‘n NUWE GEMOED! – “Kyk, die ou dinge is verby!”
Neville Goodchild
Op watter stadium begin my lewe van God se wil en werk getuig?
Dag 1: Perfekte verhouding
Ons gesels die afgelope tyd oor perfekte verhouding en hoe ‘n perfekte verhouding moontlik is. Volgens Romeine 5:1-3 sien ons dat dit juis deel is van die groot geskenk van genade en hoekom Jesus Christus se kruisiging so ‘n “big deal” is. As gevolg van Jesus se volmaakte offer het ons volle toegang tot God en ons het vrede in ons verhouding met God. Ons staan nie meer in veroordeling nie en ons kruip nie meer weg oor ons sondige natuur nie. Ons is in hierdie sondige natuur gebore, maar Jesus het die prys daarvoor betaal. Dus kan ons met vrymoedigheid in God se troon kamer ingaan en in Sy Teenwoordigheid bly. Ons kan verhouding met Hom hê. Hierdie verhouding is nie eensydig nie, maar God het verhouding met ons en ons het verhouding met Hom. As gevolg van hierdie offer, weet ons nou waar ons met God staan en dit is ín Sy heerlikheid. Ons is nie meer bang vir ‘n God wat ver is en straf nie.
God het reeds besluit en Sy gedagtes oor ons is uitgesorteer. Sy gedagtes oor ons, verander nie. Hy wankel nie in hoe Hy oor ons dink en voel nie. Hy is nie eendag sus en die ander dag so nie. Hy is konstant en betroubaar. Hy meet ons ook nie op grond van dit wat ons doen nie. Hy gee vir ons hierdie verhouding met Hom as geskenk, nie omdat ons dit verdien nie. Ons verdien dit nie. Ons kan nie Sy liefde verdien nie.
God het nie behae in ons werke nie. Dit is belangrik dat ons vrug sal dra, maar hierdie vrug spruit uit ‘n perfekte verhouding met Hom. Dit is nie sodat Hy ons sal lief hê nie, maar omdat Hy ons lief het. Ons het ‘n permanente posisie in Hom.
Ek en jy kan net in hierdie verhouding kom staan.
Lees:
Mediteer:
- Wat is hierdie perfekte verhouding waaroor ons die afgelope tyd gesels het en geld dit vir my ook?
- Met wie is hierdie perfekte verhouding moontlik?
- Hoe kan ek hierdie perfekte verhouding met God kry?
- Watter implikasies het perfekte verhouding vir my lewe?
Bid:
Vader dankie dat ek in perfekte verhouding met U kan staan. ‘n Verhouding waarin ek die deur vir U oopgemaak het en waarin U die deur lankal reeds vir my wawyd oop gemaak het, sodat ek nou hier in verhouding met U kan staan, op ‘n plek van heerlikheid in U. Halleluja!
Bonus: Spreek Lewe!
By entering through faith into what God has always wanted to do for us—set us right with him, make us fit for him—we have it all together with God because of our Master Jesus. And that’s not all: We throw open our doors to God and discover at the same moment that he has already thrown open his door to us. We find ourselves standing where we always hoped we might stand—out in the wide open spaces of God’s grace and glory, standing tall and shouting our praise! (Rom.5:1-3 MSG)
Aanbidding:
Stand in Your Love – Bethel & Josh Baldwin
Dag 2: Vaste fondasie
Vir enige struktuur wat gebou word, is dit nie net belangrik dat die mure reg gebou word nie, maar dat die sement reg aangemaak word en die fondasie reg gelê word. As die fondasie nie reg is nie, of die sement se bestanddele verkeerd gemeng is, sal die gebou later heeltemal tot niet word. So is dit ook in ons verhouding met God en ons geloof in Hom. As die fondasie nie reg is nie, kan ons geloof knak onder moeilike omstandighede. Ons moet daarom verstaan dat bekering, doop en vervulling en aktivering van die Heilige Gees belangrike boustene en sement is vir ons geloof.
Jy kan nie ‘n Gees vervulde lewe beleef sonder om jou te bekeer nie. As jy jou bekeer maar nie daarna vir Jesus deur die doopwater volg nie, sal jy ‘n leemte in jou geloofsreis beleef. Die gevaar van die verkeerde mengsel of boustene wat verkeerd gelê word, is dat die gebou later inmekaar tuimel; dat mense se geestelike lewens in duie stort en hul op die ou end sterf.
Om jou te bekeer tot Jesus Christus beteken dat jy tot die besef kom dat jy jouself nie kan red nie. Jy bely jou sonde en dat jy sondaar is en neem Jesus Christus aan as jou Verlosser en Saligmaker. Deur Jesus Christus se bloed ontvang jy redding. Bekering het te doen met jou ewige lewe. Jy gaan nou hemel toe en lewe vir altyd saam met God die Vader. Om jou tot God te bekeer en om gered te word is iets wat tussen jou en God gebeur. Mense kan nie vir jou vergifnis aanbied wat jou red nie. Mense kan wel vir jou ‘n omgewing skep wat dit makliker maak in die Gees om jou knie te buig voor die Here.
Bekering is ‘n permanente toestand van vergifnis wat jy ontvang. Jy is gered en jy bly gered. Jou naam is geskryf in die boek van die ewige lewe. Jou sonde intimideer God nie en dit hou jou nie uit die hemel uit nie. Jou sonde bring wel ‘n skydingsmuur tussen jou en God. Dit veroorsaak dat jy vrymoedigheid voor God verloor oor hierdie muur wat jy opgerig het. Hierdie muur kom staan ook tussen jou en ander mense.
Ons deel met hierdie muur deur ons sonde te bely en saam met Jesus Christus in die doopwater te sterf. Die doop is ‘n watergraf en deel met ons vlees. Die vyand het geen reg meer of houvas op ons daarna nie. Wanneer ons in Jesus Christus sterf, staan ons ook saam met Hom op in ‘n nuwe lewe. Jy word niut gebore en honger vir die dinge van die Gees van God. Soos 'n baba wat honger word vir kos, word jy honger vir vervulling in jou gees lewe. Hierdie honger moet gevoed word met die regte dinge!
Jou doop in Jesus Christus aktiveer jou Gees lewe en die Gees transformeer jou. Dit is dan wat jy wonderwerke sien gebeur en die toevallighede in jou lewe drasties toeneem.
Lees:
Mediteer:
- Wat staan tussen jou bekering en vervulling en aktivering van ‘n nuwe Gees lewe?
- Hoe kan jy jou honger voed?
Bid:
Jesus, ek het getwyfel in so baie dinge wat fundamenteel is in my geloofslewe. Dankie dat U vir my ‘n platform gee waar ek kan leer hoe belangrik bekering, doop en vervulling van U Gees is om my te aktiveer vir ‘n geesvervulde lewe. U as Woord gee vir my antwoorde op my vrae, en U voed my honger met U woorde. Dankie dat U Woord vir my openbaring bring, en dat ek kan opgroei in U en vervulling as ook doel in my lewe beleef. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
U gee vir my breë vastrapplek, ‘n perfekte fondasie en daarom wankel ek nie!
Aanbidding:
Dag 3: God is getrou
Die Israeliete was vir ongeveer 400 jaar lank vasgevang en mishandel as slawe in Egipte. Hulle het gesmag na vryheid. God het met tien plae kragtig ingegryp waarvan die laaste een so erg was dat die Farao hulle weggestuur het. Die Israeliete het op die vooraand van hul vrymaking ‘n instruksie van God gekry om ‘n volmaakte lam te slag en op te eet. Niks mag oorgebly het nie. Elke huis met bloed aan hul deurkosyne het die dood ontkom. Vir die res was daar smart. Jesus is die volmaakte offerlam wat vir ons geslag is en ons is deur Sy bloed gered en het die dood oorkom. Dit is bekering.
Daarna is ongeveer 2.4miljoen slawe uit Egipte sonder gebreke of siekte. Vir generasies lank is hulle gemartel, maar toe hul daar uitstap was hul sterk en kon hul besittings sowel as Egipte se goud, silwer en klere saam met hul neem. Besef net die impak hiervan op Egipte ook.
By die rooi see gekom, stap hul deur hierdie massa water wat deur God oopgekloof is. Dit is ‘n water doop waardeur hulle gaan en die vyand verdrink in hierdie water. Die vyand se mag oor ons verdrink in die doop bad.
Hierna het hulle bedags ‘n wolk kolom wat oor hulle rus en snags ‘n vuur kolom. Dit is soos God se Gees wat oor hulle rus. Wanneer jy bekeer het en jou laat doop het, ontvang jy God se Gees, Sy rus.
Hulle ontvang elke dag en in elke opsig voorsiening: Manna (perfekte voeding), kwartels (gesogte vleis met hope voedingswaarde), bitter water wat soet word, water uit ‘n rots. Hulle wen die oorlog met Moses se hande in die lug. Elke plek waar hul kom neem hul in besit. Hulle word genees wanneer hul na die slang op die stok kyk. Daar is daagliks bonatuurlike wonders en tekens. Tog murmureer en sterf hulle almal in die woestyn. Dit is net Josua en Kaleb wat die beloofde land binnegaan.
Wat het gebeur en hoe was dit moontlik, of eerder waarom so onmoontlik?
Lees:
Mediteer:
- Ons sien oor en oor dat God getrou is aan Sy beloftes. Hy is ‘n waarmaker van Sy Woord. Waarom sterf die volk dan in die woestyn?
Bid:
Vader, wanneer U Woord spreek is U getrou oor daardie Woord en bring dit in vervulling. Help my asseblief om die dieper openbaring te verstaan van waarom die Israeliete in die woestyn sterf nadat U belowe het dat hul die land van melk en heuning in besit sal neem. Help my om te onderskei hoe ek afhanklik van U is, maar ook hoe ek nodig het om te glo in U beloftes en dit deel te maak van my huidige realiteite. In Jesus se Naam. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Ek is seker van die dinge wat ek hoop en oortuig van die dinge wat ek nie sien nie! Die sigbare is geskep deur God se Woord en uit iets wat ek nie sien nie. Ek glo!
Aanbidding:
Dag 4: Nuut gemaak
Is dit moontlik, as ons deur genade gered en ook geaktiveer is deur God se krag, dat ons aanhou sondig? Dit is moontlik ja. Ons verloor nie die vermoë om te sondig wanneer ons God se Gees ontvang nie. Ons vlees is sondig van natuur. Ons ontvang egter God se Gees in ons gees wat dit moontlik maak dat ons in die Gees wandel. Paulus verduidelik in Romeine 5:20 dat daar waar sonde meer geword het, het genade nog meer oorvloedig geword. Dit beteken egter nie dat ons dan nou méér moet sondig sodat ons méér genade kan ontvang nie (Rom.6:1-2). Dit is juis oor die genade wat ons ontvang het, dat ons ophou om ons toe te wy aan ‘n lewe van sonde en ons eerder toewy aan ‘n nuwe lewe volgens God se Gees.
Wat is hierdie nuwe lewe?
Jy was eens dood as gevolg van sonde, maar nou op grond van Jesus se werk is jou gees vernuwe. As wedergeborene is jou gees nuut gebore en gevul met God se Gees en jy is in eenheid met God. Jou gees is rein en is honger vir die dinge van God. Jou gees moet gevoed word soos ‘n nuutgebore baba wat honger is vir die regte voeding. Hierdie nuwe lewe beteken dat jou fokus skuif van die ou verlede na nuwe ongelooflike Goddelike realiteite. Daar is nuwe waarhede om te ontdek wat jou aardse bestaan verander. Nie net jou eie nie, maar ander s’n ook.
Wanneer jy ná wedergeboorte sukkel met sonde, is dit jou vlees wat hunker na die verlede wat jy so goed geken het. Soos die Israeliete wat in die woestyn terugdink aan die vleispotte van Egipte. Hul dink in hul vlees terug en is lus vir daardie vleis. Hul dink dat dit beter was en vergeet (te midde van die wonderwerke) wat God alles gedoen het en besig is om te doen. Ons het nodig om te onthou waarvan ons gered is (2Pet.1:8). Dit is ook só belangrik om daagliks jou gedagtes te vernuwe en weer te commit aan God. Jou fokus moet eerder skuif na Koninkryk (2Pet.1:10) as om die heeltyd terug te dwaal na die verlede waarna jou vlees hunker. Jou vlees en gees is in ‘n stryd, want jou gees is suiwer, vol van die heerlikheid van die Here! Jou gees wil die nuwe lewe leef wat God vir jou in oog het! Hoe lyk hierdie nuwe lewe?
Waak en bid deurlopend. Hoe meer jy fokus op die regte voeding vir jou gees en om die Koninkryk uit te brei, hoe meer gaan jy wandel in hierdie heerlikheid, in die gees realiteit wat God vir jou in stoor het!
Lees:
Mediteer:
- Beteken wedergeboorte dat ek nie meer kan sondig nie?
- Wat moet ek doen om nie terug te val in my ou lewe van sonde nie?
- Wat is die verskil tussen my gees en vlees?
- Hoe lyk my nuwe lewe?
Bid:
Vader dankie vir U Gees wat my kom vul en laat honger vir U geestelike realiteite. Ek is skoon en heilig en my gees is rein. Dankie dat ek nie gebuk hoef te gaan onder die sondelas van die wêreld en my verlede nie, maar dat U my aanmoedig en bekwaam maak om die lewe te leef wat U en wat ek droom. Vir my is dit onmoontlik, maar vir U is alles moontlik! Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Ek leef ‘n nuwe lewe en spits my toe op Koninkryk realiteite!
Aanbidding:
Dag 5: Ingebreek
God herstel elkeen, wat hul sonde bring en bely, in geregtigheid. Dit is nie God se wil dat ons vashaak en oor en oor skuldig voel en sonde beleidenis doen vir alles wat ons nie weet of onthou nie. As ons berou getoon het is Hy getrou en regverdig en ons kan aan beweeg in transformasie.
As wedergeborene kan jou gees nie meer sonde doen nie. God het jou nuut gemaak met onverganklike, onbesmette, onaantasbare saad (DNA van God – 1Pet.1:23). Jou vlees sukkel egter nog om uit gewoonte patrone te kom en spesifiek in die area van jou jou hart en denke.
Ons gedagtegang is oor die jare heen so vasgelê in sekere opsigte, dat ons emosionele besluite neem op grond daarvan en dan oorgaan in aksies wat gewoontes kweek. Hierdie gewoontes breek moeilik as ons nie ons gedagtegang ook laat transformeer nie.
Die transformasie wat ons nodig het nadat ons wedergebore is, is ‘n mentaliteit-verandering. Jou vlees is soos ‘n perd wat ingebreek moet word.
Die verlore seun “kom tot homself” (Luk.15:17). Hy het tot ‘n besef gekom dat hy die seun is van sy pa en dat hy kan teruggaan, selfs al moet hy gestraf word of slegter af wees as tevore. Hy het verby gebreek en tot sy ware identiteit gekom en opgestaan en teruggegaan. Wanneer die seun by sy pa kom en probeer verduidelik, stop sy pa hom in sy spoor en sê “Wag! Diensknegte, bring vir hierdie seun van my ‘n kleed”.
Sonde hoef nie jou lewe te heers nie. Elke keer wat jy tot jouself kom en teruggaan na die Vader toe, word jy sterker. Elke keer wat jy kies om jou gees met Geestelike kos te voed, word jy sterker en breek jy jou vlees in. Solank as wat jy dit doen, is daar hoop om klaar te maak met sonde en ou gewoonte patrone.
Hy kies ‘n Bruid wat nie skoon is nie, maar vol sonde. Hy kies mense wat potensiaal het om te word wie Hy hul gemaak het om te wees. Hy bring haar (Sy Bruid) deurentyd voor Hom en was haar skoon met ‘n waterbad van woorde (Ef.5:26-27). Wanneer Hy na haar kyk is sy sonder vlek of rimpel. Hy bly kies haar as Sy Bruid, oor en oor en oor. Ten spyte van al haar foute.
Alles wat uit God gebore is, sal hierdie wêreld oorwin! (1Joh.4:4). Dié wat God se Gees ontvang het, en wat toelaat dat die Gees hul transformeer, leef in oorwinning.
Jou toegang tot God is oop!
Lees:
Mediteer:
- Hoe sorg jy dat jy getrou bly aan jou man/vrou in jou huwelik? Jy het oor en oor nodig om jou gedagtes te vernuwe aangaande jou eggenoot. Dit is veral wanneer daar moeilike tye kom wat jy meer as ooit nodig het om terug te dink aan die trou wat jy belowe het en dit opnuut in jou hart vas te maak. Jou eerste belofte en die ring aan jou vinger beteken nie dat jy nooit ontrou kán wees nie. Jy is waaksaam en sorg dat jy jouself herinner aan jou belofte. Net so met jou verhouding met God.
- Wanneer jy wedergebore is en afstand moet doen van jou ou weë, is dit dikwels nodig om vir ‘n tydperk terug te tree uit verkeerde vriendekringe en omgewings. Jy kan vir wysheid by die Here aanklop en Hom ook vra vir die geleentheid om jou getuienis te lewer. Indien mense om jou egter aanhou met ‘n verkeerde leefstyl, is dit beter om uit te tree en vir die Here te vra om iemand anders oor hul pad te stuur. Daar is ‘n tydperk waarin dit nodig is om jou redding op te pas en te voed, terwyl jy nog broos is en maklik kan terugval in ou gewoontes.
Bid:
Vader dankie dat U my gekies het as U Bruid en dat U my deurlopend skoon was met U Woorde. U bring my konstant voor U en wanneer U na my kyk sien U hoe skoon ek is. Ek staan in geregtigheid en vlekkeloos voor U. Dankie Abba
Bonus: Spreek Lewe!
God se toewyding aan my is vir ewig. Niks kan my skei van Sy liefde nie!
Aanbidding: