STEM GEAKTIVEER
Neville Goodchild
Leer om God se stem te onderskei van die geraas om jou!
Dag 1: Oorvloed!
“Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê” (Joh.10:10).
As Jesus se Woorde, wat nooit ledig terugkeer nie, is dat Hy gekom het om vir jou ’n lewe te gee en dat jy oorvloed kan hê, hoe lyk die prentjie van oorvloed vir jou? Wat word ingesluit by en wat word uitgesluit uit hierdie prentjie? Hoe naby of hoe vêr is jou lewe van hierdie prentjie?
Ons kan hierdie stuk op baie maniere interpreteer. Die antwoord wat ons sal gee op hierdie vrae, wys direk na ons interpretasie. Dit dui ook vir ons aan waarop ons hart en gedagtes ingestel is. “Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees” (Mat.6:21).
As Jesus vir ons vervulling gee, wat is ’n vervulde lewe in my oë? Vervulling gaan afhang van my standaarde en waardes. As oorvloed en sukses gemeet word aan die wêreld se idee, dan sal ek streef na die wêreld se idee van oorvloed en sukses. As vervulling vir my gaan oor hoe suksesvol ek in die sekulêre wêreld is, dan sal my geluk afhang van hoe ek myself meet volgens die skaal van sekulêre sukses. As hierdie sekulêre sukses bedreig word deur verandering of onvoorspelbare gebeure, dan sal dit noodwendig my geluk bedreig. As dit is waar ek veilig voel, dan sal ek onveilig voel wanneer hierdie dinge wankel.
Wat is my idee van oorvloed, en hoe belyn is dit met Jesus se idee van oorvloed? Jesus wil hê dat ons so gevestig moet wees in Hom, dat selfs al wankel alles in hierdie wêreld, selfs al skud hierdie aarde uit sy fondasies, dat ons standvastig en veilig bly in Hom.
Lees:
Mediteer:
- As ek stil word en eerlik is met myself, hoe lyk my prentjie van ’n oorvloed lewe?
- Hoe kan ek geskool word in Jesus se interpretasie van oorvloed?
Bid:
Here, ek wil my so vergelyk met hierdie wêreld en die wêreld se idees van sukses en oorvloed. Kom openbaar vir my U hart. Kom verander my hart en gedagtes om belyn te wees met U Koninkryk gedagtes. Ek wil belyn wees met U Jesus Christus. Kom deponeer U waardes en beginsels diep in my hierdie week. In Jesus se Naam. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Ek begin beweeg saam met Jesus Christus. Hy skool my in Sy oorvloed lewe.
Aanbidding:
Dag 2: Vervulling
Daar is in hierdie lewe niks méér vervullend as om die Here se stem in jou lewe te hoor nie. Niks kan daarby uitkom nie. Dié wat Hom hoor, vind vervulling in Sy Stem!
Die wat Hom hoor en vervulling kry in Hom, herken Sy stem en word bekend met dit wat hulle hoor. Dit maak dit vir hulle moontlik om uit te herken wanneer daar ’n dief is wat probeer steel. Hulle kan onderskei wanneer dit nie Hy is nie en draai weg van die breë weg na die nouer pad.
“Hulle sal ’n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van die vreemdes nie ken nie” (Joh.10:5). “Almal wat voor my gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie na hulle geluister nie” (Joh.10:8).
Die skaap hek is nie ’n breë hek nie. Dit is ’n noue deurgang, waarin elke skaap deur die Herder gemonitor word. Dit is ’n persoonlike belewenis met persoonlike kontak. Jesus is hierdie deur. Hy maak persoonlik met ons kontak.
Daar is net een stem en een deur wat vir ons ware vervulling en oorvloed gee.
Lees:
Mediteer:
- Dit is so belangrik om bekend te raak met die stem van die Here, sodat jy kan onderskei wanneer dit nie Hy is nie en kan weet om weg te vlug van die verkeerde situasies of gesprekke.
- Die skape het nie na ‘hulle’ geluister nie, anders was hulle nie meer skape nie. Die skape luister na die Herder.
Bid:
Here, ware vervulling om net van U af. Ek stem my hierdie week in om te wete te kom wat U persoonlik vir my sê, sodat ek kan wegdraai van die verkeerde en ’n lewe vol vervulling kan beleef, op ’n vlak wat ek nooit besef het nie. In Jesus se Naam. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Vervulling kom deur te luister.
Aanbidding:
Dag 3: Resoneer op die regte frekwensie
Resonansie: Weerklank, naklank, klank-natrilling (HAT, 1965).
Resonance is a phenomenon that occurs when an object or system is subjected to an external force or vibration that matches its natural frequency. When this happens, the object or system absorbs energy from the external force and starts vibrating with larger amplitude (Wikipedia).
Acoustic resonance is a phenomenon in which an acoustic system amplifies sound waves whose frequency matches one of its own natural frequencies of vibration (Wikipedia).
Met ander woorde, ’n instrument kan ingestel word om op presies dieselfde frekwensie te reageer as ’n primêre (Meester) instrument. Dit beteken dat sodra die meester instrument ’n spesifieke klank gee, die ander instrument ’n natuurlike vibrasie op daardie klank sal weergee. Dus word die klank energie sigbaar en hoorbaar, daar is ’n spesifieke aksie wat volg.
Wanneer ons ingestel is op die Here, kry ons ’n passie vir die dinge en spesifiek die mense vir wie die Here ’n passie het. Jou gees begin resoneer met die werking van die Heilige Gees. In die verlede het God deur die profete gepraat, maar nou praat Hy met ons deur Sy Seun en deur Sy Gees.
Wanneer jy met Hom gekalibreer is, begin jy resoneer op die klank van Sy Gees-werking en kan jy met die natuurlike vermoë waarmee Hy jou gemaak het, die suiwerste klanke uitleef, tot Sy eer!
Lees:
Mediteer:
- Hoe kan ek my kalibreer om op Sy stem te resoneer?
- Kan ek dink aan ’n tyd wat iets in die Gees by my geresoneer het?
Bid:
Vader dankie vir U liefde en dat U U Gees in my uitgestort het toe ek Jesus aangeneem het as my Verlosser en Saligmaker. Dankie, dat U my help om te kalibreer volgens U frekwensie en dat my lewe U klanke van liefde en lewe resoneer. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
My gees resoneer met God se Gees!
Aanbidding:
Holy Forever – Chris Tomlin, Jenn & Brian Johnson
Dag 4: Ingestel
Jou hart is ’n oorlogsone waar verskillende frekwensies kompeteer vir jou ingesteldheid. Daar is vreemde stemme wat opinies het oor jou lewe, jou identiteit en jou waarde. Daar is soms honderde stemme wat jou aandag soek. Maar daar is ’n bekende frekwensie wat jou oortuig dat jy kan kies en kan deurbreek as jy aanhou glo. Soos jy ’n radio instel na ’n spesifieke frekwensie om die regte uitsending te gee, so moet jy jouself instel om die stem van die Here te hoor. Dit verg dat jy stil word en luister. Jy het nodig om dinge te begin interpreteer na die Gees, nie meer na die vlees nie.
Wat is die dinge wat jou hart ontstel of wat jou kwaad maak? Dit is in hierdie rigting wat jy ook ’n aanduiding kry van God se inspraak in jou lewe. Toe Jesus by Lasarus se graf kom en vir Maria en die Jode wat saam met haar was sien huil, “het Hy geweldig bewoë geword in sy gees en Hom ontstel” (Joh.11:31). Sy ontsteltenis en meegevoel sowel as dit wat Hy by Vader gehoor het, het Hom in aksie laat oorgaan, sodat God se wil kon geskied.
Moet nie miskyk dat God jou betrek op ’n Geestelike vlak nie. Raak sensitief vir die stem van die Here!
Lees:
Mediteer:
- Een van die beginpunte om jou te kalibreer volgens die stem van die Here, is deur Woord, gebed en aanbidding. Deur hierdie drie dissiplines sal jy ervaar hoe jy meer sensitief word vir die inspraak van God se Gees en jou morele kompas sal belyn word met Hom.
- Begin journal. Wanneer jy terug kyk sal jy vinnig besef dat daar temas is waarmee die Here met jou besig is en dit sal ook vir jou help om te sien hoe God met jou praat.
Bid:
Here my hart behoort aan U. Ek kies U elke dag van my lewe as my Koning, my God. Ek stel my hart in om op U te fokus, my besig te hou met dit wat U sê en nie meegesleur te word deur die wêreld nie. Help my asseblief om voortaan gedissiplineerd te leef en my te verdiep in U Woord as persoon in my lewe, hoogste gesag en waarheid oor my lewe. In Jesus se Naam. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Die Here praat deurlopend met my. Ek dien Hom met my hele hart, siel en verstand en is ingestel om sensitief te wees vir Sy Gees.
Aanbidding:
The Dove - The Belonging Co (Ft. Kari Jobe)
Dag 5: Geaktiveerd
Dit is belangrik dat ons leer om nee te sê vir die verkeerde goed. Die skape vlug vir die verkeerde. Ons kan self besluit waarna ons luister en waarna nie. Ons kan self besluit wat ons toelaat om harder te skree in ons ore. Ons stel die volume self.
Jy is ontwerp om God se stem te hoor en daarop te fokus en ook om Sy volume hoër te stel in jou lewe.
Besef jy dat jou geloof stem-geaktiveerd is? Dink bietjie aan die dag wat jy vir die eerste keer “Ja” gesê het vir die Here. Wat het jou oortuig om jou lewe neer te lê vir die Koning? Dit is God se Gees wat jou in liefde nader trek en jou oortuig van God se waarheid. Wanneer jy God se stem begin hoor, kom daar verandering in jou lewe.
Wanneer die skape hoor, word hulle uitgelei na groen weivelde.
God wil lewe inspreek in jou situasie en omstandighede en jou blootstel aan ’n realiteit wat jy totaal en al gemis het tot nou. Daar is ’n stem wat jou roep na lewe en oorvloed toe. Sodra jy jou lewe vir Jesus gee, word jy stem-geaktiveerd!
Lees:
Mediteer:
- Dink terug aan jou bekering. Kan jy daardie oomblik van diep oortuiging onthou? Wat het jy besef?
- Wanneer die Here met jou praat, is dit ’n diep innerlike oortuiging of besef en jy reageer daarop.
- Jy het die Woord nodig om seker te maak jy is belyn met Koninkryk beginsels.
Bid:
Here dankie dat U met my praat en dat ek kan luister. U is die Goeie Herder en ek is veilig by U. Ek is daarom veilig om na U te luister en te reageer op dit waarvan U my oortuig. Help my asseblief om U beter te leer ken en seker te wees van dit wat U se. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Jesus is die Woord, die Weg, Waarheid en die Lewe!
Aanbidding: