Sout en Lig
Eugene du Randt
Dag 1 Ons is die sout van die aarde
Wanneer ons aan sout dink, dink ons aan ʼn relatiewe goedkoop spesery wat langs die peperpot op die tafel staan. In Jesus se tyd is sout ook gebruik om kos te preserveer, nie net vir smaak nie. Dink biltong, en jy weet waarvan ons praat. Sout het waarde gehad in daardie tyd. Romeinse soldate is met sout betaal. Die Wet van Moses het bepaal dat graanofferande met sout behandel word (Lev. 2:13). Die skare het dus goed geweet wat Jesus met sout bedoel het.
Jesus gebruik sout metafories om te sê dat ons wat in Jesus is, die wêreld ʼn beter plek vir ander moet maak deur God se goedheid uit te leef en met vertroue te kommunikeer. Ons gee smaak aan ʼn smaaklose wêreld as ons leef soos wat Jesus graag wil hê ons moet doen. As ons egter laf (minder sout) word in ons geestelike lewe is ons nie meer effektief om die Koninkryk uit te bou en die boodskap van God se liefde te versterk nie. Meer nog, ʼn leë soutpot kan nie gebruik word nie. God wil ons gebruik om smaak te gee aan ʼn sukkelende wêreld.
Ons moet die Koninkryk preserveer. Preservering stop verrotting. Ons lewens en ons werke moet die morele verval van die wêreld stop en dan preserveer.
ʼn Laaste belangrike punt hier is dat Jesus nie sê dat ons die sout “kan” wees nie, Hy stel dit as ʼn feit. Dit is ʼn opdrag en ʼn kompliment wat Hy met liefde gee.
Lees
Mediteer
- Hoe kan ek prakties die sout van die aarde wees?
Gebed
Here Jesus, ek wil sout vir U hier op aarde wees. Ek besef dat ek U as my Redder aanvaar het, maar ek wil nie net U redding aanvaar nie; ek wil U as my Verlosser en my Vriend ken. Help my om U beter te verstaan, U woorde te lees, en U wil te volg. Amen
Spreek Lewe
Jesus sê ons is spicy, dit is ʼn kompliment en ʼn wonderlike opdrag!
Aanbidding

Dag 2 Die lig van die wêreld
Matt. 5:14–16 (NIV) “You are the light of the world. A town built on a hill cannot be hidden. Neither do people light a lamp and put it under a bowl. Instead they put it on its stand, and it gives light to everyone in the house. In the same way, let your light shine before others, that they may see your good deeds and glorify your Father in heaven.”
Weereens sê Jesus nie dat Hy dink ons kan lig wees nie, Hy bevestig dit as ʼn feit. Ons is lig. Dit is weereens ʼn opdrag, ʼn voorreg en ʼn kompliment. Christene is nie geheime agente nie, ons voorbeeld en ons gedrag moet die pad wys vir ander.
ʼn Sterk lig moet egter ingeprop wees in ʼn kragbron sodat dit kan bly skyn. Jesus is ons Kragbron. Source of Power. Ons moet deurentyd ons krag by Hom soek deur te bid, te lees en te leer.
Lees
Mediteer
- Hoe kan ek prakties lig gooi in hierdie wêreld?
Gebed
Here, gee ons krag en wysheid om U lig helder te laat skyn in 'n donker wêreld. Mag ons optree met liefde, medelye en deernis teenoor ander, sodat hulle U deur ons kan sien. Help ons, as U kinders, om 'n verskil te maak in die lewens van mense wat ons ontmoet.
Dankie, Here, vir die voorreg om die lig van die wêreld te wees. Lei ons en beskerm ons terwyl ons hierdie roeping nakom. In die naam van Jesus Christus, Amen."
Spreek Lewe
Jesus sê ons is lig. Skyn so hard en goed jy kan!
Aanbidding
Jesus, thank you for the blood – Charity Gayle

Dag 3 Toe Jesus gaan sit het
In Matt. 5 lees ons dat Jesus teen ʼn berg opgeloop het en gaan sit het voordat Hy die skare toespreek. Kan jy jouself indink hoe wonderlik dit moes wees vir die mense om na Hom te luister? Die feit dat Hy gaan sit het, laat ʼn mens voel dat Hy soos ʼn Vader optree om Sy kinders te leer. Hy troon nie bo hulle uit nie, nee, Hy gaan sit en begin hulle leer.
“Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.” (Matt. 5:3 Afr. 1933).
Die Engelse vertalings praat van “poor in spirit”. Dit verwys na mense wat nederig en leerbaar is, sonder geestelike hoogmoed. Mense wat hulle afhanklikheid aan God bely val in hierdie kategorie. Sinonieme vir salig is geseën, gelukkig, heilig, heerlik. Jesus wens ons net die beste toe as ons onsself verootmoedig voor Hom.
Hierdie eerste saligspreking gee ons moed, want enigiemand kan hier begin. Jesus sê nie Salig is die volmaakte, die heiliges of die geestelikes nie. Ons hoef nie oulik te wees nie, ons moet net leerbaar en nederig wees om geseën te word. Dit is die eerste stap van ʼn geseënde lewe.
Lees
Mediteer
- Bedink die aspekte van jou lewe waarin jy geseënd is.
- Is ons genoeg dankbaar vir al ons seëninge? Sien ons dit nog raak?
Gebed
Liewe Jesus, dankie dat U my wil seën, dat U genoeg omgee vir my en dat U moeite doen met my. Help my om my lewe aan U toe te wy en leer my om nederig afhanklik van U te wees. Amen
Spreek Lewe
Ons is salig in Sy oë.
Aanbidding
Graves into Gardens – Brandon Lake
Dag 4 ʼn Lewende getuienis versus ‘n Dooie See
Die Dooie See is bekend vir die feit dat dit ʼn ongelooflike hoë soutinhoud het. Dit is so sout dat mense daarop kan dryf sonder om te sink. Wat baie van ons nie weet nie, is dat die Dooie See nie ʼn uitvloei het nie, net ʼn invloei vanuit die Jordaanrivier. Die Dooie See het sy naam gekry van die feit dat daar nie visse of seeplante daarin groei nie. Dit is werklik “dood” vir lewe.
Jesus het ons die sout van die aarde en die lig van die wêreld genoem. Dit is ʼn wonderlike opdrag, maar dit moenie ligtelik opgeneem word nie. Ons kan nie soos die Dooie See wees nie, vol sout maar geen uitvloei nie. Ons is uitverkore, salig en geseënd. Ons opdrag is om die Koninkryk te help uitbrei deur ons optrede en ons getuienis.
Ons het ʼn invloei van Jesus af, ons het sy goedheid ontvang en ook sy vergifnis. Ons mag dit nie opgaar nie, dit moet uitvloei na ander mense toe.
Lees
Mediteer
- In watter gebiede van my lewe kan ek meer getuienis lewer van God se liefde en vergifnis?
Gebed
Liewe Jesus, help my om ʼn sterk lig vir U koninkryk te wees. Gee my die dapperheid en nederigheid om U te dien in alle aspekte van my lewe. Ek wil nie soos die Dooie See wees sonder ʼn uitvloei nie, ek wil U dien en ek wil ander mense na U toe lei. Help my om dit te doen en om daarop te fokus. Dankie vir U genade, ek loof U en ek prys U naam. Amen
Spreek Lewe
Guess what, you are a blessed soul, a child of God.
Aanbidding
Jireh & Worthy – Elevation Worship

Dag 5 Vuurtorings vir Jesus
Daar is baie verwysings na lig in die Bybel. Lig as ʼn antwoord vir donkerte. Jesus is Lig. Rigtingaanwyser. Beskermer.
Joh. 8:12 (NKJV). When Jesus spoke again to the people, he said,“I am the light of the world. Whoever follows me will never walk in darkness, but will have the light of life.”
In Mattheus 5:16 kry ons opdrag van Jesus om soos Hy, ook lig te wees vir ander mense, om vuurtorings vir Jesus te wees.
Vuurtorings word gewoonlik strategies in rotsagtige kusgebiede gebou sodat skepe snags hierdie gevaarlike gebiede kan vermy en veilig daarom navigeer. Dit is ons opdrag in die wêreld: om rigting, duidelikheid en soms selfs waarskuwings te gee. Ons is strategies geplaas in hierdie wêreld om te skyn vir Jesus. Wat ʼn wonderlike voorreg is dit nie.
Lees
1 Joh. 1:5-9
Mediteer
- Hoe kan ek in my werksplek seker maak dat my lig altyd skyn vir Jesus?
Gebed
Liewe Jesus, help my om arm van gees, sagmoedig en barmhartig te wees. Laat my dors word vir geregtigheid, maak my hart rein en help my om die vredemaker te wees in my huis en by my werk, oral waar ek kom. Dankie dat U ons Lig is en dat ons pad duidelik verlig is. Help my om te skyn soos ʼn vuurtoring tot U eer. Amen
Spreek Lewe
Ons is rigtingaanwysers, vuurtorings. Alles vir Jesus.
Aanbidding