ONS GLO
Neville Goodchild
Christenskap met die fokus op mense

Dag 1: Ontdek wat ons glo
In die wêreld vandag sien ons baie keer dat mense beweeg word en handel na gelang van hulle gevoelens. In baie omgewings trek dit ‘n skewe prentjie. Ons voel vandag so en môre voel ons weer anders. Daar is so baie goed wat ons gevoelens beïnvloed dat dit ‘n onvoorspelbare en onstabiele omgewing skep.
In die liedjie “Houtkruis” van Prophet, sing hulle dat as dit oor gevoelens gegaan het, was daar nooit die kruis nie. Jesus het nie gevoel dat dit sou ‘n goeie ervaring wees om aan die kruis te sterf nie. God het geloof in die mensdom en het daarom redding vir ons kom vasmaak in Jesus Christus en Sy kruiswerk. Jesus se beweegrede was dat Hy geweet het wie Hy was. Hy het geweet wat Sy lewe se doel is. Hy het geweet wat Hy glo en het uit die beginsel van dit wat Hy glo opgetree. Ons sien dat alles wat Jesus gedoen het op aarde, elke wonderwerk, elke interaksie met mense, was gedryf vanuit die beginsels van wat Hy geglo het die waarheid is en wat Hy veronderstel is om te doen.
As geredde wedergebôre Christene is ons in Christus ‘n tipe van Hom. Ons moet uit die beginsels van ons geloof handel, dan sal ons ook in ‘n omgewing van standvastigheid en voorspelbaarheid lewe. Ons kan in elke omstandigheid lewe en besluite neem uit die plek van wat ons glo reg is en die regte ding is om te doen in Christus deur die leiding van die Heilige Gees.
Gevoelens moet dus nie ons lewe en aksies bepaal nie, maar eerder die beginsels wat vasgemaak is in ons omdat ons glo.
Wanneer ons dan kyk na mense en omstandighede sal ons ook kyk soos wat Christus gekyk het. Ons sal dieper kyk as net dit wat ons met ons oë kan sien. Ons sal kyk en doen soos ons gelei word deur die Heilige Gees. Jesus sien nie ‘n blinde man nie. Hy sien iemand met ‘n storie en ‘n geskiedenis. Hy staan stil by die spesifieke man en hy stel belang in die detail. Die man was blind vanaf sy geboorte.
Lees:
Mediteer:
- In jou verhoudings, jou besluite, jou kerkbywoning, jou betrokkenheid in mense se lewens, jou manier van omgaan met mense, die handhawing van jou waardes, jou vriendelikheid teenoor mense, watter deel ookal van jou lewe; wat is jou vertrekpunt? Is dit emosies (soos jy op daardie stadium voel) of is dit vanuit vaste beginsels (jou diep oortuigings) ten spyte van hoe jy voel?
- Weet jy wat jy glo met betrekking tot die mees basiese Christen beginsels?
- Vra die Heilige Gees om vir jou die volgende paar weke op ‘n reis te vat en jou geloofsoortuigings weer vas te maak, volgens Sy Woord.
Bid:
Vader help my om vanuit my vaste beginsels te leef ten spyte van hoe ek voel op elke gegewe oomblik. Vader help my dat gevoelens nie my lewe en optrede sal beheer nie, maar U vaste oortuigings.
Spreek Lewe!
Ten spyte van hoe ek voel kies ek om volgens my geloofsoortuigings en beginsels te leef, net soos Jesus.
Aanbidding:
Houtkruis – Original Prophet Version
Heart of Worship – Matt Redman (Official Lyrics Video)

Dag 2: Jesus sien
Joh. 9:1-3 “En toe Hy verbygaan, sien Hy ‘n man wat blind was van sy geboorte af. 2) En Sy dissipels vra Hom en sê: Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is? 3)Jesus antwoord: Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie; maar die werke van God moet in hom geopenbaar word. 4) Ek moet die werke doen van Hom wat My gestuur het, solank as dit dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie.”
Jesus het ‘n missie gehad en Hy het ‘n vaste oortuiging en begunsels gehad waaruit sy optrede voortgevloei het. Hy het nie net rondgeloop en gedoen wat Hy gedink het vandag lekker sal wees om te doen nie. Dit wat binne in Jesus Christus is het bepaal met watter oë Hy na die wêreld gekyk het. Dit het bepaal wat Hy gesien het en wat Sy aandag getrek het.
Jesus het nie net ‘n blinde man gesien nie, Hy het ‘n man gesien wat van sy geboorte af blind was. In die verhaal van die verlamde man by die bad van Betesda, het Hy nie net ‘n man gesien wat verlam was nie, maar Hy het ‘n man gesien wat al 38 jaar verlam was en langs die bad van Betesda gelê het. Hy het ‘n innige meegevoel gehad met die man.
In Matt.9:36-39 lees ons dat Jesus innigge meegevoel gehad het met die mense omdat hulle hulpeloos en sonder moed was. Hulle was soos skape sonder ‘n herder. As mens gaan kyk na die griekse woord wat gebruik word vir Jesus se innige meegevoel was Sy gevoel van so ‘n aard dat Sy ingewande gedraai het. Dit is ook dieselfde woord wat gebruik word vir die gevoel wat die verlore seun se vader gehad het, toe die verlore seun huistoe gekom het en die vader hom gesien het. Dit spreek van die innige liefde van die Vader en die Seun.
Die dissipels het nie geweet dat die man van geboorte af blind was nie. Jesus het na die man gekyk en het die gewaarwording gehad van die geskiedenis van die man. Jesus het stilgestaan by die gebrokenheid van die man. Hy het gefokus op die behoefte van die man en het die dissipels ingelig van die omvang van die man se gebrokenheid.
Dit wat Jesus Christus op gefokus het en waarop Hy die dissipels attend gemaak het, het geopenbaar wat in Sy hart aangaan. Dit is waarvoor Jesus gekom het. Hy het gekom om Sy Vader te openbaar. Hy het gekyk met ‘n hart van liefde, deernis en ‘n missie om herstel en genesing te bring. Hy het Sy dissipels hierdeur ook geleer om dieselfde ingesteldheid te hê en met dieselfde oë te kyk.
Ons moet ook leer om so na die wêreld om ons te kyk en om nie net te sien nie, maar om werklik moeite te doen om werklik te sien en sensitief te wees vir die goed wat die Heilige Gees aan ons openbaar.
Lees:
Mediteer:
- Hoe kyk jy na mense wat nood het of dalk vasgevang is in ‘n sekere situasie of dalk verslawing oor jare? Kyk jy met veragting of veroordeling of dalk met ‘n koue hart?
- Dink na aanleiding van vandag se stukkie oor hoe dink jy kyk Jesus na daardie persoon?
- Dink jy dit is nodig dat ons, ons manier van kyk moet belyn met Jesus se manier van kyk?
- Raak bietjie stil en praat met Vader oor jou hart en oor jou manier van kyk. Vra Hom om jou hart te verander en sag te maak, sodat jy ook kan kan kyk en sien soos Hy kyk en sien.
Bid:
Vader ek bely my soms harde, onsentitiewe en veroordelende hart wat maak dat ek sonder liefde en genade na mense kyk. Vader verander my deur U Gees van binne af, sodat ek die manier van hoe ek kyk na mense wat sukkel en nie lyk of ruik soos ek nie, op ‘n ander manier sal sien. Help my om hulle nood en die mens agter hulle sonde raak te sien. Verander my o Heer, sodat ek kan kyk soos U kyk. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Solank daar asem is, is daar kans op redding, vernuwing en bevryding!!
Aanbidding:
Here’s My Heart (Official Live Performance) – Casting Crowns

Dag 3: Sien met God se doel voor oë
In Joh. 9:2 vra die dissipels vir Jesus hoekom die man van geboorte af blind was. Hulle wou weet of die man of sy ouers gesondig het, dat hy van geboorte af blind was.
Jesus het hulle toe geantwoord dat nie hy of sy ouers gesondig het nie, maar dat hy blind was vanaf geboorte sodat God daardeur verheerlik kon word en die werke van God geopenbaar kon word in die wêreld. Jesus se reaksie en optrede was gemik op “sodat die werke wat God doen in hom gesien kon word.”
Ons eerste reaksie na gewaarwording van ‘n gebrokenheid, gebrek, siekte moet altyd wees – “Hoe kan God verheerlik word in hierdie situasie.” “Hoe kan ek meehelp of beskikbaar wees, sodat hierdie situasie sal verander in ‘n situasie wat God kan verheerlik.
Die vraag waarna die mens in sy gebrokenheid eerste gryp, is baie keer: “Hoekom?” Partykeer help die “hoekom” om by die “sodat” uit te kom. Ongelukkig bring dit mens baie keer by ‘n plek van beskuldiging en posisioneer die mens homself verkeerd. Instede daarvan om God te verheerlik deur homself beskikbaar te stel en sensitief te wees vir die Heilige Gees, plaas die mens homself op ‘n plek waar hy homself van die situasie distansioneer en skuld en skaamte veroorsaak. Hy pas die Wet toe en gebruik nie die geleentheid reg nie; sodat God se hart van restorasie, hoop, redding, genesing, nuwe geboorte, herstel, versorging, beskerming, vertroosting, bemoediging, nuwe geleentheid, liefde, aanvaarding, vergifnis en uitbou van die Koningkryk openbaar kan word.
Joh.9:4 skep ‘n gevoel van intensionaliteit en van dringendheid. Ons moet op die ‘sodat’ fokus terwyl dit nog dag is en ons kan nog iets doen. “so lank as dit nog dag is, moet ons die werk doen van Hom wat My gestuur het; die nag kom, wanneer niemand kan werk nie.
“Yesterday is history. Tomorrow is a mystery. Today is a gift, that is why we call it the present.” – Bil Keane. Vandag en nou is wat ons het om te fokus op die “sodat”.
Lees:
Mediteeer
- Wat is jou ‘default ’manier om na mense te kyk, is jou hart so ingestel dat jy vanuit jou eerste reaksie regtig kyk soos Jesus kyk?
- Sien jy die die potensiaal vir ‘n “sodat” geleentheid?
- Raak stil en vra Vader om jou hartsingesteldheid so te verander dat jy in elke mens wat dalk staan en bedel of dalk ‘n lewe van sonde of verafskuwing lei, so sal sien dat daar geen veroordeling is nie, maar dat jy sal sien soos Jesus sien; iemand wat redding en genade nodig het, met die potensiaal om heeltemaal herstel te word, SODAT God verheerlik kan word
- Voorstel: Gaan staan bietjie stil by iemand soos hierbo beskryf word en gaan leer ken sy storie. As jy sy storie leer ken sal jy dalk met heel nuwe oë en met nuwe gesindheid na hom begin kyk.
Bid:
Vader help my asb om ‘n diep hartsverandering deur U Gees te beleef sodat ek anders na mense kan begin kyk. Vader help my om altyd die SODAT potensiaal raak te sien.
Bonus: Spreek Lewe!
In Christus is daar altyd ‘n kans dat God verheerlik kan word deur die wonderwerke wat deur en om ons gebeur in sondaars se lewens.
Aanbidding:
Brett Young – Back to Jesus – Lyric Video

Dag 4: Elke mens het ‘n storie
Ps. 34:19 “Die Here is naby die wat gebroke is van hart en Hy verlos die wat verslae is van gees.”
Die vrou wat gevang was wat egbreek gepleeg het en wat deur die Farrisiërs na Jesus gebring is om die oordeel oor haar te fel, het nie eendag net besluit om te hoereer nie. Sy het ‘n storie gehad wat veroorsaak het dat sy was waar sy was. Sy was ‘n mens met gevoelens, moontlik verpletterde drome. Sy het miskien haar vertroue in iemand geplaas wat haar in die steek gelaat het. Op daardie oomblik het sy heel moontlik gedink dat haar laaste oomblikke het aangebreek. Sy het heel moontlik innerlik uitgeroep na ‘n Redder. Jesus wat die hart van die gebrokenes ken, het meegevoel met haar gehad. Hy het haar te hulp gekom in haar oomblik van nood. Hy het hom nie blind gestaar aan haar sonde nie, maar eerder die mens en die menslikheid raakgesien. Hy het genade aan haar bewys. Hy het die situasie gebruik om die wat op haar neergesien het, hulle eie skuld te laat raaksien.
Ons moet ‘n hart ontwikkel vir die wat gebroke harte het en wat verslae is van gees. Ons moet tyd maak om mense se storie te leer ken. Vinnig om te luister en stadig om te praat. Elkeen se storie is belangrik vir die Here en Sy begeerte is dat elkeen gered mag word.
Lees:
Mediteer:
- Ken jy mense wat agv hulle eie toedoen op plekke beland het waar hulle nou stukkend is, of in die moeilikheid is?
- Wat is jou eerste reaksie teenoor sulke mense?
- Dink jy Jesus sou fokus op so persoon se foute om hom te veroordeel of sou Jesus fokus op die herstel van so persoon ten spyte daarvan dat dit die persoon se eie skuld is dat hy is waar hy is?
- Kan jy die Heilige Gees vra om jou hart so te verander dat jy ook kan kyk soos Jesus kyk?
Bid:
Dankie Vader dat U my vergewe het en my lewe omgedraai het tenspyte van dit wat ek ‘verdien’ of nie. Wil U my help dat ek anders na mense sal begin kyk. Help my om nie na mense volgens hulle verdienste te kyk nie, al weet almal dat dit dardie peersoon se eie toedoen is dat hy is waar hy is. Heilige Gees help my asb? Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Elke mens wat jy raakloop, maak nie saak hoe hy/sy lyk of ruik nie is na die beeld van God geskape. Elke mens kan gered, herstel en vernuwe word.
Aanbidding:
Meer En Meer Soos Jesus - Piet Smit

Dag 5: Christenskap met die fokus op mense
Psalm 34:19 - “Die Here is naby die wat gebroke is van hart en Hy verlos die wat verslae is van gees.”
Christenskap se basis is dat ons bewus word daarvan dat ons genade, liefde en aanvaarding, vergifnis van sonde, ‘n nuwe lewe in Christus en soveel meer, ontvang het die dag wat ons tot bekering en wedergeboorte gekom het. Onverdiend het ons wat sou verlore gegaan het, redding ontvang. Die vreugde en dankbaarheid bring ons in ‘n omgewing waar ons rondom onsself begin kyk en die verlore wêreld rondom ons begin sien op ‘n ander manier. Ons begin om mense, persoonlik en uniek, te sien soos wat Christus en God die Vader hulle sien. Ons hart raak nie net seer vir die verlorenes nie, maar ook opgewonde, want ons ken die antwoord, Ons ken die Lig, die Weg, die Waarheid. Ons kan Jesus bring na ons grondgebied en die mense in ons grondgebied.
Lewende Woord se lese die afgelope paar jaar is PASSIONATE PEOPLE FINDING PURPOSE IN HIS PRESENCE. Hierdie week fokus ons spesifiek op mense.
Passion for the lost: Die grondwoord vir passie is dat jy bereid is om te ly vir dit waarvoor jy ‘n passie het. Ons moet dus so ‘n hart ontwikkel vir die verlorenes, dat ons ons eie selfsugtige agendas eenkant sal skuif en op ‘n plek sal kom dat ons so ‘n hart ontwikkel vir mense wat verlore gaan, dat ons bereid sal wees om dit te doen wat dit sal vat, al beteken dit ons moet ly, dat mense gered kan word.
Develop environments of grace: Ons moet omgewings skep waar mense, maak nie saak hoe hulle lyk, waar hulle vandaan kom en hoe hulle ruik nie, waar hulle veilig sal voel. Waar hulle die liefde en aanvaarding van Jesus kan beleef en redding kan ontvang.
Dissipelskap kultuur skep: Die mense in die kerk moet hulleself ontwikkel en dissipelskap kursus doen, sodat hulle weer kan dissipels maak van mense. Jesus het drie jaar met sy dissipels gewandel en geleer hoe om dissipels te wees en weer dissipels te maak. Daarna is hulle aangestel as apostels en het hulle weer dissipels gemaak van mense.
Cultivate sons and daughters: Jesus het gesê dat die mense wat hom gevolg het is Sy broers en susters. Die Woord sê dat aan almal wat in God glo en wat Jesus aangeneem het as verlosser het God die reg gegee om kinders van God te wees. Ons is dus almal broers en susters in God se huis. Ons is seuns en dogters van God.
Celebrate life change: Ons vier die nuwe lewe wat ons het in Christus Jesus en die stories van redding. Elke persoon se storie is ‘n lig in die duisternis vir iemand wat verlore is. Ons moet met ons mond bely en met ons ore hoor en dan val die boodskap in ons hart. Daarom fier ons die verandering wat plaasvind en die nuwe lewe in Christus.
Lees:
Mediteer:
- Het jy ‘n hart vir mense wat verlore gaan? Pla dit jou dat mense nie gered is nie?
- Sien jy mense se nood raak om jou, daar waar jy rondbeweeg of pla mense se seer of nood jou nie?
- Jesus se hart is absoluut by mense en spesifiek die verlorenes en die gebrokenes.
- Het jy begeerte om aan te sluit by Jesus se manier?
- Raak nou stil en praat met Vader om jou ‘n hart te gee vir die verlorenes en die gebrokenes. Vra Vader om jou hart sag te maak en te vul met ‘n brandende liefde vir mense.
- Maak ook ‘n intensionele keuse om anders na mense te begin kyk en om jou aan te sluit by Jesus se hart.
Bid:
Ek kom vanoggend Vader en bely net dat ek nie altyd met die dieselfde oë na mense kyk as U nie, dat ek nie altyd ingestel op hulle nood, gebrokenheid en stand van redding nie. Wil U my hart kom vul met U liefde en my hart kom verander dat ek U brandende liefde sal hê vir die verlorenes en gebrokenes. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Joh 3;16 “God het die wêreld so liefgehad dat Hy Sy enigste Seun gegee het, sodat die wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.”
Aanbidding:
Brooke Ligertwood – Bless God | Exclusive Performance
U’s my God – Retief Burger en Riana Nel