Go Deep 12 Mei 2024

Hoe het God my bedraad?

Lynette Beer

Vier verskillende invloedryke vroue in die Bybel

Dag 1: Kreatiewe Mirjam

God het elke mens verskillend bedraad. Dit is waarom ons vier evangelies in die Bybel het, maar elkeen is anders. Die skrywers het elkeen ‘n ander manier om die evangelie oor te dra en plaas klem op verskillende goed. Matteus is ‘n meer wiskundige tipe evangelie en fokus op getalle en feite. Markus is baie meer kort en saaklik. Lukas is ‘n verhalende evangelie en Johannes is meer gefokus op verhouding en emosionele betrokkenheid.

Ons gaan kyk na vier verskillende vroue in die Woord wat verskillend bedraad is en omdat hulle verskillend is, praat God verskillend met elkeen van hulle en is hulle manier van hoe hulle dinge doen ook verskillend. Elkeen van hulle weerspieël een van die vier basiese persoonlikheid tipes. Probeer om vas te stel met watter een van die persoonlikheid tipes jy jouself vereenselwig.

Die eerste vrou is kreatiewe Mirjam. Sy was ‘n ekstrovert en ‘n verhouding mens. Haar natuurlike swakpunt is dat sy deur woede gedryf word as sy buite Christus beweeg. Ons lees van haar in Eksodus, Numeri en in Miga in die Bybel. Die eerste keer wat ons van haar lees was sy ‘n dogtertjie van ongeveer 7 jaar oud. Sy was Moses se sussie en hulle het voor ‘n krisis te staan gekom. Haar boetie moes doodgemaak word. Sy het hom toe in ‘n biesiemandjie op die rivier gaan sit en by die riete weggekruip. Sy het gewag vir die prinses en haar slavinne om in die rivier te bad. Toe sy sien dat hulle haar boetie ontdek het, het sy uit haar wegkruipplek gekom, vreesloos en met ‘n slim plan het sy met die prinses onderhandel. Sy het haar in kennis gestel dat sy ken ‘n Hebreeuse vrou ken wat die babatjie kan borsvoed. Sodoende het Moses se eie mamma die voorreg gekry om hom te voed en te versorg.

Mirjam was ‘n meisie wat lief was vir die lewe en nie kon toesien dat haar boetie doodgemaak word nie. Sy kon ook nie toesien dat haar Moeder in so ‘n toestand verkeer het, omdat sy geweet het haar kind moet doodgemaak word nie. Sy het ‘n kreatiewe plan gemaak en vir haar ma en boetie lewe teruggegee.

Later jare was Mirjam saam met Moses en Aaron deel van die leierskap van Israel. Sy was ‘n profetes en het die volk geleer hoe om God te dien. Nadat hulle deur die rooi see gegaan het, het sy met die tamboeryn gedans en God geprys. Die ander vroue het haar gevolg.

Die persone wat soos Mirjam bedraad is, kom in opstand wanneer hulle vasgekeer voel en dit blyk dat hulle in ‘n hopelose situasie vasgevang is. Hulle is lief vir die lewe en sal dan aan ‘n kreatiewe plan dink om ‘n verandering teweeg te bring. Hulle streef vreesloos daarna om ‘n uitkoms te bewerk. Hulle kan nie aanvaar dat hulle in hopelose omstandighede verder moet leef nie. Hulle raak kwaad vir onregverdigheid en ongeregtigheid.

Die feit is dat indien ‘n mens in slegte omstandighede lewe en jy doen niks om dit te verander nie, sal jy aanhou om in daardie slegte omstandighede te leef.

Ons sien dus dat God hierdie droom gehad het toe Hy die Mirjams onder ons aanmekaar geweef het.

LEES:

Eks. 2:1-10

Eks.15:20-21

Mediteer:

  • Besef jy dat jy uniek bedraad is en dat jy presies is wie God jou gemaak het?
  • Raak hierdie week stil en vra die Heilige Gees om jou te help om met een of twee van die persone te vereenselwig wat soos jy is.
  • Klink jy dalk soos ‘n Mirjam?
  • Onthou dat daar is nie ‘n verkeerde temperament nie, alhoewel elke temperament sy sterkpunte en swakpunte het, waarvan ons moet kennis neem.
  • Hierdie temperament uiteensetting is ‘n baie algemene model en daar is baie inligting beskikbaar om te gebruik om jou te help om die verskillende temperamente te verstaan en om jou te help om jouself beter te leer ken en te verstaan. Indien jy meer inligting verlang kan jy gerus die Pastor on call nr.(060 835 4778) skakel om jou die regte leiding te gee.

Bid:

Dankie Vader dat U my uniek geskape het met my spesifieke bedrading, help my om myself te ontdek en te verstaan. Dankie Vader dat ek myself nie hoef te vergelyk met ander temperamente nie. Help my om ‘n gesonde Mirjiam (as jy met Mirjiam identifiser) te wees, wat toelaat dat U Gees my lei en gebruik in U koninkryk en in my verhoudings.

Spreek Lewe!

Ps. 139;14 “Ek wil U loof, want u het my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep.”

Aanbidding:

Rent Collective – My Lighthouse (Official Video)

Dag 2: Kragtige Deborah

Deborah het ‘n baie indrukwekkende getuigskrif gehad.

  • Sy was die enigste vroue Rigter.
  • Sy was ‘n regter.
  • Sy was ‘n bevelvoerder.
  • Sy was ‘n strateeg.

Die persone was soos ‘n Deborah is, is ‘n biedjie vinnig en dinge moet gebeur. Hulle is ekstroverte en is taak gerig. Hulle neem leiding en kan soms sommer vir ander mense besluite neem wat volgens hulle biedjie stadig is. Hulle is ook feitlik nooit verkeerd nie en weet gewoonlik die beste. Hulle is ook maklik hoogmoedig en praat af na mense. Hulle is in hulle ongeredde vorm, baie ongeskik en mense hou nie baie van hulle nie. Hulle word deur woede gedryf.

Die Deborah wat gered is en haar deur die Heilige Gees laat lei, is egter ‘n staatmaker en leier wat baie nodig is en wat kragtig deur God gebruik word in die koninkryk.

Die volk het na Deborah gekom en kom hulp soek omdat hulle vyande hulle al vir 20 jaar besteel het. Deborah het onder die leiding van Heilige Gees vir Barak, die bevelvoerder van die weermag, laat kom. Barak was ‘n heeltamal ander temperament. Hy het die heeltyd beplan en nooit oorgegaan tot aksie nie. Deborah vra hom toe wanneer is hy van plan om oorlog te maak teen die vyand. Hy sê toe aan haar dat hy net sal gaan oorlog maak as sy saam met hom gaan. Deborah het toe geprofeteer dat sy saam met hom sal gaan, maar dat die oorlog nie deur hom gewen sal word nie, maar deur ‘n vrou. Dit het toe so gebeur.

Lees:

Rigters 4 en 5

Mediteer:

  • Identifiseer jy met Deborah se temperament?
  • Dit is belangrik dat indien jy jouself in hierdie temperament sien om jouself toe te rus met die detail van hierdie temperament, veral hoe om konflik te hanteer en hoe om op te tree teenoor ander mense wat nie soos jy is nie.
  • Ken jy iemand wat hierdie temperament het? Werk jy dalk vir iemand wat hierdie temperament het? Is jy dalk getroud met iemand met hierdie temperament?
  • Raad: Indien daar in die huwelik ‘n Deborah is, is dit van kardinale belang dat beide partye sal inkoop in ‘n proses om mekaar se temperamente te verstaan en om sekere dinge soos bv ‘n konflik resolusie op te stel en daarvolgens te leef.
  • Hierdie temperament uiteensetting is ‘n baie algemene model en daar is baie inligting beskikbaar om te gebruik om jou te help om die verskillende temperamente te verstaan en om jou te help om jouself beter te leer ken en te verstaan. Indien jy meer inligting verlang kan jy gerus die Pastor on call nr.(060 835 4778) skakel om jou die regte leiding te gee.

Bid:

Vader wil U my help om myself en ander mense te verstaan volgens U unieke ontwerp vir elkeen. Help my om genadig te wees teenoor ander wat nie soos ek bedraad is nie. Heilige Gees help my om ‘n diep insig te ontwikkel oor hoe U my en ook ander mense in my lewe, bedraad het.

Bonus: Spreek Lewe!

Ps. 139;13 “U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my Moeder”

Aanbidding:

Bernice West - Lyfie

Vinesong – Let Your Living Water Flow – Thank You Lord (Original version w/ lyrics)

Dag 3: Vredeliewende Ester

Ester is basies die teenoorgestelde van Deborah, maar God het haar met haar vredeliewende geaardheid gebruik as koningin in die paleis, om Israel, God se volk, te red. Dit is belangrik om te weet dat God elke persoon nodig het om in hulle temperament op te tree, tot voordeel van die koningkryk. Dit gebeur net as ons gered is, ons aan God onderwerp en gehoorsaam is.

Ester moes ‘n baie mooi Joodse meisie gewees het, van ongeveer 14 jaar, toe sy na die paleis geneem is om voor te berei om een van die vroue van die koning te word.

Ester was ‘n introvert en sy was baie lief vir mense. Sy het geleef vir haar mense en was gedryf deur vrees. Daar was ‘n gevaar dat die hele Joodse volk uitgewis kon word en dit het haar geaktiveer. Sy was baie lojaal en onderdanig. Haar motiewe was altyddeur goed. Sy was bereid om haar lewe te verloor om haar volk te probeer red. Sy was ‘n gewillige volgeling, maar toe sy te hore kom van die ongeregtigheid wat gaan gebeur het sy soos ‘n donkie vastesteek en weerstand gebied. Sy het baie vaste waardes en oortuigings gehad. Mense wat soos Ester is kan soms passief en afgetrokke wees. Hulle neem nie vinnig besluite nie en beweeg ook nie vinnig nie. Hulle word oorweldig as die pas vinnig is en hulle meegesleur word in goed waarmee hulle nie vrede het nie.

Ester 4:14 “As jy nou swyg en daar kom van ‘n ander kant af uitkoms en redding vir die Jode, sal jy en jou familie, omkom.  Wie weet, miskien is dit juis met die oog op ‘n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het!”

Ester se oom Mordigai het haar ingelig van ‘n komplot om die koning dood te maak en Ester kon die inligting by die koning uitkry. Die komplot was ontbloot en die koning was gered. Daarna het haar oom haar ingelig van die plan van Haman, ‘n hoog geplaasde amptenaar in die Persiese Ryk, koning Ahasfaros se regterhand, wat op ‘n slinkse manier die koning oorreed het om die Joodse volk uit te wis. Ester en haar oom was ook Jode. Die hoog geplaaste Haman was verskriklik hoogmoedig en eer bewus en het na ‘n bevordering ‘n wet uitgereik dat almal voor hom moes buig wanneer hy by hulle verby gaan. Mordigai het dit duidelik gemaak dat hy net voor sy God, die God van die Jode, die enigste lewende God sal buig. Haman was woedend en het na konsultasie met sy vrou besluit om ‘n galg te laat bou om Mordigai in die openbaar op te hang.

Ester het minderwaardig gevoel en nie geweet wat sy kan doen om die situasie, haar volk en haarself te red nie. Sy het by haarself gedink dat sy nie in staat is om enige iets aan die situasie te doen nie. Haar oom Mordigai het haar aangemoedig. Sy en haar diensmeisies het drie dae gevas en haar oom Mordigai en die volk het ook drie dae saam met haar gevas. Hulle het die Here se aangesig gesoek. Ester het toe die koning genader. Hy kon haar laat dood maak het omdat sy durf waag het om hom te nader en nie te wag dat hy haar nader nie. Sy het die koning en Haman vir ete genooi en gepleit vir haar volk. Nie net was Ester en haar volk gered nie, maar Haman en sy tien seuns het almal gesterf aan die presiese galg wat hy laat bou het vir Mordigai. 

Die Here het die pad voor berei en Hy het Ester met haar vredeliewende mooi aanslag nodig gehad in die paleis vir hierdie situasie.

Dit is belangrik om te weet dat elke temperament belangrik is in die koningkryk. Vir al die Esters daar buite, weet dat julle in Christus ‘n verskriklik belangrike rol het om te speel in die koningkryk en dat julle hier geplaas is vir ‘n tyd soos die. Julle het verseker ‘n baie belangrike rol om te speel.

Lees:

Ester

Mediteer

  • Is hierdie dalk jy?
  • Indien jy hierdie temperament het moet jy besef dat jy baie maklik misbruik kan word deur sterker tempeamente omdat dit baie moeilik vir jou is om “Nee” te sê. Dit veroorsaak ook dat jy baie keer teen jou sin iets doen om die vrede te bewaar.
  • Net soos vir Deborah, sal dit belangrik wees vir Ester om gesonde kommunikasie aan te leer, omdat ‘n Ester konflik vermy en maklik gevoelens kan opkrop, wat dan na tyd ontplof en heel verkeerd uitkom.
  • Een van Ester se sterkpunte is dat as sy iets begin het, sal sy dit klaar maak.
  • Esters moet leer om “Nee” te sê, haar mening te gee en om nie weg te hardloop van konflik nie.
  • Hierdie temperament uiteensetting is ‘n baie algemene model en daar is baie inligting beskikbaar om te gebruik om jou te help om die verskillende temperamente te verstaan en om jou te help om jouself beter te leer ken en te verstaan. Indien jy meer inligting verlang kan jy gerus die Pastor on call nr. (060 835 4778) skakel om jou die regte leiding te gee. 

Bid: 

Vader dankie dat U my ‘n Ester gemaak het met my sagte en rustige geaardheid. Vader gebruik my in u koninkryk op U unieke manier. Dankie Vader vir al die wonderlike oplossings, planne en idees wat U my gee, help my asb om die vrymoedigheid te hê om dit te deel. vader help my asb om te kan “Nee” sê in sekere situasies en help my om te leer om in konflik in te gaan en nie weg te hardloop nie. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ps.139:14b “wat U gedoen het vervul my met verwondering”

Aanbidding:

Made for More – Bethel Music, Josh Baldwin, featuring Jenn Johnson

Dag 4: Perfekte Abigail

Die storie van Abigail speel af in die dae toe Dawid en sy manne gevlug het voor Saul. Abigail is die enigste vrou in die Bybel wat beskryf word as baie mooi en baie slim. Sy was getroud met Nabal. Toe Dawid van sy manne gestuur het om vir Nabal ‘n versoek te rig dat hulle op sy grond vertoef en in ruil daarvoor dat hulle sal sorg dat sy vee en veewagters veilig is, Nabal hulle sal toelaat om daar te bly en vir hulle kos en water voorsien vir hulle en hulle diere. Nabal wou niks daarvan weet nie en het sommer ‘n ongeskikte boodskap gestuur. Abigail het geweet dat dit fataal sou wees, veral as Dawid en sy manne hulle sou aanval. Sy het solank donkies gepak met kos en wyn saam met haar bediendes gestuur en agterna gegaan om met Dawid te gaan praat. Dawid het reeds in sy woede besluit om nie een manspersoon in Nabal se huishouding lewendig te laat nie en hy en 400 gewapende mans het opgetrek. Toe Dawid Abigail raakloop het sy van die donkie afgeklim en voor hom geval en om genade gesmeek. Sy het eenkant met hom gepraat en gesê dat sy glo dat dit die Here is wat haar na hom toe gestuur het om hom te keer sodat hy nie onskuldige bloed vergiet en dit dan op sy gewete het nie. Sy was vol van God se Gees en het met wysheid gehandel en gepraat. Sy het seën oor Dawid uitgespreek en versoek dat wanneer hy koning word van Israel en alles wat God vir hom beplan in vervulling kom, moet hy haar tog nie vergeet nie. Dawid het gehoor gegee aan Abigail en ‘n bloedbad is afgeweer. Nabal is kort daarna oorlede en Dawid het Abigail gevat as sy vrou.

In vergelyking met ‘n Ester is ‘n Abigail meer introvert. ‘n Abigail sukkel gewoonlik met verhoudings en hou haarself biedjie op ‘n afstand. ‘n Abigail sê nie maklik sy is lief vir jou nie en is gewoonlik ‘n toonbeeld van grasie en goeie maniere. Hulle is spaarsamig en nederig. Hulle vra gewoonlik baie vrae en is ingestel op detail. Hulle is taakgerig en wil graag hê dat alles moet perfek wees. Hulle dink voor hulle antwoord en kan sien as daar iets verkeerd gaan loop. Hulle probeer dit dan stop. Dit is baie keer moeilik om sulke mense tevrede te stel wanneer hulle nie in Christus is nie, want hulle standaard is so hoog dat niemand regtig daaraan kan voldoen nie. Hulle word deur vrees gedryf en kan maklik angstig raak wanneer hulle die bobejaan agter die bult gaan haal

Selfs die grootste introvert, wat die Heilige Gees het en wat in Christus lewe, sal God kragtig gebruik in Sy koningkryk.

Lees:

1 Sam. 25

Mediteer:

  • Sien jy jouself in Abigail?
  • Indien jy hierdie temperament het is dit belangrik om te besef dat ander mense nie soos jy dink en doen nie.
  • Hierdie temperament moet ook soos Ester leer om nie konflik te vermy nie, maar om dit te trotseer.
  • Hierdie temperament moet ook leer om hulle oplossings en idees gedeel moet word en nie vir hulleself gehou moet word nie.
  • Dink aan hoe jy as ‘n Abigail in God se koninkryk gebruik kan word volgens jou unieke temperament.

Bid:

Dankie Vader dat U my stil, maar sterk en begaafd geskep het. Help my dat ek myself nie teenoor ander sal meet nie, maar dat ek op my eie sterkpunte sal konsentreer. Vader help my ook om nie oorweldig te word met vrees as dinge nie is soos ek dit beplan het nie. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek het unieke eienskappe met unieke sterkpunte wat Vader my gegee het.

Aanbidding:

Jesus is my healer (Chapel Sessions)  I ft. Jessie Harris l Gateway Worship

Dag 5: Hoe het God my bedraad en watter droom droom Hy oor my?

Psalm 139:13 en 14 – “13) Want U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef. 14) Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is, wonderbaar is U werke! En my siel weet dit alte goed.”

Wow!!!!!

Dawid was verseker gevul met die Heilige Gees toe hy die lofprysing aan God neergepen het. Hy het bewus geword van hoe wonderlik God se skeppingswerk is en hoeveel aandag God gee aan detail wat ingeplant is in elke mens. In die ou testament het hulle baie keer die term niere gebruik waar ons in vandag se dae die woord hart sou gebruik. Dit is soos ‘n opsomming van ons emosies, gedagtes, wil en menswees. Dit beskryf die kern van elke unieke individu. Dit is nie verwaandheid van Dawid wat daartoe gelei het dat Dawid hier skryf dat God hom vreeslik wonderbaar gemaak het nie. Hierdie is ‘n rhema openbaring. Elkeen van ons het nodig om hierdie openbaring van God te ontvang, om verwonderd te staan oor die wonderlike werk wat God gedoen het toe Hy my geskep het.

Dit is die werk van die vyand om die werk van God te kritiseer en te bevraagteken. Dit is ons as Christene se werk om te ontdek presies hoe wonderlik die werk van God is en Hom volkome te vertrou dat Hy presies weet wat Hy doen en om te “celebrate” dat Hy ‘n goeie werk gedoen het.

Eers wanneer ons begin om opgewonde te raak oor hoe God ons geskep het en onsself regtig leer ken, kan ons saam met God die droom vir ons lewe droom en leef. Ons kan dan ook begryp dat ander nie dieselfde as ons dink en doen nie, want ‘n Miriam kan nie ‘n Abigail wees nie en ‘n Ester kan nie ‘n Debora wees nie, maar God se koningkryk het almal nodig en God is opgewonde oor elke individu se lewe en doel.

Spr. 31:31 “Gee haar van die vrug van haar hande, en laat haar werke haar prys in die poorte.”

Luk. 1:45 “En salig is sy wat geglo het, want die dinge wat deur die Here aan haar gesê is, sal vervul word.”

Lees:                

Ps. 139:13-14

Spr. 31:31

Luk, 1:45

Mediteer:

  • Weet jy nou al met wie jy die meeste ooreenstem? Indien nie gaan raak stil by die Here en vra Sy Heilige Gees om jou te wys.
  • Kan jy ‘n oomblik neem en God net dank vir jou eie unieke saamgestelde bedrading, vir jou eie unieke kombinasie van hierdie vier temperamente.
  • Gaan ondersoek hierdie temperamente verder en kyk na jou sterkpunte en swakpunte. Weet dat jy so aanmekaar gesit is, aanvaar jouself en vra Heilige Gees om jou te help groei om joy swakpunte te oorkom.
  • Nou dat jy beter verstaan wie jy is, raak stil en dink ook aan die persone naaste aan jou se temperamente en hoe kan ek my benadering tot hulle verander om hulle meer volgens hulle temperamente te hanteer.
  • Dink oor hoe jy dink God jou sal kan gebruik in Sy koninkryk volgens jou sterkpunte.
  • Hierdie temperament uiteensetting is ‘n baie algemene model en daar is baie inligting beskikbaar om te gebruik om jou te help om die verskillende temperamente te verstaan en om jou te help om jouself beter te leer ken en te verstaan. Indien jy meer inligting verlang kan jy gerus die Pastor on call nr. (060 835 4778) skakel om jou die regte leiding te gee.
  • Jy kan baie inligting oor hierdie model kry, soek op google; “four temperament types” en jy sal baie inligting kry.

Bid:

Vader, baie dankie vir U wonderlike beloftes van seën en nabyheid in U woord. Wil U deur U Heilige Gees my gedurig herriner aan U beloftes, Vader help my ook asb dat ek my lewe so in Christus sal leef, dat ek ontvanklik kan wees vir U beloftes.

Bonus: Spreek Lewe!

Daar is geen plek op aarde of in my gemoed waar ek myself sal kan bevind waar God nie ook is nie,

Aanbidding:

Jesus Culture – Love Has  A Name (Live) ft. Kim Walker-Smith