Go Deep 04 Junie 2023

MIRACLES

Neville Goodchild

Jy is reeds in Christus! Ontdek die voordeel!

 

Dag 1: Wie het die outoriteit?

Ons is verantwoordelik vir die atmosfeer in ons huis, en in ons omgewing. Ons het die vermoë om die atmosfeer in ons huise te bestuur. Die vraag is hoé doen ons dit?

By die kerk aanbid ons saam en dit maak ons ontvanklik vir die Woord wat verkondig word. Aanbidding is een van die maniere waarop ons onsself instem om te hoor wat God wil sê. Wanneer ons by die huis tyd in aanbidding deurbring, stel ons onsself oop vir God om in te spreek in ons omstandighede en beleef ons verskillende aspekte van God.

Ons kan wel die regte atmosfeer skep, maar die grond moet ook gereed wees. In die Woord lees ons van die saad wat op verskillende grond tipes val. Dit gaan nie oor die verskillende grond tipes nie, maar oor die grond wat gereed moet wees. Grond wat gereed is om die saad te ontvang, kan help sodat die saad ontkiem en daar groei is en later vrug.

Die saad is die Woord wat in vrugbare grond val, sodat daar ’n goeie oes is. Dus is grond of die regte atmosfeer van kardinale belang. Ons kan aktief deelneem aan die voorbereiding van die grond/atmosfeer van ons eie lewens en ook elkeen wat in ons omgewing kom.

Lees:

Luk.8:15

Pred.7:16-18

Mediteer:

  • Hoe lyk die atmosfeer in jou huis?
  • Watter veranderinge kan jy maak om die atmosfeer in jou huis te begin fokus sodat God kan inspreek in jou omstandighede?
  • Om goeie grond te hê sodat die saad kan groei en goeie vrug lewer, begin by bekering. Die volgende stap is om jou te laat doop en om vervulling van die Heilige Gees te beleef. Goeie vrug, die heerlikheid van God en God se Koninkryk op aarde, is nie moontlik sonder hierdie stappe nie.
  • Grond kan weer vasval sodat die saad verstik. Dit is daarom so belangrik om jouself weekliks te omring met die samekoms van gelowiges en daaglikse Woord, gebed en aanbidding. Kom so vinnig as moontlik terug by die Here as jy begin vasval.

Bid:

Here, dankie dat U my leer hoe om outoriteit te neem oor die atmosfeer van my huis, sodat ek en almal om my U inspraak kan kry en uitleef.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek fokus die atmosfeer van my huis op die Here!

Aanbidding:

Holy Spirit – Jesus Culture

Back to Your Heart – Victory Worship

Dag 2: Vreesloos

Enige lering wat vrees aanwakker is nie volledige lering nie. Enige iets wat jy hoor of oordink wat vrees by jou aanwakker, is nie volmaakte liefde nie. Volmaakte liefde verdryf die vrees! (1Joh.4:18). Perfekte liefde gee vrymoedigheid, want in Jesus Christus is daar geen veroordeling nie (Rom.8:1). Vrees is die afwesigheid van liefde.

Ons gesels nie oor demone om vrees aan te wakker, of om op hulle te fokus nie. Jy moet weet, die vyand loop rond soos ’n brullende leeu, gereed om te verslind. Jy het nodig om weerstand te bied. Wanneer jy in Christus is en te doen kry met dinge van die duisternis, het jy geen rede om te vrees nie, want die vyand is dan uit plek uit. In Jesus Christus het jý die outoriteit.

Daar is wel ’n plek vir die vyand wanneer ons onvrymoedig is, of wanneer ons willens en wetens uit plek is, uit Jesus Christus. Ons dink dat dit toelaatbaar is om in sonde te verkeer, nie so erg nie, of ons redeneer daaroor soos dit ons pas. Dit gebeur gewoonlik wetend. Die feit is, dat ons dan op die speelveld van die vyand beweeg. Dit is ’n oop deur vir die vyand om verwoesting te saai.

Jy het net nodig om weerstand te bied. In Jesus Christus het jý die gesag om weerstand te bied.

Lees:

1Joh.4:18

Mediteer:

  • Dit is onwys om neutraal of non-chalant te wees oor die koninkryk van duisternis.
  • Tyd in die Woord is belangrik, want die Woord rus ons toe om te oorwin en in oorwinning te bly.
  • Wanneer ek wetend buite God se wil optree en nie myself in Christus hou nie, beteken dit ek moet bang wees vir die vyand?
  • Hoe kan ek in Jesus Christus wees?
  • Kennis kan jou nie red nie, maar om wysheid van die Here te bekom (Geestelike insig en wysheid) kan wel. Pred.7:16-18 waarsku dat jy moet vashou aan beide die natuurlike en die geestelike.
  • Wat vrees die vyand?
  • Wanneer daar ’n inbreker by jou voordeur inkom en jy los die deur oop en hardloop weg, het die inbreker vrye toegang tot jou huis.

Bid:

Here, dankie dat U volmaakte liefde alle vrees verdryf. U is liefde en waar U is, hoef ek nie te vrees nie. Ek maak klaar met die dinge van die verlede, met sonde en met vrees. Ek wil vreesloos lewe in die outoriteit wat ek het in U Jesus Christus. Help my asseblief om die dinge te verstaan wat ek nog nie begryp nie; Die volle realiteit van U volmaakte liefde en die krag wat daar is in U Jesus Christus. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek lewe in die volmaakte liefde van God en in Sy vrede! Ek weerstaan die vyand!

Aanbidding:

Perfectly Loved – Rachael Lampa

Dag 3: Lig vs Duisternis

Duisternis is nie die teenoorgestelde van lig nie, maar die afwesigheid van lig. Dit is ’n leemte!

“In Hom was lewe en die lewe was die lig van die mense. En die lig skyn in die duisternis en die duisternis het dit nie oorweldig nie” (Joh.1:4-5).

Jy kan nie die donker afsit nie. Hoe kan ’n mens duisternis wegkry? Deur die lig aan te skakel. Jesus is die lig wat aangeskakel is. Wanneer Hy opdaag, trek die duisternis weg.

Duisternis is die afwesigheid van lig. Dit is wanneer daar geen reaksie is nie, niemand iets sê nie, of net nie opdaag nie. Wanneer daar niks gedoen word nie. Duisternis is ’n leemte!

Verstaan ons dat God ’n nuwe reëling getref het? Deur Jesus Christus se aksies, oor en oor, kies Hy om Sy lig in ons te plaas. Hy kies om Sý lig deur óns te laat skyn, sodat die duisternis van hierdie wêreld kan vlug. Sodat die Lig, in mense om ons se lewens, aangeskakel kan word. Jesus Christus ín jou is die lig vir hierdie wêreld.

Elke keer wanneer jy (wat in Christus is) instap, antwoord, opdaag of reageer, skyn Sý lig en trek die duisternis weg. Raak betrokke (engage).

Jy het dié Lig. Neem die Lig in die wêreld in!

Lees:

Joh.1:4-5

Mediteer:

  • Ek is in Christus, wanneer ek my tot Hom bekeer het, laat doop het en vervulling van die Heilige Gees beleef. Dan het ek Sy lig in my en kan Sy lig begin uitleef. Nie my eie nie, maar Sy wil, Sy lewe.
  • Die vyand vrees dat jy jou sal bekeer en God se lig in jou sal ontdek.
  • Hoe kan jy God se lig uitleef?
  • ’n Mens plaas ook tog nie ’n lamp onder ’n bed nie, maar sit dit op ’n staander, sodat die wat inkom, die lig kan sien (Luk.11:33).

Bid:

Here, U kies om die wêreld deur my te bereik. Help my asseblief om U lig uit te leef soos dit U behaag. In Jesus se Naam. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Die duisternis kan nie die lig ín my oorweldig nie. Die Een wat in my is, is groter as die vyand in die wêreld (1Joh.4:7).

Aanbidding:

Thank You Jesus for the Blood – Charity Gayle

I speak Jesus – Charity Gayle

Dag 4: Bonatuurlik

Ons kan die vyand vergelyk met ’n slang. ’n Slang is bang vir ’n mens, maar wanneer jy in sy grondgebied is, sal hy jou aanval. Waar die vyand voel dat hy in beheer is, val hy aan. Hy loop rond soos ’n verwonde leeu op soek na iets om aan te val. Dit is waarom dit so belangrik is om klaar te maak met sonde, die dinge van duisternis, anders gee dit vir die vyand ’n opening om aan te val. Die vyand vrees dat jy jou sonde bely en by God uitkom, want God sê dat Hy altyd antwoord. Die vyand vrees dat jy in Jesus Christus is, want dan het hy nie meer ’n reg nie.

Jesus verduidelik dat daar mense sal wees wat gesê het hulle het al hierdie dinge in Sy Naam gedoen, maar Hy ken hulle nie, want hulle is nie in Hom nie. Om Jesus Christus te ken is die beginpunt van weerstand bied teen die duisternis. Daar is krag in die Naam van Jesus Christus en in Sy bloed!

Die wat in Jesus Christus is, het ’n bonatuurlike voordeel en bonatuurlike gesag oor die duisternis. As jy dít verstaan, vrees die vyand jou!

Lees:

Pred.7:16-18

Joh.1:4-5

1Joh.4:18

Mediteer:

  • Die manifestasie van duisternis is die afwesigheid van lig.
  • Jy leef God se lig uit, deur in Jesus Christus te wees. Jesus verduidelik aan Nikodemus dat jy wedergebore moet word hiervoor.
  • Is daar plekke in jou lewe waar die vyand voel dat hy in beheer is? Wie het hom die mag gegee? Hoe kan jy die deur toemaak?
  • Wanneer jy sonde gedoen het, bekeer jou tot Jesus Christus, en kom terug in Hom. In Jesus Christus het jy nie nodig om bang te wees vir die vyand nie.
  • Gebroke huweliksverhouding is ’n groot oop deur vir die vyand. Versoen, droom saam en maak die deur toe.

Bid:

Here, U leer my dat ek nie hoef bang te wees vir die vyand nie, maar dat ek bonatuurlike gesag het in U Jesus Christus. U het nie vir my ’n gees gegee van vrees nie, maar van liefde, krag en nugtere denke. Dankie, Jesus. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

In U Lig sien ek die lig!

Aanbidding:

Heart & Flesh – Leeland & Taya

Dag 5: Liefde wen!

Die wet kan nie deel met duisternis nie. Net liefde red (Joh.1:5; Ef.2:9). Liefde verdryf alle vrees. Die Lig verdryf die duisternis en hierdie Lig is Liefde!

“...be strong in the Lord [draw your strength from Him and be empowered through your union with Him] and in the power of His [boundless] might. Put on the full armor of God [for His precepts are like the splendid armor of a heavily-armed soldier], so that you may be able to [successfully] stand up against all the schemes and the strategies and the deceits of the devil. For our struggle is not against flesh and blood [contending only with physical opponents], but against the rulers, against the powers, against the world forces of this [present] darkness, against the spiritual forces of wickedness in the heavenly (supernatural) places. Therefore, put on the complete armor of God, so that you will be able to [successfully] resist and stand your ground in the evil day [of danger], and having done everything [that the crisis demands], to stand firm [in your place, fully prepared, immovable, victorious]. So stand firm and hold your ground... (Eph.6:10-14).

Om te bly staan beteken dat jy voorheen gestaan het. Soms vergeet jy, of jy weet nie dat jy gesetel is in hemelse plekke saam met Jesus Christus nie. Die probleem is dus nie jou posisie nie. Die probleem is jou verstaan van jou posisie en veral jou denke. Jy is nie in die modder gedompel nie, maar in ’n plek van gesag. Jy het nodig om weerstand te bied!

Iemand wat bang is baklei anders as iemand wat gesag het. Wanneer jy in liefde staan, het jy gesag! Jy is in Jesus Christus, bied weerstand en gebruik die Naam van Jesus Christus!

Staan in Sy Liefde

Lees:

Eph.6:10-20

Eph.2:1-9

1Joh.4:12-18

Mediteer:

  • Waarom het Jesus se Naam en Sy bloed soveel krag?

Bid:

Here, dankie vir U oneindige liefde. Daar is krag in U omdat U liefde is en omdat U liefde volmaak is. Dankie, dat ek kan leer dat ek U liefde het en in U liefde is. Dat ek staan in U liefde. Dat U liefde vir my krag gee om weerstand te bied ten alle tye, nie uit vrees nie, maar uit U uit. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek het almal om my lief, want God bly in my en Sy liefde het in my volmaak geword (1Joh.4:12).

Aanbidding:

Jesus We Love You – Paul McClure

Touch of Heaven - David Funk