IT’S DONE!
Neville Goodchild
Verstaan Jesus se afgehandelde werk!
![]()
Dag 1: Tot volle potensiaal
Saad het al die potensiaal daarin opgesluit om te groei en die moontlikheid te bereik waarvoor dit geskape is. Die saad kan vir baie lank dormant bly, sonder om hierdie potensiaal te verloor of te bereik. Baie gelowiges leef met die volle potensiaal in hul opgesluit, maar lewe ’n dormante lewe waarin die saad nie werklik ontkiem om hierdie potensiaal te bereik nie. Baie gelowiges wag vir die regte oomblik, die regte omstandighede om die seën van die Here te ontvang en sy roeping uit te leef.
Ons dink so maklik dat dit die grond is waarin die saad val, wat bepaal wat gebeur. Ons wil agter eksterne faktore skuil wat buite ons beheer is en sê dat die seisoen moet verander. Dat die grond moet reg wees vir die saad om te ontkiem. Volgens die gelykenis van die saaier is dit die grond, maar Jesus verduidelik ook wat hierdie grond is. Die grond is nie eksterne omstandighede wat bepaal of God se woord oor my lewe groei nie. Die grond is die toestand van my hart.
Die grond is die harte van mense en dit is die interne realiteite wat binne hul beheer is. Dit is hierdie grond, die hart, waarin dorings en dissels gesaai is wat die saad verstik. Dit is die las en sorge van die wêreld. Die hartstoestand bepaal die groei, nie die eksterne faktore nie.
Die vlak grond waarin die saad geval het, beskryf die diepte van die hart. Dit is die interne faktore wat moet verander. Eksterne goed kan nie God se wil in ons lewens stop nie. Niks kan ons skei van die liefde van God nie.
Die liefde van God is sy wil vervul in my lewe. Dit is die beste uitdrukking van God. Ons is nie veronderstel om gevoelens na te jaag nie. Ons is nie veronderstel om gevoelens bokant God se waarheid te eer nie. Vervulde liefde is nie ’n gevoel wat jy kry wanneer jy op die regte plek of by die regte kerk is nie. Vervulde liefde beleef jy wanneer God se wil en potensiaal in jou lewe losbreek.
Lees:
Mediteer:
- Ons hoor dikwels goeie boodskappe, maar hierdie boodskappe kan ons frustreer of irriteer wanneer ons niks daarmee kan maak nie. Dit is nodig om iets uit die boodskap te neem en dit prakties te maak. Neem drie belangrike punte uit ’n boodskap en besluit om dit in jou huidige seisoen toe te pas.
- Wanneer jy saam met iemand na ’n boodskap luister en dan daarna oor die boodskap gesels, kom jy agter dat hul iets anders gehoor het as jy. Die seisoen waarin jy jouself bevind, bepaal wat jy uit elke boodskap neem. Die boodskap is algemeen, maar wat jy hoor, hoor jy vanuit jou seisoen. Die plek waar jy staan en die realiteite wat jou omring, bepaal wat jy hoor. Vra jouself “Wat kan ek uit hierdie Woord neem en toepas?”
- Wat hoor jy uit ’n boodskap? Beleef jy die Woord van die Here as goed, maar nie prakties nie? Dit wat jy hoor gaan oor of jy gereed is om te ontvang, jou realiteite en of jy dit prioritiseer. Jou missie moet wees, wat kan ek hieruit kry om toe te pas in hierdie seisoen van my lewe? Gaan kyk na die toestand van jou hart, die diepte van die grond. Die grond is nie iets buite jou beheer nie. Dit is binne-in. Eksterne omstandighede kan nooit God se wil in jou lewe stop om te gebeur nie. Dit is deel van die goeie boodskap. Die seisoen van jou lewe, die eksterne goed, kan nie God se wil stop in jou lewe nie.
- Wat stop God se wil in ons lewens? Net ons harte. Daarom se Paulus in Rom. 8: Daar is dan niks oor nie, niks kan ons meer skei van die liefde van God nie. Dit is nie ’n gevoel van liefhê nie. Dit begin dalk daarby, maar die liefde van God is sy wil vervul in my lewe. Die beste uitdrukking van God se liefde is wanneer God se wil vervul word in my lewe.
Bid:
Vader, dankie dat u Woord sny met ’n tweesnydende swaard en skeiding bring waar dit nodig is in my lewe. Ek keer my hart terug na U en vind dit wat belangrik is in hierdie seisoen van my lewe, in elke woord wat uit u mond kom. Dankie, dat ek u Woord kan eet en dat u Woord my verander om u wil uit te leef. In Jesus se Naam, Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Niks wat ekstern is, kan God se wil in my lewe keer nie. My hart draai na Hom, soek Hom en vind Hom en daarom breek sy wil in my lewe los!
Aanbidding:

Dag 2: Praat Woord
“En hy het verlang om sy maag te vul met die peule wat die varke eet, en niemand het dit aan hom gegee nie. Maar hy het tot homself gekom en gesê: Hoe baie huurlinge van my vader het oorvloed van brood, en ek vergaan van honger! Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u, en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie; maak my soos een van u huurlinge.”
Die verhaal van die verlore seun vertel van ’n seun wat alles verkwis het en niks meer oorgehad het nie. Toe het hy tot homself gekom. Iemand wat tot homself kom, praat met homself. Wanneer jy begin om met jouself te praat, is dit die draaiplek. Die seun het by ’n keerpunt gekom en met homself gepraat. Dit is wat gebeur by bekering ook. In ’n mate kom jy tot jouself. Jy is besig om jou outoriteit op te neem en jy neem ’n besluit. Dit is die begin van God se wil wat gebeur in ons lewens. Dit is ’n goeie plek om te wees wanneer jy met jouself kan begin praat. Ons gesels dikwels met ander mense, of ons woed ons dalk uit op ander dinge. Ware bekering begin op ’n meer gesonde vlak waar ons met onsself begin praat.
Wanneer jy begin om oor jou wese gesag te neem en as geesmens oor jou vleeswese gesag te neem, is jy besig om jouself te belyn met die Woord van die Here. Die gesag wat Jesus Christus vir ons gegee het, gee vir ons geleentheid om met onsself te praat!
Lees:
Mediteer:
- Gesonde mense praat met hulself. Wanneer jy jou lewe in ’n rigting wil stuur en ’n sukses van jou lewe wil maak, praat jy met jouself.
- Wanneer jy God se genade wil ontvang en in sy wil inkom, praat jy met jouself en met God.
- God het vir jou ’n wil gegee. Jy het ’n keuse. Besluit om Hom te kies!
- Jy het die vermoë om met jouself te praat uit die Woord van die Here. Jy kan die Woord van die Here vat en jouself aanspreek en jou innerlike realiteite aanspreek, in lyn met die Woord van die Here. In die Psalms sien ons Dawid praat dikwels oor homself en met homself.
- Dawid praat met God en dit beïnvloed sy optrede.
- Praat jy Woord hardop oor jouself?
Bid:
Here u Woord is skerper as enige swaard met twee snykante en dring selfs deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Ek gaan nou tot my sinne kom en met myself begin praat. Ek gaan u Woord begin lees en dit ook hardop lees, om te hoor wat U sê en ek vertrou dat u Woord skeiding bring waar nodig is. Ek vertrou dat U 'n verandering sal bring diep binne my en dat dit ook my optrede, my vlees met u wil sal belyn, omdat dit is wat u Woord doen. In Jesus se Naam, Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
U Woord is die lamp wat my die weg wys, die Lig op my pad.
Aanbidding:
By Your Spirit – Kim Walker-Smith

Dag 3: Geestelike slawerny
In die varkhok sê die seun (Luk.15:18-19), “Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u, en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie; maak my soos een van u huurlinge.”
Wanneer die seun by sy vader kom, begin hy praat en hy wil nog verder praat (Luk.15:21), maar voordat hy kan sê, “maak my soos een van u huurlinge”, val sy pa hom reeds in die rede. Sy pa gee hom nie eers kans om verder te praat en sy verwronge idee van sy waarde te uiter nie.
As gevolg van sonde beland ons maklik op hierdie plek van minderwaardigheid. Ons persepsie van ons eiewaarde en van ons plek in God se huis word aangetas. Ons is so bewus van wat ons verkeerd gedoen het, dat ons bereid is om die identiteit van ’n slaaf aan te neem en dan iets te probeer verdien. Hierdie slawerny is om met 'n minderwaardige identiteit van verdienste te leef. Slawe is nie geregtig op iets nie, behalwe hul loon (dit wat hul verdien, waarvoor hul gewerk het).
So 'n slawerny het te doen met vrees (Rom.8:15). Dit is die vrees waarmee mense in die Nuwe Testamentiese-omgewing sukkel, omdat hul so bekend is met die Ou Testamentiese-wette. Om in in slawerny te verkeer, kom daarop neer dat ek my veroordeling in so 'n mate vrees en só bewus is van my sonde dat ek net veilig voel op daardie plek waar ek gehoorsaam werk, sodat ek dit kan verdien wat ek nodig het.
Daar is geen vrymoedigheid om terug te gaan na die vader toe en te sê, “Ek het gesondig teen u en voor die hemele, herstel my as u seun” nie. Ons ken nie hierdie vrymoedigheid nie. Tog is dit die vrymoedigheid waarna ons genooi word. Dit is die hart van die vader. Hy maak nie ’n geheim daarvan dat dit presies is wat hy gaan doen nie, al vra die seun om ’n slaaf te wees. Die vader gaan hom herstel. Die intensie van ons Hemelse Vader word in Lukas 15 geopenbaar. Hy wil hê dat ons moet seuns en dogters word en ontslae raak van ons bewustheid van ons sonde en die vrees van veroordeling wat volg.
Lees:
Rom.8:15-17
Mediteer:
- Sukkel ek met ’n mentaliteit van veroordeling en sondebewustheid? Wat sê die pa vir sy seun wat huis toe kom om as slaaf te werk?
- Geestelike slawerny is ’n identiteit van selfverdienste. Dit beteken dat ek so afgebreek is in my selfwaarde, dat ek bereid is om net te werk om te kan verdien. Hoe breek ek los uit hierdie bande?
- Hoe kan ek God se liefde verdien?
- Hoekom vrees ek om terug te keer na God se oorspronklike plan toe?
- Is ek bang vir die oordeelsdag wat kom? Hoekom vrees ek dit? Vir wie is hierdie dag bepaal? Hoekom steel hierdie vrees vir veroordeling my vrymoedigheid?
- Die bekendste term van slawerny is die slawerny van sonde. Dit is om só bewus te wees en onvrymoedig te wees, dat ek vasval en bly op die plek van ’n slaaf. Wat het ek nodig om te doen, om los te kom van hierdie slawerny? Wat het God gedoen om my los te maak?
- Glo ek dat God my waarlik vergewe het? Volgens die storie van die verlore seun, wat is God se hart en God se mentaliteit oor my sonde?
Bid:
Vader, dankie dat ek nie meer ’n slaaf is nie, maar u seun, u dogter. Dat ek ’n erfgenaam is, omdat dit is hoe groot u liefde en genade is. Ek kan dit nie verdien nie, maar U gee dit. Ek glo dat U my ten volle vergewe het en aangeneem het op grond van die bloed van Jesus Christus en dat ek nou kan wandel as vrygekoopte en losgemaakte. In Jesus se Naam. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Ek is ’n seun/dogter van die Lewende, Almagtige God. Hy het my herstel tot my oorspronklike posisie en sy plan en wil vir my lewe, volgens sy Genade en Barmhartigheid!
Aanbidding:
No Longer Slaves – Jonathan David and Melissa Helser
Dag 4: Geregtigheid
Ons het soveel verwronge idees oor hoe God se koninkryk werk. Wat beteken dit as die Woord sê dat sonde nie in God se koninkryk sal ingaan nie? Ek is sondig. Beteken dit dan dat ek nie hemel toe gaan nie? Ons weet dat ons van die sonde ontslae moet raak. Hoe het ons geleer om daarvan ontslae raak? Om te reageer volgens die wet van Moses. Ons voel aangekla weens ons eie sonde, want niemand van ons is sonder sonde nie. Dit maak ons onvrymoedig en ook veroordelend teenoor ander mense. Ons wil so graag sondaars aan hul sonder herinner of op hul foute wys. In die verhaal van die owerspelige vrou is al manier (volgens die wet) om haar van haar sonde te laat wegkom, om haar met klippe dood te gooi. Dit beteken dus dat daar vir hierdie vrou geen ander manier was waarop sy vir haar dade kon vergoed en haar haar leefstyl kon verander nie. Die straf van sonde is die dood. Volgens ons godsdiens- en veroordelingsmentaliteit is dit verpligtend dat 'n mens die een of ander prys móét betaal en dit moet iets wees wat gaan sorg dat hierdie persoon nie weer sal sondig nie.
Die Woord is egter baie duidelik hieroor. Deur iemand te straf, maak nie dat so 'n persoon nie weer sal sondig nie. Jesus het die volle evangelie en die volle genade aan ons kom bewys. God het die straf van sonde vir eens en altyd op sy Seun uitgewoed wat Self nooit gesondig het nie. Hy het ter wille van ons sonde geword. Wat moet dan gebeur dat ons ophou sondig? Juis die feit dat daar geen veroordeling vir ons is nie. Volgens die Woord is daar nou geen veroordeling vir ons wat in Christus Jesus is nie (Joh.3:17-18; Joh.5:24; Rom.8:1). Jesus verbreek die siklus van veroordeling. Hy gaan na die melaatses toe en lê sy hande op hulle. Hy doen die ondenkbare, en dan vind die betekenis van Nuwe Testament plaas. Hy genees hulle. Die stelsel het nou verander. Terwyl ons dikwels mense wat gesondig het soos melaatses wil hanteer en die hulle subtiel vanaf ons wil wegdruk, sê God: As jy nader kom en Ek my hande op jou kan lê, dan kan jy jouself maar aan die Priesters gaan vertoon. Jesus genees nie net siektes nie, maar Hy genees ons van ’n mentaliteit van sondebewustheid en ’n vrees vir veroordeling. God dryf nie sondige mense weg van Hom af nie - Hy herstel, Hy vergewe en Hy plaas jou terug in sy familie, as erfgenaam saam met Christus!
Lees:
Luk.15:18-19
Mediteer:
- Ons sê maklik dat ons genade verstaan, maar ons leef dit nie uit soos Jesus vir ons gewys het nie. Wanneer ons ander mense kan vergewe en hulle dan volgens God se oorspronklike beeld begin behandel, beleef hul die genade van Jesus Christus. In kerkomgewings kan veroordeling ’n lewenslange probleem veroorsaak, want mense voel dat hulle nie kwalifiseer en heeltemal inpas nie. Ons kyk graag met kritiese oë na ander mense. In die Koninkryk van die Here is daar ’n ander realiteit wanneer dit kom by vergifnis. Die kerk sal verbaas staan oor wie God tot sy eer in rolle kan gebruik. Is dit vir jou moontlik om na ander mense te kyk in dieselfde lig as wat God hulle sien? Om hulle te sien as mense wat volgens God se oorspronklike beeld en plan herstel is?
- In die verhaal van die verlore seun, sê die pa, “Bring die beste kleed” (Luk.15:22). Hierdie kleed beteken iets spesifiek. Die verwysing na 'n oorspronklike kleed (the first) dui op die herstel van die seun se geregtigheid. Sy vader wou nie net aan hom enige klere gee nie, maar hy wou weer sy eerste kleed aan hom teruggee wat aandui dat hy die vader se seun en erfgenaam is. God herstel ons nie slegs halfpad nie maar ten volle in ons oorspronklike doel en posisie. (Gen 1.26 Kom Ons maak die mens in Ons beeld en gelykenis met die vermoë om te heers).
- Wanneer ek beklee is met die kleed van geregtigheid (Jes.61:10) en wanneer ek geregtig word deur genade (dit is om te aanvaar dat die kruiswerk van Jesus Christus my deel is), word ek herstel volgens my beeld, gelykenis en vermoë om te heers.
- As jy die Here eenmaal gedien het, deel van sy huishouding was, en daarna fouteer (op watter manier ook al), ervaar jy iets wat deur baie kerke misverstaan en verkeerd toegepas word. Wanneer mense fouteer, is ons geneig om hulle volgens daardie foute te klassifiseer. Ons weet dat die Here vergewe en ons moet vergewe, maar ons sukkel daarmee.
- God se totale vergifnis behels ’n herstel terug na die vorige realiteit. Wanneer God vergewe, laat hy jou nie iets betaal nie, maar Hy herstel jou ten volle. Die verlore seun se vader gee nie slegs vir hom klere sodat hy moet beter lyk nie - hulle moet die seun oorspronklike kleed om hom hang: dit is ’n doelbewuste herstel, bekleding en restourasie na sy oorspronklike beeld.
Bid:
Vader, hoe ontsaglik groot is u genade vir my en dit wat U aan die kruis vir my kom doen het, Jesus! Ek wil myself graag sien in die lig en beeld soos U my sien, en ek wil ook na ander mense kyk volgens u afgehandelde werk. Ek glo dat u afgehandelde werk my herstel het in my posisie as seun/dogter, erfgenaam van God se Koninkryk, en dat ek nou reeds in hierdie realiteit wandel. Dankie, dat U my hart en gedagtes vernuwe volgens u waarheid en dat ek u genade teenoor almal om my kan uitleef. In Jesus se Naam, Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek glo in Jesus Christus en sy afgehandelde werk vir my, en daarom is ek dit wat God sê ek is!
Aanbidding:
Who You Say I Am – Hillsong Worship

Dag 5: Vrymakende vrymoedigheid
Vergifnis gebeur nie sonder geloof nie. Wanneer God sê dat Hy jou vergewe, moet jy dit aanvaar en ontvang: Dit is geloof in die afgehandelde werk van Jesus Christus. Wanneer jy jou sonde bely en God jou vergewe het, hoef jy nie te vóél dat jy vergewe is vir God se vergifnis om waar te wees nie. Dit is níé God wat jou nog moet vergewe het nie, dit is jý wat moet begin glo. Jy moet verstaan dat God reeds besluit het om jou te vergewe.
Die regverdige mens wandel in geloof. As dit wat jy verkeerd gedoen het en dit wat met jou gebeur het, of waar jy beland het jou Goddelike beeld gesteel het en jou so kon verwond dat jy nie meer waardevol in God se oë is nie, dan is die evangelie waarmee jy besig is ’n minderwaardige evangelie. Jou selfpersepsie en selfwaarde word afgebreek as gevolg van sonde en jou wanbegrip van God se hart - maar God se hart is jy volledig ondersoek en uitgekies (Heb. 8:12). Glo dit!
Daar is twee moontlikhede, en jy moet een van die twee opsies kies:
- Probeer deel van die Koninkryk van God wees, maar bly vasgevang in slawerny waar jy geen vrymoedigheid het nie en in vrees vir veroordeling leef vir die dag wanneer jy ontbloot gaan word, alles sal moet verduidelik, skuldig gevind gaan word en moet boet (Heb.2:14-15).
- Word vry en hoor wat die Vader doen en wil doen. Sy bedoeling is om jou te herstel in jou oorspronklike posisie, na ’n plek van 'n intieme verhouding met jou Vader. Die woorde “Abba, Vader” wys op ons intieme verhouding met God (Rom. 8:15).
Bogemelde keuse dui op die verskil tussen slawerny en vrymaking. Slawerny hou jou op ’n afstand, want jy vrees dat iets gaan gebeur en dat daar veroordeling gaan kom. Vrymaking beteken dat jy vrymoedig is in jou posisie voor die Here en dat jou selfbeeld en gees voor die Here herstel is. Die verlede het nie meer 'n vashouplek op jou denkwyse nie en jy kan met vrymoedigheid die Here op hierdie vrye plek aanbid. Jy kan voor Hom verskyn soos ’n kind wat ’n goeie verhouding met sy/haar Pa het.
Lees:
Rom. 4:7-8
Mediteer:
- Die vraag is nie of ek hemel toe gaan nie. Die vraag is, “Is ek vry, en waar is my sonde?”
- Wanneer die pa vir die verlore seun ’n ring aan sy vinger sit, sê hy daarmee vir hom dat hy nou in hierdie ryk huishouding herstel is, selfs nadat hy sy erfporsie verkwis het. Hy gaan weer erf! Hy verloor nie eers dit wat hy verkwis het nie!
- Slawe se skoene is weggeneem en wanneer hulle vrygekoop is, het hulle hul skoene teruggekry. Wanneer die pa vir die seun skoene aantrek, sê hy daarmee dat die seun nie ’n slaaf is nie. Hy is vrygekoop!
- Dawid leef in die tyd van Moses se wette, waar jy moet boet vir jou sondes. In Ps. 32:1-2 profeteer hy en verduidelik hoe jaloers hy is op die generasie wat vrygekoop is en wie se sonde bedek is. Dawid sê dat sonde nie 'n vloek op jou lewe is nie. Die las wat ons op onsself plaas, is ’n leuen en dit kom op slawerny neer. Wanneer ek my sonde voor die Here bely het en dit deur sy genade afgelê is, word die sonde nou deur die bloed van Jesus toegemaak. Dit is wat dit beteken om geseënd te wees en daarom lewe ek nou “blessed, happy, fortunate, and to be envied”. Ek is geseënd in Jesus Christus. Hy beklee my met die kleed van geregtigheid, nog voordat ek slawerny kon kies. (Rom. 4:7-8).
- Beteken dit dat ek mag aanhou om sonde te doen? (Rom.6:1-6).
- Ek hoef God nie te oortuig dat ek sy seun/dogter is en dat hy vir my moet goed wees nie. Ek kan nie sy seën verdien nie, want ek is reeds geseënd in die Here! Daar is ’n kennisgewing wat sê, “Geen werk beskikbaar nie”. Dit beteken nie dat ek moet verbyloop nie, maar dat moet inkom, sit en eet. (Rom. 4:5).
- Die Woord van die Here in ons ore bring geloof in ons harte. Wat uit my mond kom, beïnvloed my ore, want ek luister na dit wat ek sê. Dit wat ek hoor, bepaal die toestand van my hart. Geloof kom deur te luister, om na die Woord van die Here te luister. Geloof is in die hart en dit wat die hart van oorloop, loop die mond van oor. Dit word ’n siklus van geloof. Wanneer ek sukkel, moet ek Woord hardop vir myself lees, sodat my ore kan hoor en my hart van God se waarheid oortuig kan word.
Bid:
Vader, vandag staan ek voor U, vry en vrymoedig om U te aanbid, om naby aan U te wees, omdat U hart my uitsorteer het en omdat U reeds die oorwinning aangekondig het. Ek vat dit, glo dit en leef u genade uit omdat u liefde my omring, deurdring en opvul. Dankie vir u openbaring van u liefde vir my. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
In Jesus Christus is ek geseënd, geregtig en vrymoedig voor my Pa!
Aanbidding:
I Am Your Beloved – Jonathan David Helser, Melissa Helser
The More I Seek You – Kari Jobe