Go Deep 19 Mei 2024

Die Perfekte Verhouding

Neville Goodchild

 

Dag 1  ʼn Tyd vir entoesiastiese, doelbewuste deelname

Vanoggend voel soos ʼn familiesaamtrek. Mense groet mekaar, druk mekaar. Iewers loop ʼn dogtertjie met twee parmantige boksterte en sleep ʼn stootwa agter haar aan. Ons sing:”The Lord watches over me.” Dit voel soos huis. Ons huis. Lewende Woord, Bloemfontein. Daar is geen manier wat ‘n mens nie deel kan voel nie, nie deel wil neem nie. Híér het ons perfekte toegang tot God. Nie net hier nie, maar ook hier.

“It’s all about You”.

Ons kan die invloed wees wat iemand anders vry maak. Die mense wat ons dalk irriteer op ‘n manier, is reeds in ons sfeer omdat ons vir hulle kan intree. Hulle stories kan ook wonderlike getuienis van God se liefde wees.

Hierdie is nie tyd om moeg te wees nie. Die kerk breek los in jou hart, ontskiet passie wat jou die Here laat loof.

Vier kindertjies word ingeseën. Anaret, Diaan, Dandre en Amelia. Ons bid dat God hulle lewens direk sal impakteer, dat hulle mense rondom hulle sal aanroer en ondersteun, ‘n getuienis vir God se liefde sal wees. Dit is wat dit is. Huis. Lewende Woord, Bloemfontein. Ons bid vir mekaar, ons ondersteun mekaar en ons staan skouer aan skouer om God te loof vir Sy oneindige genade. Ons kom regtig “niks kort nie.”

I shall not want.

Lees

Psalm 23

Mediteer

  • Is daar plek in ons lewe om regtig, met intensie vir ander mense in te tree voor God?

 

Gebed

Vader, dankie dat ons klein kindertjies aan U kan toevertrou. Dankie dat ons klaar vry gemaak is deur Jesus se opoffering. Ons het niks nodig net nie. We shall not want. Amen

Spreek Lewe

Ek is ‘n rigtingwyser vir God, vry gemaak, verlos en reg om ‘n verskil te maak.

Aanbidding

I still believe – 7th time down

Dag 2 Dit staan in Romeine 5:1-2

“OMDAT ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus; deur wie ons ook deur die geloof die toegang verkry het tot hierdie genade waarin ons staan; en ons roem in die hoop op die heerlikheid van God.”

Partykeer is dinge so eenvoudig, maar ons wil alles kompliseer, veral as dit by ons geloofslewe kom. In die teks hierbo staan dit duidelik da tons geloof ons in ‘n plek van vrede bring. Die implikasie hiervan is verreikend. God is doelbewustelik (intensioneel) betrokke in ons lewens. Dit beteken dat ons wêreld nie toevallig is nie. Ons is gered deur ons geloof, nie een of ander werk wat ons verrig het wat toevallig hoë impak gehad het nie. Nee, bloot geloof skep die perfekte toegang tot ‘n verhouding met God. Hy beloof dat ons vrede ontvang. Maar ons wettiese denke wil soms verdienste koppel aan ons redding, net soos die dissipels destyds die blinde man voor die tempel wou veroordeel.

In Joh. 9 lees ons dat die dissipels vir Jesus vra hoekom die man blind gebore is. Het sy ouers gesondig? Dalk het die man self gesondig, wonder hulle. Hulle vrae kom uit onkundigheid en vanuit die wettiese agtergrond waaruit hulle kom. In die Moseswet is ons veroordeel, Jesus se kruisiging het ons finaal vry gemaak.

Jesus se antwoord aan die dissipels het vandag nog toepassing op ons lewens en oor hoe ons soms dink. Die man se lewe is wat dit is sodat God se werke deur hom openbaar kan word. Ons kan niks uit ons eie ek doen om gered te word nie.

Die feit dat ons glo beteken dat ons rééds gered is, toegang het tot God, die perfekte plek om te wees. Dit beteken ook dat ons goeie werke doen omdat ons in hierdie perfekte plek staan en nie om toegang te verkry tot die perfekte plek nie.

Lees

Joh. 9

Mediteer

  • Wat kan ons doen om onsself te herinner dat ons vry is wanneer ons terugval in die wettiese gewoonte van selfveroordeling?

 

Gebed

Vader, dankie dat ons vrygemaak is en perfek geposisioneer is om ‘n verhouding met U te hê. Ons verdien dit glad nie, maar ons is dankbaar vir Jesus se offer. Help ons om hierdie geleentheid ten volle te ontgin tot U eer en U koninkryk.  Amen

Spreek Lewe

Ek hoef net te glo om perfek geposisioneer te wees vir ‘n verhouding met God.

Aanbidding

King of my Heart – Mass Anthem

Dag 3 Van perskebome en vrugte dra

Wanneer jy kwekery toe gaan om vrugtebome te koop, kom ons sê perskebome, en jy loop teen die ry af om die boompies in die swart sakke deur te kyk, is daar geen manier dat jy kan bepaal watter een vrugte gaan dra nie. Op hierdie stadium dra hulle nog nie vrugte nie, want hulle wortels is nie gevestig nie. Dis eers wanneer ons ‘n boom uitplant, kunsmis en beenmeel en water gee, dat dit begin groei en in seisoen vrugte begin dra.

Die belofte in Romeine 5:1-2 kan ook soos hier bo uitgebeeld word. God plant ons in sy teenwoordigheid, in ‘n perfekte verhouding, waar ons kunsmis perfek afgemeet is. In hierdie perfekte plek dra ons vrugte omdat ons wil, nie omdat ons voel ons moet nie (om God se guns te verdien).

Om wedergebore te wees beteken dat jy bekeer is, gedoop is en die Gees ontvang het. Nou is jy perfek geposisioneer om vrug te dra. Jesus was ons Lewende Water en het die dood (droogte) namens ons oorwin. Wanneer ons nou goeie dade doen is dit omdat ons in die teenwoordigheid van Vader sulke goed WIL doen, dit kom sommer vanself en het nie agterkopgedagtes van verdienste nie. Dit beteken ook dat ons onsself nie oor en oor te veroordeel vir die tye wanneer ons verkeerd opgetree het nie. Ons het nie ‘n gyselfgod wat vereis dat ons onsself moet kasty nie. Nee, ons God weet alles al klaar, Sy Seun het die dood en sonde en wettisisme kom oorwin aan die kruis. Ons kan nou jubel en vrug dra, waar ons ook al geplant is.

‘n Vrugteboom trek tog nie sy wortels op en loop soek die swart sakkie waaruit dit gekom het nie? Net so gaan ons nie terug na die posisie van selfveroordeling nie.

Ons is nou hier, kom ons dra vrugte van liefde en genade teenoor ander. Ons doen dit op die sportveld, in die verkeer en by die werk, maar veral tuis.

Mat. 27:50-51. God het die voorhangsel van die tempel geskeur met Jesus se kruisiging. Daarmee is al die verwydering tussen Hom en ons weggevat. Juig daaroor.

Lees

Hand. 2:36-42

Mediteer

  • Wat beteken ‘n stukkende voorhangsel vandag vir jou?

 

Gebed

Vader, ons aanvaar hierdie perfekte posisie waarin U ons geplaas het. Help ons om vrug te dra uit eie wil en nie vir eie gewin nie. Ons eer U almagtigheid en is dankbaar vir u genade.  Amen

Spreek Lewe

Ek is geplant waar ek kan vrug dra deur my wedergeboorte.

Aanbidding

Less like me – Zach Williams

Dag 4 Vrede - Irene

Die woord “Irene” is afgelei uit Griekse woord “eirene” wat vrede beteken. Eirene is afgelei van die werkwoord eiros, wat letterlik beteken “om dit wat los van mekaar is, vas te bind (to join together). Vrede is die teenoorgestelde van verdeling of onenigheid, dit impliseer geestelike welstand.

Lees net hoe klink Rom. 5:1-2 in die New Life Version:” Now that we have been made right with God by putting our trust in Him, we have peace with Him. It is because of what our Lord Jesus Christ did for us. 2 By putting our trust in God, He has given us His loving-favor and has received us. We are happy for the hope we have of sharing the shining-greatness of God. 

“We have peace with Him.” Hoe kragtig is dit nie. Ons was eers weg van Hom, maar deur ons wedergeboorte is ons vasgebind, joined to, ons Vader.

In houtwerk is die Engelse term “dovetail joint” baie bekend vir ‘n spesiale voeg waarmee twee stukke hout sonder gom in mekaar pasgemaak word om nooit te breek nie. Romeine 5 beteken vir ons dat ons vir altyd, onbreekbaar deel is van God, dat ons vrede het, “joined together.” Ons is versoen met God, niks wat ons doen kan ons daarvan skei nie.

God raak nie weg wanneer dinge rof raak vir ons nie. Luister gerus die lied hieronder, dit spreek vir ons wat soms vergeet dat ons ‘n Staatmaker het wat vir ons omgee.

Lees

Gal. 2:19-21

Mediteer

  • Vang jy jouself nog soms dat jy voel asof jy iets moet doen om met God versoen te wees?
  • Wat is die rede/s daarvoor?

 

Gebed

Vader, dankie vir die vrede wat ons by U kan ervaar. Dankie dat U ons versoen het met U, dat ons letterlik vir ewig vasgemaak is aan U en dat niks ons kan los skeur nie. Amen

Spreek Lewe

Ek is vas aan my Vader.

Aanbidding

The God who Stays – Matthew West

 

Dag 5 Die storms van die lewe

Die storie van Jona wat vasskop teen God se wil (Jona 1) en besluit om nie na Nineve te gaan nie is so van toepassing op ons ook. Hier is Jona, hy wil nie tyd spandeer met God nie, hy klim eerder op ‘n skip na Tarshish toe. God stuur dan ‘n storm wat so erg is dat die bemanning baie bang raak en vir Jona gaan wakker maak waar hy slaap onder in die skip. Die bemanning was nie gelowiges nie en het tot hulle gode gebid, sonder sukses natuurlik.

Wanneer hulle vir Jona wakker maak en vra waar hy vandaan kom, antwoord hy (verse 9 en 10, NLV): Jonah said to them, “I am a Hebrew, and I worship the Lord God of heaven Who made the sea and the dry land.  Then the men were filled with fear and said to him, “How could you do this?” For the men knew that he was running away from the Lord, because he had told them.

Jona is binne ‘n groot storm en nog steeds bid hy nie tot God nie. Om een of ander rede is hy hardkoppig, maar God is nie klaar met hom nie. U kan self die hele bybelstuk lees in die skakel hieronder, maar die groot uiteinde van die storm in Jona se lewe is dat die hele bemanning op daardie boot tot bekering kom. God gebruik ‘n storm in Jona se lewe om nog siele te red. Terselftertyd laat hy nie vir Jona vergaan nie, al verdien hy dit dalk. Nee, God is getrou, al kon Jona vanweë sy mensheid nie wees nie.

Hier is so baie om te leer. Soms is die storms in ons lewens reeds die plek en tyd wat God gebruik om eerstens ander te beïnvloed en tweedens ons weer nader te trek. Die beeld van ‘n pa wat ‘n klein kind saggies aan die arm trek en op sy skoot laat sit en styf vashou kom op in die gedagte.

Ons en ons stukkende lewens pas perfek in die perfekte vrede wat Jesus vir ons verdien het. Dit versoen ons met God. Niks kan ons skei van Sy liefde en vrede nie.

 

Lees

Jona 1

Mediteer

  • Was daar al ‘n storm in jou lewe waarin jy God se werke kon ervaar?

 

Gebed

Vader, dankie dat die skerwe van my lewe U nie wegdryf nie, maar dat U my eerder nader trek. Help my om ten tyde van die storms, anders as Jona, eerder net na U te roep. Amen

Spreek Lewe

Storms maak my nie bang nie.

Aanbidding

Praise you in the storm– Natalie Grant