Go Deep 22 Oktober 2023

STEM GEAKTIVEERD

Neville Goodchild

Jy kan God se stem harder en sagter stel in jou lewe: Die klank van lewe!

 

Dag 1: Hoor ek?

Hierdie gesprek oor ‘Om God se Stem te hoor’, is ’n gesprek wat gelowiges besig hou. Selfs wanneer dit nie hardop gesê word nie, wonder baie hieroor. Daar is baie vrae. Kan ek God se stem hoor? Praat God? Wat sê God en met wie praat Hy? As mense sê dat hulle die Here hoor praat, hoe hoor hulle Hom? Mag ék Hom ook hoor?

Ons is geskape vir verhouding. Eerstens vir verhouding met God en tweedens ook vir verhouding met mekaar. Ons verhoudinge is absoluut gebaseer op kommunikasie. Die begin en einde van ons verhouding met God, is kommunikasie.

Hierdie is ’n baie belangrike, relevante gesprek vir ons lewens. Wanneer ons by hierdie vrae stilstaan, besef ons eintlik dat die ander areas van ons lewe na agtertoe skuif, want hierdie is die belangrikste gesprek van ons lewens. Ons verhouding met God, is die belangrikste vir hierdie lewe en ook die lewe hierna. As ons sukkel om met Hom te kommunikeer (’n wedersydse gesprek), dan sukkel ons om te leef!

Lees:

Joh.10:1-10

Mediteer:

  • Hoor ek God se stem?
  • As ek God nie hoor nie, wat glo ek, is die rede waarom ek Hom nie hoor nie?

Bid:

Here, ek wil nie ’n een-rigting verhouding met U hê nie. Kom leer my hierdie week hoe om U te hoor. Maak my ore en my hart oop vir U Here. In Jesus se Naam. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

God praat. Ek begin luister.

Aanbidding:

God of All My Days – Casting Crowns

Dag 2: Gemaak daarvoor

VOORWAAR, voorwaar Ek sê vir julle, wie nie by die deur in die skaapstal ingaan nie, maar van 'n ander kant af inklim, hy is 'n dief en 'n rower. Maar hy wat by die deur ingaan, is 'n herder van die skape. Vir hom maak die deurwagter oop, en die skape luister na sy stem; en hy roep sy eie skape by hulle naam en lei hulle uit. En wanneer hy sy eie skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit; en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken (Joh.10:1-4).

Jesus verduidelik vir ons dat daar ’n Deurwagter, ’n Herder, skape en ook ’n dief is. Hy sê dat daar net een ware Herder is, wat op die regte manier by die deur ingaan, nie soos ’n rower nie. Jesus is hierdie Herder en ons is die skape. Daar is ’n dief, wat probeer om die skape te steel, skade aan te doen of van stryk af te bring. Wat Jesus hier verduidelik is dat ons ontwerp is om Sy stem uit te herken bo die res. Daar is wel ander stemme en geluide. Dink maar aan die tye wat jy verkeerd wou doen en geweet het jy is met die verkeerde ding besig. Jy kan onderskei tussen reg en verkeerd, sonde en geregtigheid.

Die skape ken die Herder se stem en daarom luister hulle na Hom en volg Hom. God het ons gemaak om Hom te hoor. Ons kan God se stem in ons lewens uitken en wanneer ons luister en Jesus volg, lei Hy ons na groen weivelde en na waters waar daar rus is vir ons.

Lees:

Joh.10:1-10

Mediteer:

  • Dink bietjie aan hierdie eenvoudige voorbeeld van om te onderskei wanneer jy die verkeerde wil doen. Jy weet dit is verkeerd en jy kan kies om op daardie oomblik weg te draai, of voort te gaan. Wat is dit wat maak dat jy wegdraai van die verkeerde?
  • Wat gebeur binne jou wanneer jy kies om voort te gaan met die verkeerde? Wat gebeur wanneer jy kies om te luister?

Bid:

Here U het my geskape. Van die begin af het U my goed gemaak en gemaak vir verhouding met U. Ek is gemaak om U stem te hoor. Ek wil luister. Ek wil stil word en my instel. Ek nooi U nou, kom praat met my. Hier is ek Here, ek luister.

Bonus: Spreek Lewe!

God het my gemaak om Sy Stem te ken. Dit is deel van my design!

Aanbidding:

Made for Worship – Planetshakers

Dag 3: Vrye wil

God het aan ons ’n besonderse vryheid gegee om te ontdek, te skep en te heers. Hy het ons ook gemaak om Hom te soek vir Sy inspraak in ons lewens. Dikwels sukkel ons met soveel dinge soos gebrokenheid en verwerping, of selfs hoogmoed, dat ons Hom nie wil toelaat nie. As ons ontwerp is om op ’n sekere geestelike vlak te funksioneer, wat kelder ons? Hoekom wil ons Hom nie toelaat nie?

Ons vlees natuur wil nie natuurlik buig voor die geestelike nie. Die vlees wil heers. Ons het nodig om intensioneel te raak met ons aanbidding. Om stil te raak in gebed en diep te aanbid, is ’n wilsbesluit.

Jou beginpunt om God se stem te hoor, is om te begin bid en te begin aanbid.

Jou gewilligheid bepaal die vlak van jou oorvloed lewe in Christus.

Lees:

Joh.10:1-10

Mediteer:

  • Om jou geestelik kapasiteit te onderdruk, maak skade in jou lewe en belemmer ’n klomp dinge. Waarom kan jou onvrymoedigheid of onwilligheid om jou wil te buig voor die Here en volharding om Sy Gees te onderduk, skade maak?
  • Dit is tyd dat jy jouself toelaat om deel te neem in die verhouding en geestelike dimensie waarvoor God jou gemaak het.

Bid:

Here, ek sluit my wil aan by U wil. Ek verklaar myself bereidwillig om te begin luister na wat U sê en om vrees neer te lê vir wat U sal sê. U is ’n betroubare, liefdevolle God en Vader. Ek maak my hart oop vir U, kom spreek in my lewe in. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek kies om te luister.

Aanbidding:

When You Speak – Vous Worship

Dag 4: Wat God wil sê

Hoekom is dit dat ons so sukkel om stil te word en te luister (Ps.46:10). Ons beleef uitdagings of teenstand om dit te doen wat reg is, maar dit wat ons nie wil doen nie, dit kom maklik (Rom.7:19). Die bonatuurlike dinge verwonder ons en ons wil méér daarvan weet. Kulkunsies trek jou soos ’n magneet. Die onbekende excite jou. Jy’s op soek na die een persoon wat jou heeltemal heelmaak. Hoekom? Want God het jou juis gemaak om Hom, wat bonatuurlik is, te soek en te vind. Hy het vir jou oë gegee om Hom te sien, om te sien in die Gees. Ore, om Sy stem te hoor, om te hoor in die Gees. ’n Hart vir liefde, sodat Hy die Een kan wees wat jou volmaak. Jy is nie net gemaak vir die natuurlike nie, maar ook vir die bonatuurlike. Jou binneoor is gevorm om Sy stem duidelik te hoor.

Jou verhouding met God is soos enige ander verhouding. As jy dit ignoreer, sal dit skade ly. As jy wil moeite doen, sal dit floreer. Dit is hoe verhouding werk. Dit is nie ’n een-man gesprek nie. Dit is om te gee en te neem. Hoekom sal jy nou bang wees om met die Een wat jou gemaak het te praat en om jouself oop te maak om ook te hoor? Waarvoor vrees jy? Sit neer die godsdienstige reëls. Hy verwag nie werke nie. Hy verwag nie offers nie. Hy soek jou liefde, jou hart!

Lees:

Joh.10:1-10

Mediteer:

  • Watter vrese het ek vir stil raak en luister?
  • Wil ek God vooruitgaan en dink ek ek weet wat Hy vir my wil sê? Is hierdie vrese gebaseer op my realiteit of soek ek waarlik God se hart?

Bid:

Vader God, U is my maker. Ek is jammer dat ek skrikkerig is om te hoor wat U sê. Ek bely dat sonde maak dat ek vêr van U af is en wil wegkruip, want ek dink eintlik dat U my wil straf. Jammer, dat ek nie verstaan dat U die straf op Jesus Christus uitgewoed het en dat ek deur Jesus Christus nou vry en volmaak voor U staan nie. Ek wil my saak met U regmaak, sodat ek kan ontslae word van skuldgevoel wat my bind. Ek wil nie vêr van U af wees nie, maar ek wil U stem begin hoor. Kom openbaar U Self en U hart aan my. Ek bid dit in Jesus se Naam. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Elke goeie gawe en volmaakte geskenk kom van Bo. God is goed en Sy hart is goed. Wat Hy vir my wil sê is goed. Daarom kan ek met vrymoedigheid luister!

Aanbidding:

Speak to Me – Kari Jobe

Dag 5: Behold the Lamb

‘en die skape luister na sy stem; en hy roep sy eie skape by hulle naam en lei hulle uit’ (Joh.10:3).

Hierdie skape kan bo alle ander geluide hul herder se stem uit herken. Hy roep hulle by die naam en hulle kan hulle naam hoor en hom volg. Hulle het ’n vermoë om hom te hoor op ’n persoonlike vlak. Dink ’n bietjie terug aan die eerste keer wat jy jou tot Jesus bekeer het. Hoe het dit gebeur? Jy het Hom gehoor. Daar het iets binne jou geroer en jy het gereageer op Sy roepstem.

Dit is nie net as gevolg van die trop wat beweeg dat hierdie skape almal in dieselfde rigting beweeg nie. Om die Herder te hoor is ’n persoonlike belewenis vir elkeen. God wil nie net met die kerk praat en vir ‘die kerk’ of vir die ‘massas’ ’n boodskap gee nie. Hy wil persoonlik raak en intiem betrokke wees in jou dag tot dag. Hy wil vir jou woorde van genesing sê, woorde wat waarsku en beskerm, woorde wat lei en woorde wat opbou. God het ’n missie met jou, dat jy ’n persoonlike belewenis met Hom sal hê. Al wat nodig is, is dat jy stil word en luister. Sodra ons God se stem begin hoor, ervaar ons hoe Hy ons lei, op ’n pad na bevryding, verlossing, oorwinning; ’n dinamiese lewe.

He will lead you out, but only if you hear His voice!

Lees:

Joh.10:1-10

Mediteer:

  • Dink terug aan ’n oomblik wat jy die Here se hand in jou lewe kon raaksien. Hoe het jy geweet dit is die Here?
  • Dikwels is ons onseker oor of dit die Here is wat ons hoor of ons eie denke, want Hy antwoord ons met 'n stil sagte stem in ons binneste. Begin luister sodat jy kan leer om te hoor. Begin vertrou dat dit die Here is wat met jou praat en dat jy kan hoor. Hy sal nooit iets teenstrydig met Sy Woord vir jou gee nie. Hy sal ook nooit vir jou iets gee wat bo jou vermoë is nie.
  • Jy kan die Lam aanskou, deur jou gehoor in te stel op Hom.

Bid:

Here, ek stel my nou in om U stem te hoor. Praat Here, ek luister:

Bonus: Spreek Lewe!

Ek gaan intensioneel bid en aanbid, totdat ek hoor.

Aanbidding:

Speak – Bethany Music