‘DIE GEES-INTERSEKSIES IN JOU LEWE’
Neville Goodchild
Die wil van God

Dag 1: Wanneer? Wanneer jy besluit!
Die tema van die nuwe reeks is ‘Die Gees-interseksies van jou lewe’. Dadelik wonder ons wat is ‘n Gees-interseksie.
‘Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.’ Joh. 3:8
Ons kan nie die Heilige Gees sien nie, maar God is Gees en so ook elkeen wat in Christus Jesus wedergebore is. ‘n Gees-interseksie is waar ons fisiese lewe op aarde en wat God doen bymekaar kom.
Elke kind van God sal baie spesifiek vir jou kan sê van geleenthede waar hulle die teenwoordigheid van God beleef het en die hand van God gesien het. Daar was tye waar hulle emosionele belewenisse gehad het. Party beleef ‘n warm gevoel. Ander voel ‘n wind wat waai. Ander se trane loop van blydskap.
Hierdie kan egter nie ‘n maatstaf wees vir wanneer ons en God se paaie, by wyse van spreke, kruis nie. Ons kan nie wag vir ‘n spesifieke atmosfeer of gevoel voordat ons gehoorsaam is en doen wat God vir ons sê om te doen nie. Indien ons dit sou doen sal ons baie selde deelneem aan die werk in die Koninkryk van God.
‘n Belangrike faktor is dat ek moet deelneem en meedoen, alvorens ek ‘n Gees-interseksie kan beleef.
My storie van my lewe vertel van oorwinnings en nederlae, foute, verkeerde en regte keuses. Ek het fisies geleef en gedoen. As ek dan kyk na die storie van my lewe kan ek sien dat my lewe aansluit by God se wil, waar ek deelgeneem het.
‘n Voorbeeld hiervan is waar ek toevallig gehoor het waaroor iemand gepraat het. Ek het by die geselskap aangesluit, omdat ek ‘n bydrae kon maak deur kennis van die Woord. Iemand se lewe is gered, omdat ek aangesluit het en deelgeneem het waar God besig was.
Die antwoord op die vrae: Wanneer?
Wanneer werk God?
Wanneer begin die Here die rigting van die storie verander?
Wanneer gebeur die wonderwerk? …
WANNEER JY BESLUIT!
Die Gees-interseksie gebeur nie wanneer ek so voel nie, dit gebeur as ek besluit om deel te neem.
LEES:
Mediteer:
- Kan jy getuig van gereelde oomblikke waar jou aardse lewe kruis met met die wil van Vader?
- As jy dink oor jou manier van deelname, neem jy maklik deel by oomblikke waar jy sien Vader is nodig of waar jy sien, jy kan ‘n verskil maak deur jou inspraak, liefde, gebed ens of is jy meestal maar net ‘n toeskouer?
- Probeer dink aan oomblikke waar jy deelgeneem het, toegetree het tot ‘n gesprek, saam gebid het met iemand of gegee het en jy kon sien hoe die situasie verander het.
- Dink ook aan oomblikke waar jy teruggestaan het en nie deelgeneem het nie en waar jy spyt was dat jy nie deelgeneem het nie.
- Deelname is ‘n daaglikse besluit, ‘n keuse om toe te laat dat jou en God se wêrelde kruis.
Bid:
Dankie Vader dat, omdat ek wedergebore is, kan my lewe en U lewe daagliks kruis. Help my om in U Gees te wandel sodat ek daagliks die geleenthede sal sien waar ek kan deelneem. Vader ek besluit nou om van vandag af ‘n deelnemer te wees en nie net ‘n toeskouer nie. Amen.
BONUS: SPREEK LEWE!
My keuse om deel te neem kan lewens verander.
Aanbidding:
Holy Spirit Living Breath of God (Official Lyric Video) – Keith & Kristyn Getty

Dag 2: God se soewereine wil
Die wil van God is nie moeilik om te verstaan nie. God se wil bestaan uit vier fassette:
- Soewereine wil
- Morele/geopenbare wil
- Toegelate wil
- Persoonlike wil vir jou lewe
God se soewereine wil is Sy besluit. Die bepaling wat God gemaak het. Dit is soos wat God sê en dit sal nie deur enige mens of situasie verander word nie. Dit is God se meesterplan en is onbeweeglik.
'9 Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; 10 wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen; ' JESAJA 46:9-10
Om duidelikheid hieroor te kry kyk ons na ‘n paar voorbeelde van God se soewereine wil, wat gebeur het en gaan gebeur:
God het die aarde geskape en alles wat daarop woon.
God het besluit om die mens te maak na Sy beeld en gelykenis.
Jesus Christus gaan weer kom.
God het besluit om Sy Seun te stuur om die sonde van die wêreld weg te neem en die mens met God te versoen, sodat elkeen ‘n geleentheid kan hê om gered te word.
Dit is God se wil wat Hy bepaal het en niemand kan dit verander nie.
Lees:
Mediteer:
- Raak stil en dink hoe raak of beinvloed God se soewereine wil jou lewe.
- Dink bv. aan jou posisie voor Vader as seun/dogter agv Sy soewereine wil dat elke mens wat glo en bely dat Jesus die Seun van God is gered sal wees.
- Dink aan nog maniere hoe jou lewe geraak word omdat Sy soewereine wil vas en onbeweeglik is.
Gebed:
Dankie Vader dat sekere dinge vas is en dat niks wat ‘n mens of enige ander wese doen U soewereine wil kan verander nie. Dankie Vader vir die veiligheid wat dit vir my bring as U kind. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Ewige lewe is my erfdeel, omdat Vader se soewereine wil in Jesus nie kan verander nie.
Aanbidding:
What a Beautiful Name (Lyric Video) – Hillsong Worship

Dag 3: God se morele of geopenbaarde wil
Die Bybel gee lering oor hoe ons moet leef in God se Koninkryk. Dit gee leiding oor hoe ons besigheid moet doen, finansies moet bestuur, die huwelik, kinders moet grootmaak, vergewe en liefhê. Die Bybel gee lering oor alles in ons lewens.
Die Bybel bepaal dat ‘n man en ‘n vrou in ‘n huwelik sal staan voordat God dit sal seën. Dit pas nie aan of verander met tyd nie, ook nie in 2026 nie. Ons het nie ‘n ‘cancel-culture’ nie. Die Koninkryk van God kanselleer nie mense nie. Die Woord lei ons en leer ons wat die wil van God is. Ons hoef nie daaroor te wonder nie. Daar is nie ‘n enkele ding waaroor ons moet besin, waarvan daar nie geskryf is in die Woord van God nie.
Oor die huwelik staan daar geskrywe wat God se morele wil is. Lees daaroor in 1 Pet. 3:7, Ef. 5, Gen. 1 en 2.
Wat is die opsomming van God se morele wil. Ons kry dit in 1 Tess. 4:3 ‘Want dit is die wil van God: Julle heiligmaking.’ God wil hê jy moet heilig wees. God se wil is God se Woord. Lees en doen die Bybel. As God se wil is dat ons moet heilig wees en jou lewe strook nie daarmee nie, dan weet jy dat jy nie vir Jesus volg nie.
Die Woord sê gaan na alle volke, nasies en tale oor die hele aarde en lei hulle tot bekering. Hê hulle lief. Dit is God se wil.
Alles oor hoe ons moet optree is in die Woord van God. Dit gaan nie net oor seksuele goed nie. Hier is ‘n paar praktiese goed:
- Moenie die KFC papiere by die ruit van die voertuig uitgooi nie. Die Woord beskryf wat ons met die skepping moet doen.
- Ek kannie geldelike seën verwag as ek nie die beginsels van God in finansies nakom nie.
- Wees getrou in jou besigheid aan die besigheidsbeginsels van die Bybel. Daar staan geskrywe Ek sal jou leer om wins te maak. Daar is nie 'n kortpad of 'n kulkuns wat my gaan help om gou geld te maak nie. Ek moet getrou die handleiding van God volg.
- Wees voorspelbaar, gehoorsaam, wees getrou, wees konstant, wees lief, gee, wees die minste, luister en leer.
- Leef jou getuienis en laat jou lewe getuig dat jy die Woord doen.
Ek kan nie verwag om vrug te sien, maar ek kies om nie die beginsels van die Woord toe te pas nie. Wanneer ek kies om ongehoorsaam te wees aan die Woord van God, kan ek nie verwag dat God dit moet seën nie. Die Woord is my etiese kompas waarvolgens ek moet leef. Die Woord kalibreer my lewe.
Lees:
Mediteer
- Hoe lyk jou lewe as jy alleen is, as jy reis, as jy ‘n kwotasie moet kry of as jy alleen is saam met ‘n kollega van teenoorgestelde geslag?
- Het jy al ‘n defnitiewe besluit geneem om volgens God se morele waardes te leef of doen jy maar soos die geleentheid hom voordoen?
- Raak stil en bedink jou lewe, lewe jy volgens God se Woord?
- Neem nou ‘n besluit om jou lewe te belyn met God se morele wil.
Bid:
Vader ek bely waar ek gefaal het volgens U morele standaarde. Vader ek neem nou weer ‘n bewuste besluit om U woord te gebruik as my absolute standaard vir my leefwyse. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Daar is lewe in God se beginsels!
Aanbidding:
John Waller - "While I'm Waiting" feat. scenes from Fireproof

Dag 4: God se toegelate wil
Daar is ‘n aspek van God se wil wat ons toelaat om sekere besluite te neem. Ons kies die persoon met wie ons wil trou. God kies nie vir jou of stuur iemand na jou toe nie. As dit so sou gewerk het sou ons kon draai na God en Hom blameer indien dit nie sou uitgewerk het nie. Mans sou kon sê: ‘Here die vrou wat U vir my gegee het, het dit of dat gedoen.
“Love is a choice.’ Indien jy jou huweliksmaat gekies het en julle dan die Bybelse beginsels toepas, sal God jou keuse seën. Dit is die enigste verbond waar die mens besluit en God dan die keuse seën. Daar is goed waar God ons toelaat om keuses te maak. Daar sal gevolge wees, maar hierdie goed is nie goed wat mens laat verlore gaan nie. Dit is nie ‘n geval dat as ons ‘n verkeerde keuse gemaak het, God nou Sy rug op ons sal draai nie.
1 Kor. 10:23 praat hiervan. “Alles is my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie. Alles is my geoorloof, maar nie alles stig nie.”
Ons moet keuses maak in die lewe. Ek moet besluit oor wat ek wil gaan studeer; waar wil ek gaan studeer; wie is my vriende, ens. Indien ek sou besluit ek moet nou Kaapstad toe ry kan ek nie eers ‘n afspraak by die prediker maak om te hoor of dit reg sal wees nie, want ek is bang dat ek die verkeerde besluit neem en dan sal die Here my alleen laat ry. Dit is nie die waarheid nie. Dit is God se toegelate wil. Ons moet oor die goed besluit. Dit is so dat ons kan verkeerd besluit en dat daar dan gevolge sal wees. Ons kan met God daaroor praat, maar Hy gaan nie ‘n engel met ‘n swaard stuur om ons te antwoord nie. Ons kan bid vir die Gees van Wysheid. Ons kan bid in die Gees.
Rom. 8:26-28 “En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge.”
Niks wat ek besluit is buite God se bereik om te beredder as ek vir God kom sê: ‘Red my!!’, nie. Daar sal gevolge wees, maar God kan ons red. Ander mense se keuses kan ook jou lewe vernietig in ‘n seisoen, maar nie laat verlore gaan nie. Die feit is dat God alles ten goede laat meewerk vir die wat Hom liefhet. Die Woord sê ook dat dit wat die vyand beplan het vir boosheid, het God vir heerlikheid bestem vir jou.
Hier kyk ons na die verhaal van Josef wat deur sy broers verkoop is in slawehandel aan die Egiptiese Koning en hoe Josef in die tronk beland het. Op ‘n stadium kan ‘n mens wonder waar God in die verhaal is. Dan kom God en red nie net Josef se familie nie, maar ook die Jode en die Egiptenare deur met Josef te wees en hom te seën met wysheid.
Dit is God se toelaatbare wil. Ons moet besluit.
Lees:
Mediteer:
- Hoe voel jy daaroor dat jy die vrye wil het om te kies oor die grootste deel van jou lewe?
- Kan jy dink aan die gevolge wat jy mee sit agv jou eie keuses? Dit kan goed en geseënde gevolge wees of dit kan negatiewe gevolge wees.
- Indien daar negatiewe gevolge is waarmee jy nou sit agv jou keuses in die verlede, glo jy dat Vader dit kan red en kan intree sodat die negatiewe kan verander word in ‘n positiewe?
- Raak stil en praat met Vader oor dit en vra Hom om in te tree.
Bid:
Dankie Vader vir vry wil, waar ek vry is om te kies. Vader help my om goeie besluite te neem. Vader waar ek slegte keuses uitgeoefen het en nou met die negatiewe gevolge sit wil U asb intree en die situasie kom beredder in Jesus naam. Amen.
Bonus: Spreek Lewe
Alles werk ten goede vir die wat Hom lief het, wat in verhouding staan met Vader.
Aanbidding:

Dag 5: God se persoonlike wil.
God se persoonlike wil vir elkeen van ons se lewe ontvou die oomblik wanneer ons in die geeswêreld instap. Die oomblik wanneer ons tot bekering kom, kan ons in God se spesifieke wil vir jou lewe begin wandel. God is gees en ons ontvang die Heilige Gees die oomblik as ons tot bekering kom. Daar ontstaan ‘n persoonlike konneksie met God.
Koning Dawid sê dat die gedagtes en drome wat God van hom het, is te veel om op te noem. (Ps. 40:6) God het wonderlike drome oor elkeen van ons. Koning Dawid is hier ‘n volwasse man wat al baie van die lewe ervaar het en God persoonlik ken en beleef het. Hy het die goedheid en die voorsiening in die vallei van die dood gesien. Hy is nie ‘n onervare kind wat hier praat nie.
Ons is nie net gered van sonde en bevry van die bose nie, ons is gered vir ‘n doel en bevry vir ‘n rede.
'10Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel. 'Ef. 2:10.
Ons kan sien dat dit is persoonlik. God praat persoonlik met elkeen van ons en maak ‘n roeping en doel wakker in ons binneste. Dit is in hierdie faset van God se wil waar ons kan hoor dat ons spesifieke goed moet doen, bv. gee vir ‘n spesifieke doel; bid saam met iemand; iemand bel en hoor hoe dit gaan; sekere bediening ondersteun met ons tyd en/of geld. Dit is in hierdie faset waar ons stil moet word en by God moet hoor en dan gehoorsaam moet wandel daarin. Jy moet persoonlik met God ‘’n verhouding hê en Hy met jou. God wil met jou praat en Sy persoonlike wil vir jou bekend maak.
'8Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; my oog sal op jou wees. ' PSALMS 32:8
- Onderrig – Wees onderrigbaar
- Leer – Laat God jou leer en Heilige Gees jou lei in die pad wat jy moet gaan
- Raad gee – Luister na God se raad
- Persoonlike verhouding – God se persoonlike aandag
Die meeste mense verstaan God se soewereine wil. Dit is vaste besluite van God oor wat gaan gebeur en wat reeds gebeur het, waaraan ‘n mens niks kan doen nie. Dit staan vas en die mens moet glo dat dit so is. Dit vat nie tyd, gehoorsaamheid, bereidwilligheid om te luister en om te verander, Heilige Gees onderrig en leiding, sensitiwiteit in die gees of enige bydrae van die mens nie. Al hierdie goed is nodig om God se persoonlike wil te ken. Indien mens nie tyd saam met God bestee, ‘n persoonlike verhouding met God bou en leerbaar is nie, sal jy nooit die persoonlike wil van God ken nie. Dit is hoekom baie mense net met die soewereine faset van God se wil assosieer en nie met die persoonlike faset van God se wil nie. Baie mense is nie bereid om tyd by Jesus se voete deur te bring nie en is nie onderrigbaar nie. Hulle wil God se wil vir hulle lewe hê soos ‘n geskenk, maar hierdie persoonlike, intieme wil van God word net geopenbaar in persoonlike verhouding met God.
Maria en Marta het ‘n persoonlike verhouding met Jesus. Hulle spandeer tyd met Hom. Maria sit heeldag by sy voete. Martha bedien Hom en sy dissipels die hele dag en dan praat Jesus van die opstanding van die dooies en Marta sê vir die Here dat sy weet dat die dooies eendag opgewek gaan word. Jesus sê vir Marta dat Hy nie praat van eendag nie. Hy praat van Lazarus, haar broer, en Hy praat van vandag. Jesus het daardie selfde dag Marta en Maria se broer Lazarus uit die dood opgewek, want hulle het persoonlike verhouding met God gehad. Hulle was leerbaar. Hulle het lering gehoor en hulle het toegelaat dat die Woord en die Heilige Gees hulle denke vernuwe. Hulle was gehoorsaam. Hulle het hulle lewe gerig op God se persoonlike wil vir hulle lewe. Dit was hulle vreugde en vrede.Dit et en stem saam daarmee, want dit verwag niks van my nie. Dus mis baie mense God se persoonlike wil.
Lees:
Mediteer:
- Om God se persoonlike wil vir jou lewe te hoor, direk by Vader, is veral van uiterste belang wanneer jou besluite ander mense se lewens beïnvloed.
- Jy is ‘n unieke mens met ‘n unieke roeping op jou lewe, Die geheim is om dit in ‘n persoonlike verhouding met Vader te vind.
- Vra jouself: Spandeer ek intensioneel tyd met God? Is ek onderrigbaar? Laat ek toe dat God my leer? Luister ek na die raadgewing van God? Laat ek toe dat die Heilige Gees my lei in die Woord? Beleef ek persoonlike verhouding met God en dat Sy oog op my is en bly?
Bid:
Dankie Vader dat ek in persoonlike verhouding met U kan staan. Dankie Vader dat U ‘n baie unieke wil vir my lewe het. Help my deur U Gees om dit duidelik te hoor. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
U leer en rig my in elke fasset van my lewe!
Aanbidding: