Go Deep 21 Mei 2023

Miracles

Neville Goodchild

Dek die tafel vir die bonatuurlike 

Dag 1: Glo dit

Wat doen jy met God se Woord? Wat doen jy met die geskrewe woord in die Bybel? Wat van die woord wat God persoonlik vir jou gee? Daar is indrukwekende en ongelooflike verhale van God se werk en deurbrake wat opgeskryf is in die Bybel. Sommige van dit vertel van geestelike gebeure en omstandighede wat so diep is dat dit baie moeilik is om te verstaan. Tog lees ons dit, maar kies ons om dit te glo? Glo jy dat Jesus drie mans uit ‘n vuuroond gered het? Glo jy dat die son stilgestaan het en die Israeliete se vyande deur hael verower is? Glo jy dat jy gered is deur Jesus wat sy lewe vir jou gegee het?

Geloof sal jou lewe verander. Ons kan nie Jesus kies sonder geloof nie. As ons in geloof aanvaar dat Hy ons gered het dan begin transformasie en verandering in ons lewens. Ons karakter word gevorm om soos Jesus te lyk en die geskenke van genade kan ontvang word in ons lewens. Die begin van geloof, naamlik om Jesus te aanvaar as Redder en om deur wedergeboorte te gaan, lei ons in die Koninkryk van God in. Hierin kan ons begin kies hoe naby ons wil kom aan die Geeswerk waarmee Vader God besig is.

Alhoewel ons weet dat die Here almagtig is, kan ons in ons vlees so maklik kies om bonatuurlike werk te verduidelik met vleeslike insig en verstand. Wat sal jy kies om te doen met ‘n getuienis? Getuienisse word gegee om te vertel van die glorie van God en die werk wat Hy, en net Hy, in mense se lewens kan verrig. Hy kan bonatuurlike werk verrig, maar dit sal ons lewens gladnie beïnvloed tensy ons kies om dit te glo nie. Ons kan die Here in die hele skepping sien. Hy openbaar Homself in die klein en die groot, maar ons het ‘n keuse om te glo. Ons wandel nie meer volgens ‘n wet nie of dit wat ons kan sien nie. Ons wandel in geloof.

Lees:

Openb. 12:11

Rom. 1:19-20

Mediteer:

  • Glo jy dat jou lewe gered is deur Jesus? Hou jy vas aan jou verlede as iets wat jou skuldig hou voor God, of glo jy dat Jesus jou sonde en jou skuld van jou af weggeneem het?
  • Wanneer jy die Bybel lees en jy lees iets wat nie sin maak vir jou vlees of denke nie, vra vir die Heilige Gees om dit aan jou te openbaar en kies om te glo dat dit wat jy lees waar is.
  • Geloof verg ook gehoorsaamheid. Wat glo jy het die Here onlangs vir jou gesê en hoe kan jy gehoorsaam wees aan daardie woord wat Hy vir jou gegee het?
  • Wat is jou getuienis? Jou getuienis is kosbaar vir God! Hy sal dit nooit gering ag nie. Daar sal mense wees in jou lewe wat JOU getuienis moet hoor!

Bid:

Vader God, ek glo dat U goed is! U goedheid sal nooit eindig nie. Dankie Jesus dat U vir my gesterf het en dat ek nou in U, perfek voor die Vader verskyn. Ek vra dat U my help om te glo. Wanneer ek die getuienisse van ander hoor, wil ek aan U erkenning gee, want ek weet dat alles wat goed is van U getuig! Ek prys u Heilige Naame, Here Jesus! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek glo in ‘n God wat wonders doen!

Aanbidding:

My Testimony – Elevation Worship


Dag 2: God swyg nie

“In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God.” – Johannes 1:1. Jesus is die begin en die einde. Hy was van die begin af daar en toe Hy aarde toe gekom het, het Hy die Koninkryk aan ons kom openbaar. Die Koninkryk is gevul met die goedheid van die Here en waar dit op aarde betrokke raak, begin die Heilige Gees werk om bonatuurlike goed te laat gebeur.

In die begin saam met die Vader het Jesus en die Heilige Gees saamgestem oor die idee om die mens volgens hul beeld te skep. Ons is gemaak om 'n verhouding met God te hê. Die Here is nie stil nie, Hy swyg nie. Hy is gereed om te praat en te deel en het ons gemaak sodat ons op daardie vlak 'n verhouding met Hom kan beleef. Die inspraak en woord van God in ons lewens dra krag en versterk ons geloof. Dit maak keuses makliker wanneer ons die woord van God het wat dit staaf.

Ons kan nie die bonatuurlike werk van God werklik interpreteer nie, maar om te weet dat God nie stil is nie help ons om sy karakter beter te verstaan. Ons fokus dus nie op die bonatuurlike werke en wonders nie, maar op die Een wat dit alles laat gebeur. Net soos in die woestyn toe Moses vir die Israeliete die beeld van ‘n koperslang gemaak het waarna hulle moes kyk vir genesing wanneer hulle deur ‘n slang gepik is, moet ons nie soek na die werke en wonders nie, maar ons moet na Jesus kyk. Ons fokus is nie op wat Hy kan doen nie. Ons fokus op wie Hy is en wat Hy sê. Dit is Jesus wat waardig is om aanbid te word, nie die werke wat Hy doen nie.

Lees:

Joh. 1:1

Num. 21:8

Mediteer:

  • Glo jy dat God nog praat? Glo jy dat Jesus met jou wil praat?
  • Soek jy Jesus vir ‘n wonderwerk of ‘n deurbraak, of soek jy Hom vir wie Hy is? Hy is die enigste Een na wie ons,ons bekommernisse moet bring, maar die fokus moet wees om Hom te leer ken en te soek selfs wanneer ons nie pertinent ‘n behoefte het nie.

Bid:

Jesus, dankie dat U met my wil praat en 'n verhouding hê. U het ook die deur vir my oopgemaak sodat ek met Vader God 'n  verhouding kan hê. Leer my meer van U karakter sodat ek ook beter kan verstaan hoe U werk. Ek prys u Heilige Naam, Here Jesus! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Een van die grootste wonderwerke is dat ek as mens 'n verhouding kan hê met die enige en ewige God almagtig!

Aanbidding:

Nothing Else – The Belonging Co Feat. Cody Carnes


Dag 3: Die vurige gebed

“Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan.” – Johannes 14:12. Jesus het ons gekies om aan te gaan met sy werk wanneer Hy hemel toe gaan. Jesus werk op aarde deur ons. Ons is die liggaam van Christus. As Hy sulke groot werke kon doen, sal ons, volgens sy eie woorde, groter werk kan doen deur Hom wat in en deur ons werk.

Ons kan die wonders en krag van God begin sien deur te bid en in 'n verhouding met Jesus te staan. Gebed is meer as net ‘n roetine, ‘n vereiste of ‘n handeling. Gebed is ‘n gesprek met Jesus, die Heilige Gees, en Vader God. Jesus het ook vir ons die model van 'n verhouding kom wys deurdat Hy tweekeer per dag 'n verhouding en gesprek met Vader God gesoek het. Gebed in ons lewens aktiveer die krag van God hier op aarde. Wanneer die deurbrake nie gebeur nie, dan sê God se woord dat ons aanhoudend en met passie en ywer moet bid.

“Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van 'n regverdige het groot krag.” – Jakobus 5:16. Jou gebed kan groot krag dra. Wees deeglik en getrou in gebed oor die sake wat jy na die Here toe wil bring. Laat Hom toe om met jou te praat sodat jy ook gereed kan wees wanneer Hy deur jou wil werk.

Lees:

Joh. 14:12

Jak. 5:16

Mediteer:

  • Watter saak wil jy nou na Jesus toe bring? Begin vandag en fokus daarop om gereeld dit in gebed aan die Here te bring. Spreek dit voor Jesus en wees oop om enige iets na Hom toe te bring.
  • Watter deurbrake het onlangs in jou lewe gebeur wat jy met gebed kan koppel? Bring eer aan Jesus daarvoor en laat jou geloof gestig word daardeur.
  • Daar is min opbouers van geloof wat so sterk is soos God se deurbraak as antwoord op jou gebed.

Bid:

Vader God, dankie dat U praat en dat U met my wil praat! Ek loof en prys U vir die liefde wat U vir my het en dat U kies om 'n verhouding met my te hê. Dankie Jesus dat U krag deur my werk! Ek bring sekere sake voor U en vra dat U ingryp. Wys my ook hoe ek in hierdie omstandighede kan lewe. Ek prys u Heilige Naam, Jesus, vir die oorwinning en deurbraak hieroor. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Jesus kan soveel groter werk deur my doen as wat Hy self op aarde gedoen het. Ek maak myself oop om deur God gebruik te word!

Aanbidding:

There’s Nothing That Our God Can’t Do - Passion


Dag 4: My genade is genoeg

Vader God sal altyd ons gebede beantwoord. Dit word wel nie altyd beantwoord soos wat ons verwag of dink nie. Jesus weet wat Hy doen. Hy het altyd net die beste wat Vader vir ons beplan het in gedagte. Soms vra God dat ons in Hom vertrou en glo dat Hy vir ons die beste voorberei het. Ongeag wat jy in die oomblik beleef, gee Jesus altyd vir ons die antwoord vir die “wat nou-vraag", maar nie noodwendig altyd vir die “hoekom-vraag” nie.

In Paulus se geval het hy vir Jesus drie keer gevra om die doring in sy vlees te verwyder. Na die derde keer het Jesus vir Paulus geantwoord deur te sê, “My genade is vir jou genoeg.” Miskien beleef jy iets soortgelyk. ‘n Uitdaging wat jy na Jesus toe bring, maar wat nie beantwoord word soos wat jy verwag of voor hoop nie. Om te hoor dat sy genade genoeg is vir jou in jou omstandighede, mag dalk voel asof jy net gelos word. Wanneer Jesus sê dat sy genade genoeg is, beteken dit nie dat Hy opgee of nie omgee oor jou omstandighede nie.

Genade is ‘n meervoud. Dit is nie net een geskenk nie, maar behels die volheid van dit wat Jesus vir ons gee, in een. As Hy vir ons genade gee en vir ons sê dat sy genade genoeg is, dan beteken dit dat ons soveel meer het as wat ons omstandighede of uitdagings van ons af wegneem en dat ons uit sy genade nog steeds in volheid en vervulling kan lewe. Paulus het dit nie gesien as ‘n teluerstelling nie. Hy het daardeur meer geleentheid gegee vir Jesus om verheerlik te word, want hy het spasie gemaak vir Jesus se krag om die leemte van sy eie krag te vul. Wanneer ons swak is, is Hy sterk. Sy sterkte wanneer ons nie kan nie, beteken dat ons ewe skielik nog sterker is as selfs in ons eie krag sou kon wees.

Lees:

2 Kor. 12:9

Mat. 26:53

Mediteer:

  • Waarin voel jy swak?
  • Is daar ‘n antwoord op ‘n gebed waarvoor jy wag? Terwyl jy wag, plaas jou vertroue en geloof in Jesus. Hy weet wat Hy doen en Hy het net die beste in gedagte vir jou. Sy krag sal jou sterk maak terwyl jy swak is.
  • Waarom doen die Here nie altyd wonderwerke nie?
  • Die Woord van God wys ons dat daar sekere omstandighede was waartydens Jesus nie wonderwerke verrig het nie:
    • Jesus het geweier om wonderwerke te doen om Homself te bewys.
    • Jesus het nie wonderwerke gedoen wat sou inmeng met die groter doel van God nie.
    • Jesus het nie wonderwerke gedoen waar daar geen geloof was nie.

Bid:

Vader God, dankie dat U betrokke is as ‘n liefdevolle Vader in ons lewens. U weet altyd wat die beste is vir ons. Jesus, in hierdie tyd wat ek swak voel, kom wees my krag. Laat u krag bewys word in my lewe sodat U verheerlik kan word. Heilige Gees, help my om te vertrou en te glo in Vader God sodat ek sal weet dat Hy net die beste vir my beplan en dat Hy uit my omstandighede net goeie dinge sal laat voortvloei. In Jesus se naam, Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Wanneer ek swak is, kan ek Jesus se krag in my lewe sien. Jesus se krag is soveel meer as my eie -  so, selfs wanneer ek swak is, is ek sterker as enige mens wat in hulleself sterk is!

Aanbidding:

Way Maker - Leeland

Dag 5: God’s Not Dead!

Wanneer bonatuurlike goed gebeur, is ons so versigtig en soms vreesagtig oor die idee dat dit dalk uit ‘n plek van boosheid kom. So baie mense het al seergemaak deur die klaarblyklike bonatuurlike goed wat hulle gedoen het, dat dit mens laat skepties raak oor bonatuurlike werke. Wat ons nie besef nie, is dat God bepaal het dat dit vir ons die norm sou wees. Alhoewel ander mense hierdie idee verwronge gemaak het, kan ons terugkom na ‘n plek waar bonatuurlike krag vloei uit die Heilige Gees wat binne ons is op maniere wat die Koninkryk van God, aarde toe bring en lewens verander.

Jesus wys vir ons hoe ons lewens moet lyk. Vol liefde, genade en aanvaarding van mense eerste, maar ook vol krag en oorwinning. Nie een persoon wat nood gehad het en na Jesus toe gegaan het vir redding, was teleurgesteld nie. Elke persoon met nood wat in kontak met Jesus gekom het, het alles ontvang waarvoor hulle gevra het. Blindes het begin sien. Dowes het weer begin hoor. Mense was gered van bose geeste. Mense was opgewek uit die dood uit. Elke behoefte wat na Jesus toe gebring is het Hy bedien sodat Hy vir ons kon wys dat God konstant en kragtig wil werk. Vader God is aktief. Jesus is vandag aktief en kom werk deur ons lewens.

Ons is geroep om saam met Jesus te werk, te glo, te bid, en te sien hoe die krag van God se Gees, mense bedien en die Koninkryk laat kom op aarde. Selfs in vandag se tyd kan ons hoor hoe Vader God ons lewens kom red van onmoontlike omstandighede. Ons God is nie dood nie. Hy is ook nie stil nie. Hy werk en is besig om hierdie wêreld te kom ontmoet en te red. Lig op jou siel, kies om te glo in sy krag, begin om op klein maniere God se krag te soek en te laat kom. Word deel van hierdie werk en begin Vader God in jou eie lewe ook innooi met ‘n verwagting dat Jesus groot werk wil kom doen.

Lees:

Mat. 10:5-8

Joh. 4:46-50

Mark. 1:30-31

Mark. 1:40-45

Joh. 21:25

Fil. 1:6

Mediteer:

  • Waarvoor kan jy begin bid?
  • Stig jou geloof deur die getuienisse te hoor van mense om jou. Herinner ook jouself aan jou eie getuienisse.
  • God is nie dood nie. Jesus het nie ophou werk nie. Die goeie werk wat Vader God begin het, sal Hy meer aangaan tot die dag wat Jesus terug kom (Filippense 1:6)!
  • Luister na die getuienis wat hierdie Sondag gedeel was en lees daarvan in vandag se bonus:
    Lewende Woord Bloemfontein – 21 Mei 2023 Oggenddiens

Bid:

Vader God, U is nogsteeds besig om te werk. Ek sal in my lewe kan sien hoe U wonderwerke kom doen! Ek vertrou en glo in U, Jesus! U het krag bo alle magte en die hele skepping. U herstel, U maak vry, en U red mense van hulle sonde. Die grootste wonderwerk is dat ek, wat nie waardig was nie, ‘n kind van God kon word as gevolg van U, Here Jesus. Ek prys u Heilige Naam! Amen.

Bonus: Getuienis

"Ek deel graag my getuienis oor dit waardeur ek en my gesin die afgelope ses maande gegaan het.

So twee weke voor ons na die buiteland sou vertrek, het ek siek geword. Ek het medikasie en mediese hulp gekry, maar ek kon net nie beter word nie. Na ons terugkoms het ek dadelik ons huisdokter geraadpleeg en hy het my verwys na ’n dokter in Bloemfontein vir verdere toetse.

Ek het vir skanderings en bloedtoetse gegaan en volgens die dokter wat my behandel het, het dit soos kanker gelyk. Dit was egter nie haar spesialisgebied nie en sy het my na ’n ander dokter verwys.

Ek en Heinrich het net stil geword toe die dokter vir ons gesê het dit lyk na kanker. Hoe maak ’n mens dan, jy verwag mos nie dat so iets met jou sal gebeur nie? Ons het dadelik stil geword en gebid. Al wat ek op daardie oomblik kon onthou om vir die Here te vra, was om my vrees en angs weg te neem, ons hande te vat en te lei deur wat ookal vir ons sou voorlê. Ek het totale vrede ervaar en tot vandag toe nog is ek nie vir enige iets bang nie.

Ek het die daaropvolgende week na die volgende dokter gegaan en hy het ’n biopsie gedoen om te bepaal wat om verder te doen. Ek is toe gediagnoseer met limfoonkanker.

’n Operasie het gevolg om net biopsies te doen en tydens die operasie is my hoofslagaar raakgesny. Die dokter wat my behandel het, is ’n hartspesialis en het presies geweet wat om volgende te doen: Hy het die aar met sy vinger toegedruk en my begin opereer om die beskadigde aar te bereik. Hulle het toe op ’n noodspan van ’n ander hospitaal gewag om te kom help. Gedurende die periode het ek twee liter bloed verloor wat hulle kon herwin, skoonmaak en weer vir my teruggee, sodat ek nie enige ander ekstra bloedoortappings moes ontvang nie. Tydens die proses het die helfte van my een long ook platgeval.

Ek is in die Intensiewesorgeenheid opgeneem waar bevind is dat ’n bloedklont in my are gevorm het weens die aar wat toegedruk is. Ek kon moontlik die gebruik van my regterarm verloor weens te min bloedtoevoer. Na die operasie is skanderings gedoen om te kyk wat verder moes gebeur. Dit het getoon dat daar reeds ander are in my kop gevorm het wat die funksie van die beskadigde aar oorgeneem het. Ek was dus buite gevaar. Ons het eers later besef dat indien ‘n mens vir so ’n lang periode nie bloedtoevoer na jou brein het nie, jy moontlike skade kon opdoen. Ek het geen skade opgedoen nie.

Tydens my verblyf in die Intensiewesorgeenheid was die dokters die eerste vier aande bekommerd oor die bloedklont. Elke aand, net as ek my oë toegemaak het om te slaap, het ek ‘n helder wit lig gesien wat my amper verblind het. Ek het dan met ‘n rustigheid aan die slaap geraak. Ek dink baie daaraan: Dit was regtig net tydens daardie eerste paar aande en ek weet dat dit die Here se lig was wat oor my geskyn het en my deur die belangrikste tyd beskerm het.

Na nege dae in die IntInsiewesorgeenheid is ek na die Onkologie-eenheid oorgeplaas vir verdere toetse en ook om te sien watter behandeling verder gevolg moes word. Ek sou eers huis toe gaan vir drie weke sodat my wonde kon genees. Weens die gewas wat so vinnig gegroei het, het die dokters egter gevoel dat ek dadelik met die chemoterapie moes begin.

Die enigste toets waarvoor ek ‘n vrees gehad het, was die beenmurgtoets. Tydens die toets was ek in my diepste seer en terwyl ek nie aan enige ander ding kon dink nie, het ek die Here aangeroep en Hom gevra om die pyn te verlig: En Hy het dit gedoen.

My vlees het nog baie geveg teen my gees en het my verhoed om sekere werke vir God te doen. Jy weet wat jy wil en moet doen, maar jou vlees veg so teen dit dat jy jouself oorreed om dit maar liewers nie te doen nie.

Ek het in die Intensiewesorgeenheid besef dat ek daar en dan, dadelik daardie tree moes gee en dat my gees my vlees oorheers het. Vandat ek hardop vir myself begin bid het, het ek ervaar dat ek die vlees wat my teruggehou het, oorwin het.

Ons het elke dag in die Intensiewesorgeenheid en Onkologiesaal nagmaal gehou, waar ons Jesus se bloed oor my gebid het en Jesus se Lewe oor my uitgespreek het.

Die oggend voor ek vir my eerste chemoterapie moes gaan, het ons weer nagmaal gehou.  Ek het ‘n gevoel gehad van iets wat kortkom. Ek het toe badkamer toe gegaan, op my knieë gesak, my hande in die lug gehou en tot God gebid. Ek het vir vrede in rustigheid gevra vir sy Bloed om te vloei en my te genees. Ek het sy Lewe uitgespreek oor my. Nie saggies nie maar hardop, sodat ekself dit kon hoor en glo.

Voordat hulle die chemosakkie (die rooi een) aangesit het, het ons weer vir Hom gebid, dat dit Jesus se bloed sal wees wat deur my are sal vloei en my sal genees. 

Ek is na elke 21 dae terug vir my opvolgende chemoterapiesessies. Ons het elke Sondag of Maandagoggend voor ek hospital toe is nagmaal gebruik en God se Bloed en Lewe oor my uitgespreek.

Hoekom? Want God voorsien, versorg en versoen en Hy gee vir ons die ewige lewe.

Tydens die twee weke wat ek in die hospitaal was, kon ek nie Bybel lees nie. Ek het gebid en geworship. Dis wat my gedra het. Elke keer as ek die liedjie Thank you Jesus for the blood klaar gesing het, het ek gespreek asof ek reeds genees was, en dat God reeds besig is met sy werk binne my. 

Tydens my vyfde chemoterapiesessie is daar vir die eerste keer weer ‘n skandering gedoen. Jy wonder maar: Wat as? Heinrich het vir my gesê ons gaan nie wonder nie, ons gaan glo dit is weg en skoon! Ons kry toe die beste nuus ooit: Ek is skoon, daar is niks nie, nie eers ‘n letsel van die gewas wat daar was nie. 

Die afgelope ses maande was daar dae wat mens gewonder het en vrae gevra het. Dit was asof die duiwel angs en vrees by my wou kweek. Ek het myself voorgeneem dat as dit gebeur, gaan ek dit wegspreek in Jesus se naam. En dit het onmiddellik verdwyn.

Tot vandag toe het ek nie enige vrees of angs oor wat met my gebeur het nie.

Daar is soveel mense wat vir my gebid het. Ek weet nie hoe om vir elkeen dankie te se nie.

GEBED is KRAGTIG. Dit is wat my en my gesin gedra het deur die tyd.

BAIE DANKIE AAN ELKEEN.

Ek het ‘n tweede kans gekry om God se doel vir my lewe te vervul.

Niks van dit wat ek getuig het gaan oor my of is my eie wese nie. Dit is alles net GOD wat weereens nog ‘n wonderwerk gedoen het. Hy is ons God, ‘n God van wonderwerke, liefde en oorvloed van genade.

SPREEK JESUS, SPREEK LEWE, SPREEK SY BLOED OOR JOU EN JOU GESIN, ELKE DAG.

Dankie."

Aanbidding:

God’s Not Dead – Newsboys

Thank You Jesus for the Blood - Charity Gayle