First Things First
Neville Goodchild
“Their Sainthood lay in their habit to offering the smallest of actions to God!” – Bridget Herman
Dag 1: Intern teenoor ekstern
Hoe verander ’n mens die chaos, die wanorde in jou lewe? Hoe fokus ’n mens op die regte dinge en sê nee vir die dinge wat jou aftrek? Wanneer jou interne wêreld in wanorde is, sukkel jy om die vrede van die Here te beleef. Jy beleef dat jy nie mense wil toelaat nie, jy maak die deure van jou lewe dikwels toe en jy maak ook die deur vir God in jou lewe toe. Jou eksterne wêreld verval in wanorde.
Wanneer jy sukkel met een ding wat buite beheer is in jou lewe en jy nie beheer daaroor neem nie, sal jy vind dat dinge begin eskaleer. Voordat jy kan keer, begin alles dan uitmekaarval en jy het oor niks meer beheer nie. Dan kom jy tot ’n punt waar jy die deure wat jy veronderstel is om toe te hou, oop los en nie verantwoordelik daarmee is nie. Enige iets en alles kan dan toegang tot jou lewe vind.
Wanneer jy beheer en verantwoordelikheid oor jou lewe neem en jou interne wêreld orden, begin jy die deur oopmaak vir die regte goed. Dan maak jy die deur oop vir God in jou lewe. Jy kan dan ook maklik die deur oopmaak vir ander mense. Jou interne orde het ’n effek op jou lewe na buite. Orde in jou interne wêreld beïnvloed die orde van jou eksterne wêreld.
Dissipline en chaos kan nie in dieselfde huis bly nie.
Lees:
Mediteer:
- In watter area van jou lewe beleef jy tans chaos?
- Wat moet in jou lewe gebeur sodat hierdie chaos kan omswaai in orde?
- Wat is die verhouding tussen die eksterne en interne orde of wanorde wat jy in jou lewe beleef?
Bid:
Here, ek kom gee vandag hierdie wanorde (noem dit op die naam voor die Here) in my lewe vir U. Ek besef dat dit ’n blokkasie veroorsaak in my lewe en my beperk om in oorwinning te leef. Dit affekteer my verhouding met U. Sal U my asseblief help om hierdie wanorde om te draai in orde? Dankie, dat u Heilige Gees so betrokke is in my lewe om dit wat chaos is om te draai in ’n wonderlike getuienis. Ek loof U daarvoor en vertrou U ook daarmee. Dankie, dat U vir my planne gee en stappe gee van hoe om elke ding wat uit plek te hanteer. In Jesus se Naam. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Ek neem beheer en verantwoordelikheid oor my lewe om orde en dissipline in my lewe te bring.
Aanbidding:
Graves Into Gardens – Elevation Worship
Dag 2: Leef gedissiplineerd
Daar is soveel mense wat sukkel met verwarring en chaos. Die siekte van ons tyd is angstigheid. Dit is ’n gevoel wat toeslaan en wat mense sukkel om te definieer en 'n oplossing voor te kry. Mense dink dikwels dat hul probleme demonies van aard kan wees. Talle beradingsessies wys egter dit is nie demoniese invloede nie, maar die afwesigheid van ’n gedissiplineerde leefstyl wat soveel chaos veroorsaak. Daar is wel ’n antwoord vir hierdie chaos by die Here en die Woord het raad daarvoor.
Jy moet die chaos in jou lewe hanteer en orde skep. Daar is prioriteite wat jou lewe kan orden en wat jou in die regte rigting stuur. Dan sal jy ook weet waarvoor om ja te sê en waarvoor om nee te sê. Daar is beginsels wat vir jou rigting gee, sodat jy die regte eindbestemming kan bereik.
Om te prioritiseer, beteken dat jy fokus op:
- Jou verhouding met die Here
- Om die Here se Stem in jou lewe te hoor
- Om die Here te vertrou en te weet dat Hy betroubaar is in sy Woord oor jou
Wanneer jy jou lewe orden, is daar nie plek vir depressie en angs nie.
Neem beheer en verantwoordelikheid oor jou lewe en maak die deure oop vir die Here!
Lees:
Mediteer:
- Wat is die Woord van die Here oor jou lewe?
- Wat sê die Woord oor prioritisering?
- As jy sukkel om jou lewe te prioritiseer, dink ’n bietjie na oor dit wat jou frustreer en waarvoor jy ’n verskoning maak. Werk hierdie frustrasie vir jou? Wat is een klein verstelling wat jy kan maak om dit te verander?
- Kies een ding wat jy wil verander en begin om dit gedissiplineerd te doen.
Bid:
Here, ek wil ’n dieper verhouding met U hê, u stem duidelik hoor en ek kies om U te vertrou. Dit wat U in u Woord sê is waar oor my lewe en ek hoef nie daarin te twyfel nie, want U is ’n God wat u Woord hoog ag. Ek wil graag my lewe wy aan U en alles wat ek doen met passie en volharding doen, by uitstek! Dankie, dat U my help om orde in chaos te skep en om die deure in my lewe wawyd oop te maak vir U. Ek loof en prys U vir deurbraak in my lewe. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Ritme bring orde en orde bring Goddelikheid!
Aanbidding:
Beauty for Ashes – Mid-Cities Worship
Dag 3: Soek Koninkryk
Die Here is nie geheimsinnig oor wat Hy van ons verlang nie. Hy sê: “Ek is die Here jou God - stel My Eerste”. Jesus sê in geen onsekere taal “...soek eers die Koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mat. 6:33 AFR53).
Daar is ’n wonderlike belofte wat God koppel aan sy prioriteite: Hy sal in elke geval alles tot ons lewens toevoeg, nie net alles wat ons nodig het nie, maar alles wat ons wou bereik, as ons eerste sy Wil en sy Koninkryk soek.
Hoe kan ek seker wees dat God se Woord werklik vir my geld? Ek moet Hom begin vertrou vir die God Wie Hy is en wat Hy sê. Dawid getuig dat God sy Woord bo alles hoog ag: “Ek wil na u heilige tempel toe buig en u Naam roem om u liefde en trou, want U het u Naam en u Woord bo alles gestel” (Ps.138:2).
Ek kan God dus op sy Woord neem en met my geloof tot aksie oorgaan!
Dit is vir God belangrik dat ek sy Koninkryk begin prioritiseer in my lewe. Dan seën Hy my verder. Dit is vir Hom belangrik dat ek respek en eer vir sy Koninkrykswerk sal hê. Een van die maniere waarop ek sy Koninkryk hoog kan ag, is deur die samekoms van gelowiges by te woon en nie daaroor te onderhandel nie. Ek moet my hart belyn met God se Koninkryk en sorg dat my hart nie op die verkeerde plek beland nie:
If you do not give your heart to the Kingdom, you will take your kingdom heart to something in this world.” John Eldredge
In Markus 4:20,22 sien ons dat die manne dadelik alles gelos het (die nette, hul vader) en Jesus gevolg het.
God soek mense wat nie talm nie, maar wat Hom dadelik volg sodat sy Koninkryk op aarde beleef kan word!
Lees:
Mediteer:
- Hoe soek ek die Koninkryk van God?
- Wat gebeur in my lewe wanneer ek God prioritiseer, Hom kies en eerste plaas?
- Hoekom is dit vir my as ouer belangrik om deur my voorbeeld vir my kinders te leer wat prioriteit is?
- Is dit ’n koninkryksbeginsel om terug te hou en my eie wil te volg?
- Wys my woord en my daad dat ek Jesus volg?
Bid:
Here, alles in hierdie wêreld behoort aan U, is reeds U s’n. Here hier is my hart. Kom verander my hart. Wees U die Koning van my hart, my Bron, my Wêreld. Ek buig my knie voor U en U alleen. Ek het U lief met my hele hart, my hele siel, my hele verstand en met al my krag. Here, dankie vir u voorbeeld, u Woord, en dat U aan my u Koninkryk wys en hoe om op u Koninkryk te fokus. Help my asseblief hiermee, in Jesus se Naam. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Ek sê “Ja” vir Koninkryk en ek volg dadelik!
Aanbidding:
Where You Go I’ll Go – Brian and Jenn Johnson
Dag 4: Geregtigheid
Jesus sê in geen onsekere taal “...soek eers die Koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mat. 6:33 AFR53).
Wat is God se geregtigheid en hoe vind ons dit?
Geregtigheid is om in die regte verhouding met God te staan (in right standing with God). Om waardig en vrygestel voor Hom te staan. Om sy karakter aan te neem.
Hoe kan ons dit regkry?
“MAAR nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie; want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. Hom het God voorgestel in sy bloed as 'n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God — om sy geregtigheid te toon in die teenwoordige tyd, sodat Hy self regverdig kan wees en regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is. Waar is dan die roem? Dit is uitgesluit. Deur watter wet? Van die werke? Nee, maar deur die wet van die geloof” (Rom.3:27 AFR53).
Die Woord maak dit duidelik dat Jesus, wat perfek was sonder rimpel of vlek, vir ons sonde geword het (2 Kor. 5:21). Hy is die geregtigheid van God. Dit is slegs deur geloof (Fil. 3:9) in Hom, wat ons geregtigheid ontvang. Dit is om God se karakter en wil na te streef en beide is deur Jesus Christus. Jesus wys ons God se karakter en Jesus wys ons God se wil. Deur in Jesus te glo (Rom. 1:17) en Hom te volg, is ons die geregtigheid van God (2 Kor. 5:21)! Ons het nie nodig om enige iets bykomend te doen nie.
Deur in Jesus te glo, is ek die geregtigheid van God.
Lees:
Mediteer:
- Wat beteken geregtigheid vir jou?
- Hoe kan jy geregtigheid nastreef?
- Lees weer Romeine 3. Wat sê Paulus vir jou hierdeur?
- Is daar ander plekke in die Woord waar ons meer kan lees oor geregtigheid (righteousness) - in right standing with God)?
Bid:
Jesus, dankie dat ek deur U nou in die regte stand met Vader God is. Dat ek met vrymoedigheid na die genadetroon kan kom en uit hierdie plek van geregtigheid deur U Jesus Christus kan leef. Halleluja!
Bonus: Spreek Lewe!
Ek het nou ’n nuwe identiteit in Jesus Christus. Ek het nuwe onverganklike saad (1Pet.1:23). Ek is nou die geregtigheid van God.
Aanbidding:
Dag 5: Set Christ apart as Lord
Ons wil graag ons interne wêreld in orde hê en nie so in chaos gedompel wees nie. Petrus stel voor dat ons Jesus Christus die Here oor ons lewe maak, sodat ons interne wêreld bestendig (konsekwent, deurlopend in groei) sal wees. Dit gebeur as ons God eerste stel in ons harte.
“Maar heilig die Here God in julle harte ...” (1 Pet.3:15).
Dit beteken dat ek Jesus as Here oor my lewe verklaar en dat dit my denke, gedagtes, aksies en my woorde insluit. Dit beteken dat Hy die eerste plek in my lewe kry en dat ek Hom erken as God van my lewe. Dan kan ek lewe in stabiliteit, ongeag van wat rondom my gebeur. Te midde van chaos bly ek op Hom gefokus.
Dan begin ek hoop beleef in my omstandighede en ander mense begin vrae oor my lewe vra. Hulle wil weet waar ek die tyd, die vrede en die sukses kry en hoe ek dit regkry om gefokus te bly. Ek moet dan ook bereid en gereed wees om te hulle soos volg te antwoord:
“...en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees” (1 Pet.3:15).
"...Want ek het Jesus Christus Koning van my hart gemaak."
“Want wie die lewe wil liefhê en goeie dae wil sien, moet sy tong bewaar vir wat verkeerd is, en sy lippe dat hulle geen bedrog spreek nie. Hy moet afwyk van wat verkeerd is, en doen wat goed is; hy moet vrede soek en dit najaag. Want die oë van die Here is op die regverdiges en sy ore tot hulle gebed, maar die aangesig van die Here is teen die kwaaddoeners” (1 Pet. 3:10-12).
Wanneer ek Jesus Christus die Here van my lewe maak, belyn ek my hart, gedagtes en aksies met Hom. Dan is daar nie plek vir depressie, angs, woede of wanhoop nie. Niks anders kan heers in my lewe as ek Jesus Christus die Here van my lewe maak nie.
Wanneer ek Jesus Christus die Here van my lewe maak, kan ek God se guns verwag en beleef ek dat Hy my gebede verhoor.
Wat vra dit dit van my?
Dit vra van my om Hom te prioritiseer en eerste in my lewe te stel.
Lees:
Mediteer:
- Wanneer ek Jesus Christus die Here van my lewe maak, begin my mond en gedagtes met Hom belyn. My leefwyse verander; my lewe verander.
- Diegene wat suksesvol leef, is hulle wat Jesus Christus die Koning van hul lewens maak.
- Let inward prayer be your last act before you fall asleep and your fist act when you awake, and in time you will find, as did brother Lawrence, that those who have the gale of the Holy Spirit go forward even in sleep! – Thomas Kelly. (Die Here gee vir die regverdige in sy slaap.)
- Their Sainthood lay in their habit to offering the smallest of actions to God – Bridget Herman
Bid:
Here, van vandag af prioritiseer ek U as Here oor my lewe. Laat al my gedagtes, al my woorde en al my elke aksies aan U al die eer gee. In Jesus se Naam. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Jesus Christus is Koning van my hele hart, verstand en my siel. Ek prioritiseer Hom en daarom rus God se guns op my!
Aanbidding: