Go Deep 12 November 2023

ONS GLO

Neville Goodchild

Christenskap met die fokus op “purpose”

Dag 1: Los die baie en soek die een

Ps. 34:19 “Die Here is naby die wat gebroke is van hart en Hy verlos die wat verslae is van gees.”

Ons sal Jesus vind by die wat gebroke is van hart en wat verslae is van gees. Die nood om ons en dalk in ons eie lewe is so groot. Iemand is nodig om mense se hand te vat in sulke tye en hulle te herrinner dat Jesus is by hulle en sal hulle nooit versaak nie. Die liggaam van Christus is nodig om Jesus, die Weg, die Waarheid en die Lewe, aan die wêreld te bedien.

Jesus se hart is by die wat verlore is. Dit is vir sulkes wat Hy na die wêreld gekom het. Hy het gekom vir my en vir jou.

Jesus vertel in Lukas 15 drie gelykenisse van goed wat verlore is, maar wat dan weer gevind word.

Die verlore skaap: Die herder het 100 skape en een raak weg. Hy los die 99 en gaan soek die 1 wat verlore is. ‘n Skaap is ‘n verwysing na ‘n verlore mens en die herder is ‘n verwysing na ons Herder, Jesus Christus. Verder vertel die verhaal dat daar blydskap in die hemel is oor een mens wat tot bekering gekom het.

Die verlore muntstuk: Die vrou het tien muntstukke en een raak verlore. Sy sit die lamp aan en vee die vloer, todat sy die muntstuk kry. Dan roep sy haar vriendinne en buurvroue om saam met haar bly te wees, want haar muntstuk was weg en nou het sy hom weer gekry. Dan sê Jesus: “Net so is daar blydskap onder die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer het.”

Die verlore seun: Die seun wat rebels was; wat nie kon wag vir sy vader se afsterwe nie en voor sy vader se sterwe sy erfporsie geeis het; wat sy erfporsie in ‘n ander land gaan uitgee het op ‘n spandabelrige en onvanpaste leefstyl; bekeer homself en kom met leë hande en ‘n veranderde hart terug na sy vader. Sy vader is so bly om sy seun terug te hê. Hy vra nie verduidelikings en eis nie boetedoening nie. Hy is so bly dat hy sy seun tegemoet hardloop, hom omhels (al het hy seker verskriklik gelyk en geruik, omdat hy tussen die varke geleef het), hom herstel, en fees gevier.

LEES:

Luk. 15

Psalm 34:19

Mediteer:

  • Is daar mense in jou lewe wat verlore is en wat nodig het om tot bekering te kom? Is daar in jou hart ‘n brandende begeerte dat daardie persoon Jesus moet ontvang en redding moet beleef soos wat jy dit ontvang het?
  • Hoeveel van my tyd, gedagtes en lewe belê ek in dit wat die hemele laat juig, die redding van verlore mense?
  • Is daar ‘n hartsverandering en skuif in fokus nodig in my lewe?
  • Is my verhouding met God op die regte plek, dat my hart warm klop vir dit wat vir God so belangrik is dat Hy Sy enigeste Seun gestuur het om daarvoor te sterf?

 Bid:

Dankie Vader vir redding in Jesus Christus. Vader ek bid vir die verlore mense in my lewe, wat redding nodig het en nodig het om tot bekering te kom. Vader help my om ‘n instrument in U hand te word en ‘n pad saam met mense te stap, sodat hulle U sal kan ontmoet en tot redding kan kom.

Spreek Lewe!

Redding is vir elke mens wat Jesus aangeneem het en wat glo. Dit is nie vir enige mens onmoontlik om gered te word nie. Dit is waarvoor Jesus gekom het.

Aanbidding:

Hart vir hierdie land – Leon Ferreira

All Because of Mercy – Casting Crowns (Official Lyrics Video)

Dag 2: Jou roeping bly vas

Mark. 16:6-7 “Maar gaan sê vir sy dissipels en vir Petrus dat Hy voor julle uitgaan na Galilèa. Daar sal julle Hom sien soos Hy vir julle gesê het.”

Dit is opvallend dat Petrus se naam hier spesifiek genoem word en nie een van die ander dissipels se name nie. Daar is ‘n rede vir die engel om Petrus se naam uit te sonder. Jesus Christus het geweet dat Petrus het die grootste teleurstelling in sy lewe beleef en dat Petrus homself verwyt en diskwalifiseer. Drie jaar het hy Jesus gevolg en was hy Sy dissipel en toe die oomblik van waarheid kom het Petrus gefaal. Hy het Jesus drie keer in die openbaar verloën. Hy het besef wat gebeur het en ontsteld weggegaan. Hy het Jesus in Sy donkerste uur alleen gelos. Petrus het teruggevlug na die visserskuite, want hy het homself geweeg en te lig gevind. Hy was skaam en het skuldig gevoel.

Jesus het hulle laat weet dat Hy gaan hulle kom kry. Hy laat hulle nie alleen nie. Hy het hulle nie vergeet nie, veral vir Petrus.

Vers 7 sê dat hulle hom sal sien soos Hy vir hulle gesê het. Hierdie soos Hy gesê het, beteken nie net dat Hy het vir hulle gesê dit gaan so wees en nou is dit so nie. Dit is meer. Hulle sal hom sien vir wie Hy werklik is. Die Seun van God. Die Redder.

Jesus se fokus is op Petrus en Hy sê vir hom om die nette aan die anderkant van die skuit uit te gooi. Hulle het ‘n rekord van 153 visse gevang. Dit is so baie dat die woord sê dat die skuite was nie getoets om so ‘n gewig te dra nie. Jesus is hier besig om Petrus se vertroue weer te wen. Die oomblik toe Jesus in die prentjie kom toe gebeur daar ‘n wonderwerk en Petrus beleef sukses.

Jesus stap weer ‘n pad van vooraf met ‘n man wat drie jaar gebou het aan ‘n lewe en ‘n leier was, maar hy het geval. Jesus kom om hom te herstel.

Jesus het toe vir hulle vis gebraai wat hyself voorsien het. Petrus kom by Jesus en beleef nogsteeds skuld en skaamte. Jesus vra vir Petrus of hy Hom lief het. Petrus antwoord dat hy Jesus lief het. Jesus vra hom of hy Hom regtig lief het en Petrus antwoord weer dat Hy Jesus lief het. Die derde keer vra Jesus weer vir Petrus of Hy hom werklik lief het. Petrus is toe half moedeloos en hy antwoord toe vir Jesus dat Hy weet dat Petrus Hom lief het. Toe het Jesus vir Petrus gesê dat hy wat Petrus is moet Sy skape oppas. Dit beteken dat hy Jesus se kerk moet oppas. Jesus het vir hom gesê toe hy sy naam gekry het dat Petrus is rots en op hierdie rots sal ek my kerk bou. Jesus het hier gekom en Petrus se roeping weer vasgemaak en Petrus in verhouding met hom herstel. Petrus kon besef dat God verander nie en hy het nie sy roeping verloor omdat hy geval het nie.

Die boodskap is dus dat al sou ons wat op die regte pad is of van ons mede gelowiges val, dit nie die einde van ons roeping is nie. Jesus bewys genade aan ons en herstel ons, sodat ons ons roeping kan vervul.

Lees:

Mark. 16:6-7

Mediteer:

  • Het jy al gevoel dat jy vir Vader so teleurgestel het dat jy nie meer werd is om kind van God genoem te word nie?
  • Jesus se hantering van Petrus se situasie wys ons presies hoe God dink oor, kyk na en optree teenoor kinders van God wat foute maak.
  • Hoe kyk jy na ander gelowiges wat fouteer het?
  • Lewende Woord wil ook kyk na gelowiges wat deur diep teleurstelling gaan agv foute soos Jesus na hulle kyk.

Bid:

Vader help ons as gemeente en ons as individue om met dieselfde gesindheid, na mense wat fouteer het, te kyk as wat Jesus na hulle kyk. Vader vergewe ons waar ons veroordelend staan teenoor medegelowiges en help ons om genade te betoon met die oog op herstel.  Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Daar is hoop vir my omdat Jesus met soveel liefde vir Petrus gaan haal uit sy diepste selfverwyt.

Aanbidding:

What A Friend (Live) – Chris McClarney

Dag 3: Saggeus word ‘n seun van Abraham

Saggeus was die hoof van die tollenaars en ‘n baie ryk man. Tollenaars was baie ongeliefd. Hulle was gewoonlik Jode wat verstotelinge was in die gemeenskap wat deur die Romeinse regering aangestel was om tolgeld te hef. Hulle kon egter soveel tolgeld hef as wat hulle goed gedink het, solank die Romeinse regering net hulle vasgestelde gedeelte gekry het. Saggeus was dus baie ongewild onder sy eie landsgenote.

Hy het al baie van Jesus gehoor en wou Hom graag sien vir wie Hy was, maar kon nie sien nie omdat hy kort was. Hy het vooruit gehardloop en in ‘n wilde vyeboom geklim. Toe Jesus by die vyeboom kom het Hy vir Saggeus gesê dat hy moet vinning uit die vyeboom klim, aangesien Hy by Saggeus aan huis moes gaan. Saggeus het gou afgeklim en het Jesus met blydskap ontvang in sy huis. Saggeus het tot bekering gekom en onderneem om elkeen van wie hy te veel geld geëis het, se geld terug te gee en om die wat hy ingedoen het, vier dubbeld terug te bataal. Jesus het toe vir hom gesê dat daar vandag redding vir sy huis gekom het omdat hy ‘n seun van Abraham was. Jesus het toe vir hom gesê dat die Seun van die Mens immers gekom het om te soek en te red wat verlore is.

Weereens is dit duidelik dat Jesus anders kyk as die wêreld. Hy het vir Saggeus gesien in die wilde vyeboom. Die vyeboom word in die nuwe testament gesien as ‘n simbool van wettisisme. Die wêreldse seining van Saggeus was dat hy ‘n sondaar was en ‘n verraaier. Die Jode sou moeite doen om hom te vermy. Hy was beskou as verfoeilik. In wêreldse terme sou hy die laaste persoon wees met wie Jesus veronderstel was om te assosieer.

Jesus gebruik die geleentheid om uit te reik na ‘n verlore siel. Jesus gaan in sy huis in en skep ‘n omgewing van genade. Saggeus word gered in daardie omgewing van genade en sy lewe verander. Saggeus neem dadelik die Koningkryk begunsels aan en wil regmaak wat verkeerd is in sy lewe. Jesus herstel Saggeus as ‘n seun van Abraham.

Rom. 8:19 – “Die hele skepping wag met reikhalsende verlange na die openbaarmaking van die seuns van God.”

Die wêreld en die vyand is daarom uit om ons te diskwalifiseer. Jesus is altyd besig om ons identiteit te bevestig en om ons te kwalifiseer.

Lees:

Luk. 19:1-10

Rom. 8:19

Mediteeer

  • Hoe lyk die omgewings wat jy skep vir mense? is dit omgewings van genade, ten spyte van waar die persoon hom/haar bevind?
  • Raak stil en vra Vader om jou hartsingesteldheid so te verander deur liefde, dat waar jy ook al gaan, jy omgewings van genade wil skep ten spyte van die persoon voor jou.
  • Voorstel: Gaan staan bietjie stil by iemand soos Sageus en gaan leer ken sy storie. As jy sy storie leer ken sal jy dalk net makliker “n omgewing van genade wil skep om sodoende daardie persoon bekend te stel aan Vader se liefde en hart. 

Bid: 

Vader help my asb om waar ek ook al gaan, omgewings van genade te skep, ten spyte van daardie persoon se geskiedenis.

Bonus: Spreek Lewe!

Joh 3;16” want so lief het God die wëreld (elke mens op aarde) gehad, dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het….”

Aanbidding:

Jonny Diaz – “Breath” – Lyric Video

Dag 4: Koningkryk beginsel van vermeerdering

Jesus was op ‘n stadium naby Jerusalem en die skare by Hom het gedink dat die koninkryk van God onmiddelik sou verskyn. Hy het toe vir hulle ‘n verhaal vertel van ‘n man van hoë geboorte wat na ‘n ver land gereis het om ‘n koningskap te ontvang. (Dit is ‘n verwysing na Jesus wat na die Vader sou gaan om Sy koningskap te ontvang.)

Voordat die man op reis gaan het hy 10 van sy diensknegte bymekaar geroep en vir elkeen van hulle ‘n pond gegee. Hy het vir hulle gesê om met die geld te woeker terwyl hy weg was en vir hom wins te maak met die geld. Toe hy teruggekom het, het hy rekenskap gevra van die 10 diensknegte oor wat hulle met die geld gemaak het.

Die eerste dienskneg het sy pond gebring en nog 10 ander ponde wat hy wins gemaak het van die pond. Die man het toe vir hom gesê: ‘Mooi so, goeie dienskneg.’ Omdat hy getrou was met die die pond sal hy oor tien stede aangestel word.

Die tweede dienskneg het sy pond gebring en nog 5 ponde wat hy wins gemaak het met daardie pond. Die man het ook vir hom gesê: ‘Mooi so, goeie dienskneg.’ Hy was aangestel oor 5 stede.

Die derde dienskneg het gesê dat hy geweet het dat die man is ‘n baie moeilike man wat wegneem wat hy nie uitgesit het nie en wat maai wat hy nie gesaai het nie. Omdat hy bang was vir die man het hy die pond in ‘n doek weggesit en dit veilig bewaar vir die man. Die man was baie kwaad vir die dienskneg en het gesê dat hy het al die goed van hom geweet, hoekom het hy dan nie die pond by die geldwissellaars ingegee nie, want dan kon hy darm rente om die pond verdien het. Hy het vir hom gesê omdat hy nie getrou was nie sal die biedjie wat hy het, ook nog by hom weggevat word. Hy het die pond van hom af gevat en dit vir die dienskneg gegee wat 10 ponde verdien het.

Ons kan hier agterkom dat die koningkryk beginsel is dat God gee aan ons iets in ons hand en ons moet daarmee gaan woeker en dit moet meer word. Ons kry dus die Heilige Gees, gawes, talente en geleenthede. Ons sal moet rekenskap gee oor wat ons met daardie geleenthede, gawes en talente gedoen het om die Koningkryk van God te bevoordeel.

Ons sien ook met die vyf broodjies en die twee vissies dat Jesus breek die kos en gee dit vir die dissipels. Die dissipels moes toe die 5000 mans en die vroue en kinders voed met die kos. Die kos vermeerder in hulle hande soos hulle gehoorsaam is en doen wat Jesus vir hulle sê om te doen.

Om in die koninkryk te dien en aktief deel te neem aan groei, is die vermiste skakel tussen God se genade in jou lewe en die koms van die koninkryk in jou lewe.

Lees:

Luk. 19:11-25

Mediteer:

  • Neem jy aktief deel aan die vermeerdering van die koninkryk van God?
  • Weet jy hoe jy kan deelneem aan die vermeerdering van God se koninkryk?
  • Kon jy al uitvind wat jou spesifieke talente, gawes en passie is waardeur jy kan deelneem aan die uitbreiding van God se koninkryk?
  • Voorstel: Bly ‘journey’ saam met LW om uit te vind wat jou pasie en gawes is en waar jy kan deelneem aan die uitbreiding van God se koninkryk. Vind jou spesifieke plekkie waar jy kan prakties deelneem in die gemeente aan God se koninkryk.

Bid:

Dankie Vader vir my spesifieke talente, gawes en passie wat uniek is aan my. Help my om dit te ontdek. Vader wys my ook waar my plek in die gemeente is waar ek my spesifieke gawes en passie kan uitleef om sodoende u koninkryk te help bou.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek is deur God self in my ma se moederskoot gevorm met my unieke bloudruk. Ek het gawes en talente en antwoorde wat die koninkryk van God nodig het om doeltreffend uitgebou te word.

Aanbidding:

Rebecca St. James – Your Kingdom Come feat. for KING & COUNTRY

Dag 5: Passie vir die koninkryk van God

Ons moet kerk vier in al sy uitdrukkings op aarde en dit nie net beperk tot almal wat dieselfde as ons aanbid, lyk en optree nie. Waar elke kind van die Here homself bevind, daar is die kerk en die koninkryk van God. Die gedagte dat die koninkryk van God in die hemel is, is nie waar nie. Dit is op enige plek waar God in beheer is en waar God se beginsels gehandhaaf word. Ons vier dus die kerk op aarde. Ons bid dat God se wil sal geskied in die hemel en so ook op die aarde.

Passion for the kingdom of God: Om in die koningkryk van God te dien en deel te neem aan groei, is die vermiste skakel tussen God se genade in jou lewe en die koms van die koninkryk in jou lewe.

Die wyse waarop Lewende Woord by die element van groei in die koninkryk wil uitkom, is die volgende:

  • Culture of equipping: Skep van ‘n kultuur waar nuwe gelowiges toegerus word om dissipels te raak en om dan te groei in hulle bediening.
  • Environment of growth: Skep ‘n omgewing waar groei maklik kan plaasvind en mentorskap toegepas word.
  • Cultivating servanthood: Skep van geleenthede om diensbaar te wees en te dien in die koninkryk van God.
  • Celebrating the church: Vier die kerk – die liggaam van Christus.

Lees:                

Psalm 34:19

Mediteer:

  • Het jy ‘n hart vir mense wat verlore gaan? Pla dit jou dat mense nie gered is nie?
  • Sien jy mense se nood raak om jou, daar waar jy rondbeweeg of pla mense se seer of nood jou nie?
  • Jesus se hart is absoluut by mense en spesifiek die verlorenes en die gebrokenes.
  • Het jy begeerte om aan te sluit by Jesus se enigste plan om die wêreld te red, die kerk- JY ?
  • Raak nou stil en praat met Vader om vir jou te begin wys waar moet jy betrokke raak in die gemeente, waar moet jy groei, waar moet jy dalk opleiding kry?
  • ‘Journey’ in 2024 saam met Lewene Woord en meld aan waar Vader jou lei om betrokke te raak.

Bid:

Vader kom raak my hart aan om ‘n passie vir U koninkryk en verlore mense te ontwikkel. Vader wys my waar is my plek in die gemeente waar ek kan dien in U koninkryk. Vader wil U my ook toerus om dit wat U wil ek moet doen, te kan doen. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek het iets uniek, sekere kenmerke, talente en gawes wat spesifieke antwoorde kan bied vir spesifieke mense en spesifieke situasies.

Aanbidding:

Gekruisigde Hande – Louis Brits