Go Deep 2 Junie 2024

The mind of Christ

Neville Goodchild

HET JY DIE HEILIGE GEES? 

Dag 1: Paulus by die gelowiges in Efese

Wedergeboorte, soos ons dit leer ken uit die Woord, bestaan uit bekering, waterdoop en dan die doping met die Heilige Gees.

Die godsdienstige omgewing beleef die bekering van ‘n persoon oor die algemeen as ‘n positiewe gebeurtenis wat gewoonlik as iets goed gesien word. Dieselfde godsdienstige omgewing beleef dit as baie konfronterend wanneer ‘n persoon hul wil laat doop in gehoorsaamheid na bekering. Dit is omdat die bekeringsdoop van Christene ‘n geweldige skuif in die geestelike omgewing veroorsaak. Baie mense beleef baie weerstand in hulle familie en verhoudings, wanneer hulle besluit om gedoop te word en selfs vervolging.

Paulus het in Handelinge 19 ‘n groepie gelowiges ontmoet in Efese. Hy vra toe vir hulle of hulle die Heilige Gees ontvang het toe hulle gelowig geword het. Hulle het geen idee gehad waarvan hy praat nie en hy het dadelik besef dat hulle nie die volheid van wedergeboorte kan beleef sonder die Heilige Gees nie.

Paulus het hulle toe gevra watter soort doop hulle dan gehad het as hulle nie weet van die Heilige Gees nie. Hulle was gedoop met die doop van Johannes. Dit was ‘n doop van bekering van sonde onder die Wet. Jesus Christus het intussen gekom en vir hulle sondes gesterf. Hulle was toe deur Paulus gedoop met die doop van bekering tot Jesus Christus as hulle verlosser en saligmaker. Nadat Paulus hulle gedoop het, het hulle die Heilige Gees ontvang.

LEES:

Hand 19:1-10

Mediteer:

  • Kan jy getuig van doping met die Heilige Gees of anders gestel, dat jy die Heilige Gees ontvang het nadat jy gedoop is, na jou bekering?
  • Het jy al die stap van gehoorsaamheid geneem om nadat jy tot bekering gekom het, jou ook te laat doop in die Naam van Jesus?
  • Indien jy enige vrae of onsekerhede oor bg. het kan jy enige tyd kontak maak met Lewende Woord se leiers vir leiding. Jy kan die Pastor on call nr skakel. 0608354778.

Bid:

Dankie Vader vir die gawe van U Heilige Gees. Dankie vir U Gees wat nie net in ons woon nie, maar ons ook bemagtig om in U koninkryk te werk. Wil U ons in die volle waarheid en openbaring gee van U Geeswerking en hoe om daaruit te leef. Amen.

Spreek Lewe!

Rom 8:5b “…, maar die wat hulle deur die Gees laat beheers, hou hulle besig met die dinge van Die Gees.”

Aanbidding:

Holy Forever // Chris Tomlin // Live From Worship Together 2024

Dag 2: Die tweede geboorte

Ons eerste geboorte is ons vlees geboorte. Dit was toe ons as babatjies in die wêreld gekom het. Ons natuurlike vlees mens word beperk deur sonde, skuld en vleeslike swakheid. Dit maak dit onmoontlik vir ons as mense om in die perfekte wil van God in te beweeg. God is gees en ons het nodig om in die gees te funksioneer om in God se wil te kan beweeg.

Wedergeboorte is ons tweede geboorte en is die geboorte van ons gees, deur die Heilige Gees. Ons geesmens is uit God gebôre. Die Woord sê dat alles wat uit God gebôre is sal die wêreld oorwin. (1 Joh. 5:4) Deur die werking van die Heilige Gees ontvang ons dus alles wat ons nodig het om in oorwinning te leef. Ons kan nie sondig in die geesmens nie. Heiligmaking vind plaas in ons vlees en siel dimensies, omrede ons in hierdie dimensies nog steeds kan sondig. Baie keer is ons hier vasgevang in gevestigde sonde of gedagte patrone.

Die realiteit is dat Jesus Christus ons geeslewe kom herstel het wat Adam in die sondeval verloor het.

Ons is dus na wedergeboorte geestelike wesens wat uit God gebôre is. Ons leef egter op aarde en het ‘n aardse ervaring. God gee aan ons ‘n ewigheidsperspektief. Ons is deel van die plan om die Koningkryk van God op aarde uit te brei. Ons werk is om ‘n lifelike geur op aarde te versprei en dit is die goeie nuus. Ons moet die evangelie versprei.

Lees:

1 Joh. 5:4

Mediteer:

  • Maak jou oë toe vir ‘n oomblik en dink na oor hierdie realiteit: sien jou gees wat wedergboorte evaar het en wat ewig met Vader verbind is en wat nie die vermoë het om te sondig nie. ‘n Ander deel van jou wese is jou sielsdimensie wat bestaan uit jou emosies, jou wil en jou denke. Dit is hier waar jy sondig en waar ‘n houvas van die vyand kan kom.
  • Dink nou oor die skrif waar Paulus praat oor die stryd tussen die vlees en die gees. Verstaan jy nou hoekom jy as wedergebore kind van Vader steeds sukkel met sonde en jou vlees?
  • Ons doel is om ons gees te laat heers oor ons vlees sodat ons effektiewe getuies vir Christus kan wees.

Bid:

Dankie Vader vir die ongelooflike voorreg om in my gees wedergeboorte te kan beleef. Help my asb om my vlees heeltemaal neer te lê en onder my gees se outoriteit te plaas. Vader dankie vir U Heilige Gees wat my hierin bystaan en bekragtig. Vader ek lê nou weer my vlees neer, sodat U Gees deur my gees kan werk, sodat ek ‘n effektiewe getuie kan wees vir U koninkryk.

Bonus: Spreek Lewe!

In Christus is ek meer as ‘n oorwinnaar deur die Heilige Gees wat my krag gee.

Aanbidding:

Made For More – Josh Baldwin ft. Jenn Johnson

Dag 3: God openbaar Sy gedagtes oor jou

Ouers wat gehoor het hulle gaan ‘n babatjie hê, begin dadelik droom oor die babatjie en oor die babatjie se lewe. Die babatjie is nog lank nie gebôre nie en hulle begin dink al aan dogtertjie en seuntjie name. Die Mamma begin al dink watter spasie in die huis die beste sal werk om die baba tafel in te sit waar baba gebad en versorg gaan word. Dit is ‘n groot opgewondenheid en afwagting rondom die hele gebeurtenis.

Hoe wonderlik is dit nie om te weet dat die gedagtes wat ons Hemelse Vader oor ons het is soveel meer. Jer. 29:11 “Want Ek weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee.” Verder skryf Dawid dat die wonderlike gedagtes wat God aangaande hom het is te veel om alles agter mekaar op te skryf. God het wonderlike planne vir ons en het ons elkeen uniek aanmekaar gesit, die Woord sê inmekaar geweef in ons moederskoot. Die drome en planne wat God het kan ons nie op ons eie bereik nie, dit is die volle geeslewe planne wat bewaarheid word wanneer ons die Heilige Gees ontvang het en weergebôre is.

Die Heilige Gees deursoek altyddeur die dieptes van God en openbaar dit dan aan ons. Dit is so wonderbaar om intieme kontak met God die Vader te hê deur die Heilige Gees wat in ons gees woon. Die Heilige Gees maak ons gedagtes oop om geestelike goed te verstaan wat ons nie met ons vleeslike perspektief of begrip sal kan verstaan nie.

Lees:

Jer. 29:11

Mediteer:

  • God was nie onkant gevang toe jou ma swanger geraak het met jou nie, Hy het jou reeds in Sy gedagtes gehad lank voor die grondlegging van die aarde.
  • Wat beteken dit vir jou? Glo jy dit?
  • Kan jy saam met Dawid bely dat God se gedagtes oor jou te veel is om op te noem?
  • Indien jy sukkel om te aanvaar dat God goeie gedagtes oor jou het en dat Hy groot drome vir jou lewe het omdat die omsatndighede waarin jy verwek is volgens jou dalk skandelik of verwerplik was wil ek hê jy moet stil raak en met Vader praat oor hoe Hy oor jou dink.
  • Indien jy hiermee sukkel kan jy vrymoedighed neem en ‘n leier by Lewende Woord skakel op 0608354778 om jou hiermee te help.
  • Vader het sekere sterkpunte, gawes en talente in jou geplaas wat Hy nodig het om in Sy koninkryk werksaam te wees. Hy wil jou deur Sy Gees lei tot op die plek waar jy die volle beeld van Vader uitstraal.
  • Vader brand om Sy hart en gedagtes wat Hy vir jou het aan jou te openbaar.

Bid: 

Dankie Vader vir U gedagtes oor my. So baie keer is my eie gedagtes oor myself so klein en negatief. Heilige Gees kom lei en leer my met Rhema woord wat U gedagtes oor my is. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ps.139:14b “wat U gedoen het vervul my met verwondering”

Aanbidding:

Jesus we praise You -  Paul Baloche & Christ for the Nation Worship

Dag 4: Die Heilige Gees vernuwe jou denke

Die gees realiteit is dat ons met bekering, doop en wedergeboorte die ou mens afgelê het, en ‘n nuwe skepsel is. In Christus Jesus is ons gered en die Heilige Gees het ons gees lewend gemaak. Ons kan dus in die gees getuig dat die graf leeg is. Ons was dood as gevolg van sonde, maar nou lewe ons deur die oorwinning van Jesus Christus en die kragtige werking van die Heilige Gees in ons.

Die probleem is dat ons nog fisies lewe in ons gebroke wêreld. Ons denke is nog vasgevang in ou sondige gewoonte patrone en denk patrone. Ons vlees is waar sonde gebeur en die vyand misbruik hierdie skakel wat nog bestaan met die ou mens. Ons stryd om die ou mens heeltemal neer te lê begin by bekering. Die vyand laat ons twyfel aan ons redding en waardigheid. Hy maak ons sondebewus en buit ons ou gewoontes en sondes uit. Hy probeer alles om ons geloofsoortuiging te opponeer. Baie keer begin mense wonder of hulle werklik gered is of word geestelik koud en verloor hulle oortuiging van redding. Dit is ‘n gevaarlike plek om te wees.

Die Woord sê dat ons gedagtes vernuwe moet word. Ons is ‘n nuwe skepsel en daarom moet ons oorskakel van die vlees na die gees. Ons kan nie ‘n nuwe skepsel wees en volhou met ou gewoontes en gedagte patrone nie. Die woord praat daarvan  dat mens kan nie nuwe wyn in ou wynsakke gooi nie, want dan sal die wynsakke skeur en ons sal die wyn en die sakke verloor. Ons kan dus nie ons ou mentaliteit op ons nuwe lewe toepaslik maak nie. Ons moet breek met ons ou menselike bestaan en ‘n nuwe denkpatroon aankweek in geloof deur die werking van die Heilige Gees in ons.

Moses en die hele volk het tot bekering gekom. Hulle het die bloed aan die deurkosyne gesmeer en God het die doodsengel by hulle laat verbygaan. Nie een van die eersgeborenes van die Jode, wat bloed aan die deurkossyne gehad het, het gesterf nie. Hulle het uit Egipte, uit die land van slawerny getrek. Toe hulle voor die Rooisee kom en die Farao en sy leërmag val die Jode aan, het God die see oopgekloof en die Israeliete het almal droogvoet deur die see geloop. Hierdie word beskou as die doop van die volk. Die vyand en al sy trawante het gesterf in die see, want God het die see oor hulle laat toegaan. Die duiwel verloor sy houvas oor God se kinders in die doop. Hulle het die kragtige werk van die Heilige Gees beleef. Alhoewel die volk van God bekering, doop en die werking van die Heilige Gees beleef het, het hulle steeds omgekom in die woestyn, want hulle het vasgehou aan hulle ou gewoontes en sondige begeertes. Hulle het terugverlang na die kospotte van Egipte.

Die Christelike lewe is ‘n stryd om lewe en dood. Die ou mens moet dood vir die gees mens, die nuwe mens, om te lewe. Die vlees moet onderwerp word aan die gees wat nuut gebôre is deur die Heilige Gees.

Lees:

Mark. 2:22

Eksodus 14 tot 16

Heb. 12:4 Afr. 83 Vert.

Gal.6:11-18

Rom 7:13-25

Mediteer:

  • As jy eerlik moet wees met jouself: wie is in beheer, jou gees wat gelei word deur die Heilige Gees of jou vlees wat gelei word deur jou vleeslike en sondige begeertes?
  • Is daar ‘n spesifieke area waar jy weet jy leef vanuit die vlees en jy is in ‘n stryd om dit te oorwin?
  • Hoe verhinder hierdie area van jou vlees wat jou gees oorheers jou om jou volle potensiaal te bereik in God se koninkryk?
  • Is daar sekere gedagte patrone waarmee jy sukkel?
  • Gedagte vernuwing neem tyd en verg ‘n intensionele poging van jou kant af om saam met die Heilige Gees sekere Woord waarhede te bely op ‘n gereelde basis totdat die nuwe waarhede die ou patrone vervang het.

Bid:

Vader ek bely voor U dat my vlees baie keer nog so sterk deurkom dat dit my gees heeltemaal oorheers. Vader help my asb deur U Gees om my vlees te oorwin sodat ek deur my gees kan leef en nie volgens my vlees begeertes nie. Heilige Gees ek nooi U opnuut om my te kom lei en my te bekragtig, sodat ek my denke kan vernuwe na die denke van Jesus. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek leef nie meer in die vlees nie, maar leef nou deur die gees mens wat gevul en bekragtig word deur die Heilige Gees, dieselfde Gees wat Jesus uit die dood opgewek het.

Aanbidding:

Jesus is my healer (Chapel Sessions)  I ft. Jessie Harris l Gateway Worship

Dag 5: Repent your mind to the mind of Christ

Metanoiate is actually the first command that Jesus gave. It is usually translated as “repent”, but literally, it means: Go beyond your current mindset, meta-nous, have a change of mind; a change of heart.

Rom. 12:2 “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.”

Fil. 2:5 “Want hierdie gesindheid moet in julle wees, wat ook in Christus Jesus was.”

God se gedagtes is verhewe bo ons gedagtes. God word nie beperk deur tyd, ruimte en die menslike verstand nie. Alleenlik as ons toelaat dat die Heilige Gees God die Vader aan ons openbaar, kan ons leer wat God se goeie, welgevallige en volmaakte wil vir ons lewe is. Alleenlik as ons in verhouding met God die Vader begin staan in Christus Jesus en onder leiding van die Heilige Gees, kan ons die waarheid ken, die regte gesindheid kweek en ons hart en gedagtes rig op God se hart en gedagtes. Dan kan ons die regte gesindheid kweek en uit dankbaarheid, in gees en waarheid bid en leef. 

Lees:                

Rom. 12:2

Fil. 2:5

Mediteer:

  • Is jou gedagtes belyn met God se gedagtes of is daar sekere gedagte patrone waarvan jy bewus is wat nog nie in lyn is met die gedagtes van Christus nie?
  • Sukkel jy dalk al al jare met sekere negatiewe gedagte patrone?
  • Om ‘n gedagte wat ‘n vaste breinpatroon gevorm het te verander na iets wat jy eerder as ‘n patroon wil vestig in jou denke, neem tyd en gebeur nie oornag nie. Die kortste tyd om ‘n nuwe gewoonte of ‘n nuwe gedagte patroon vas te maak in jou denke, is ten minste 21 dae.
  • Hoe:
  1. identifiseer een negatiewe denkpatroon bv; “Ek is nie goed genoeg om deur God gebruik te word nie”. Elke keer as jy dink om iets in God se koninkryk te doen, dan onttrek jy liewer omrede jy hierdie ingebrande leun in jou denke, glo.
  2. Ontdek die waarheid saam met die Heilige Gees in God se woord oor hierdie gedagte.
  3. Skryf die waarheid neer op papier en verander dit in ‘n stelling wat jy kan spreek bv; “Ek is skoon verklaar deur Christus op grond van Sy kruisdood. In Christus is ek nou as heilige verklaar, geregtig in Christus en daarom kan ek met vrymoedigheid deelneem in koninkryk werk”
  4. Bely en spreek hierdie waarheid elke dag as jy opstaan, voor jy gaan slaap en elke keer as die leun van dat jy nie goed genoeg is nie in jou gedagtes opkom. Vervang daai leun met hierdie waarheid en hou aan daarmee vir ten minste 21 dae of langer, totdat hierdie stelling jou waarheid geword het.

Bid:

Vader, wil U asb deur die Heilige Gees vir my wys op my negatiewe ingebrande denkpatrone. Vader wil u my help om U waarheid oor hierdie leuns te ontdek. Gee my ook die dissipline om hierdie nuwe waarheid daagliks oor en oor te spreek totdat dit my nuwe ‘default’ gedagte is. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Die gedagtes wat Vader oor my het is ver verhewe en beter as wat ek ooit kan dink.

Aanbidding:

I could never outlove the Lord (Lyric video/ Live at Indiana Roof Ballroom,Indianapolis)

Made For More – Josh Baldwin ft. Jenn Johnson