Go Deep 09 Junie 2024

IS HY WAARDIG?

Retief Burger

 

Dag 1: Wat is aanbidding?

Hoe lyk aanbidding in jou lewe? Hoe lyk dit vir jou wat nie kan sing nie, of nie opgesweep word in emosies wanneer daar musiek is nie? Hoe lyk aanbidding wanneer daar nie musiek ís nie? Hoe lyk dit wanneer jy by die kerk uitstap of by die werk instap? Waaraan hou jy vas in die uitdagende tye van die lewe?

Om God te aanbid gaan oor baie meer as net musiek. Aanbidding is deel van wie ons is!

Glo jy dat enige iets op aarde (behalwe sonde) as aanbidding gedoen kan word? Jy kan jou werk, tuis of by die kantoor, al jou verantwoordelikhede sowel as jou stokperdjies, kuns en sport tot eer van God doen. Om God te aanbid gaan oor die manier waarop ons lewe en waarvoor ons lewe. Dit is ook in die uitdagende tye van die lewe wat aanbidding baie meer is as om net te sing. We praise Him when we feel like it, and we praise Him when we don't!

Die Here is betrokke in elke oomblik van ons lewens. Hoe jy jou lewe leef is 'n antwoord op wie God is, wat Hy gedoen het, hoe Hy jou gemaak het en wie Hy sê jy is.

Worship is our response, both personal and corporate, to God for who He is, and what He has done, expressed in and by the things we say and the way we live – Louis Giglio

Lees:

Open.4:1-11

Mediteer:

  • Glo ek dat God waardig is van my aanbidding?
  • Glo ek dat God goed is?
  • Twyfel ek oor God se waardigheid of goedheid? Waarom?
  • Hoe lyk my aanbidding in my binnekamer?
  • Hoe lyk my aanbidding in die alledaagse take en dinge van my lewe?

Bid:

Here, kom breek hierdie week ware aanbidding vir my oop sodat ek U kan aanbid met geen terughou of gebrek nie. Dankie dat U my ontmoet op die plek waar ek is. U is my God.

Bonus: Spreek Lewe!

God is waardig om aanbid te word!

Aanbidding:

As ek voor U voete val – Retief Burger

Let My Life Be Worship – Bethel Music

Dag 2: Is God waardig om aanbid te word?

Aanbid (worship) ek die Here in alles wat ek doen? Die woord Worship se oorsprong kom eintlik van “worth-ship” af, wat beteken dat jy waarde heg aan iets of iemand. Dit is om eer aan iets of iemand te gee.

Ons het ‘n vrye wil gekry en daarom kan ons besluit watter waarde ons toeskryf aan dinge in ons lewens. Sekere dinge is vir ons meer belangrik as ander en ons heg ‘n waarde daaraan toe. Watter waarde heg ons aan God? Watter gewig dra Hy in ons gedagtes en harte?

Hoe kan ek sê, of ek nou sing of bid of op ‘n ander manier getuig, dat God waardig is? Wat maak Hom waardig? Is dit werklik só? Hoekom sal ek kies om my lewe vir Hom neer te lê en nie meer vir myself te lewe nie?

God is nie waardig omdat ek so sê of so dink nie. God se karakter hang nie af van my nie. God se karakter is standvastig en betroubaar. Hy verander nie soos die mens of soos die weer nie. Of dit goed gaan met my of sleg gaan met my, is nie omdat God eendag besluit om my te seën en die volgende dag besluit om my te straf nie. Nee, God bly goed en Hy bly uitnemend. Die op en die af van my wêreld is juis dit, die op en die af van hiérdie wêreld – nie omdat God op en af is nie; nie omdat God goed en sleg is nie. God is goed. God is waardig. God is lankmoedig. God is getrou. God is heilig. God is konsekwent. God is genadig. God is Almagtig. God is kragtig. God is geregtig. God is standvastig. God is geduldig. God is wysheid. God is nederig. God is barmhartig. God is vrede. God is liefde en vol trou!

To settle the worthiness of God in your life will be one of the most life-altering things you will ever do. And if you can settle this, it will change everything. It will make you secure, filling you with a hope and an eternal trust that will help you weather any storm!

Lees:

Open.4:1-11

Mediteer:

  • Wat maak God waardig om aanbid te word?

Bid:

Vader kom openbaar en prent U waardigheid in my diepste wese. Ek wil ‘n Heilige ontsag vir U hê wat opreg is.

Bonus: Spreek Lewe!

U is!

Aanbidding:

U is ons alles – Retief Burger

I Believe – Charity Gayle

Dag 3: God is waardevol

Johannes is die dissipel wat teenaan Jesus se bors gelê het (Joh.13:23). Hy is die een wat daar bly staan het by die kruis toe almal weggehardloop het. Later is hy verban na die eiland Patmos. Hy is daarheen verban omdat sy passie vir Jesus onuithoudbaar was vir die mense en spesifiek vir die regering. Hy was uitverkoop vir Jesus! Dit is daar waar Hy alleen is wat God vir Hom ‘n visioen van Sy heerlikheid gegee het:

“En dadelik was ek in die Gees, en kyk, daar staan 'n troon in die hemel en Een sit op die troon. En Hy wat daarop sit, het in sy voorkoms gelyk soos die steen jaspis en sardius; en rondom die troon was 'n reënboog wat in sy voorkoms gelyk het soos 'n smarag” (Joh.4:2-3).

God is waardig omdat Hy waardevol is. Niks kan met Hom vergelyk nie, en selfs die beste beskrywings en dit wat vir ons die mooiste skitter, kan Hom nie beskryf nie. Ons kan net dit begryp wat ons reeds ken.

“VERDER is die koninkryk van die hemele soos 'n skat wat verborge is in die saailand, wat 'n man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand” (Mat.13:44).

Het jy Jesus Christus al ontdek soos ‘n waardevolle skat waarvoor jy alles sal verkoop om Hom te hê?

Paulus sê: “Indeed, I count everything as loss because of the surpassing worth of knowing Christ Jesus my Lord. For his sake I have suffered the loss of all things and count them as rubbish, in order that I may gain Christ” (Phil.3:8 ESV).

Wat is tans vir jou die waardevolste in jou lewe? As jy dit moet opweeg teen Jesus, is daar nie veronderstel om ‘n vergelyking eers te wees nie. Om alles te sien as minder as Jesus Christus, maak jou vry!

“When I survey the wondrous cross on which the Prince of glory died,

my richest gain I count but loss, and pour contempt on all my pride.

Forbid it, Lord, that I should boast, save in the death of Christ, my God!

All the vain things that charm me most, I sacrifice them to His blood.

See from His head, His hands, His feet, sorrow and love flow mingled down.

Did e’er such love and sorrow meet, or thorns compose so rich a crown?

Were the whole realm of nature mine, that were a present far too small.

Love so amazing, so divine, demands my soul, my life, my all.”

– Isaac Watts 1826

Lees:

Open.4:1-11

Mat.13:44

Phil.3:8

Mediteer:

  • Wat is die kosbaarste in my lewe? Hoe wys my aksies dit?
  • Wat maak Jesus Christus so kosbaar soos ‘n skat?

Bid:

Hoe groot is U majesteit! Ek wil U lof besing en aan U al die eer bring vir die res van my lewe!

Bonus: Spreek Lewe!

God is waardevol!

Aanbidding:

Majesteit – Retief Burger

Name Above All Names – Charity Gayle

Dag 4: God is gekwalifiseerd

“En elke keer as die lewende wesens heerlikheid en eer en danksegging gee aan Hom wat op die troon sit, wat tot in alle ewigheid lewe, val die vier-en-twintig ouderlinge neer voor Hom wat op die troon sit, en aanbid Hom wat tot in alle ewigheid lewe, en werp hulle krone voor die troon en sê: U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape” (Open.4:9-11).

Die feit dat God alles geskape het kwalifiseer Hom om aanbid te word. Daar is baie teorieë oor hoe alles ontstaan het. Sommige glo dat daar geen God is nie, dat daar geen skepper is nie en dat niemand verantwoordelik gehou kan word vir alles wat bestaan nie. Die mens wil homself graag in die posisie van God plaas en as sy eie god heers.

Alles wat gemaak is skree uit dat daar ‘n God is. Kyk net na die fynere detail van hoe ons geskape is. Daar is soveel wat gebeur in jou liggaam net met een asemhaling. Die heelal getuig dat ons geskape is. Alles skree dat God vir my is! Omdat Hy my geskep het, verdien Hy al my lof en aanbidding.

Ek raak eintlik duiselig soos ek aan Hom dink, aan Sy heerlikheid.

Hoe volmaak is ons God se liefde nie. Daar is geen ander God wat Homself nie te hoog ag om soos ons, Sy skepsels, te word, sodat Hy ons kon red nie!

Lees:

Open.4:1-11

Mediteer:

  • Wat kwalifiseer God om my aanbidding, my eer, my lof te ontvang?

Bid:

Here dat alles in my lewe na U toe wys en aan U eer bring. Mag U Naam verhoog word waar ek wandel. Want U het my gemaak vir U. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

God is gekwalifiseerd as my Maker, my Leier, my Pappa, my Leermeester! Jesus is my Redder, my beste Vriend, my Prins van Vrede, my Here! Heilige Gees is my Krag, my Vertrooster, my Voorspraak!

Aanbidding:

In Verwondering – Louis Brits, Retief Burger, Neil Büchner, Helmut Meijer

The Heart of Worship – Matt Redman

Here I Bow – Brian & Jenn Johnson

Dag 5: God verdien dit

“EN ek het in die regterhand van Hom wat op die troon sit, 'n boek gesien, van binne en van buite beskrywe en met sewe seëls goed verseël. En ek het 'n sterk engel gesien wat met 'n groot stem uitroep: Wie is waardig om die boek oop te maak en sy seëls te breek? En niemand in die hemel of op die aarde of onder die aarde kon die boek oopmaak of daarin kyk nie. En ek het baie geween, omdat daar niemand waardig bevind is om die boek oop te maak en te lees of daarin te kyk nie. Toe sê een van die ouderlinge vir my: Moenie ween nie; kyk, die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van Dawid, het oorwin om die boek oop te maak en sy sewe seëls te breek” (Open.5:1-5).

Van die begin af tot in die eindtyd is daar niemand bo in die hemel of onder op die aarde of onder die aarde wat waardig genoeg is om die Boek oop te maak nie. Niemand, behalwe die Leeu wat oorwin het nie. Hy is heilig, heilig, heilig! Waardig, waardig, waardig! Hy is die vlekkelose Lam, die enigste Een wat volwaardig kon instaan vir die mensdom. Soos almal deur een (Adam) in sonde verval het, is Jesus die enigste Een wat almal kon red (Rom.5:15-21). Hy het alles vir ons gegee. Hy het die prys betaal, Hy het die oorwinning behaal! Hy verdien al die lof en die eer!

“Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof. En elke skepsel wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde en wat op die see is, en alles wat in hulle is, het ek hoor sê: Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!” (Open.5:12-13).

Lees:

Open.4:1-11

Open.5:1-5

Rom.5:15-21

Mediteer:

  • Wat het Jesus vir jou gedoen?
  • Waarom verdien die Here jou aanbidding?

Bid:

Aan U Vader wat op die troon sit, en aan U Jesus, die Lam kom toe al my lof en al my eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! (Open.5:12-13)

Bonus: Spreek Lewe!

Ek aanbid God omdat Hy waardig en gekwalifiseerd is, en my aanbidding verdien! Die hoogste eer en heerlikheid en lof kom toe aan die Here, my God!

Aanbidding:

Hoe groot is U liefde – Retief Burger

Holy Forever – Chris Tomlin