Vind, Volg en Vervul
Neville Goodchild
Leef in God se wil ten spyte van ...
Dag 1: Die dag toe Jesus “afdwaal”
Nee, Jesus het nooit afgedwaal nie. Inteendeel, Hy het die perfekte lewe volgens God se wil geleef. Nain was nie ʼn dorp waarna mense sou gaan uit eie wil nie. Vir seker was dit nie ʼn vakansieplek nie. Klein, uit die pad uit en onbelangrik. Hy het geweet dat Hy daar moes wees.
Tóg het Jesus ʼn afspraak met ʼn vrou vir wie die wêreld op daardie stadium stil gaan staan het. Inteendeel, haar lewe is verskeur deur rou en seer. Lukas 7:11-17 beskryf hierdie so mooi.
Ons lees dat sy ʼn weduwee is. Dat haar enigste seun oorlede is. Haar wêreld is omgekeer. Kan jy jou indink?
Jesus soek haar op in die middel van haar trauma, dit is hoe Sy liefde werk. Hy soek nie net die goeie omstandighede op om ons te soek nie, dit is maklik om te hanteer. Nee, die Here wil ons help wanneer ons desperaat, seer, siek en ongemaklik is, want dit is wanneer Hy weet ons Hom die nodigste het. Dit beteken natuurlik nie dat Hy nie saam met ons fees vier wanneer ons sukses bereik nie, Hy is alomteenwoordig. Dit is ʼn groot woord, maar waar. Hy is oral. Hy herstel iets van die nodigheid van die lewe. Uitkoms. Liefde. Nuwe begin. Al hierdie dinge is beskikbaar vir ons.
Die ding is, die Here is nie eksklusief beskikbaar vir “uitstaande Christene” nie. Ons word oorval met “getuienis” dat “die Here vir my gesê het en ek sê vir Hom ...”
God se hart werk nie so nie. Almal welkom, almal gelyk in Sy oë, Sy wil is nie ʼn spesialiteitsgebied wat net vir sommige beskikbaar is nie. Dit is vir my en jou beskikbaar. Die volgende vier dae se dagstukke gaan dit verder uitlig.
LEES:
MEDITEER
- Hoe dringend soek ons God se wil?
Bid:
Vader, dankie dat U afdraaipaaie vat ons om te ontmoet, veral wanneer ons dit die nodigste het, In Jesus naam, Amen.
BONUS: SPREEK LEWE!
Die Here sorg, ek kan ophou om myself so te bemoei met die lewe.
Aanbidding:
This is amazing Grace – Phil Wickham

Dag 2: Val God se wil net op sekere mense?
Hierdie week se dagstukke gaan ons ʼn bietjie laat strek (stretch) om regtig by die punt uit te kom. Wat is God se wil vir my lewe? Hoe posisioneer ek myself om daar in te kom?
Ons gaan ʼn klomp waarhede met mekaar deel wat ʼn mens spieël toe dwing. Selfondersoek. Die Waarheid teen die bors vat. Ons gaan dit verorber en dan gaan ons dit uitleef. Daar gaan ʼn paar beginsels in die volgende dae opkom, maak seker jy mis dit nie.
God se wil word nie per ongeluk vervul nie. Met of sonder ons deelname gaan Sy wil nog steeds gebeur. Ons kan nie in ons gemaksones sit en hoop dinge gebeur net vir ons nie. God se wil gebeur nie sporadies in ons lewe wanneer die omstandighede reg is nie, dit gebeur die hele tyd. God werk. Ons moet in kontak kom met Sy werk.
Ons kan nie Christene wees wat sommer net saam met die wêreldstroom vloei nie, ons moet opstaan, teenstaan, praat, rigting gee, lei, volg waar nodig.
Het jy al iemand se biografie gelees? In die meeste mense se lewens is daar dramatiese draaipunte, ten goede of ten slegte. Hierdie draaipunte bepaal die trajek van hul lewens. As ons mooi ondersoek doen, sien ons dat dit gewoonlik saamval met die vervulling van God se wil (vir die goed), of die verontagsaming daarvan (die ander kant).
Ons kan sulke biografieë lees en vir mekaar wys waar die draaipunte in die regte rigting sou gaan, indien die regte keuses gemaak is. Dis waar ons begin. Besluit. Ons is nie klaar nie. Hierdie week se kospakkie is volgepak.
LEES:
MEDITEER
- Is jy by ʼn draaipunt in jou lewe? Wat is die opsies?
- Het jy al verkeerd gekies? Hoe word dit herstel?
Bid:
Vader, U gee om vir ons, U is beskikbaar om deur U Gees en U Woord vir ons te lei in U wil. Laat ons U soek, Here, laat ons ons omstandighede gebruik om U op te soek, laat in die nag en vroeg in die oggend. In Jesus naam, Amen.
BONUS: SPREEK LEWE!
Ek kan intensioneel in God se wil in beweeg
Aanbidding:
Love awakens me – Chris Quilala
Dag 3: Leef in God se wil: Stap Een
Dit is vir baie van ons moeilik wanneer om God se wil in ons lewens te verstaan, te volg en regtigwaar, te geniet.
Vandag se leesstuk is uit Spreuke 3:1-4. Dit bevat die eerste stap om God se wil ons eie lewens te ervaar, te voel en uit te leef. Lees asseblief uit verskillende vertalings. Salomo se store gaan môre in detail behandel word, ons weet hy is geseën met wysheid. Wat is sy eerste paar woorde in hierdie hoofstuk?
Wys liefde. Wees net lief, man. Vergeef. Verdra. Luister met ʼn wag voor die mond. Om lief te wees, beteken dat ons ander se belange voor ons eie stel. Soms is dit moeilik om terug te staan, maar Jesus sou ...
LEES:
MEDITEER
- As mense na my verwys, sou die woord “liefdevol” deel wees daarvan?
Bid:
Vader, ek wil U liefde uitleef tot U eer. Help my met die hoe, die wanneer, die hoekom. In Jesus naam, Amen.
BONUS: SPREEK LEWE!
Ek leef liefde uit
Aanbidding:
Love God Love People – Danny Gokey

Dag 4: Kom ons raak prakties
Hoe om God se wil te vind, Stap Een: Moenie vergeet wat jy al geleer het van die Here nie. Dit is in Sy Woord, Sy kerk, die mense van die kerk rondom jou met wie jy kontak het.
Stap Twee: moenie vergeet wat God jou al geleer het nie. Versamel God se waarhede in jou hart. Wees lief vir ander. Leef Sy liefde uit teenoor ander. Dit sou beteken dat ons weer moet kyk na ons verhoudings. Hoe is ons met mense wat vir ons werk, petrol ingooi, kos bedien?
Stap Drie: Lees vandag se dagstuk. Salomoe is duiedelik oor die beginsels van kindwees. Ek daag jou uit om dit vir jouself uit te maak. Liefde.
LEES:
MEDITEER
- As ek moet selfondersoek doen, is ek in God se wil tans?
Bid:
Vader, ek wil in U wil leef, ek wil mense positief beïnvloed tot U eer. In Jesus naam, Amen.
BONUS: SPREEK LEWE!
Ek weet nou hoe om in God se wil te beweeg, dit is my missie
Aanbidding:
God will work it out – Maverick City Music
Dag 5: Selfs as ek afdwaal ...
God se gedagtes en denkrigtings werk nie naby soos ons sʼn nie. As jy my seermaak, veg ek terug. As jy my geld verduister, vergewe ek jou nooit weer nie. Steel my “shine’ by die werk en ek gaan my lewe toe wei om joune moeilik te maak.
Die geskiedenis van Dawid en Batseba is ʼn voorbeeld van God se vergifnis, maar ook die gevolge van wat gebeur wanneer ons uit Sy wil beweeg.
Koning Dawid raak gemaklik, want sy manskappe wen alle oorloë. Dit is so maklik dat hy sommer by die huis bly, deesdae. Dan sien hy ʼn vrou wat bad, Batseba. En Dawid vergeet van sy beginsels. Hy laat haar man dood maak en trou met haar. Dit is nie wat jy verwag van ʼn jong man wat spesifiek geroep is deur die Here nie (doen jou huiswerk).
Dan loop alles skeef. Hulle het ʼn kind. Siek. Sterf.
Dawid en Batseba rig hulle aandag terug op die Here en bely dat hulle verkeerd opgetree het. Die resultaat?
Salomo.
In Spreuke 3 verduidelik Salomo presies hoe ons die Here se wil kan volg. Kom lees saam.
LEES:
MEDITEER
- Het ek, soos Dawid, dalk fokus verloor?
- Wat moet ek nou doen om my verhouding met die Here te herstel?
Bid:
Vader, dankie dat U vergewe. Dankie dat U vorentoe kyk om ons potensiaal te ontlok, nie terug na ons foute nie. In Jesus naam, Amen.
BONUS: SPREEK LEWE!
Die Here stel nie belang in wat ek gedoen het nie, maar in wat ek wil doen
Aanbidding:
Gracefully Broken – Tasha Leonard