Miracles
Neville Goodchild
Dek die tafel vir die bonatuurlike

Dag 1: Jou deelname aan die bonatuurlike
God beweeg in die bonatuulike. Hy bemagtig elke kind van God met die Heilige Gees om saam met Hom te heers en saam te werk.
Daar is 'n paar oortuigings wat maak dat ons nie bedag is op die Heilige Gees en op wat God wil doen nie:
- Ons ingesteldheid is op ons eie omstandighede en probleme en nie op dit waarmee God besig is nie.
- Ons glo God is almagtig en Hy het my nie nodig nie.
- Ons glo God weet alles, daarom het ek nie nodig om betrokke te raak deur gebed, geloof, vas of gehoorsaamheid nie.
Ons sien in die gedeelte waar Daniël bid en dat God dadelik geantwoord het, maar dat die engel van God, Gabriël, weens geestelike teenstand eers 21 dae later by Daniël uitgekom het. Daniël het nie geweet dat God reeds 'n antwoord gestuur het nie en het aanhou bid. Hy was getrou en gehoorsaam. Hy was nie bewus van die geestelike oorlog en teenstand nie, maar het volhard in gebed totdat hy 'n antwoord gekry het. Daniël het geweet dat God 'n almagtige God is wat bonatuurlike dinge doen, want hy het persoonlike ervarings gehad waar hy dit beleef het. Hy het steeds aanhou bid en vra tot hy 'n antwoord gekry het. Daniël verstaan iets van die vurige gebed van die gelowige, van getrou wees en van heers saam met God. Ons kan leer uit die voorbeeld van Daniël.
Lees:
Mediteer:
- Is die verwagting van die bonatuurlike deel van jou Christelike verwysingsraamwerk?
- Wat is die dinge wat maak dat jy nie in die Gees kan wees nie? Is daar omstandighede, of oortuigings, of dalk mense se optredes wat maak dat jy in die vlees bly en nie in die Gees en God se krag en heerskappy handel nie?
- Besef jy dat die vyand hierdie goed gebruik om jou in die vlees te hou, weg van God se plan en manier van lewe?
- Hoe gaan jy maak om meer bewus te wees van God se Gees en sy bonatuurlike manier van lewe en hoe om dit te kies in plaas van jou vleeslike manier van lewe?
Bid:
Vader, help my om verby my vleesbelewenisse te kom en om wyer as net my vleeslike ervarings en belewenisse te leef. Vader, maak my sensitief vir u werk in die Gees en hoe U wil hê ek moet deelneem aan die bonaturlike. Vader, leer my om in alle aardse omstandighede u Geeswerking te soek.
Spreek Lewe!
Abba Vader beweeg deur die kragtige werking van die Heilige Gees in die bonatuurlike om sy koningkryk op aarde te vestig. Deur die Heilige Gees wat in my woon, werk ek saam om God se wil op aarde te laat geskied.
Aanbidding:
Where the spirit of the Lord is (Live) I Life. Church Worship
Dag 2: Die vlees is swak
Die Vader, Seun en die Heilige Gees funksioneer in die bonatuurlike. Met wedergeboorte ontvang ons die Seun as ons Saligmaker, asook die inwonende Heilige Gees. Ons vlees is egter nog die heeltyd in teenstand met die Gees en moet aan die Gees onderwerp word. Daar is hoofsaaklik twee struikelblokke wat ontstaan wanneer ons in die vlees wandel en dit beïnvloed en verminder die mate waarin ons die bonatuurlike beleef.
- Ons fokus is op die soek en beleef van wonderwerke en nie op God en die verheerliking van sy naam nie. Mense stroom agter wonderwerke aan en word nie getrek om die God van die wonderwerke te soek en te vind nie.
- Ons is oorbewus van ons verlede en diskwalifiseer onsself. Die vyand, wat die aanklaer is, herrinner ons ook gereeld aan ons oortredinge van die verlede. Om ons volkome, eensgesinde samewerking te kan gee, moet ons ons persepsies van ons verlede uitsorteer. Ons moet weet dat ons kwalifiseer om met vrymoedigheid te kan deelneem. Ons moet onsself plaas waar God ons plaas, anders bied ons weerstand en dan God kan nie deur ons beweeg nie.
Daar was 'n vrou wat haar hele lewe lank aan bloedvloeiing gelei het. Sy het deur die skare gebeur en kon so naby aan Jesus kom dat sy aan die soom van sy kleed kon vat. Jesus het beleef dat daar spesifieke krag vanuit hom gaan. Hy vra wie dit is wat aan hom geraak het. Die dissipels was verbaas daaroor, want daar was 'n malende skare rondom Jesus. Hulle sê vir Jesus dat daar baie mense is wat aan Hom kon geraak het, want hulle besef nie dat Jesus baie spesifiek bewus van elkeen van ons is nie. Daar was 'n spesifieke aanraking. Die vrou met bloedvloeiing het met 'n brandende begeerte vir ‘n wonderwerk en met vaste geloof en vertroue aan Jesus se kleed geraak. Sy het as gevolg van haar siekte in skande gelewe en verwerping en uitsluiting was dinge wat vir haar baie bekend was. Maar Jesus laat nie net die wonderwerk in haar fisiese liggaam gebeur nie. Hy bring ook herstel in haar gees en siel. Hy stel haar gerus dat Hy van haar verlede bewus is, maar dat dit haar nie verder sal oorskadu nie. God het genade en Hy bedek nie net ons verlede nie, maar neem die skandes heeltemal weg.
Hy sê in die Woord dat Hy ons sonde en skandes verwyder sover soos wat die ooste van die weste af is. Dit kan nooit weer by mekaar uitkom nie. Ons ontvang toegang tot God en 'n lewe in die bonatuurlike, weens die liefde en genade in Jesus Christus deur die kragwerking van die Heilige Gees.
Moenie vasgevang bly in die vlees en toelaat dat skaamte en skande oor die verlede jou weghou om te kan wandel in die bonatuurlike saam met God nie.
Lees:
Mediteer:
- Beleef jy dikwels dat jy God nie kan vra of vertrou vir 'n deurbraak of selfs ‘n wonderwerk nie, omdat jy voel jy is gediskwalifiseer weens jou sonde of jou verlede?
- Dink jy enige mens op aarde kan ooit uit sy eie werke kwalifiseer om met vrymoedigheid na Vader te gaan en vir die bonatuurlike te vra?
- Jesus bedek jou verlede sodra jy jou lewe aan God oorgegee het en Jesus aangeneem het as die Een wat in die plek van jou sonde (verlede) gesterf het.
- Neem 'n oomblik en dink ná oor die dinge uit jou verlede waaroor jy steeds skuldig, skaam en onwaardig voel. Het jy dit al teenoor Vader bely en sy vergifnis aanvaar?
- Indien nie, bely dit nou en vra Vader om jou skoon te was van daardie skuld weens iets uit jou verlede.
- Indien jy dit nou bely het, of reeds lank terug bely het, moet jy jouself ook nou daarvoor vergewe en besef dat God dit nie meer teen jou hou nie en dat jy nou met vrymoedigheid na Vader kan gaan en saam met die Gees in die bonatuurlike funksioneer.
Bid:
Dankie Vader, dat my verlede en elke sonde wat ooit deur my gedoen is, weggewas is deur die Bloed van Jesus en dat U nie elke keer daaraan dink as ek voor U kom nie. Dankie dat ek met vrymoedigheid na U toe kan kom en met vrymoedigheid kan deelneem aan die koninkryk. Vader, help my om sensitief te wees vir u Gees en om met vrymoedigheid deel te neem aan u wonderwerke wat U in mense se lewens wil doen. Vader, help my ook om te onderskei tussen u werke en dié van die vyand. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
By God is niks onmoontlik nie. Enige mens kan die bonatuurlike beleef en uit 'n lewe van sonde gered word.
Aanbidding:
Casting Crowns – Courageous (Official Music Video)

Dag 3: God beloon geloof
Elke mens het sy eie idee oor wat nodig is om God te eer en wat ons moet doen om in die regte verhouding met God te staan. In die Ou Testament lees ons dat die volk van Israel jaarliks offers gebring het om boete te doen vir hulle sondes en vergifnis te ontvang. In 1 Sam. 15:22 sien ons egter die Here sê dat gehoorsaamheid meer waarde as offers het. Offers sonder gehoorsaamheid is nie voldoende nie.
In die Nuwe Testament lees ons egter dat die kind van God se geloof beloon word. Ons het geloof in Jesus Christus en in God nodig om kinders van God te word. Ons moet tot bekering kom en dan ontvang ons geloof. Ons het geloof nodig om in die regte posisie te staan om saam met God te werk en die bonatuurlike te beleef. Ons sien dat God ons herposisioneer om sy goedheid en guns deur geloof te ontvang.
Vrymoedigheid is ‘n uitvloeisel van bekering en geloof. Nou kan ons sonder skuld en skaamte na God gaan. Dit plaas ons in ‘n posisie waar ons funksioneer in ‘n ander realiteit as ons belewenis. Die vyand wil ons gedurig besig hou met allerhande vleeslike onbenullighede. God hou ons in geloof besig met die realiteit van die koninkryk en met dinge met ewigheidswaarde. Ons moet hierop fokus, anders loop ons die kragtige werking van die Heilige Gees mis.
Lees:
Mediteer:
- Glo jy dat jy alles perfek reg moet doen en altyd 110% gehoorsaam moet wees in jou verhouding met God om te kwalifiseer vir ‘n lewe van geloof?
- Kan jy jou geloof in God behou met vrymoedigheid, ten spyte daarvan dat jy weet jy nie perfek is nie?
- Soos gehoorsaamheid beter as net offers is, is ons vrymoedige vaste geloof in Vader se hart, Sy krag en sy wil om betrokke te wees in ons lewens is beter as net gehoorsaamheid.
- Jou poging om perfek te wees of om ten alle tye gehoorsaam te wees, is baie op jou eie pogings gerig, terwyl geloof op God gerig is.
- Vader kan soveel meer doen as wat ons ooit kan bid of dink. Dit hang van ons geloof af en nie van ons vermoë om God te beïndruk met ons vermoë om gehoorsaam te wees nie.
- Is gehoorsaamheid aan Vader nie belangrik nie? Sekerlik is dit belangrik om Vader te gehoorsaam, maar daar is vergifnis as ons ongehoorsaam is en ons na Hom toe gaan met opregte berou. Om egter in die bonatuurlike te kan beweeg, is ons geloof in Vader die belangrikste faktor.
Bid:
Vader, vergewe my vir die kere wat ek ongehoorsaam is aan U. Vader, u Woord sê dat geloof U behaag en as ons geloof kortkom, kan ons U vir geloof vra. Dankie Vader, vir u genade. Wil U deur u Gees my geloof kom versterk sodat my geloof U kan behaag. Vader, leer my om ‘n lewe van geloof te leef sodat ek U kan vertrou vir die oënskynlik onmoontlike in my en ander mense se lewens. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
My geloof is groot genoeg om berge te versit, om die vyand te stop en om in die bonatuurlike te kan deel.
Aanbidding:
Wees U my toevlug – Oasis Gemeente (Official Music Video)

Dag 4: Geestelike selfbeeld
God weet alles en Hy ken elkeen van ons met ons hele pakkie. Hy weet baie meer van ons elkeen as wat ons van onsself af weet. Hy ken ons verlede. Hy weet wat ons dink. Hy ken die toestand van ons hart. Ten spyte hiervan kies Hy ons. Hy gee die mensdom weer 'n geleentheid met Noag en die sondvloed. Hy stuur sy eniggebore Seun sodat ons verlos kan word en Hy weer in 'n verhouding met ons kan leef. God glo in ons en het ons geskep met alles wat ons nodig het om ons doel uit te leef. Hoekom glo ons nie in onsself nie? God kies ons elke keer, daarom kan ons in God glo. Ons kan dus voluit leef vir die koninkryk met die wete dat ons gekies is, toegerus is en dat ons in Christus geliefd en genoeg is. (Fil. 3:12)
Geregtigheid (righteousness) is 'n geestelike identiteit. Die vurige gebed van die persoon wat weet wie hy is in Christus en wat doelgerig en doelbewus deelneem aan die koningkryk, het groot krag. (Jak.5:16-17)
Die man wat langs Jesus aan die kruis op Golgotha gehang het, was moontlik ‘n moordenaar. Die mense wat in daardie dae gekruisig is, was gewoonlik misdadigers wat baie ernstige oortredings begaan het. Hulle sou ook nie sommer net op die ingewing van die oomblik gekruisig word nie. Die regstelsel en wetgewing van die Romeinse Ryk was die mees gevorderde regstelsel in die wêreld in daardie stadium. Daardie misdadiger is behoorlik deur die stelsel voor ‘n wettigge hof skuldig bevind. Hy was dus nie per ongeluk daar nie. Hy het die wreedste moontlike doodstraf verdien.
Die misdadiger het daar aan die kruis, in die laaste oomblikke van sy lewe, net voor die gordyn oor sy lewe sak, na Jesus Christus uitgereik. Hy het gesnap dat Jesus die Saligmaker is en hy het nederig en in berou na Jesus Christus uitgereik: “Jesus dink aan my!” Jesus het reeds aan hom gedink en sien sy hart en opregtheid. Jesus sê vir hom dat hy vandag nog saam met Hom in die koningkryk van die hemel gaan wees.
Dit klink dalk onregverdig dat iemand wat sy hele lewe in diens van die koningkryk gelei het en hierdie misdadiger op dieselfde plek eindig. Dit is die geestelike realiteit dat sodra ons die Weg, die Waarheid en die Lig – Jesus Christus – aangeneem het en in Hom glo, ons geestelike identiteit verander en ons in die plek van geregtigheid staan. Dit is en bly genade en nie iets wat verdien kan word nie.
Ons sien baie keer nie die wil van God gebeur in die wêreld nie, omdat die kinders van God sukkel om in hulle geestelike identiteit in Christus, doelbewus in die wêreld betrokke te raak. Hulle word deur die lewe besig gehou en verloor fokus.
Ons is geroep om te heers as mede-erfgename van Christus. Dit is ‘n uitnodiging om in God se teenwoordigheid te lewe en in die Heilige Geeskrag te vloei. Dit beteken ons moet die dinge van die wêreld afhandel en met ons oë gevestig op God lewe met ewigheidswaarde. Dit is om toe te laat dat die wil van God geskied op die aarde net soos in die hemel deur elke kind van God. Dit is ‘n keuse om in te beweeg in my nuwe geestelike identiteit in Christus Jesus en my beskikbaar te stel vir die koningkryk en koningkrykswerk.
Lees:
Mediteer:
- Hoe sien jy eie geestelike identiteit?
- Op wat is jou geestelike identiteit gebou? Besef jy, wat dalk al baie jare gered is, dat jy steeds niks verdien nie, maar dat jou redding steeds net genade is?
- Miskien is jy baie onlangs gered. Besef jy dat jy volkome vrygespreek is en dat jou posisie as wedergebore kind van Vader geensins verskil van die persoon wat al jare gered is nie?
- Sien jouself in die posisie van 'n volkome vrygespreekte, geesvervulde en vrymoedige kind van Vader wat die vrye toegang het tot Vader en sy bonatuurlike krag en ingryping het, ongeag hoe lank jy gered is.
Bid:
Ek loof en prys U Vader vir my nuwe posisie waaruit ek kan leef van die dag van my wedergeboorte. Vader, help my om die posisie my eie te maak en herrinner my deur U Gees van my posisie as ek my posisie wil verlaat. Dankie dat ek in geestelike outoriteit kan leef en toegang het tot U en u bonatuurlike. Vader, ek kom vandag na U toe en vertrou U vir 'n bonatuurlike ingryping van U in die volgende situasie: ………………….. (spreek dit uit voor Vader waarvoor jy 'n bonatuurlike ingryping verlang). Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Die grootste menslike uitdaging kan dalk groter as ek wees, maar dit kan nooit groter as my God wees nie.
Aanbidding:
Michael W. Smith – Great are you Lord/Let it rain/Healing rain

Dag 5: God red kragtig
Die konings van Israel, Juda en Edom het opgetrek om te veg teen Moab, omdat Moab in opstand gekom het teen Joram, die koning van Israel. Die leër het sewe dae getrek en toe het hulle gevind dat daar geen water vir hulle of vir hulle diere was nie. Dit het die drie konings, hulle soldate en diere almal in doodsgevaar geplaas was. Daar was geen manier waarop hulle sou oorleef om sonder water die oorlog teen Moab te veg nie en hulle was ver van water af om hulself en hul diere te red.
Hulle enigeste hoop was ‘n wonderwerk deur God. Hulle gaan toe na Elisa, ‘n profeet van God. Elisa wou aanvankliknie die bose koning van Israel te woord staan nie. Verder sien ons in 2 Konings 2 dat Elisa ‘n slegte ervaring gehad het, waar 42 jong manne deur bere verskeur is, omdat hy ‘n vloek oor hulle uitgespreek het. Die straf vir die 42 jong manne was baie erg in vergelyking met wat hulle gedoen het. Elisa se gemoed moes baie swaar gewees het. Hier kan ons sien hoe Elisa rustig raak en hom distansiëer van wat hy aan sy lyf voel en van sy gevoel teenoor die koning van Israel. Hy versoek ‘n siterspeler om musiek te kom maak. Hy raak rustig en fokus op God. Hy stel homself oop vir die Heilige Gees om te werk. Hy ontvang ‘n woord van redding van God en van die wonderwerk wat God gaan doen om hulle van die drie konings en hulle leërs te red.
Hierdie is ‘n groot en kosbare les om te leer. Hoeveel keer laat ons nie toe dat ons gevoelens, oortuigings en omstandighede ons optredes bepaal nie? Dit is hier waar die tekkies die teer slaan en alles bymekaar kom. In alles moet ons stil word en ons moet op God fokus. Ons moet ons losmaak van ons eie dinge en ons beskikbaar stel, sodat God homself met sy Heilige Gees, deur ons kan openbaar.
Om van dors om te kom, moet ‘n verskriklike einde wees. Sonder dat daar ‘n wind gewaai het of ‘n druppel reën geval het, het die gate en vore wat hulle in die droë lopie moes grawe, vol water geloop. Hulle moes die gate en vore so groot as moontlik grawe, want God het dit vol water gemaak. Hulle het dus soveel water ontvang as waarvoor hulle voorsiening gemaak het.
Dit moes 'n gesig gewees het om te aanskou toe man en dier hierdie water sien wat God voorsien het en hulle hul dors kon les. Hulle lewens is gered. God seën hulle verder. Hy gee vir hulle die oorwinning oor die Moabiete. “Hoe groot is U Here en hoe wonderlik U magtige dade?”
Ons sien dat God ons seën in die mate van ons geloof en verwagting. Hy seën ons baie keer meer as wat ons verwag het of waarvoor ons gevra het. God is goed en elke goeie ding wat in ons lewe is, ontvang ons van God.
Elke nuwe dag is ‘n nuwe geleentheid om onsself beskikbaar te stel, sodat God se grootheid deur ons aan die wêreld bekend gemaak kan word. God beweeg op bonatuurlike wyse, maar elke kind van God moet hulleself aflê en beskikbaar stel, sodat dit geopenbaar kan word.
Lees:
Mediteer:
- Het jy die vermoë om,ten spyte van jou omstandighede, jou distractions of jou gevoelens, steeds te kan stil raak en op die Heilige Gees te fokus vir leiding, of om ‘n spreekbuis of instrument te kan wees vir die koninkryk?
- Ken jy jouself om te weet wat is die dinge of omstandighede wat dit vir jou moeilik maak om op die Gees te fokus en nie op jou vleeslike ervarings nie?
- Dink jy dat jy al iets in die gees, of die stem van die Heilige gees gemis het, omdat jy in die vlees was en nie in die gees en daardeur iets misgeloop het wat God vir jou of deur jou wou doen?
- Wat dink jy kan jy verander om te help dat jy vinniger kan skuif vanuit die vlees na die gees?
- Voorstel: Raak elke oggend stil en gee jouself oor aan Vader en sy Gees. Kies elke oggend fisies tydens jou stilword om jouself neer te lê en om jouself sensitief te verklaar vir die inspraak van die Heilige Gees. Doen dit daagliks en kies om jou eie ek neer te lê.
Bid:
Vader, ek word so maklik van koers gebring deur omstandighede of belewenisse en lewe dan slegs vanuit my vlees en sukkel om in die gees sensitief te wees vir u Geeswerking. Vader, ek bely my eie ek en my vlees wat so maklik die gees oorheers. Ek gee myself opnuut oor aan U en stel myself beskikbaar vir u Geeswerking en inspraak in my lewe. Vader, ek stel myself beskikbaar sodat u Gees deur my kan werk sodat u koninkryk gevestig kan word. Heilige Gees, kom herrinner my gedurig aan die geesrealiteite en u groot mag en krag. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Die Heilige Gees wat in my woon is groter en sterker as die vlees waarvan ek so deeglik bewus is.
Aanbidding:
Rend Collective – Build Your Kingdom Here(Official)