aarde te heers wanneer ons saam met Hom begin stem. God staan gereed om te doen wat Hy doen, wanneer ons Hom toelaat deur saam met Hom te begin stem.

Lees:

Mat.16:15-19

1 Joh.5:4

Mediteer:

  • Petrus het sy ware self ontdek (hoe God hom gemaak het), toe hy saam met God begin stem.
  • ‘n Mens in rebellie teen God, is nie hulle ware self nie. Hul is uit lyn met waarheid en uit ritme met hulself.
  • Ek wen niks deur argumente te probeer wen nie. My positiewe bydrae is om saam met God te begin stem. Dit is waar my gesag lê.
  • God se heerlikheid, Sy voorsiening, Sy versorging, Sy versoening, Sy antwoorde, wag vir my om te begin saamstem!

Bid:

Here, dankie dat U gereed staan om openbaring vir my te gee soos ek U waarheid vat en verklaar. Dankie dat U Woord oor my lewe het, wat ek nodig het om te hoor en te leef. Ek wil nie meer teen U rebelleer nie, maar begin staan op U waarheid en toelaat dat U vrede my lei. Ek wil ervaar hoe U waarheid my lewe verander en ook ander rondom my. Vandag lê ek elke argument en teenkanting neer, en neem my lewe in U op Jesus Christus. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek is ‘n influencer, daarom ywer ek om te wete te kom wat God se wil is, en dit na buite te leef. So sien ek God se heerlikheid in my en ander se lewens kom!

Aanbidding:

Great Are You Lord – Casting Crowns

Dag 5: Rotsvas

“Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie” (Mat.16:18).

God kies om op vaste fondasie te bou. Hy bou nie op wankelrigheid nie. Toe Petrus verklaar wie Jesus waarlik is, toe sê Jesus dat Hy hierop kan bou!

In die verwarring wat losgebreek het tydens die pinksterfees toe almal vervul is met die Heilige Gees en in vreemde tale begin spreek het, het Petrus opgestaan en verduidelik dat God se Gees aan die werk is. Hy het klomp dinge gesê, maar hierdie woorde is spesifiek opgeteken: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang”.

Hierdie is fondasie-legging. Jy het nodig om jou te bekeer weg van jou sondes, en jou te bekeer tot God. Dit is ‘n besluit wat jy moet neem. God het reeds alles gedoen om dit vir jou moontlik te maak om ‘n nuwe lewe en ‘n ewige lewe saam met Hom te leef. Hy het Sy Seun se lewe geoffer. Jesus het vir jou ingestaan, sodat jy nie hoef te sterf as gevolg van jou sonde nie. Hy het alles reeds volbring. Al wat nou kort is jou “Ja”; dat jy hierdie offer (Jesus Christus) ontvang.

Tweedens het God die doop vir ons gegee. Wanneer ons ons bekeer, wil ons graag die gawe van die Heilige Gees ontvang. Ons het egter nodig om te sterf in die doop water. Ons ou lewe sterf af wanneer ons onder die water ingaan, en ons staan op as ‘n nuwe mens in Jesus Christus. God stort dan ook die gawe van Sy Heilige Gees in ons uit. Sy Gees is Sy krag. Hierdie nuwe lewe leef ons nie uit ons eie vlees nie, maar uit Sy Gees. Hy maak dit moontlik!

God maak dit dan vir jou moontlik om te groei en om jou ou sondige bestaan agter te laat. Dit bly egter jou keuse. God bou Sy gemeente op die Rots, ‘n vaste fondasie. Jy kan dus kies om saam met God te begin stem, en saam met Hom te loop.

As twee saam loop, moet daar ‘n ooreenkoms wees. Het jy al ‘n ooreenkoms met die Here gesluit? God bou op die ooreenkoms. Dan seën Hy jou lewe. Hy wag vir jou ooreenkoms!

Lees:

Mat.16:21-23

Mediteer:

  • Wat sê God wat jy nie mee ooreen kan stem nie?
    God kies om nie te bou as daar nie fondasie gelê is nie. Is jou fondasie reg? Wat kort? (Kyk uit vir die dissipelskap kursus).
  • Kan jy ‘n spesifieke oomblik onthou wat jy al die besluit geneem het in jou lewe om jou te bekeer weg van jou sondige lewe en na God toe te draai?
  • Watter ooreenkoms het jy met God aangegaan?
  • Gesag is nie krag om te doen wat ek wil, soos ek wil en vir my eie gewin nie. Gesag is ‘n Geestelike outoriteit wat slegs van God af kom, vir dié wat saam met Hom wandel volgens Sy wil vir die opbou van Sy Koninkryk alleen! Waar lê jou gesag?
  • Toe Jesus vir Petrus sê “Gaan weg agter My, Satan”, het Hy nie gesê dat Satan in Petrus is nie. Jesus bestraf die oneenheid.
  • In watter areas van jou lewe ervaar jy oneenheid en onvrede? Het jy al God se waarheid begin soek en verklaar oor hierdie area(s)?

Bid:

Vader, dankie dat U alles gedoen het om my met U te versoen. Ek aanvaar die kruiswerk van Jesus Christus en ontvang U Jesus as my Verlosser en Saligmaker. U is my Here! Dankie dat U my met Vader God versoen het en dat ek nou ‘n lewe kan leef in oorvloed! Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek het my bekeer, ek is gedoop en vervul met die Heilige Gees. Ek lewe in God se vrede en waarheid en beleef Sy Hand oor my lewe!

Aanbidding:

Run to the Father – Cody Carnes