Go Deep 1 Maart 2026

VIND, VOLG EN VERVUL SY WIL !

Neville Goodchild

Hoe kan ek God se wil weet en verstaan?

 

Dag 1: Ontdekking!

Is dit moontlik om God se wil vir ons lewens te vind en te verstaan? Hoe doen ons dit, en waar begin ons? Hierdie week staan ons stil by die soeke na God se wil vir ons lewens deur Sy vrede.

Hoe kan ek God se wil vind of verstaan as ek twyfel of Hy dit aan my wil openbaar; as ek so gespanne raak oor óf Hy my goed genoeg of waardig ag om te weet watter planne Hy het en wat Sy wil is; as ek op ’n plek staan waar ek veroordeel voel en dink dat God kwaad is vir my? Dit is dán wanneer sommige van ons sommer net begin rebelleer, en ander weer probeer om al die lysies deur te draf om in God se goeie boekies te kom. Ons wil opgee en dink dat God se wil net vir sekere mense is wat uitgekies is, en ons begin twyfel. Ons dink ons is nie deel van daardie groep nie. Dikwels hoor ons in prediking dat dit net sekere mense is wat geroep is, of wat ’n sekere vlak van heiligheid bereik het, wat God se wil kan verstaan. Dit is nie so nie.

Ons mis God se hart heeltemal, omdat ons Hom nie reg verstaan nie en Hom nie beleef nie. Wil God Sy wil vir my openbaar? Heelhartig JA! Hoe kan ek seker wees? God sê oor en oor in Sy Woord dat ons Sy wil moet soek en vind. Hoekom sal Hy dit sê as Hy dit vir ons onbereikbaar wil maak of wil wegsteek?

Dit is juis hoekom Jesus vir ons aarde toe gekom het — om die perfekte hart van God te openbaar. Hy stel ons voor aan God se wil en God se genade. Jesus maak nie ’n groot, ingewikkelde saak daarvan nie. Sy voorbeeld is nooit een van eksklusiwiteit nie. Hy leef Sy verhouding met Vader uit en nooi ons ook in daardie verhouding in. Hy leer ons dat alles wat Hy doen en sê, Hy by Sy Vader gesien het (Joh.5:19). Jesus leer ons nie dat Hy spesiaal is en anders as ons is nie. Hy wys juis dat Hy soos ons geword het, sodat ons soos Hy kan leef. Hy het net nie gesondig nie. Hy leer ons alles, sodat ons kan weet: ons kan ook só leef — nie uit self-poging nie, maar uit ontdekking. Ons gaan nog ontdek dat daar baie meer opgesluit is in dit wat Jesus vir ons kom uitleef en doen het — en ook daarna!

Jy kán God se wil vind, volg en vervul. Jy kán God se wil passievol soek en vind. Dit is belangrik om, selfs in moeilike en onverstaanbare omstandighede, konstant God se wil te soek. God maak dit nie vir ons moeilik om Sy wil te vind nie. Dit is baie eenvoudiger as wat ons besef. Dit is nie ’n uitdagende spel nie, maar iets wat ek moet verstaan en dan daarin moet wandel.     

Wandel in God se wil, soek Sy aangesig! Doen dit!

Lees:

Joh. 5:19

1Joh. 4:17

Mediteer:

  • Kan ek onderskei wanneer ek op die verkeerde pad is in my lewe?
  • Wat is ’n eenvoudige manier om God se wil te soek?

Bid:

Vader, dankie dat Jesus U hart vir my kom openbaar het. Ek het dit so misverstaan en gedink dat ek nodig het om klomp dinge te doen en te wees. U sê egter “kom net soos jy is”. U maak dit eenvoudig. Dankie dat ek hierdie week kan ontdek hoe U dit vir my eenvoudig maak om U wil te soek, te vind en te volg. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Om God se wil te vind is ’n ontdekking en ’n feesviering!

Aanbidding:

All Fall Down – The Belonging Co & Henry Seeley

Dag 2: Dit is Geestelik

Johannes verduidelik dat dit wat Jesus beleef en waaraan Hy deelgeneem het in hierdie wêreld, ook vir ons beskore is: “Hierin het die liefde by ons volmaak geword, dat ons vrymoedigheid kan hê in die oordeelsdag; want soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld” (1Joh.4:17).

Dikwels probeer ons ’n klomp dinge reg doen om God se liefde en aanvaarding te verdien. Ons val maklik in veroordeling en ontwikkel ’n denkwyse dat God nie kan wag om ons te straf vir alles wat ons verkeerd gedoen het nie. Dat ons op die een of ander manier moet betaal vir ons sondes — weer en weer moet betaal en gaan inboet.

Daarmee saam word daar dikwels vir gelowiges groot pogings voorgehou, asof jy eers sekere dinge moet doen om ’n deurbraak te kry. Dit word selfpoging — dinge wat moeilik of buite bereik voel. Dit is egter nie wat die Evangelie verkondig nie.

Die Nuwe Testament fokus baie meer op Rhema (Goddelike openbaring) as op harde werk. Deurbraak lê nie in harder probeer en meer moeite doen nie, maar in die ontdekking van wat God bedoel het — om te begin wandel in die waarheid van dit wat ek in God ontdek het. Die waarheid maak ons vry.

Ons moet versigtig wees om nie aan die een kant te sê “die waarheid maak ons vry” nie, maar aan die ander kant vas te hou aan die idee dat méér of sekere stappe nodig is voordat ons of ander werklik vry is. Die Ou Testament was deurspek van sulke metodes. Die priesters moes baie noukeurig en spesifiek sekere take uitvoer om by die Allerheiligste in te gaan. As hulle ’n stap gemis het, was hulle dood. Daarom is daar toue en klokkies aan die hoëpriester vasgemaak, sodat hulle hom kon hoor beweeg, en indien hy sou sterf, hom met die tou kon uittrek. Die take en stappe was presies en streng.

Wanneer ons begin om moeitevolle arbeid, spesifieke formules en selfpogings aan te wend om vry te kom, begin godsdienstigheid posvat. Godsdiens word gebore wanneer mense sonder rede, sonder ware deurbraak en sonder insig dieselfde dinge oor en oor moet doen, in die hoop op vryheid.

Die Nuwe Testament verkondig egter nie stappe wat jou vrymaak nie. Jesus het al die nodige stappe gevolg. Hy het al die metodiek en vereistes, al die “formules”, spesifiek en tot op die letter deurgevoer — en daardeur Homself en ons vrygemaak.

Ons is vry in Jesus Christus om in die openbaring van waarheid te leef; vry om te ontdek; vry om deur die Gees van God geleer te word; vry om met vrymoedigheid deel te neem — sonder moeitevolle arbeid.

Ons het die vermoë en die reg om God se wil te vind, te volg en te vervul — en aan die einde van ons lewens terug te kyk en te sê: “Ek is tevrede. Ek het God se wil gedoen.” Dit is presies waarvoor ons gemaak is. Ons is gemaak om God se wil te vervul — en ons vervulling lê daarin.

My vervulling lê in God se wil vir my lewe — in my huwelik, Sy wil teenoor my kinders, en in my beroep.

In hierdie soeke na God se wil, in elke deel van my lewe, is dit belangrik om die rol van God se vrede te verstaan. Dit is belangrik om te verstaan in watter omgewing God se wil geskied. Ons probeer dikwels God se wil vanuit ’n vleeslike plek verstaan — vanuit intellek of menslike poging. Maar God se wil word nie daar ontdek nie.

Dit word ontdek in ons geestelike lewe — waar ons in waarheid kan wandel en vry kan wees; waar ons sonder sweet en harde werk, in ’n poging om uiteindelik deurbraak te kry, waarlik in vrede en vryheid kan leef.

Christus het gekom en die werk klaar gedoen, sodat ons kan deelneem aan God se teenwoordigheid en aan dit wat Hy vir ons bepaal het.

Ons is vry om te leef — en dit is Geestelik.

Lees:

1Joh. 4:17

Joh.14:15-27

Mediteer:

  • As Jesus Christus alles reeds gedoen het om my waarlik vry te maak, wat keer my daarvan om waarlik vry te leef?
  • Hoe vind ek God se vrede?

Bid:

Vader, ek bekeer my denke vandag na U Woordwaarheid toe. Dankie dat U in Jesus Christus reeds alles gedoen het, sodat ek waarlik vry kan wees. Waar U Gees is, is daar vryheid. Help my asseblief om te verstaan wat U vrede is en hoe dit lyk in my lewe. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek leef God se wil vir my lewe en dit is Geestelik!

Aanbidding:

Be Enthroned – Jeremy Riddle

Dag 3: God se wil!

“As julle My liefhet, bewaar my gebooie” (Joh.14:15).

In Johannes 14:15 praat Jesus van Sy gebooie. Hy verwys nie hier na die Tien Gebooie nie. Die Tien Gebooie is deur God aan Moses gegee, omdat Moses die enigste een van die volk was wat met God gepraat het. Deur Jesus Christus het ons nou elkeen toegang tot God. Daarom verwys Jesus hier nie na die Tien Gebooie nie, maar na God se wil; dat ons Sy wil vir ons lewens moet bewaar en doen wat God se wil is.

Ons het die vermoë om te weet wat God se wil is en om te kies om dit te doen. Jesus sê verskeie kere (Joh. 14:21, 23; Joh. 15:10) dat ons in Sy liefde bly wanneer ons Sy wil doen, en dat ons God se wil sal doen as ons Hom liefhet.

Jesus sê in vers 16 dat Hy ’n Helper sal gee wat die werk doen, en dat dit nie van ons sal verg om onsself te oorwerk nie. Die uitnodiging is dus om Sy wil te doen — nie om deur harde werk iets te probeer verdien nie. Wanneer ons vra: “Here, maar hóé moet ons dit regkry?” is Sy antwoord: deur die Trooster wat julle daarmee sal help.

Dit is deur Sy Gees wat in ons woon dat dit moontlik is.

In Johannes 14:18 praat Jesus van weeskindskap. Wanneer Hy na wese verwys, verwys Hy na kinders wat nie leiding het nie, wat nie veilig is nie en vir wie daar nie voorsiening gemaak word nie. Dit is hoe ons is wanneer ons nie volgens Sy wil leef nie — verward en verlore.

In vers 22 vra Judas hoe dit moontlik sal wees dat ons Hom kan sien (verstaan, beleef en ken), terwyl die wêreld Hom nie kan sien nie. Jesus beklemtoon dat ons Sy Woord en Sy gebooie sal bewaar as ons Hom liefhet. Dit gaan daaroor dat ons Sy wil moet verstaan en dit moet dóén.

Die Woord sê dat jy nie soos ’n weeskind hoef te leef wat ronddwaal en wonder wat om te doen, wat reg of verkeerd is nie. Jy hoef nie soos ’n verwarde, onseker gelowige te leef wat net ’n toeskouer is en onbetrokke bly nie. Hy gee Sy Gees wat die werk doen.

Ons het nou ’n nuwe realiteit waarin ons begin wandel. Dit is deur die werk van die Heilige Gees binne ons dat God se wil geopenbaar word. Die Heilige Gees in ons is ons realiteit — ’n Geeslewe waaraan ons blootgestel word en waarin ons deelneem. Jesus belowe dus Sy teenwoordigheid (v.18: Hy sal ons nie alleen laat nie) en ook dat ons Sy wil sal ken en verstaan (v.17: deur Sy Gees).

Deur God se Gees wat ons ontvang het, weet ons alle dinge, want Hy leer ons alles (v.26). “Alles” sluit niks uit nie. Daar is niks van God se wil of waarheid in ons lewens waartoe ons nie toegang het by God nie. Ons het geestelike insig in sake, en die Here openbaar aan ons wat nodig is in elke area van ons lewens. Alles is aan ons bekend gemaak deur God se Gees (1 Kor. 2:10).

Die Gees van die Here leer ons en herinner ons aan alles wat nodig is!

Lees:

Joh.14:15-27

Mediteer:

  • Hoe bewaar jy God se gebooie?
  • Vertrou jy dat die Heilige Gees Sy werk sal doen en jou alles leer en herinner wat jy moet weet?
  • As God se Gees die werk doen, wat beteken dit prakties vir my?

Bid:

Here, dankie dat U U wil aan my openbaar deur U Gees. Dankie dat U alles gee wat ek nodig het en dat U getrou is om my te leer en te herinner, sodat ek volgens U wil kan leef. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek het alles in Hom, deur Sy Gees ontvang wat ek nodig het om God se wil uit te leef in my lewe!

Aanbidding:

Holy Spirit – Bryan & Katie Torwalt

Dag 4: Vrede

Jesus verduidelik in Johannes 14 dat Hy die Heilige Gees gaan stuur om Sy werk te doen. Méér as wat Jesus beklemtoon dat ons iets gaan ontvang, verduidelik Hy dat dit daaroor gaan om God se wil te verstaan en dit te bewaar — dit te doen.

Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet;...” (Joh.14:21).

“Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar,... ” (Joh.14:23).

Jesus gee ’n tweeledige belofte in Johannes 14. Hy sê dat dit moontlik is om God se wil te vind, te volg en te vervul. Ons kan God se wil verstaan — dit is nie verborge nie. God se wil móét gebeur, maar daar is twee dinge wat moet plaasvind:

  1. Die Heilige Gees moet Sy werk doen.
  2. Ons moet bly in dit wat Jesus vir ons gee — Sy vrede.

Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie” (Joh.14:27).

As Jesus sê: “Hy sal julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het” (vers 26), dan sal God se Gees Sy kant bring. Jesus sou nie deur alles gegaan het waardeur Hy gegaan het, net vir die Heilige Gees om nie Sy kant te bring nie. Die Heilige Gees doen alles waarvoor Hy gestuur word — en Hy doen dit goed! Daarom twyfel ons nie aan hierdie woorde nie, want God is ’n waarmaker van Sy Woord. Sy Woord keer nie ledig terug nie (Jes. 55:11).

Saam met dit wat God doen, is daar ook iets wat óns moet doen. Ons moet verstaan hoe belangrik dit is om in God se vrede te bly. Hierdie vrede is nie die tipe vrede wat deur die sekulêre wêreld verkondig word nie. Dit is nie net die afwesigheid van konflik of spanning nie. Dit is nie bloot die gevoel wanneer alles rustig is, wanneer daar min verkeer is, of wanneer niemand jou pla nie. Hierdie vrede waarvan Jesus praat, is Sý vrede.

Jesus het niks gedoen of gesê wat Hy nie by Sy Vader gesien en ontvang het nie. Die vrede wat Jesus vir ons gee, is die vrede wat Hy by God die Vader ontvang het. Hy sê: “Mý vrede gee Ek aan julle.” Jesus was effektief op aarde omdat Hy geweet het hoe om in die Vader se vrede te bly. Hy het geweet hoe om Goddelike vrede te gebruik om Sy lewenspad te navigeer. Hy het niks gedoen wat die Vader nie aan Hom geopenbaar het nie. Hy het seker gemaak dat Hy in God se vrede en in God se wil bly.

In Markus 5 lees ons van die vrou wat aan bloedvloeiing gely het. Sy het aan Jesus geraak, en Jesus het geweet dat daar krag uit Hom uitgegaan het. Toe sy voor Hom neerval, sê Hy vir haar: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede. Wees vir goed van jou kwaal genees!” (vers 34).

Sy was reeds genees — hoekom sê Jesus vir haar: “Gaan in vrede. Wees genees”? Omdat Hy besig is om haar (en ons) iets baie belangriks te leer. Hy help ons om God se wil vir ons lewens te verstaan. Ons moet in God se wil — in Sy vrede — bly om ons lewenspad reg te kan navigeer. As ons nie die volle waarheid hoor en verstaan nie, verloor ons God se ingrype in ons omstandighede. Ons wil nie net ’n oomblik van heerlikheid ervaar nie, maar in God se vrede bly, sodat Sy heerlikheid en Sy seën permanent in ons lewens kan wees.

Ons hoef nie bekommerd te wees of die Heilige Gees Sy kant sal bring nie. Hy het Sy mandaat. Hy sal doen wat Hy moet doen. Ons verantwoordelikheid is om in God se vrede te bly.

Waar God se vrede nagejaag word, geskied God se wil.

VREDE IS DIE HABITAT VAN GOD SE WIL: VREDE SKEP KONTEKS/ DIE MILIEU EN ‘N INNERLIKE REALITEIT WAARIN GOD SY WIL MET JOU KAN DEEL!

Lees:

Joh.14:15-27

Mediteer:

  • Het jy al Goddelike vrede in moeilike omstandighede ervaar?
  • Hoe bly jy in God se vrede?
  • Wat bedreig God se vrede in jou lewe?

Bid:

Here, dankie dat U U eie vrede vir my gee; dat ek kan wandel volgens U wil en kan fokus daarop dat U vrede my help om hierdie lewe te navigeer. Help my asseblief om in U vrede te bly en om sensitief vir die werk van U Gees in en deur my lewe te wees. In Jesus se Naam. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

God se vrede is die konteks waarbinne ek Sy wil vind, volg en vervul in my lewe!

Aanbidding:

Peace – Bethel Music feat. We The Kingdom

Agnes Dei – Kristian Stanfill, Passion 2024

Dag 5: Prioritize Your Peace

Ons het nodig om God se vrede na te jaag, anders gaan ons probeer om onsself te red en ons eie planne uitdink om hierdie wêreld te navigeer. Ons het nodig om ons lewe met die vrede van die Here te navigeer.

Maar hoe kan ons met ons lewens God se wil doen?

“En laat die vrede van God, waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in julle harte heers, en wees dankbaar. Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here. En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom” (Kol.3:15-17).

Die woord “heers” in vers 15 word gebruik soos die term skeidsregter. Dit beteken dat vrede soos ’n skeidsregter in jou lewe moet wees – dat vrede die finale beslissing vel. Bo alles wat jy weet en verstaan, dink, voel, hoor of sien, bo jou eie kennis of selfs wêreldse kennis, moet die vrede van Christus die finale rigting aanwys.

Paulus bevestig in Kolossense 3 hoe God se wil in ons lewens realiseer:

  1. Laat God se vrede die skeidsregter in jou hart wees.
    Kies dat God se vrede die hoogste gesag in jou lewe het. Gelowiges wat God se wil wil doen, leer om Goddelike vrede die hoogste gesag in hul lewens te maak. Jesus sê dat dit belangrik is, en Paulus bevestig dit weer. As God se vrede nie die gesag in jou lewe is nie, sal Jesus nie die hoogste gesag in jou lewe wees nie.
  2. Laat die Woord van God in jou woon.
    2 Petrus 1:2 bevestig dat God se vrede vermeerder in jou lewe deur die kennis van Jesus Christus. As jy nie God se Woord binne jou het nie, is daar ’n groot kans dat jy vrede oor die verkeerde dinge in jou lewe kan hê. Jy kan selfs vrede hê oor sonde in jou lewe, maar dan sal jy nie God se wil en vrede ervaar nie, en Christus sal nie op die troon van jou lewe wees nie.
  3. Kom in aanbidding (worship).
    Bring die vrede en die Woord wat in jou hart leef na die Here toe in aanbidding. Beleef God in aanbidding en ontvang Sy leiding — Sy finale ja of nee — in jou omstandighede.
  4. Doen alles in die Naam van die Here Jesus Christus.
    Alles wat jy doen en sê, moet tot eer van Sy Naam wees. Dit gaan daaroor dat God die eer kry vir die goeie en regte dinge in jou lewe. Jy soek nie jou eie eer nie, maar leef om Sy eer te soek en Sy Naam hoog te maak.

Dit is hoe jy God se wil doen en Sy wil in jou lewe sien realiseer.

Lees:

Kol. 3:15-17

Mediteer:

  • Watter van hierdie punte kan jy toepas om God se wil beter in jou lewe te vind, te volg en te vervul?
  • Maak jy staat op Goddelike vrede en die Woord as die hoogste gesag in jou lewe?
  • Hoe aanbid jy in moeilike omstandighede, en bring jy jou vrae voor die Here?

Bid:

Here, ek plaas U as die hoogste gesag in my lewe. U ag U Woord hoog bo U Naam, en daarom ag ek ook U Woord en U vrede hoog bo alles in my lewe. Jesus, U is die Prins van Vrede. Dankie vir U vrede waarop ek kan staatmaak om my lewe te navigeer. Help my om U te aanbid in Gees en in waarheid. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek vervul God se wil in my lewe deur Sy vrede na te jaag, Sy Woord in my te laat leef, alles in aanbidding voor Hom te bring en Sy Naam te verheerlik deur my lewe!

Aanbidding:

You Are Glorious – Charity Gayle