Die Perfekte Verhouding!
Neville Goodchild
Dag 1: Godgegewe
“Melgisedek was koning van Salem en priester van God die Allerhoogste. Dit is Melgisedek wat vir Abraham tegemoet gegaan en hom geseën het toe Abraham op pad terug was nadat hy die konings verslaan het, en dit is ook aan hom dat Abraham ‘n tiende van al die oorlogsbuit gegee het. In die eerste plek, sy naam Melgisedek beteken: koning van geregtigheid; en hy was ook koning van Salem, en dit beteken: koning van vrede. Niks is bekend omtrent sy vader en moeder of sy afstamming of die begin en einde van sy lewe nie. Hy is soos die Seun van God en hy bly priester vir altyd” (Heb. 7:1-3).
Jesus is ons Hoëpriester vir ewig (Heb.7:17;21). ‘n Priester tree by God in namens die volk. “Die wet stel mense as hoëpriesters aan, en mense het swakhede; maar die uitspraak wat met ‘n eed bevestig is en wat ná die wet gekom het, stel die Seun aan as ewige en volmaakte Hoëpriester” (Heb.7:28).
Ons sien in die geskiedenis dat die Israeliete vir Paasfees elkeen ‘n lam moes slag, bloed aan die deurkosyne gesmeer het, en die hele lam geëet het (Eks.12:3-11). Die bloed van die lam was getuienis van die verbond wat God met sy volk gesluit het. Hy het Sy volk verlos van slawerny.
Jesus het as daardie vlekkelose Lam ingetree vir die mensdom, en Sy bloed getuig van die nuwe verbond wat God met ons gesluit het. Daarom, wanneer ons Jesus Christus ontvang, gebruik ons die nagmaal. Die brood is Sy liggaam wat vir ons gebreek is, waarin ons deel het. Dit getuig van God se voorsiening in elke opsig vir ons huidige lewe. Die wyn is sy bloed wat vir ons gegiet is, sodat ons ook kan deel hê in God se storie vir ewig en altyd. Dit is ‘n uitnodiging vir ‘n toekoms saam met Hom. Nagmaal behoort binne ons huise!
“Melgisedek, koning van Salem en priester van God die Allerhoogste, het vir Abram kos en wyn gebring en hom geseën: “Mag Abram geseën word deur God die Allerhoogste, Skepper van hemel en aarde. Geloof sy God die Allerhoogste! Hy het jou vyand in jou mag oorgegee.” Toe het Abram vir Melgisedek ‘n tiende van alles gegee” (Gen.14:18-20).
God seën ons, wat deel het in Jesus Christus se liggaam en bloed wat gegiet is. Uit dankbaarheid en verstaan dat God ons Voorsiener is en alles wat ons het aan God behoort, gee ons ook ons eerste tiende aan die Here, want dan weet ons en verklaar ons dat die res ook vrygekoop is deur Hom. God seën die res.
Nagmaal en tiendes is geestelike instellings deur God ingestel.
Lees:
Mediteer:
- Hoekom breek ons brood tydens nagmaal?
- Wat verteenwoordig die wyn?
- Hoekom het Jesus die nagmaal as verbond ingestel? Wat beteken verbond?
- Hoe is die gee van jou tiende ‘n geestelike instelling?
- Hoekom word die ekstra wat jy doen vir ander of die kerk nie gesien as ‘n tiende nie?
- Wat is die effek van 'n geestelike instelling deur God ingestel op jou lewe?
Bid:
Here dankie vir U liggaam wat vir my gebreek is, sodat ek in hierdie lewe kan deel hê in U voorsiening - liggaam, siel en Gees. U versorg, U voorsien en U versoen. Dankie vir U bloed wat gevloei het en U Gees wat vir my ‘n ewige lewe saam met U gee. Alles van my behoort aan U. U is my Here! Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Ek eer die verbond wat God met my sluit, deur gereeld nagmaal in my huis te hou, en die eerstes van my opbrengs vir Hom terug te gee.
Aanbidding:
Break the Bread – Worship Awake
Dag 2: Werke
...gepraat van dit wat deur God gegee is....
Dit is vir ons so maklik om terug te val op Ou Testamentiese beginsels. “Uit die sweet van jou aangesig...”, “Die wat nie die bevele van die Here gehoorsaam nie, sal...”, “Doen goed, dan sal....”. (fill in the blanks).
Wanneer ons tot bekering kom wil ons die Here behaag en doen wat reg is in die oë van die Here. Ons hoor ons moet sekere dinge doen. Soos om te bid en Bybel te lees, kerk toe te gaan en daar is klomp veranderinge wat ons maak van ons ou sondige lewe na ‘n nuwe heilige lewe. Ons is gered en wil graag reg leef, maar hoe? Wat as ek my bekeer en ek sukkel met sonde en my sonde kom in die pad van my en God se verhouding? Hoe kan ek in die hemel kom as ek so ‘n sondige natuur het? Is ek dan nog gered?
Is dit nie juis ons wanbegrip van die Evangelie (die goeie nuus) wat ons terug onder die wet dompel nie? Paulus waarsku dat ons versigtig moet wees hiervoor (Rom. 6:14-15; Gal.5:18).
Aan die eenkant moet ek wegdraai van ‘n sondige bestaan en dit voel onmoontlik om daar uit te kom en aan die anderkant is daar my persepsies van hoe ek dit kan regkry. As ek dink in terme van wat dit beteken om reg te leef en hoe ek daar gaan uitkom, is dit so maklik om te begin vergelyk met wat ek doen en ook wat ander Christene doen. Bid ek genoeg? Lees ek genoeg Bybel? Is ek darem genoeg in die kerk? Hoeveel is genoeg? Wat is genoeg? Waarmee is ek besig en waarmee moet ek besig wees? Is hierdie dan nie alles werke om my redding te probeer verseker nie?
Dan is daar God se waarheid.
Paulus raak so vies vir hierdie wanbegrip van die waarheid, van die Verlossing en Genade wat daar in Jesus Christus is, dat hy sommer sê hy wens die mense kry tog net klaar en ontman hulself liewers. Hy praat hier spesifiek van besnydenis volgens die Joodse tradisie, maar ons kan dit in die konteks plaas van enige werke.
Deur werke te wil doen om jou redding te verseker, verbeur jy die genade van God (Gal.5:2-12).
Lees:
Mediteer:
- Wat is redding en hoe kan ek gered wees?
- Kan ek my redding verloor?
- Wat is die verskil tussen werk, werke en vrug?
- Wat is die verskil tussen werke en Geestelike dissiplines?
- Aan watter tradisies of godsdienstige idees hou ek vas en maak staat daarop dat dit my in die hemel sal kry?
- Wat sal verseker dat ek wel in die hemel kom?
Bid:
Vader, dankie dat ek deur Jesus Christus se werk aan die kruis nou deur U genade vry is om te leef tot U eer. Dankie dat ek nie hoef te werk daarvoor en uit verdienste gered is nie, maar omdat U my eerste lief het. Dankie dat die wet en sonde my nie meer vashou nie omdat Jesus se bloed krag het. Nou kan ek ‘n heilige lewe leef in U, op grond van U krag en liefde. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Op grond van Jesus se afgehandelde werk is ek gered!
Aanbidding:
Thank you Jesus for the Blood – Charity Gayle
Dag 3: Geloof wat werk
“Die wet bring juis die straf van God, want waar daar nie ‘n wet is nie, is daar ook geen oortreding van die wet nie. Daarom het die belofte deur die geloof, en dus uit genade, tot Abraham gekom sodat dit van krag sou bly vir sy hele nageslag. En sy nageslag is nie net dié wat die wet ontvang het nie, maar ook dié wat glo, soos Abraham geglo het. Hy is immers die vader van ons almal, soos daar geskrywe staan: “Ek het jou die vader van baie nasies gemaak.” Dít is hy in die oë van God in wie hy geglo het, God wat dooies lewend maak en dinge wat nie bestaan nie, tot stand bring deur sy woord. Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo, en so die vader van baie nasies geword volgens die belofte: “So sal jou nageslag wees.””(Rom.4:16-18).
Dit is juis Abraham se geloof wat God se seën in sy lewe geaktiveer het. Om geloof te hê in God, in die afgehandelde werk van Jesus Christus, bring ons in vrede. Hierdie vrede is nie ‘n gevoel nie, en dit beteken nie dat oorlog of moeilike omstandighede afwesig is nie. Dit is ‘n posisie waaruit ons funksioneer. Ons vrede en ons krag lê juis in dit wat Jesus Christus reeds gedoen het, en ons is ontvanklik vir hierdie geskenk. Ons weet hoe afhanklik ons van Hom is.
Omstandighede bepaal nie my gesindheid teenoor God nie. God verander nie soos omstandighede nie. Hy straf my nie omdat ek nie genoeg is of nie genoeg doen nie. Hy is reeds uitgesorteer hieroor. Jesus Christus het die straf gedra, en ek staan nou in geregtigheid saam met Jesus in verhouding met God. My verhouding met God is herstel op grond van Jesus se groot geskenk en nie my eie werke nie. God is getrou oor my, al is ek ontrou. Omstandighede is nie ‘n aanwyser van God se Karakter nie. Sy Karakter is standvastig en Hy stel nie teleur nie.
Wanneer ek in geloof staan in Hom, is goeie vrug (werke) die uitvloeisel van my verhouding met Hom.
Lees:
Mediteer:
- As ek die heeltyd vrees vir God se straf en sy negatiewe opinie oor my, hoe sal my verhouding met Hom lyk?
- Hoekom straf God nie meer in hierdie dispensasie (tydstip) nie?
- Hoekom is my geloof in Jesus belangrik?
- Waarvan het Jesus Christus my vrygemaak?
- Watter deel van my lewe word nie ingesluit by die totale vrymaking deur Jesus Christus se kruiswerk nie?
- Hoekom moet ek nie God se Karakter aan my omstandighede meet nie?
Bid:
Vader dankie dat U standvastig is en dat ek in ‘n posisie van vrede kan leef in U konstante teenwoordigheid. U is oral en U Gees, U krag is binne my. Kom openbaar asseblief die volle werk van U bloed Jesus, U krag Heilige Gees en U volmaakte liefde vir my Vader. Ek staan in geloof en kies om my vertroue, my hoop en geloof in U te plaas. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Jesus se bloed is genoeg vir my!
Aanbidding:
Dag 4: Is ‘n perfekte verhouding met God moontlik?
Geloof is ‘n oortuiging dat Jesus Christus gedoen het wat ek nie kan of kon doen nie. Geloof in Jesus Christus se werke, bring vergifnis van my sonde en versoening met God. Geloof in Jesus Christus regverdig my voor God, bring my in Sy teenwoordigheid en gee vir my Sy vrede, ‘n permanente, ideale plek by God.
As Jesus Christus my vrygemaak het is ek waarlik vry (Joh.8:36). My geloof in Jesus Christus het my geregverdig en daarom het ek vrede met God.
“Therefore, since we have been justified [that is, acquitted of sin, declared blameless before God] by faith, [let us grasp the fact that] we have peace with God [and the joy of reconciliation with Him] through our Lord Jesus Christ (the Messiah, the Anointed). Through Him we also have access by faith into this [remarkable state of] grace in which we [firmly and safely and securely] stand. Let us rejoice in our hope and the confident assurnce of [experiencing and enjoying] the glory of [our great] God [the manifestation of His excellence and power] (Rom.5:1-2 AMP).
Die krag lê juis in dit wat Jesus gedoen het en my geloof en ontvanklikheid, asook my afhanklikheid van Hom.
Ons lees die storie van die vrou wat aan bloed vloeiing gely het (Mar.5:25-34). Sy het aan Jesus se kleed geraak en is onmiddellik genees. Jesus het omgedraai, na haar gesoek en vir haar gesê: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede en wees van jou kwaal genees”. Sy het nie nodig gehad om enige ekstra werke by dit te doen nie. Sy het onmiddellik genesing ontvang. Hy het ook vir haar gesê dat sy verder konstant in hierdie genesing moet leef. Dit het te doen gehad met haar geloof. Sy moes wel aanhou glo in Hom.
Sy het nie nodig gehad om haar verlede in diepte te ondersoek en uit te vind wat die oorsprong van die siekte is, voordat sy genesing kon ontvang nie. Jesus het haar net genees. As ek moet aanhou soek en ondersoek watter sonde van die verlede ek nie hanteer het nie, wat die rede kan wees vir siekte of omstandighede; watter sonde van ouers of grootouers ek nie bely het nie, waar sal ek eindig? Wanneer sal dit genoeg wees en kan ek dan ophou? Kan ek op ‘n punt kom wat ek dan klaarkry hiermee?
Dit is ‘n gesindheid van veroordeling wat die wet van sonde op ons plaas. Dit is ‘n gesindheid van veroordeling wat tussen jou en God staan.
Ons lees in Joh.8:1-11 die storie van die vrou wat in owerspel betrap is. Jesus se woorde aan haar was: “Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie”. Sy het nie nodig gehad om iets te doen nie, sy moes glo, en wegstap van haar sondige lewe.
Is dit regtig nodig om veroordeeld te leef as Jesus vir ons God se hart kom wys het, en juis gesê het dat God ons nie veroordeel nie, en dat Hy Self gekom het om vir ons lewe te gee, en nie oordeel nie? (Joh.5:22-24). Vir die wat glo! Jesus se dood en opstanding is juis so kragtig dat ons vrygekoop is. Daarom is daar nou geen veroordeling meer vir ons nie (Rom.8:1).
Ons kan in God se teenwoordigheid inkom en daar bly!
Lees:
Mediteer:
- Is dit nodig om my sonde te bely en klaar te maak daarmee?
- Verwag God dat ek lyste van my sonde opstel en vir Hom voorlê? Hoekom?
- Wanneer slegte dinge gebeur, probeer ek te check wat ek verkeerd gedoen het en hoekom God kwaad is vir my? Dink ek daar is sonde wat ek moet bely, of soek ek die hele tyd vir redes waarom God ontevrede is met my? Waar soek ek na antwoorde? Skryf ek die redes vir my ongeluk toe aan my verval en ontrouheid aan die Here?
- Hoe verduidelik ek dat Jesus se afgehandelde werk genoeg is vir my en elkeen wat Hom ontvang het, maar dat daar uitsonderings op hierdie reël is en dat dit nie eintlik genoeg is nie?
- Kan ek Heilig genoeg leef en bly leef sodat God tevrede met my kan wees?
- Baseer ek my antwoorde op die Ou Testamentiese dispensasie, of die dispensasie na Jesus Christus opgestaan het uit die dood?
- Wys my aksies my geloof? Waarin?
Bid:
Jesus dankie dat U nie gekom het om my te oordeel nie, maar om my van my sonde vry te maak, sodat ek vry voor God en in God se teenwoordigheid kan wees en bly. U is Prins van Vrede, Prins van Geregtigheid en ek het U vrede en U geregtigheid ontvang. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Ek kan nie heilig genoeg leef om gered te word nie. Ek kan nie heilig genoeg leef om gered te bly nie. Ek is in God se teenwoordigheid en vrede op grond van Jesus Christus se werk!
Aanbidding:
Dag 5: God se heerlikheid!
“Our faith guarantees us permanent access into this marvelous kindness that has given us a perfect relationship with God. What incredible joy bursts forth within us as we keep on celebrating our hope of experiencing God’s Glory!” (Rom.5:2 TPT)
Ons het gister Hemelvaart gevier omdat ons die belangrikheid van hierdie dag verstaan en Heilig hou. Dit moes vir die dissipels verskriklik gewees het dat Jesus, wat vir die afgelope paar jaar so ‘n noue pad met hulle gestap het, gekruisig is, opgestaan het uit die dood en nou op die ou end hul moes verlaat? Hoekom kon Hy nie maar net gebly het nie? Sou ons lewens nie beter gewees het as Hy nou hier was nie? Jesus verduidelik vir sy volgers dat Hy moet weggaan, maar hulle verstaan nie mooi nie (Joh.14). Dit is eers later wat alles sin maak.
Hy het in Sy vlees opgevaar en aan die Regterhand van God gaan sit. Hy verteenwoordig ons as vlees in die hemel. Ons het nou vrye toegang tot God. Jesus tree vir ons in en weet watter verdrukking en pyn ons beleef (Rom.8:34). Hy het meegevoel waar Hy is, net soos wat Hy emosie gehad het met Lasarus se dood (Joh.11:35). Dikwels beleef ons ontnugtering en teleurstelling (net soos Martha en Maria), omdat dinge nie uitwerk soos ons wil hê dit moet nie. God het egter altyd ‘n groter plan van heerlikheid waarmee Hy besig is en wat ons nie in ons huidige omstandighede raaksien of verstaan nie (Joh.11:4). Jesus sê: “As jy glo, sal jy die heerlikheid van God sien” (Joh.11:40)
Jesus het opgegaan sodat ons die Heilige Gees kan ontvang. Ons ontvang God se krag, Sy Gees binne ons wanneer ons Jesus aanneem. Ons het nou God se Gees, sodat Hy soos strome lewende water deur ons kan vloei. Hy is die een wat dooie bene lewend maak. Wat vrug bring in alles wat ons aanpak. Hierdie vrug is vir Sy Koninkryk, sodat Sy heerlikheid sigbaar kan wees, en Hy kies om ons deel te maak van Sy heerlikheid! “...hoeveel te meer sal die bediening van die Gees dan nie in heerlikheid wees nie?” (2Kor.3:8).
Daarom is dit moontlik en die moeite werd om deur die moeilike dinge ons posisie van vrede en vreugde in Hom te handhaaf. Dit bring egtheid van geloof en hoop (Rom.5:3-5). ‘n Mens hoop nie op dit wat jy kan sien nie, maar juis op dit wat jy nog nie sien nie. Met God se Gees en Jesus wat konstant vir ons intree, beleef en sien ons die heerlikheid van God in ons midde! Teleurstelling word vervang met heerlikheid. Ons leef in Sy heerlikheid!
Lees:
Mediteer:
- Ek is dankbaar in alle omstandighede, want dit kweek egte geloof en hoop binne my, wat ek nodig het om God se heerlikheid te beleef.
- My onvermoë, sonde en werke kos nie my toegang tot God nie.
- Lees Jak.2:14-26 oor geloof en werke. Werke is ‘n uitvloeisel van geloof, nie andersom nie!
- Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en 'n beloner is van die wat Hom soek (Heb.11:6).
Bid:
Dankie Jesus dat U opgevaar het en dat U my vlees verteenwoordig, sodat ek welkom is by Vader. Dankie dat U U Gees gestuur het, sodat U lig in my lewe aangeskakel kon word en ek kan leef. Nou kan ek U ook verkondig oral waar ek gaan, sodat U heerlikheid oral kan sigbaar word, en U koninkryk kan uitbrei volgens U groter plan. Dankie dat U my geloof en hoop in U versterk en my help om in alle omstandighede bly te wees en te volhard, met my oë gerig op U heerlikheid. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Ek glo in Hom, in Sy afgehandelde werk en Sy heerlikheid hier op aarde!
Aanbidding: